Читать книгу Die wêreld van Charlie Oeng - Etienne van Heerden - Страница 12
Krygstaktiek 7
Оглавление“Stel die heuningwip.”
Waar was sy pa deur dit alles?
Sy stiefma was ’n Hollandse vrou. Daar was min Chinese vroue in Amsterdam in die jare na sy ma se dood en sy pa het ’n Hollandse meisie ontmoet en hulle het verlief geraak. Toe, ’n jaar na die huwelik, het die geveg oor die kinders begin. Sy wou hulle Christelik en Hollands opvoed, hy wou hulle binne die Chinese tradisies hou en daarvoor het hy ouma Voetjies, die matriarg, nadergetrek as ’n soort ouma. Iemand wat hom sou kon steun.
Charlie Ng is in die vroeë huweliksjare van sy pa en sy stiefma eers in Hollandse skole geplaas, maar gou het die dispuut so bitter geraak dat sy pa teruggekeer het van sy werk (in daardie stadium in ’n klein dorpie in die noorde) en werkloos tuis rondgesit en in die gokhuis gaan dobbel het en ook saam met die ander manne ingeryg gaan lê het, hele dae lank, by die opiumpype, ver in ’n agterkamer agter een van die wasserye, met ’n ontsnaproete agterom via die gange van ’n losieshuis vir Chinese seemanne.
Die oggend dat sy pa hom verbied het om langer skool toe te gaan, onthou hy goed. Dit was asof sy hande afgekap word, al hét hy die skool gehaat. ’n Jaar lank het Charlie in die buurt rondgedwaal, klasse in “Kantonees en oulandse fabels” by die ou meneer in die nou huis geneem, en vir ’n ruk skottelgoed gewas by ’n restaurant. Hy was klein en hulle het hom op ’n stoel laat staan. Hy’t op sy dwaaltogte die vroue agter die rame leer ken. Hulle het uit allerlei uithoeke van die wêreld gekom en het dikwels vroegoggend, voordat hulle begin werk het en terwyl hulle nog met hul rame oop oor en weer gestaan en skinder het en ’n sigaretjie rook, hom genooi om op hul divan te sit of aan hom ’n geldjie gegee om gou mee te hardloop en iets vir hulle te koop, hy kan die kleingeld hou.
Hy het die prostitute se boodskapper geword. So het hy eenmaal iemand hoor sê, ’n volwassene: daardie kind van die Ng’s wat nie skoolgaan nie en vir wie sy pa, lui van die opium, Kantonees leer. Dit terwyl die arme stiefma teenoor haar ouers niks rep van die familiemoleste nie, onskuldige Hollandse plattelanders uit die suide. Totdat ’n ooreenkoms uiteindelik beding is: die twee dogtertjies uit hierdie huwelik gaan Hollands opgevoed word, sover moontlik. Hulle was “die halfbloedjies” (soos sulke kinders daardie jare genoem is) uit die tweede huwelik (of was daar ook ’n eerste, in China?) en Charlie, hy hoort by die tradisie, hy is die man van die volgende generasie. En soos dit hoort, word dit bloot aanvaar dat hy dieselfde weë as sy vader sal inslaan.
Hy sou sjef word. Uiteindelik. Maar nou eers moet hy grootword.
* * *
Soms wanneer ek so alleen reis, is ek dae lank op my eie in ’n stad met dalk net een sakeafspraak. Die res van die tyd wandel ek deur die strate terwyl trems van agter ratelend verbykom. Ek kyk hoe kraaie ongesiens op sypaadjies pik aan afvalkos wat toeriste laat val het, hoe ’n boemelaar hom helder oordag brommend in ’n slaapsak skik en met sy vuil bondel besittings stoei, ingevou in die donker deuropening van ’n verlate gebou.
Soms, te midde van die voortmarsjeer van duisende, val ek op ’n sypaadjie langs iemand in. Ek loop digby hom of haar, vir ’n oomblik verbeel ek my ek het iemand langs my, ’n reisgenoot. ’n Warm geselligheid vul my. ’n Knus gevoel van medemenslikheid. Vir ’n paar meter kan ek met iemand saamstap. Ek hoort hier, in hierdie stad. Hier loop my vriendin langs my. Ons is van hier. Burgers van hierdie strate. Sien julle?
Maar dan word my slagoffer agterdogtig en draai weg en gaan staan voor ’n winkelvenster of, skrikkerig dat ek ’n rower mag wees of miskien ’n seksuele avontuurtjie in die oog het, draai hy of sy af in ’n systraat weg van my na waar hy in die druk voetgangerverkeer wegraak.
Dan stap ek alleen verder. Die koue wind het my weer aan albei skouers beet.
Dalk, dink ek, is dit die swawelreuk wat om my hang.
* * *
“Mense dink ek kry swaar,” sê ouma Ogies, “omdat ek nie kan sien nie.” Sy vee oor haar oogdammetjies. “Maar ek kry swaar omdat ek te veel gesien het.”
* * *
Ek was besoedel en ontstig toe ek op Schiphol my treinkaartjie na Centraalstation, Amsterdam koop. Die storie van die luislang het my erg omgekrap.
Ek is hier om meer uit te vind oor Koekepan, oor Charlie. Nou of nooit, soos die gesegde lui. Nadat ek via die roltrappe uit die bedrywige aankomsaal met sy winkels en eetplekke ontsnap het, staan ek op ’n ondergrondse perron waar ’n koue wind deur my sny. Dit kom uit die donker tonnel aangewaai waarin ligte hiervandaan ál kleiner wegstippel totdat die tonnel buig en jy die ligte nie meer kan sien nie. Jy ruik masjien – nie diesel nie, maar warm yster en rubber en plastiek – en die mense staan afgetrokke om my in hul swart jasse.
Iemand se blik rus soms ’n oomblik op my en ek besef ek lyk gehawend. Die afgelope tyd was ek oorlaai met werk. In my tas was ’n manuskrip van een van my digters. Ek het gehoop om dit af te handel voor my koms na Amsterdam. Maar nou is dit steeds by my. Ek hoop om in Frankfurt daarna te kyk, tussen die sushi en blitsvergaderings deur, maar in my agterkop weet ek ook dis ’n hoop wat waarskynlik sal beskaam.
Daardie aand dwaal ek na Amsterdam se sogenaamde Chinese buurt en tot in ’n groot winkel op ’n straathoek waar ek met my iPhone begin foto’s neem. Allerlei snuisterye lê op die rakke uitgestal. Plastiekskotteltjies en staanhorlosies. Eetstokkies en pakkies tee. Skielik is ’n ou dame aan my sy. Sy’t die gesig van ’n Oosterse boerin en sê streng maar beslis: “Geen foto’s.”
“Ek is net ’n toeris.”
“Geen foto’s hoegenaamd nie.”
Ek kyk op. Minstens vyf ander personeellede het opgehou werk en kyk na my.
“Oukei,” sê ek en glimlag terwyl ek tydsaam langs die rakke af loop. Ek koop ses pare eetstokkies, elke paar in ’n helder sakkie toegedraai. Dit kos net vyf euro, en met hierdie toeristiese triomf in my hand stap ek verder, op soek na ’n restaurant.
Dis op die oog af ’n tipiese Chinese restaurant en ek kyk na die spyskaart met sy byna honderd items. Van waar ek teen die venster sit, sien ek tot binne-in die kombuis, waar groot plastiekskottels rondstaan en Chinese vroue met voorskote bedrywig is.
Die man wat my bedien, groet ’n vrou wat met ’n seuntjie binnekom. Hulle praat ’n mengsel van Nederlands en wat ek aanvaar Mandaryns is. Hulle gaan sit in die hoek by die tafel teenaan die kombuis.
Net die seuntjie eet. Sy kos kom uit die kombuis aangedra en hy begin honger eet terwyl sy ouers lag en klets. Ek wink die man mettertyd nader en sê: “Ek wil lekker Chinees eet vanaand. Bring vir my babi panggang asseblief.”
Hy kyk my beleefd maar skepties aan. “Verskoon my, meneer,” sê hy, “maar ek moet u daarop wys dat dit nie ’n Chinese dis is nie. Dis wel een van ons gewildste disse. Maar dis Indonesies.”
Om my verleentheid weg te steek, bestel ek vinnig, “Oukei. Soetsuur hoender dan.”
Hy buk oor my en sy wysvinger wys na ’n dis. “U wil nie eerder iets interessants bestel nie?”
“Soetsuur hoender,” bevestig ek met ’n kopknik. “En nog ’n glas huiswyn. Wit, nes die vorige.”
“Nie dalk eerder iets van ons wynlys nie, meneer? ’n Franse wyn, dalk?” vra hy versigtig.
“Huiswyn, asseblief.”
Toe hy my later nog ’n glas wyn bring, gaan sit hy weer by die vrou en kind en ek kan sien dat hulle my bespreek. Dis waarskynlik omdat ek, met my kop wat van die goedkoop wyn draai, hom kort na my onbeholpe bestelling gevra het: “Ken u dalk, enigsins, miskien … ’n familie met die van Ng?”
Hy het glimlaggend na my gekyk. “Dis soos om te vra of daar Smiths in Londen is.”
“Wel,” antwoord ek, “ek het gehoor dat hierdie wyk rondom die Zeedijk maar klein is en dat die Chinese gemeenskap hier steeds baie heg is. Almal ken glo almal.”
“En is familie van mekaar!” lag hy, maar ek is nie seker of hy ironies is of nie. Maar toe hy byvoeg “en boonop lyk alle Chinese op mekaar!” weet ek dat hy met my spot.
Hy het oor my tafel gebuk en ’n broodkrummel met sy doek weggeveeg. “Wie soek u spesifiek?’
“Niemand wat tans lewe nie, nee. Ek … ek is op soek na …” Skielik het dit so goedkoop geklink. “Na ’n man wat eens hier gebly het. ’n Man se verlede.”
“Sy van was Ng?”
Ek knik.
Hy kyk ’n rukkie na my. “Waarmee hou u u besig?” vra hy. Skielik praat hy nie meer as kelner nie; sy liggaamstaal het ook verander.
“Ek doen navorsing vir ’n boek. ’n Historiese studie.”
“Ek sien.” Hy dink ’n oomblik na. “Waarom kom u nie weer môre dieselfde tyd hier eet nie? Ek ken iemand wat baie van die geskiedenis van die Amsterdamse Chinese weet. Dalk willig sy in om u hier te ontmoet. Onthou net, ons is baie private mense.”
* * *
Sy kom staan by my en ek word bewus van ’n ligtheid, ’n elegansie. Die hand wat hier digby my hang, is lig en slank, met die naels noukeurig versorg en ’n dun goue armband wat skuins aan die pols lê.
Vroeër het sy, geklee in ’n KLM-uniform, saam met ’n kollega ingestap gekom en by die kelner se gesinstafel gaan sit waar sy vrou en seuntjie weer by was. Die groepie het eers saggies gesels, en toe het hulle na my gekyk en gelag. Ek het verwag dat hy mettertyd sou oorstap na my om my bestelling te neem, maar toe staan sy op en kom nader.
Ek is verras. Ongemaklik kyk ek half om. Sy staan soos waardinne dikwels oor jou staan in ’n vliegtuig se gangetjie, aandagtig, maar nie te naby nie. Effe agter jou, sodat die konfrontasie nie te direk is nie. En die gesigsuitdrukking ontvanklik vir jou versoek.
“Goeienaand,” sê ek. En omdat sy ’n lugwaardin is: “Ek is van Suid-Afrika.”
“Die meneer dag so. Hy is goed met aksente.” Sy beduie na die kelner wat by die vrou en kind sit en nou diep in gesprek met die vrou is. Die feit dat hulle nie na ons kyk nie, stel my gerus.
“U het ’n vraag oor die buurt?”
“Die buurt?”
“Ja, hier.” Sy beduie om ons. “Ek hoor u soek na die familie Ng?”
“O, is u die persoon wat my …?”
“Wel,” lag sy, “ons moet maar kyk of ek die regte persoon is om te help.” Ek ruik ’n ligte parfuum. “Ek hoor u stel belang in die familie Ng?” herhaal sy.
“Ja, die meneer het klaar verduidelik dis soos om ’n Smith in Londen te soek.”
Sy het besliste Chinese trekke, maar ook ’n Westerse voorouer of twee, sien ek. Sy glimlag ligweg na my en steek skielik haar hand uit. “Ek is Jenny May.”
“O,” en ek sukkel om op te staan, maar sy beduie ek moet sit.
En asof dit haar vriendelikheid verklaar: “Ek het u toevallig gister in die winkel gesien.” Verskonend: “Met daardie gure ou vrou.”
“O … ek …”
“Ek is ongelukkig nou op pad na ’n afspraak,” gaan sy voort, “maar as u my môre hier wil ontmoet, om twaalfuur, sal ek u meer vertel. Miskien kan u my dan ook inlig waarna u op soek is.”
Toe sy weg is, besef ek dat dit net ’n soort verkenningsontmoeting was. Sy sou nou nadink en dalk môre opdaag, dalk nie. Sy sou eers mooi dink voordat sy met ’n vreemde man praat; sy is daardie soort vrou.
* * *
Ek slaap die nag onrustig. Dit is waarskynlik weens die goedkoop wyn en die vreemde kos, ook oor die lugwaardin, haar skoonheid en direktheid wat my onrustig stem, ook die groot sprong in jare tussen ons.
Met so ’n elegante besorgdheid aan haar. Intiem met ’n mens, en terselfdertyd afstandelik. Dit het my geboei. Na watter kant toe sal dit tussen ons twee hel? Half aan die slaap wissel erotiese verbeeldings in my kop af; dis ek en Jenny May, en die blou KLM-uniform is ’n fetisj-kledingstuk waarmee sy my tart. Dit hang aan ’n klerehanger; daaragter skuil sy, nakend. Voordat ek in die nanag wakker skrik, is sy so helder by my dat ek snak na asem.
Maar later tuimel ek weer in mote van onrustige drome af, en dan is daar weer tye tussenin dat ek wakker lê en die ou dinge by my opkom. Een Vrydagaand wat ek byna al vergeet het, kom by my op. Dis ’n ruk voordat Koekepan, oftewel Charlie Ng, op die dorp opdaag, dus lank voor die velskuurdae waartydens Pa en Ma Koekepan en Witkant dikwels sou sien. Pa het die aand laat by die opstal opgedaag. Hy was by die klub en het meer as gewoonlik gedrink. “Luister,” hoor ek hom aan Ma sê. “Ouma Ogies het my vandag ’n ding vertel. ’n Ding oor Witkant. Jy weet, daardie snaakse pienkoog wat so by die veiligheidspolisiemanne uithang?”
“Witkant die albino?”
“Presies,” sê Pa. “Witkant. Die ene wat kant gekies het.”
“Wat sê sy?”
“Ek wil eers daaroor slaap. Maar dit gaan oor iemand wat saam met hom gaan werk.”
Die volgende oggend, by die brekfistafel, pols Ma Pa weer. Hy vertel dat ouma Ogies by hom op kantoor was. “Hier kom ’n man,” het sy gesê, “en hy gaan alles verander.”
Pa, ’n regsman wat hou van feit wat met feit skakel sodat jy die ketting van oorsaaklikheid kan vestig, het bietjie stilgebly. Toe, vertel hy ons, vra hy haar: “Hoe weet jy, ouma Ogies?”
Sy het ook eers stilgesit. Onder daardie ooglede rol die onderontwikkelde oë soos albastertjies. Jy sien net die ooglede beweeg en jy weet sy is heen en weer. Toe antwoord sy: “Het jy nie die uil gehoor nie?”
Pa het sy kop geskud, en alhoewel sy dit nie kon sien nie, het sy gesê: “Jy skud jou kop, maar jy moet die geluid lees. Hy kom met die spoor. Prokureur, hy kom.”
Dit was so ’n maand of drie voor Koekepan op die dorp opgedaag het. Ouma Ogies het hom – en als wat hy saam met hom gebring het – sien kom. Lank voordat hy self geweet het hy’s op pad.
* * *
Die oggend na ontbyt gaan stap ek weer in die sogenaamde Chinese buurt. Dit is stil en hier en daar verskyn ’n besem oor die oop drumpel van ’n deur. Restaurant na restaurant lê hier in die straat af, en op die hoek is ’n Chinese winkel wat snuisterye verkoop. Daar is ’n klomp kroeë en ook ’n tempel, wat skynbaar ’n toeristeattraksie is, want daar staan reeds ’n klompie toeriste met kameras rond.
In hierdie geplaveide, nat straat is ek ver, onmoontlik ver, van Slootplaas, en ek kan maar net dink hoe ver dit moes gevoel het vir Koekepan, die man wat, so vind ek mettertyd uit, Kantonees eerder as Chinees genoem moet word. Nie ver van die plek waar ek nou gestaan het nie, is hy gebore. Ng Charlie. Ja, andersom. Dis soos die Kantonese gewoonte is. Van eerste. Dis meer korrek.
Nogals ’n reis moes dit gewees het, van hier tot op die perron van daardie afgeleë dorpie van my kinderjare.
Ek het my eie reis om af te lê, my eie vrae om te beantwoord.
* * *
Dis die eerste geveg wat ouma Voetjies opsigtelik verloor.
Wat haar planne vir die jong Charlie Ng betref, loop sy haar vas teen die splintertong. Westerlinge sou in plaas van tong praat van triade. Teenoor die tong staan sy magteloos. Die bloedbroederskap van hierdie tong wat hulself opstel in die tradisie van wat eeue gelede Die Genootskap van die Ewigdurende Verbond tussen Aarde, Mens en die Hemel geheet het. Hulle is ’n splintergroep van die Bo On-vereniging waaraan die familie Ng behoort en wat ’n soort informele vakbond is wat na ’n skeepsmeester en sy werkers kyk.
Mens moet begryp dat ’n triade nie noodwendig kriminaliteit behels nie. Sedert die jare toet is dit ’n netwerk wat gebruik word om dinge te fasiliteer. Dit kom uit China se ou-ou tyd, gemeenskappe wat hulself opstel teen korrupte en magsbeluste owerhede. Dis eers in latere tye dat triades populêr bekend staan as kriminele bendes – want, ja, sommiges het hul gewig begin rondgooi en daar was en is kriminele uitlopers.
Dit word als aan my verduidelik deur die KLM-lugwaardin Jenny May. Sonder dat sy enigsins my drome van die vorige nag vermoed, en met verrassende openheid, begin sy vertel. Ek het dit inderdaad gelukkig getref. Sy is, uitsonderlik vir ’n jong mens, geïnteresseerd in familiegeskiedenis.
Haar oupa was ’n invloedryke skeepsmeester wat vanaf die Javakaai gewerk het en haar ouma ’n Hollander uit Sliedrecht, ’n slagter se dogter. Jenny May lyk meer Chinees as Nederlands en is ’n goeie vier, vyf sentimeter langer as ek. Sy’t gladde swart hare en is baie goed ingelig oor die geskiedenis van die Amsterdamse Chinese gemeenskap.
Vandag omgeef ’n ander parfuum haar, iets geiler, iets wat mals ruik, met ’n nahuiwering van ligte sweet in die geur ingebou. Dis ’n uitdagende maar subtiele parfuum. Ek raak bewus van my neusvleuels wat oop en toe beweeg.
Dis lanklaas dat ’n vrou my so laat reageer het, indien ooit.
Sy plak drie boeke voor my neer waar ons in ’n bruin kroeg digby die Dam sit: Yocklang Chong se De Chinezen van de Binnen Bantammerstraat, Stefan Verstappen se De zesendertig oude Chinese krijgstactieken en Karina Meeuwse se boek Oostenwind. “Als oor die Amsterdam-Chinese. Jy moet die boeke eintlik eers lees voordat ons praat,” sê sy, nie onvriendelik nie. Dit lyk eerder of sy die spot dryf met my.
“Buitendien, skryfwerk is mos ’n soort oorlog. Dalk leer jy iets uit Verstappen se boekie oor krygstaktieke. Byvoorbeeld …” Sy blaai deur die boekie. “Hierdie krygstaktiek oor selfverwonding. Kyk maar self.
“Of glo jy soos die Chinese dat ’n boek soos ’n tuin in jou broeksak is?”
Spottend kyk sy na my.
Ek haal my skouers op, maar gryp na die boekie oor die krygstaktieke. “Wat op aarde is dit hierdie?”
“Ag, sommer ’n ou kuriositeit,” lag sy. “Die Chinese was behep met krygstaktieke. Maar hierdie boekie is die ene boewery.”
Lamgeslaan luister ek, terwyl ek stoei met herinneringe wat wil-wil na bowe kom in die vorm van frases wat ek uit Koekepan se mond gehoor het, soveel jare gelede. Jenny May praat voort. Sy weet nogals heelwat oor die prestigeryke familie Ng, beaam sy, en toe ek haar vra hoekom, want sy is nog so jonk en dis ongewoon vir ’n jong mens, wuif sy die vraag met ’n gebaar weg. Dis ’n klein en geslote gemeenskap Chinese in Amsterdam, vertel sy. “Ons ken min of meer almal mekaar se stories.” Haar slanke hande is om ’n koppie tee en sy is goed ingelig oor die splintertong van Ouderkerk. Ek wil eers nie te veel invra nie, maar in hierdie stadium lei ek af dat ’n verlangse neef van haar met wie haar familie nie meer kontak het nie, by Ouderkerk in ’n slagterskuur gewerk het. Daar was ’n eend- en varkboerdery.
Dan besluit ek tog om te vra: “Was die slagtery daar by Ouderkerk heeltemal wettig?”
Maar sy praat my vinnig dood, verander die onderwerp: “O aarde, daardie ouma Voetjies!” sê sy. “Weet jy dat sy in ’n nagklub gedans het destyds toe sy jonk was, en toe so haar Hollandse man ontmoet het?”
Ek skud my kop. “En wie was sy?”
“’n Volslae narcis. En sy’t met ’n ystervuis geregeer.” Jenny May lag. “Graag Sondagmiddae deur die gragte gevaar met haar lotusvoetjies op die boeg uitgestal.” Jenny beduie met haar plat hande en duime teen mekaar sodat haar palms en uitgestrekte vingers die vlerke van ’n vlinder vorm. “Sy’t heeltemal beroemd geword onder die Amsterdammers en is dikwels gefotografeer. Ek is verras dat daar nie ’n foto van haar in een van hierdie boeke is nie.”
Sy verander van rigting: “So, wat doen jy vir ’n lewe behalwe rondreis en ’n boek skryf en soetsuur hoender eet?”
Ek glimlag. “Ek werk met sulke dinge.” Ek tel die drie boeke met hul gladde omslae op. Sy begryp. “Kyk hoe pragtig,” sê ek. “Dis waarmee ek smous.”
Sy kyk my aan, weer met daardie spotlaggie. “Ek sou sê dryf eerder handel in eende. Mens kan nie boeke eet nie.”
Nadat ek die gebruiklike kwytgeraak het oor die e-boekrewolusie waarbinne ons ons met moeite geposisioneer het, maar wat nou skynbaar verby is, sê sy skielik, asof sy nou besluit het dat sy my vertrou: “My stiefpa se neef se naam was George Dun. Dun met een n. Dit klink nie Chinees nie, maar hy was. Dalk was hy meer van ’n oom as ’n neef. Ek weet nie. My ouers wil van hom niks weet nie. Hulle wil nie eens sê hoe presies hy inpas in ons familie nie. Maar hy was die man by die slagskuur.”
Weer waarsku iets my om nie te veel in te vra nie. “Jou ouers wil niks van hom weet nie,” herhaal ek dus maar haar woorde.
Sy lag. “Jy weet hoe Chinese families is. Elkeen wat jou van dra, is ’n neef of ’n oom of ’n ding.” Sy kyk af na haar hande. “Die hele familie het hulle van hom gedistansieer. Maar vir my generasie is daar iets cools daar. Ek weet nie of jy sal verstaan nie.” Sy skud haar lang hare van haar skouer weg. “Nie dat ek kriminaliteit steun nie, geensins nie. Maar die gedagte aan ’n geheime triade in swart pakke en donkerbrille in die late thirties, en boonop in oorlogstyd – dis soos ’n fliek. Benny Goodman wat swing in die agtergrond terwyl hulle met slagmesse rondstaan. Man, oh man! So bietjie Tarantino, jy weet? En dit in daardie saai plekkie daar anderkant, Ouderkerk.”
“Hy’s dood?”
“Ja, hy’s op ’n keer Afrika toe en hy’s vermoor in ’n hotel in ’n plek wat julle glo die Baai noem.”
“O! Dis nie ver van waar ek grootgeword het nie.”
Sy haal haar skouers op. “Nou ja, wat sê die Engelse? Leef met die swaard, sterf aan die swaard.”
“Baai toe!” tob ek hardop en snuif die geur van Jenny May, wat selfs die swawel laat verdamp, diep in.
* * *
Met ys in my are fiets ek en Jenny May vanaf my hotel in die gragtegordel na Ouderkerk. ’n Gek onderneming; ek is nie fietsfiks nie en dis verder as wat ek gedink het. Dit was haar idee.
Sy ry vooruit, haar swart hare stromend in die wind. Kort-kort kyk sy oor haar skouer terug na my. Soms raak ek agter en dan ry sy stadiger.
Ons het die afgelope dag of twee heelwat oor Charlie Ng ontdek. Daar is drie susterskinders, maar hulle het heeltemal verhollands en het nie meer veel kontak met die Chinese gemeenskap nie.
Maar van hul oom Charlie, “die akteur”, is hulle baie bewus. Jenny May het hulle uitgesnuffel en ons het hulle die vorige dag ontmoet in ’n saai restaurant in Amstelveen, ’n grou dag wat die omgewing oninspirerend en nog gryser laat lyk het.
By die restaurant aangekom, skud ons hand. Jenny maak ’n grappie waarmee sy haar verontskuldig dat ons hulle pla, en ons begin gesels nadat ons bier bestel het. Die jongste van die drie het Chinese trekke, hy is korter en as jy mooi kyk, kan jy iets van sy familieverband sien.
Hy val sommer met die deur in die huis terwyl die ander twee, wat waarskynlik in hul jeug twee lummels was, oorgewig en lusteloos daar sit. “In een deel van die Ng-familie,” vertel hy, “is mense oortuig dat daar ’n vermoorde Amsterdamse meisie in Charlie Ng se geskiedenis is. Sy’s een oggend drywend, gesig na onder, in die Keizersgracht gevind. Sy was uit ’n vooraanstaande familie. Sy’t hom glo geken toe hy by ’n fietswinkel gewerk het. Hulle sê dis hoekom hy na die stieftriade is.”
“Ja,” knik een van die ander. Hy is ’n groot man, ’n loodgieter. Hy beduie met sy hand. “Hy moes toe ondergronds gaan.”
Die derde is meer skepties: “Mens weet nooit. My moeder het altyd gesê sy dink nie Charlie Ng het ’n greintjie moord in sy gebeente gehad nie. Sy sê dit was waarskynlik ’n ongeluk.”
“Ás daar ooit so ’n vermoorde kind was,” voeg Jenny May by. “My gesin betwyfel dit, ek het onder hulle uitgevra.” Ek kyk verras op. Sy’t my nie vooraf vertel dat sy van so iets bewus was nie. Sy sien ek is verras en voeg dan haastig by: “Ek dink dis net skinder.”
“So, wat is jóú storie?” vra die eerste neef my, die een wat Chinees lyk.
Ek haal my skouers op. Ek het die vraag nie verwag nie. Die luislangstorie het my omgeklits en ek het my ekwilibrium op die vliegtuig verloor. “Nee, ek …”
“Vertel hulle,” pols Jenny May my. Liggies raak sy aan my arm. “Toe.”
“Ek dink nie dis nou die oomblik …”
“Vertel,” sê al drie tegelyk.
Ek begin my verhaal vertel. Eers leun hulle gretig vorentoe, maar soos my storie vorder, sien ek hoedat hulle terugtrek. Die loodgieter kyk my openlik skepties aan.
Uiteindelik, toe ek gesê het wat ek moes sê, is daar ’n ongemaklike stilte. Ek kry die gevoel dat hulle dink dis als spekskietery.
“En wat wil jy van óns hê?” Daar is opeens vyandigheid in die lug, onverklaarbaar. Ek kan sien Jenny het dit ook nie verwag nie. Senuagtig kam sy met haar vingers deur haar hare.
“Nee, ek …”
Die derde neef, die stil een, ’n amptenaar iewers, sê skielik: “Is jy seker jy sien nie Chinees en dan sien jy triade nie? En die Van Gogh-kêrel …?”
“Wag,” keer Jenny May. “Ek het gevra dat meneer Kilian julle ontmoet. Dit was nie op sý versoek nie. Dit spyt my as dit julle ontstel het.”
Hulle ontspan effe. Dalk moes ons nie vir hulle bier bestel het nie, dag ek. Hierdie tyd van die dag trek alkohol vinnig deur die bloed. Ons gesels nog ’n ruk oor ditjies en datjies. Eenkeer wil hulle iets oor Mandela weet, en dan groet ons. Terneergedruk klim ek en Jenny May op ons fietse vir die tog terug gragtegordel toe. Sy ry langs my en lyk skuldig.
“Dit spyt my,” sê sy. “Dis die óú familie in aksie. Dat hulle nog so baie daarvan in hul omdra …” Sy sug. “Ek onthou dit so goed.”
“Is dit hoekom jy aanhoudend uitvlieg?” skerts ek. “Hulle is werklikwaar agterdogtige mense.”
Jenny kyk na my, en kyk dan weg.
* * *
Nou bereik ons met ons fietse die omgewing waar sy meen die stieftriade se slagskuur moes gewees het. Sy het dit als op Google Maps nagespoor en sowaar, hier langs die rivier tussen bome sien ons ’n vervalle skuur.
Dis doodstil en dit reën liggies. Saggies loop my fiets se swart voorwiel deur die watertjies. Die gebou is vol ou landboumasjinerie, maar dis kennelik in onbruik. Die een deel daarvan was skynbaar vir ’n ruk as veekraal gebruik, daar lê ou mis rond en ’n verroeste voerkrip is aan relings vasgemaak.
Dan wys Jenny May my. Daar. Die verroeste ysterhake wat aan die dakbalke hang, ’n hele ry van hulle. Ons stap nader. Hier is die vloer van beton. Groot, swart kolle lê onder elke slaghaak. “Kyk,” sê Jenny May. Ek kan sien sy gril.
“Varkbloed,” sê ek. “Tot in die beton ingetrek.”
“Kan dit?”
“Wat anders kan dit wees?”
Ons maak ons uit die voete en laat die skemer skuur wat na varkmis, olie en bloed ruik, en na triade en oorlog, agter ons. Vinnig fiets ons terug Amsterdam toe, en ry met blydskap die bedrywige verkeer in.
* * *
Die swart vlek op die beton het in die daaropvolgende dae in my gemoed die vlek van my ouers se dood geword. My nagte, waarvan niemand geweet het nie. Hierdie verhaal wat uit my mond uit nágmerrie (as daar so ’n werkwoord kan wees).
* * *
Jenny May kom stadig na die bed. Sy het haar klere in die badkamer gaan uittrek. Op haar bobeen, digby die lies, is ’n vliegtuig-tatoeëermerk. Stadig kom sy met haar pragtige lyf na my aan waar ek gestut teen die kussings wag. Sy sit haar een knie op die voetenent van die bed, en toe sy begin naderkruip, sodat haar koel maagvel oor my bene skuif, staan ek op, druk haar eenkant en vlug na die badkamer, waar ek die stortdeur toeklap en die stort oopdraai.
Terwyl ek onder die straal staan, snak ek na asem. En toe is sy by my in die stort, sy klim saam met my in en trek my dan gou weer aan die arm uit, die een kant van haar gesig en kop is nat en sy trek my bed toe, waar ons nat op die lakens neerval. Ek besef dat die stort nog loop.
En met Jenny May onder my op die bed en die geluid van skaterende stortwater is dit asof ek haar met ’n dolk steek. Met die honger van jare. Diep en woedend haal ek my op haar uit in daardie bedompige Amsterdamse aand met die hotelvenster oop en die gordyn ook nie heeltemal dig nie en my vermoede dat mense agter vensters in geboue oorkant die grag ons dalk kan sien en dat Jenny van hierdie waarskynlikheid hou.
Sweterig en uit die veld geslaan kom sy later uit die badkamer. Sy kyk my agterdogtig aan, en haar hand is vinnig, koel in myne voordat sy, aangetrek en versorg tot op die nippertjie toe, uitstap.
* * *
Versigtig vra ek Jenny May die volgende dag terwyl ons koffie sit en drink by ’n restaurant: “Die liggaamsreuk …?”
Sy draai haar kop skuins en kyk na my, en snuif dan vinnig haar oksel nadat sy haar arm gelig het. “Wat bedoel jy?” lag sy senuagtig.
“Het jy dit dan nie geruik nie?”
Sy sit met haar rug styf. “Ek?”
“Nee, nee,” beduie ek. ’n Pynlike oomblik. Iets wat ek nog met niemand gedeel het nie.
“Die swawelreuk.”
“Swawel …?” Weer haar selfbewuste, onthutste laggie.
“My lyf,” sê ek dringend. Dalk pleit ek. Ek leun vorentoe. “Jenny, het jy dit dan nie gisteraand geruik nie?”
Sy skud haar kop. “Ek het nogals gedink jy ruik lekker. Vars en manlik.”
Ek kyk af en vou my arms. Sy draai haar kop skuins en dit lyk of sy ’n sentimeter of vyf terugdeins van my.
“Is dit hoekom jy na die stort gegaan het?” vra sy sag.
Ek knik. Ek kyk haar uit die veld geslaan aan. Sedert die dae na die vuurwerkvertoning in Zürich is ek oortuig daarvan dat ouma Ogies se woorde nou weer waar geword het.
’n Week nadat Koekepan op die werf was om sy vuurwerkvertoning aan ons te verkoop en sy swaar gedra het aan die las van haar voorgevoelens het sy teenoor Ma opgemerk: “Die jongeheer ruik dag vir dag deesdae na swawel.”
Ma het oorgestap en aan my hare kom ruik. “Vreemd, ja!” Sy het na my gekyk. “Speel jy met vuur, Tian?” het sy met ’n knipoog gevra. Toe ek met die skaamte van ’n opgeskote seun reageer, maak sy dit af: “Ek is seker dis net jou lyf wat grootword. Ek sal vir jou Mum koop.”
Maar dit het my nie ontgaan dat mense in die dae daarna effe agterdogtig snuif wanneer hulle digby my is nie. Dalk het die woord versprei. Was dit omdat ek in die toorwiel gehurk het, of het ek my dit verbeel?
En jare later, tydens my eerste ervaring met ’n meisie in die bed, het sy saggies gefluister dat ek op ’n vreemde manier na swawel ruik. Dit het my selfbewus gemaak, ek het die dag daarna die deodorantrakke in winkels goed deurgesnuffel, en het daarna vir jare vroue vermy.
Die vrees dat ek ruik soos buskruit.
Dis ’n reuk wat ek ook sommige nagte aan myself geruik het, subtiel. Dit het soos die jare aangegaan het heeltemal verdwyn, maar na die Oujaarsaand in Zürich toe ek besluit het om my verlede na te spoor, het my eie reuk vir my soms oorweldigend geraak.
Dit was asof ek my eie lyf verafsku het, en my eie lyf my wou verdryf.