Читать книгу Die eerste siklus - Etienne Leroux - Страница 5

HOOFSTUK II

Оглавление

Van Veldensvlei is omtrent tien myl van die dorp af: ’n mooi uitgelegde familieplaas. Voordat hy Kaap toe gegaan het, het Theuns dit verhuur aan een van sy neefs. Die lewe in die Kaap het ’n bietjie té nou vir hom begin word en hy het besluit om boerdery maar weer ’n kans te gee. Dit was tekenend van sy swerwende gees – ’n eienskap van die Van Veldens. Sy hele lewe is gekenmerk deur veranderings van beroep. Gelukkig het ’n natuurlike sakesin meegebring dat hy altyd welgesteld was. En, nog gelukkiger, dat hy vasgekleef het aan die tradisie dat die Van Veldens, ten spyte van rondswerwinge, nooit van die familieplaas vervreem nie.

Sara was alreeds op die plaas toe hulle daar aankom en sy het weer, soos in die Kaap, vir Colet gesorg. Maar toe hy eendag weer ’n vloekwoord in Suzanne se teenwoordigheid gebruik het, het sy Theuns eenkant geroep en gesê: “Jy weet, Theuns, Colet begin allerhande lelike dinge aanleer. Mens moet versigtig wees wat jy voor hom sê. Daarom dink ek … Sara is al lankal by ons, maar dink jy nie dis die beste dat ons haar maar laat gaan nie? Daar is inrigtings waar mens witmeisies kan kry om kinders op te pas en ook huis te hou. Hulle sê dit kos nie veel nie. Regtig – ons moet aan so iets dink. Kyk, mens kan nie ’n kind in hierdie stadium aan ’n bediende oorlaat nie. Hulle leer soms slegte gewoontes aan …”

Theuns het ingestem en Sara is dienooreenkomstig na die stroois teruggestuur met ’n arm vol ou klere en ’n belofte om haar weer in diens te neem sodra daar ekstra werk is. Sy het heeltemal weemoedig van Colet afskeid geneem – ’n gevoel wat hy, aan sy kant, ook met ’n groot vertoon van aandoening beantwoord het. ’n Maand later is Sara met een van die plaasvolk getroud en het, behalwe haar vroeë kinders (wat in die sorg van haar ma was), ’n hele streep kleingoed met eentonige reëlmatigheid gekry. In die begin het sy kort-kort vir Colet besoek as sy na die huis gegaan het om iets te bedel.

Nadat haar man na ’n naburige plaas vertrek het, het die besoeke minder geword en mettertyd heeltemal opgehou. In Colet se gedagtes het sy verander tot ’n legende – altans totdat ’n vet vrou tien jaar later by die Van Veldens aangekom het “om die kleinbaas te sien” en hy in die lywige vrou voor hom geen sweem van die vroeëre Sara kon herken wat so ’n groot aandeel in sy vorming gehad het nie.

Die wit diensmeisie is gehuur na ’n persoonlike onderhoud met die huismoeder. Haar naam was Maria Groenewald en sy was die tiende kind van baie arm ouers. Sy was omtrent ses jaar oud toe sy na die inrigting gegaan het en het die stempel van die plek in haar houding, handelswyse en gedagtes saamgedra. Sy is deur die huismoeder beskryf as ’n vrolike, nette, lewenslustige meisie, fluks van geaardheid, gelowig, beskeie en op haar plek. Haar verpligtinge sou wees om die huishouding te bestuur (onder sorg van Suzanne), toesig te hou oor Colet se klere en algemene welsyn, en om diens te doen as ’n soort faktotum. Sy sou elke Sondag vry kry, asook elke tweede Saterdagmiddag. Na ’n bietjie verstaanbare senuweeagtigheid in die begin en nadat ’n paar gewoontes wat Suzanne nie aangestaan het nie, afgeleer is, het sy spoedig heeltemal tuis gevoel en ’n volslae deel uitgemaak van die huisgesin.

Die naaste skool was op die dorp. Alhoewel die inwoners hulle beroem het op die goeie eksamenuitslae wat elke jaar behaal is (volgens getalle bereken), was die skooltjie maar klein en swakkerig ingerig. Suzanne het onmiddellik gevoel dat dit nie wenslik sou wees om Colet vanaf ’n groot Kaapse skool na so ’n plek te stuur nie. Die kinders sou heel moontlik ’n slegte invloed op hom uitoefen weens hulle klaarblyklike onverfyndheid, en bowendien sou dit ook beteken dat hy elke oggend tien myl moes ry om daar te kom. Om hom op die dorp te laat loseer, sou ook onwenslik wees, aangesien Suzanne gevoel het dat ’n kind in sy vormingsjare die teenwoordigheid van sy ouers baie nodig het. Suzanne het met ’n paar van haar welgestelde vriendinne uit die omgewing gesels en die moontlikheid bespreek van ’n goewernante wat by haar sou kon inwoon, om dan ook aan hulle kinders onderwys te gee. Toe sy drie gewerf het, het sy met Theuns gepraat en het hulle ’n advertensie in een van die Kaapse dagblaaie geplaas. Ene mej. Du Toit het ’n maand daarna geappliseer, haar akademiese kwalifikasies aangegee as B.A. S.O.D., en talle getuigskrifte oor vlytigheid, Christelikheid en algemene voortreflikheid ingesluit.

Die dag toe hulle haar op die stasie gaan haal het, was Colet, uitgevat in ’n nuwe syhempie en ’n vlootblou sajetbroekie, ook daar. Die trein was ’n kwartier laat en hulle moes op die perron wag. Theuns het op en neer gestap, met Colet in ’n drafstappie ál langs hom. Hulle het na die goedereloods gekyk totdat die trein ingekom en die groot wiele stoomfluitend oor die spore geknars het met lang, suisende hale van die dryfarms. Theuns het tussen die vreemde mense rondbeweeg en skielik stilgestaan by ’n jong dametjie van omtrent drie-en-twintig jaar.

Colet het volgens die gesprekke by die huis ’n oujongnooi verwag soos juffrou De Lange van standerd twee in die Kaapse skool. Toe die mooi nooientjie met die swart hare en blou oë ewe plegtig haar hande uitsteek en met hom begin praat, het dit sy vooropgestelde idees só omvergegooi dat hy nog skamer en lomper as gewoonlik geword het.

“O! Is dít die grootman!” sê sy. “Ek dink ons gaan baie goed met mekaar oor die weg kom.”

Toe draai sy om en begin opgewek met Theuns gesels en die hele pad terug het sy haar nie verder aan Colet gesteur nie.

Colet het self probeer aandag trek deur oorspronklike opmerkings te maak, totdat sy haar ongemerk na hom gedraai en in sy oor gefluister het: “In grootmense se geselskap word kinders gesien, maar nie gehoor nie.” Van daardie oomblik af het hy haar gehaat en elke keer as hy en Maria alleen bymekaar was, van haar geskinder.

In die huis is dinge so gereël dat Maria en Colet in die een buitekamer geslaap het, en die juffrou in die kamer langsaan, met ’n stoepdeur wat in dieselfde portaal uitgaan. ’n Klein ontbytkamertjie aan die ander kant van die huis is ingerig om as skoolvertrek te dien. Die drie buurkinders het elke môre om agtuur opgedaag: Kosie van Niekerk, heelwat jonger as Colet, Agnes en Joan van Heerden – ’n jaar of wat ouer. Elkeen van hulle was in ’n ander standerd en het dus niks met mekaar gemeen gehad wat lesse betref nie, behalwe sekere periodes wanneer lesse van ’n algemene aard gegee is. Die nuwigheid het binne ’n paar maande verdwyn en spoedig het die skoolure, studietye in die aand en vasgestelde slaaptye alles oorheers. Saterdagmiddae en Sondae het van die kinders op die ander plase by hom kom speel as hulle ouers by Theuns-hulle gekuier het. Die speelplekke was gewoonlik agter die huis by die hoenderhokke, langs die rivier op die gras onder die wilgerbome en in die tuin. Die speletjies was altyd dieselfde: wegkruipertjie of blikaspaai, poppe as daar meisietjies was, klei-ossies en tolwaentjies, en dokter – wanneer Colet dan met ’n nagemaakte gehoorpyp elkeen ondersoek en allerhande gekleurde medisyne maak van blomsap gepers deur ’n stukkie lap. Somtyds in die aand, wanneer daar mense gekom het met kinders, het hulle almal in die kinderkamer vergader en hulle speletjies aangepas by die omgewing.

Colet se uitkyk op die lewe het na ’n paar jaar heelwat verander. Die aura van geheimsinnigheid wat sy verbeeldingslewe in die Kaap gekenmerk het, het heeltemal verdwyn. Die huislike atmosfeer, die oorbekendheid van die omgewing met die landskappe wat altyd dieselfde bly, die warm son wat tot elke hoekie deurdring en alles bak tot ’n vaal eendersheid, het die romantiek van onbekende dinge verdryf. Daar was geen onmiddellike onsekerheid nie, sodat hy verval het in ’n stugge alledaagsheid in harmonie met sy omgewing. Die afwesigheid van kompetisie het hom ’n valse selfvertroue gegee wat oorgegaan het in botte astrantheid. ’n Vae ontevredenheid het hom in verset gebring teen alles, maar hy kon nie besluit wat hy juis in die plek daarvan wou hê nie. Hy het ook al hoe minder met ander kinders gespeel.

Na die koms van Mariet het ’n mooi vrou ander gevoelens by hom gewek. Veral ouer meisies. Dié van sy eie ouderdom het hy as laf en vervelig beskou. Maar daar was iets omtrent ’n volwasse vrou wat hom altyd rusteloos en sprakeloos gelaat het. As van Suzanne se jonger vriendinne by die huis kom kuier het, was hy altyd in die geselskap teenwoordig en het elke glimlag en gebaar onthou. As hulle hom soms nader trek en liefkoos, het hy onthuts en hom terselfdertyd tot hulle aangetrokke gevoel. Wanneer hy hom dan losruk, soos alle seuntjies, lag Suzanne net en sê: “Is dit nie snaaks hoe seuntjies liefkosings haat nie!” Hy kon dan die goedkeuring in haar stem merk en het onder die indruk daarvan gekom dat, wat sulke dinge betref, mens jou daarteen moet verset.

Sy houding teenoor Maria was heeltemal seksloos. Alhoewel sy ook onder die volwassenes geressorteer het, was sy ’n bediende soos Sara – behalwe net dat sy minder streng teenoor hom was en meer van ’n maat en ’n vertroueling. Sy het hom elke aand om agtuur na die badkamer gestuur en dan gesorg dat hy bed toe gaan. Sy self het gewoonlik ’n paar uur later gaan slaap en dan baie saggies ingekom om hom nie wakker te maak nie. Colet was teen daardie tyd gewoonlik nog nie aan die slaap nie, maar hy het haar altyd onder die indruk laat verkeer dat sy hom wakker maak as sy die kamer binnekom. Dit was ’n gereelde speletjie, wat hulle met alle erns elke aand herhaal het. Terwyl sy haar klere uittrek, lê hy dan met haar en gesels. Sy het ’n besondere manier gehad van haar te ontklee: sy het eers die nagrok oor haar kop gegooi, en dan deur ’n reeks eienaardige bewegings gegaan totdat al haar dagklere op die vloer gelê het en sy gereed vir die bed was. Terwyl sy dan voor die spieëlkas sit, besig om haar hare te kam, het Colet aanhoudend gesels en vrae gevra oor wat gedurende die dag gebeur het. Nadat die lig afgeskakel was, het hy soms by haar gaan lê en dan het hulle tot laat in die aand gepraat met fluisterstemme. Eenkeer, toe hulle Suzanne in die rigting van die kamer hoor kom het, het Maria hom teruggejaag na sy bed toe. Colet het dadelik gemaak asof hy slaap – nie soseer omdat hy gevoel het dat hy iets verkeerds gedoen het nie, maar omdat hy tog vaagweg gevoel het dat so iets nie betaamlik is nie.

Hulle gesprekke het gewoonlik gegaan oor Maria se dae in die wees-huis. Hy het naderhand die huismoeder so intiem leer ken dat dit was asof hy self daar gebly het. Die weeshuisreëls, die klokke wat gedurig vir elke werkprogram lui, die jaarlikse piekniek by die rivier, Sanna, Siena, Lulu en Johanna (haar maats met al hulle eienaardighede), die onregverdigheid van die juffrouens wat altyd in blou aangetrek was, die slegte kos en die geringste plesiertjies en avonture, was deel van sy eie lewe as sy hom daarvan vertel. Al die boeke wat sy gelees het van Fanny Eden en Sita, is in die donker gevoelvol in haar fyn, bewoë stemmetjie aan hom oorgedra. Dit was heeltemal ’n ander, onbekende wêreld, glad nie so vol misterie soos Sara s’n nie, maar vol weemoed en verlange, en met ’n aantrekkingskrag van sy eie. Hy kon nooit genoeg daarna luister nie, en Maria het week na week dieselfde stories oorvertel en in haar geringe verbeelding klein variasies uitgedink – en dit dan as nuwe ondervindings voorgehou in haar relaas van ’n onbewoë klein bestaan in ’n weeshuis.

Maria het nie van die juffrou gehou nie. In die stilligheid het sy haar juffrou Snip voor Colet genoem, en dan wou hy hom so doodlag daaroor. Hulle het al twee ’n behae daarin geskep om op al haar eienaardighede te let en dit dan vir mekaar oor te vertel in die aand. “Het jy al opgelet hoe blou haar naels is? Hulle sê dis ’n teken van iemand wat nie heeltemal … wit bloed het nie …” “Sy sê nou die dag vir my, verbeel jou, asof ek haar bediende is, sy sê vir my sommer: ‘Maria, bring my wasgoed kamer toe!’ Ek sê toe niks nie. Ek vat net die wasgoed en gooi dit op haar bed neer.” … “En weet jy, Colet, sy hou nie van jou nie. Sy sê Kosie is baie slimmer as jy. Sy sê jy is nie so slim as wat hulle dink jy is nie …”

Maar tog in die laatnag, net voordat hy aan die slaap raak en Mariet weer vol en prikkelend in sy gedagtes was, het hy aan juffrou Du Toit gedink en, ten spyte van sy renons in haar, haar soms in allerhande situasies voorgestel wat sy hart vinniger laat klop, en ’n brandende gevoel in sy bors laat ontstaan het.

Theuns en Suzanne het intussen heelwat meer tyd gehad om uit te gaan en vriende te besoek. Hulle het stadigaan verdwyn uit die intieme ritueel van Colet se lewe. Die tye wanneer hy by hulle was, het ook eenvormig geraak en deel geword van ’n ordelike sisteem. In die oggend as hy wakker word, het Suzanne hom kom groet en ’n rukkie later het hy môre gaan sê vir Theuns en vir ’n tydjie in sy arm gelê op die bed. In die aand het Theuns en Suzanne na die spens gegaan om te kyk of hy al sy kos opgeëet het, en dan opmerkings gemaak oor sy benerige voorkoms. Net voordat hy gaan slaap, is hy toegelaat om vir ’n rukkie in die sitkamer op die rusbank te sit terwyl hulle oor alledaagse, onbekende dinge gesels. Wanneer daar gaste gekom het, is hy ingeroep en ten toon gestel terwyl hulle met oordrewe vermaak elke stamelende sin volg en hardop lag oor ’n grappie wat hy sou gemaak het. Die tyd wat hulle van die huis af weggebly het, het ook al hoe langer begin word.

Intussen het Colet ongemerk groter geword sonder dat daar ’n verandering in die ritueel gekom het. Omdat hy ’n enigste kind was, het hy ’n Peter Pan in hulle oë gebly. Hulle het gevoel dat alles mooi gereël is, dat hy in veilige hande gelaat word – geborge in sy Never-Never Land.

Eenkeer het hulle vir ’n hele week weggegaan. Hulle het hom gedurende die skoolure gaan groet en die hoop uitgespreek dat almal soet sou bly terwyl hulle weg is. Toe die skool verby was, het Colet in die leë huis rondgestap. Die gordyne van Theuns en Suzanne se kamer was toegetrek en dit het alreeds, nadat dit slegs ’n oggend toegestaan het, daardie reuk van ’n onbewoonde kamer gehad, behalwe dat die geur van Suzanne se skoonheidsmiddels nog soos rafels in die lug gehang het. Hy het doelloos in die kamer rondgedwaal, in die laaie gekrap en hom verlustig in die mengsel van geure wat daaruit opslaan. Daar was iets in die eksotiese walms wat herinnerings aan die Kaap meegebring het, en hy het meteens ’n knellende heimwee gevoel na daardie dae toe hy geluister het na die vishorings en Suzanne hom in haar arms geneem het. Hy het in die laaste tyd al hoe meer daarvan bewus geword dat hy werklik alleen is. Die effenheid van die lewe, wat daardie onwerklike aspek van dinge laat verdwyn het, het hom laat terugverlang na iets wat nie meer daar is nie. Nadat hy al die laaie deurgekyk het, het hy die klerekas oopgemaak en hom op sy tone uitgerek om in die heel boonste rakke te kyk. Regs in die kas het Suzanne se rokke gehang. As hy sy kop daarin steek, kon hy dit sag en welriekend teen sy gesig voel. In die rakke langsaan het haar handsakke in ’n bonte hoop opmekaar gelê met veelkleurige serpe tussenin geprop. Elke rafeltjie, elke dingetjie wat hy optel, het ’n besondere betekenis. Die dinge wat hy dikwels bedags in die huis sien rondlê het – miskien ’n baadjie wat Suzanne op ’n stoel neergesit het of ’n hoed wat sy afgehaal het – het hier in die hangkas heeltemal ’n ander aansien. Dis asof daar ’n voorkoms van verganklikheid aan alles vaskleef; asof Suzanne, wat die dinge elke dag dra, nie meer daar is nie; asof dit alreeds met ’n eienaardige, muwwe, ontbindende reuk vergaan.

Die gedagte daaraan raak meteens só oorstelpend, dat hy die kas onmiddellik toemaak en op die bed gaan lê.

Die heerlike, sagte dubbelbed. Terwyl hy daarop lê en heen en weer rol, gaan die deur meteens oop en kom Maria met verkwikkende, babbelende beweginkies die kamer binne.

“En toe!” sê sy, terwyl sy op die voetenent van die bed gaan sit en hom aan die been gryp. “Wat maak jy hier so alleen?”

“Ek het niks anders gehad om te doen nie,” sê hy.

Sy wieg op en neer en kyk met wakker oë in die kamer rond.

“As die kat weg is, is die muis baas,” sê sy. Sy lê meteens agteroor met haar kop op sy voete terwyl sy haar bene heen en weer swaai. “Ek dink ons gaan ’n lekker tyd hê.” ’n Oomblikkie stilte. “Ons sal laat kan lê en gesels in die aand. Dit wil sê as juffrou Snip haar nie groot hou noudat jou mammie-hulle weg is nie.” Sy sit weer regop en kyk in Colet se gesig. “Dink jy nie so nie?” Haar oë het ’n eienaardige glans, effentjies blink en lewendig.

Hy gaan ook regop sit, maar kyk nie na haar nie. Sy oë is gevestig op die deur in die verste hoek. Dit was asof hy iemand hoor aankom het, maar hy was nie seker nie. Toe hy sien dat aan die deurknop gedraai word, weet hy dadelik wie dit is.

“Wat sê jy?” vra hy. Dan sagter: “Wat van haar …?”

Hy weet dat sy nie bewus is van die deur wat oopgaan nie. Onmiddellik toe hy dit gevra het, voel hy jammer, maar ook darem nie spyt dat dit te laat is nie.

“Ek sê …!” skree Maria, “as juffrou Snip ons nie lastig val nie …!”

“En toe!” sê juffrou Du Toit. “Wat gaan hier aan?” Sy staan met haar hande in haar sye. “Het jy nie werk nie, Maria? Is dit nie al tyd dat jy op die ete moet let nie?”

Haar oë, twee kooltjies vuur, brand in die halfskemer op hulle.

Maria het intussen verward van die bed af opgespring en stap nou, met haar kop in die lug, by juffrou Du Toit verby. Toe sy die deur agter haar toemaak, is daar stilte vir ’n paar oomblikke. Colet kan sy eie asemhaling duidelik hoor, asook dié van die vrou voor hom. Daar gaan ’n paar minute verby voordat sy praat. Intussen sit hy op die bed en kyk na haar met groot, niksseggende oë. Dis asof sy hier in die kamer – in die allenige kamer in die groot, stil huis – al die gesag verloor het wat sy in die klas het. Hy hou sy oë nie lank op haar gerig nie, maar kyk skuins by haar verby, alhoewel hy elke beweging uit die hoek van sy oog kan sien.

“Wat doen jy in die kamer, Colet?” vra sy meteens.

“Niks nie,” sê hy. “Ek het net hier ingekom en … rondgekyk.”

Sy wil iets sê, maar bedwing haarself merkbaar, en gaan dan op die stoel langs die bed sit.

“Kyk, Colet,” sê sy, “jy is mos al ’n grootman, nè? Jy weet dit is nie mooi vir ’n man … ek bedoel, kyk, ’n man is altyd hoflik teenoor ’n dame …”

Hy staan stadig van die bed af op en wag ongeduldig vir haar om verder te praat. Sy voltooi nie die sin nie, maar staan meteens op en sê met ’n opgewekte stem: “Hoe lyk dit, wil jy nie ’n entjie saam met my kom stap nie? Die son gaan netnou onder, en dis só mooi tussen die berge.”

Terwyl hulle al met die veldpad langs stap, gesels sy aanhoudend oor allerhande dinge. Toe hulle by ’n mooi boom kom, gaan sy daaronder sit en wys vir hom om langs haar plaas te neem.

“Hoekom speel jy nooit met Kosie en Joan-hulle nie, Colet?” vra sy.

“Ek het nie juis lus nie,” sê hy. “Hulle is so … so kinderagtig.”

“Kyk,” sê sy meteens, “mens kan te groot vir jou ouderdom wees …”

Dan besef sy dadelik aan sy houding dat sy alle geleentheid vir openhartigheid vernietig het deur haar woorde.

“Kyk, jongmense moet saam wees. Dis mooi as hulle saamspeel. ’n Kind moet saamspeel. Kyk hoe lekker jy altyd met die ander kinders gespeel het toe ek hier gekom het.”

En dan besef sy dat sy nou finaal alles bederf het.

Terwyl hulle terugstap, dink sy aan die seun langs haar. ’n Mens moet net agter daardie astrantheid van hom kom. ’n Kind het leiding nodig op daardie ouderdom. Sy besluit ook om met sy ouers oor Maria te praat. Dis nie goed dat ’n jong meisie so intiem met ’n seun van sy ouderdom verkeer nie.

En vir Colet is die sonsondergang voor hulle, met al die kleursamestellings, ’n knellende gesig. Daar is iets in die droë opeenstapeling van malse kleure wat hom heeltemal magteloos laat voel. Alles is vreemd en onverstaanbaar. Hy voel baie alleen. Asof alles, alle intieme dingetjies, wat ander tye sy aandag afgetrek het as hy so alleen voel, in die laaste tyd verdwyn het. Hy voel sleg omdat hy Maria so in ’n strik gelei het; hy weet nie hoekom hy dit gedoen het nie. En juffrou Du Toit: hy het vir ’n paar oomblikke gevoel, toe hulle op die gras gesit het, dat hy iets vir haar wou sê wat die verdeeldheid en alleenheid in hom sou breek … toe sy agteroor op die gras gesit het, met haar lyf teen die boom, soos Mariet die aand op die bed … Maar sy lyk nou weer heeltemal anders – so alledaags en preutserig …

Die aand toe Maria kom slaap het, wou hy weer by haar inkruip, maar sy het hom teruggejaag na sy bed toe. Alhoewel hy oor en oor gevra het wat makeer, wou sy hom nie antwoord nie. Net voordat sy aan die slaap geraak het, het sy eenkeer gesê: “Ek sal jou onthou.” ’n Rukkie later in die aand het juffrou Du Toit die kamer ingekom en die lamp omhoog gehou. Teen daardie tyd was Colet al terug in sy bed en hulle al twee aan die slaap, en nie een het geweet dat sy die kamer binnegekom het nie.

In die week toe Suzanne-hulle weg was, was daar ’n uitgelate atmosfeer in die huis. Selfs in die skool was juffrou Du Toit toegeefliker as ooit tevore. Sy was aanmerklik vriendeliker teenoor Colet buite skoolure en het uit haar pad gegaan om met hom te gesels, maar hy het ’n behae daarin geskep om haar op alle moontlike maniere te ontwyk. Maria het hom die volgende dag alreeds vergewe dat hy haar so in ’n val gelei het. Drie aande daarna het sy hom genooi om by haar te kom lê en gesels.

Die eerste tekens van die winter was al aan die kom, en dit het in die aande taamlik koud geword. Toe die lamp doodgeblaas is, het hy by die wastafeltjie verbygeklouter en in die lekker warm bed by haar ingeklim. Hulle het vir ’n rukkie styf teen mekaar gelê en rondgekriewel totdat hulle lyfhitte die koue heeltemal verdryf het. Toe begin hulle gesels.

“Het jy kêrels in die Inrigting, Maria?” vra hy.

Hy voel hoe sy skielik stil lê in die donker.

“Wel …” sê sy. “Eendag was ek op diens gewees by die deur. Ons kinders het almal deurdienste, een keer elke veertien dae. Dan luister ons as die klokkie lui en maak dan die deur oop en neem hulle die sitkamer in …” Sy bly weer stil en vroetel rond soos iemand wat dink en iets probeer oplos. Geen wonder nie, sy is besig om, na aanleiding van ’n onskuldige gebeurtenis, iets te skep met behulp van Fanny Eden.

“En toe,” sê Colet, “watter soort mense? Ek bedoel, was hulle oumense? Die ma’s en pa’s van die kinders?”

“Nee. Hulle het nie ma’s en pa’s nie. Hulle ma’s en pa’s besoek hulle nie … Die gaste van die juffrouens – familie en vriende … en van hulle … kêrels.”

Colet strek hom behaaglik uit en lê ’n bietjie stywer teen haar aan. Die heerlike sekuriteit van haar arms en die effens klamme, persoonlike hitte laat hom veilig en gerus voel. Daar is geen ander gedagtes nie. Dis net haar stem en beelde van daardie lewe, en stories totdat hy netnou vaak word en na sy bed toe sal moet teruggaan.

“En toe, Maria,” sê hy, “wat gebeur toe?”

“Eendag,” sê sy, “toe ek op deurdiens was, toe lui die klokkie en ek maak die deur oop. Toe staan daar ’n man …”

“Hoe oud was hy?”

“Omtrent dertig … jy weet, mooi en donker … met effentjiese grys hare … heeltemal ouerig al, nie té oud nie … net interessant, weet jy …”

“En lank? Was hy lank? ’n Lang, skraal man wat ’n lang skaduwee gooi …?”

“Ja, hy was ’n lang man, en mooi en donker en ryk. Toe neem ek hom na die sitkamer. Ek sê toe vir hom: ‘Sit asseblief.’ Nee … ‘Neem plaas asseblief. Wie wil u graag … asseblief spreek?’” (Haar stem word fyn en hoog in ’n poging tot deftige modulasie.) “Toe glimlag hy – ’n mooi glimlag. Mooi wit tande. Ek hou van ’n mooi glimlag en mooi tande … en kuiltjies. Hy het kuiltjies gehad …”

Colet skuur sy gesig teen haar arm. ’n Lomerigheid het alreeds oor hom begin kom. “Het ek mooi tande, Maria?”

Hy voel hoe haar hand in die donker na sy gesig soek. As dit oor sy wang streel, glimlag hy in die donker. Die punte van haar vingers krap om die hoeke van sy mond.

“En kuiltjies ook. Jy het ook kuiltjies, Colet.”

Hy lê ’n rukkie in stilte terwyl sy aanhou om sy gesig te streel. Dit het intussen verander van ’n speelse streling tot ’n senuweeagtige soektog van lomp vingers in die duister, ál met sy gesig langs asof sy die buitelyne wil natrek. Dit wek, saam met die lome gevoel, ’n herinnering aan iets bekends in hom. Terwyl hy daarna soek in sy gedagtes, sê hy: “En toe, Maria, wat van die lang man? Was hy jou kêrel?”

“O!” sê sy. “Ja, die man. Nee, hy sê toe vir my met ’n mooi, sagte stem: ‘Ek wil graag met juffrou Van Wyk praat. Sal jy haar asseblief roep?’ Ek sê toe: ‘Seker, meneer’ – maar net toe ek stap, toe roep hy my terug en hy sê: ‘Wat is jou naam?’ Ek wou eers nie my naam vir hom sê nie. Sien, hy is ’n vreemdeling, Colet. Maar toe sê ek ‘Maria’. ‘O!’ sê hy toe. ‘Dis regtig ’n mooi naam.’ En toe … toe gesels ons.” Haar sinne kom stadiger. “Toe sê hy na ’n rukkie: ‘Jy hoef nie meer juffrou Van Wyk te roep nie. Ons gesels liewer met mekaar.’ Maar, o Colet! Ek was bang dat juffrou Nieman daar sou aankom. Sy was op diens en sy kom altyd kyk of ons die klokkies beantwoord het. En is sy kwaai! Maar die man wil my nie laat gaan nie. Hy sê vir my: ‘Geliefde, al is jy nou wel ook so … nederig van stand … liefde ken nie rykdom of armoede nie …’ En hy gaan toe op sy knieë en hy sê … Colet!” Hy mompel onduidelik langs haar. Sy skud aan hom. “Colet, Colet! Slaap jy al?” Toe hy nie antwoord nie, voel sy versigtig met haar hand oor sy oë. Onder die lede kan sy die flikkering gewaar, maar dit gaan nie oop nie. Sy luister na sy gereelde asemhaling en lig hom effentjies van die bed af op om hom wakker te kry, maar verander haar plan en laat hom weer terug in haar arms lê.

“Jy moet op jou bed gaan lê,” sê sy. “Sê nou maar hulle kry jou môreoggend hier?” Maar sy sê dit meer vir haarself. Dan trek sy die seun stywer teen haar vas en woel haarself tot dig teen sy lyf. Na ’n rukkie lig sy haar kop op en bring haar lippe teen sy wang en dan stadig en voel-voel tot teenaan sy mond – en soen hom dan meteens hard, en draai dan net so skielik om met haar rug na hom toe. ’n Rukkie later raak sy aan die slaap.

Die volgende môre baie vroeg, voordat die son op was, het juffrou Du Toit die deur van die kamer oopgemaak en in die lig van die lamp in haar hand Colet se leë bed by die deur gesien, en toe haastig nader gestap en gekyk na die bed langsaan die wastafeltjie. Sy het vir ’n rukkie besluiteloos gestaan en toe saggies uitgegaan – terug na haar kamer toe.

Terwyl sy in die kamer rondstap, net voordat die son opkom, sê sy oor en oor vir haarself: “Ek het dit geweet. Ek het dit geweet.” Sy is heeltemal driftig. Dis nie ’n gewone woede nie. Sy voel asof sy ’n klap in haar gesig gekry het. Soms is sy nie seker nie, soms wil sy terug na die kamer toe gaan om die twee slapende figure op die bed te sien, maar dan weerhou sy haar. In haar gedagtes herhaal sy die prentjie in die lamplig oor en oor en probeer allerhande moontlike dinge bydink. Eers dink sy daaraan om vir Suzanne te telegrafeer om terug te kom, dan besluit sy om maar te wag totdat hulle terug is, en dan dink sy weer aan ’n ander manier om dit onder Suzanne se aandag te bring. Maar by dit alles is daar tog ’n huiwering, ’n eienaardige gevoel, asof dit haar eie, persoonlike ontdekking is; asof, as sy vir Suzanne daarvan vertel, sy iets van haarself sal openbaar. Dis ’n vreemde gevoel. Sy probeer dit tuisbring. Dis asof iemand haar in die steek gelaat het, asof iemand agter haar rug haar bespot en belaglik maak …

Terwyl sy so dink, begin die hortjies rooi gloei in die môrelig. Sy loop na die venster toe en maak dit baie saggies oop sodat hulle haar nie in die kamer langsaan kan hoor nie. Dan kyk sy by die venster uit. As sy vér oorleun, kan sy die buitedeur van die kinderkamer mooi sien. As sy heeltemal geen geluid veroorsaak nie, sal sy selfs die bewegings in die kamer kan hoor voordat die oggendgeluide verstorings wek. Terwyl sy so staan, in gespanne afwagting, voel sy vies vir haarself, maar haar nuuskierigheid is onkeerbaar. Sy voel dat sy elke geluid en elke beweging in die kamer langsaan móét hoor as hulle opstaan.

Maar terwyl sy so staan en luister, vra sy haarself af: Hoekom voel ek so? Kyk, dit is my plig om sulke dinge te ondersoek en te probeer voorkom, maar hoekom tas dit my dan so aan? In haar binneste voel sy dat dit nie net gewone pligsbesef is wat haar onverwags die laaste paar aande in die kamer laat kyk het nie. Daar was iets laags en gemeens in daardie handeling; sy het ’n behae daarin geskep en heimlik gehoop om iets te sien. En hoekom hierdie intense, koue gewaarwording – asof iets in haar losgebreek het …?

Toe die buitedeur oopgaan en Maria daaruit kom om die huis te begin aan kant maak, spring sy skielik terug en gaan eenkant agter die hortjies staan, van waar sy ongemerk met koue oë Maria se gang kan volg totdat sy uit die gesig verdwyn.

“Ek sal vir Suzanne vertel sodra hulle terugkom,” besluit sy. “Maar ek sal vir Colet beskerm. Ek sal dit so vertel dat daar geen skuld aan hom kleef nie. Sien, hy is nog jonk. Daar is baie dinge wat hy nie besef nie.”

Maar in haar hart het sy geweet dat dit nie werklik die rede was nie.

Gedurende die skoolure het sy haar so onverskillig as moontlik voorgedoen en juis daardeur Colet se fyn waarnemingsvermoë geprikkel. Sy gevoeligheid vir verandering in die atmosfeer was sterk ontwikkel vanaf die Kaapse jare toe hy sy eerste indrukke opgedoen het. Onbewus het hy klein, amper nietige dingetjies opgemerk en deur ’n trek om ’n mond, of ’n oomblik se vertroebeling van ’n oog, of ’n beweging van ’n hand, dadelik ’n emosionele verandering agtergekom. Om die waarheid te sê, hy het hom só laat lei deur sulke geringe aanduidings dat hy soms kwaad vir iemand was, of gesteld was op ’n sekere verhouding, sonder dat iets werklik konkreets gebeur het, en selfs voordat daardie persoon self bewus was van die verandering in sy gemoed. Sodoende kon juffrou Du Toit nie haar gevoel vir Colet verberg nie: dit het geblyk uit ’n blik wat slegs vir ’n paar oomblikke té lank gedraal het, ’n stem wat nie heeltemal haar gespannenheid kon verberg nie, ’n doelbewuste negering van Colet by tye, wat heeltemal onnatuurlik was. Hy het nie eens probeer om na ’n rede daarvoor te soek nie, só gewoond was hy aan redelose emosionele steurings in homself. Om die waarheid te sê: juis deur haar onverskillige houding teenoor hom het sy interessanter vir hom voorgekom en die indruk van alledaagsheid en verwaandheid van die vorige dag verdryf.

Onmiddellik nadat die skool uitgekom het, het Maria Colet eenkant toe geroep en gevra: “Colet, het juffrou Du Toit vir jou iets gesê?”

“Nee,” sê hy. “Wat moet sy sê?”

In die skaduwee van die kamer, waarnatoe sy hom gewink het, kan hy net die blokkiespatroon van haar rok sien. Sy het ’n helderkleurige doek om haar kop gedraai en twee swaar oorbelle wieg heen en weer aan haar ore as sy praat. Die angs in haar stem is heeltemal in botsing met die uitdagende kleure van haar uitrusting.

“Het sy nie iets gesê van jou en my nie?”

“Nee,” sê hy. “Wat kan sy sê?”

Sy houding is onverskillig, maar die eerste skemering van ’n onbekende vrees het hom alreeds begin beetpak. Hy kan dit nie presies bepaal nie, maar dit voel soos ’n bedreiging wat gepaard gaan met ’n skuldbesef soos hy destyds in die Kaap gevoel het toe Sara hom na die verbode plekke geneem het, of toe hy te veel aan daardie verkeerde dinge gedink het, en hy aan geringe dingetjies kon opmerk dat Theuns-hulle nie met hom tevrede was nie.

Maria staan intussen angstig heen en weer en wieg. Dis asof haar angs elke oomblik toeneem en monsteragtig aangroei in die skemerige kamer.

Sy gryp Colet meteens aan die arm.

“Kyk, Colet, as hulle jou vra of ons saam slaap – jy weet, in die aande saam lê en gesels, dan sê jy nee. Jy sê dit is nie so nie. Jy kan sê ons lê en gesels, maar jy sê nie wat ons gesels nie of dat ons op dieselfde bed lê nie …”

Hy ruk sy arm los, en stap die kamer uit. Terwyl hy uitstap sê hy: “Natuurlik nie. Hulle het niks te doen met wat ons gesels nie. Hulle het niks met ons gesels uit te waai nie.”

Maar sy hart het klein geword van vrees. Sê nou maar hulle, Theuns en Suzanne-hulle, hoor dit … dan wil hulle weet waaroor hy gesels – dis soos om jou kaal uit te trek voor mense. Hy sal niks sê nie. Kyk, hulle het niks te doen met sulke dinge nie.

Die aand toe hulle gaan slaap, het Maria selfs voordat die lamp behoorlik gesnuit was, gesê: “Colet, jy moenie vanaand hier kom lê nie. Sy sal netnou hier wees.”

Hulle het albei gelê en luister na haar voetstappe by die deur, maar dit het nie gekom nie. Nadat hy ’n rukkie wakker gebly het, het hy vaak geword en met ’n gevoel van oneindige verlatenheid aan die slaap geraak. ’n Hele rukkie later het die deur saggies oopgegaan en het juffrou Du Toit ingeloer – die lamp half toegehou deur haar hand. Maar Maria was wakker. Sy het dadelik regop in die bed gaan sit en ’n gesmoorde gil gegee.

Suzanne en Theuns-hulle het die volgende dag onverwags daar aangekom. Suzanne het dadelik die gespanne atmosfeer opgemerk en juffrou Du Toit na haar kamer toe laat kom. Sy het op die bed gaan sit en vir juffrou Du Toit gevra om eenkant op ’n stoel plaas te neem. Terwyl hulle gesels het, het Theuns een keer die kamer ingeloer, maar sy het hom met haar vinger beduie om weer uit te gaan.

Hulle het vir ’n paar oomblikke geskerm deur hieroor en daaroor te praat en toe oorgegaan tot ’n bespreking van Colet se vordering op skool.

“Hy is heeltemal fluks. U weet, seuns van daardie ouderdom gaan deur moeilike stadiums, maar hy doen heeltemal goed. Hy het baie verbeelding.”

Suzanne sit regop op die bed. Sy is ’n tipe wat nooit voor ander mense ontspan nie. Selfs as sy oor die mees alledaagse dinge gesels, lyk dit nog asof sy deelneem aan ’n baie formele gesprek.

“O, ek is bly. Hy is ’n … baie sensitiewe kind.”

Sy hou nie vir ’n oomblik op om na juffrou Du Toit te kyk nie. Slegs ’n strak trekkie langs haar laggende oë verraai die gespannenheid van haar blik.

“Alles het seker goed gegaan toe ons weg was. Ek bedoel, in die huis en die skool, nè?”

Sy merk die verstramming in juffrou Du Toit dadelik op.

“Daar was nou nie eintlik groot moeilikhede nie, was daar?”

“Wel,” sê juffrou Du Toit, “alles het goed gegaan.”

Selfs in hierdie stadium het sy nog nie besluit wat om vir Suzanne te sê nie.

“Colet was nie stout nie, was hy?”

Die effense gespannenheid in haar stem ontgaan juffrou Du Toit nie. Alle moeders sal natuurlik hulle kinders in alle omstandighede verdedig. Sy voel bly oor haar besluit om Colet heeltemal te verontskuldig.

“O nee! Kyk, hy is werklik ’n interessante kind. Ek stel baie in hom belang.”

Weer daardie flikkering in Suzanne se oë.

“Hy is baie aantreklik,” sê sy, “ek dink hy sal eendag baie populêr wees.” Sy wag so ’n rukkie, en sê dan skielik: “Veral onder dames …”

Vir ’n oomblik is juffrou Du Toit uit die veld geslaan. As sy praat, is haar stem effentjies té gejaagd.

“O ja. Hy is heeltemal … anders. Daar is ’n sensitiwiteit en ’n verfyndheid …” Sy soek na woorde. “ ’n Soort melancholie …”

Suzanne se houding is stywer as ooit tevore. Juffrou Du Toit het ’n eienaardige gevoel dat sy self daadwerklik by die saak betrokke is: ’n herhaling van haar gevoel daardie aand toe sy die leë bed gesien het.

Om haarself te red, sê sy meteens (glad nie soos sy van plan was om dit te sê nie): “Kyk, mevrou, ek dink dit is my plig om u te waarsku … ek sou ’n bietjie let op Maria as ek u was.”

Suzanne se styfheid verdwyn eensklaps. Die glimlag in haar oë (die gewoonteglim wat tweede natuur by haar is) verdwyn heeltemal.

“Maria!” sê sy. “Wat van haar, juffrou Du Toit? Ek dink u moet openhartig met my praat.”

Juffrou Du Toit kriewel onrustig in die stoel rond. Sy voel dat, hoe sy dit ook al wou stel, sy nou alles sal moet vertel … en terwyl sy vertel, dat sy Colet om elke draai sal moet beskerm. Toe begin sy praat, en terwyl sy praat, hou sy haar oë, sonder om terug te deins, vol op Suzanne gerig. En nadat sy ’n rukkie vertel het, en by die besondere gedeelte kom, merk sy met heldere insig skielik in Suzanne dieselfde emosies op as by haarself, dieselfde reaksies; in so ’n mate dat sy die gevoel kry dat sy in ’n spieël kyk.

Die aand toe Colet gaan slaap het, het hy dadelik die gemaakte opgewektheid gemerk. Suzanne het hom, soos in die Kaap, in haar arms geneem en liefkosend goeienag gesoen. Juffrou Du Toit het ’n neiging getoon om telkens te lag en dan ’n bietjie té lank aan te hou. Maar Theuns was stroef en het met kil oë na hom gekyk. Maria was nêrens te vinde nie. Hy het tot laat in die kamer gelê en wag dat sy moes kom slaap. Oudergewoonte kon hy nie aan die slaap raak voordat sy eers daar was nie. Toe sy nie kom nie, het hy opgestaan en sukkelend deur die donker gang gegaan. Hy het alreeds die deur oopgemaak toe dit hom byval dat sy ouers nog in die eetkamer sit. Die helder lig het hom heeltemal verblind.

Suzanne het meteens van haar stoel opgespring.

“Wat makeer, Colet?” vra sy. “Kan jy nie slaap nie?”

Die lig in sy oë, hulle onverwagte gesigte en sy uitgeputte gees het vir ’n oomblik alle rede verban, en voordat hy presies kon dink wat hy moes sê, en in sy vrees dat hy die verkeerde ding sóú sê, doen hy dit en fluister met ’n hees stem, wat hard en kras in die ore van almal klink wat luister: “Waar is Maria? Ek wag vir Maria. Ek kan nie aan die slaap raak voordat sy kom slaap nie.”

Colet het eers die volgende dag na skool gehoor dat Maria weggaan. Hy het nét uit die klaskamer gekom toe hy haar twee verweerde kartonkoffers op die voorstoep sien. Terwyl hy nog daarna staan en kyk, het Suzanne en Maria by die voordeur uitgekom. Maria was aangetrek in ’n crêpe-de-chine-rok, ’n groot wit breërandhoed wat haar smal gesiggie nog kleiner laat lyk het as gewoonlik, en ’n vaal jassie wat tot teen haar nek vasgeknoop was. Hy kon haar gesig amper nie herken nie: haar oë was dof en dik geswel en wit kolle het in lelike vlekke op haar wange uitgeslaan.

Toe sy vir Colet sien, staan sy vir ’n oomblik besluiteloos en kyk na Suzanne.

“Groet vir Maria!” sê Suzanne met ’n ferm stem, haar fier houding geaksentueer deur Maria se opgebondelde voorkoms.

Hy steek sy hand na haar uit sonder om ’n woord te sê. Haar hand is klam en leweloos en koud. Toe hy aan haar raak, word hy meteens vervul met ’n gevoel van weersin, asof hy mislik is. Haar koue hand, half klam soos dié van iemand wat siek is, het die walglike aanraking van iets soos ’n padda of ’n modderdier. Haar beteuterde voorkoms werk só irriterend op hom dat hy voel asof hy kan skree. Selfs haar reuk is anders, bedompig soos ’n geslote kamer, soos iets wat vergaan, soos Suzanne se klere daardie middag toe hulle weg was.

Hy kon skaars wag om weg te loop.

Selfs toe die motor wegtrek, het hy nie eens omgekyk nie.

Die eerste siklus

Подняться наверх