Читать книгу Die wêreld van Charlie Oeng - Etienne van Heerden - Страница 6
Krygstaktiek 1
Оглавление“Offer die peerboom op as jy die perskeboom wil kry.”
Stadig, soos jasmynblare in ’n beker tee, sak Hongkong uit my gemoed weg. Net die geur van die teehuis bly in my oor. Die stoom en die stip oë van die opgestopte kanaries. Hulle sit in hokke wat aan die plafon hang. Liggies roer die hokke in die lug van die waaiers. Roerloos die dooie voëltjies.
Maar dis later, baie later. Nou eers terug:
* * *
Die vuurwerkvertoning op Slootplaas het ’n aanloop gehad, en almal was die dag verras toe Chinees deur die werfhek gestap kom, met ’n pendoring ’n sirkel op die werf trek, en doodluiters in sy rok en sandale daarin gaan hurk. Hy sit ’n ent weg van die opstal onder ’n doringboom.
Hy dra sy strooihoed met die skerp puntjie bo-op. Gewoonlik dra hy in die velskuur ’n kadotjie (so noem Pa die hoedjie), maar wanneer hy van sy werkplek teenaan die dorp oor die rivier stap om ’n sak sout te gaan koop, sit hy sy puntjieshoed op.
Ek het hom in my kinderjare baie so sien stap, met sy kruiwa met ’n sak sout op, en ’n rol bloudraad.
Die mense het graag gesê dat hy maklikkies jou hond sal opvreet.
Partykeer rus Chinees op die brug, by sy kruiwa. Hy kyk oor die reling na die water. Jy kan nie veel van sy gesig onder die strooihoed se breë rand sien nie. Jy merk net op dat sy gesig onder so gepunt is, nes sy hoed bo. Hy’s ’n mooi man, alhoewel jy dit nie sommer kan sien nie. Hy steek sy gesig onder sy hoed weg, sy lyf verberg hy onder vormlose klere van katoen. Hy wag in die skaduwees.
Jy moet mooi kyk om hom te waardeer.
“Hy’t ’n bokbaardjie,” sê Pa altyd. “Nes Jannie Smuts s’n.”
“Bootchinees kyk na water onder die brug,” sê Ma graag wanneer ek en sy verby Chinees ry wat sy sak sout velskuur toe stoot. “Dis alte simbolies,” voeg sy dan ingedagte by, haar oë nougetrek teen haar Rembrandt van Rijn-filtersigaret.
Sy en Pa het die spelwyse Oeng op ons dorp gevestig in plaas van die korrekte Ng. Wanneer Ma die velskuur moes gaan aandoen, het sy agterop die sigaretdosie waarop sy altyd haar taaklysies gemaak het, geskryf: Mister Oeng.
Nou hurk Chinees roerloos op die gruis. Ek, Pa en Ma, pas klaar met middagete, loer deur die eetkamervenster na hom. Roerloos sit hy daar. Dit lyk of hy met die pendoring sy tande sit en skoonmaak.
“Dis Chinaman,” sê Pa verbaas, asof ons nie self kan sien nie. “Hoor hoe snuif ouma Ogies in die kombuis, sy’t hom al geruik. Ek hoor sy was vroegoggend al by Bobby Greenblatt, glo skoon ontstig.”
Hier kom maar min mense onverwags op Slootplaas se werf aan. Karre toet by die werfhek sodat die honde eers vasgemaak kan word en iemand na die besoeker beduie: kom maar nader. Die swart predikant, eerwaarde Mtuze, klim daar voor die hek waarop staan Privaat Maak toe die hek Als ’t u Blieft van sy swart dikwielfiets af en roep: “Amen!” As niemand by die kombuisdeur verskyn nie, roep hy weer: “Amen!”
“Daar’s daardie vader Amen al weer,” sê Pa dan. “Kom weer die volk opstook teen Verwoerd.”
Wanneer die span skeerders in die skeerseisoen kom, bondel hulle in hul donker jasse en met musse op die kop by die hek saam. Hulle vra nie om nader te kom nie, maar maak eers vuur teen die werfhek, op die skoon pad. Hulle is Sotho’s en kom uit die berge. Honderde myle swerf hulle van plaas tot plaas om die merino’s met hul blink skêre skoon te skeer en hul verhale te vertel aan almal wat wil luister.
Hulle hou hul hande oor die vlamme, want dis vroegoggend koud. Hulle daag altyd met dagbreek op. Met die rooi son in hul oë. Hulle dra komberse oor die skouers. Dis die Bergsotho’s se gewoonte.
Eers wanneer Ma bekers koffie opstuur, sal hulle werf se kant toe begin kyk. Dan moet Pa opstap hek toe. “Hoe gaan dit met julle koning?” vra hy. Ek weet nooit of Pa met die skeerders spot of ernstig is nie. Want soms vra Pa ook die Xhosas uit oor Kaiser Matanzima, die Transkei se leier: “Hoe gaan dit met julle koning daar in Umtata?”
Nou sê Pa, terwyl hy Chinees dophou: “Al die pad van die dorp af.”
Ek kyk verwonderd. Chinees sit komieklik binne sy toorwiel op sy hurke, met sy knieë teen sy ore. Hy is maer, met hol wange en uitstaan-wangbene. Hy lyk soos iets uit ’n storieboek. “Die wiel beskerm Chinees,” sê die mense oor sy sirkel wat hy altyd so maak.
“Die honde blaf nie eens vir hom nie,” sê Ma saggies. “Hulle lê en tjank op die voorstoep.” Sy vee oor haar gesig. “Wat staan daar by sy voete?”
“Sy koffertjie, lyk dit my,” sê Pa. “Gee bietjie die verkyker aan.”
Dit lê altyd daar op die sideboard, en ek bring dit na Pa. Met die verkyker voor sy oë sê hy: “So van naby en in die helder son lyk hy glad nie na ’n velsmous nie. Eerder ’n towenaar.”
“Wie gaan uitstap na hom toe?” Ma kyk na Pa, na my.
“Kan ons hom nie maar naderwink nie?”
Ma kyk na my. “En wat doen ons dan met hom?” Sy vee haar hare weg van haar voorkop. “Ek wil nie die Chinaman in my sitkamer hê nie.”
“Tian, gaan hoor wat hy wil hê,” beveel Pa.
Ek draf buitentoe en oor die werf. Ek ervaar ’n mengsel van vrees en opwinding, en nuuskierigheid. Die grootste hiervan is die nuuskierigheid. “Hallo, Koekepan!”
Chinees staan op, stof sy sitvlak af, en nou’s dit duidelik dis sy klein vierkantige koffertjie daar by hom. Die foksterriër, wat dit intussen gewaag het om die stoep te verlaat, grom, maar kom nie nader nie. Die boerboel is nêrens te siene nie. Dalk is dit die soutreuk, dink ek terwyl ek daar by Chinees staan. Die reuk van ou bloed en vet. Van werwelbene en angorawol.
Vel. Die reuk van afgeslagtheid.
Of dalk is dit die toorwiel.
“Wat soek jy, Koekepan?” Dis wat die meeste mense Chinees noem.
Stadig buk hy weer af. Hy kyk oor my skouer en ek besef Koekepan kan my ouers agter die eetkamervenster se gordyne sien deurskemer.
Koekepan maak sy koffertjie oop, vroetel daarin terwyl hy die deksel so hou dat ek nie kan sien wat als daarin is nie. Hy haal ’n vuurpyl uit. Dit het ’n lang, dun rietjie as stert. Jy plant die rietjie in die grond sodat die vuurpyl se rooi puntjie boontoe wys. Op die vuurpyl se lyf is ’n rooi draak geteken. ’n Geel vlam blaf uit die draak se bek.
Die lontjie is klein en wit.
“’n Vuurpyl!” Ek is verras.
Koekepan staan ’n entjie weg, neem twee klippe, prakseer die vuurpyl so dat dit reg vir lansering is. Dan haal hy ’n boksie Lions uit, skraap ’n vuurhoutjie, hou sy hand bak en buk laag. Daar gaat die vuurpyl die lug in op. Dit klink nes papier wat skeur. Die pyl vlieg direk die son in en jy sien skaars die silwer streep en die rook wat uitdryf oor die werf. Maar jy ruik swawel en die honde tjank saggies.
Ver weg sien ek die pyl weifel en dan uitgebrand grond toe tuimel.
Ek hol oor die voetbruggie oor die voor, melkstal se kant toe, waar ek tussen die oliebome en brandnetels by die pisvoortjie die smeulende pyl sien lê. Swartgebrand. ’n Heerlike reuk van swawel.
Die draak is weggebrand, meestal, maar jy kan nog sy krulstert en agterpoot, sy hotklou, sien.
Koekepan staan trots terug en kyk na my.
“Guy Fawkes,” sê hy toe ek terug by hom is. “Net drie rand en vyftig sent. Beste Mandarynse vuurwerk.” Hy skud die boksie Lions. “Mêtjies,” sê hy. En herhaal in Hollands: “Lucifer.” Hy struikel bietjie oor sy woorde. Soms herhaal hy ’n woord wat te Hollands klink. Witkant, dink ek. Witkant die albino het Koekepan mooi Afrikaans geleer.
“Verkoop jy vuurwerk?” vra ek.
Maar Koekepan skud sy kop. “Fokkol winkel. Ek skou. Ek bring. Ek steek aan. Ek hou konsert.” Koekepan gee met sy een been ’n maer hikstappie. “Konsert,” herhaal hy.
Ek begryp eers nie. Dan verstaan ek. “Jy wil op Guy Fawkes vuurwerk skiet?”
Stadig knik Koekepan. “Konsert. Drie rand vyftig. Vuurwiele. Bomme. Pyle.”
Hy hou sy vinger oor sy lippe. Dan: “Sjooeiiii,” beduie hy in die lug in op. “Pof,” plof sy lippe en sy vingers waaier oop soos vonke.
Sy vingers is rooi soos die sout hulle gevreet het.
“Ek sal my pa gaan vra.”
Ek draf terug kombuis toe waar ouma Ogies doodstil op die kombuistrappies staan, haar gesig effe na bo gedraai. Helder is die vier papegaaivere in haar linkerhand. Ek skuur by haar verby en gaan na die eetkamer. Pa het steeds die verkyker voor sy oë.
“Kan jy glo,” sê hy toe hy my storie hoor.
“Kan jy dit glo,” sê Ma. “Chinees wil smous met firecrackers!”
“Het hy ooit ’n liksens daarvoor?” vra Pa.
“Asseblief, Pa!” Ek trek aan Pa se hemp.
“Nee, dis darem ’n mors van goeie geld.”
Ma skud ook haar kop. “En sê nou dit reën die aand? Of sy vuurpyle wil nie opstyg nie? Sê nou hy kom net met drie of vier goetertjies hier aan?”
“Asseblief-asseblief, Ma! Hy’s mos Chinees, hy ken crackers.”
“Dit het nie waffers gelyk nie, dit was maar ’n flou strepie rook. Ek kon skaars vuur sien. En dit moet mos fireworks wees!”
“Maar dis helder oordag, Pa! In die aand sal dit heeltemal anders wees.”
Pa sit die verkyker neer. “Gaan sê vir hom drie rand kontant, die aand na sy konsert,” beveel hy. “En hy moet ons ’n halfuur lank aanmekaar vermaak.”
“Ons soek verskeidenheid,” sê Ma. “Nie sommer net daardie knalletjies wat so in die stof rondspring nie.”
“Maar sê vir hom ons wil vooraf eers sy fireworks sien. Help nie dis net ’n klomp bomme nie.”
“Ja!” Ma knik instemmend. “Ons soek firewheels.”
“Nie boereverneukery nie.”
Ek hol by die agterdeur uit. By Koekepan herhaal ek die teenaanbod. Koekepan knik. “Guy Fawkes-dag, ek kom sewe-uur op die klok. Aand.”
“Mooi, Koekepan!” roep ek. “Maar onthou, jy moet eers wys wat jy het!”
“Baie mense?” vra Koekepan.
“Ons sal mense nooi, ja!”
“Vuurwerke jaag bose geeste weg.” Hy kyk my stip aan, en ek skrik vir sy oë.
“Ja?” Ek draai my kop skeef.
Maar Koekepan verander die onderwerp, asof hy ’n fout begaan het: “Mandarynse skou,” sê hy, draai om en stap hek toe, die koffertjie onder sy arm. Sodra hy ’n ent weg is, gaan staan ek versigtig binne die toorwiel. Hoendervleis slaan oor my arms uit. Ek sien iets, iets kom op, soos ’n wind of ’n swerm. Iets is om my en dis asof ek ’n galm hoor, ’n geluid sonder geraas. ’n Fluistering wat dawer.
My asem slaan weg. Dit voel of ek alle krag verloor; my hart fladder dun, so dun soos ’n skoenlapper se vlerke.
Ek gril, ruk my reg en spring gou diékant toe, gaan terug na my ouers, wat by die eetkamertafel sit met die verkoopsyfers van Ma se boekwinkel op die dorp oopgeslaan voor hulle.
“Hy gaan ook nêrens sonder daardie koffertjie nie,” sê Ma ingedagte.
“Hy bêre seker al sy papiere daarin,” antwoord Pa. “Of sy kontantgeld.”
“Lyk vir my daar’s veel meer as kleingeld daar binne-in.”
Ek luister hoe my ouers bespiegel. Ek is onrustig oor wat met my in die toorwiel gebeur het. Wat het oor my gekom?
“Het jy hom al ooit sonder die koffertjie gesien sit?” vra Ma.
“Nee, hy’t die ding altyd onder sy arm. Daar in die velskuur bêre hy hom bo-op ’n dakbalk.”
“Wat sal mens nou so kan ronddra?”
“Ek het geen idee nie.”
“As ek weer saamry om ’n sak bene te gaan aflaai, sal ek hom vra,” sê Ma.
“Dit sal die dag wees,” sê Pa. “Ek verbied dit. Moenie jy praatjies gaan staan en maak met Chinaman nie.”
“Hulle eet honde,” voeg ek by.
“Nou goed, nou goed,” keer Ma en vee ’n krul van haar voorkop weg. “Wat dit ook al is, laat hom maar met sy koffertjie loop.”
“Guy Fawkes!” roep ek.
“Jy bly ver weg van die crackers daardie aand,” sê Ma. “Mens kan ’n oog verloor, of ’n toon.”
Agter ons hoor ons skielik ouma Ogies se stem. Sy kom nooit verder binne die opstal as die kombuis nie, maar nou staan sy hier in die eetkamerdeur. Sy kom nader, skuifelend, tot by my. Sy doen ’n vreemde ding. Sy ruik aan my kop. “Die jongeheer stink na swawel.
“Dit gaan nie help nie,” sê sy dan. “Dis uit. En dis gedaan.”
* * *
’n Mens moet begin by dae soos hierdie ene. Want gister het die man wat ook die soutchinees genoem word, onverwags op die werf kom hurk.
Op sulke dae sien ouma Ogies dinge wat niemand anders sien nie. Sy’s sedert geboorte geseën met voorsienigheid, wat ’n sware las is om te dra.
Sulke dae trek sy vroegoggend haar huisie se deur agter haar toe en stap Sandsloot toe. Dis die diep erosiesloot wat ’n ent agter haar huis water uit die bovlakte trek. Die Sloot voer die water tot verder af in die bodem van die vallei, waar die rivier tussen donker doringbome en plate riet kronkel.
Hoe sy haar weg vind tot by die Sloot, en erger nog, in die Sloot af, verstaan niemand mooi nie, maar mense dink die koelte van die Sloot se mure rig haar. Die wande word al hoër hoe nader jy aan die rivier kom – later staan hulle so hoog soos ’n drieverdiepinggebou. Ma sê altyd dis ons eie Grand Canyon, hierdie sny in die aarde met sy katedraalpilare modder met ’n klossie gras of ’n doringboompie of ’n hamerkopnes bo-op elke pilaar waar die weerligvoëls onverstoord sit en onweer voorspel.
Die wande het hier en daar ’n grot wat uitgevreet word wanneer die vloedwater maal en na elke somer is so ’n grot dieper. Dis lêplek vir muskeljaatkatte en rooikatte en daarom stuur Pa my partykeers om voor so ’n grot ’n slagyster te gaan stel. Dis ook wegsteekplek vir treinspringers se sakke buit wat hulle van die trein af gesteel het terwyl die stoomlokomotief by die siding teen die berg water suip.
Drosters skuil in daardie grotte, mense op die langpad tussen die noorde en die suide. Soms word hulle van die Angola-lyn wat van die Baai hier verby Slootplaas noord loop, afgegooi wanneer die spoorwegpolisie die lang treine fynkam. Dan lê hulle eers hier in die koelte oor voordat hulle die rivier deurstap en teen die teerpad anderkant Bobby Greenblatt se plaas gaan staan met die lang gesigte van kraaie en die bruin duime van ou kansvatters.
Bandiete kruip daar weg met hul kaalgeskeerde blink koppe en tatoeëermerke. Enige handige ding wat hy optel, kan so ’n bandiet slyp tot mes, oppas maar vir die Sloot, en Pa waarsku: moenie dat stukke afvalyster naby die Sloot rondlê nie, die bandiete aas dit en dit word arsenaal.
Op drie van die modderpilare staan perskebome wat in die lente pragtig in bloeisels uitbars en dis wanneer Ma vir my en Pa op ’n Saterdagmiddag afvat Sloot toe. Dan staan ons op die wal en kyk verwonderd na wat sy die drie bruide noem.
Nou, oor die Sloot se bedding, onverskrokke tussen die alleenstaande pilare met die hamerkopneste bo-op of ’n uil wat haar stilweg dophou, stryk ouma Ogies aan. En onopsigtelik sluip ek agterna. Dis ’n paadjie hierdie wat sy sedert kleintyd stap, so weet ons almal op Slootplaas. As kind kon sy nie saam met die ander werkerskinders speel nie. Sy’t nog altyd blindelings gelewe, Slootplaas se ouma Ogies.
Ouma Ogies het ’n geldjie in die bank gehad. Toe Ma se pa, die oupa wat ek nooit geken het nie, dood is, het hy iets vir haar nagelaat. Haar voorgeslagte het op die plaas gewoon en hard vir Ma se grootouers (en vir geslagte nog voor hulle ook) gewerk. Vir die blinde meidjie Ogies het Oupa se testament ’n mooi bedraggie nagelaat, met die opdrag dat sy lewensreg op die agterste struis sou hê, plus vleis van die slagpaal, water uit die kraan en groente uit die akker per maand.
Dis nou te laat om te vra, maar ek verbeel my ouma Ogies se pa was ’n ruk lank onderwyser by ’n plaasskooltjie verder op teen die spoor. Of hy was ’n posbode op die dorp, of so iets. Toe het hy weer, toe die skooltjie sluit (of dalk toe hy sy werk as posbode verloor het) op die plaas ingeval, maar self nooit ’n graaf hoef op te tel nie. Wat hiervan mite is en wat ware oorlewering weet ek nie. Ek weet net iewers is die naam Renosterveld maar altyd aanwesig wanneer oor ouma Ogies se pa gepraat word.
By haar huisie sit ouma Ogies onder die Katolieke portret van die Heilige Santa Lucia en maak waaiers uit vere. Sy sny ook soms lang riete uit die Sloot se onderlope en snoei hulle mooi skoon en maak die vere boaan vas. Dis mooi goed en mense gebruik dit as versiering in huise: “ouma Ogies se papegaaivere”. Dis te mooi om as verestoffers vir plafonne te gebruik. Of sy maak ’n waaier waarmee jy, as jy nou in ’n storieboek ’n prinses of ’n ding was, jou sou kon koel waai.
Vir die mense van ons dorpie of die treinreisigers wat op die siding naby ons plaas se perron by haar koop, is so ’n veerding bloot so mooi dat jy nie jou hande daarvan kan afhou nie. En soos baie mooi dinge, onprakties. Dalk is dit juis omdat dit geen funksie het nie dat die mense dit nie kan weerstaan nie.
Aan dié dinge loop ek so doekvoet ek kan en dink, toe sy skielik omdraai. Agter haar toring die modderpilare en bo-op, die drie bruide.
“Tian Kilian, jy loop nou al oneindig agter my aan. Ek dag eers dis die tokkelos se pootjies, nou ruik ek jou. Wat is jou storie?”
Sy haal vinnig asem en met haar twee hande versit sy die papegaaiveertjies, oor en weer. Hier is die blou nou, daar gaat die groen, omruil met die rooi. Oranje!
Ek skrik my kis. Ek dag sy’t geen idee ek het haar die Sloot in gevolg nie. Op so ’n warm dag is die Sloot ’n oond. Veral wanneer dit kort tevore gereën het. Dan is daar nog klam kolle en sleepsels van water en opdrifsels oor die bodem.
“Ek stel slagysters, ouma Ogies!”
“Vir wat, Tian Kilian?”
Ek is verbouereerd. Sy staan daar veertjies in die hand teen ’n slootwand wat erg uitgekalwe is. En sy weet nie van die uitkalwing nie. Enige oomblik kan dit (ek hoor Ma se stem in my ore), soos die wande van die Sloot dikwels doen, net val. Oop en bloot sien jy dan soms die ou fossielskulpe wat op party plekke in die wande ingeklip lê. Die hoop ingestorte grond sal met die volgende vloed als rivier toe spoel. Ma het al ’n keer aan my gesê: “Hierdie Sloot is soos ’n kanker, hy eet al dieper in ons landerye in. Eendag gaan hy nog hierdie hele plaas verteer. G’n wonder jou oupa het die plaas Slootplaas genoem nie.”
Nou ja. Ma.
Maar nou staan ek daar, en ouma Ogies is verontwaardig.
“Teen die muskeljaatkatte, ouma Ogies!”
Maar sy kyk my met ’n skeptiese trek om die mond aan.
“Teen die Skreeu, ouma Ogies!”
Want in die Sloot, net om die draai verby die drie bruide, woon die Skreeu. Op daardie plek kom die vloed vinnig af en by die draai het die water ’n draaipatroon in die sandbedding gelos en fossiele spoel soms daar uit, krappe en horings en die naels van pote in klip gestol. Die Skreeu kan jy maar gaan soek, maar hy gee nooit bes nie. Net soms klink hy aaklig op, op onvoorspelbare tye. Dan skrik als op Slootplaas tot stilstand. Die diere kyk op, die honde se hare staan op hul rûe orent.
“Sterwensangs,” sê sommige mense.
’n Xhosamaagd, daar geslag deur ’n sangoma ’n eeu gelede, glo party. Of ’n groepie Boesmans, vasgekeer tussen die modderpilare deur ’n wraakkommando boere in die tyd van die veediewery, glo ander.
Niemand weet nie, en dit kon ook ’n mesgeveg tussen treinspringers gewees het, maar die Skreeu lewe daar en hy is ’n lewende ding, en onvoorspelbaar. Dag of nag, skielik klink hy op.
Waaroor almal saamstem, is dat die Skreeu te doene het met die vreeslike dinge wat mense mekaar aandoen, met die onliefde, met die wreedheid, met hierdie plek waarin ons woon se verskriklike geskiedenis van bloed.
Jy kan maar ’n duiweluitdrywer Sloot toe stuur, of ’n predikant of speurder – en al hierdie dinge het al gebeur – maar niemand kan die Skreeu wegsweer nie.
Onsigbaar en stil is hy daar in die Sloot se Maldraai, want dis wat die plaaswerkers daardie plek noem, en normaalweg loop jy dwarsdeur sy tjoepstilte, en hy verklap nie dat hy vir jou staan en kyk nie.
“Die Skrou wag sy eie tyd af,” het ouma Ogies se pa glo altyd gesê, “en wanneer jy hom die minste verwag, dan dawer hy.”
Op ’n keer het ouma Ogies geheimsinnig laat val: “Die Skreeu is rooi.” Sy kan hom sien, het sy vertel. “Vir my wys hy sy lyf.”
Niemand wou verder aan haar torring om uit te vind wat dit beteken nie. Party mense het ’n ander naam vir hom. “Hoendervel is hom naam,” sê hulle. “Partys roep hom Gril.”
Maar vir ons, vir my en Pa en Ma, het hy die naam Skreeu gedra.
Sal ouma Ogies my glo? Sy kom nader. Sy staan voor my en vroetel met die vere in haar hande. Sy gee my ’n bloedrooi veer. “Tian, kan jy nie hoor dis tjoepstil vandag nie? Vat die veer. Loop saam met my na Bobby Greenblatt sodat die rivierwind die swawel uit jou hare kan waai.”
Ek vat selfbewus oor my hare. “Is reg, ouma Ogies.”
Ek volg haar asof ek die blinde is. Ons loop in die Sloot af. Die Sloot is nie sommer ’n donga nie. Ouma Ogies vertel altyd terwyl sy deur die Sloot stap, hou baie oë haar dop. Ligvoets sit ’n rooivalkie op ’n boom se hoogste tak en kyk af na haar. Iewers wag ’n afgedwaalde aap in ’n skeur se skaduwee behoedsaam dat sy verbykom, sy oë stip op haar.
Die tokkelos is ook hier, op soek na sy geliefkoosde kos: sprinkane. Hy hurk daar in die skaduwee. Sy voel sy teenwoordigheid aan en wanneer sy by hom verby is, is sy blik ’n koue hand op haar ruggraat. Dis nes die koue oog van ’n boomslang wat deur ’n kriedoring vleg.
Hier is die reuk van grond so sterk, dit is asof die hele wêreld net uit grond bestaan. Grond styg weerskante van jou uit. Grond vervorm en lê in sleepsels onder jou voete. Boomwortels wat ontbloot is soos die wande inkalwe, krul terug die grond in. Jy is in ’n moot, binne ’n litteken. Jy is binne-in hierdie snit in die landskap.
Wie die hef in die hand het, weet ek nie, maar die Sloot is ’n oopkloof met die een of ander lem.
Deur hierdie lemhaal stap ek agter ouma Ogies aan. Haar gang is nie altyd koersvas nie en sy huiwer effe by tye. Sy sal haar vasloop teen ’n bos, maar nie reg teenaan die bos nie. Nee, ’n paar duim voor die bos gaan staat sy (staat is Pa se woord – dis iets meer as staan, nie waar nie? – en ek het die gebruik daarvan geërf). Daar staat sy en dink, en sy sê vir my, vanmiddag: “Tian, ’n bos daag my uit. Ek sien pendorings.” Ek bly stil. Dan sê sy: “Ek retireer en gee drie treë vorentoe.”
En jou wragtie, daar gaat sy weer, óm die boom.
Ek volg haar. Die krom figuurtjie. Soos Pa altyd sê, “die frikkadellyfie met die dolfynkoppie”. Ek volg haar en ons gaan oorkant toe, na Bobby Greenblatt toe.
Waar die Sloot in die rivier uitmond, moet sy eers stadig oor die klippertjies. Ek gee haar kans om haar weg self te vind. Dan ploeter ons oor die sandbank en deur die vlakwater. Met die aappaadjie wat die blouape tussen die riete uitgetrap het, styg ons teen die oorkantse oewer uit.
Die blouape koggel ons en buitel in die takke, want ons is nou op hul loopplekke. Hulle bly versigtig ’n ent weg. Hulle ken my al, ek stuur maklik met my kettie ’n klippie na so ’n astrante aap se boud, en vir daardie eina is hulle skrikkerig.
Ouma Ogies gaan eers staan. “Ek sien eers rus,” hyg sy. Ek laat haar begaan. Dis in die tyd van haar angste en floutes, die tyd na haar groot koors.
Sy vleg na ’n rukkie verder met die vertroude paadjie langs en die riete se blare weerskante van die paadjie hou haar liggies op koers. Hulle vee oor haar arms en soms teen haar wange af, saggies. Hulle help haar as sy skeef draai. Al hoër loop sy, tot by die groot nieshoutpaal. Dit is waar hierdie aappaadjie uitloop op een van die lusernlande van ons buurman Bobby Greenblatt se plaas.
Sy vat die paal vas asof dit ’n man is, of ’n sekerte. Sy skep eers weer asem. Dan, met haar regterhand op die grensdraad wat loodreg op die oewer afloop en die lusern van die veld skei, stap sy tot by Bobby se werf.
Van Bobby Greenblatt se werf af hoor ons een van die werkers na hom roep: “Ouma Ogies op pad, my grootbaas!”
Bobby Greenblatt verskyn op sy werf. Soos gewoonlik is hy joviaal en hy skud ouma Ogies se hand en dan myne, formeel. Hier in die vallei waardeer bure mekaar. Die afstande is ver en die nagte tjoepstil. Daar is net die klank van die treine veraf, en die gesteun van diere. ’n Kar, nou en dan, daar ver anderkant op die teerpad. Oom Bobby is ’n wewenaar en eensaam, dis dié dat hy altyd uit sy opstal kom, al is mens nog in aantog. So sê Pa.
“Al weer veerkolleksie!” bulder Bobby Greenblatt en lei ons na die papegaaihokke. Van ver af sien ek die veelkleurige voëls in die bome agter die sifdraad. Party sit tjoepstil tussen die takke en hier en daar begin een sweef, ’n boog rooi en blou en groen.
“Ek moet julle wys,” klets oom Bobby. “Daar’s een wat deesdae alte lekker praat. Ek staan elke dag ’n minuutjie by hom. Hy kan die weervoorspelling napraat al weet hy nie wát hy sê nie.” Oom Bobby lag: “Elders mooiweer en warm! Verspreide reënbuie oor die Kaapse middellande!”
Oom Bobby is ’n groot man met ’n diep bors en ’n buik wat sy stem party dae oor die rivier en tot by ons opstal laat eggo, dis nou as die wind reg waai. Hy’t ’n lang baard en die geduldige respekte wat mense het vir iemand soos ouma Ogies. Ons voel sy groot stem ons omhels en sy skaduwee val oor ons. Hy lei ouma Ogies aan die hand tot by sy papegaaihokke. Dis groot hokke, dit laat jou aan tennisbane dink. Sifdraad is bo-oor gespan, so hoog dat opgeskote vrugtebome binne die hokke groei en mens ver kan loop binne een so ’n hok terwyl die papegaaie om jou kop fladder of om jou in die bome sit. Dapper probeer die bome vruggies uitstoot, maar gou vreet die papegaaie dit weg, voor dit nog behoorlik ryp is.
Hulle het allerhande kleure, Bobby Greenblatt se papegaaie, en hulle kom van ver noord, uit die oerwoude, en hulle kom uit die Amasone ook, hoor ons, en sommige mense sê hulle kom van Indië en Java, maar ek weet nie. Wanneer jy daar inloop, fladder die reënboog om jou.
Bobby lei ouma Ogies ’n hok binne en maak haar teen ’n boom staan. Hy wag tot ek ook binnekom en stoot die hek agter hom toe. Skuinskop staan ouma Ogies daar en luister terwyl hy buk en die hokvloer fynkam en elke stertveer en vlerkveer wat hy kan kry, optel. Ander donsvere ook. Hy’t klaar ’n bruinpapiersak by hom waarin hy die donsvere prop. Die stertvere en vlerkvere woel hy in bondels en draai hulle steeltjies met koperdraad vas. Die draad rol hy van ’n houttolletjie af, splinternuwe koperdraad uit die winkel.
Soos elke slag vra hy: “Oumatjie, moet ek blou by blou sit en rooi by rooi en geel by geel?”
“Ek kan self sien, baas Bobby Greenblatt,” brom sy. “Dis nie die eerste keer dat ek jou dit sê nie.”
Hy maak dan maar die bondels met kleure deurmekaar vas en gee dit aan haar.
Maar toe skrik hy tot stilstand. Daar lê ’n inkswart stertveer op die grond. Dit glinster in die son. Ineens sit die papegaaie tjoepstil in die bome, asof hulle sien dat ons die veer opmerk. Oom Bobby staan ’n ruk verdwaas en buk by die swart stertveer en tel dit op. Woordeloos kyk hy daarna, dan kyk hy na my, dan weer na die veer. Hy kyk na ouma Ogies, maar sy wis niks. Ek sien die hoendervleis op oom Bobby se voorarms uitslaan.
“Ek sien daardie rooie in jou hand,” kom ouma Ogies se stem, en sy hou haar hand uit na die veer wat lyk soos dié van ’n kraai, blinkswart soos die sy van Pa se toga. “Ek soek nog sulke rooies, en geles vandag ook. Groenes laaste, asseblief.”
Sy staan daar en haar koppie beweeg heen en weer, haar neusvleuels bewe.
Oom Bobby kyk vinnig na my, skud sy kop, en gee die swart veer aan ouma Ogies. Sy sit kleur by kleur, en die swarte vind sy weg na die bondel rooies. “Blou,” sê sy, en rangskik ’n rytjie blou vere in haar regterhand. “Rooi,” sê sy en rangskik ’n bondel rooi vere in haar linkerhand, met die swart ene daarby. “Soort by soort.”
Oom Bobby se gesig is bloedrooi. Toe hy sien ek wil iets sê, skud hy sy kop.
“’n Bekertjie kraanwater, oumatjie?” vra hy.
Sy skud haar kop. “Nee dankie, ek sien sommer my water daar onder by die rivier.”
Later gaan ons uit, hy sluit die hek en skud woordeloos my hand en ouma Ogies s’n.
Ek en sy stap stadig terug. Bobby Greenblatt kyk ons agterna terwyl ons wegstap, sien ek met die omkyk. Ouma Ogies het een hand op die draad vir sekerte, die vere in die ander. Af, af na die nieshoutpaal, waar sy eers asemskep en skuinskop staan en luister na hoe die blouape, wat ver in die doringbome sit, haar koggel.
Sy bly moeg lyk. Sy wil my ’n handvol vere gee om te help dra, maar ek skud my kop. “My hande is vuil, ouma Ogies, ek het netnou aan modder gevat daar onder in die rivier.” Ek is te bang om aan hierdie swart veer te vat.
By die niespaal gaan staan sy. “Jy weet, Tiantjie. Ek, hierdie bruin vrou, was by by jou geboorte.” Ek kyk verras na haar. “Ek het aangedring om jou geboorte te sien.”
“Maar hoekom, ouma Ogies?”
Sy skud haar kop net en ons begin weer stap. “Ek sien jou geboorte. Tot vandag toe.” Ek groet haar voor haar huisie. “Ek moet nou aan die werk spring met hierdie vere.” Sy stap met die bondels vere die skemerte van haar voorhuis in.
’n Week daarna probeer sy ’n oorbel met die papegaaiveer aan ’n reisiger op die stasie verkoop.
“Bloedrooi,” sê sy, en gee aan die verwarde treinreisiger op die perron die oorbel met die swart veer wat daaraan hang. “Om die gelaat mee op te helder.”
* * *
Nadat Charlie Ng op Slootplaas se werf met my en my ouers oor sy vuurwerkvertoning onderhandel het, stap hy die lang pad terug dorp toe.
Dis gedaan, dink hy. Nou is daar nie meer omdraai nie. Hy gaan al die gesig wat hy verloor het, terugkry. En daardie man wat hom so beloer het van agter die gordyn, die man wat sy seuntjie uitstuur om met hom te onderhandel asof hy, Charlie, self ’n kind is, daardie man weet nie wat op hom wag nie.
Terwyl hy met die tweespoorpaadjie aanstap, draai sy gedagtes, soos so dikwels deesdae, terug na die eerste dae in Amsterdam. Dae wat hy net ken uit wat hy in sy kinderjare moes aanhoor, meestal van ouma Voetjies, wat graag die familie Ng se geskiedenis oorvertel het, en elke keer met meer kleur.
Hierdie man moenie dink dat hy, Charlie Ng, sommerso is nie. As hulle maar weet, die mense van hierdie distrik en hierdie treurige dorp, waar hy vandaan kom. Dan sal hulle nie so deur hom kyk nie. Hom nie so minag nie.
Ouma Voetjies het hom dikwels van sy geboorte vertel, en van sy ma. Maar eintlik was die stories meer oor haarself. Ouma Voetjies se regte naam was Shie Ng, die een wat ure lank (so is daardie dae geskinder) stip en roerloos voor die langspieël staan, onsekere opbindvoetjies ten spyt.
Ja, het ouma Voetjies gelag wanneer sy Charlie van die geskinder oor haar ydelheid vertel het. Sy was nie skaam vir haar liefde vir die spieël nie. Nee, wat. So was dit. “’n Welverdiende liefde,” het sy graag gesê. Met smaak sou sy dan voortgaan, onthou Charlie nou terwyl hy die stof van die Karoo ruik en sy voeteval op die paadjie hom in ’n soort beswyming laat verval. Ja, vir die Chinese gemeenskap wat hulle in daardie jare tussen die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog in Amsterdam probeer vestig het, was Shie Ng ’n soort koningin in eie geledere. As daar iets was wat ’n Hollander in die strate van Amsterdam laat omdraai het, was dit die skoonheid van Shie Ng, het die mense van Binnen Bantammerstraat, Amsterdam, graag gesê (volgens ouma Voetjies).
Wanneer sy by hierdie draai in haar storie kom, het ouma Voetjies gekraai van die lag. Haar beentjies met die voetjies het dan styfgeskop waar sy op haar stoel sit, asof sy haar opbindvoete vir die wêreld wou afwys.
Sy stap moeilik op daardie twee voetjies, maar met die steun van ’n sterk nefie of twee ooms aan weerskante vaar sy soos ’n swaan deur die strate, meer op die hande gedra as wat sy self stap – maar dis natuurlik deel van die sjarme. “Shie Ng sweef met haar elmboë in die hande van manne. Sy loop op water.” So het die mense glo dikwels opgemerk.
Charlie se oë volg ’n valkie wat bokant die vlakte hang. Hy gaan staan eers om die jag dop te hou. Stip hang die rooivalkie en skiet dan skielik af grond toe. Maar hy’s te laat, sy prooi het weggekom; hy vlieg skuinsweg verder.
Charlie begin weer stap. Dis 7 Augustus 1922. Die Jaar van die Hond. Nie ’n gewone dag nie, want dis die geboortedag van ’n nuweling in die bekende uitgebreide familie Ng, waaraan Shie behoort. Dis ’n dag van onrus en water, en dis die twee dinge wat die ongebore baba saam met hom of haar die lewe gaan inneem. Shie deel ’n kamer met die swaar verwagtende Mae Ng, die nuwe baba se moeder. Dis klaar besluit: as dit ’n seuntjie is, sal hy Charlie Ng heet; as dit ’n dogtertjie is, word sy na Shie vernoem. Mae word die oggend ligdag wakker, staan op en besef met haar hand op haar buik dat vandag die dag van die geboorte is. Sy kyk deur ’n skrefie in die gordyne na buite. Sy het nog skaars ’n uur se lewe in haar oor, maar sy weet dit nie.
Hulle woon op die tweede verdieping van ’n gebou in Binnen Bantammerstraat. Terwyl sy deur die skrefie tussen die gordyne loer, sien Mae ’n strepie water, net ’n vegie. Dit blink soos glas en dit boei haar oë want op só ’n dag is mens mos altyd op soek na ’n teken. En daar is dit: opeens sien sy onder haar venster vier polisiemanne om die hoek kom. Toe ses, sewe, méér. Nóg.
Die gerug doen al geruime tyd die rondte dat die Amsterdamse polisie die buurt wil skoonmaak, en nou is hulle daar. Dis nie ’n gewone voetpatrollie nie, sien Mae – hulle het ’n beslistheid aan hulle en daar is te veel van hulle. Mae kyk na die bed langs haar waar Shie Ng soos in ’n skildery lê.
Mae kyk na die pragtige lyne van die swaannek en die swart hare. Shie slaap met ooglede wat liggies tril en jy kan ’n nat gleufie oog sien, al is sy vas aan die slaap. Dis asof sy selfs in haar slaap haar oë oophou vir die spieël, daardie lang, breë stuk glas teen die muur langs haar bed. Shie het dit spesiaal laat raam, jare gelede. ’n Goue raam.
Waar sy daar lê en slaap, steek die twee voetjies, in sokkies verhul, potsierlik onder die laken uit. Elk skaars groter as ’n man se vuis.
Shie is Mae se tante, ongetroud, maar ja, daar was eens ’n eggenoot. Nee, drie. Twee hier in Nederland; een was ’n Hollander, ’n Rotterdamse klerehandelaar en ’n drinker. En dan die een in Hongkong, maar hy word nie genoem nie. Daar is baie mans hier in Binnen Bantammerstraat en die Zeedijk wat ’n “eerste vrou en kinders” in China het en daarna hier in Amsterdam ’n tweede familie begin het. Daardie familie daar ver is die “huisfamilie”, die gisterfamilie. Soms gaan die mans terug vir ’n spoggerige besoek. Maak nog ’n kind, en kom weer terug Amsterdam toe, na die ander – die heeltemal ánder – lewe hier.
Dis dinge waaroor nie gepraat word nie – veral nie teenoor die jonger geslag nie, want hulle verstaan nie alles nie. En Shie is, so ver Mae weet, die enigste Amsterdamse vróú wat op die patroon van die mans met ’n gisterfamilie in die Ooste ’n soortgelyke situasie “in stand hou”, soos dit beleefd gestel word.
Shie het ’n jaar of vyf gelede met groot gebaar haar vierde dekade gehaal. “Die partytjie van spieëls” noem die Chinese gemeenskap daardie viering toe die Ng’s die eerste Chinese familie ooit word om die groot saal te huur vir ’n byeenkoms wat nie ligtelik vergeet sal word nie. Die saal is omskep in ’n kamer van spieëls, met ballonne en Chinese lanterns in allerlei kleure. Spieëls teen die mure, spieëls van alle groottes. Vollengtespieëls, vierkantige spieëls, ronde spieëls. Die hele Amsterdamse Chinese gemeenskap is gevra om elk ’n spieël of drie uit hul huise vir die aand te leen.
Die spieëls is oral teen die mure gehang en die lanterns en die groot skilderye van wilgerbome en mistige mere en drake is daarin weerkaats, en die spieëls was die familie se huldiging van Chinese skoonheid. Nee, nee, dit was glad nie bedoel as bespotting van Shie se befaamde ydelheid nie. Dit was eerder ’n viering van die skoonheid van vroue soos sy, die Chinese vrou as ’t ware.
Mae beweeg swaar. Sy skud Shie saggies aan die skouer. “My water gaan breek vandag. En die straat is vol polisie. Hulle kom ons haal.” Sy gaan staan weer by die venster. Uit die deur van die losieshuis skuins oorkant hulle boender die polisiemanne vier mans die straat in. Hulle is nog vaak en verontwaardig en verstaan nie die polisiemanne se Nederlands nie. Hulle is stokers wat die week daar oorslaap en wag tot hul skip terug na Hongkong vertrek. In hul slaapjurke, kaalvoet. Hulle moet op ’n bondeltjie staan. Toe een van hulle opkyk en Mae Ng deur die gordyne sien loer, roep hy sonder om na haar te kyk: “Vlug!” Dan weer, terwyl hy anderpad kyk. “Vlug!” Sy ken hom, elke paar maande is hy terug in Amsterdam, maar net vir ’n week of twee. Die een met die krulstertjiebaard op sy ken.
Toe sy seker is dat Shie behoorlik uit haar skoonheidslaap gewek is, sukkel Mae die trap af tot in die kombuis. Dit is die gesamentlike kookruimte vir al die gesinne wat in hierdie huis woon. Die drie kombuistafels is volgepak met plate pindakoek wat wag om in blokkies opgesny te word. Dit ruik soet en swaar en asof dit sal help, gooi sy lakens daaroor en steek agter ’n kas die twee lang, skerp messe weg wat gebruik word om die plate in soet grondboontjieblokkies op te sny, reg vir die smouserye op die straathoeke.
Dan hamer iemand aan die voordeur en om haar is die huis nou in rep en roer. Sy sukkel die trap op, verby lywe wat vervaard en deur die slaap na benede kom. In hul kamer sit Shie met haar lyf in ’n pragtige rok van sy. Voor die spieël. Haar hare is reeds teruggeswiep en opgebind.
Dis onnodig om te sê: vir ’n vrou van vyf-en-veertig lyk sy asembenemend. Nee, jy moet eerder sê: ás ’n vrou van vyf-en-veertig, omdat sy nou in haar element is en op haar mooiste. Nog jonk genoeg maar ook net in die stadium dat die vlakheid van jeugdige skoonheid die wyk neem en karakterskoonheid intree.
Shie slaan selfs die spieël se silwer weg, en jou asem ook – so sê die mense. Tydsaam is Shie besig om haar grimering aan te sit. Daar is geen haas as dit kom by skoonheid nie, is haar houding sedert sy as kind ontdek het dat mense stilstaan om na haar te kyk. Tydloosheid in die spieël verg rustigheid en metodiese instandhouding.
Met die lipstiffie en die wit poeier agter die rug word die parfuum aan die voetjies getjierts. Vandag, merk Mae op, kom ’n ekstra spuitjie by. Vir die wis en die onwis. Dan, opeens, is Shie gereed. Vir die eerste keer vanoggend kyk sy Mae in die oë. Shie se lang wimpers sprei onverstoord oor die groot, swart oë.
“Die skuit lê hier agter vasgemeer. Ek het hom laat gisteraand al laat kom toe ek sien hoe laag jou baba lê en toe ek hoor die polisie slaan vandag toe.
“Kom.”
Mense bondel op die trappe en die twee vroue beweeg by die plate pinda onder die lakens verby en druk die agterdeur oop. Iemand het die deur van buite probeer toespyker, maar Shie skouer dit oop. Hamerhoue bulder teen die voordeur en uit die buurt hoor hulle ontstelde uitroepe, voete wat oor keistene kletter en die loeiende sirenes van polisiewaens.
Hulle sukkel in die stegie af na die agterplaas van die restaurant agter hulle. Verby die hok vol eende wat vervaard aan die snater gaan, verby die vullisblikke wat vanoggend opgehoop met skille staan want gister het die meeste mans geepad na Rotterdam en ander plekke om te gaan wegkruip.
Toe die gerug die vorige middag sterk begin loop, het baie families gegroet en die manne het een-een met die kleiner, stiller strate verkas na bushaltes en treinperronne.
Mae hamer aan die restaurant se agterdeur. Dit behoort aan haar oom. Hollanders wat die afgelope jare die smaak van Chinese kos begin ontdek het, het haar oom in staat gestel om die restaurant Peking Duck uit te bou tot ’n skaflike saak – die tweede respektabele Chinese restaurant in Amsterdam. Die man wat die deur met ’n verskrikte gesig oopmaak, is Pang, die ongebore baba se vader. Hy werk saans hier as kelner en skottelgoedwasser en bedags staan hy met sy skinkbordjie om sy nek as pindaman daar op die hoek waar Kalverstraat op die Dam uitloop.
“Kom,” sê Shie en hobbel verby hom. Sy het een van haar rokke oor haar arm. Met haar ander hand dra sy ’n klein vierkantige koffertjie, wat sy nou oopmaak. Binne-in is ’n pruik. Sy sit dit op sy kop voordat hy behoorlik kan protesteer. “Vir die wis en die onwis.” Sy haal ’n skêrtjie en skeermessie te voorskyn, gryp kombuisseep en vryf Pang se baardjie met seepskuim in. Gou knip sy en skeer. Lipstiffie op sy lippe. “Trek aan,” beveel sy en daar voor hulle trek hy sy hemp en kniebroek uit en gooi die rok oor sy kop.
“Kom, julle moet my help.”
Sy hou haar elegante arms effe gelig weerskante van haar. Hulle neem haar aan die elmboë en met haar voetjies wat skraap-skraap oor die grond dra hulle haar by die restaurantdeur uit, verby drie polisiemanne wat verras staar na die drie vroue en veral die skoonheid met die voetjies, en dan is hulle om die hoek en by die bootjie wat daar wag. ’n Vriend, die stom wasserykneg Bob, trek die buiteboordenjintjie se koord toe hy hulle sien aankom en hulle sukkel die skuit in. Shie druk Mae en Pang plat op die bodem van die boot. Sy trek die olieseil oor hulle.
Voor in die boot staan ’n bankie. Sy sleep dit tot heel voor en sukkel om haar balans op haar voetjies in die wiegende skuitjie te behou. Sy sit die koffertjie langs haar neer en nadat sy op die bankie plaasgeneem het, stal sy op die dwarsplankie reg voor in die boeg haar twee voetjies uit.
Uitgestrek sit sy daar, ’n koningin in die vroegmôremis wat uit die breër gragte opstoot hiernatoe. Agter die geboue is die rumoer van die owerheid se groot poging om ontslae te raak van die ongewenstes in hierdie bakermat van die strydende triades Sam Tin en die Bo On.
Die boot se enjintjie rook en stotter en hulle begin beweeg. Stadig gly hulle by die onrustige eende verby, en vanuit vensters in die huise op die kanaal kyk Hollanders na benede. Kyk daardie pragtige Chinese vrou in ’n blink aandrok. Kyk haar gek voetjies, kyk hoe sit sy soos ’n koningin alleen op die boot, terwyl die arme drommel van ’n ongetwyfeld ongeletterde Chinees met die spits hoedjie haar voortstuur oor die blink, gladde water, verby die rumoer en die hordes mans wat opbondel terwyl die polisiemanne bars op hulle skreeu, die polisiewaens se uitlaatpype wat sidder soos hul enjins luier.
Daar vaar Shie verby, en vir ’n oomblik draai een polisieman verbaas na die spektakel. So selfversekerd is die skoonheid van die vrou dat dit ’n stip, aandagtige oomblik raak. Die bootjie gly verby en Shie kyk kalm voor haar uit, asof sy die hoofrol in ’n film speel en asof elke oog wat na haar kyk, haar salf met genade.
* * *
Waar hy onder ’n doringboom gaan sit het om bietjie te rus, hoor Charlie ’n voertuig aankom. Hy kyk na waar hy pas vandaan gekom het en kan die stofstreep oor die vlakte sien. Toe die voertuig naderkom, sien hy dis die man op wie se plaas hy die vuurwerkvertoning gaan hou. Die man wat nie weet wat op hom wag nie.
Eers oorweeg hy dit om agter die boom weg te kruip, maar hy bly tog net so sit. Dalk sien die man hom nie. Maar die man merk hom tog op, en hy hou in ’n stofwolk stil. “Chinaman!” roep hy, “Wil jy opspring? Ek moet dorp toe.”
Eers huiwer Charlie. Iets stoot in sy keel op. Naarheid, wurgwoede. Maar dan dink hy: Offer die peerboom op. Dan, Charlie, kry jy die perskeboom. Hy staan traag op en stof sy sitvlak af, tel sy koffertjie op. Die man, Pa, sit vorentoe en kyk en wag dat Charlie oor die bakkie se relings klouter.
Dan gee hy weer vet en Charlie moet vasklou so al wat hy kan daar op die warm bakwerk wat sy sitvlak brand en met die koffertjie se inhoud wat so skud dat hy dit met een arm op sy skoot vashou.
Toe die bakkie by die grootpad inswaai, sit hy agteroor. Dit gaan nou egaliger. Die son skyn hom vol in die gesig. Hy laat sy hoed oor sy gesig skuif. Hy trek hom terug in sy gedagtes. Na sy geboorte.
* * *
Hulle vaar die water binne. Charlie Ng word op water gebore, onder ’n seil, met die stom bootsman Bob wat verleë sy rug draai, en sy ma, Mae, wat stilweg steun, steun en dan sterwe. Ook sy pa, met pruik, met lipstiffie wat oor sy wang smeer, in ’n rok. Sy pa, Pang, lyk eers of hy vries van skok en dan lyk hy benoud en dan word hy byna mal van woede en desperaatheid. En sy groottante Shie sit uitgestal op die boeg. Vars, met die wind in haar hare.
Die bootjie meer vas aan die Javakaai. Mae Ng lê roerloos. Die draery van haar pragtige tante daar van die restaurant af na die skuit, die vrees vir die polisiemanne en die kommer oor haar baba het haar water verkeerd laat breek. Iets het verkeerd geloop. Die baba – ’n seuntjie – lê met die naelstring ongeknip nog tussen hom en haar. Dit krul bloederig en dis Shie wat by haar koffertjie buk, ’n slagmes uithaal (een van die pindamesse) en terwyl die bootsman die tou aan ’n paal op die kaai vaswoel, die naelstring deursny.
Shie lig die nuweling op. Hier ruik dit na teer en water en olie. Steenkool en ou vis. Dis die reuk van ’n hawe en die kaaie lê vanoggend verlate. Dit is asof als asem ophou terwyl die vangwaens vol Chinese mans die Binnen Bantammerstraatse buurt verlaat en onopgemaakte beddens in leë kamers agterlaat, en klere wat rondgestrooi is, en halfgeleesde briewe in rooi ink, geskryf op Chinese papier. Ook verskrikte vroue en huilende kinders.
“Jy is Charlie,” sê ouma Voetjies.
So is Charlie Ng op water gebore, in ’n tyd van onrus, en op die vlug. Dis iets wat hy in sy grootwordjare baie sou hoor. Hulle het ontkom, ja, maar sy ma, sy ma het op die water gesterwe.
Sy lewe het hy te danke aan die skoonheid wat later ouma Voetjies genoem sou word. Sy het sy naelstring deurgesny. Vergeet dit nooit nie.