Читать книгу Die wêreld van Charlie Oeng - Etienne van Heerden - Страница 8
Krygstaktiek 3
Оглавление“Wend jou tot ’n lyk wanneer jy nuwe dinge wil doen.”
Miskien was dit weens Pa se voorliefde vir drama dat hy die enigste prokureur in die kontrei was wat ’n oor gehad het vir wat mense in daardie jare “politieke sake” genoem het. Daardie veiligheidspolisie in hul eenderse wit karretjies het lekker rof gespeel. Ek sê dit met huiwering, maar die term was: “Hulle’t kaffer gegaan.” Dit beteken hulle het uitbundig en met volle oorgawe hul rol gespeel.
Hierdie woorde en idiome vind jy deesdae nie meer in woordeboeke nie. Daarom kan jy nie juis teruggaan en vra wat beteken hierdie idioom presies nie. Dis asof hierdie woorde nooit daar was nie. En as die woorde verdwyn, só hoop mense skynbaar, verdwyn ook die houdings ágter die woorde uit die geskiedenis. En hul voorouers se wandade.
So word ’n nuwe verlede opgedroom en was die geskiedenis sy hande in onskuld. Maar ek, ek moet als in die oë kyk. As ek eerlik wil wees, moet ek ’n lem in die hand hê. Al laat dit my bloei.
Dit was die dae van die Koue Oorlog en ’n kommunis-agter-elke-bos. Die ANC was verban, so ook die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, en Nelson Mandela was bestem om vir baie jare in die tronk te bly. Pa moes versigtig wees. Hy kon sake aanvat van mense wat die veiligheidspolisie te lank sonder verhoor aangehou het, of mense wat elektrisiteit gevreet het (soos dit genoem is wanneer hulle met ’n masjientjie met ’n slinger nes ’n telefoon gemartel is), of mense wat net eenvoudig verdwyn het in die tyd nadat daardie karre snags ál om hul huis was en hulle al ’n slag of twee vir ondervraging nadergeklap is.
Ja, hy kon hierdie sake aanvat, maar hy moes dit laeprofiel hou. Die dorpenaars en plaasboere sou dink: Wie wil jou boedel toevertrou aan ’n man wat saamwerk met die magte wat die pilare wil omtrek sodat die hele huis instort? Moet hý jou testament vir jou weduwee voorlees? Nee a.
Buitendien, die ou landdros het geen geheim gemaak van sy ongeduld met hierdie dinge nie. As jy ’n kafferboetie-prokureur (’n alte gangbare term in daardie jare) wil word, moet jy geepad Oos-Londen of Baai toe. Moenie hier voor my kom staan met dáárdie toga oor jou skouers nie.
Dus het Pa dit rustig gehou. Een so ’n sakie op ’n slag. En hou dit sober. Bly weg van politieke taal en slagspreuke. Prosedeer eerder vanuit die oogpunt van huislike omstandighede: die eggenoot, die kinders, die gesin. Hou dit by gewone verontregting. Moenie ’n politieke vlag uithang nie. Wees katvoet by die klub Vrydagaande. Maak ’n grappie oor die toonnaeltrekkers.
* * *
Moeilike jare, daardie, toe mevrou Mtuze eendag by Pa instap. Sy was destyds toe Pa op die dorp begin praktiseer het, Pa se eerste kliënt. Dit was maar so, die senior vennote sê sommer met die intrapslag vir die dames by ontvangs: as hier swartes kom, keer hulle af na die nuwe jongeman. Die mees onervare nuweling kry die mins betalende sake. So het mevrou Mtuze baie jare terug al by Pa beland.
Haar man, die eerwaarde (Slootplaas se vader Amen), was ’n waardige oubasie wat in ’n swart pak ’n dikwielfiets gery het met ’n aktetas bo die agterste modderskerm. Vir Pa was dit ’n moeilike saak. Want hy’t die swart predikante soms verbied om voet op ons plaas te sit, en mevrou Mtuze se man was een van hulle. Gelukkig het eerwaarde Mtuze meestal noord van die dorp gewerk, ánderkant toe, daar na Spekboomberg en Post Chalmers en die Renosterveld se geweste.
Pa was jonk en hy het haar gehelp waar hy kon. Dis vaag waaroor die eerste sakie gehandel het, maar dit had destyds al ’n politieke kleurtjie. Die senior vennote het laat begaan. ’n Binnensmondse waarskuwinkie aan Pa was genoeg: nie te veel hiervan nie.
* * *
Die tyd waarin my verhaal afspeel, was egter nie ’n tyd vir klein dingetjies nie, en so gebeur dit dat Witkant, wat daar staan en ginnegaap aan die kant van die gebou waar Veiligheid hul karre parkeer, se oë vernou toe mevrou Mtuze een oggend oorkant die straat by die barbierpaal huiwer, haar rok regtrek, en by die deur net langs die barbier s’n ingaan. Dis die deur wat lei na trappe wat jou opneem na Pa se praktyk.
Witkant glip in by Veiligheid se deur skuins oorkant die barbierpaal. Ek kan my voorstel hoe hy daar insluip en hoe wakker sy oë vir als daar binne is. Hy trek sy asem diep in toe die koelte van die gang hom tref. Behalwe die mense wat hier werk, kom min ander mense ooit vrywillig hier by die toonnaeltrekkers. Daar is natuurlik ook ’n agterdeur, weet hy, wat uitlei op ’n klein agterplasie, en daarvandaan ’n steeg straat toe. Jy kan ook met ’n kar of vangwa daar in, daar is ’n groot swaaideur. En hy dag, as jy van daai kant af ingebring word, is jou doppie geklink en gaan jy vir seker elektrisiteit vreet en sing soos ’n kanarie, my broer.
Hy suiker af in die gang en val in by ’n oopplanvertrek waar aanvanklike papierwerk gedoen word. Hier verder af in die gang is die offisiere se kantore, met daar heel aan die einde die grootbaas se kantoor, daar by die opgerolde brandslang teen die muur wat vir hom altyd nes ’n slapende luislang lyk. Die plekke waar dit lekker rof gaan, is agter klankvaste deure, jy moet daarvoor weer af met die trap, jy wil eerder nie dáár in nie. Daar, het hy al vir Koekepan vertel, gaan dit steun en been.
Witkant leun oor die toonbank wat hier lei na die oopplankantoor, waar mans agter tafels en lessenaars rondsit. Sommige is aan die bel. Moue is opgerol. Hulle bly hier bo teen die bult agter grasperke, jy sien hulle Saterdagmiddag by die rugby met hul seuntjies en Sondagoggend op die Moederkerk se trappe, skoonma inkluis by die gesinnetjie. Maar o wee, dag Witkant, ek is ’n weesdas met ’n kwaai stiefvader, kanti madoda, as die nag kom, brand hul oë soos sweisvlammetjies. Dan wil jy nie ’n activist wees nie. Dan wil jy eerder agter jou vrou se rug slaap. Ithemba liyaphilisa. Net die hoop gaan jou aan die lewe hou!
“Mama Mtuze is nou net hier oorkant verby die barbierpaal trap-op na die Scales of Justice.”
Hy staan daar en praat met niemand in besonder nie. Een of twee kyk op. Dis die jonge, die outjie vars uit Johannesburg, wat antwoord: “Tarkastad het haar seun eergisternag opgetel in ’n padblokkade. So hoor ek. Hulle werk nog met hom.”
Ek sien hom daar staan en saggies fluit. “Boetie!” Hy skud sy kop. Half verveeld staan hy daar, ’n beteuterde gatkruiper en laeorde-informant; sê maar ’n impimpi. Maar die woord impimpi neem hom gans te ernstig op. Vir die meeste mense is hy maar net die Chinaman se meeloper. Hoogstens is hy dalk vermaaklik. En tog, en tóg: daar is dae dat jy jou ore kan spits vir sy sêgoed, dan sit hy sy vinger akkuraat op iets.
Maar teen ’n fooitjie. Dit kan klein wees, die fooitjie, en dit word deur dasregtrekkery en spoggerigheid gevolg (“job well done”, hy stap bakarm af straat toe), maar vir sy selfrespek moet hy ’n ietsie verdien.
Onder die peperboom by Bantoesake help hy vir ’n bietjie twak of sigarette vir mense briewe skrywe, op so ’n plank wat hy daar onder die afdak bêre, en die pen is altyd sigbaar in sy baadjiesak.
Hy luister mooi na die sagte fluistering van sy kliënt, wat die een of ander reeds verlore stryd teen Bantoe-administrasie stry. Hy luister mooi, vra vragies in Xhosa, klik sy tong simpatiek, krap agter sy oor, trek sy das reg, en begin skrywe, in Afrikaans.
“Hoogedele heer,” is hoe hy elke brief begin.
“Ek is ’n volwase Kosaman van 58 jarre en my pasboek sy is verlore.”
“Hoogedele heer, op hierdie dag van Onse Here is ek ’n vol wase vrou uit my huis gagooi.”
Nou, van anderkant die jare, hou ek hom dop. Hy krap hier by die toonbank in Veiligheid se kantoor met ’n vuurhoutjie in sy oor. “Waarvoor tel hulle toe die Mtuze-kwedien op?” Hy kyk skepties na die bolletjie geel oorwas op die vuurhoutjiepunt, en smeer dit aan sy broek af, bedink hom dadelik, skiet dit van die materiaal weg met duim en wysvinger.
Weer die Johannesburger: “Hy’s té al in die rondte. Iewers kry hy geld. Dan hier, dan daar.”
“Ja, hy’s ’n slim klonkie daai. Sy ma se oogappel.”
“Sy kan maar haar oogappel by daardie slim prokureur gaan soek, sy gaan hom nie daar kry nie.” Daar is ’n gelag in die kantoor. “Oogappel is nou skoonveld.”
Witkant lag lekker saam. Ja-nee, daai Mtuze-outjie is veels te spoggerig, dink hy. Solomon Mtuze werk by die elektrisiën as handlanger, altyd ’n treetjie agter die bot Hollander wat eintlik net nou en dan ’n woordjie Hollands met Koekepan wissel, en net as niemand anders naby is nie, net Witkant kan maar hoor. Jy kan Solomon ook privaat huur as fixer, na ure. Solomon se hande staan vir geen bedrading of kragboks of mouter verkeerd nie.
Nou mymer Witkant by die toonbank, daar by die dag se vars Eastern Province Herald en Die Oosterlig. Die res van die dorp se koerante kom ’n dag of vier of dalk ’n week laat, want dis ver na die drukkerye in die stede toe, maar hier lê altyd vars koerante, sodat Veiligheid se manne daagliks op en wakker kan wees oor die kak wat die pers skryf, daardie kommunistiese klomp joernaliste.
Hy blaai-blaai deur ’n koerant, sonder dat sy oog iets interessants vang.
“Skededdel,” snou die ou sersant wat al jare hier sit hom toe toe hy by Witkant verbyloop.
En Witkant skededdel. Hy moenie sy myle uitkuier nie. Die manne is besig, dink hy. Hulle slaan toe. Hulle samel in. Hulle volg op. Hulle luister af. Hy stap af straat toe en wonder wat die prokureur en mevrou Mtuze sit en gesels. Waar op aarde begin jy soek in hierdie vlaktes en in die berge en klowe, in die dorpies se lokasies, in die verre distrikte; waar op aarde begin jy soek na jou verlore seun en die familie se hoop?
* * *
Terwyl my ouers in versigtige dissidensie geleef het, was hulle tog eintlik as besigheidsmense (die plaas was geen egte boerdery nie, net ’n sentimentele voetspoor in Afrika) diep ingeweef in die dorp se bevoorregting (in wat deesdae hier in Suid-Afrika “witheid” genoem word).
Die ongeletterdheid in die lokasies, soos die townships destyds genoem is, was vir Ma bloot ’n gegewe, nes die bruin bulte agter Lingelihle. Dit was deel van die geografie, van die orde van dinge. Pa se kort stormlopies die Struggle-sone in (ek dink nie die woord “Struggle” is in daardie jare al algemeen gebruik nie) was berekend – nie te veel nie, net genoeg om die gewete te sus. Sy kort lopies van weerstand teen die sisteem ook (ek onthou ’n paar los opmerkings wat hy gemaak het) geskied met ’n soort afkeer van die stylloosheid en slordigheid (“daardie liberals trek opsetlik verslons aan”) en armlastigheid van die weerstandspolitiek.
Pa was ’n spoggerige kêrel.
Maar sy ingesteldheid op die armes, soos hy altyd gesê het, op die “nie-geregtigdes”, het beteken dat die wit karretjies van Veiligheid soms stadig voor Ma se boekwinkel verbygery het. Daar was bo en behalwe arbeid min terreine waar wit en swart in die dorp bymekaargekom het. Die lokasie, wat bo die rivier se kranse gesit het, het by die wit sakegebied aangesluit met ’n strook wat ’n onsekere area van brandnetels, verspreide geboue en murasies was. Die Slams se winkeltjie was daar, asook die skut vir rondloperdiere. Die skut was ’n verflenterde kraal met afsonderlike kampies en enkele afdakke en deurgesaagde petrolkonkas vir waterkrippe. Daar was tussenin ook leë erwe waaruit swart gesinne weens die Groepsgebiedewet verskuif is. Dit was vir my as kind ’n opwindende gebied, weg van die skoon wit strate van die dorp. Dit is ook die buurt waar die sogenaamde armblankes in skakelhuisies woon, mense oor wie woorde soos “insolvensie” gefluister word, gedagtig boonop aan bankrotskap van die gees. Deur hierdie treurige strate, ook weens die skuinste van die buurt wat afhel rivier toe, het die winde na my gevoel daardie jare ekstra stowwerig en koud gewaai. Dit was ’n armsalige omgewing met geboue wat kalk gekort het. Die vervalle hoenderhokke was soms die slaapplek van Xhosas wat deurgereis het van die verre Transkei na arbeid op dorpe nader Boland toe, mense sonder dompas of vooruitsig. Dan het hierdie buurt stadig oorgegaan in die lokasie, waar die huisies die een langs die ander gestaan het en saans in die winter die vure ’n rookbank geskep het waaragter die son rooi sak. Vir my as kind was dit asof Pa hom in hierdie omgewing begewe het wanneer hy politieke sake aanvat.
Dis ’n buurt wat ek onthou in een seisoen, die winter. Dis asof die omgewing groter betekenis gekry het in daardie bedroewende maande en asof almal wat daar gewoon het hulle toegewoel het in swart klere en somber komberse, behalwe Sondae. Dan het die kerk waar vader Amen Mtuze die prediker was, bymekaargekom met die vroue in hul helderrooi kerkdrag; dan het die lewe skielik anders gelyk en daar was hoop en vrolikheid, en energieke samesang waarvan die klank soms die wit woongebiede bereik het.
Dit was een so ’n winter dat die nuus begin versprei het dat die padpredikant – vader Amen, dus eerwaarde Mtuze – die lang stofpaaie oor naweke nie meer alleen aanpak nie.
Daar kom ’n tweede fiets by, ook ’n swart Humber met dik wiele. En die jong man wat skuins agter sy pa trap, dra ’n donkerbril en ’n wit hemp met opgerolde moue. “Solomon Mtuze ry in sy pagoed se slipstream,” sê die mense, “’n kortkop agter.”
“Opstokers,” brom die boere.
Solomon Mtuze is nie ’n predikant nie, maar sy blye boodskap – “black is beautiful” en “power to the people” – word met dieselfde ywer oorgedra as dié waarmee sy pa, wat die eerste preekbeurt vat, die goue poorte van die hemel voorhou en die raadsplan van God oordra. Waar hulle ook al naweke kom (in die week, darem, het Solomon ’n ordentlike werk by die Hollandse elektrisiën), in ou skooltjies op die haai vlakte, op die misvloer van ’n armoedige struis, binne ’n kring van hurkende ou mense wat haasbek kou aan pruimtwak en tjiertsies pruimspoeg buite gaan spuug, oral waar hulle kom, vat vader Amen die eerste preek, en as hy almal “saf gepreek” het, kom sy seun aan die woord, en dan, dán is dit – so word ook geskinder – die ene “Renosterveld” – enige gedagte loop wild, en dis vir jou grootwild, hoor.
Nee, mak is dit nie. “Opruier,” versprei die woord gou. “Daai opruier, Solomon Mtuze.” Hierdie woorde was die wit gemeenskap se reaksie. Maar vanuit die swart gemeenskap, uit die geledere van die gelowiges, hoor jy soms: Vir Solomon is die man aan die kruis net ’n lyk. Hy laat sy rewolusie ry op die rug van sy pa se bediening.
* * *
Ek kom een middag van die skool af en toe Ma die Borgward by die waenhuis intrek, sien ek die wit karretjie onder die bome staan. Veiligheid. Wanneer so ’n karretjie deur die werfhek kom, trek al wat plaaswerker is kleinkoppie en die kombuisbediendes is die ene konsentrasie op hul strykgoed of die skottels.
Ek het al gehoor Ma vertel vir Pa van die karretjies wat soms so stadig by die winkel verbyry.
Hulle kyk vandag die struise deur, skud die plase stelselmatig uit, van ver suid, dorp se kant toe, verduidelik die man met die safaripak aan Ma, en Ma is nie links nie: “Maar julle kan nie sommerso sonder verlof onse mense kom rondpluk nie, my man is in die praktyk en ek was by die boekwinkel …”
Hy staan hand in die sy en glimlag vriendelik. “Ag, Mevroutjie, dis niks ernstigs nie. Ons maak net seker reg en orde heers.” Ek staan met my skooltas agter Ma. “Waar treine deurloop, moet jy weet daar’s moeilikheid,” gaan hy voort. “As ons kon, sou ons daai lange Angola arresteer!”
Ma lag nie terug nie. “Wel, op my plaas arresteer jy nie ’n trein nie. Ook nie my mense nie.” Sy staan vas. “Julle’t genoeg rondgekrap. Roep jou manne en geepad.”
Hy glimlag suutjies. Sy seun is saam met my in die klas. Hy staan tweede, ’n kortkop agter my. As ’n nuwe onderwyser kom en die seuns een-een laat opstaan om te sê wat hulle pa’s doen, sê hy altyd trots: “My pa werk vir die praaim.”
Dan vra die onderwyser. “Die praaim? Watse werk is dit?”
“Die prime minister!” skiet ’n klomp antwoorde van alle kante uit die skoolbanke op.
“Maar dan is hy ’n baie belangrike man!” het die nuwe Latyn-juffrou gesê op haar eerste dag by die skool. En haar oë het na die volgende seun verskuif: “En jou pa?”
Nou staan die man wat vir die praaim werk, vir Ma en kyk. Hy dink vinnig, selfs ek kan dit sien. Sy manne is nog daar by die struise besig om klapperhaarmatrasse om te keer, om onder die armoedige meubelstukke te kyk, om oral te snuffel, en hy wil tyd wen.
“Die padpredikant word nie op ons werf toegelaat nie,” stel Ma as vredesgebaar voor. Die praaim-man kyk na haar. Hy dink versigtig na, want Ma is bekend vir haar boeke, en Pa is ’n prokureur. Hulle is nie hierjye nie. Toe hy te lank huiwer, skiet Ma dit uit: “Julle het niks hier te soeke nie.”
Dan kom twee mans oor die bultjie waaragter die struise lê. Die situasie red homself. Almal is verlig; die dorpie is klein en die praaim-man se vrou bring ook elke jaar haar seun Boek Oase toe om vir hom ’n boek of twee te kom uitsoek vir die prysuitdeling. So sy is ’n kliënt van Ma. En Pa loop praaim-man by die hof raak of op die rugbypawiljoen. En buitendien: Ma en Pa wil nie hê die padpredikant moet die plaasmense kom oortuig die wederkoms sluit verniet plaasgrond in nie, nee.
Die manne van Veiligheid ry nadat Ma gesorg het dat elkeen ’n glas koue jerseymelk uit die yskas kry. So gaan dit maar. Jy kan nie mense sonder verversings wegstuur van jou werf nie, of hoe?
Ek stap met my skoolkoffer die kombuis in. Ma staan by ouma Ogies. “Ek hoor bloed,” sê ouma Ogies. “Bloed het ons besoek.”
Ai-ai, skud die twee ander vroue hul koppe.
“Ag, ouma Ogies,” troos Ma, “dis sommer daardie spul mans wat altyd so rondry.”
“Bloed!” Ouma Ogies, papegaaivere in die hand, omklem haarself styf. Sy sit langs die reënwateremmer en wieg heen en weer.
“Elsie!” beveel Ma. “Gee vir ouma Ogies ’n glas suikerwater. Sommer ’n ekstra teelepel suiker by.”
Dan stap sy driftig die huis in. Ek agterna. Die koffer, swaar van huiswerk, klap teen my bene.
* * *
Ma is verbaas toe die landdros kort daarna by die winkel inkom, haar soos gewoonlik groet, “Goeiemôre, Mevroutjie,” (plattelandse regsgeleerdes was lief vir die verkleinwoord, asof die wêreld om hulle en almal daarin veel kleiner as hulself was) en by die tafel gaan sit, en nadat sy sy koppie tee voor hom neergesit het, skielik opkyk na waar ouma Ogies by die kinderboeke besig is. Hy’t haar ’n rukkie sit en dophou, toe sê hy skielik: “Liewenheersogies, kom sit bietjie hier by landdros.” Nog ’n gewoonte van hom: hy’t in die derde persoon na homself verwys. Hy’t na Ma opgekyk en in sy oë was die uitdrukking: bring vir haar ook ’n koppie tee.
Vir die eerste keer ooit het Ma een van die plaasmense aan tafel bedien. Daar sit ouma Ogies voor die landdros, die man na wie sy dae om in die hof sit en luister. As ek nou terugdink, sien ek in my verbeelding hoe hy heeltyd deur vervelige ure moes sit terwyl getuies stamel, die hoftolke hard werk om nie bloot te vertaal nie maar ook om logika in te werk in wat hulle aanhoor en getuies te help om ’n argument te bou (dikwels is daar gespot dat die hoftolke die éintlike prokureurs was) en dit drukkend warm was met die twee dakwaaiers wat tevergeefs die ou lug om en om roei.
Dan het hy waarskynlik daar gesit en kyk na die dolfyngesiggie agter in die hoek. Roerloos, uitdrukkingloos, net die trillende neusvleuels. Miskien het hy gewonder wat sy dink; miskien het sy bloot vir hom ’n verwysingspunt geword. Dís dalk die rede waarom hy hierdie uitsonderlike gebaar gemaak het (vir daardie dae, onthou) om haar, ’n bruin vrou, te nooi om aan te sit vir tee. Of dalk was dit blote menslikheid, om iets simbolies te demonstreer. Dit uit te toets. Maar ek twyfel. Ek dink nou dit is so dat hy daardie één naam teenoor haar kom noem het omdat hy, nes sy, reeds kon voorsien dat iets gaan gebeur. En dis hoekom hy juis Ma se boekwinkel gekies het om met haar te praat.
Daar sit hulle toe, vertel Ma agterna, en ek sien hulle voor my geestesoog praat. Maar nie met woorde nie. Hy is mos maar bedonnerd en hy sit net daar en dink aan sy hof. Sy sit daar en haar ore is wyd oop, en stadig drink hulle tee (vertel Ma) en jy hoor net die porselein tieng soos hulle hul koppies neersit. Dis mos maar tjoepstil in die winkel, soos dit hoort rondom boeke. Ma sit op die hoë stoeltjie agter die toonbank die blokkiesraaisel en doen en probeer so saggies moontlik beweeg, en net wanneer dit moet.
Nou ja, korreksie. Een woord kon Ma hoor, hulle het wel tog iets teenoor mekaar gesê; dalk wou Ma net nie hê Pa moes dit hoor nie. “Mtuzes,” hoor sy. Sy was verras. Vader Amen Mtuze! En in die meervoud. Dalk het die landdros verwys na mevrou Mtuze ook, en dalk na hul seun, Solomon Mtuze.
Die teedrinkery van die landdros en ouma Ogies het ’n instelling geword. Pa se woorde was: “Die magistraat konsulteer met ouma Ogies.” Dit was ’n grappie, maar daar was ’n ongemaklikheid by almal wat dit aanskou het. Nie omdat sy bruin was en hy wit nie. Nee, maar omdat hulle meestal in algehele stilte gesit het, met geen hoorbare kommunikasie tussen hulle nie. En tog – en dis wat almal aangevoel het en dis wat hulle ongemaklik laat voel het – was die landdros en ouma Ogies in stille gesprek.
Dan het hy na ’n ruk gesê: “Ouma Ogies, verskoon my.”
Uit respekte het sy opgestaan. Ma het haar boud van haar hoë stoeltjie afgeskuif, eweneens uit respek. Wie ook al by een van die rakke aan ’t buk was, het regop gekom, uit respek. Stadig het die landdros die winkel verlaat. Ouma Ogies het teruggekeer na haar skotteltjie en haar lap, en na haar boekery – ’n biblioteek waarvan die inhoud vir haar geheim gebly het, toegemessel agter die muur van blindheid.
Maar een woord het bly huiwer. Mtuzes.