Читать книгу Die eerste siklus - Etienne Leroux - Страница 6

HOOFSTUK III

Оглавление

’n Verandering was geleidelik besig om in Colet plaas te vind, maar dit het vir homself eers duidelik waarneembaar geword nadat Maria weg was. Miskien was die rede daarvoor dat hy, deur hulle gedurige saamwees in die dag en geselsery in die aand, nie baie tyd alleen gehad het nie. Destyds was daar net vae aanduidings daarvan – soos byvoorbeeld die middag in die slaapkamer toe sy ouers weg was, en somtyds wanneer hy alleen gaan stap het, of gewag het vir Maria om te kom slaap.

Nou het hy dit veral goed gemerk in sy houding teenoor Suzanne.

Sy het meteens meer aandag aan hom begin bestee deur hom byvoorbeeld na haar kamer toe te roep en met hom te gesels oor wat hy gedurende die dag gedoen het. Alhoewel haar pogings om sy vertroue te herwin, baie oordrewe was, was dit tog opreg en welmenend. Maar juis om daardie rede het hy so ’n hekel daaraan gehad dat hy soms dinge gesê het nét om haar seer te maak. Hy het geen plesier daarin gevind nie, maar hy kon eenvoudig nie anders nie. As sy hom byvoorbeeld op ’n mooi manier vra om sy das reg te trek, het hy dit nie gedoen nie, maar nog skewer gepluk as tevore. Juis omdat sy so gesteld was op netheid en sindelikheid, het hy hom half gewas en het dit baie gesoebat gekos om hom skoon klere te laat aantrek. Soms het sy sokkies só sleg geruik dat die hele kamer bedompig geword het. Hy het gehou van die reuk daarvan. Hy het selfs dit tot teenaan sy gesig gebring om die soet-suur walms te ruik. ’n Ou baadjie het besondere betekenis gekry. Hy het dag na dag ’n blou tweedstuk gedra. Die moue het naderhand afgerafel, sodat sy elmboë begin uitsteek het. Die sakke daarvan was gedurig volgeprop met stukke halfgeskrewe papier waarop hy allerhande betekenislose simbole gekrap het. As die sakke naderhand té vol geraak het, kon hy dit eenvoudig nie oor sy hart kry om sekere stukke weg te gooi nie, alhoewel dit heeltemal vergaan en verkrummel was.

Hy het ’n sekere manier van sit aangekweek: sy agterlyf diep in die stoel in, sy hande op sy knieë en sy kop vooroor. Hoe hulle ook al met hom gepraat het om regop te sit, kon hy nie van posisie verander nie. Hy het ongemaklik gevoel om op enige ander manier te sit. Hy het verdere irriterende gewoontes – irriterend ook vir homself – aangeleer. So het hy byvoorbeeld dieselfde boek oor en oor deurgelees, totdat hy naderhand omtrent elke bladsy van buite geken het. Dit was Coral Island, een van die boeke wat hy nog in die Kaap gehad het. Die boek het hy elke aand op dieselfde plek weggesit, en niemand is toegelaat om daaraan te raak nie. Die plekkie was ’n hoek eenkant in die hangkas tussen sy klere. Toe dit eendag daaruit verwyder en netjies op die tafel neergesit is, het hy in ’n onkeerbare woede uitgebars en hardop in magtelose toorn geskree.

Sekere sleutelwoorde het ’n magiese betekenis gekry. Dit was die woordjies “en”, “by”, “ek”, “voor” en alle voorsetsels. As sy oog op ’n selfstandige naamwoord val, het dit hom só gehinder dat hy vinnig na die voorsetsel gekyk het, voordat hy die boek dan skielik toemaak sodat die nabeeld van die woord nog in sy gees kan bly. In sy gedagtes het hy heeltemal in die verlede gelewe. Hy het aan sy heel jong jare in die Kaap ’n wyer en ruimer betekenis geheg as wat dit ooit gehad het. Die herinnerings aan die geluid van die vishorings en die geblaas van die mishorings het beelde meegebring wat ooreengestem het met sy vroeë indrukke van Sara en die verbode sy van die Kaapse lewe. Gekleur deur die verloop van tyd, het dit oneindig geheimsinnig, onwêrelds en melancholies geword. Die teenswoordige was neerdrukkend en die aanvaarding daarvan ’n toegewing aan magte wat teen hom is. Om sy verband met die verlede te behou, het hy ’n eienaardige obsessie ontwikkel. Nadat hy hom ingedink het in die verlede en heeltemal besiel was met die gevoel wat dit meegebring het, het hy elke keer as hy aan iets dink wat die teenswoordige inhou, dit geneutraliseer deur twee keer daaraan te dink. Die “verledegevoel” en die “teenswoordigegevoel” was twee magte wat gedurig teen mekaar gewerk het. Die teenswoordige kan alleen uit die weg geruim word deur dit skadeloos te maak, en dit het hy gedoen deur dit twee keer, onmiddellik na mekaar, te ervaar en só deur herhaling dit heeltemal tot niet en magteloos te maak.

Hy het hierdie dinge veral gedoen wanneer hy in sy teenswoordige lewe iets onaangenaams ervaar het. Die innerlike ervaring was natuurlik onbekend vir die ander huismense, maar die uiterlike simptome wat dit aangeneem het, soos sy halsstarrige voorliefde om al sy oudste klere te dra, en die gewoonte om twee keer aan ’n ding te raak en selfs in ’n sekere stadium ’n woord twee keer op ’n aparte papiertjie oor te skryf, het hulle in groot mate ontstem. Suzanne het eendag met juffrou Du Toit daaroor gepraat en sy het die klaarblyklike verklaring gegee dat hy deur ’n “stadium” gaan.

Kort nadat Maria weg is, het ook juffrou Du Toit probeer om sy vertroue te wen. Sy was heel versigtig in die begin omdat sy bevrees was dat hy haar kwalik sou neem aangesien sy die oorsaak was van Maria se vertrek. Tot haar verbasing het sy ontdek dat hy skynbaar geen merkbare gevoel teenoor die diensmeisie oorgehou het nie. Haar eie houding in verband met die hele affêre het haar nog steeds gehinder, juis omdat sy geen verklaring daarvoor kon vind nie. Sy het haar voorgeneem om natuurlik in haar verhouding teenoor hom te wees, en in die skool het dit nie moeilik gegaan nie. Maar sodra die ander kinders weg was, en sy alleen met hom was (soos nogal dikwels gebeur het, aangesien Theuns en Suzanne se wanderlust nog geensins bevredig was nie), het sy heeltemal in die diep waters beland en haarself gedurig verwyt oor haar onverstaanbare onvermoë om die natuurlike juffrou-leerling-verhouding te handhaaf. Die verandering in Colet, wat sy houding en maniere betref, het sy gouer raakgesien as Suzanne-hulle, en op haar eie manier ’n beter insig daarin gekry deur hulle gesprekke. Sy het, op ’n baie kleiner skaal en op ’n heel ander manier, die plek van Maria in sy lewe begin inneem sonder dat sy self daarvan bewus was. As Suzanne-hulle in die aande uit was, het sy en Colet by die eetkamertafel gesit en gesels totdat dit vir hom tyd was om te gaan slaap.

Die lamp het gewoonlik in die middel van die tafel gestaan en hulle stoele reg teenoor mekaar, terwyl die res van die kamer in skemerdonker gehul was. Die kol van die lig het dan, van waar Colet sit, soos ’n soeklig op haar geval en ’n onwerklike wasigheid aan haar buitelyne verleen, wat ’n droomeienskap aan die hele situasie besorg het. Sy was mooi gebou, met ’n fris, gesonde molligheid wat op middeljarige leeftyd in gesetheid sou moes oorgaan, maar wat in daardie stadium, saam met haar rooi wange en helderblou oë, ’n verbasende jeugdigheid en aangename vroulikheid aan haar voorkoms verleen het. Sy was altyd baie presies en skoon, in teenstelling met Maria se sweterige gehawendheid. Dit het geblyk uit die soort klere wat sy dra: helderkleurige, geblomde rokkies, met ’n welriekende sakdoekie altyd in haar mou gesteek, uit haar goedversorgde swart hare wat sy reguit agteroor gekam dra, styf saamgetrek in ’n gevlegte bolla agter haar kop, en uit haar fyn, mooigevormde, skuinsgedrukte handskrif. Sy het ’n gewoonte gehad om haar boeke netjies oor te trek en dan, terwyl sy les gee, dit deurentyd glad te vryf. Hierdie aanwendsel het sy oral getoon: selfs aan die eettafel met haar servet, of in die veld met die plooie van haar rok of ’n stukkie blaar wat sy ingedagte opgetel het. Van waar hy sit in die lamplig, wek sy by tye weer daardie gevoel by Colet op wat hy by Mariet gekry het; maar soms kan ’n gebaar, of ’n verbuiging in haar stem, of iets wat sy gesê het (sodra sy die onderwysereshouding inneem), weer heeltemal die beeld bederf. Die gedagte aan haar, veral wanneer hy saans lê en dink, wek soms ’n herhalende opgewondenheid by hom op sodat hy allerhande situasie bydink waarin sy en Mariet onafskeidbaar ’n eenheid vorm.

As hulle egter weer saam gesels het, het sy baie gou dié indruk verdryf, sodat hy dan dieselfde dwarsheid teenoor haar toon as teenoor Suzanne, wie se beeld deesdae telkens verbreek word as hy met haar in aanraking kom.

Van waar sy sit, laat die lamplig vir Colet ook heeltemal anders lyk as bedags op skool. Dis asof hy baie ouer voorkom, asof die lig die skaduwees in sy oë verdiep, en die holtes in sy wange die prominensie van sy wangbene verhoog. Alhoewel hy geen gebrek aan sy vel het nie, en geen ontsierende puisies toon soos Kosie byvoorbeeld en ander seuns van sy ouderdom nie, lyk dit tog asof dit té styf gespan is oor sy gesigsbene. Sy slank, maer vingers is ook verontrustend. Soms as hulle op die tafel lê, of die blaaie van ’n boek streel, kan sy haar oë nie daarvan afhou nie. Dit lyk asof hulle ’n lewe en ’n persoonlikheid van hul eie het. Dit laat haar dink aan daardie vertaling van ’n Franse storie wat sy gelees het – van ’n lelike prinses wie se vingers haar enigste tekens van koninklike bloed was, en wat ’n bestaan onafhanklik van die res van haar sintuie gevoer het. Sy lippe (dit kon sy goed sien) is ’n bietjie té vol: nie dik of afstootlik nie, maar effens klam en vol lewe, plooibaar en sensueel. Ook sy voorkop het daardie gespannenheid as hy dink, ander tye weer is die vel só los dat hy dit heeltemal kreukel as hy frons. Terwyl sy al hierdie dinge oplet, voel sy asof hy al klaar volwasse is, asof hy dinge dink en van dinge weet wat nie alleen besonder ryp vir iemand van sy ouderdom is nie, maar wat selfs haar eie ervarings oortref: nie in die hoeveelheid en wydheid daarvan nie, maar in kwaliteit en diepte.

Soms, wanneer hulle niks het om oor te gesels nie, lees hulle: Colet uit ’n ander boek, maar met Coral Island altyd byderhand langs hom, sodat hy nou en dan daaraan kan raak asof hy homself wil gerusstel dat dit nog daar is; juffrou Du Toit met klikkende breinaalde en ’n boek teen ’n servet gestut. Hy het al opgemerk hoe deeglik en stadig sy lees. As hy so onderlangs loer, kan hy haar oë heen en weer oor die bladsy sien beweeg – nie die senuweeagtige flitsbewegings van sy eie nie, maar stadig en deeglik met streelbewegings soos haar hande. Soms, as sy ingedagte is, hou hy self op om te lees en kyk dan onderlangs na haar terwyl sy een hand op Coral Island rus. Dan let hy onverstoord op al daardie klein dingetjies. Hy deel haar in fragmente op: haar voorkop en haar hare: die effentjiese plooie, die fyn, deurskynende haartjies om die slape; en dan die blou skynsel van die glad gekamde hare bo-op waarin daar hier en daar ’n draadjie losgeryg het en warrelend en deurskynend regop staan. Dan weer die kleur van haar wange, wat soms rooi gloei van inspanning en dan weer bleker word sodat die egalige rooi vervaag tot fyn, ligte aartjies wat die vel deurkruis in ’n fyn netwerk. En haar mond: nooit stil nie, polsend en vol lewe asof hy die strome van die hartsbloed kan sien wat daaraan die kleur gee. Eindelik haar bors bo die bewegende hande en die wit tafeldoek, die vormlose prominensies ingekerker deur vouende sy, die ritmiese ruising soos die branders by die see, die wondbaarheid daarvan – so kwesbaar soos klein hasies met hulle wolvelletjies wat bewe as mense aan hulle raak, en sterf as jy hulle té lank vashou … En meteens, die vinniger bewegings, soos verskrikte diertjies; en, as hy opkyk, haar oë op hom sodat hy skielik op sy boek moet afkyk en maak asof hy al die tyd gelees het, en net toevallig opgekyk het.

Een aand kon hulle albei nie aan die lees kom nie. Die kamer was koud en hulle het styf teenaan die tafel gesit om so na as moontlik aan die lamp te wees en sodoende ’n deel van die hitte daarvan te kry. Suzanne en Theuns was na ’n dansparty op ’n naburige plaas en sou eers baie laat die aand terugkom. Elke keer as Colet hoor dat Theuns-hulle weggaan, het hy bewus geword van ’n soortgelyke atmosfeer in die huis as daardie keer net voordat Maria weggestuur is. Dit was asof die hele persoonlikheid van die huis verander: die kamers leër as gewoonlik en meer kenmerkend wat reuk en assosiasie betref, stemme harder, en dan weer sagter, oral groter skakering van lig en skaduwee. En, in homself daardie selfde gevoel van vryheid en vrees, dat hy op die drempel staan van ’n nuwe wêreld vol verskeidenheid en kleure soos in ’n glasprisma waarin al die kleure van die lig opgebreek word; ’n belofte aan wonderlike ervarings saam met ’n bewussyn van ’n verbode wêreld waarin jy rondsweef en heeltemal uitgelate jou oorgee aan daardie verbode dinge terwyl jy, in jou hart, weet dat jy gestraf gaan word deur Christus. Van binne kan hy dan voel hoe dinge al hoe stywer trek, en al hoe meer gespanne word, totdat die koord skielik breek. Selfs beweging is dan makliker: hy voel asof hy op al die stoele kan spring, bo-op die dak van die huis kan klim en die blou ruimtes kan induik. As hy skryf, gly sy pen oor die bladsye met koorsagtige haas en die ink vloei soos water oor gladde klippers, en sy handskrif verloor alle vorm en swenk deur en tussen die reëls en hy vergeet heeltemal om kommas en punte by te voeg en hy hou net aan en aan, sonder einde. As hy die basnote op die klavier druk, swewe die geblaas van die vragskepe in die kamer rond, en kom die mis deur die vensters en is dit die seewind wat die takke van die bome laat kraak en is die gefluit deur die sleutelgat die stemme wat roep. Selfs in juffrou Du Toit het hy na skoolure dieselfde gejaagdheid opgemerk. Elke keer as sy met hom praat, het haar stem daardie selfde lighartigheid; as sy hom vra om iets vir haar te doen, het sy nie beveel nie, maar gevra asof sy ’n antwoord verwag. En haar bewegings was prettig en opgewek soos Mariet s’n, jonk en vol lewe: ’n skielike swaai van haar lyf wat haar rokke om haar bene laat vou, ’n vrolikheid in elke gebaar.

Toe hulle styf teenaan die tafel sit, om die hitte van die lamp te kry, sê sy meteens: “Colet, hoekom gaan haal jy nie vir ons ’n kombers nie, dan sit ons lekker warm op die rusbank en gesels totdat dit slaaptyd is.”

Toe hy met die swaar donskombers terugkom, was sy alreeds op die rusbank. Sy beduie vir hom om langs haar te kom sit en hulle wikkel hulself dan styf toe in die voue daarvan.

As hulle lekker warm toegewikkel is, sê sy: “En toe, Colet, hou jy van die skool? Ons skool? Is dit lekkerder as die Kaapse skool byvoorbeeld?”

Onmiddellik verdwyn die opgewektheid in hom en neem sy stem weer daardie toonlose eienskap aan.

“Dis lekker,” sê hy, “ek dink dit is lekkerder as die skool in die Kaap. Maar ek hou van die Kaap …”

“Nee, Colet, ek bedoel … hou jy van die manier waarop ek skoolhou? … Sien … ek wil graag hê ons moet goeie vriende wees en ek sal daarvan hou as jy openhartig met my praat, jy weet … soos jy voel.” Sy is magteloos teen daardie stem van Colet wat soos ’n wit muur teen haar oprys.

“Ek weet nie,” sê hy, “juffrou is baie gaaf, baie goed …” Geen tekens van toegewing nie. Sy stem en sy oë is eenders.

“Colet, voel jy nie soms alleen op die plaas nie? Het jy nie lus om met maats te speel nie? Soos op ’n groot skool waar die seuns saam …” (sy soek met haar hande in die lug) “… boks en rugby speel en gesels en sports maak nie?”

Hy oorweeg dit. Nie spontaan nie, maar soos iemand in geselskap wat sy gedagtes wegsteek agter versigtige woorde en diep verveeld is.

“Dit sal seker lekker wees …” Hy sukkel om woorde te kry en skuif rond op die rusbank. “Ek sal seker eendag na so ’n plek toe gaan.” In sy bewegings op die bank, terwyl hy op die kussings druk om hom reg te skuif, raak sy hand teen hare. Hy is eers nie bewus daarvan nie en kom dit eers agter as sy besig is om te praat. Hy oorweeg dit om sy hand weg te neem, en besluit dan om dit daar te laat bly en te maak asof hy nie daarvan weet nie.

Juffrou Du Toit gesels vinniger. “Jy weet, daar is baie dinge wat mens by sulke plekke leer. Jy was natuurlik in die Kaapse skool nog té jonk. Maar nou is jy ouer. Jy weet, mens ontmoet mense van orals en jy leer baie van hulle … wat hulle dink. Sien, dit is nie goed om heeltemal alleen te wees en altyd met jouself speel nie. Voel jy nie soms asof jy in ’n hok is nie, Colet, asof jy altyd dieselfde dinge oor en oor dink nie?”

Hy is só gesteld op sy hand wat nog bewegingloos op hare lê dat hy nie goed hoor wat sy sê nie. Net die laaste woorde: “… asof jy in ’n hok is … asof jy altyd dieselfde dinge oor en oor dink …” Dit wek meteens iets by hom op; daar is ’n aanduiding dat sy iets probeer uitvind omtrent homself, soos hy is … En met dié gedagte druk hy impulsief, sonder dat hy daaraan dink, aan haar hand. En, net toe hy dit doen, raak hy daarvan bewus, en ’n oomblikkie later, met die gevoel van iemand wat skielik in koue water afduik, dat haar hand vol lewe is en met klein beweginkies reageer op sy aanraking – soos ’n sensitiewe plek ril as daaraan geraak word.

Sy praat nog vinniger. “ ’n Mens moet normaal grootword. Mens moet gebalanseerd wees. Jy weet, die lewe is vol slegte dinge en vol goeie dinge, en elkeen van ons moet kies … elke dag.” Sy voel die aanraking van die seun en ook die bewegings van haar eie hand met ’n eienaardige afsydigheid asof die ledemaat nie aan haar behoort nie. Sy voel hoe haar hand met ’n herhalende teenritme die polsing in syne beantwoord, en die polsing in swewende aanslae deur haar gaan en op haar wange, en in haar bors meevoelend saambeweeg. Haar stem en haar gedagtes is ’n ander entiteit, losstaande van hierdie kwellende en onkeerbare simptome van haar lyf.

Sy kyk direk na Colet en praat wanhopig, asof sy met haar woorde sy stil oë en haar eie bewegings wil besweer.

“As mens so alleen is soos jy, Colet, en heeldag niemand sien van jou eie ouderdom nie – nie deelneem aan normale plesier nie … raak jy verwronge. Jy verloor jou balans, jou besef van reg en verkeerd; jy word in besit geneem deur bose magte …” Dit maak nie saak of hy haar verstaan nie, die stem kom onkeerbaar en word, saam met die maling in haar gedagtes, ook wanhopiger … “Dis nie lekker om net die goeie te doen nie, jy moet jou staal en leer om jouself te beheer en eerlik met jouself te wees …”

En al haar woorde, juffrou-leerling-woorde, ’n ou samevatting van Suzanne en Theuns se wêreld, is besig om skadeloos oor hom te gaan, hier waar die verbode en toelaatbare in sy gedagtes saamvloei soos daardie aand by Mariet in die kamer. Haar stem, slegs ’n verre skemering van die alledaagse wêreld, ’n vae agtergrond – maar, langs hom, in haar hande, daardie polsende aanduiding van die verbode – die heerlike verbode wat so langs die goeie, regte dinge bestaan. Dis asof die hele kamer en alles daarin verdwyn het, en alles in die lewe toegespits is op daardie klein wêreldjie hier langs hom in die donker skaduwees, in die nou voue van die kombers soos die sygangetjies in die Kaap. Hy is so gesteld op die lewe langs hom dat hy meteens bewus word van die geringste dingetjies: van die kombers wat hulle bene skei, van haar elmboog wat teen sy lyf druk. Terwyl hy met groot, leë oë na haar kyk, beweeg hy versigtig en gly geruisloos met minimale, klein beweginkies, wat in sy gedagtes ontsettend groot en alomvattend voorkom, in haar arms in sodat hy die sagtheid van haar bors teen sy wang voel en die vou van haar arm agter sy nek.

“En, Colet,” sê sy, “ek wil met jou praat … en moenie kwaad word nie … oor Maria. Daar was niks verkeerd nie. Maria is weggestuur omdat sy nie dissipline geken het nie, omdat sy nie gebalanseerd was nie. Julle het in die aande saam … in die bed gelê, saam geslaap. Daar is niks verkeerd mee nie, ek bedoel om saam te slaap nie …” Haar stem word driftiger, soos haar bewegings, soos die angs van haar arm wat ongemerk, sonder haar toedoen, hom nader aan haar trek. “Daar is niks verkeerd mee nie. Maar, as mens groter word, word sulke dinge nie meer gedoen nie. Maria het geweet, maar sy ken nie dissipline nie … sy het geen beheer nie. Sy het geweet mens doen nie meer sulke dinge as jy groot is nie, en tog het sy dit gedoen … En sy het ’n verkeerde ding gedoen … sleg! … uit die bose, Colet, verkeerd … verkeerd …!” En haar stem jaag van verontwaardiging terwyl haar vingers krampagtig aan syne klou, en haar ander hand om sy nek, oor sy bors streel en met lang hale hom stywer teen haar druk.

Haar stem kom van vér, maar haar bewegende mond is reg bo hom. Die geheelindruk is weg, só naby aan haar is daar net losstaande dingetjies wat elkeen bydra tot daardie warm gevoel wat deur sy lyf gaan, die gespannenheid in sy lende, die wonderlike oorgawe sonder vrees vir gevolge … dis die plooi in haar nek digby sy oë, die reuk van haar asem as sy oor hom praat, vol, onplaasbaar en wasig teen sy voorkop … die heerlike klammigheid van haar hand in syne … Sy leef nou, soos Mariet, half in sy gedagtes en half in werklikheid.

“Colet! Colet!” hoor hy haar stem, en terselfdertyd voel hy dat sy roerloos geword het. Die besef dat iets verby is, kom saam met die bewuswording van die ongemaklikheid van sy posisie, en die stilte in die kamer. Langs hulle op die vloer lê ’n glas water wat sy met haar arm van die tafeltjie langs die rusbank afgestamp het. Hulle kyk nie na mekaar nie, maar na die vloeistof op die vloer wat met ’n silwer stroom onder die mat invloei en verder aan opduik in ’n klam kol tussen die patrone daarvan. Terwyl hulle opstaan, draai hulle hulle gesigte weg van mekaar en maak ’n grappie oor die onbeholpenheid van hulle bewegings. As Colet hom heeltemal losgewikkel het uit die kombers, maak hy asof hy eenkant toe val, asof sy voete in die voue vasgehaak het.

“Soe, Colet,” sê sy. “Ek het so baie gepraat dat ek nooit die glas gesien het nie.”

“My voet het vasgehaak,” verduidelik hy. “Ek het amper geval.”

Niks het gebeur nie. Die gloed is nog op juffrou Du Toit se wange, maar haar oë is ferm en haar stem onpersoonlik as sy hom beveel om te gaan slaap.

Die lig was skaars dood toe hy alles begin herlewe. Dit is nou anders as die ontliggaamde gedagtes aan Mariet – dis nou ’n fisieke gewaarwording, ’n oorervaring van wat in die eetkamer gebeur het, ’n direkte, sensuele toespitsing op haar liggaam tesame met ’n herhaling van die sensasies in sy eie liggaam – en ’n steeds groeiende gelokaliseerde hartstog, terselfdertyd aangenaam en pynlik en onlesbaar. Ten spyte van die koue word sy hele lyf klam van ’n onnatuurlike hitte en gloei hy soos iemand wat in ’n bad warm water geklim het en die warmte deur al sy ledemate voel trek. Tesame met alles ontdek hy ook, soos hy in die eetkamer in een stadium gevoel het, ’n verandering in ’n gedeelte van sy lyf: ’n nuwe gewaarwording, die geboorte van ’n fantastiese, allesmeesleurende sy van sy fisieke bestaan. Die muur agter sy kop is die muur wat haar kamer van syne skei. Haar bed is teenaan die muur, in werklikheid nege duim van syne af. As hy baie stil lê, kan hy haar miskien in die kamer hoor beweeg. Maar, as hy dit doen, hoor hy net die gekraak van die dak in die donker huis, en slegs nou en dan ’n geskuifel wat enigiets kan wees. Hy stel hom voor hoe sy nou besig is om haar uit te trek, al daardie sagte, vroulike kledingstukke wat hy by Suzanne en Mariet gesien het; die ruising daarvan as hulle van haar liggaam afgly, haar ledemate in die lig (die flikkerende lig), haar lui, loom bewegings in die kamer, die geritsel van sy as haar nagklere oor haar kop val na benede soos ’n waterval, die sagte, smal intieme bed waarin sy gaan lê … Hy dink hoe hy sal opstaan en na haar kamer sal gaan in die donker, hoe sy hom sal ontvang. Sy gedagtes brei al hoe meer uit en gaan oor dinge wat nóóit sal kan gebeur nie. Hoe meer hy dit besef, hoe heerliker word die verlange, deur die onmoontlikheid daarvan duisend maal vergroot tot ’n ondraaglike, onversadigde punt waar hy heeltemal uitgeput en afgemat voel. Een keer het hy dit oorweeg om aan die muur te klop en dadelik ook besef dat dit té gewaag sou wees. Maar hy het onmiddellik daarna aan die moontlike gevolge van sy handeling gedink, en die gevolge só vergesog gemaak dat die handeling self naderhand vergelykenderwys maklik voorgekom het. Hy het toe sy vuiste gebal en drie harde houe teen die muur geslaan. In die rasende stilte wat daarop gevolg het, het hy tevergeefs gelê en luister en toe aan die slaap geraak. Net voordat hy heeltemal weggesink het, het die beklemmende gevoel weer na bo gekom en het hy allerhande ondenkbare strawwe vir homself in die duister opgetower. Dit was ’n egte skuldgevoel, waarteenoor sy verbode gevoel van die verlede klein en nietig voorgekom het. Dít is die bose in die Bybel, dít is die uiteindelike verdoemenis …

Toe sy die geklop teen die muur hoor, het juffrou Du Toit onwillekeurig haar hand opgelig om dit te beantwoord en toe geweifel. Sou hy iets agtergekom het vanaand? Per slot van rekening is daar tog niks mee verkeerd dat die jong seun in haar arms was en haar hand styf vasgehou het nie; en sy het niks verkeerd gedoen nie … nou wel, maar net sy hand gestreel – maar dit is ’n doodgewone ding; hom effentjies teen haar gedruk; ’n heel natuurlike gebaar. En kyk, dink sy by haarself, ek het die hele tyd met hom gepraat oor hoe hy moet leef: oor die goeie dinge en oor die verkeerde dinge. Om terug te klop teen die muur, sou ’n natuurlike gebaar wees … Maar toe sy weer haar hand lig om dit te doen, besef sy dat dit té laat sou wees, dat dit na ’n uitnodiging van haar kant sal lyk tot ’n heel onskuldige speletjie (natuurlik), maar ook heeltemal laf en ongehoord vir ’n onderwyseres. Die gevoel in haarself is maklik verklaarbaar: sy voel natuurlik alleen en afgesonderd op die plaas, en miskien in ’n mate verveeld. Dit sal ’n goeie ding wees as sy meer uitgaan, meer mense sien …

Toe sy die lig doodmaak, en Colet se beeld saam met die duister op haar toesak, veg sy met al haar mag om al haar gedagtes teen te gaan, en gaan heeltemal verlore in die stryd. Dit word so onuithoudbaar dat sy naderhand haar kop in die kussings steek en bid: “O Jesus, help my …” En, vir die res van die nag, met Colet ’n dringende teenwoordigheid op die agtergrond, soek sy een verskoning na die ander en roep na haar Heer soos iemand wat in die donker stap en sy hand verdedigend op ’n gelukbringer hou. En, in haar verdraaide gemoed, wissel die beeld van Christus en Colet mekaar af soos goed en kwaad, soos twee note wat eindeloos herhaal word.

Die volgende dag was juffrou Du Toit baie nors en kortaf teenoor Colet. Sy het gewag vir tekens van intimiteit van sy kant, maar het hom steeds meer teruggetrokke en onpeilbaar as tevore gevind, waardeur sy aantrekkingskrag juis toegeneem het, sodat sy besluit het om voortaan alle effek wat sy moontlik op hom en hy op haar gehad het, uit te wis deur met hom te praat, sodra daar geleentheid is, oor die goeie en verkeerde dinge in die lewe.

Maar Suzanne het haar voorgespring. Soos alle verbeeldinglose mense was Suzanne se lewe beperk tot algemene ervarings. Die godsdienstige agtergrond in haar ouerhuis, tesame met die sedereëls wat vroeg al by haar ingeprent was en wortelgeskiet het soos plante in vrugbare grond, het haar aanvaarding van die lewe ’n outomatiese ervaring gemaak soos wakker word en slaap, werk en rus. Al die verkeerde en goeie dinge wat sy haar hele lewe gedoen het, het buite die sfeer van beginsels geval. Alhoewel sy al op baie jeugdige leeftyd sekere ervarings gehad het, het sy met die jare dit voordelig vergeet en nooit bewustelik enige gevolge daarvan oorgehou nie. Of sy goeie of verkeerde dinge gedoen het, het bloot afgehang van omstandighede. Selfs die feit dat sy en Theuns een aand voor hulle troue gemeenskap gehad het, na ’n dans, is só uit haar bewussyn uitgevee dat iemand wat dit ooit sou noem, heftige ontkennings van haar kant sou uitlok, sonder dat sy vir een oomblik sou voel dat sy vals is. Kort nadat sy en Theuns na die dansparty was, dié aand toe Colet en juffrou Du Toit alleen by die huis moes bly, het sy een middag vir Colet sien stap. Sy het met ’n gevoel van verbasing agtergekom, toe sy sy lang, maer figuur sien, dat hy al groot begin word en vaagweg besef dat van haar, as moeder, darem iets verwag word. Sy het haar daarmee getroos dat sy daardie verderflike affêre met Maria in die kiem gesmoor het.

Hy was natuurlik te jonk om van sulke goed te weet, maar as sy dit nie agtergekom het nie, kon dit nog baie slegte gevolge gehad het. As sy aan Maria dink, voel sy heeltemal woedend. Dat so ’n meisie, van so ’n stand, dit kon waag om met haar seun so intiem te verkeer! Natuurlik sou sy dit nie waag om iets verkeerds met hom te doen nie, maar dink net aan al die slegte gewoontes wat sy hom kon aangeleer het!

Toe sy Colet een middag alleen in haar kamer aantref, besluit sy om met hom te praat oor die lewe.

Colet het dadelik die spanning agtergekom en, oudergewoonte, sy natuurlike gevoel afgedraai en sy kenmerkende afsydige houding ingeneem.

“Colet,” sê sy, “sit daar.”

Hy gaan op die stoel sit.

“Kyk, Colet, ek wil met jou praat.”

’n Oomblik van stilte terwyl sy soek na woorde en put uit eie lesse in die vérre verlede.

“Colet, jy weet mos ons het vir Maria weggestuur. Weet jy hoekom?”

“Nee.”

Sy is pateties in haar erns. ’n Mooi vrou van veertig jaar, skaars ouer in haar geestelike samestelling as die kind voor haar, maar in haar deftige houding álwys en met ’n waardigheid wat haar gebrek aan diepte verdoesel.

“Maria is weggestuur, Colet, omdat sy sonde doen. ’n Vrou en ’n man se liggame is die tempel van God. Mens moet skoon en rein wees. As jy die liggaam bevlek, doen jy sonde teenoor jou Here en sal Hy jou straf.”

Haar hele houding weerspieël die toorn van God. Sy is die beliggaming van alle gesag.

“Mens sondig nie alleen deur lelike en vuil dinge te doen nie, maar mens sondig ook in jou gedagtes. As jy lelike, vieslike gedagtes het, sal die Here jou straf net asof jy al daardie dinge gedoen het.”

Ten spyte van sy neutrale houding, sink die woorde diep by Colet in. Alhoewel hy hom altyd doof hou vir Suzanne se teregwysings, kan hy nooit haar woorde heeltemal vergeet nie. Selfs in die verlede, toe sy met hom geraas het oor Sara se stappies na die see. Dit hoef geen rede of betekenis te hê nie, maar solank dit van haar kom, word dit deel van al daardie kettings wat kruis en dwars in hom knoop.

“Daar is dinge soos …” Sy wag ’n rukkie, en verstyf tot Olimpiese hoogtes. “… Soos … selfbevlekking.”

Sy wag om die effek te sien, en merk met genoeë die skielike spanning in hom op. Alhoewel hy nie die woord verstaan nie, is die samestelling van simbole en die toon waarin dit gesê is, genoeg om dit te plaas as ’n samevatting van al daardie dinge wat hy so pas begin agterkom het.

“Deur sulke dinge soos selfbevlekking, vuil gedagtes, vieslike speletjies met meisietjies, beklad jy die tempel van God en sal jy gestraf word tot in lengte van dae.”

Die reaksie by die kind, sy vertrekte gesig en die skame ontvlugting van sy oë, verseker haar dat sy in haar doel geslaag het. Sy voel dis onnodig om meer te sê, en sy soek nou na iets om die gesprek op ’n hoogtepunt te eindig. Dan val haar oog op die Bybel langs die bed.

“Gee ’n bietjie die Bybel aan, Colet,” sê sy.

Sy lees: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken … So dra elke goeie boom goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi …” Terwyl sy lees, kyk sy tersluiks na Colet. “En dan sal Ek aan julle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! …”

Toe Colet stadig die kamer uitgaan, voel sy diep verlig, soos iemand wat ’n onaangename plig vervul het. Sy voel lus om hom in haar arms te neem en te soen, maar voel dat dit die uitwerking van haar woorde sal bederf. Dan dink sy meteens weer aan Maria en voel hoe die woede só van haar besit neem dat sy amper kan stik daarvan.

Juffrou Du Toit het haar praatjie met hom uitgestel vir ’n geskikte geleentheid – totdat hulle weer alleen kon wees. Maar toe die geleentheid nie spoedig daarna aangebreek het nie, het sy daarvan afgesien. Haar houding teenoor hom het vir ’n lang tyd baie gekunsteld gebly, totdat die gevaartydperk verbygegaan het, en toe het sy geleidelik haar vroeëre verhouding hervat en met vrugtelose, onbeholpe poginkies probeer om agter sy stuursheid te kom en sy vriendskap en vertroue te wen.

Colet se obsessies het allerhande subtiele variasies aangeneem en in die nagte het sy sensuele drome, en nuwe besef van goed en kwaad, in ’n aanhoudende tweestryd langs mekaar bestaan en is alleen deur die jonkheid van sy gees en sy steeds afnemende vermoë om die twee wêrelde geskei te hou, verhinder om tot ’n punt te kom.

Die eerste siklus

Подняться наверх