Читать книгу Die eerste siklus - Etienne Leroux - Страница 4

HOOFSTUK I

Оглавление

’n Paar jaar na Colet se geboorte het Theuns en Suzanne van Velden Kaap toe getrek en in ’n huis in Tamboerskloof gaan woon. Daar was twee slaapkamers, ’n eetkamer, ’n sitkamer, ’n badkamer en ’n kombuis, met ’n bediendekamer in die agterplaas. As die Van Veldens die dag weg was, het die bediende, Sara, hom na haar kamer geneem en op die bed gaan lê terwyl hy op die vloer met blokkies rondspeel. Telkens het van die Kaapse bruinmense daar aangekom en met haar gepraat. Uit hulle gesprekke het hy beelde en woorde ingeneem wat, tesame met die indrukke van sy ouers se geselskap, hom ingelei het in ’n verwikkelde en wye wêreld. Die onbekendheid van die lewe het hom in staat gestel om, sonder rede of plasing van tyd en plek, alles met mekaar in versoening te bring. Alhoewel dit gelyk het asof hy met sy speelgoed besig was, het hy gedurig geluister na die gesprekke van die mense om hom en sodoende ’n insig gekry in dinge wat, soos uit ’n vreemde, onontdekte wêreld, net in grepies aan hom geopenbaar is, om dan onvoltooid en in ’n waas te verdwyn. Dit was nie alleen beperk tot wat hy gehoor het nie, maar het ook losstaande situasies ingesluit wat opgedoem het soos voorwerpe in ’n donker kamer waarin ’n lig telkemale flits.

So het hy byvoorbeeld fragmentariese indrukke oorgehou van ’n klomp mense in die eetkamer, die geklink van eetgerei, water in ’n ronde bak waar duisende kleure in een kolletjie saamgevat is, ’n oomblik van stilte, sy ma wat skielik hard lag en die effens geboë kop van sy vader, asof hy op die vloer na iets soek. Dan weer die bediende in die kamer met haar bruin bene op die stoel terwyl sy agteroor op die bed lê; en die man in die deur met sy pet skuins oor sy oë – die skaduwee van sy figuur en die smal strepie lig deur die deur. En die skril draailag van die bediende, voordat sy uitroep: “Aai, my ghiets …!” En die see by die dokke waarnatoe sy hom geneem het as hulle in die park moes gaan stap; die vuil kaaiwater en die skulpe vasgesuig teen die groen houtpilare, die verroeste skepe en die reuk van vis en riool; die uitroepe van die matrose en woorde soos “bitch”, “bloody”, “bastard”. Maar veral die geruis van die see en haar antwoord op sy vraag: “Hoekom dreun die see so?” – “Dis die gehuil van verlore siele, en luister …” as sy die skulp teen sy oor druk: “dit is die gekerm van stout kinders in die hel” – en daardie fyn gesuis, soos die see, uit die mooi skulp met die skurwe rande en die soutreuk.

Daar was ontelbare flitsherinnerings aan snaakse blomme en motors, wolke oor die berg, gladde politoer op vloere, geverfde tuinhekkies en geroeste sink, smal gangetjies tussen geboue, bruin lapwerk teen die mure, groen mos in die voue, seuntjies en dogtertjies deur die skrefies in die heining, die breë blare van bome en geluide in die nag. Verbandloos en losstaande – maar beelde wat later, dwarsdeur sy lewe, weer sou opdoem om daarmee ’n verlange by hom op te wek na onbepaalde dinge en onplaasbare tydperke.

En soms, in die nag, as sy ouers weg is en die rumoer van die stad van vér kom, op die mat in die lamplig van die kamer – stories van die stad: die Slamaaiers wat mense betoor en goël sodat jy geeste sien, naalde deur hulle lippe en velle, tamboere en swaaiende slange. “En, luister na die mishoring …” ’n Newelagtige, dralende geluid van die see, wat die kamer vul en leef in swart oë en opgehewe hande … En bedags, deur die mis: “Sien jy daa-aa-aar …!” (Hy word opgelig, bo-oor die seemuur.) “Dis Robbeneiland. Melaatses woon daar. Hulle bene en arms val af … As jy loop in die nag en die dienders kry jou, dan boei hulle jou en vat jou soontoe. Dan kom jy nooit weer terug nie. Jou familie weet nie waar jy is nie – jy’s weg as hulle opstaan. Stil nou! As jy huil, kom die dienders en hulle boei jou …”

En, in die oggend as Sara kom om hom aan te trek, is hy al lank reeds wakker en lê en luister na die vishorings. Deur die vensters ’n grepie van die straat, opgehelder deur die son. Die kloppeteklop van perdepote op teer en daardie opgewekte en tog treurige, blikkerige geblaas deur die vishorings. Eers op die hoek van die straat, dan voor die huis. Stemme, glinsterende vis – en weg is die karretjie. En vér om die draai, deur die strate, verlore in die doolhowe – die uitgelate en tog weemoedige bliktrompet.

Alle reëls was beperk tot fisieke dinge: jy moet nou gaan slaap; dis etenstyd; hoekom is jy so vuil? en hou op met die gekerm.

Eendag het Suzanne met hom geraas oor iets onnets en daardeur onherroeplik sy saamgestelde wêreld geskei. Hy het een van die woorde gebruik wat hy by die dokke gehoor het. Sy het hom eenkant toe geroep en gevra: “Waar het jy daardie woord gehoor, Colet?”

“By Sara, Mammie. By die see.” Opgewekte, trippelende beweginkies. “Doee-ee-eer, by die see. Skulpe. As mens dit by jou oor bring, hoor jy kinders huil …”

“Het Sara jou see toe geneem?”

“Ja.”

“En daardie … lelike woord?”

Hy sê dit weer.

“Kyk, Colet.” Haar arm om hom. Haar gesig digby syne. “Dis sonde. Kyk, soet, gehoorsame kinders sê nie sulke goed nie. Dis lelik. Sonde.”

Betekenisloos en tog onverbiddellik soos “gaan slaap nou, etenstyd, opstaan …” Reddeloos, onverstaanbaar en tog ’n bevel wat gehoorsaam moet word. Al die lekker, mooi dinge – verkeerd, sonde. Ferme oë, dreigende hande.

Eendag het hy die woord weer gebruik en ’n pak gekry. As hulle weer see toe gaan, moet hy haar vertel. Ook Theuns het met hom gepraat, hom op sy skoot getel en hom sy “grootman” genoem. “Daardie dinge …” (met ’n stem vol veragting) “… daardie dinge is sleg en baie, baie verkeerd. Lelik: soos spoeg op die vloer of vuilmaak in jou broek.”

Terwyl sy ouers eendag weg was, het Sara hom voorgekry en gedreig met ’n bruin hand wat taai kan klap en rooi strepe kan laat lê, as hy weer vertel, sulke woorde voor sy ouers gebruik en die see en die dokke en die smal gangetjies tussen die huise noem.

Toe kom die besef van die twee lewens: die blink sitkamerlewe met die albasters en blokkies en soentjies en mooi maniere en eet en slaap – skoon en vol inspanning; versigtige woorde en geborselde hare, sersjebroekies en syhemde en vier mure en afgemete grasperke; mooi, soet, pappa se kind, en sagte, wit hande. En daarnaas: sonde, donker, hel … en ’n ruisende see; en die groen seegras en die gefluit van die mishoring tot agter in jou hart; die wye, geheimsinnige wêreld daarbuite en die skepe wat kolossaal en wiegend dobber op die grafkelder van verlore siele, en die wydheid en onpeilbaarheid en onverklaarbaarheid van heerlike dinge wat verborge en verbode moet bly; en daardie weevolle eggo hier in jou binneste wat jou oë laat dof word van trane en jou bors laat brand in golwende aanslae soos branders …

Kort hierna het die Bybelonderrig begin: ’n Kinderbybel vol prentjies van Christus en sy dissipels en die wondere van die Nuwe Testament. Elke aand is vir hom ’n stukkie voorgelees, verklaar en vergelykings getref met die praktiese lewe. Goed en reg is nie wat hy tot dusver aangeneem het as húlle bevele en húlle lewe nie, maar die voorskrifte van Iemand wat veel sterker as hulle is. Iemand met hulle oë en hulle lewe, wat orals kan sien: selfs tot by die kaaiwaters en in Sara se kamer as hulle weg is; Iemand wat nooit daardie woorde gebruik nie, wat gehoorsame kinders liefhet en hou van sindelikheid – ’n gedurige assosiasie met alles wat inspanning vereis; ’n gedurige keer-keer-keer en so-so-so!

Maar baiekeer, as hy alleen was, het hy die Bybel geneem en lank na die prentjies gekyk – veral na die beeld van Christus met die lang baard, die doringkroon op die hoof en die omgekeerde oë in eindelose pyn na bó gehef. Dan het Hy meteens anders gelyk: soms soos die gesig van die matroos by die kaai, soms soos die man by Sara se kamer. Daar is dit ’n aangrypende gesig, só anders en vér verwyderd van die wêreld waarin sy ouers leef, en só deel van sy eie wêreld van spookagtige beelde en geheimsinnige gebeure. Omdat Christus orals is, het Hy ook (soos Colet) twee lewens: Hy straf in die sitkamer met die strawwe van sy ouers en by Sara straf Hy met Sara se hand; ’n harde, alsiende tiran wat met geweld in twee wêrelde heers. Nou is Hy deel van die mishorings en daardie basgeluid van die skepe wat blaas; dan is Hy weer skoon en netjies en kleurloos en gesteld op die regte dinge. Hy is iets wat terughou en trek en elke ervaring met huiwering toets en dan skielik, oorstelpend meegee. Hy is die sinnebeeld van al die onverstaanbare dinge, en Hy is onontkombaar – selfs in die donkerste hoekie, selfs as Colet sy kop onder die komberse steek en alles uitsluit en die warmte van sy eie asem ruik, selfs in die paniekerige, koue verlatenheid as hy sy gesig in die badwater steek en sy asem ophou …

Na sy sesde verjaarsdag is hy skool toe: die groot laerskool twee strate onderkant die huis; die klipgebou met die honderde vensters en die swart dak en die klipmure en die groot vierkant in die middel. Theuns en Suzanne het saamgegaan en hom voor hulle uit by die prinsipale se deur ingestoot. Die nuwe boeksakkie met die heerlike leergeur en al die gespetjies sorgvuldig vasgemaak, ligklappend op sy rug as hy stap. Hy het die indruk gekry van ’n wit kamer en oop vensters, vars blomme en gekleurde prente. Die prinsipale het van haar lessenaar opgestaan en met ’n lang, ruisende rok tot by hom gekom, neergebuk op haar knieë en met ’n lang voorvinger op sy ken getik. Sy het nie dieselfde geur as Suzanne nie: daardie geur van poeier, lipverf, naelpolitoer en “Scottish Delight” wat van haar kom en heerlik, oorstelpend in haar kamer hang. Sy ruik soos die badkamer en die seep in die bakkies – sindelik, soos Christus en daardie goeie, geordende lewe wat bestaan uit gereeld bad, afdroog met skoon handdoeke, hare borsel en gaan slaap.

Hy het ’n indruk oorgehou van haar grys oë en punterige, uitstaande tande, en van haar maer vingers wat gedurig sy wange gestreel het terwyl sy met Suzanne gepraat het. Toe sy ouers die gang afstap, voel hy hoe die trane na sy oë kom en bedwing hy sy snikke met moeite totdat hy dit nie meer kan hou nie en opeens in trane uitbars.

“Huil ons! Huil ons tog nie!” roep die prinsipale uit, en haar oë word meteens onvriendelik. “A nee a! Ons is mos ’n grootman nou …!”

En sy knyp hom speel-speel aan die ribbes.

Daardie gevoel van verlatenheid, toe hy Suzanne-hulle sien wegloop het, het hom nooit verlaat nie. Hy hoef maar net die kenmerkende geur van ’n klaskamer teë te kom, of die presiesgemete vensters te sien, dan het die vrees hom weer beetgepak. Daar was iets kouds en vyandigs in die harde bankies met die ysterpote, die groefies waarin die griffels in ’n ry langs mekaar lê, die inkkolle op die vloer, die harde, verbeeldinglose swart van die esels, die ingekleurde kaarte teen die mure en die warboel van kleure. Dit is ’n derde, aparte lewe hierdie. Die ander twee, hoe verskillend ook al van mekaar, het dit met mekaar gemeen gehad dat hy self die uitgangspunt daarvan was; maar hierdie is ’n kollektiewe ervaring. Die ontdekking dat O en S gelyk is aan OS, ’n dier, helder ingekleur in die nuwe skoolboekie, moet dieselfde betekenis hê vir almal. Daar is geen geleentheid vir afwyking nie. Die assosiasie van ruim landskappe, die geur van omgeploegde lande en die lui son op die velde het geen betekenis nie. Slegs die simbole beteken iets. As jy nie weet wat dit is nie, is jy agter, of lui, of (vreeslike gedagte) dom.

Sy reuksin was altyd oorheersend. Dit was meer as ’n fisiese sensasie, dit was ’n sleutel tot die verskillende fases; asof hy gedurig ’n ander kamer ingaan met ander wette vasgelê in die geur daarvan. Die reuk van klei: dan is dit die lekker periode wanneer jy met onbeholpe hande gekleurde klei vorm tot een taai en klewerige misbaksel na die ander; die geur van kryt: melerig en poeierig – en dis die onverstaanbare simbole van kennis waarsonder mens vergaan; die soet geur van brood in papier: en dis speeltyd, sonder beskerming oorgegee aan wreder en onverbiddeliker reëls gestel deur gespierde seuntjies met wit hare en wrede oë, die ammoniakreuk van kleinhuisies: ’n donker, verbode uitvlugting, en tog aantreklik soos die systraatjies. Geur op geur, sleutels en deure na kamers wat die oneindigheid instrek; gedurig nuwe nuanses; ’n herhalende, sinnelike ontdekking van die lewe.

Elke dag was ’n dag van aanpassings in hierdie nuwe wêreld. Die speelterrein, presies in twee verdeel vir die seuns eenkant en die meisies anderkant, was die toetsveld. Hier oordeel hulle jou na jou behendigheid met albasters, jou vermoë om by iemand verby te spring sonder dat hy jou raak as julle hasie speel, jou kennis van vloekwoorde en handigheid met die vuis. Binne die vierkant het die swakkes eenkant op die grenslyne rondgehuiwer terwyl die ingewydes in die middel speel. Colet het begin met ’n trippens-pakkie albasters en het een smokie na die ander verloor deur die lompheid van sy té lang vingers – dit kos sterk, gespierde en beweeglike middelvingers om die albasters met ’n hefbeweging uit die kring te skiet. Dis net ouvrouens wat met die duim skiet of uitrol. Die eerste dag toe hy hasie gespeel het, het hy vier van die ander span laat verbykom sonder om eens aan hulle te raak, sodat hulle ’n ander een in sy plek moes sit. En die seunsbendes – groepe van ses, met wagwoorde en duistere doelstellings – was nooit heeltemal verstaanbaar nie: hy kon nie presies uitvind tot watter groep hy behoort nie en het dikwels belangrike geheime verklap. Deur ’n proses van uitskakeling het hy spoedig op die rand van die speelterrein beland tussen ’n bont versameling verstotelinge: seuns met puisies en lomp lywe, ’n paar gebreklikes en heel kleintjies wat skaars nog kon praat. Een van hulle, Willem Louw, het sy beste maat geword. Sy gevoel teenoor Willem was ’n eienaardige samestelling van betowering en afsku; soms het die ru verbeeldingloosheid, vuilheid en taaierige afstootlikheid van die seun dieselfde reaksie by hom gewek as ’n gebreklike persoon: ’n onbewuste wrewel wat gepaard gaan met ’n kwellende meegevoel. Die lap op sy broek, die hondjieagtige toenadering en die geel-groen spanjoel-oë het hom soms só ontstem dat hy partykeer uit sy pad gegaan het om hom te vermy. Dan weer, as hulle eers aan die gesels geraak het en saam dinge ervaar het, en saam die skyf geword het van die ander seuns, wat nou en dan die ouvrouens langs die kant kom pla het, het hy hom in so ’n mate aangetrokke gevoel tot Willem dat hy heeltemal verlore en verlate was wanneer Willem nie op skool is nie. Daarbenewens was daar ook baie dinge wat hy van Willem geleer het: ’n onbekende waardering vir gewone, klein dingetjies – tuisgemaakte speelgoed soos houtrewolwertjies, tolletjies met rekkies daarom wat vanself loop as mens dit opgewen het, swaarde gesny uit appelkissies, en beeste bestaande uit plakkies met stokkies gesteek deur die sagte punte vir jukke. As daar enige geskil tussen hulle was, het Colet se beslissings getel. Willem se onselfsugtigheid was ’n perfekte instrument om Colet se natuurlike teruggetrokkenheid teen te gaan en hom ’n kans te gee om van sy eie, ingewikkelde wêreld te ontvlug. Terwyl die ander seuns dan speel, het hulle teen die muur van die skool gesit en gesels in stadige sinne en met langsame, oordrewe gebare. Colet se maer, asketiese gesig en groot oë, soms opgewek en soms donker van gedagtes, oorverfynd in sy hele houding en voorkoms – teenoor die blas, ongesonde kleur van die ander een: grof, sterk en lomp gebou, lafhartig en swak, met vuil neusgate en groen vlekke om die mond. Hulle gesprekke het gegaan oor die eenvoudigste, mees onbeduidende dingetjies, alledaags en meisieagtig. Nie onpersoonlike stories van avonture en kattekwaad nie, maar aanmerkings oor die onderwysers wat kwaai is, klagtes oor die ruheid van die ander seuns, oor potlode en watter boek die helderste gekleurd is.

Colet en Willem het drie jaar lank maats gebly, en toe mekaar ontgroei. Willem se lompheid het stadigaan verdwyn namate hy ouer geword het. Hy het eendag ’n geveg met ’n seun gewen, wat heelwat groter as hy was, en in die aansien wat daarop gevolg het, die moontlikhede van sy liggaamskrag besef. Hy het ’n oortuigde bullebak geword en by een van die bendes aangesluit. Een van sy talle slagoffers daarna was Colet self. Hierdie onverwagte frontverandering van sy eertydse vriend het sy natuurlike skuheid vir mense vererger. Hy het gevoel dat hy niemand meer kon vertrou nie, dat die hele wêreld teen hom gekant is. Later, toe hy met verloop van tyd ander seuns leer ken het, het hy nogtans in homself iets in reserwe gehou sodat hy nooit heeltemal deel van enige groep geword het nie. Dit was nogal veelseggend dat in later jare niemand hom juis as ’n tydgenoot kon onthou nie. Hy self het ’n onkeerbare afsku oorgehou teenoor die jare op die laerskool. Al sy herinnerings was gevestig op die tye tussenin en die Kaap self. Later het hy met ’n gevoel van verbasing by die skool verbygery sonder om ’n enkele insident uit sy vroeëre skooljare in herinnering te roep behalwe vae herinnerings aan Willem en aan seunsbendes.

Sy gedagtes het die neiging getoon om vas te kleef aan sekere gebeurtenisse, daar te bly haak en alle ervarings daarnatoe te herlei. Die speletjie in die agterplaas byvoorbeeld. Hy het rewolwertjies gemaak uit die plankies van die kissies in die vuilgoedblikke. Dan het hy dit in sy lyfband gesteek en soos ’n speurder tussen die oorhangende takke by die heining weggekruip, meteens uitgespring en na ’n denkbeeldige vyand geskiet. “Boem-boem!” skreeu hy dan en verplaas homself dadelik in die rol van die skurk en val stadig teen die grond neer. Die gladde takke van die lukwartboom in die hoek van die erf was sy geliefkoosde plek. Vanaf die tweede mik kon hy in die teerstraat sien en ook in die erf langsaan. Van daar het hy sy rewolwer gerig op vyande in motors en op fietse, en na ’n rukkie die speletjie heeltemal vergeet en oorgegaan tot wye verbeeldingsvlugte in verband met die mense buitekant. Die manewales van die seuns op hulle fietse is in sy gedagtes herskep, met homself as hooffiguur. Dan doen hy al hulle toertjies na, net oneindig beter, tot die grootste verbasing van almal. Partykeer, as hulle hom in die boom sien, ry hulle nader en roep hom na die straat toe, maar dan kruip hy tussen die takke weg en maak asof hy hulle nie sien nie. Ander kere het hy weer van bo uit die blare neergekyk op die erf langsaan. ’n Meisietjie het elke dag op ’n sekere tyd gespeel op die grasperk onder die skaduwee van ’n akkerboom. Sy het met ’n klomp poppe gespeel terwyl ’n witmeisie ’n entjie daarvandaan gesit en brei het. In sy verbeelding was sy die gevange prinses in ’n kasteel. Hy het alreeds die kamer gesien waar sy opgesluit word – die een in die anderkantste hoek waar die son nooit kom nie. Soms het hy planne gemaak om haar te gaan red, maar hy het nooit die moed gehad om eens haar aandag te trek nie. Eendag, toe hy ’n bietjie vroeër gekom het, het hy gesien dat hulle haar na die plek dra waar sy elke dag sit, haar swaaiende bene gewikkel in ’n ystertoestel. Haar fisieke gebrek het meteens al die romantiek van die speletjie verbreek en hy het nie weer in haar belang gestel nie.

Maar die Kaap, die groot, rokende stad langs die see, was eintlik die bron van alle betowering. Elke gebou en elke hoekie het ’n aantrekkingskrag van sy eie gehad. Dit was nie soseer die alledaagse dinge, die groot geboue en die motors wat hom getref het nie, maar ’n klein venstertjie wat oopgaan in ’n systraatjie, ’n besondere klip in die muur by die punt, die bottelstukke op die hoë bruin mure by die breekwatertronk, ’n mosbevlekte steen teen ’n gebou, die verdraaide skoorstene bokant die dakke, die mis in die aand wat deur ’n straatjie in die agterbuurt kronkel, die toppe van die dennebome teen Leeukop en die ronde klippe langs Kampsbaai. Hy self het dit nooit alleen buite die tuin van hulle huis gewaag nie. Daarvoor het Suzanne ook gesorg in haar vrees vir die motors wat hom mag omry. Maar Sara, gedurende hulle wandelinkies in die park, het gedurig verbode uitstappies gesteel na gevaarliker plekke waar sy haar ghietses ontmoet het. Hy het alle ondervindings en dinge wat hy gesien het soos ’n spons opgevang en in sy binneste verwerk tot iets baie belangriks en onmisbaars. In sy gedurige fluktuasie tussen die twee wêrelde, die toelaatbare en die ontoelaatbare, is die eienskappe van elkeen buite verhouding verhewig: die een was vol beskerming en veeleisende, dodende reëls, die ander een vol onsekerheid en gevaar, maar wyd soos sy gedagtes, en asemberowend in diepte en moontlikhede. Hy het natuurlik vroeg al geleer dat die verbeeldingrykste en interessantste ondervindings (so kenmerkend van die ander, verbode wêreld) afgekeur is deur Theuns-hulle. As hy daaraan toegegee het, selfs in sy gedagtes, het die verbodegevoel hom só oormeester dat hy heeltemal ontrou gevoel het teenoor hulle. Veral as hulle die dag baie goed vir hom was, het hy nie met sy rewolwers gespeel of gekyk na die skoorstene en die tuin langsaan nie. Maar dan het hy so leeg en uitgeput gevoel dat hy met ’n sterker drang weer begin belang stel het en met groter gretigheid geluister het na Sara se stories.

Hierdie tweestryd het toegeneem namate hy ouer geword het. Die maatstawwe wat in elkeen van sy wêrelde gegeld het, was onverbiddelik en hy het elke nuanse daarvan aangevoel. Hy het homself ook met elkeen versoen as hy daarin is, met die gevolg dat hy nooit ’n waardeoordeel daaroor kon uitspreek nie. As Theuns en Suzanne hom wys op die verkeerde sy van die ander lewe, dan verstaan hy dit volkome en begryp hulle veroordeling daarvan; as hy weer saam met Sara is, of alleen tussen die vreemde dinge, dan lyk Theuns en Suzanne, met alles waarvoor húlle staan, vér verwyderd en selfs belaglik.

Maar daar was ook tye dat hy die twee wêrelde nie presies kon onderskei nie, omdat hulle soms so inmekaar gevloei het. Juis daarom het die herinnering aan sekere gebeurtenisse of beelde, alhoewel op sigself nie juis besonders nie, tog ’n sleutel geword wat die weg na elkeen vir sy gedagtes oopgemaak het. Hy hoef byvoorbeeld maar net te dink aan systraatjies, dan is hy in een wêreld; of aan badkamers, dan is hy weer in die ander een. Vandaar die belangrikheid van diegene wat nuwe ervarings ingelei het, soos die beeld van Mariet byvoorbeeld.

Hy was omtrent nege jaar oud toe Mariet Jooste by hulle kom kuier het. Mariet was toe sestien – vol rondings en opgewekte lagbuie. Sy was saam met haar ouers vir ’n vakansie in die Kaap en hulle het ’n pligsbesoekie by die Van Veldens afgelê. Aangesien daar ’n gebrek aan kamers was, het Suzanne besluit dat Mariet en Colet maar in die kinderkamer moes slaap. Colet is, soos gewoonlik, vroeg bed toe gestuur en het gelê en lees uit Coral Island, wat Theuns die week vantevore vir hom gekoop het. Van waar hy gelê het, kon hy die gepraat van die grootmense in die sitkamer hoor. Later is die stemme verdeel in verskillende rigtings en het hier en daar ’n deur in die huis geklap. Toe verskyn Mariet in sy kamer.

“En toe,” sê sy, “slaap jy nog nie? Ek het gedink dat kinders teen hierdie tyd al lankal slaap.”

“Ek het gelê en lees. Ek lees elke aand.”

Hy wys na die boek wat op die bedkassie lê.

“Ek lees graag.”

Sy stap nader en tel die boek op.

“Coral Island.” Sy blaai daarin. “Ek het dit jare gelede gelees. Dis goed, nè?”

“Ja,” sê hy.

As sy digby sy bed staan, kan hy die plooi van haar rok sien, en ’n deel van haar been waar dit teen die ledekant druk. Hy lê na haar en kyk en volg elke beweging as sy op die voetenent gaan sit.

Sy hou die boek in haar hand, dan sê sy: “Ek het jou ingedra, weet jy?”

“Ek hoor so,” sê hy.

“Jy was ’n baie klein babatjie.”

Hy sit regop in die bed.

“Ek is volgende maand tien. Die agtiende Februarie. Ek is al in standerd drie.”

Mariet gaan teen die muur lê met haar hande agter haar kop. Die bloese span styf oor haar lyf en die ronding van haar borste vou syagtig uit onder die sagte materiaal.

’n Onbekende gevoel oormeester Colet. Hy kan dit nie heeltemal tuisbring nie. In sy gedagtes neem dit die plek in van daardie verbodegevoel. Daar is iets gemeenskapliks met Sara en die see en sy gedagtes as hy alleen is – ’n tintelende, gespanne gevoel wat deur sy hele lyf gaan; ’n gewaarwording in sy bors, binnekant waar al sy gedagtes gelokaliseer is, en ook in sy ledemate.

Mariet se lui oë kyk na die meubels in die kamer.

“Is dit jou kamer?” vra sy.

“Ja,” sê hy.

’n Oomblikkie stilte.

“Dis lekker om op skool te wees. Ek bedoel, as mens net begin skoolgaan.”

Sy merk dadelik sy reaksie op.

“Ek bedoel, in die primêre skool. Dis nie lekker in die sekondêre skool nie. Daar is te veel werk. Speel julle met klei?”

Colet se oë rek verontwaardig.

“Ons het al lankal daarmee opgehou. In sub B al. Ons doen verdeelsomme en proporsies. Dis moeilik.”

Hy soek na iets.

“Ons maak grassade bymekaar, dan steek ons dit vas op tekenpapier met al die name daarby.” Hy wag ’n rukkie. “Myne is teen die muur opgehang. Dit was die beste in die klas. Die meeste grassoorte. Met ál die name.”

“Oeeeeee!” sê sy. “Jy is slim, nè?”

Sy staan op en stap na die spieëltafel. Sy tel haar handsak op en sit dit op die stoel neer. Dan maak sy dit oop en haal ’n rubbersakkie daaruit. Colet volg al haar bewegings. Die voorwerpe is bekend, want hy het hulle al by Suzanne gesien, maar hierdie keer wek hulle ’n ander gevoel by hom op. Die geur is dieselfde: poeier en naellak en ’n mengsel van eksotiese geure – maar die assosiasies is wyer en nuwer. Dis Suzanne en alles wat daarmee gepaard gaan en iets van sy eie, veranderlike wêreld daarby. Dis Suzanne en die verbode, eie dinge tegelykertyd – en saam is dit vreemd, amper ondenkbaar gewaag – onheilspellend gewaag en vól – ’n hele samevatting van Suzanne en Sara: ’n onverstaanbare, oorstelpende oorgang tussen die verbode en toelaatbare.

Mariet is besig om haar hare te kam. Hy volg die lang hale, die ritme daarvan. Sy het intussen haar baadjie uitgetrek. Van waar hy lê, sien hy die lang, wit arms, die egalige wit bewegings en hoor hy die ruising van die wit bloese – ’n wit prentjie in die wit lig, wat met elke haal dieper in sy bewussyn gegrif word.

Toe staan Mariet op.

“ ’n Man,” sê sy, “kyk weg as ’n dame aantrek. Hy kyk na die muur.”

Colet se gesig brand vuurrooi, maar hy roer nie.

“Toe nou,” sê sy, “kyk na die muur, jong.”

Hy draai verward om. Hy hoor die bewegings agter sy rug, die geklater van haar voetstappe op die plankvloer, die skielike, sagte geskuifel as sy kaalvoet is, die geritsel van haar klere – en dan sien hy haar beeld in die spieël uit die hoek van sy oog …

Toe skakel sy die lig af. Hy hoor die gekraak van die bed as sy gaan lê. Die donker sak in duisende kleure op hom toe: eers helderrooi nabeelde en dan ’n malende draaiing van pers en blou en groen teen sy ooglede. Dis asof hy self deur die kleure in die kamer rondsweef. As hy haar stem hoor, kom dit ontliggaamd – aangedryf deur die kleure.

“Nag, Colet,” sê sy. “Lekker slaap.”

Hy verbeel hom dat hy opstaan en na haar bed toe gaan. Hy raak aan haar. Net aan haar arm. Aan die kant van die bed. Dit sal sag wees – soos Suzanne s’n. ’n Onuithoudbare drang: net om aan haar te raak; met die punte van sy vingers aan haar koel, wit arms in die donker, gekleurde kamer …

Toe hy die volgende oggend wakker word, was Mariet alreeds op.

“Jy is ’n laatslaper,” sê sy. “Slaap jy altyd so laat?”

Die kleur van die oggendlig deur die toegetrekte gordyne is grys. As hy dit oopmaak, word die kamer helder en koud. Die mure se geblomde patrone lyk verlate en verbleik. Teen die dak kan hy die swart vlieëstippels sien en die watervlekke in fantastiese figure. Van die strate kom die eerste geskal van die vishorings. Heeltemal verkeerd – en raserig. Soos die mure en die lelike lig …

Dieselfde aand is sy weg.

’n Week daarna sê Suzanne vir hom met rooi, betraande oë: “Colet, jy onthou natuurlik vir Mariet. Sy was mos verlede week by ons. Natuurlik onthou jy nog vir haar. Kyk, Colet, die liewe Heer het haar weggeneem …”

Omdat hy haar nie heeltemal verstaan het nie, het dit nie ’n bepaalde gevoel by hom opgewek nie. Maar toe hy later vir Theuns aan die tafel hoor sê: “Foei tog, so ’n jong dogter, om nou al dood te gaan … so jonk nog …” het hy vir die eerste maal die betekenis daarvan besef. Die gedagte aan haar, net voordat die lig doodgegaan het, het nooit verdwyn nie en hy het haar gedurig weer verwag, en selfs heel later in sy lewe, kon hy nie glo dat sy dood is en opgehou het om te bestaan nie. Hy het aangehou om aan haar te lê en dink in die aande; allerhande bygedagtes: herlewings van wat in die kamer gebeur het, en dan uitbouings daarvan totdat hy aan die slaap geraak het. Die dooie meisie het ’n groter krag in sy lewe geword as baie ander lewende dinge: dit het die eerste skemering van die sekswêreld aangedui. Haar beeld, die vae beloftes wat hy in sy verbeelding daarom gehang het, het ’n standaard geword – ’n voorbeeld waarna al sy gedagtes van daardie aand herlei is. Terselfdertyd het sy ook ’n groter neiging in hom gewek tot meisies wat ouer as hy is. Soms, as hy na die onderwyseresse in die klas gekyk het, het hy iets van Mariet in hulle gevind, soms in Suzanne se vriendinne en selfs (heel onbewus) ook in die aanrakings van Suzanne.

Hoe ouer hy geword het, en hoe meer dinge hy gesien het, des te liewer het hy die Kaap gekry. Eendag het hy en sy ouers met die kabelspoor gery na die kruin van Tafelberg. Die miswolke het net oor die kranse gekom en tuimelend afgesak na die stad vér onder langs die see. Toe hy versigtig langs die skeure afkyk na die oneindigheid onder hom, het hy ’n wydheid binne-in homself gevoel en ’n aandoening ondervind van vrees en vreugde wat herhalend na mekaar gekom het. Hulle het ook tussen die dennebome bokant Houtbaai gekampeer en dennebolle opgetel wat op die gladde mat van dennenaalde gelê het. Toe hulle die pitjies oopkap en eet, kon hy die aarde proe waaruit die bome groei. Op ’n dag het hulle tee gedrink in die kafee by die pier terwyl die branders teen die pilare klots, en hy het vir die res van sy lewe ’n herinnering saamgedra van ’n toneeltjie waar hy en sy ouers bokant rumoerige waters sit terwyl ’n orkes op die agtergrond speel, alhoewel hy later vergeet het waar dit was. Maar veral die wit sand op die Kaapse Vlakte het vir hom ’n besondere betekenis gehad. Om die bome en plante te sien groei op die wit, was ’n wonderwerk. Daarna, sodra hy proteas sien, of heide of speserye ruik in die lug, dan het hy altyd ’n beeld gekry van wit sand – fyn en korrelrig van bo, warm en klam onder die oppervlakte; oneindig verlate en weemoedig waar dit duine vorm, vol groeikrag en lewe as dit bedek is deur suurvygies en akasias.

Omdat hy geen sorge gehad het nie, was niks vir hom lelik wat vir die grootmense hinderlik was nie. Selfs die geroeste sink was mooi. Selfs die water in die rioolpyp wat gorrel en dan drup-drup gaan staan en ’n wit afsaksel nalaat. Selfs die ingeduikte vuilgoedblik in die agterplaas, die blare op die werf as dit afval in die herfs, die mosagtige aanpaksels teen die mure in die reënseisoen, die rook wat sekere aande skielik laag oor die huise hang en die aanhoudende gedrup van water teen die bome se stamme in die nag.

Maar in sy hart het hy gevoel dat dit nie lank so sal bly nie. Miskien het die besef van die veranderlikheid van dinge gekom met die dood van Mariet, of met die einde van sy vriendskap met Willem, of, heel vroeër, met die besef dat sekere dinge, wat mooi en lekker is, nie altyd reg is nie. Hy het gevoel dat daar een of ander tyd ’n einde sal kom aan alles. Toe Sara eendag skielik teruggestuur is na Van Velden toe, het die eerste tekens al gekom. ’n Maand later het Suzanne hom vertel dat hulle weer gaan boer en dat hulle dus nie meer langer in die Kaap sal bly nie. Toe het Colet besef dat dinge nie meer dieselfde sal wees nie en dat hy ’n ander tydperk ingaan.

Sy laaste indrukke was van die huurmotor voor hulle huis, die stasieklok wat halfvyf gewys het, ’n paar seuntjies wat staan en kyk het na die miniatuur-lokomotief se wieletjies wat vinnig draai nadat hulle ’n tiekie in die gleufie gegooi het, die brouery se smal venstertjies uit die treinvensters – en Theuns se woorde: “Dit sal lekker wees om weer te boer.”

Die eerste siklus

Подняться наверх