Читать книгу Die eerste siklus - Etienne Leroux - Страница 9

HOOFSTUK VI

Оглавление

Colet het alleen na die groot skool gegaan. Suzanne en Theuns het hom tot by die stasie gebring en sy koffers versigtig in die eersteklas-kompartement gepak.

“Onthou om met jou rug na die lokomotief te sit,” het Suzanne oor en oor herhaal. “Dan sal die steenkool nie in jou oë waai nie. En onthou om die vensters in die aand toe te maak en net die boonste luike oop te hou sodat jy nie in ’n trek lê nie. Mens kan maklik ’n verkoue in ’n trein opdoen.”

Sy het alreeds die vorige aand begin huil en moes gedurig haar neus poeier, só blink het dit geword. Toe Colet by die venster uitleun, staan sy en Theuns gearmd, half teen die trein aangeleun. Die twee het so verslae gelyk dat Colet se gemoed meteens volgeskiet het, maar hy het hom so dapper as moontlik gehou en gedurig geglimlag, totdat hy naderhand gevoel het dat sy wange seerkry.

Theuns het nog vir oulaas gesê: “Gereeld skryf, Colet, en fluks leer,” toe die trein stadigaan begin beweeg. Hulle het aangehou met waai, totdat die watertenks hulle eensklaps uit die gesig geneem het. Toe Colet ’n entjie verder, deur ’n opening voordat die trein om die draai gaan, ’n laaste blik op die stasie kry, het hy hulle nog op dieselfde plek sien staan met hulle hande roerloos in die lug. Hy het gevoel hoe iets in sy keel toetrek. Daar was iets wanhopigs en verlore in daardie opgehewe hande, asof dit die laaste ankers is waarvan hy skielik weggebreek het en wat nou nutteloos en doelloos en sonder funksie meer is.

Die geklop van die wiele was ’n gedurige bevestiging van die feit dat hy nou op sy eie is. Van nou af is die lewe, sy eie lewe soos dit verder gevorm moet word, net aan homself oorgelaat. Die besef dat daar nie meer twee lewens sal wees nie: sy eie, verborge een, en die een wat van hom verwag is, was terselfdertyd heerlik en neerdrukkend. In die verlede kon hy altyd wegvlug van sy eie wêreld na die veeleisende maar tog vriendelike, huislike lewe; net soos hy andersyds ook weer die verveligheid van die huislike lewe kon vryspring in sy gedagtewêreld. Maar nou is daar net één uitweg: sy eie. En toe besef hy dat die alleenheid, wat altyd gepaard gegaan het met sy verbode lewe en effens op die agtergrond gebly het, nou altyd by hom sal bly. Die gevoel is beklemtoon toe dit aand word en die ligte van die trein met dowwe flikkerings begin brand. Hy het in die kolle wat die donker skaduwees verby die venster flits, en in die eensame haltes en verlate stasietjies, ’n ooreenkoms met sy eie eensaamheid gevind. Toe die kondukteur sy kaartjie vra en hy dit nie dadelik kon kry nie, en bars beveel word om gou te maak, was daar geen krag agter hom, geen selfstandige verset teen die onregverdigheid nie, en geen selfvertroue waarop hy enige vertoon van manhaftigheid kon vestig nie. Maar ten spyte van daardie hulpelose gevoel was daar ook ’n besef van ’n heerlike gevoel van vryheid. Al sy toekomstige optredes is van nou af aan op eie rekening. Dit gee aan die nietigste voorwerp en geringste gebeurtenis ’n besondere waarde. En hy het ’n nuwe belangstelling gevind in die mense op die trein, en ’n genot in sy inpassing in die ritueel van beddegoed kry en gaan slaap en eet; en ook in sy eie gedagtes, wat nie meer skugter is nie, maar ontketend en vry.

Maar die verdwyning van die verbode lewe, teenoor die behoud van die alledaagse en onmiddellike, het terselfdertyd die misterieuse en romantiese aspek van dinge laat verdwyn, sodat hy tóg iets in die proses verloor het.

Die eerste paar dae op skool was ’n moeilike tydperk. Die klasse was onverstaanbaar en die onpersoonlike atmosfeer iets waaraan hy met moeite gewoond geraak het. Maar hy het geleidelik aan die gang gekom, en hom met ongewone erns toegelê op sy werk. Om te slaag, en goed te slaag, het sy uiteindelike doel geword. Alle dinge het in vergelyking daarmee onbelangrik gelyk. Dit het geblyk uit die houding van die kinders en die onderwysers. Daar was geen plek vir enigiets anders nie. Self die verrigtinge buite die skoolure, soos debatsverenigings, lees, vermaak en musiek, het altyd plaasgevind teen daardie agtergrond: hoe pas dit in by die studietye, is al die huiswerk alreeds gedoen, is die toneelstuk ’n metode om die voorgeskrewe boek makliker onthoubaar te maak? Daarteenoor was georganiseerde sport van die allergrootste belang. ’n Sekere groep, wat nie voldoende aandag aan alles kon gee nie, moes kies tussen die twee. Aangesien Colet geen besondere talent in hierdie laaste rigting getoon het nie, moes hy hom by die eerste groep skaar en daar homself met alle mag laat geld.

Hy het gou agtergekom dat daar nie plek vir die alleenloper was nie. Nie alleen het die onderwysers alleenlopery met allerhande siniese aanmerkings ontmoedig nie, maar die seuns het self ’n besondere vermoë gehad om die wanaangepaste se lewe ondraaglik te maak. Die verskil tussen hierdie lewe en die vertroetelde bestaan by die huis was so opvallend dat hy in sy poging om suksesvol te wees, uit sy pad gegaan het om alle bande met die verlede te verbreek. Sy herinnerings daaraan het derhalwe al dadelik vervaag, maar ook die persone daaraan verbonde het, in hierdie nuwe milieu, heeltemal anders voorgekom. Party aande het hy gelê en dink: “Ek was darem ’n eienaardige klein skepseltjie gewees. ’n Pure vroulike klein gesiggie.” As hy soms aan Johan dink, het hy hom só geskaam oor wat hy alles gesê en gedoen het dat hy bewustelik van hom probeer vergeet het. Die beeld van juffrou Du Toit het ook vervaag, en hy het moeite gehad om selfs te onthou presies hoe sy gelyk het. Suzanne en Theuns het begin word soos meubelstukke: hy is geheg aan hulle en skryf gereeld vir hulle, maar verder het hulle geen besondere betekenis meer nie. Van almal, snaaks genoeg, was dit slegs Agnes aan wie hy telkemale gedink het. Op skool het jong meisies ’n besondere plek in die gedagtes van die seuns ingeneem. Hy het baie stories van sy maats gehoor oor hoe hulle met een of ander “kat” gevry het. Elkeen het ’n besondere ondervinding gehad om te vertel. Agnes was sy enigste. Hy het allerhande versinsels bygedink in sy vertellinge, en dit naderhand self geglo. Die herinnering aan haar fris skooldogterfiguur het die nodige prikkeling ingehou, en hy het heelwat ander Agnesse ontmoet met tiekie-aande en, soos al die ander seuns, lawwe dingetjies begin sê en onder allerhande voorwendsels onbeholpe soentjies gesteel en hande vasgehou in die bioskoop.

Die bioskoop het ’n belangrike plek in sy lewe ingeneem. Dit was ’n gereelde Saterdagse instelling. Hy het altyd na dieselfde skouburg gegaan, ongeag watter prent vertoon is, en saam met sy maats heel agter in die saal gesit. Hy het hom verlustig in die sagte tapyte, die harige sitplekke, die yskoue limonade, die gesoute grondboontjies, die pakkies twintig Flag-sigarette en die gevoel van verwagting as die donkerte meteens toesak en alle aandag gevestig word op die flikkerende wit letters wat meteens op die doek verskyn. In die ry voor hulle het gewoonlik ’n klomp jong dogters gesit: ’n veelkleurige streep giggelende, welriekende, geverfde, gretige bondeltjies seks. As alles stil is, en almal se oë gevestig is op die ontvlugtingstonele op die doek, het hulle hulle hande stadig deur die openings tussen die stoele laat gly en aan sagte lyfies geraak wat rillend meegee en met ingewikkelde wentelings deelneem aan die spel. Gedurende pouses het hulle uitgegaan en in die skel lig van die son groot stukke roomys verslind en in groepies rondgeloer na dieselfde meisies, wat nou maak asof hulle hulle nie meer ken nie, en hulle rûe draai op die verspotte aanmerkings en tog, met dieselfde draaibewegings, uitnodigings stuur en beloftes sein vir verdere proefnemings in die donker.

Hy het ook, soos al die ander seuns, volgens sekere maatstawwe gehandel, gepraat en gedink: die linkerhand altyd in die broeksak, die stem effens hard en trekkerig en deurspek met “slang”-woorde, algehele onverskilligheid teenoor sentimentele aandoenings en “dieper” dinge, fanaties getrou aan ’n kode wat terselfdertyd selfpynigend en sadisties was. Hy het elke oggend, winter en somer, ’n koue stortbad geneem – selfs toe die krane toegeys was en die water traagdruppend uit die nou gaatjies gekom het. Hy het agter die swembad deelgeneem aan ’n vuisgeveg met ’n seun wat, na noukeurige oorweging, swakker as hy was. Hulle het sulke gevegte “rough and tumble” genoem, en het enige hou toegelaat: hoe woester, hoe nader aan die standaard wat geverg word. Sy opponent het sterker geblyk as wat hy voorgekom het, maar Colet het hom onverwags gepootjie en toe op hom geval. Terwyl hy hom met sy groter gewig vasgelê het, het hy met sy vuiste aanhoudend geslaan op ’n lip wat naderhand heeltemal opgeswel was, totdat die ander een ingegee het. ’n Week later het hy dieselfde ondervinding deurgemaak en in die oomblik se pyniging tóg die vreugde gevoel van iemand wat ’n noodsaaklike inisiasie deurgaan en in die proses tot ’n hoër sfeer toegelaat word.

Hy het ook geleer dat ’n medeskolier nooit verklik word nie. As iemand iets verkeerds gedoen het, het die onderwyser almal gestraf sonder dat daar ooit ’n woord gerep is oor wie die skuldige is. Aan die ander kant is daar van elkeen verwag om dadelik te erken as hy iets verkeerds gedoen het en sy pak te staan: die hoeveelheid houe was terselfdertyd ’n maatstaf waarvolgens sy aansien verhoog is.

Gedurende die vakansies, wanneer Colet huis toe gegaan het, het hy sy nuwe persoonlikheid slegs ’n kort tydjie behou. Op die plaas, as die onmiddellike herinnerings afgeneem het en hy blootgestel was aan Suzanne se klein opofferinkies en deel geword het van die huisroetine, het dit vervaag en het hy in ’n soort lugleë ruimte oorgebly. Al die ou plekke en assosiasies was daar, maar hy kon hom nie meer daarin terugplaas nie, sodat hy gedurig rondgedwaal het en nooit presies geweet het wat om met homself aan te vang nie. Juffrou Du Toit was nooit daar met vakansies nie; slegs haar kamer het eenkant in die huis toe gestaan. Hy het een middag daarin gegaan toe Suzanne-hulle weg was, en die deur agter hom toegemaak. Hy het op die skoonopgemaakte bed vir ’n rukkie gelê en kyk na die leë kas en die spieëltafeltjie, sonder om juis ’n bepaalde gevoel te kry. Nou en dan het hy tekens van haar bestaan gesien: ’n skoen eenkant langs die bed vergeet, ’n jas teen die deur en ’n ou handsak bo-op die kas. In sy gedagtes het hy beelde van haar opgetower en ’n ooreenkoms gevind met ’n paar filmsterre. Dan het hy ’n onkeerbare drang gevoel om homself aan haar te toon, nie soos sy hom eers geken het nie, maar soos hy nou is: iemand wat al grootgeword het, wat die klappe van die sweep ken – wat al van meer weet as net hand-vashou. Hy het toe skielik van die bed af opgestaan en op ’n papiertjie geskryf: “Ek was hier in die kamer. Volgende keer sien ons miskien mekaar. Dan sal die leerling wys dat hy al baie geleer het.” Hy het die papiertjie sorgvuldig onder die kussing gesit en die lakens, onder die komberse, verkreukel sodat, as sy sou terugkom, sy kon weet dat iemand daar was.

Eenkeer het hy in sy kas gekrap en die gehawende oorblyfsels van Coral Island daar uitgehaal. Die boek het net ’n vae herinnering by hom gewek, maar was op een of ander manier in so ’n mate ’n simbool van sy vroeëre gebondenheid dat hy dit stukkend geskeur en die stukkies in die eetkamerkaggel verbrand het. Maar toe hy later van Suzanne hoor dat sy ou kombers weggegee is aan een van die bediendes, het ’n onkeerbare gevoel van weemoed hom heeltemal oormeester.

Toe hy eendag na die rivier gestap het waar hy en Agnes geswem en waar hy en Johan die aand gelê en gesels het, het alles vreeslik klein en gering gelyk en hy het opnuut skaam gekry oor sy geselsery met Johan, sodat hy nooit weer daarnatoe gegaan het nie, en boonop alles in sy vermoë gedoen het om alle plekke te vermy wat hom aan sy jare op die plaas herinner het.

Toe hy sy matriekjaar op skool begin het, het die moontlikheid van suksesvolle eksamenuitslae die belangrikste oorweging geword. Sy Afrikaans-onderwyser het in sy opstelle en in sy algemene taalkennis sekere moontlikhede gesien, en hom só aangemoedig dat hy gevoel het dat die grootste roeping in sy lewe was om die hoogste simbole in tale te kry. Noukeurig gelei in daardie rigting, het hy allerhande uitknipsels uit tydskrifte in verband met taalkunde gemaak, en heelwat gevorderde boeke gelees om sy algemene kennis van letterkunde en kultuurgeskiedenis te verhoog. Aangesien niemand anders in die klas ooit sulke werke gelees het nie, het dit sy gevoel van eiewaarde verhoog en hom verder aangespoor, alhoewel hy nie alles verstaan het nie en net bekend wou wees as iemand wat dit gelees het. Na aanleiding van sy sukses in hierdie rigting het hy sy opstelle so anders as moontlik begin skryf, tot groot vreugde van sy onderwyser, wat in die afwykings vae tekens van letterkundige vaardigheid gesien het.

Al hierdie dinge het ook meegebring dat hy ’n roepingsbesef ontwikkel het. Hy sou miskien eendag ’n groot skrywer kon word. En terselfdertyd het hy saam met die ander matriekseuns oorgeskakel na ’n ernstiger en voorbeeldiger bestaan. Dis asof almal in matriek heeltemal vervel het, en vaarwel kon sê aan die tradisionele patroon, en ander standaarde met die grootste gemak kon aanneem. Party van sy maats het in die eerste rugbyspan gespeel, ander het prefekte geword of leiers van hierdie of daardie verenigings, en hulle ook dienooreenkomstig in hulle houdings en maniere aangepas by die een of ander uitkyk op die lewe wat hulle ontwikkel het. Hulle het meer begin gesels oor wat hulle ná die skooljare sou doen en aktief belang gestel in wat in die wêreld gebeur. Volwassenheid het ook ’n ander betekenis gekry as wat hulle eers geken het, en hulle hele voorkoms het mens die indruk gegee van mense wat skoon gewas en skoon aangetrek is. Colet self het sy geestestoestand ontleed en dit gemeet aan regte, goeie, aanvaarde standaarde en gevind dat, afgesien van jeugherinnerings, wat van geen waarde meer is nie, hy geen besondere doel of rigting het nie, behalwe sukses met sy werk en die verdere uitbreiding van sy skryftalent. Maar dit was nie genoeg nie. Hy het iets meer gesoek; sekere geestelike inhoude waarna hy kon leef. Dit het hy toe probeer vind in godsdiens, terwyl die ander in politiek, skoolsake of die verenigingslewe belang gestel het.

Hy het by die CSV aangesluit en die weeklikse kringe baie getrou bygewoon. Daar was iets in die selfontledende aspek van godsdiens wat goed ingepas het by sy natuurlike neiging in daardie rigting. In die aande as hulle in die helder verligte kamer die Bybel lees en allerhande pamflette oor die gebed en die godsdienstige lewe voordra, en dan met onbeholpe, swaar sinne oor allerhande abstraksies bid, het hy ’n plesier daarin gevind soortgelyk aan dié van daardie dae toe hy en Johan gaan stap het; met die verskil, egter, dat hierdie vorm daarvan nie alleen toelaatbaar is nie, maar ook opheffend en kragtig, sonder ’n gevoel van onwerklikheid of ’n vermoede dat hy met iets verkeerds besig is.

Maar daar was ’n steekhoudendheid in sy samestelling wat godsdiens ’n las gemaak het. Hy het sy gedagtes noukeurig ondersoek en elke verkeerde ding soos ’n onkruid verwyder. Dit het meegebring dat hy heeltemal styf en stokkerig in sy denke geword het. Enige gedagte wat hom die geringste plesier gee, het hy sorgvuldig getoets, gewoonlik iets wêrelds daarin gevind en dit dienooreenkomstig verban. Hy het sy grootste vyande met liefde probeer bejeën en ’n behae daarin geskep om allerhande vergewende gedagtes teenoor hulle te koester wanneer hulle hom te na kom. Waar hy in die verlede daarvan ontslae sou geraak het, het sy woede nou so opgekrop, met een of ander oortreding teen hom, dat hy heeltemal ’n hoofpyn gekry het in sy poging om dit te onderdruk. Dan het hy gebid en probeer om in die gebed, deur die herhaling van sekere woorde oor en oor, die opdamming in hom te verlig. As hy soms in sy kuisheid stilletjies gevoel het dat hy wegdwaal van iets lewends en skeppends in homself, en gewonder het of dit alles die moeite werd was, het hy só skuldig gevoel dat hy twee keer so vasberade tot sy vorige insigte gekom het, en dan die smal paadjie só kleurloos gemaak dat hy met moeite kon glimlag of luister na ’n grap wat iemand hom vertel.

Eendag het hy een van George Wallace, die opwekkingsprediker, se dienste in die stad bygewoon. Die saal was vol jong mense van sy eie ouderdom en die preek was spesiaal geadverteer vir die jeug. Die gesangboekies is uitgedeel deur laggende jongmans by die deure en in die gangetjies tussen die sitplekke. Daar was iets in hulle voorkoms wat hom aan Johan laat dink het. George Wallace het op die verhoog gekom met ’n breë glimlag op sy gesig. Met opgehewe hande het hy hulle toegeroep: “Ek wil hê julle moet lag en sing. Wys vir die wêreld dat ’n Christen ’n vrolike mens is. Sing! …” En hulle het die een lied na die ander gesing, totdat die ekstase van George Wallace en die jongmans weerspieël is in almal. Oral waar hy kyk, het almal met laggende gesigte gesit. Die godsdienstige ekstase was eers so vreemd dat hy effens huiwerig was, totdat hy naderhand self kon voel dat hy ook besig was om in die algemene jubeling te deel. Hulle het na elke woord van die prediker geluister en hulle gemoedere volkome ingeskakel op elke boodskap. Van ’n stem, half-fluisterend en vol van ’n sagte en verskriklike veroordeling, het hulle gehoor van sekere dinge tussen mans en vrouens, en siektes wat dit meebring, en ewige skande en verderf; van die aanloklikheid van die wêreldse dinge, beskryf in helder kleure en ryklik verdoem tot ondergang; van die stryd van die jongman in ’n sondige wêreld en oor die oordeelsdag wat, volgens alle gegewens, net om die draai is – sketse van ’n vaal, bleek wêreld waar jy soek na jou naaste en hom nie vind nie; die merk van die Duiwel, wat die uiteindelike veroordeling voorspel; die spot en hoon en vervolging wat die Christen moet verdra … laat in die aand, onder die brandende lig. As Colet sy oë op ’n skrefie toemaak, kan hy die stralekrans om die spreker se hoof sien; en as sy oë heeltemal toe is: al die swart en die kleure van die verdoemenis. Dan skielik verander die prediker en roep hulle weer tot vreugde, en hulle lag en sing en jubel met gloeiende gesigte – swaar onder die drukking van die sondebesef en die skuldgevoel in hulle harte.

Die erns waarmee hy alles benader het, het nie alleen geblyk uit sy gedrag nie, maar ook in sy werk. Hy het alle plesier tot ’n minimum beperk en tot laat in die aande gewerk. Maar binne-in hom het sekere magte gedwing om hom af te lei van die sorgvuldig gebaande pad. Hy het allengs bewus geword van ’n onrusbarende neiging in hom om alles wat hy so sorgvuldig opgebou het, af te breek. Dit was gelyk aan daardie dwarstrekkerige gevoel van die verlede, toe hy ’n situasie kon bederf deur ’n verkeerde ding te sê of te doen, terwyl hy die hele tyd die implikasies daarvan besef het. Selfs as die godsdienstige ekstase op die hoogste was, het hy lus gekry om allerhande lasterlikhede uit te skreeu; as hy op sy voorbeeldigste was, het hy daaraan gedink om ’n lae, vuil en gemene ding te doen. Alhoewel dit nooit tot iets gelei het nie, het hy naderhand gevoel dat hy nie alleen in staat was om dit die hoof te bied nie: hy moes iemand vind aan wie hy sy vertwyfelings kon meedeel. Gedurende daardie dae het ’n rondreisende sekretaris van George Wallace by die koshuis aangekom, sy adres in die stad verskaf, en hulle meegedeel dat hy die volgende week daar sou bly om die probleme van die jongmans aan te hoor en, waar moontlik, leiding te gee. Colet het gevoel dat die sending spesiaal vir hom bedoel was, en het hom voorgeneem om hom een aand in sy kamer te besoek en sy moeilikhede met hom te bespreek. Hy het eers nie die moed gehad nie, en dit gedurig uitgestel, maar toe een aand, net voordat die man sou weggaan, sy moed bymekaargeskraap en gegaan.

Die eerste wat hy opgemerk het toe hy die deur oopmaak, was die brandende kaggel teen die muur, ’n paar kussings op die vloer en ’n heerlike leunstoel, wat alles warm en intiem daar laat uitsien het ná die strakke onpersoonlikheid van sy eie kamer met die koshuismeubels.

Toe hy aarselend in die deur bly staan, kom ’n skraal, donker kêreltjie te voorskyn uit die hoek van die vertrek.

“Kom in, vriendjie,” sê hy en neem Colet aan die arm en lei hom tot in die middel van die kamer. “Ek is bly dat jy gekom het. Daar was vanaand ’n hele klomp seuns hier gewees. My werk hier was werklik geseënd: die hele week al het hulle gekom, by die dosyne.”

Vir Colet is dit ’n teleurstelling. Alhoewel dit heeltemal verstaanbaar en goed was, sou hy darem verkies het dat hy die enigste een dié aand gewees het. Die ander klomp wat daar was, het dit effens die aanskyn gegee van ’n publieke byeenkoms.

Terwyl hy nog rondstaan en nie heeltemal kan besluit wat om te sê nie, sê die sekretaris terwyl hy hom aan die arm vat: “Sit op die vloer, vriendjie. Op die kussing. Ons sit almal gewoonlik op die kussings – dis so lekker warm en gesellig.” Toe hulle sit, sê hy: “Noem my Daniël – al die seuns noem my Daniël. En wat is jou naam?”

“Colet.”

“Nou kyk, Colet, sal ons maar begin met ’n gebed?” En sonder om te wag, slaan hy dadelik oor na ’n gebed en bid spesiaal vir die vriendjie wat ook vertroosting in ’n sondige wêreld soek. Toe hy klaar gebid het, kyk hy baie skerp na Colet, buk dan vooroor, gooi ’n stomp op die vuur en sê, terwyl hy wegkyk: “En toe, het ons ’n moeilikheid, iets op die hart?”

Colet skuif onrustig rond en klem sy hande vas in ’n poging om presies te sê wat sy moeilikheid is. Maar voordat hy nog iets kan sê, hoor hy die stem van die sekretaris wat opeens skerp geword het en die vraag uitslinger met skielike geweld: “Is jy ’n kind van die Here?”

Colet se oë is angsvol op hom gerig. “Ek … weet nie,” sê hy.

En meteens kom die antwoord: “As jy nie weet nie, is jy nog nie ’n kind van die Here nie.”

Die stem het weer sag en meewarig geword, asof hy, arme sondaar, diep bejammer word. En toe, sagter: “Wat is die moeilikheid?”

“Wel,” sê Colet, “ek lees my Bybel en ek gaan gereeld kerk toe, maar … ek voel … dat alles nog nie reg is nie.”

Hy kan daardie afwykende gevoel nie in woorde stel nie, maar hy dink: hy sal seker weet wat ek bedoel …

Die sekretaris trek die kussing onder hom geriefliker en kyk Colet forsend aan asof hy aan sy uiterlike die simptome wil agterkom. Al wat hy sien, is ’n skaam seun met ’n sensitiewe gesig en mooi oë. In die stilligheid dink hy: Wat kan dit wees? Meisies, selfbevlekking …? Maar hy sê: “Jy soek, nè, vriendjie? Maar jy kan nie heeltemal kry wat jy soek nie?”

Colet voel meteens dat die man begryp – soos Johan.

“Ja,” sê hy. “Ek doen alles … ek probeer alles reg doen, maar … ek is nie gelukkig nie, nie tevrede nie … ek voel dat ek nie alles is wat ek moet wees nie – dat ek iets kortkom; iets belangriks.”

’n Oomblikkie is daar stilte in die kamer. Net die geknetter van die vuur kom uit die kaggel.

“Daar is twyfel in jou gemoed, nè? Jy voel nie heeltemal gelukkig nie? Jy probeer die Here vind, maar daar is iets wat hinder.”

“Ja,” sê Colet.

“Nou kyk,” sê hy, “bid jy gereeld?”

“Ja,” sê Colet.

Die sekretaris kyk hom stip aan, dan sê hy weer soos vantevore, met ’n skielike verskerping van sy stem soos ’n dokter wat met ’n mes sny. “Doen jy nie miskien iets, in die stilligheid, waarvan niemand weet nie, wat … sondig is in die oë van die Here?”

Toe Colet stilbly, dink die man by homself: Dis natuurlik die moeilikheid.

“Jy weet dis sonde, nè?”

Colet kan nie heeltemal begryp wat hy bedoel nie, en skud net sy kop.

“Kom, laat ons saam bid.”

Terwyl hy vir Colet bid, hou hy nie sy oë toe nie, maar kyk stip na hom. Hy vra die Here om die vriendjie uit sy besondere moeilikheid te red, sy gedagtes stil te maak en sy hand te onthou van daardie verkeerde dinge wat hy doen, waarvan niemand anders weet nie, maar wat Hy in Sy almag kan sien.

Toe hy klaar is, vra hy Colet om te bid. Maar Colet voel dat die wêreld stilstaan en dat hy geen woord kan uitkry nie. Hy het meteens ’n gevoel van afsku en haat teenoor die man voor hom gekry. Hy het nie eens probeer om deur sy gewone toepassing van beginsels die haat uit homself te verwyder nie, maar eenvoudig aangeneem dat daar geen redding is nie. Hy, Colet, sal nooit verstaan wat hom kortkom nie – en niemand sal hom verstaan nie. Daar is nie plek vir hom nie. Hy sal self alles moet regkry. Op sy eie manier. En toe hy begin bid, kom sy woorde stamelend, want hy weet nie heeltemal wat om te sê nie: hy vra net om verlossing en krag.

Toe hulle opstaan, kyk die sekretaris op sy horlosie en sê: “Sterkte, vriendjie. Ek sal vir jou bid.” En hy tel eenkant van die tafel af ’n pamflet op en gee dit vir Colet. “Lees dit vanaand as jy gaan slaap.”

Toe die deur oopgaan, is dit vir Colet of die barre mure en die koue, kaal gang iets skoons en eenvoudigs inhou ná die warmte en klewerigheid van die kamer. Toe hy in sy eie kamer kom en die lig aanskakel, kyk hy na die pamflet in sy hand. Daarop, in groot swart letters, lees hy: “Hoe om te bid.” Hy kyk vir ’n oomblikkie daarna, en voel skielik ’n swaar, drukkende gevoel in sy bors opwel. Hy gooi dit meteens op die vloer. “Die bastard … die … bloody bastard!” Hy skeur al die vloekwoorde los – al die woorde wat hy in die laaste jare nooit gebruik het nie. Die trane loop uit sy oë en hy skreeu met ’n hees stem, wat nie verder trek as die deur nie, maar wat myle en myle teruggaan en alles in hom oopskeur. Terwyl hy op die bed lê, nadat hy tot bedaring gekom het, sê hy oor en oor vir homself: “Daar is geen uitweg nie. Ek is vervloek. Ek is bestem vir die hel. Daar is geen uitweg nie. Ek is vervloek.”

In die koue lig van die volgende môre het die vorige aand vér en anders voorgekom. Die selfveroordeling het verdwyn, asook die intensiteit van die gevoel. Al wat oorgebly het, was daardie leegte in hom, groter as ooit, maar hy het dit weggesteek in sy werk en die baie ander aktiwiteite van ’n matriekseun. Daar was altyd die moontlikheid dat hy maar net in ’n sekere stadium verkeer en alles later vanself sou regkom.

Teen die einde van die jaar het die eksamen aangebreek en het die matrieks begin skryf. Colet was ’n tintelende, gespanne bol kennis en hy het gevoel, terwyl hy skryf, aan die beheerste vaart waarmee sy pen oor die papier vlieg en die geordende vloeibaarheid van sy gedagtes, dat hy baie goed doen. Die einde van die kwartaal het die skoliere vir oulaas vergader en is klasportrette geneem en formeel vaarwel aan die matrieks gesê. Colet moes die afskeidstoespraak hou. Hy het die vorige paar dae gevleuelde sinne op ’n stuk papier neergeskryf en dit uit sy kop geleer. Aan die see van gesigte het hy gesê dat almal nou aan die begin van hulle loopbane staan, aan die begin van hulle onderskeie weë, en dat die goeie invloed van die skool, die lewe daar, en die onderwysers, wat altyd hulpvaardig was, alles bygedra het om hulle te bewapen vir die stryd wat voorlê. Die brandende fakkel neem hulle nou oor en sal dit altyd getrou brandende hou, gedagtig aan die tradisies van die skool en daardie goeie dinge wat hulle daar gekry het. Toe het die prinsipaal aan die woord gekom en groot dinge in die verskiet vir almal gesien, en die hoop uitgespreek dat die lesse nooit vergeet sou word nie en dat die naam van die skool altyd in ere gehou sou word.

Daarna, onder luide hoera’s, het hulle uitgemarsjeer en een vir een vir oulaas gewuif toe hulle by die deur uitgaan.

Die eerste siklus

Подняться наверх