Читать книгу Die eerste siklus - Etienne Leroux - Страница 8
HOOFSTUK V
ОглавлениеDaar was nog ’n maand oor voor die lang somervakansie. Suzanne het berig ontvang dat ’n kleinneef van haar, van die Kaap, ’n jong argitek, by hulle sou kom kuier. Sy het hom lank gelede gesien en was baie in haar skik met sy voorgenome koms. Soos sy herhaaldelik vertel het, behoort hy aan die kunssinnige sy van haar familie; al die Marais’s van daardie besondere sylinie het al op een of ander gebied van die kunste sekere belowende neigings getoon. Johan, die jongste spruit, ’n gesogte jongkêrel van omtrent dertig, het die meeste belofte getoon en het alreeds heelwat sukses in sy besondere rigting behaal. ’n Sekere mate van “eienaardigheid” (soos sy self met ’n begrypende glimlag meegedeel het) was natuurlik te wyte aan sy artistieke samestelling en Theuns het plegtig belowe om nie gek te skeer met sy effens verwyfde houding en belangstelling in fynere dinge, waaraan hy, Theuns, natuurlik nie gewoond is nie. “Hy sal ’n goeie maat vir Colet wees,” het sy gesê. “Hy is natuurlik heelwat ouer, maar Colet sal nog baie van hom kan leer. Colet is ook sensitief – hy neig definitief na die Marais’s; ek dink dit sal ’n goeie ding wees, veral noudat hy na ’n groot skool toe moet gaan.”
Colet het intussen heeltemal teruggeval in sy vroeëre teruggetrokke en stuurse houding. Dit was ’n bietjie vreemd vir Suzanne, wat in die laaste tyd ’n verandering in hom opgemerk het na aanleiding van sy belangstelling in die Bybel en sy poging tot opregtheid. Sy het sy poging tot verbetering toegeskryf aan die praatjie wat sy met hom gehad het, en het gevoel dat dit miskien goed sou wees om weer so ’n geselsie met hom te hê; hierdie keer ook in verband met sy persoon, maniere en algemene voorkoms.
Sy het met juffrou Du Toit daaroor gesels.
“Ek kan Colet nie verstaan nie. Dit het vir ’n rukkie gelyk asof hy begin regkom, maar in die laaste tyd is hy weer heeltemal onmoontlik. Ek kry hom byvoorbeeld nou die dag in die slaapkamer op die bed. Hy het op sy knieë gesit en was besig om reg voor hom op die kombers te kyk sonder om ’n woord te sê. Hy het weer daardie ou baadjie met die stukkende moue aangehad, en daardie ou paar skoene wat al heeltemal uitgetrap is en waaroor ek al herhaalde kere met hom gepraat het. Toe ek vir hom vra wat hy doen, was hy net stuurs. En jy weet, juffrou, hy was darem nog nooit in die verlede onbeskof nie. Ek het hom darem goed afgeransel,” voeg sy by.
Hulle het in die sitkamer gesit nadat Colet gaan slaap het.
“Dit is natuurlik ’n moeilike stadium hierdie vir ’n kind.”
Juffrou Du Toit ontwyk Suzanne se oë en brei ’n bietjie vinniger, soos haar gewoonte is as sy iets interessants lees of aan iets belangriks dink.
“Ja, maar … ek dink nie dit is natuurlik nie. Ek het nie sulke stadiums deurgegaan nie. In my tyd het kinders natuurlik grootgeword. Jy weet, mens kan ’n kind ook bederf. Veral as jy toelaat dat hy te veel aandag aan homself gee.”
Juffrou Du Toit kyk meteens na haar waar sy teen die tafel sit, op die plek waar Colet gewoonlik sit; haar gebruiklike stywe houding, haar mooi maar doellose blou oë en haar hulpelose mond. Colet is nie jou kind nie, dink sy. Nie joune of Theuns s’n nie. Maar sy sê: “Mens moet geduldig wees, mevrou. Met kinders van sy sensitiwiteit …”
“Hy is sensitief, is hy nie?” Dis asof Suzanne ’n spesiale betekenis aan die woord heg, asof dit ’n aanbeveling is – ’n troos in die moeilike omstandighede.
“Dit is hy definitief.” Juffrou Du Toit sit haar breiwerk neer. “Kyk, ek kom elke dag met hom in aanraking op ’n besondere manier. Hy openbaar dinge, u weet, in die skool, in die omgang, wat u miskien nie raaksien nie.” Sy besef onmiddellik haar fout. “… wat u nie die geleentheid het om te sien nie,” probeer sy die situasie red.
Suzanne sit meteens regop. “Ek dink,” sê sy, “ek dink ’n moeder is nader aan haar kind as … enigiemand anders. Sien, ek ken hom van kleins af. Ek het hom grootgemaak. Ek weet net wanneer hy seer voel, en wanneer hy gelukkig is.” Dan verslap sy amper onmerkbaar. “Colet is nie gelukkig nie.”
Juffrou Du Toit aarsel effens, en sê: “Miskien is hy ’n bietjie verward. U weet … op hierdie ouderdom is hulle vatbaar vir indrukke. Maria, byvoorbeeld, was ’n slegte invloed. En ag, daar is nog baie ander dinge … selfs meisies van sy eie ouderdom sal hom ook baie omkrap. Nie dat daar ooit iets verkeerd is nie, maar hy soek seunsgeselskap. Daarom is dit reg dat hy na ’n groot skool gestuur word, na ’n seunskool.” Sy wag ’n oomblik, en sê dan met ’n stem waarin die skemering van hoop nie verberg word nie: “Tensy u dink dat dit beter sal wees as ek net vir hom skoolhou. U weet, selfs dogters soos Joan … en Agnes werk soms steurend.” Haastig: “As hy eers ouer is, is alles reg …”
“Nee. Hy sal moet gaan. Ek dink nie Theuns kan dit bekostig om ’n onderwyseres net vir een aan te hou nie …”
“Dit was glad nie my bedoeling nie, mevrou – ek het maar net gedink … as julle hom nog graag naby julle wil hê. U weet, as ’n kind eers op kosskool is, is hy finaal uit die huis uit.”
“Dis waar, ja,” sê Suzanne. “Maar dit kan nou nie anders nie.” By haarself dink sy: Ek wonder hoekom sy so graag vir hom alleen wil skoolhou? Miskien hou sy baie daarvan om hier op die plaas te bly. As mens daaraan dink dat sy inwoning en alles verniet kry, is dit geen wonder nie. Die lewe in ’n stad is baie duur. Sy kan ook ’n goeie huwelik hier op die platteland doen. Hier is baie ryk jong boere. Sy kry skielik ’n plan. “Juffrou,” sê sy, “hoekom doen jy nie aansoek vir ’n pos hier op De Kleinskool nie?” Sy leun oor die tafel. (De Kleinskool is ’n plaasskool ’n entjie van die Van Veldens af.) “Dan kan u by ons bly.” Sy voel meteens baie vrygewig.
“Ek is seker daarvan dat Theuns dit sal verwelkom, en dit sal u niks kos nie.” ’n Bietjie versigtig, nadat praktiese oorwegings weer die botoon voer: “Sien, ons gaan so baie weg. Dit sal goed wees as iemand pal in die huis bly, en die huis, jy weet, aan die gang hou.”
Juffrou Du Toit sit ’n rukkie besluiteloos en knik dan oplaas toestemmend op ’n wyse wat vir Suzanne heeltemal vreemd voorkom.
Johan Marais het ’n week daarna op die plaas aangekom. Theuns en Suzanne het hom op die stasie gaan haal. Colet het by die huis gebly en moes, na vele gesukkel van Suzanne, sy beste klere aantrek. Toe hulle die huis inkom, was Colet dadelik bewus daarvan dat Johan geheel en al anders is as iemand wat hy nog ooit gesien het. By die eerste aanblik het Johan ’n onbepaalbare gevoel by hom gewek, baie soos die gevoel wat hy kry as hy op iets vreemds afkom, wat dadelik, sonder rede, alreeds die belofte inhou van interessante verwikkelinge. Suzanne was so gaande oor sy teenwoordigheid dat sy die hele geselskap in beslag geneem het, met die gevolg dat Colet hom na hartelus kon dophou sonder om aandag na homself te trek.
Johan was ’n lang, donker kêrel. Amper soos Colet hom voorgestel het dat daardie “kêrel” van Maria in die weeshuis moes gelyk het. Maar tog was daar iets in hom wat heeltemal vreemd en onbekend was. Hy was ongetwyfeld ’n mooi man: sy oë was bruin, sy hare donker, sy figuur goed gevorm volgens al die tradisionele opvattings. Maar daar was iets in die kleur van sy oë wat anders was, asof die bruin gemeng is met die vog van die oë sodat dit gevoeliger lyk as ander mense s’n; daar was iets omtrent sy vel wat, alhoewel dit sonder enige merk of letsel was, die indruk geskep het dat iets daarmee verkeerd is – ’n onnatuurlike sagtheid en ’n neiging tot vetterigheid; ten spyte daarvan dat hy mooi gebou was, het hy tog ’n lompheid en ’n gemaaktheid in sy loop getoon wat nie heeltemal daarmee gestrook het nie.
Colet was gedurig daarvan bewus dat hy, ten spyte van die belangstellende manier waarop hy met Theuns en Suzanne gesels het, effens afgetrokke in sy houding teenoor hulle was, asof hy welvoeglikheidshalwe saamgesels terwyl hy nie werklik belang stel in wat hulle sê nie. Colet het ’n paar keer opgemerk dat hy in sy rigting kyk, en intenser in sy blik is teenoor hom as teenoor die ander mense. Toe Suzanne die aand ná ete vra of Johan sal omgee om in Colet se kamer te slaap, aangesien die ander alreeds vol was, het Colet so ’n gevoel van opwinding gekry dat hy nie aan die slaap kon raak nie. Hy het gelê en luister na die gedreun van stemme in die eetkamer totdat hy aan die langer tussenpose en aan die bewegings kon agterkom dat hulle wou gaan slaap. Toe het hy die lig in sy kamer weer aangesteek en hom gereedgemaak vir iets nuuts.
Toe Johan die kamer inkom, sê hy vir Colet: “O, ek sien jy slaap nog nie.” Hy gaan op die bed langsaan sit. “Hoe oud is jy?”
“Maak dit saak?” vra Colet. Die vrypostigheid van sy antwoord is terselfdertyd ’n toets of sy indrukke van Johan reg was.
Johan glimlag. “Nee,” sê hy. Dan kyk hy stip na hom asof hy in sy gesig na iets soek. “Almal vra ook seker daardie vraag. Jy weet, mens vra gewoonlik na iemand se ouderdom om vas te stel waarin hy belang stel, in watter stadium hy verkeer.”
Colet hou daarvan dat hy nie probeer om eenvoudig en kinderlik in sy gesprek te wees nie.
“Toe ek jou ouderdom was,” sê Johan, “het ek nie belang gestel in wat mense gedink het ek behoort in belang te stel nie.” Hy glimlag effens. “Waarvan hou jy?”
“Ek weet nie,” sê Colet. “Nie juis van iets besonders nie. Behalwe die Kaap. Ek is baie lief vir die Kaap en die see en die mishorings …”
Hy wag angstig om die effek daarvan op Johan te sien.
Johan se gesig verhelder. “Dis reg,” sê hy. “Het jy al ooit die basnote op die klavier gedruk en geluister …?”
“Ja …!” Colet kan die verruklike gevoel van ontdekking nie verberg nie. “Dit klink soos die vragskepe wat blaas in die nag.”
Johan staan meteens van die bed af op en gaan na die stoepdeur toe. Dit is volmaan en hy kan tot ver in die vallei af sien, tot teenaan die skaduwee van die berge. ’n Dowwe gefluit van ’n trein kom aangesweef oor die stil lug.
Hy draai om na Colet.
“Het jy geweet dat mens die liggies van die trein hier van die stoep af kan sien, as dit by ’n sekere plek om die draai kom, duskant die stasie?”
Colet het intussen van die bed af opgestaan.
“Ja,” sê hy, “ek kyk baie aande daarna. Ek voel altyd baie snaaks as ek ’n trein sien. Die ligte daarvan. Ek wonder dan waarnatoe al daardie mense gaan. So saam in die waens. En wat sal gebeur as so ’n trein moet verongeluk – hoekom dit moet gebeur, en hoekom hulle juis saam was …”
“Luister,” sê Johan, “hoekom trek jy nie jou kamerjas aan nie, dan gaan ons ’n ent stap in die maanlig. Dis lekker warm.”
Die effense gewaagdheid van die voorstel laat Colet opgewonde voel. Suzanne-hulle sal geskok wees by die gedagte om in die nag te gaan stap in ’n mens se nagklere. Dit staan amper gelyk aan sy verbode uitstappies in die Kaap – en die gevoel by hom is ’n herhaling daarvan, net op ’n ander manier: asof hy deur sy groter rypheid meer sal vind as destyds – meer as net vae, onplaasbare indrukke.
Toe hulle saggies van die stoep afklim, sê Johan: “Moenie dat Suzanne ons hoor nie. Sy is ’n vreeslike lolpot en sal miskien allerhande besware maak …”
Dis eienaardig vir Colet om iemand van Suzanne te hoor praat as ’n buitestaander, en nie as sy ma nie. Dit gee hom terselfdertyd ’n gevoel van onafhanklikheid: asof hy as ’n persoon beskou word, en nie as iemand wat slegs in verband staan met sy familie nie.
“Waarnatoe sal ons gaan?” vra Johan.
“Na die rivier,” sê Colet. Die idee is skokkend. Hy was nog nooit daar vandat hy en Agnes gaan swem het nie.
Terwyl hulle met die paadjie langs stap, val die skaduwee van die populierbome lank en spookagtig in die maanlig.
“Jy is nie bang nie, is jy?” vra Johan.
“Nee,” sê hy.
Dit is met verbasing dat hy ontdek dat hy dit nie is nie. Die skaduwees en die ongewone lig het vanaand ’n ander uitwerking op hom – dis nie ’n onbekende, gevaarlike wêreld nie, maar een wat vol romantiek is en pynigend mooi, soos illustrasies uit ou boeke, wat die werklike lewe oortref.
“Ek is bly dat jy nie bang is nie,” sê Johan. Hy swaai met sy hand asof hy die hele omgewing omhels. “Daar is niks gevaarliks nie. Voel hoe rustig is alles. Alles lê en slaap. Hier en daar kruip miskien ’n nagdiertjie rond, want vir hom is dit dag – maar hy is skadeloos: hy gaan sy gang; hy het nie lus om iemand skade aan te doen nie – seer te maak nie. Die maan is vir hom die son.” Hy buk meteens en tel iets van die grond af op. “Kyk hier,” sê hy. In sy hand lê ’n gloeiwurmpie. Die fosfor in sy stertjie gooi ’n verblindende klein liggie in sy hand. “My hand is vir hom ’n groot wêreld – ’n kloof in ’n berg.” Dan sit hy die wurmpie neer en hulle stap verder.
Colet voel asof hy nie op die plaas is nie. Johan se teenwoordigheid het dit verander in ’n verbeeldingryke, lieflike plek. Die warm aandlug teen hom het ’n besondere eienskap. Anders as in die dag, is dit lug wat jy kan vóél; dis vol en sag en liggaamlik, soos iets waaraan jy kan raak en wat ’n eie lewe het.
Hulle kom skielik op die rivier af. Die seekoeigate in die maanlig is blink spieëls tussen die riete. Hulle gaan onder een van die wilgerbome sit. Johan gesels nie, maar kyk net na die water voor hulle. Sy gesig is in die skaduwee en Colet kan nie mooi die uitdrukking daarop sien nie. Dit maak ook nie saak nie.
“Ek het ’n rukkie gelede hier met ’n meisie geswem,” sê Colet. Hier, in die aand, is Agnes nie meer ’n persoon nie, maar net ’n deel van ’n insident. En, as hy met moeite homself en haar uit die gebeurtenis haal, is dit twee ander mense, wat hy nie ken nie.
Hy hoor hoe Johan langs hom roer. “Wie is sy?” vra hy.
“Sy is ’n meisie wat saam met my skoolgaan,” sê Colet.
“Hou jy van haar?”
Colet kan aan iets in sy stem voel dat baie van sy antwoord sal afhang.
“Nee,” sê hy. Hy voel instinktief dat hy die regte ding sê. “Ek haat meisies … en vrouens.” Hy weet dat dit nie waar is nie, maar terselfdertyd is dit ook waar. Dis eenvoudig die formulering van die haat wat hy soms teenoor hulle voel, ofskoon hy in die aande nie kan ophou om aan hulle te dink nie. Hy haat nou werklik vir Agnes en vir juffrou Du Toit en vir Suzanne. Maar in sy hart weet hy dat hy by tye weer aan hulle sal dink en hulle sal begeer. Maar nie vanaand nie. Nie by Johan nie. Hy voel net dat in hierdie wêreld, so mooi en vér van alles, en so diep in homself, hulle nie tuishoort nie.
“Ek is bly,” sê Johan. Hy leun meteens oor na Colet en raak aan sy kop. Sy sterk, lenige vingers vryf deur sy hare. Die sagtheid van sy hande is anders as dié van juffrou Du Toit – dit is kalmer en sterker, en voel ook skoner en suiwerder.
“Jy kan op jou rug lê – in my arm,” sê hy.
Colet gaan in sy arm lê en sien die lug bokant hulle tussen die takke van die bome deur. Hy is bewus van Johan langs hom, en terselfdertyd ook nie. Dis ’n eienaardige, verwikkelde gevoel. Hy voel dat hy aan hom moet raak om alles te ervaar. Maar dit is nie Johan sélf nie, maar bloot sy teenwoordigheid en sy aanrakings wat van belang is – ’n instrument waarsonder hy nie die volle betekenis van die omgewing kan kry nie.
Toe Johan praat, kom hy agter dat sy eie gedagtegang weerspieël word. “Mens kan nie alleen in die veld wees nie,” sê hy. “Jy moet saam met iemand wees. Dit is té oorweldigend. Jy beleef alles deur iemand. En dit kan ’n vrou jou nie gee nie. Dis net ’n man.” Hy streel oor Colet se gesig met sy hand, en die beweging self het ’n towerkrag wat die werklikheid verban en iets in Colet oopmaak, sodat hy uit homself kom en ’n wye, universele gevoel ervaar. “Ek het ook in hierdie wêreld grootgeword,” sê hy. “Jare gelede. Ek ken elke hoekie van hierdie wêreld. Die veld en die bossies en die rantjies. As jy lus het, kan ons môre saam uitgaan, dan bly ons die hele dag in die veld en eet ons ook sommer daar.”
Hy leun meteens vooroor, sodat hy half op Colet lê.
“Dan moet jy my alles van jouself vertel …”
Die swaar gewig aan die een kant van sy lyf hinder nie vir Colet nie. Dis ’n deel van die pyniging en heerlikheid wat hand aan hand gaan.
Vir ’n lang ruk praat hulle nie, en Colet voel weer daardie lomerigheid oor hom kom as hy vry en gelukkig voel. Hy was half aan die slaap, toe Johan hom wakker skud en sê: “Broertjie – ons sal ’n ander aand in die veld slaap, as Suzanne-hulle weg is. Kom ons gaan liewer terug.”
Terwyl hulle terugstap, dink Johan aan Peterkin en Julius. By hulle is dit net teaters en kroeë. Hy het nog nooit in iemand daardie volmaakte kombinasie teengekom soos by Colet nie: die liefde, die onpeilbare gemoed, tesame met daardie frisse jonkheid en heerlike ongereptheid.
Colet het die volgende middag aan tafel opgelet dat Johan nie van juffrou Du Toit hou nie. Niemand anders, behalwe hy, het dit raakgesien nie. Hulle was baie beleef en het uit hulle pad gegaan om vriendelik teenoor mekaar te wees. In so ’n mate dat Suzanne een keer veelseggend na Theuns gekyk en hy iets in haar oor gefluister het. Ná ete het Suzanne ook met kwalik versteekte ondeundheid gevra of juffrou Du Toit nie lus voel om die plaas vir Johan te wys nie. Die stilte wat daarop gevolg het, was baie opvallend, en die een het verleë na die ander gekyk.
“Ek weet nie,” sê juffrou Du Toit met ’n gemaakte glimlag. “Mnr. Marais is ’n stedeling en hou seker nie daarvan om in die veld rond te loop nie.”
“Inteendeel,” sê Johan. “Ek is ’n plaasseun. Vra vir Suzanne. Ek het op ’n plaas grootgeword.”
“Wel,” sê Suzanne, asof alles afgehandel is, “dan pas dit net. Hy het miskien al die ou paadjies vergeet en dan kan jy vir hom wys …”
Terwyl Theuns lag, sê Colet meteens: “Johan het beloof om saam met my in die veld te gaan stap. Ons het besluit om in die veld te eet en sommer die hele aand daar te bly.”
Die onverwagtheid van die tussenwerpsel het Suzanne skoon uit die veld geslaan. Theuns wou hom net hard aanspreek, toe Suzanne sê: “Maar hoekom gaan julle nie al drie nie?”
Juffrou Du Toit, wat intussen na Colet sit en kyk het, klap meteens haar vingers asof iets haar bygeval het.
“Ek dink dit sal beter wees as Colet en mnr. Marais gaan. Ek het baie werk om vanmiddag te doen. Dis byna die einde van die jaar en daar het so baie opgehoop.” Sy kyk na Johan. “Dit is nie my vakansie nie.”
Toe hulle, met padkos en al, die middag vertrek, was sy nog steeds ferm in haar besluit om nie saam te gaan nie. Terwyl hulle stap, het Johan eenkeer omgedraai, na die huis gekyk en gesê: “Hel, ek is bly. Ek het gedink ons sou nooit wegkom nie. Het jy vir juffrou Du Toit opgelet? Dink jy sy wou saamkom?” Toe Colet nie antwoord nie, sê hy weer: “Sy is ’n snaakse mens. Ek hou nie van haar nie. Sy is net soos alle vrouens. Weet jy hoekom sy nie wou saamkom nie? Sy hou nie daarvan dat ons twee saam gaan stap nie.”
“Hoekom?” vra Colet.
Johan skop ’n klippie uit sy pad. “Dis moeilik om te sê. Ek self verstaan ook nie mense elke dag nie.”
“Ek is bly dat sy nie saamgekom het nie,” sê Colet. “Sy sou alles bederf het.”
Toe hy dit sê, slaan Johan sy arm om sy lyf en sê: “Dis gaaf van jou.” Toe bly hy ’n rukkie stil. “Maar, Colet, jy moet nie met Suzanne-hulle praat oor ons uitstappies nie. Selfs nie as hulle uitvra nie. Jy weet, mense, veral hulle tipe, het ’n manier om alles belaglik te maak. Hulle begryp so min dinge. Hulle maak alles so … gemeenplasig deur hulle handelswyse.”
Colet staan vir ’n oomblikkie stil. “Dis waar,” sê hy. “Jy weet, hulle dink hulle ken my, maar hulle weet niks nie. Ek vertel nooit vir hulle iets nie. Hulle verstaan nie.”
Die feit dat Johan dit verstaan, en selfs daarvan gepraat het sonder dat hy, Colet, dit eers genoem het, laat hom nog meer aangetrokke voel tot hom. Dis asof hy verstaan en begryp sonder dat hy iets hoef te sê.
Hulle klim die berg agter die huis uit en kom na ’n rukkie teen ’n krans by ’n groot vetboom uit wat ’n heerlike skaduwee gooi.
“Kom ons sit hier,” sê Johan.
Van waar hulle sit, kan hulle net die kloof sien. Daar is geen landerye of tekens van mense in die nabyheid nie. Colet was nog nie vantevore daar nie; die omgewing is vreemd en dit voel vir hom asof hulle nie op die plaas is nie, maar in ’n wêreld wat net vir hom en Johan geskep is. Terwyl hulle daar sit, wys Johan vir hom op allerhande dinge: die sap in die blare van die vetboom, die geur van die bossies as dit stukkend gedruk word deur hulle vingers, die skoonheid in selfs die mees ruwe, alledaagse klip, die heerlike gesuis van sonbesies in die skaduwee. Daar is kort-kort stiltes, maar hulle is nooit ongemaklik nie. As hulle begin gesels, is dit weer oor heeltemal iets anders.
Meteens vra Johan aan hom: “Lees jy jou Bybel, Colet?”
“Ja.”
“Hoekom?”
Colet aarsel ’n oomblik. “Omdat mens moet. Omdat mens daarin leer wat reg en wat verkeerd is …”
Johan se houding het intussen verander. Sy donker oë het die kleur van die skaduwees begin kry. As hy praat, lek hy sy lippe. Colet merk vir die eerste keer op hoe rooi hulle is – amper soos ’n meisie s’n.
“Ek het dit ook gelees, maar ek voel soms as ek in die veld rondstap, of alleen is, dat ek meer hier buitekant kry as in die Bybel self. Dis presies asof die Here hier nader aan my is.”
Terwyl hy dit sê, kyk hy onderlangs na Colet om te sien wat die uitwerking van hierdie afgesaagde stelling op hom gaan wees.
Die ou skuldgevoel wat ’n rukkie afwesig was, kom meteens weer te voorskyn. Maar Colet voel dat in hierdie atmosfeer alle ongeoorloofde dinge en gedagtes toegelaat word. Dis asof hy, deur ’n konvensionele ding te sê, alles sou bederf; asof sy stryd tussen goed en kwaad nie hier geopenbaar moet word nie. Hier moet hy alles sê wat by hom opkom, al daardie verkeerde, onmoontlike dinge wat hy in homself verberg.
“Ek dink,” sê hy, en probeer dit in woorde uitdruk, “ek dink alle verkeerde dinge is reg.”
Hy kyk ongemaklik na Johan om te sien wat sy reaksie sal wees. Johan se gesig is egter weggedraai, sodat hy niks kan bemerk nie. Toe hy sy kop terugdraai, is hy heeltemal ernstig.
“Ek weet wat jy bedoel,” sê hy.
En toe sê hy iets wat Colet nie heeltemal kon verstaan nie, maar waaraan hy baie jare later weer gedink het en, deur die waarheid en insig in sy eie houding, getwyfel het of Johan dit ooit werklik gesê het en of dit nie sy eie latere formulering was nie. “Goed en kwaad is ’n moeilike begrip. Daar is soms so baie wat goed is in kwaad, so baie vryheid en warm lewe, dat mens partykeer wonder hoekom ons so onnatuurlik is om dit te veroordeel. Kyk, daar is nie kwaad in die natuur nie. Selfs Christus het dit moeilik gevind om die tollenaars en die gevalle vrouens te veroordeel.” Hy bly meteens ’n rukkie stil. “Ek is nie goed nie, Colet. Daar steek baie kwaad in my. Groot kwaad. Jy sal dit miskien later agterkom. Maar ek dink nie jy sal eendag sommer veroordeel nie …”
Hierop kon Colet nie antwoord nie. Hy is so verruk deur die vertroue wat Johan in hom stel en sy volwasse manier van praat met hom, asof hy nie ’n kind is nie, dat hy nie na die woorde soseer luister nie, as na sy stem – die sagte kwaliteit daarvan.
Hy hoor Johan weer praat. “Kyk daar!” sê hy en wys na ’n voël wat uit die bloutes soos ’n pyl in die kloof afduik. ’n Wonderlike beweging: suiwer, skoon en vlymend. Toe die skaduwees hom insluk en hulle wag dat hy weer te voorskyn moet kom, sê Johan: “Dit was mooi, nè?”
“Ja.”
“Het jy ’n eienaardige, brandende gevoel in jou bors gekry?” Hy wys met sy hand.
“Ja,” sê Colet.
“Nou kyk,” sê Johan, “as jy eendag ouer is, sal dit verdwyn.”
Meteens vra Johan weer: “Colet, hoe oud is jy?”
“Amper vyftien.”
“Jy weet, ek het ook ’n paar ander vriendjies, amper so oud soos jy, in die Kaap.” Hy wag ’n rukkie. “Peterkin en Julius. Hulle kom baie vir my kuier.”
“Hoe is hulle?” vra Colet. Hy voel meteens jaloers.
Johan glimlag. Hy het nie die verandering van toon in Colet se stem gemis nie. Dis asof hy daardeur aangevuur word en met groter intensiteit in Colet se gesig kyk om alle reaksies op te merk.
“Hulle is baie soos jy. Ons ken mekaar al lankal. Ons gaan baie saam uit in die Kaap – na Kloofnek, Constantia, Melkbaai. Ons gaan soms naweke by die see uitkamp, dan slaap ons sommer op die sand. In die aande lê ons en gesels … in mekaar se arms.”
Johan merk dadelik die geskokte uitdrukking op Colet se gesig.
“Hulle is baie gaaf,” sê hy. “Ons gesels oor dieselfde goed as ek en jy. Sal jy hulle graag wil ontmoet?”
“Ek weet nie,” sê Colet. “Hulle is seker gaaf.” Dis eerder met homself wat hy praat, want die skielike jaloesie bederf alles. Hy kry weer daardie perverse gevoel om seer te maak.
“Hoekom lê almal – al die seuns – in jou arms?” vra hy.
Johan lyk meteens verslae. Sy gesig het vir ’n oomblik skielik lelik geword.
“Ek het gedink jy verstaan sulke dinge. Dis niks om oor skaam te wees nie. Dis wanneer jy jou steur aan ander mense, as jy dink soos gewone mense, dat dit snaaks is. Ek het verwag dat jy heeltemal anders sou wees.”
Colet voel dat die atmosfeer verander het. Hy voel jammer oor wat hy gesê het, maar hy weet nie hoe om dit ongedaan te maak nie. Eenkeer het hy lus gehad om sy arm om Johan se lyf te sit, maar die doelbewustheid van die gebaar sou alles nog verder bederf het.
Toe begin Johan skielik oor iets anders praat. Meestal oor die Kaap en sy werk, op ’n baie amusante manier, sodat Colet kort-kort uitbars van die lag. Maar nogtans het hy gevoel dat alles nie reg was nie, ook toe hulle laat die middag na die huis toe terugstap.
Juffrou Du Toit het hulle ’n ent in die pad af tegemoet geloop. Tot Colet se verbasing was Johan baie uitgelate en veel vriendeliker teenoor haar as vroeër. Hulle het hom in so ’n mate uit hulle gesprekke uitgesluit dat hy weer sy ou stuurse, stroewe houding begin aanneem het. Hy het egter eenkeer Johan se oë op hom gerig gevind, en was verras deur die verleë, amper smekende uitdrukking wat hy daarin gesien het, soos Willem se oë jare gelede in die Kaap.
Die aand ná ete, net voordat Colet gaan slaap het, het hy gehoor hoedat Suzanne vir Johan sê: “Johan, jy het darem vanaand ’n kamer van jou eie. Juffrou Du Toit was baie bedagsaam. Sy het ’n bed in die klaskamer opgemaak en sal daar gaan slaap. Jy kan haar kamer kry. Sy sê jy sal natuurlik soggens laat wil slaap en dis so hinderlik as Colet vroeg moet opstaan om betyds vir skool te wees. Ek dink dit is baie gaaf van haar.” Sy stamp aan hom. “Dis nie elke dag dat ’n mooi nooi haar kamer vir ’n kêrel afgee nie, weet jy …”
Alleen in sy kamer het Colet weer tot laat in die aand gelê en dink. Hy het alles in oënskou geneem en daaraan gedink hoedat hy Agnes heeltemal vergeet het. Sy gevoel teenoor haar het totaal verander ná daardie gesprek met juffrou Du Toit, en hy het vir ’n tydjie gevoel dat hy nooit weer sou regkom nie. Elke dingetjie wat hulle twee saamgedoen het, het nou belaglik geword, en sy gedagtes oor haar sentimenteel en bespotlik. In so ’n mate dat hy nie eens met haar gepraat het op skool nie. En sy haat is ook oorgeplaas op juffrou Du Toit, Suzanne en alle ander vroumense. Wanneer hy in die aande weer daardie drang gevoel het, het hy bloot hulle liggame gebruik en hulle dan heeltemal opsy geskuif as iets slegs en besoedeld nadat hy ’n bevrediging op sy eie manier gekry het. Maar Johan se koms het alles verander … So was dit gisteraand, en ’n gedeelte van vandag, maar vanaand voel hy weer heeltemal omgekrap. Daardie twee ander kinders – Julius en Peterkin. Hy kan hom die dingetjies voorstel wat hulle vir Johan sê, en hulle agterbakse maniertjies …
Toe hy aan die slaap geraak het, het hy baie leeg en uitgeput gevoel en gewens dat hy vér weg was in ’n ander wêreld. Maar hy kon nie besluit of dink waar nie. Net weg van alles. Of (insiggewende gedagte) dood.
Die volgende môre het hy weer alles vergeet. En die aand het hy en Johan ’n ent gaan stap, toe almal geslaap het.
Hulle het hierdie keer ’n ander koers ingeslaan: by die ou peperboom verby, onder die swaar takke deur, verby die turksvylaning wat soos ’n ry wagte met breë hande hulle pad versper het, tot teenaan die koppie ’n entjie van die huis af. Hulle het eers nie so lekker gesels as vroeër nie, maar geleidelik het die atmosfeer weer makliker geword en het hulle in die verligte gevoel wat daarop gevolg het, nog meer intiem gesels as ooit tevore. Vir die eerste keer kon Colet presies sê wat hy dink. En daardie dinge, wat hy nog altyd vir homself moes hou en waaroor hy geen regverdiging in die verlede kon vind volgens die standaarde wat ander mense vir hom gestel het nie, kon hy nou vryelik uiter. Die waarde wat Johan daaraan geheg het, was vir hom die grootste verrassing. Hy het ontdek dat dit nie alleen heeltemal toelaatbaar is onder ’n besondere groep “fyner” mense nie, maar dat dit in werklikheid die mees verhewe gedeelte van sy samestelling is. As hy dan by Johan kla dat hy gedurig gedwarsboom voel en vermoed dat hy verkeerd doen, het Johan mooi aan hom verduidelik dat elke mens so ’n stryd voer tussen die algemeen toelaatbare en ontoelaatbare in homself en dat, veral in iemand soos hy, en Johan self, so ’n oorgevoeligheid altyd kenmerkend is. Net wat die geslagslewe betref (Colet het eenkeer probeer om vir Johan daarvan te vertel), moet ’n mens jou inhou. Daar is niks verkeerds met die geslagsgevoel nie, maar die vrou self is dit nie waardig dat soveel krag en geestelike waardes, wat ook daarby betrokke is, op haar verspil word nie. “Het jy al opgemerk,” het hy eenkeer vir Colet gevra, “dat jy nie met hulle kan praat oor daardie dieper dinge nie? Hulle het miskien ’n ander aantrekkingskrag, en verskaf aangename, fisieke prikkelings wat mens laat voel dat jy werklik met iets wonderliks besig is, maar in werklikheid is dit baie vlak.” Hy het toe, een aand toe hulle weer gaan stap het, sy arm om Colet se lyf gesit, hom styf teen hom aangedruk en gesê: “Kyk mooi, Colet, kyk na die lieflike aand, voel die kalm aarde onder jou voete en die wind teen jou hare … Voel jy dit?” En Colet kon alles voel deur sy hele lyf en in sy hart. “En voel jy my langs jou?” – en Colet kon hom voel net soos hy die natuur voel. “Voel jy dat dit saamgaan? Jy en ek en die hele natuur?” En dit was waar, net soos hy die eerste aand agtergekom het: sonder Johan was daar niks nie; met hom alles. En toe Johan hom op sy voorkop soen, was dit nie die aanraking van ’n mens nie, maar van die natuur – deur Johan.
Colet se obsessies het die een na die ander verdwyn. Johan het gesê dat die wind teen jou lyf moet waai, en hy het sy baadjie opsy gegooi en in ’n kort broekie en ’n ligte hempie rondgestap. Die natuur is die lewe, die naaste aan die Godheid en die grootste dinge in jou hart; en alles, die geringste voorwerp in die veld, het ’n magiese betekenis gekry. Johan het ook vir hom gedigte gegee om te lees, Engels en Afrikaans, en alhoewel hy niks kon verstaan nie, het hy tog die krag daaragter gevoel. Hoe dieper hy in hierdie lewe geraak het, hoe minder eienaardig het sekere dinge in Johan geword. Hy het elke ding wat Johan doen, elke ongewone voorstel, aanvaar as deel van daardie heerlike wêreld waarin daar geen goed of kwaad is nie, maar net bewuste aanvaarding en ’n ontvanklike gemoed. Om te redeneer of dit reg of verkeerd is, verwek ’n nodelose skuldgevoel. “Mens moet leef, intens leef – elke oomblik, al verstaan jy nie – soos iemand wat dronk is …”
Juffrou Du Toit het elke dag gevoel dat Colet al hoe meer van haar vervreem. Sy kon hom nooit alleen te sien kry nie. Daardie aande toe hulle so lekker alleen in die huis gebly het en hy heeltemal aan haar sorg oorgelaat was, was verby en het alreeds die ontwykende aansien gehad van ’n herinnering aan diep geluk. Hy het sy belangstelling in Agnes verloor – daaroor is sy dankbaar – maar hy het nou verdiep geraak in dinge wat sy nie kan begryp nie, en wat ’n groter bedreiging is as enigiets anders in die verlede. Sy het dadelik gesien dat dit Johan se invloed was, maar sy kon aan niks dink om hom daarvan weg te kry nie. Alle weë was gesluit. Elke dag moes sy luister hoe Suzanne haar verheug in Johan se belangstelling in Colet. Net Theuns het nie daarvan gehou nie. Sy het hom een aand vir Suzanne hoor sê: “Ek hoop Colet raak nie so beneuk soos Johan nie. Wat hy nodig het, is ’n paar harde slae op die rugbyveld. Ek is bly dat hy volgende jaar na ’n groot skool toe gaan. Dit sal hom die wêreld se goed doen.” Maar verder as dit het sy besware nie gegaan nie. Sy belangstelling in die geestelike sy van Colet se lewe was nooit so aktief dat hy verder sou gaan as vae stellings en ’n onbenullige gebrom nie.
Toe die skoolvakansie aanbreek en juffrou Du Toit moes weggaan, het sy die aand voor haar vertrek Colet eenkant probeer kry om hom te groet. Sy het na sy kamer gegaan terwyl die ander nog in die sitkamer gesit het, en gesê: “Colet, ek vertrek môreoggend en ek dink nie dat ons mekaar gou weer sal sien nie. Jy gaan mos volgende jaar na ’n groot skool toe …”
Dit was die eerste keer dat Colet daarvan hoor. Suzanne-hulle wou dit as ’n verrassing hou. Hy was so opgewonde dat hy nie eens geluister het na wat sy verder vir hom sê nie.
“Ek gaan nou op De Kleinskool skoolhou en hier by jou mammie-hulle loseer. Miskien sien ons mekaar gedurende die vakansies … as die vakansies nie ooreenstem nie.”
Sy merk dat Colet nie luister nie, maar sy hou aan met praat, met die hoop dat sy sy aandag sal trek sonder om hom kwaai aan te spreek.
“Ek stel baie belang in jou, Colet, en ek hoop dat jy eendag baie sukses sal hê, en dat ek eendag baie trots op jou kan wees …” Haar stem word ’n bietjie harder in haar poging om deur die ongevoelige ringmuur te dring. “Ek hoop jy sal my nie heeltemal vergeet nie, en die dinge onthou wat ek jou probeer vertel het …”
“Baie dankie, juffrou,” sê hy en kyk meteens na haar asof hy vir die eerste keer werklik daarvan bewus is dat sy met hom praat. “Juffrou was baie … goed vir my en …” Hy soek tevergeefs na geskikte woorde en sê dan: “Ek sal môre saam met juffrou na die stasie gaan.”
Maar die volgende môre, toe Theuns en Suzanne haar wou wegneem, en hulle na Colet soek, kon hulle hom nie kry nie. Hy en Johan was op een van hulle gebruiklike uitstappies.
’n Week later is Johan ook terug Kaap toe. Die afskeid tussen hom en Colet die vorige aand het alle perke oorskry. In die aandoening van die oomblik kon Colet nie alles onthou wat hy gesê en gedoen het nie. Hy het net gevoel dat ’n deel van homself weggeneem word en hy het aan Johan vasgeklou en ewig trou gesweer aan al daardie dinge, wat hy nie heeltemal verstaan het nie, maar waarsonder hy gevoel het dat die lewe nie meer die moeite werd sou wees nie.
Toe Johan weg was, het hy die aand uit sy bed uit geklim en alleen gaan stap. Maar hy het só bang geword vir die donker en alles só vreemd gevind dat hy dadelik na sy kamer teruggegaan het. Die huis het heeltemal verlate gevoel.
Na ’n paar weke het hy nie alleen na Johan verlang nie, maar ook na juffrou Du Toit en Agnes en Maria en alles en almal wat hy geken het.