Читать книгу Die wêreld van Charlie Oeng - Etienne van Heerden - Страница 9
Krygstaktiek 4
Оглавление“Mislei die keiser wanneer jy die see wil oorsteek.”
Iedere Oktober was dit nuttig om ’n besoek aan die verlede van ene Charlie Ng (ja, dit was sy regte naam, al het dit later agterop Ma se sigaretdosie Oeng geword) te koppel aan Frankfurt – ’n besoek aan die stad, maar eintlik aan die jaarlikse boekeskou wat daar gehou word.
My soutpan is, soos ek laat val het, die uitgewerswese. Soos wêreldwyd die geval met baie uitgewerye is, is ons drukname deel van ’n groot mediagroep wat soms teen verbysterende spoed nuwe dinge aanpak en ander kere stug en bot en byna roerloos hang, ’n trae planeet in ’n veranderde lugruim.
Ek het die Frankfurtse Boekeskou as oopgebreekte miershoop beleef, met duisende senuagtige miertjies wat rondskarrel asof hulle die spoor byster geraak het en met hul voelhorinkies mekaar vir net ’n paar sekondes aanraak om hul angstigheid te deel en dan voortskarrel.
Maar ek het ook gesorg dat ek dit kon bekostig om voor Frankfurt eers ’n draai in Amsterdam te maak. Die trust wat my ouers my nagelaat het, maak twee keer ’n jaar sy uitkering aan my, en gewoonlik belê ek dit pligsgetrou. Maar onder druk van die tye besluit ek om myself (kort voor Frankfurt) te bederf met tien dae respyt. Geen werk aan g’n ander mens se manuskrip nie. Laat die skrywers in hul maai vlieg en mag hul stemboodskappe vrolik ophoop in my sel, wat nie op roaming ingestel sal wees nie, baie dankie, en dit opsetlik.
En so beland ek, op die vlug na Amsterdam om Charlie Ng se agtergrond verder na te vors, langs ’n vrou wat bekommerd met haar sitplekgordel vroetel. Dit is altyd my vrees: eerste vlieërs wat allerlei vrae sal hê en met die handkontrole vroetel terwyl ek sit en lees. “Ek is Annie.” Sy het ’n hand wat nat was van koue sweet na my uitgesteek. Ek sou haar net-net oor die veertig skat, met bruin hare wat stylloos om haar gesig afhang. Dik lippe en spore van aknee. ’n Bril wat jy nie byderwets sou noem nie, ’n eenvoudige T-hemp. Die bosserige tipe, dag ek, lief vir uitkamp en die buitelug. Dit was nie eens nodig om na haar skoeisel te probeer loer nie. Ek het geweet dit sou enigsins verweerde tekkies wees.
My blik het wel terloops na haar ringvinger geflits, en ek het gesien sy is nie getroud nie. By haar voete was ’n rugsakkie wat al beter dae beleef het, en dié moes eers, skaars nadat ons gaan sit het, uitgewoel word en met my hulp na die waardin aangegee word om in die oorhoofse ruimte geberg te word. “Mens moet jou foon afsit, nè.”
Annie het uit die verre noorde gekom waar sy ontvangsdame by ’n veearts was. Sy’t gesellig geborrel – asof ons ou vriende was – oor die omgewing van waar sy gekom het. Die subtropiese woude, die paaie waarmee jy daglank kon stap sonder om ’n mens te sien, die onverwagte paddastoele (of duiwelsbrood, soos sy dit genoem het) tussen dennenaalde. Dalk hoor jy ’n groot dier deur die onderbos en varings breek, maar jy weet nooit wat dit is nie.
Van die reënkoningin het sy vertel, en van toordery en rookmis, van verre heuwels vol donkerte. Van uitgemoorde stamme en Voortrekkers wat op ekspedisies teruggekom het met gesteelde vee en gesteelde swart kindertjies voor hulle op die saal.
Terwyl ek na haar sit en luister, het ek toenemend begin voel: Niks is soos dit met die eerste oogopslag lyk nie. Dis asof ek ’n rat voor die oë gedraai word. Als speel my parte.
En toe kwyt sy haar van haar groot verhaal. Toe sy hoor dat ek ’n uitgewer is “daar bo in die Kaap” leun sy onmiddellik nader aan my. “Mag mens nog ’n botteltjie bestel?” Ek wou haar eers keer, want ek het altyd aan my skrywers gesê: Moenie my jou verhaal vertel voordat jy dit nie neergeskryf het nie. Want dan vertel jy dit uit jou uit. Hou die deksel op die doofpot. Moenie eers ietsie van die stoom skietgee nie. Maar sy was nie die soort wat stilgemaak kon word nie, veral nie onder die invloed van die rooiwyntjie nie.
Die storie handel oor ’n vrou op die dorp wat by die poskantoor werk. ’n Alleenstaande, wat vir die afskrikwaarde ’n luislang in haar huis aangehou het. “Jy weet mos hulle is skytbang vir slange.” Met die “hulle” raak sy haar wang met haar wysvinger aan. Die slang was die enigste asem in die huis benewens haar eie, en hy het hom elke aand op ’n ander plek in die huis vir die nag tuisgemaak. Soms, vertel Annie, kon haar vriendin van die poskantoor (wat maar ’n slegte slaper is, ook oor werksredes, want die poskantoor begin al minder papier hanteer weens e-pos) die slang snags stadig deur die donker huis hoor seil. Hy het nooit iets omgestamp nie en kon selfs tussen blompotte deur seil sonder dat iets roer. “Dit was ’n blerrie slim slang, sê ek jou.”
Op die huis se voorhek was daar ’n kru tekening van ’n slang. Dat dit soos ’n koperkapel lyk wat bak staan om te pik, het nie saak gemaak nie. Daaronder is geskryf Pasop! Thogomela! Dit was baie effektief, vertel Annie, en haar vriendin was omtrent die enigste huis in die buurt waar daar nooit ooit ingebreek is nie.
Die vriendin het mettertyd van die slang begin praat asof dit ’n vriend is. “Hulle was baie na aan mekaar, sy en die slang. Sien, sy’t niks anders gehad nie.” Annie smak haar lippe en ’n bietjie rooiwyn sit in haar mondhoek. “Watter knoppie druk jy nou daar?” Ek het geantwoord dat ek die lugwaardin ontbied het sodat ons vir haar nog ’n botteltjie van die rooies kon bestel. Sy was dankbaar, nes my skrywers altyd is wanneer ek ná ’n noenmaal al na die prikwater oorgegaan het maar vir hulle nog ’n ou glasie huiswyn bestel, en dalk nóg enetjie.
Annie het weer ’n glasie geskink en dit byna afgestamp deur met haar knie teen haar uitklapblad te kap toe sy haar versit vir die pylvak van haar storie. Sy was ernstig, ’n boek moet hiervan gemaak word. “Dink jy dit kan ’n moordstorie word?
“Dink jy dis ’n speurverhaal?”
“Maar wat is die misdaad?” vra ek.
“Ja, ja, dis wat my ook worry.” Sy’t ’n oomblik weggekyk. Ek het nou die wind uit haar seile gehaal.
“Maak die slang die misdadiger,” stel ek voor.
Sy draai haar kop skeef. “Maar ’n dier kan mos nie ’n misdadiger wees nie?”
“Hoekom moet ’n storie kwansuis ooreenkomste toon met die werklikheid?” daag ek haar uit.
Sy lag en dink bietjie na, maar antwoord nie. Asemskep. “Ieder geval,” en toe val sy weer weg. Eendag merk haar vriendin op die slang, “’n dik, indrukwekkende kêrel”, is besig om gewig te verloor. Hy’t oor weke ál maerder geraak en minder geëet, sy’t hom gereeld ’n OK-hoendertjie gegee wat sy sommer net ontvries het, net so rou.
Sy het haar eers nie daaraan gesteur nie, maar dit was merkbaar – die slang was besig om te vermaer. Annie leun nou vorentoe. Sy vee haar hare weg, asof sy haar verhaal oopmaak. Ek kon nie anders as om die instinktiewe verteltegnieke van die plattelandse partytjiedier raak te sien in haar sinsritmes, haar lyftaal en tydsberekening nie. As sy dit op papier sou kon nadoen, sou sy dalk ’n spanningsverhaal met ’n sin vir ritme, vir versnelling en vertraging, vir verswyging en onthulling, kon bou.
Een nag word die vriendin wakker en die slang lê by haar op die bed, so ’n entjie weg (“sy’s alleen, maar het ’n dubbelbed vir die odd los gelukkie”, knipoog). Sy los hom maar, want die seisoen draai en sy meen Oupa kry koud. Die volgende aand is hy weer daar, maar raak nou aan haar been met een van sy kronkels. Hy soek warmte, besef sy.
Die volgende oggend merk sy op dat hy stadiger beweeg. “Die luislang word luier …” Sy koop daardie dag weer ’n hoender en maak dit goed gaar, gooi dit op die agterstoep waar dit ’n plas vet maak, nog louwarm, met ’n heerlike geur. Maar die slang gaan kyk nie eens nie. Oplaas gee sy die hoender aan haar bure, vir hul honde.
Een oggend word sy wakker (Annie rek haar oë en praat stadig) en die slang lê uitgestrek langs haar. Hy is net so lank soos sy en van kop tot tone nestel hy liefderyk teen haar aan. Hy kry koud, dag sy.
Die volgende nag is dit weer so. So nou en dan word sy in die nag wakker weens ’n rilling wat deur sy lyf trek, of ’n peristalse wat teen haar sy afbeweeg en nogals aangenaam is. “Sy slaap mos alleen en mis ’n lyf.”
Maar na ’n week hiervan is die slang nog maerder.
“Ek sê vir haar, bring Oupa in vir Dokter, dat sy hom deurkyk. Dalk het hy ’n siekte wat jy ook kan kry.”
Die vriendin bring die slang een oggend met ’n helse gesukkel in. Dis te duur om die veearts uit te roep. Bring maar jou dier in. Twee mans moes haar help om hom in ’n groot houthok te kry, dit was ’n stryd. Nou praat Annie stadiger. “Dokter kyk hom deur. Sy kyk ta goed deur en gaan blaai in haar boeke. Toe kom sy terug na my vriendin van die poskantoor.
“Is hy baie siek? vra my vriendin.
“Dokter kyk haar so, ek staan by, ek hoor die hele storie. Dok kyk haar so en sê: Jy moet oppas vir Oupa. Hy is besig om homself opsetlik te verhonger. Hy teer homself uit. En hy kom lê nie langs jou oor hy koud kry of geselskap soek nie. Hy lê so styf en lankuit teen jou want hy meet jou lyf.
“Oupa wil jou eet.”
* * *
Triomfantlik kyk Annie na my. “Sien jy?” sê sy.
Ek knik, maar kan nie die hoendervleis op my voorarms verhoed nie. Haar storie is nie die eerste waarword van een van daardie legendes in Boek Oase se Chinese boek nie.
“Het jy ’n kaartjie? Dan kontak ek jou terug by die huis. Dan maak ons ’n projek vir die nuwe jaar hiervan, ek en jy. Ons maak ’n lekker detective novel, wat sê jy?”
Ek skud my kop, asof ek iets wil losskud, maar gee haar pligsgetrou my kaartjie, waarop die naam van ons maatskappy en my druknaam verskyn. Daar is geen selfoonnommer op die kaartjie nie (altyd ’n risiko), maar ons kantoornommers is daar, asook my e-posadres.
“Benouend,” gebruik ek ’n geykte woord wat jy dikwels in die literêre wêreld hoor, asof ek haar van my wil afweer.
Ons verlaat die vlug en sy stap vrolik weg. Sy slaan die verkeerde rigting in, maar ek laat haar begaan. Die rugsakkie bons joviaal op haar rug. Toe ek by die bagasieband staan en wag op die tas vol boeke van ons uitgewershuis (’n Nederlandse uitgewer hier in Amsterdam vereis papierboeke vir oorweging, dit maak altyd die beste indruk), kyk ek om my. Daar is geen teken van Annie uit die beboste noorde nie. Selfs toe ek na doeane aanstryk, is sy nêrens te sien nie.
Het sy die pad byster geraak of was sy nooit daar nie? Die vlug het onwerklik gevoel, asof haar verhaal oor die hele nag heen gestrek het – dit terwyl ek in die vroeë oggendure teen my beginsels aan die slaap geraak het. Dit is gewoonlik die tyd dat ek in die stert van die vliegtuig staan en my beenoefeninge doen terwyl die res van die passasiers dut, blou kombersies tot by hul kenne opgetrek, en die lugwaardinne soms op oopgevoude strandstoele, wat hulle iewers wegsteek, in die beknopte kombuisie sit en klets. Ek sal my verkneuter aan hoe hulle in opgewekte Hollands vir mekaar sit en vertel watter restaurantjies hulle in Kaapstad of São Paulo of Hongkong besoek het, en waar die beste swemplek in Rio is.
Wie was Annie? dag ek terwyl ek by die voerband op my tas wag. En watter slang strek hom teen my lyf uit en verhonger homself opsetlik met die plan om my uiteindelik op te vreet? Sodat ek deel van sy lyf – sláng – word?
* * *
Ouma Ogies, begryp ek eers later jare, het in haar lewe net een minnaar gehad. Sy naam was Mawela en hy het met die jaarlikse skaapskeerspan op ’n dikwielfiets uit Lesotho aangekom, diep uit die berge, ’n man met ’n kombers oor sy skouers.
Dit het baie jare gelede gebeur, toe sy veel, veel jonger was, toe Ma nog ’n opgeskote dogtertjie was op hierdie plaas van haar pa, en Pa nog in Kirkwood waar hy tussen die lemoenboorde grootgeword het. Hy was as kind ’n kleindorpenaar en dis hoekom hy nooit heeltemal ’n boer kon word nie.
Toe die skeerders die eerste laatmiddag van daardie seisoen opdaag en voor die werfhek van hul fietse afklim, tydsaam en swyend (want die gepraat los hulle vir die skeervloer wanneer die merino’s pens en pootjies onder hulle lê), het die moeilikheid met die liefde begin.
Die skeerders het soos hul gewoonte is hul fietse teen die draad laat staan en langs die pad kamp gemaak, sommerso onder die ghwarrie en krie in. Hulle het in die middel van die pad net buite die werfhek vuur gemaak. Dit was als dinge wat ons later jare ook geken het, en maande nadat hulle weg is, sou daardie askol nog daar onder die karre se pense verbyskuif wanneer ons Slootplaas verlaat of terugkom huis toe.
So was dit ook in my oupa se tyd, die tyd van ouma Ogies se verliefdheid. Toe het die skeerders ook eers die volgende oggend afgekom opstal toe. Hulle het dan vir hulle slaapplek ingerig in een van die skure, waar hulle sou bly totdat elke merino op die plaas skoongeskeer was, die bale wol op die stasie gelaai is en Oupa al gewag het dat die nuus oor die wolveiling per telegram uit die Baai kom.
Later jare sou Pa ook elke dag op kantoor met sy oor teen die draadlosie sit en na die wolpryse luister.
Dis toe die skeerders afkom, destyds, dat een van hulle, of kom ons verklap dit sommer nou, twee van hulle, se oog op haar val. Só word vertel: “A, die blinde meidjie onder die peperboom!” Die waarheid van hierdie saak is dat mawela in Xhosa tweeling beteken, en twee van hierdie skeerders was ’n identiese tweeling.
Een van hulle, volgens oorlewering die voorbarigste een, het na haar gestap en gesê: “Het jy nie vir my bietjie water nie?” Eers toe sy omdraai, het hy verby haar mooi lyf gekyk en gesien wat te siene is. Hy’t teruggedeins, maar weer gekyk. Miskien het hierdie skeerders in spanne deur die land getrek en ’n spoor van gebreekte harte agtergelaat, mens weet nie. Maar daar wás sulke verhale, en daar was opgeskote kinders wat soms pront verklaar het dat hul pa ’n Bergsotho is. Hulle is die komberskinders genoem, ook die kapokkinders. Ook soms die poniekinders, want die Basotho’s kom uit die koue berge en al ry hulle fiets omdat hulle nie hierlangs perd kan ry nie, is hulle mense vir die ponie. Spesifiek die bergponie, die kombers oor die skouer, die lang pyp en die hoedjie wat nogals lyk op Chinees se een hoedjie.
Nou kom sy tweelingbroer by, en hulle praat om die beurt, maar sonder dat ouma Ogies agterkom hulle is twee.
“Wat hou jy daar?” vra Mawela Een.
“Is dit winkelvere?” vra Mawela Twee, want in haar linkerhand was vier kort papegaaivere. Vlerkvere: ’n rooie, ’n bloue, ’n groene, ’n gele.
Met haar ander hand trek sy die vere een-een uit die linkerhand en hou hulle op. “Blou,” sê sy. “Groen.” En “rooi.” Sy haal asem. “Geel.”
Sy was elke keer verkeerd, en die mense sê dis net omdat die stem van Mawela haar voete onder haar uitgeslaan het. Daardie bergstem, daardie komberspraatjies, so sê hulle, en dan spot hulle: “Die man met die lang pyp.” So het hulle ook van die tweeling as Een en Twee begin praat, en daardie aand het Mawela Een by ouma Ogies gaan kuier. Hulle’t vroegaand in die Sloot af gaan stap. Daar naby die drie bruide het hy haar platgetrek. Sy was een vir die begeerte; niemand het dit vooraf geweet nie, en sy ook nie. Toe het hulle in die rivier gaan swem, die meisie wat kaalgat met haar blink lyf blindelings rondval in die water, en weer op die sandbank gaan lê vir nog.
Hy’t haar huis toe gevat en haar ver van haar huis gelos, want haar pa was bedonnerd en haar ma skuins Katoliek. Laataand het Mawela Twee gekom, ’n klippie op die huisie se dak gegooi en sy het buitentoe gekom en hy’t haar die donker Sloot ingelei en hy was so groot en sterk, sy het geen vrees gehad vir treinspringers of bandiete nie, daardie bergskeerder slaat hulle een hou, sy bors is mos vol berglug.
Daar bring hy haar grond toe, sommer hier waar die Sloot nog vlak is, die volgende dae kon jy die merke in die sand sien. Dan op die rug, dan handeviervoet; dis ’n storie waaraan mense hulle later jare verlekker en elke keer raak die liefdesdans wilder, die blindheid raak siende, en die man met die naam Mawela, hy (of hulle) het ouma Ogies vir ewig ingelyf in die woord wat Ma so omsigtig laat val en wat die Latynjuffrou geïgnoreer het toe ek haar vra wat dit beteken: begeerte.
Die hele plaas behalwe haar ouers het die gedoente dopgehou, maar almal was so jammer vir die blinde Liewenheersogies dat g’n mens haar oë oopgepraat het oor die feit dat sy by twee manne lê en nie soos sy dag by ene nie. Oupa het ook geweet, maar hy’t laat begaan. Pa sê altyd dis omdat hy ’n Sap was en ’n liberaal, maar Ma sê dis nie die rede nie, dis empatie. En terwyl die mense nog hinkepink of hulle Liewenheersogies se ouers moet vertel wat aan die gang is, word die laaste vag oor die skeertafel gegooi en begin die Bergsotho’s hul komberse oprol.
Toe die skeerders vertrek, word Liewenheersogies twee keer driftig omhels. Sy dag dis Mawela wat haar groet en wegloop, en toe weer omdraai en terugkom en haar weer groet en wegloop. Al die tyd slaan almal dit gade. Die liefde het haar reuksin laat toeslaan, skinder hulle, sy wat altyd als kan uitruik, selfs windaf.
Maar toe sy in die ander tyd kom, en die woede van haar pa losbars en haar ma die Katolieke tantetjie haar swanger dogter opneem na die nonne om als uit te pluis, toe praat die plaasmense met haar pa en toe is die storie uit. Sy was al ver swanger die dag toe hy haar konfronteer met Mawela die dubbele skeerder, en dit was die eerste keer dat sy hoor daar was twee van hulle.
Daardie nag begin sy krampe kry en vroeg die oggend lê die dooie dingetjie op haar ouers se matras, die skandekind van Liewenheersogies. Die een met twee pa’s. Met net so ’n dolfynsnoetjie sonder oë, nes haar ma. Ja, dit was ’n dogtertjie, en sy is begrawe agter die huisie, langs die voetpaadjie op pad Sloot toe.
En daar lê teenaan haar graffie nog twee groot grafte, styf teen mekaar. Liewenheersogies se pa het hulle laat grawe tesame met die dooie vroeggeborene se graf en sy dogter aan die hand geneem, die dag van die kind se begrafnis, tot by elk van die grafte. Hy’t by elkeen van die grafte vir haar ’n ronde rivierklip in haar hand gegee. “Gooi hom in.” Dan gooi sy die klip in. Dan na die tweede graf. “Gooi hom in.” Sy gooi hom in.
“Gooi toe,” beveel hy die manne met die grawe. Twee klippe, twee grafte. En die derde graf, vir die dooie dolfyntjie, saam met Mawela begrawe. “Vergeet nou als,” sê hy en sit sy arm versoenend om Liewenheersogies se skouers toe hulle terugstap na hulle huisie.
Die huisie het eenkant gestaan van die ander werkers se struise, want die Liewenheerse (Dawid en Fyntjie Liewenheer en hul dogter, Liewenheersogies) had iets spesiaals aan hulle, iets wat hulle uitgelig het bo baie ander mense. Dit het hulle gehad, ja. Daardie iets ekstra.
* * *
Wie kan ouma Ogies kwalik neem dat sy verontwaardig was?
Skaars is Mawela en die dolfyntjie begrawe, of sy is op die Angola dorp toe, swart roubandjie om die arm, papegaaivere in die linkerhand, al vier, vyf van hulle.
Sy stap op hof toe, waar die einste ou landdros wat Pa so opdraand gegee het later jare, toe nog ’n windverwaaide, oorlaaide en oorkonsensieuse jong staatsaanklaertjie was. Hy is vars van sy laaste eksamens nadat hy homself opgewerk het vanaf sy eerste possie as hofklerk iewers in die Noordweste, of die binneland, ek weet nie mooi nie. Ieder geval, hy is uit een van daardie landstreke wat ’n drag op die skouers plaas sodat mense wat daar gebore is en grootgeword het altyd swaarmoedig lyk.
Sy gaan klop by hom aan in sy kantoortjie een laatmiddag toe die hof al verdaag het en hy sy lêers vir die volgende dag se hofverrigtinge sit en rangskik. Vandag moet hy aan môre dink, en môre sal hy gepla wees deur wat hy vandag sou kon reggekry het in die hof as hy maar meer tyd gehad het om hom voor te berei. En as hy ook maar meer ervaring gehad het – dan sou hy daardie gladdebek-prokureurs kon ore aansit.
By hierdie uitgeputte jong man van Justisie stap sy in. Stapels bruingrys lêers lê op sy lessenaar, en op ’n tafel teen die muur, en op die vloer. Hy het nou reeds die formaliteit en norse beleefdheid wat hom later jare sou kenmerk toe hy die dorp se hooflanddros was: “U is mos ’n Liewenheer?”
“Ek sien ek is.”
“Kan ek help?” Sy oë val op die roubandjie en die papegaaivere wat sy op die lessenaar voor haar neersit.
Sy gaan sit, ongenooid. Sy is blind, hy laat begaan. Sy het iets aan haar, hy kan nie sy vinger daarop lê nie. Hy’t haar al sien stap op die dorp, haar hand liggies op haar pa se elmboog, die oubasie met die hoed styf op die kop, die onderbaadjie en die pyp tussen die tande. Soms is die ma by, ’n bekommerde, konserwatiewe tantetjie wat soetgebak na die nonne aandra, alewig.
“Jy moet vervolg.”
Hy skuif die landsvlaggie voor hom op die lessenaar só. “Ek kan nie vervolg as ek nie ’n saak het nie.”
“Nou maak dan ’n saak, Aanklaer.”
“Teen wie? Vir wat?”
“Teen Mawela die Bergsotho.”
“O, dit.” Die verhaal het sy ore ook bereik, want dis maar ’n klein dorpie. In daardie jare was dit selfs nog kleiner as nou. Waar het hy dit nou weer gehoor? Hy kan nie onthou nie. Seker by die sersant. Die two-timers, word die twee skeerders genoem wat die blinde dogter van die Liewenheers so dik genaai het dat die skille byna van haar oë afgeval het. Ja, so wreed is die dorpstories, en dis hoekom sy so woedend is.
Hy sug. “Ek kan net met ’n saak voortgaan as die polisie dit na my bring.” Hy onthou ook die mense sê: “Haar dolfyntjie is weens haar dubbelnaaiery doodgebore. Dis hoekom. En dit ry haar sienderoë.”
“Laat hulle die saak bring, dan.”
“Wel, hulle het nog nie.”
“Vra hulle.”
“Nee, jy moet na die aanklagkantoor gaan. Daar is ’n prosedure. Daar moet jy ’n klag lê teen iemand. Jy moet ’n verklaring aflê. Dan ondersoek die polisie die saak.” Hy sug en skuif aan die lêers voor hom rond. “As hulle dink dis ’n saak wat sterk genoeg vir die hof is, bring hulle hom vir my. So werk dit, jy sien?”
“Die klag is te belangrik vir daai konstabeltjies.”
“Wie wil jy dan aankla?”
Sy leun vorentoe. Intens is die gesig hier by syne. Agter die twee dammetjies roer die oog-ertjies, sien hy nou, heen en weer. Heen en weer, asof sy verskrik is.
“God,” sê sy.
* * *
Dit het haar nêrens gebring nie. Al wat die staatsaanklaertjie kon sê voordat hy moeg oor sy oë gevryf het, was: “God kom nie in my hof nie.”
Sy’t uitgestap en die papegaaivere skoon vergeet en sy kon die trane wat opdam nie uithuil nie. Sy’t by die gebou uitgestap en dis die enigste keer ooit dat mense gesien het dat sy nes ’n blinde stap wat die kluts kwyt is. Sy’t in mense vasgeloop en byna oor ’n baba geval wat daar rondgekruip het. Toe sy op ’n boomstam afpyl, het een van die speurders (die een wat Slangkop genoem word) haar aan die arm gevat en haar uitgelei straat toe, en toe is sy vort, na die priester.
Die man bly in ’n agterplaas in ’n eenvoudige huisie. ’n Houtbankie staan onder ’n boom. Hy is ’n lang man, goed bekend met die Liewenheers, met ma Fyntjie se angstige boetedoenings en met die verhaal van Mawela. Hy dra ’n eetkamerstoel uit, regop rug. Hy beduie dat Liewenheersogies op die bankie kan sit. Daar’s ’n dun klapperhaarkussinkie, warm gebak deur die son wat hier val. Hy bring vir haar ’n glas water op ’n pierinkie. Sy hande is slank, voel sy aan, met lang vingers. Deesdae kyk sy anders na mans. Eers het sy die man net as mens geëien, maar nou, nou weet sy van die lyf.
En sy is daaroor ook kwaad.
Sy’t skaars die water gedrink of hier kom die eerste vraag. Die priester steier. “God kan ook skuldig wees?”
“Maar, my dogter?” vra hy toe hy sy wind terug het.
“Ek sê, Vader, ek sê: God dra ook skuld.”
“Maar my dogter, jy moet oppas om nie lasterlik teen ons Vader te wees nie.”
“Kyk wat het Hy oor my gebring.”
“Het jy nie self saam met daardie Mawela na die Sloot geloop nie?” Sy skrik, sy’t nie besef hy ken óók die detail nie. “Het jy nie self daar by hom gaan lê nie?”
Sy skud haar kop. “God het sy eie seun se dood bestier.”
“Maar, kind!”
“God het sy seun laat hang net omdat God ’n plan gehad het.”
“Dis die raadsplan van God, Liewenheersogies, dit spyt my, maar mag God jou vergewe.”
“God het ’n plan gesoek om ons vir altyd in die skuld by Hom te maak, toe maak Hy Satan.”
“My kind!”
“Ek kla God aan.”
“Jy mág nie!” Nou is hy driftig. Hy skop met sy sandaal in die stof.
“Waar’s my oë?” Sy’s histeries nou, dit lyk soos ’n dolfyn wat proesend uit die water opkom en in die moeilikheid is, heen en weer swaai die gesig. “Waar’s my oë?” Sy gil. Sy het albei wysvingers in haar oogdammetjies. Hy vrees sy druk haar vingers deur die vel.
“Hier hoort twee oë, een vir elke Mawela.”