Читать книгу Die eerste siklus - Etienne Leroux - Страница 7
HOOFSTUK IV
ОглавлениеDaardie winter het dit baie gereën, daardie tipiese winterreëns wat gedurig dreig vanuit ’n seegrys hemel en dan meteens hard val, om weer net so skielik af te breek en oor te gaan in ’n trae gedrup. Op die hoogste punte van die pieke het al vroeg reeds wit vlekke uitgeslaan. Naderhand het dit heeltemal oortrek geraak met sneeu. Vroeg elke middag is in al die huise vure aangesteek wat aan die gang gehou is tot laat in die aand. Al die ou donskomberse en harige wolkomberse is uit die mottegif te voorskyn gehaal en in dik lae oor die beddens gegooi. Colet se spesiale kombers (die een wat hy ook in die Kaap gebruik het) het ook sy verskyning gemaak: ’n outydse rooi ouma-kombers met allerhande fantastiese patrone. Toe hy dit op sy bed sien, het hy ’n skok van heimwee gekry. Hy het alreeds vergeet van die bestaan daarvan. Die eerste paar aande het hy al die patrone daarop met sy vinger gevolg en elke kolletjie nagekyk om die oorsaak daarvan in sy herinnering te probeer terugroep. Dit was dieselfde kombers wat hy in sy kinderkamer in Tamboerskloof gehad het; dieselfde kombers waarop Mariet daardie aand gesit het toe sy by hulle kom kuier het. Sekere vaal merke aan die kant daarvan was waarskynlik die vlekke wat die gevolg was van sy gewoonte destyds om aan die sy-omboorsel te lê en suig. Hy het ook spoedig die ou gewoonte weer aangeleer in sy poging om die atmosfeer van daardie dae te herroep. Soms, as die kombers mooi glad gestryk oor sy bed lê, het hy die presiese plek probeer vasstel waarop sy moes gesit het. Selfs die donskombers waaronder hy en juffrou Du Toit gesit het, het ook ’n besondere betekenis gekry. Hy het sy bed altyd weer oor opgemaak as hy in die aand gaan slaap, en die twee komberse naaste aan sy lyf geplaas, met die laken bo-op. Dan was dit vir hom asof hy die twee meisies altyd saam met hom bed toe neem.
Daar was geen herhaling van die intimiteit tussen hom en juffrou Du Toit nie. Die wintervakansie, wat sy by haar eie mense deurgebring het, het die gebeurtenis so ver laat lyk soos daardie dae in die Kaap. Sy het ook ’n gewoonte aangekweek om allerhande sedelessies aan hom voor te skryf. Nou en dan het ’n geringe beweging en ’n onderlangse houding aan haar kant weer iets verraai, maar meestal het sy die skoolverhouding laat voortbestaan ná skoolure. Hy het naderhand ’n behae daarin geskep om onsierlikhede in haar op te merk, soos ’n té bleek, blas gesig baie vroeg in die oggend, ’n vae aanstootlikheid gedurende sekere tye van die maand, rooi aartjies in haar oë as sy te veel gelees het, die waterigheid van haar neus en die gevlekte, klam sakdoek as sy verkoue is. Sekere aande weer, as die steeds herhaalde sensuele gedagtes hom beetpak, het selfs hierdie dinge ’n eie aantreklikheid gekry. Maar die tweestryd het, vanaf die ontdekking van onbekende magte in hom, al hoe hewiger geword. Hy kon nie wegkom van die gevoel dat hy verdoem is nie. As hy hom vir ’n lang tyd onthou het van die gedagtes waarteen Suzanne hom gewaarsku het, het hy daarna, ten spyte van ’n eed om nooit weer aan so iets te dink nie, tot ’n oormaat van seksuele gedagtebelewenisse oorgegaan en dan, gepaard daarmee, sy besef dat hy besig is om verlore te gaan vergroot. Dit was nie dat hy onverskillig gestaan het teenoor die verdoemenis wat op hom wag nie, maar die afwykings in die verkeerde drome was so deel van daardie eielewe, daardie romantiese, misterieuse, verbode lewe, dat hy gevoel het dat hy met iets kleurloos besig was as hy sy gedagtes beperk het tot dinge wat reg en goed en skoon was. Dit was dan asof hy gestrem voel in sy ervaring van dinge, asof hy ’n wonderlike, eksotiese lewe in hom doodmaak, asof hy deel word van ’n vaal, vervelige landskap. Maar dit was ’n verbode besef in hom dat daar iets heerliks en onvervangbaars steek in daardie verkeerde dinge; dat daar iets oneindigs vry en gewaag is, soos by die see in die Kaap, in daardie afwykings; dat die gevoel van aandoening wat hy gekry het toe hy na die mis op die berge gekyk het en gelet het op die verdraaide skoorstene met hulle ongewone patrone op die huise, iets gemeenskapliks het met hierdie verkwikkende en tog verterende ervarings. En hy het selfs soms ’n gevoel gekry dat Christus, as Alwetende Mag, as Iemand wat die mens verstaan en oral is, buite jou en binne jou, dit nie heeltemal afkeur nie. Maar, as hy dan die Bybel opneem en in koue letters al die verbode dinge sien en die strawwe wat daarop volg, verdwyn daardie opvatting omtrent Christus en word hy vervul met ’n vrees vir die Ewige Veroordeling weens sy ontrouheid en gebrek aan dissipline.
Die twee lewens van goed en kwaad, wat hy in die verlede in ’n mate met mekaar kon versoen het weens die redeloosheid van alle dinge, het nou al hoe meer geskei geraak van mekaar. Hy het nog steeds al twee bely – maar as lewens wat volkome, onherroeplik apart is. Soms het hy die Bybel gereeld gelees en ’n lys gemaak van al die verkeerde dinge en dit dan oor en oor opgesê soos ’n resitasie. Dan het hy hom weer oorgegee aan die ander lewe as hy té droog en leeg voel, en onmiddellik daarna weer vergiffenis afgesmeek en ou voornemens herhaal.
Suzanne-hulle het net die goeie, regte dinge raakgesien: die Bybellees en die poging tot opregtheid. Hulle het teenoor hulle vriende daarmee gespog en hom, in volle vertroue, meer vryheid gegee as in die verlede. Vir juffrou Du Toit was dit ’n aangename verrassing, maar in haar hart het sy tog effens teleurgesteld gevoel. Dis asof hy verder as ooit van haar verwyderd is: asof die nuwe wending ondeurdringbaarder en afsydiger is as sy vroeëre botheid, asof hy gebruik maak selfs van magte binne haar, haar eie gewete, om hom van haar te skei. Sy het haarself intussen oortuig dat haar belangstelling in hom bloot as opvoeder teenoor kind is, en juis daardeur hom verder weggestoot en tegelykertyd haar verlange groter gemaak.
Die winter het gou verbygegaan en die lente het besonder vroeg gekom. Allerhande somervermaaklikhede, soos pieknieks en swem in die rivier, het weer begin. Die koue wat Theuns en Suzanne by die huis gehou het, het verdwyn en hulle het al hoe meer begin uitgaan soos in die verlede. Die hitte het ook ’n merkbare oorhelling na die verbode sy van Colet se lewe gebring. Daar was iets sinliks in die hitte, wat nie alleen sy hartstogte geprikkel het nie, maar ook sy vermoë om weerstand daarteen te bied, aangetas het.
Hy het ook vir die eerste keer begin belang stel in Agnes van Heerden. Agnes was omtrent twee jaar ouer as hy. Sy was besonder slim en kon met die grootste gemak ’n hele reeks dooie gegewens in verband met plekname en opbrengste gedurende die aardrykskundeles aframmel. Sy kon met ’n opgehewe hoof en ’n paar potloodstrepe omtrent enige rekenkundeprobleem oplos. Haar handskrif was so egalig en vierkantig dat dit soms na drukskrif gelyk het wat met fyn draadjies aanmekaar geheg is tot gewone skrif. Haar netheid en varsheid is weerspieël in haar kleredrag: die blou springjurk hoog opgetrek, effens met ’n punt na agter, wat haar wit, sterk bene in al hulle frisheid en jonkheid ten toon stel; die gordel netjies geknoop om haar middel; die spierwit bloese pofferig en lugtig om haar vroegontwikkelde bolyf; die vierkantige, praktiese hande en die skoon, lewendige gesig waaraan langwerpige oë en ’n breë mond ’n gesonde, aardse aansien gee. Sy en Colet het nooit veel gesels nie, omdat hulle baie min met mekaar gemeen gehad het. Hulle het soms aan gesamentlike speletjies met die ander deelgeneem, sonder dat hulle juis van mekaar as indiwidue bewus was. In die vroegsomer, nadat juffrou Du Toit van haar vakansie af teruggekom het, het hy en Agnes weer aan so ’n speletjie deelgeneem, in die loop waarvan Colet per ongeluk teen haar vasgeloop het. Hy was aangenaam verras deur die sagtheid van haar lyf en die sensasie wat dit by hom opgewek het. Daarna het hy met meer belangstelling na haar gekyk, ’n houding wat net so spontaan van haar kant gekom het, en wat tot gevolg gehad het dat hulle daarna effens lugtig vir mekaar was, en kort-kort moes wegkyk as hulle mekaar betrap het dat hulle onderlangs na mekaar loer.
Een middag na skool het haar ouers by Colet se ouers kom kuier. Toe Agnes en Colet saam met die grootmense in die sitkamer sit, merk Suzanne hulle meteens op terwyl sy besig is om ’n riskante storie te vertel. Sy staak toe onmiddellik die gesprek en sê vir Colet: “Hoekom gaan speel jy en Agnes nie? Hoe lyk dit, het julle nie lus om in die rivier te swem nie?”
Nadat een van Suzanne se ou baaikostuums wat te klein vir haar was, aan Agnes geleen is, is die twee daar weg. Die seekoeigat tussen die riete was vol stil en roerlose water. Vinkneste het laag oor die oppervlakte in die geringe wind gewieg. Die rustige atmosfeer van die plek het die twee laat voel dat hulle heeltemal afgesonderd van die res van die wêreld was. Hulle het eers tot aan die kant van die water gestap en daaraan gevoel.
“Dis lekker koel,” sê Agnes. “Dit sal lekker wees.”
Hulle is nog effens skrikkerig vir mekaar en stel ’n oordrewe belang in allerhande uiterlike dingetjies.
“Dit sal die eerste keer wees dat ek ná die winter swem,” sê Colet. “Ek het Januarie laas geswem.”
“Ek nie,” sê sy. “Ek het een keer hierdie winter geswem.”
“Was dit nie koud nie?”
“Ja, dit was … maar ek het nie omgegee nie.”
Dan kyk hulle skamerig na mekaar.
“Kyk,” sê sy, “ek sal agter die riete aantrek, dan kan jy agter die populierbome gaan.”
Colet was eerste uitgetrek en het sommer dadelik in die water gespring. Hy was ’n bietjie skaam vir sy maer bene en sy wit lyf. ’n Rukkie later het Agnes verskyn. Die baaikostuum was effens te groot vir haar en sy het die gordel van haar springjurk vir veiligheid om haar lyf gebind. Sy het ’n bietjie onbeholpe en vet gelyk in die kostuum, maar vir Colet was dit ’n prikkelende gesig. Sy het met haar hande voor haar bors tot teen die water gekom, eers haar voet ingesteek, skielik haar hande bo haar kop opgehef sodat hy die haartjies onder haar arms kon sien, en toe met ’n skewe valbeweging in die water geduik. Nadat sy ’n rukkie met energieke hale rondgeswem het, het sy tot naby Colet gedryf en halflyf in die water by hom gaan staan.
“Kom,” sê sy. “Hoekom swem jy nie? Kan jy nie swem nie?”
“Ek kan,” sê hy.
“Nou toe,” sê sy, “kom ons jaag resies na die ander wal toe.”
Toe hulle met plassende hale en skoppende voete deur die water worstel, raak Colet spoedig agter en verloor heeltemal sy rigting sodat hy teen haar voete vasswem en die resies onderbreek moet word.
Sy hou meteens op met swem en vee die water uit haar oë uit terwyl sy haar hare agter haar ore druk. Druppeltjies water het haar ooghare in klossies aan mekaar gekoek sodat haar oë meer as ooit amandelvormig lyk.
“Jy het teen my vasgeswem,” sê sy.
“Ek is jammer,” sê hy. “Ek kon jou nie sien nie. My kop was onder die water.”
“Maar mens kan mos onder die water sien.” Sy kyk skielik by hom verby. “Het jy nog nooit daardie speletjie gespeel nie? Mens staan wydsbeen in die water, dan duik die een onder die water in en swem tussen die ander een se bene deur.”
Sy hart klop vinniger.
“Ons kan dit gerus probeer,” sê hy. Hy wag so ’n oomblikkie, dan sê hy: “Kyk, staan jy wydsbeen, dan duik ek onder jou deur.”
Toe hy sy oë onder die water oopmaak, sien hy die bewegende buitelyne en skuur dan taamlik hoog deur terwyl sy hande om haar knieknoppe gryp om hom die nodige beurkrag te gee. Toe hy die oppervlakte bereik, lag al twee hardop.
“Ek kon alles sien,” sê hy. “Ek bedoel, die water is heeltemal helder.”
“Ons het dit altyd gespeel,” sê sy. “Die seuns en die meisies. Daar is ook nog baie ander speletjies. Dis groot sports.”
“Ek sal nou weer staan,” sê hy. “Dan duik jy.”
“O, nee! Sien, ’n meisie duik nie. Dis altyd die seun.”
Sy vat aan sy arm.
“Duik jy nou weer, en kyk hoe lank jy onder die water kan bly. Ek sal tel.”
Hy duik weer, en toe hy by haar kom, draal hy ’n oomblik langer en hou aan haar bobeen vas; dan wag hy tot hy omtrent nie meer sy asem kan ophou nie, en staan skielik op sodat sy op sy nek sit. Toe hy halfpad bo is, gly sy voete onder hom uit en val hulle al twee onderstebo. Toe hulle weer saam bo kom, hou hulle mekaar nog vas. Hulle gesigte is naby mekaar en hulle lywe kabbel in die bewegende water telkemale teen mekaar aan. Met ’n gespook het hulle intussen naby die kant gekom. Meteens buk sy af en gryp ’n handvol modder en smeer dit deur sy hare. Hy buk ook onmiddellik af totdat hy ’n handvol sagte modder het wat met ’n slopperige geluid deur sy vingers pers. Vir ’n oomblik staan hy besluiteloos daarmee terwyl sy op hom wag. Hy het verwag dat sy sou wegkoes, maar sy staan doodstil, met ’n eienaardige glimlag op haar gesig. Skielik tree hy vorentoe en smeer die modder om haar nek en dan, asof sy hand afgegly het, voor by haar baaikostuum in. Toe spartel sy, en met die sparteling hou sy sy hand vas sodat dit in dieselfde posisie gevange bly. Hulle swaai heen en weer totdat hulle voete padgee en hulle weer in ’n deurmekaar hoop onder die water verdwyn.
Die son het intussen al hoe warmer geword. Die geringe windjie het gaan lê en ’n broeiende hitte vervul die holte in die rivier met daardie lomerige, slaperige atmosfeer. Die twee, na ’n tydjie van herhaling en afwisseling van speletjies, raak spoedig bewus daarvan en gaan dan na die kant sonder om ’n woord vir mekaar te sê. Hulle staan eers besluiteloos op die wal rond en dan stap Colet na die skaduwee van ’n oorhangende wilgerboom en gaan net bokant die modder op die droë grond lê. Langs mekaar, terwyl hulle die blare van die buigbare takke afstroop en kroontjies vir mekaar vleg, vind hulle dat hulle maklik en lekker kan gesels oor allerhande alledaagse dingetjies: die skool, juffrou Du Toit (wat vir Colet in Agnes se teenwoordigheid heeltemal ’n vreemde persoon is) en oor watter lekker dag dit is en hoe heerlik die rivier en die swemmery en alles is. ’n Rukkie daarna het sy haar klere aangetrek en het hulle nét betyds vir middagete by die huis gekom.
Agnes se ouers het besluit om die aand vir ete oor te bly. Ná ete, terwyl die grootmense in die sitkamer sit en gesels, stuur Suzanne vir Colet en Agnes na die kinderkamer met ’n hele spul boeke en ’n kers. Hulle het voor die bed op die vloer gaan sit en in die lig van die flikkerende vlam daarin geblaai. Colet, wat al heelwat gelees het en wie se smaak vroeg gevorder het tot ’n heel ryper leesstof, het ’n ongewone behae daarin geskep om saam met Agnes na die prente en advertensies te kyk. Terwyl hulle dig teen mekaar sit, hoor hy maar halfpad wat sy sê en is hy meer bewus van haar lyf teen syne as sy vooroor buk. Hy word heeltemal mislei deur haar stem en die aandag wat sy aan die boek gee en let sodoende nie op hoe deeglik bewus sy van hóm is nie.
Toe Colet eenkeer vorentoe leun om om te blaai, raak hy met sy arm aan die kers en keer dit om sodat die kamer skielik donker word, en hulle die maan en die sterre deur die oop venster kan sien. Terwyl hy rondvroetel na die blaker om die vuurhoutjies in die hande te kry, hoor hy haar sê:
“Colet, het jy al ooit sterre getel?”
“Hoe …?”
“Ken jy nie die speletjie nie? ’n Meisie en ’n seun kyk na die sterre, dan vra hy haar hoeveel sterre daar is, en elke keer as sy ’n ster sien … soen hy haar.”
Colet weet wat van hom verwag word en hy probeer iets sê, maar ’n dik gevoel in sy keel en ’n gejaagdheid in sy asemhaling maak dit vir hom onmoontlik. Intussen het hy opgehou om na die vuurhoutjies te soek.
“Ek tel … een,” sê Agnes.
Toe hy oorbuk in haar rigting, voel hy hoe hulle koppe teen mekaar stamp, en dan bring hy sy mond vorentoe en soen haar met ferm lippe. Dit laat hom dink aan die aanraking van die water in die rivier die middag. Dis so koel en sag …
Hy hoor sy stem asof dit iemand anders is wat praat.
“Kan jy nog sien … tel?” vra hy.
“Twee …” sê sy.
Hierdie keer gaan dit makliker en druk hy sy mond so styf teen hare dat sy tande die binnekant van sy lippe seermaak. Sy hart bons so geweldig dat hy seker is dat sy dit kan hoor. Hy voel heeltemal lighoofdig. Vir die eerste keer ervaar hy iets gewaags en nuuts sonder dat hy voel dat hy verkeerd doen. Nie soos die aand met juffrou Du Toit nie, maar asof hy ’n nuwe speletjie agtergekom het, of ’n nuwe boek gekry het, of op iets heeltemal onverwags afgekom het. Op die oomblik is dit meer die plesier van eerste ontdekking wat hom besig hou.
Eenkeer het hy so hard teen haar gedruk dat sy agteroor geval het, en hy kon in die donker voel dat sy bly lê.
“Van waar ek lê, kan ek ál die sterre sien,” sê sy. “Daar is drie, vier, vyf, ses …”
Toe hy in die donker na haar tas, sê sy meteens: “Het jy al lepel gelê?”
Sonder om te wag, wys sy vir hom. Sy lê op haar sy en trek haar bene teen haar maag op. Dan lê hy langs haar met sy bene, agter hare, in dieselfde posisie. Op dié manier is al hulle ledemate teen mekaar, dat dit is asof hulle aan een liggaam behoort.
“Kan jy my hart hoor klop?” vra sy en bring sy hand tot op haar hart.
Naas die sagtheid van haar bors raak hy bewus van die hortende ritme van haar hart. Hulle lê vir ’n rukkie so. Die vae modderreuk is nog in haar hare saam met die gesonde liggaamsreuk. Dis asof haar jonkheid en varsheid alle ander dinge verdryf, en hy daarin op ’n eienaardige wyse iets soortgelyks in homself vind. Daar is iets van homself in haar, en, in homself ook iets van haar: iets, hier in haar, wat hy nog nooit tevore gevind het nie. Hy kan die gevoel nie tuisbring nie – hierdie gevoel van selfontdekking, suiwerheid en varsheid, sonder ’n vrees vir gevolge en selfveroordeling …
Dan hoor hy haar weer praat: “Rol nou om,” sê sy, “dan rol ek saam.”
Hy gooi sy lyf oor haar en anderkant af sodat sy weer bo-op hom kom en dan weer onder en dan weer bo is. So rol hulle saam met mekaar die hele lengte van die vloer tot teenaan die bed. Hulle lê vir ’n oomblik polsend stil in ’n man-en-vrou-posisie, en hoor dan meteens die geklop en geskuifel van voetstappe in die sitkamer. Sonder ’n woord spring hulle op en soek na die kers. Sy kry dit eerste en steek dit gou aan. Haar hande trek haastig deur haar hare. Op die vloer is Colet alreeds besig om met bewende hande deur die boek te blaai toe die deur oopgaan en Suzanne en Agnes se mammie daarin verskyn en sê: “Toe, julle twee! Genoeg gespeel! Agnes se mammie wil nou gaan. Kom dat jy die mense kan groet, Colet. Dis al lankal tyd dat jy moet gaan slaap.”
Toe juffrou Du Toit die twee kinders na die rivier sien stap het met hulle baaiklere oor hulle skouers, het sy baie lus gevoel om saam te gaan. Sy het haarself daarvan oortuig dat sy dit wou doen uit blote belangstelling, die plesier van hulle jong geselskap, en die belofte aan heerlike koel waters ná die hitte van die middag. Maar Suzanne het haar so klaarblyklik in die geselskap ingesluit dat sy dit nie kon doen sonder dat dit effens vreemd en onbeskof sou voorkom nie. Terwyl sy in die sitkamer gesit het, en die vertrek al hoe bedompiger geword het van die sigaretrook, het sy gedurig haar oë gerig gehou op die paadjie na die rivier wat ál met die populierlaning langs afslinger en dan eensklaps verdwyn agter ’n digte bos. Soms het sy aan die gesprek deelgeneem, en dan skielik alle belang verloor, en weer gekyk na die draai by die bos en telkens met ’n skokkende pyn in haar binneste die leë pad gesien. “Waarom bly hulle so lank weg?” vra sy haar telkens af. “Hulle kon al lankal klaar geswem het. Hulle lê natuurlik nou onder die bome in die skaduwee, alleen waar niemand hulle kan sien nie.” En sy tower allerhande tonele op daar waar hulle alleen en afgesonderd is. Die gevoel het soms só erg geword dat sy nie kon asem kry nie, en het só duidelik geblyk uit haar houding dat Theuns van Velden eenkeer gevra het of sy nie iets makeer nie, waarop sy iets gemompel het van moegheid en afgematheid. Toe sy later in die middag die twee figure skielik om die bos sien kom, was dit met verligting en terselfdertyd irritasie.
Toe hulle die sitkamer inkom, het sy, van waar sy half in die donker sit, met gespitste aandag gelet op sy voorkoms. Sy het die ongewone blos op sy wange en sy nuwe opgewektheid toegeskryf aan die oefening en die son, maar kon en wou haarself nie heeltemal oortuig nie. Sy het nie probeer om haar houding te ontleed soos sy gewoonlik doen nie, want dit was te dringend. Die selfontleding en selfveragting sou later kom. Intussen was sy net besig om met haar waarnemings elke nuanse in die verhouding van die twee teenoor mekaar op te let. Selfs aan tafel het sy onderlangs op Colet gelet as Agnes iets sê. As hy dan na Agnes kyk, probeer sy haarself oortuig dat dit ’n natuurlike gebaar is om na iemand te kyk wat praat; maar dit was vir haar of hy sy blik te lank op haar gerig hou, selfs nadat sy klaar gepraat het.
Toe Suzanne ná ete die twee na Colet se kamer stuur, was dit vir haar of iemand ’n skerp instrument deur haar bors steek. Die gevoel was so dringend dat dit oorgegaan het in ’n werklike fisieke pyn. Sy het kort daarna verskonings gemaak aan die res van die geselskap en na haar kamer gegaan. Sy het nie die lig aangesteek nie, maar weer by die venster gaan staan, van waar sy die flou lig by die buitedeur van Colet se kamer kon sien. Toe het sy haarself begin verwyt en haarself so bespotlik moontlik voorgestel om van die gevoel ontslae te raak. “Ek is kinderagtig, sleg-sleg-sleg,” het sy oor en oor gesê. “Verbeel jou, ’n grootmens wat so te kere gaan. Soos ’n meisietjie van sestien. Wat sal ander mense daarvan sê as hulle so iets moet hoor? Dis sonde. Dis verderflik. Dis pervers …” Maar die woorde kon die aandoening in haar nie uitwis nie. Toe probeer sy ’n ander metode. Kyk, dis ’n soort moederlike gevoel wat sy teenoor Colet het. In haar pogings om hom reg te lei, en ’n goeie besef van waardes in die lewe te gee, het hy ’n seun, ’n kind van haar geword. En ’n moeder is jaloers op haar kind. Was Suzanne nie jaloers nie? Sy het behoorlik vuur gespoeg toe sy gehoor het van Maria …
Haar oë was vir ’n oomblik van die deur af toe die lig in Colet se kamer doodgegaan het. Sy het eers gedink dat hulle terug na die eetkamer gegaan het, maar daar was geen onderbreking in die eentonige gedreun van stemme wat dof van die binnehuis af gekom het nie. Sy kom meteens tot ’n besluit en gaan op haar tone by die kamerdeur uit, ál met die gang af tot op die stoep, van waar sy baie saggies, sodat die balke nie kraak nie, tot digby Colet se kamer beweeg. Binnekant kan sy die stemme van die kinders in die duister hoor: onverstaanbare sinnetjies, oomblikke van stilte tussenin, en dan die geskuifel op die vloer. Dit was asof sy lamgeslaan was. Sy het so uitgeput gevoel dat sy teen die deur moes leun. Toe oorweldig ’n koue, verblindende woede haar. Sy was op die punt om die kamer in te gaan toe die kers skielik weer aangesteek word en die deur oopgaan. Sy het ’n vlugtige indruk gekry van Agnes wat haar hare probeer regstoot en die buitelyne van Colet se gesig oor die vlam. Toe verskyn Suzanne in die kamer, en in die gesprek wat daarop volg, kruip sy terug na haar kamer, half bevrees om alleen te wees met haarself en die begin van ’n uitbarsting in haarself wat dreig om tot ’n keerpunt te kom.
Toe Colet in die bed lê, en die lig al dood en al die mense weg was, het hy met ’n aangename gevoel van verwagting hom toegespits op sy gedagtes. As hy aan Agnes dink, dan is alles omtrent haar rein en skoon. Selfs toe hy die Bybel gelees het, voordat hy gaan slaap het, was die boodskap wat hy gekry het, een van liefde en troos. Juis op die plek waar hy dit oopgeslaan het, het hy van liefde gelees. Dit was asof eensklaps al daardie verbode dinge, selfs daardie aangename eielewe waarvan die ander nie weet nie, iets van die verlede is en geen betekenis meer het nie. Dis ’n sy van die lewe, Suzanne-hulle se lewe, hierdie – met ’n nuwe spannende, tintelende eienskap. Hy voel heeltemal onselfsugtig en skoon. Hy voel dat hy selfs vir Suzanne daarvan kan vertel en dat sy alles sal verstaan en trots op hom sal wees. Agnes is ’n onaantasbare figuur in sy gedagtes: edel, verheerlik, met die suiwerheid en goedheid van Christus. Daar is niks verkeerd met hulle fisieke aanrakings nie, alhoewel dit hulle twee se geheim is. Alhoewel dit ’n aangename herinnering op die agtergrond van sy verbeelding is, is dit eerder die verhouding tussen hulle wat tel. Hulle kan eendag trou as hy klaar geleer het, as hy terugkom van die universiteit af. Intussen kan hulle verhouding staande bly. Hoe bly sal Suzanne en Theuns-hulle nie wees nie! Hierdie gedagtes laat hom heerlik en fris voel. Daar is vrede in sy hart. Hy besluit om vaarwel te sê aan daardie verbode sy van sy lewe; en net goed en opreg te wees – om haar waardig te wees …
Hy was op die punt om aan die slaap te raak, toe die deur oopgaan en iemand by sy bed kom staan. Hy voel hoe ’n hand aan hom raak.
“Dis ek, Colet,” hoor hy juffrou Du Toit sê. “Ek wil met jou praat.”
Haar stem klink vér en vreemd en so gespanne soos iemand wat op die punt is om te skree en met moeite selfbeheersing toepas.
“Colet,” sê sy, “ek weet wat vanaand in die kamer aangegaan het.” ’n Oomblik stilte, dan bars sy los met ’n hees uitroep waarin veragting en veroordeling die woorde amper onherkenbaar maak.
“Skaam jy jou nie! Wat sal Suzanne, jou mammie, daarvan sê as ek haar vertel!”
Hy is so oorweldig deur die uitbarsting dat hy niks kan sê nie.
“Ek het jou nog altyd probeer beskerm, weet jy,” gaan sy voort, “daardie affêre toe jy en Maria so verkeerd gedoen het. Ek was die een wat jou kant van die saak gestel het en gesê het dat jy nie weet wat aangaan nie. Maar wat doen jy nou? Jy en Agnes?”
Selfs in die donker is dit asof hy die verontwaardiging en die verskriklike veroordeling op haar gesig kan sien.
“Regtig, Colet, ek weet nie wat om te sê nie.”
Hy hoor hoe sy op die bed langsaan gaan sit.
“Kyk, ek was by die deur en kon alles hoor en sien wat julle doen.” Selfs in sy vrees wonder hy hoe sy kon gesien het, wát sy kon gesien het. Miskien daardie laaste oomblik toe hulle gerol het.
Dis asof sy sy gedagtes kan lees.
“Julle twee daar op die vloer. Soos twee diere. Ek sou dit nie geglo het van jou as ek dit nie self gesien het nie. En wat seker nie alles by die rivier gebeur het nie …”
“Daar het niks gebeur nie …” probeer hy met ’n fyn stemmetjie. Die gevoel van onlangs het heeltemal verdwyn. Hy voel monsteragtig en skuldig.
“Ek weet nie of ek vir Suzanne-hulle moet vertel nie,” herhaal sy. “Ek voel magteloos. Ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek voel hulpeloos …”
Hy kan die aandoening in haar stem hoor, en ’n oomblik later onbeheerste snikke.
“Juffrou,” sê hy, “daar was niks verkeerd nie. Ek sweer daar was niks verkeerd nie …”
“En dan vertel jy nog ’n leuen,” sê sy met ’n dik stem. “Ek het nie verwag dat jy nog boonop vir my sou lieg nie.”
Sy begin weer praat. Haar stem slaan soos ’n sweep teen hom aan. Asof dit nooit wil ophou nie, totdat hy nie meer kan hou nie en self begin huil.
Sy laat hom ’n rukkie uithuil, dan sê sy met volkome selfbeheersing: “Kyk, Colet, ek mag dit nie doen nie, maar ek sal jou nog ’n kans gee. Ek sal vir niemand vertel nie, maar dan moet jy my in jou vertroue neem. Sien, ek verstaan jou beter as wat jy self besef. Daar is verkeerde dinge in jou. Slegte dinge, wat ons twee saam moet verwyder.” Sy raak meteens aan hom met haar hand. “Ek wil graag jou vriendin wees. Ek stel belang in jou. Kyk, vertel my alles wat gebeur het …”
Hy antwoord haar nog nie en sukkel om sy snikke te beteuel.
“Toe nou,” sê sy. “Alles, Colet. Vertel my alles. Ek dink ek kan jou help.”
Hy weifel nog ’n rukkie en begin dan vir haar vertel van hom en Agnes. Sodra hy by sekere dinge kom, en dit wil wegpraat, dwing sy hom weer daarnatoe met ’n skokwekkende insig – asof sy alreeds alles weet. As hy dan daardie dinge beskryf, vra sy hom tot in die fynste besonderhede uit. Toe hy eindelik alles vertel het, voel hy heeltemal leeg.
Toe sy na ’n rukkie weer praat, is haar stem sag en teer. “Toe maar, Colet. Dis nie net jou skuld nie. Agnes is heeltemal te oud vir haar ouderdom. Ek dink as jy heeltemal van haar vergeet, en nie meer aandag aan haar gee nie, sal alles verbygaan. Nie dat jy onbeskof teenoor haar moet wees nie, maar hou jou op ’n afstand. Ek sal jou help.”
Hy hoor hoe sy opstaan en na sy bed toe kom.
“Slaap nou maar, en vergeet alles. Ek sal jou help … en vir jou bid.”
Toe buk sy vooroor en soen hom met brandende lippe op sy voorkop. Toe sy die deur toemaak, sê sy: “Moenie daaraan dink nie, en slaap nou …”
En sy laat hom met liefde in die hel wat sy vir hom geskep het.