Читать книгу Die wêreld van Charlie Oeng - Etienne van Heerden - Страница 7

Krygstaktiek 2

Оглавление

“Roer die water deurmekaar wanneer jy die vis wil vang.”

Ek het baie jare lank die nag van die vuurwerkvertoning op Slootplaas ver van my af weggedruk. Alles wat daarvoor en daarna gebeur het, het ek probeer vergeet. Maar ek kon nie. Elke dag die een of ander tyd, soos paddas in ’n donker dam in die middel van ’n populierbos, het beelde skielik na bo gedryf.

Maar op ’n dag was dit tyd om uit te vind wat presies gebeur het toe die Chinese man wat met die boot na ons land gekom het, besluit het om ’n vuurwerkvertoning op Slootplaas aan te bied, met als wat daarna gevolg het.

Ek vertrek graag op ’n Oujaarsdagaand uit Suid-Afrika wanneer die KLM-vlug van Kaapstad na Amsterdam se passasiers skuins voor twaalf aan boord gaan, juis om die jaarlikse vuurwerk in Kaapstad se Waterfront te vermy wat ek vanaf my woonplek in Tamboerskloof sou kon sien. Die vertreksaal op so ’n aand is ’n ruimte van eensames wat dwaal tussen die aandenkings wat by die aksynsvrye winkels te koop is. Olifante uit hout gekerf. Duur, gevlegde mandjies uit die heuwels van Swaziland. Fraai Zoeloepoppies en tafelmatjies in die styl wat ek Dali Tambo-kitsch noem.

Ook diegene wat saam met my wag, is seker in menslike terme die samelewing se rakkiekakkies, mense wat soos ek op Oujaarsaand uitvlieg en twaalfuur op ’n vliegtuig sit terwyl die res van die wêreld partytjie hou. Ons is die alleenstaandes, die skames, die voortvlugtiges. Ons wil aan die feestyd ontkom.

Maar hierdie keer het ek besluit om ’n paar dae vroeër uit te vlieg sodat ek Oujaarsaand in Zürich kon wees. Dit was tyd. Hoog tyd om die vuurwerk in die oog te kyk.

Om my in die vertreksaal sit reisigers uitdrukkingloos en staar na die groot skerms wat rap uit Soweto uitsaai. Ander is besig met hul slimfone. Hulle staar in die skermpies asof dit kaggelvuurtjies is wat hulle warm hou. Ek kan die blou van Facebook in brilrame sien skyn.

Ek is op pad Switserland toe vir die groot konfrontasie. Ek het gehoor van die jaarlikse vuurwerkvertoning en het besluit dis waar ek, ver van die nuuskierige oë van landgenote, myself trompop sou loop.

Maar toe die trompoploop gebeur, was dit heftiger as wat ek verwag het; dit het my heeltemal onkant betrap. Dit was asof ’n kanteling begin het, asof ek voortaan sou moes konsentreer – hard – om staande te bly.

Die vertoning het hoog bo die Zürichsee uitgespeel. Die tempo en verskeidenheid is deur ’n rekenaar beheer. Dit het – so is in die media berig – miljoene Switserse frank gekos. Zürich ding mee teen Hongkong en Sydney, teen New York en Doebai. Bo die Zürichsee het vuurwerk oopgewaaier in verstommende kleure en patrone.

Ek het in die sterrereën gestaan en bewe. Alles het na my teruggekom. In vonke en swawel. Ek was terug by die aand toe Pa en Ma vermoor is. Ek wou wegvlug. Ek het drake sien vuur spuug in die mallemeule van patrone. Al die kleure van die hel. Vuurwiele het my beduiwel en duiselig het ek vir lang rukke na die grond voor my voete gestaan en kyk, wat onder wit flitse nadergekom en weer verdwyn het. Die meer was ’n hellesee, als gehul in die stank van bier en swawel, in halfrook.

Die skare van honderdduisende het teen die meer aangedruk gestaan, en verder terug, verspreid oor parkeerterreine en tussen bome. Op die dekke van vasgemeerde bote het die rykes relatief veilig gesit en bo-op geboue het mense soos miere saamgedrom.

Wanorde het om my begin uitbreek. Kort-kort het mense met ’n mengsel van vrees en verwondering uitgeroep wanneer iemand iewers in die skare ’n klein en as ’t ware private vertoning gegee het. Mense het mekaar met knetterwerke skrikgemaak of hul eie vuurwiele oor koppe laat spin. Gevaarligte het oral geflikker en ek het na een so ’n groep digby my geskreeu om dit stop te sit, ek het immers ervaring gehad van vuurwerk wat op die dood uitloop; my lyf het geruk en mense het my vreemd aangekyk.

Ek was buite weste. Vuurpyle het rakelings oor my kop geskiet en ek het kort-kort gekoes, heeltemal (as ek terugdink) onnodiglik. Knetterwerke het tussen mense se bene rondgehop terwyl hulle laggend terugdeins. Ambulanse het in die verte begin loei. En so is ek steierend die nuwe jaar in, ’n voortvlugtige in ’n skare wat almal in een rigting kyk en nie die man wat tussen hulle deur in die teenoorgestelde rigting probeer beur, begryp nie; hierdie jaar waarin ek gehoop het om my lewensverhaal kant en klaar af te handel, van begin tot slot.

Toe ek Nuwejaarsoggend halfdrie wegstap van die Zürichsee was ek omring deur ’n malende skare mense wat teen ’n skuinste opbeweeg het. Die strate was wasig van die rook. Die kruitdampe het figure, motors, parkeertekens en enkele desperate veiligheidsbeamptes soos skimme in die rook laat beweeg. Die strate het na bier en spuug, na urine geruik. Oral was stomende piskolle.

Dit was dan my eerste vuurwerkvertoning sedert daardie nag op Slootplaas. Ek kon maar ’n uur of twee daarna geslaap kry. CNN het die oggend ’n kort insetsel gewy aan die vuurwerkspektakels in Sydney, Zürich en Parys. My kamer was bedompig en kolle vog het oor die ruite gelê. Buite was dit nog donker terwyl die televisienuus die eerste smarte van ’n nuwe jaar uitbasuin.

Diep in my psige het die dramas van my lewe gefluit en oopgepof in drakekleure en onverwagte patrone.

Hoe ek my hotelkamer bereik het, kon ek die volgende oggend nie onthou nie. Ek het met klere en al wakker geword en toe ek besef waar ek was, was my ringvinger gevoelig waar die beddegoed daaroor skuur. Ek het my hand na my oë gebring: om my ringvinger sit ’n bleek kring, knap agter die tweede lit. Die vel is dun en sag. Dit rimpel onder my aanraking.

Iewers in die nanag moes ek in die greep van ’n droom die ring afgetrek het. Dit was die ring wat Bobby Greenblatt, die papegaaiboer, daardie nag van Pa se bebloede vinger afgetrek en net so, bebloed, aan my kom gee het. Omhul deur dampe swawel het ek dit destyds as opgeskote seun in my handpalm vasgeklem.

* * *

Nou lê die ring in die hoek van die hotelkamer waar die gordyn voor die glasvenster met Zürich se sneeulandskap daaragter teen die mat skuur. Ek het dit in die middel van die nag klaarblyklik van my weggesmyt.

* * *

Die stil Chinees werk in die velskuur.

Hy is ’n man wat in die skaduwee gaan staan sodra ’n boer stilhou met ’n bakkievrag velle.

Die een wat vorentoe tree, is die albino met die gladde bek, sy naam is Witkant.

Die Chinees het nie net een naam nie. “Hy vervel so tussen name,” het Pa eenkeer opgemerk. Boere wat by die velskuur aan die buitewyk van die dorp kom, roep na hom: “Koekepan!” Dan kom hy uit die skaduwees om hul velle te tel. Dun, sterk bene in ’n kakiekortbroek. Sandale, glo soos hulle in China dra. Handgemaak. ’n Riempie hou sy broek op, hy dra nie belt nie. Eenkeer hoor ek iemand spot: “Dis sodat hy sy broek vinnig kan aftrek om te naai.”

Almal weet waarvandaan die wit Xhosa kom. Uit Pondoland, waar hy moes vlug, want ’n sangoma wou hom slag vir muti. Daar was mynwerkers in Johannesburg wat groot geld sou uithaal vir sy niertjies en sy klotters en sy natsambok. Toe moes hy vlug, want hy was moeg van agter hom kyk, van met een oog oop slaap.

Toe kom hy Lingelihle toe, en toe hy hier kom en hulle vra hom wat sy naam is, toe antwoord hy: “Witkant.”

Hy’t die gawe van bekkigheid, en mense sê: “Witkant moet eintlik by Radio Xhosa gaan werk.”

Die veiligheidspolisie het hom glo al ’n das, ’n sportbaadjie en ’n salaris aangebied as hy voltyds by hulle kom werk, maar hy’t gesê hy verkies dit om hier saam met die Chinees langs die Visrivier te werk. Hier gooi die velskuur skaduwee wanneer die son hoog sit en dan kan hy hiervandaan saam met die Chinees wag op nog ’n bakkie of donkiekar vol velle en hulle kan kyk hoe die watertjies van die rivier blink soos die son al skuinser val.

Die velsmous, Koekepan, is die een wat wegstaan en Witkant toelaat om namens hom te praat terwyl hy buite sig agter wag. Net om die velle te tel en kontant daarvoor uit te keer, kom hy uit. Pa noem Witkant partykeer “George”, soos hy graag alle Xhosas noem.

Wanneer Pa en ek in die bakkie stilhou en die velle begin op die grond doef, roep Pa: “Chinaman!” Aan my verduidelik Pa: “Hulle eet rys. Hulle is slim en stil. Hulle eet met stokkies en vang honde.”

En op ’n ander keer: “Die koekepan het hom hier aangebring.”

Ek ken die verhaal. Koekepan kom op die perron aan met net ’n rolletjie seil. Ook so ’n vreemde vierkantige tassie met messies en beiteltjies binne-in, ’n klein hamertjie, skroewedraaiers en tange wat lyk of jy daarmee tande kan trek. Naalde en ’n tolletjie blinkpurper tou, ’n klein handspieëltjie. ’n Blikkie salf wat ruik na swawel. ’n Boksie vuurhoutjies en ’n botteltjie sout. ’n Kompas en slagystertjie vir veldmuise (aanvanklik, na sy aankoms op die dorp, skynbaar sy stapelvoedsel). ’n Blikbeker, ’n boksie Lion-vuurhoutjies, ’n spul vuurwerk (dinamietkersies en vuurpyle, ’n paar vonkwiele). ’n Vergrootglas met ivoor-handvatsel. Drie wierookstokkies. Plus ’n gerfie dokumente in Chinese skrif. ’n Knypbrilletjie. ’n Naelskêrtjie. Op een van die dokumente was sy foto toe hy nog varsgesig was, met ’n stempel bo-oor.

Pa het eendag na die foto gestaan en kyk nadat hy Chinees ’n keer om sy papiere gevra het, sommer net. “Just for the hell of it,” sê Pa later toe Ma hom vra hoekom hy Chinees se papiere wou sien. Maar ek kon sien hy lyk skuldig.

Tog voeg Pa by: “Daardie jong gesig op een van sy dokumente het my ongerus gemaak.” En al het hy daardie dag die koffertjie se inhoud goed bekyk, sou hy en Ma bly wonder oor wat nóg in die koffertjie is, en altyd daaroor bespiegel.

Almal weet eintlik maar wat by sy aankoms in Chinees se koffertjie was, want toe die koekepan die stasie inrol, was daar toevallig drie jong boere op die dorpsperron. Hulle het op ’n stoetbul gewag wat een van hulle gekoop het, en toe Charlie Ng van die koekepan afklim, het hulle hom nadergeklap en hom deurgekyk. Dis nie aldag dat jy ’n mak Chinees in ons geweste gewaar nie. Hulle’t hom sy koffertjie net daar op die perron laat uitpak.

Die foto het dit vir iedereen duidelik gemaak dat Chinees ver gereis het, maar daar was nog iets: ’n visitekaartjie. Op die een kant was ’n tekening van ’n groen draak. Op die keersy die naam van die maer man wat ek dekades later, op die spoor van Koekepan, in Kowloon sou ontmoet. Na die naam het daar gestaan:

Manager of Extras

Green Dragon Studios

Stanley Road

Hong Kong Central

Dis omtrent al inligting wat ek het oor Chinees-Koekepan-Chinaman, en wanneer Pa stilhou om velle af te laai en Witkant babbelend naderstaan met sy pienk oë en sy rosige hande, hou ek Chinaman-Koekepan dop. Hoe hy die velle deurwerk, kyk of hulle snyplekke het, kyk na hul toestand. Hy maak die prys deur strepies in ’n klaswerkboek te trek. Een strepie is vyf sent.

“Chinaman skryf nie syfers nie,” verduidelik Pa aan my. “Hy tel in strepies. Hulle kan mos nie skryf nie, hulle teken. Dis Chinese skrif. Agterstevoor en vol krulletjies. Hulle ken nie die alfabet nie.”

“Hulle’t buskruit uitgevind.”

Pa kyk skewekop na my. “Sê wie?” vra hy.

“Die Latynjuffrou. Sy sê ons moet hom Mister Ng noem. Ng.” Ek sê weer: “Ng.”

“Nou goed, maar dit beteken nog nie hulle ken die alfabet nie.”

Mense verkoop ook bene hier. Ook ek, vir sakgeldjies, loop saam met die plaaswerkers se kinders deur die veld. Ons versamel vir sakgeld bene wat rondlê, ’n kaalgevrete ruggraatjie van ’n pondhaas daar in die dongas, die tjopbene waarmee Pa klaarspeel saam met sy brekfiseiers elke oggend as hy agtuur inkom van die lande af en voordat hy na die dorp ry, die skoongeëete skaapkop. Jy gooi die bene in ’n goiingsak en verkoop hulle per gewig.

Koekepan is die man vir die inwegery. As jy die sak van die bakkie af kry, dan vat Witkant hom skaal toe. Koekepan sit eers sy knypbrilletjie op. Dan maak hy die sak oop en kyk die bene deur. Ek hou hom dop, hoe sy maer vingers die bene uithaal en omdraai. Koekepan ruik daaraan, voel die gewig. Die rede is dat mense soms ou olie oor die bene gooi. Die bene trek die olie in en raak swaarder. Die opteller van die bene kan dan dubbel soveel merkies kry vir sy bene. Maar dan kan die jelliefabriek in die Baai nie die oliebene gebruik nie. “Verbruikers se jellie smaak al weer na karolie,” is nogals iets wat jy nou en dan op die dorp hoor.

Dus kyk Koekepan jou goiing vol bene goed deur. “Inspection!” roep Witkant, en Koekepan, sonder om ’n oog te verroer, se hande beweeg oor die bene. Rugwerwels, skedels, dybene.

Eenkeer moet Pa gou bank toe. Hy laai my af om te kyk hoe Koekepan tel. Pa vertrou Koekepan met die tellery. Al dink hy dat Koekepan dikwels dompraat. Dis Pa se woord vir die wyse waarop Koekepan soms onbeholpe praat. Ander kere, sê Pa, as jy hom onverhoeds betrap, praat hy pragtige volsinne. Sommer Hooghollands ook. “Hy hou hom dom, daai Chinaman. Ons moet hom fyn dophou.”

Ek staan na die wiel in die stof en kyk, in die skaduwee teen die velskuur se klipmuur. Hiervandaan kan jy oor die lae bossies en in die laagte oor die doringbome kyk en die skraps watertjies van die Visrivier sien blink. Oorkant die rivier styg die kranse, en daar bo-op, die lokasie. Die tronk, donker en geheimsinnig, staan in die krans se skaduwee.

Die knypbril. Die velle. Wik en weeg. Die bene. Die klaswerkboekie met die stompie potlood. Die merkies. Ek staan daar rond. Agter in die velskuur is hope velle. Jy ruik die skaapvet wat nog in wit wolkies aan die velle klou. Jy ruik die sout, die klipvloer lê vol kristalle, meestal bruingetrap en stofverwaai.

Bo, by die klein venstertjies wat teen die dak met sy oop dakbalke sit, val sonstrale deur die vuil panele. Dis skemer hier binne. Groot pakke vel met rieme vasgewoel, staan op die een punt gestapel. Skaapvelle hier, beesvelle daar. Bokvelle: springbok, koedoe, duiker. Muskeljaatkat en rooikat. Hopies ystervarkpenne. Horings in die verste, agterste hoek. Kloue en hoewe in balies. Dit wag als op die spoorweglorrie, dit gaan Baai toe.

Koekepan bekyk die bene. Een-een. Ek kyk hoe Koekepan se lippe woorde vorm terwyl hy ’n been bekyk. Toe Witkant sien ek hou Chinees dop, sê hy: “Koekepan praat met die bene. Hy kan sien van watter dier dit is, jakkals of vark. Hy weet daai ribbetjie is ’n meerkat s’n.”

“Hoekom praat hy met die bene?” vra ek aan Pa in die bakkie op pad terug plaas toe.

“Omdat hy ’n Chinaman is,” antwoord Pa ingedagte.

Koekepan, het ek gehoor, het eers as harker op die soutpanne in die Baai gewerk. Saam met Xhosas, een Indiër en ’n baster uit Bedford. En ’n verflenterde, verdwaalde Hollander met ’n rooi kop. Hulle was die span wat daar gehark het.

In die stories (meestal Witkant se gebabbel) was hulle almal naamloos, maar eers later, toe ek teruggekeer en begin uitpluis het, hoor ek die Hollander het van die begin van die stories af ’n naam. Corrie. Seker omdat die ander stil was, of net oor gewone dinge kon praat, het húlle geen name nie. Terwyl hy, dromend op sy hark of dalk dronk gebak deur die Afrikason, gepraat het van dyke en water en skilderye, van die Eiffeltoring en sy oupagrootjie – ook ’n Cor– wat dit help bou het.

Sy oupagrootjie was ’n ambulansdrywer in die Anglo-Boereoorlog, ’n Hollander wat wou kom help teen die Engelse.

“Eers die Eiffel gebou, toe die ambulanse kom ry.”

Ek het al baie saam met Pa en Ma by die panne verbygery, hulle sit tussen die duine en die see. “Lappe en lappe sout,” het Ma geprewel.

En Pa het bygevoeg: “Het jy al so baie sout gesien?”

“All of the seven seas,” het Ma gemymer terwyl hulle kyk na ’n maer figuur, verlore op die wit stuk aarde aan die hark. Hopies sout. Meeue en die plat bossies wat na kruit ruik. “Om te dink Koekepan het eens hier gehark.”

“En nou verkoop hy velle!”

Maar Koekepan was slim, het ek gehoor. Dit was Witkant wat dit eendag by die bakkie aan Pa staan en vertel het. Koekepan het op ’n dag probeer uitvind waarheen die sout gaan. Na hotels se eetkamertafels, na silwerpotjies, het hy gehoor.

Na kombuise op plase, waar digby die stoof ’n houtboksie staan waaruit jy knippies sout kan lig, vinnig ter hand vir die lamsboud of die skaapstertjies.

So Koekepan het gehoop hy kan op die spoor van sout loop en as kelner in ’n hotel se eetkamer gaan werk.

“Fênsie!” het Pa gelag. En toe het Koekepan gehoop hy kan as houseboy werk kry, het Witkant verder vertel. Om met die sout en die potte en die vleis te werk in ryk wit mense se huis. “’n Mán wat kook!” het Pa geskerts. Maar toe dit nie werk nie, het Koekepan die velsmousery gekies.

“Wat is ’n velsmous?” het ek gevra.

Pa het geantwoord: “Hy staan tussen die dier en die skoene wat jy dra.”

* * *

My ouers was nie die konvensionele boere-egpaar nie.

Slootplaas was ongeveer tien myl suid van die dorp. My ma het dit geërf en my pa, ’n regspraktisyn, het beskeie geboer. Hy’t die plaas bloot aan die gang gehou, want my ma was sentimenteel daaroor. Sy het op die grond grootgeword. “I had a farm in Africa,” het sy, grappend, soms die Deense skrywer aangehaal.

Ek dink Pa’t dit geniet om soggens douvoordag op die lande uit te gaan en bevele te gee. Saans het hy teruggekom en met ’n whiskytjie die dag in die howe en in sy kantoor uit sy gemoed voel wegsak. Die boerdery was nie ingewikkeld nie en hy was wat die ernstige boere in die distrik ’n “tjekboekboer” of “stoepboer” genoem het. “’n Tax haven,” het mense glo ook soms gesê. As verwyt teenoor my pa, die prokureur wat glo plaasonkostes afskrywe teen sy praktykinkomste.

Vandag is ek dankbaar vir daardie grond en vir die wyse waarop my ouers in die jare voor hul dood die laaste verband op die grond afbetaal het. Na die moorde op hulle is die plaas en losgoed verkoop en die geld in ’n trust gesit waarvan ek die begunstigde was. Toe ek een-en-twintig word, is die geld aan my uitgekeer en was ek verseker van ’n inkomste. Nie groot nie, maar voldoende vir ’n lewe wat nie te flambojant is nie. Dit het oor die jare my beskeie salaris as uitgewer aangevul.

Pa se praktyk was gerieflik net straataf van die polisiekantoor geleë. My ma het die boerelewe vervelig gevind – daar was nie ’n kans dat sy bloot vir die inlê van perskes uit die boord of die sny van rugstringbiltonge sou lewe nie – en sy het reeds voor my geboorte ’n boekwinkeltjie op die dorp begin. Mens sou dink dit sou niks meer as tydverdryf wees nie, maar die feit is dat televisie nog nie gearriveer het nie en aande in die platteland kon lank en vervelig wees. Meer mense as wat jy sou dink het in daardie jare gelees. Die winkeltjie het ook, om die onthalwe van kontantvloei, ’n skryfbehoefteafdeling gehad en bygevolg was daar dikwels ’n koper of twee op die vloer.

Daar was veral Afrikaanse boeke, die romans van DF Malherbe en CM van den Heever, die gedigte van Eugène Marais (Ma se voorkeur), die boeke van Mikro en ander. My ma het graag aan haarself gedink as ’n vrydenker, en daar was dus ook ’n skamele rytjie boeke deur die sogenaamde Sestigers, die nuwe Afrikaanse skrywers wat in Parys gaan woon en allerhande idees teruggebring het. “Die surrealisme,” het Ma teenoor juffrou Latsky, die Latynjuffrou, wat ook gedig het, gesê toe die jong digteres eendag opgewonde kom soek na ’n boek met die naam 21. “Die eksistensialisme,” het die jong juffrou Latsky gepruil. Sy het ’n serpie gedra wat die oog vang en ’n brilraam wat nie hier oorkant by apteker Osche gekoop is nie, maar ongetwyfeld in die Baai.

Vir my was dit ’n speelplek, hierdie boekwinkel met sy swyende boeke waar Ma meer dorpskindernuus uitgeruil het as kleingeld. Daar was dikwels iemand by haar bloot vir die gesels. Daar was ’n tafeltjie met drie stoele teen die muur skuins voor die toonbank. Die vroue van die dorp het graag by haar kom tee drink en toe Pa eendag sê sy behoort formeel so ’n tee-en-koek-hoekie aan te bied en daaruit bietjie kontant maak, het sy geweier: “Nee. Daardie tees is my lewensbloed.” Ek het as seuntjie op die winkel se vloer gespeel en teen die boekrakke opgekyk asof hulle ’n groep volwassenes was wat my omring – hulle het my dopgehou.

Elke rak was soos ’n mens en om elke hoek het daar ’n ander gesig na my gedraai. Die woordeboekafdeling, wat ook swaar gedra het aan dik ensiklopedieë, het ’n gewigtigheid aan hom gehad, ’n norsheid. Ek het in my gedagtes ’n verband getrek tussen hierdie lang, regop rak in die skemer hoek van die winkel (op ’n plek waar byna niemand ooit gekom het nie, en as hulle sou, het hulle hier na fluisterstemme oorgeslaan) en die landdros oor wie Pa hom altyd so bekla het.

Tewens, die landdros was die enigste dorpenaar wat benewens Ma se vriendinne soms bloot hier kom sit het by Ma se teetafeltjie. Hy’t sulke tye sy hof verdaag en oorgestap en kom tee drink. Sonder dat daar ’n fooi was, en Ma het net ’n beleefde kopknik gekry. Die waardige ou kêrel met die kruisbande wat die dorp se sondes en geskille op sy skouers gedra het, het dan ’n halfuur of wat daar gesit terwyl ek op bevel van Ma my karretjies om die draai moes gaan stoot, by die rak met die etiket Woordeboeke en Naslaanwerke.

Bygevolg het daardie rak vir my “die landdros” geword. En die landdros daardie rak.

Ek moet darem byvoeg dat hy iedere Kersfeestyd ’n mooi doos sjokolade oorgestuur het boekwinkel toe. Die klerk van die hof, ’n bewerige mannetjie, het dit afgelewer. In opdrag van die landdros het hy vooraf die toedraaipapier hier by Ma self kom koop, en die rooi lint.

Wanneer hy die dag met die rolletjie papier en die lint by die winkel uitstap, het Ma (iedere jaar, so lank as wat ek kan onthou) vir Pa gebel en gesê, asof sy hom wou troos: “Die klerk het die Krismispapier kom koop.”

’n Week of wat later het die papier en lint weer teruggekom, met die sjokolade binne-in. “Die magistraatstjoklits,” het Pa dit genoem, en ons het altyd die hele boks in een aand opgeëet terwyl ons Afrikaanse treffers oor die draadloos luister en Pa en Ma bespiegel oor die landdros se aftreedatum, wat altyd maar verder gewyk het.

Daar was ’n afdeling met Westerns in Ma se winkel, en dit is druk besoek. Dit was Ma se toegewing aan Pa met sy groot voorliefde vir Zane Gray en Louis L’Amour. “Ons Afrikaners verstaan cowboyboeke,” het Pa gemeen. “Give me land, lotsa land, don’t fence me in!” het hy dan geneurie.

Ma: “Maar net hardebande, nooit paperbacks nie.” En dit was ook haar manier van oorlog verklaar teen die Springbokkafee ’n ent verder op in die dorp naby die viswinkel, wat benewens smous met melk en polonie ook die sagteband Rooi Jan-boeke en Die Swart Luiperd-reeks aangehou het – tweedehandse, voosgevatte sagtebandboekies. “Slapbandjies,” het mense dié kafeeboekies genoem.

Min het ek geweet dat ek later jare – om my literêre fondslys te abba – ook liefdesverhale sou redigeer en uitgee.

Daar was in daardie kafee ook drie dik, slordige rakke vol Mark Condors, Kyk-boekies, ensovoorts, almal fotoverhale. Die meeste skoolkinders op die dorp is streng verbied om ooit by daardie gleuf tussen die kafee se glimmende toonbank met uitgestalde polonie en kaas en die rak met “poesboekies” – soos dit in my hoërskooljare genoem is – in te skuif.

As kind kon ek dus die fotoverhale en die breë trekke van die passies en drifte daarin nie geniet nie, dit is my verbied. So, vir my was boeke die ingehoue. Die onpeilbare in formele hardeband. Die misterieuse ritsel van papier wanneer die landdros soms sugtend opstaan, ’n volume uit ’n rak haal, en daardeur sit en blaai, sal my altyd bybly. Terwyl Ma stil soos ’n muis agter haar toonbank in die hoek verste van hom af sit. Tjoepstil en op haar beste gedrag terwyl die man wat verantwoordelik was vir die sukses al dan nie van haar eggenoot se beroepslewe met sagte kreuntjies gelees het wat DF Malherbe en CM van den Heever oor die boereplaas of die sprinkaanplaag te sê het.

* * *

Natuurlik was die skatkis vir my die rak met kinder- en jeugboeke. Ma het daarmee spesiale moeite gedoen. Twee keer ’n jaar het die katalogus uit die suide per pos gekom, en ek en sy het dan ’n ritueeltjie daarvan gemaak. Ons het elkeen met ’n potlood in die hand by die tafeltjie gesit. Vir my het sy ’n koeldrank gaan koop, sy het tee gedrink. Tydsaam het ons die katalogus deurgegaan en nuwe boeke gekies. Soms het sy die kruisies getrek, soms het sy my die kruise, versigtig, laat maak. ’n Maand of drie later het die groot doos aangekom. Ek het haar dit help uitpak. In my gemoed was dit vuurwerk.

Dit was my eerste blootstelling aan die wêreld van boeke en tekeninge, avonture en verbeelding. Aan papier se vermoë om fantasie te berg.

Kort nadat ek Koekepan gereeld op ons dorp begin sien het, het ek baie keer teruggegaan na ’n boek wat op die rak by Griekse helde en gode en ander boeke (onder meer ’n boek oor Xhosa-legendes) gestaan het. ’n Versameling Chinese legendes. In warm middae het ek kruisbeen heel agter in die winkel gesit en gelees van die keiser wat niks geweet het nie en net daarin belanggestel het om geld van sy onderdane na homself af te keer. Toe kom ’n muis en kou die keiser se gewaad aan flarde. Hy beveel sy onderdane om drie keer ’n dag voor die muis te buig. En die grillerige storie oor die reuseslang wat in die somer slaap en in die herfs jag. Die slang kruip in die woud weg en sy lieflingskos is die harsings van diere en mense. In die storie, wat ek later uitasem in die kar op pad terug plaas toe aan Ma vertel, seil hy tot op die bed van ’n man en vreet sy kop leeg.

Ken Koekepan al hierdie stories? het ek dikwels gewonder wanneer ek hom met sy kruiwa oor die brug sien stap.

By die ingang was daar altyd ’n uitstalling van ouma Ogies se papegaaivere. By boekkopers was die kleurrykheid gewild. Die vere het ’n soort deurgang gegee na die stories wat jy daarbinne kon koop en het, in hierdie dorp sonder mooi winkels waar jy versierings van enige aard kon koop, liggies in die windjie gebewe.

Dit was seker die wonderlikste ure van my jeug, om digby die papegaaiwaaiers en versiersels daardie katalogus van die Nasionale Boekhandel deur te werk (die verskeidenheid en keusevryheid!). Die res van my lewe (besef ek eers later) leef ek na daardie ideale staat toe, na sulke oomblikke, herwin uit ’n verlore jeug, en nooit kon ek dit weer terugvind nie.

* * *

Ek was slim en het buiten die boekprys vir die eerste klasposisie ook altyd die vakpryse in my standerd ingepalm. Vir biologie, geskiedenis, aardrykskunde en nog ander; een boek vir elk. Die reëling met die skole (een vir seuns, een vir meisies) was dat leerlinge vooraf hoor hoeveel boekpryse hulle wen. Dan kon hulle hier by Ma se winkel die boekrakke kom deursoek en hulle boeke kies. Sy’t die boeke mooi gemerk as “reeds toegewys” en noukeurige aantekeninge deurgegee aan die skoolhoofde se kantore. Twee dae voor die prysuitdeling het die skole die boeke kom haal, en daardie maand het Ma ’n vet wins gewys.

Reeds met die deurwerk van die katalogus het ek en Ma bespiegel: Vir wiskunde, kies jy hierdie een. Vir geskiedenis, daardie ene.

“’n Tuisbedryf,” het Pa gespot.

Nege maande lank het my boeke op die rak op my gewag en het Ma my nooit na hulle laat kyk nie; ek kon elke ander boek in die winkel deurblaai, net nie hierdie boeke, wat myne was maar my nog nie toegekom het nie. “Wag tot die prysuitdeling. Werk hard tot dan.”

* * *

Pa se wêreld het gewemel van skurke en tsotsi’s, swendelaars en deelnemers aan dorpsvetes. Die karakters in sy verhaal was die aangehoudenes, die verkuldes, die bandiete en messtekers. Sy cliffhangers was die oomblikke voor ’n dramatiese betoog voor die landdros.

In Pa se wêreld het die tronkdeure swaar toegeslaan, die polisiebakkies met skreeuende bande om die hoek gejaag, die landdros se hamer die neulende getuies stil geklop.

Die polisiekantoor was ’n klipgeboutjie en daarnaas, onder die landsvlag en agter vier peperbome, was ’n groter gebou, ook van klip: die hof. Die tuine voor en rondom die hof was die sit- en rondlêplek vir wagtendes – op verhore, op borgaansoeke, op vrygelatenes, op die aflê van verklarings. Daar het hoë palmbome gestaan. Die wagtendes was altyd daar, en mens het die gevoel gekry dat hierdie proses nooit einde kry nie, dat dit ’n permanente en treurige geswoeg was: die stelsel teen die burgery, burgers teen mekaar, die letter van die wet teen die misdade van die mens. Jy moes tussen hierdie mense deur stap om in die hofgebou te kom. Deur die reuk van sweet en armoede en by tye ook die geur van ou fekalieë in ’n boudgleuf.

Die polisiewaens het haastig gekom en gegaan, met spoggerige jong konstabeltjies wat flink in- en uitspring. Saam met hulle hul kollegas, die bruin speurders. Hierdie manne se koppe was skoongeskeer en hulle het oogkontak met die ander bruin en swart mense om die hof vermy. Hulle’t blink dasse gedra, gepoetste skoene en sportbaadjies. Onder die wit mense was daar ’n onuitgesproke begrip: hulle is aan ons kant, aan die kant van reg en orde, maar eintlik, eintlik is hulle hul eie mense se uitverkopers.

Een vleuel van die gebou het aan die veiligheidspolisie behoort, en hulle karre – hulle het nie met polisievoertuie rondgery nie, maar private karre – het in ’n ry teen die noordelike kant van die klipgebou gestaan. Daardie sypaadjie is deur die wagtendes vermy, en dit was duidelik dat die manne van Veiligheid eintlik maar baas is van die plaas. Die ganse onrustige oosgrens-Karoo was hul jagveld.

Net Witkant die albino het soms daar by hulle karre onder die peperboom gestaan en kletspraatjies met die veiligheidspolisie gemaak. Soms is hy saam met hulle by hul kantore in. Vernaam het hy later uitgekom met ietsie in ’n bruinpapiersak, spoggerig, om die gebou geloop en sy weg tussen die wagtendes deur gebaan om iewers in ’n strafsaak in te sit en die verrigtinge van heel agter in die hofsaal te volg, sommer uit nuuskierigheid.

Pa het net een keer laat val: “Hy sit en wegkruip in die hof. Daar voel hy veilig.” Eers later het ek verneem dat die sangomas agter sy balle aan was, en in my verbeelding het ek sy afgesnyde vool en teelballe op ’n tafel sien lê.

Pa se kantoor was in die Volkskasgebou ’n ent weg, net bokant die barbier waar ons ons hare geskeer het en waar die sypaadjie permanent na Brylcreem geruik het. Ook die Odeon was daar, waar die John Wayne-cowboyflieks en Sean Connery se vroegste James Bond-flieks gedraai het. Ook ’n slag Zorba the Greek, wat ons drie keer gaan kyk het, Pa was gefassineerd.

In sy kantoor se twee wagkamers was stoele teen die mure uitgepak. In die wit wagkamer met ’n bordjie Blankes bo teen die kosyn, was twee tafeltjies met die Landbouweekblad, die Brandwag en die Panorama. In die ander wagkamer was daar ’n almanak teen die muur en ’n landkaart wat die tuislande in groen aangedui het. Hier was daar net regop eetkamerstoele.

Pa se lessenaar het ’n mooi glasblad gehad en daar het altyd ’n draadlosie met skuins lugdraadjie gestaan sodat hy om kwart oor een die nasionale nuus, die weervoorspelling en wolpryse kon luister. Daar was ’n John Deere-asbakkie vir sy sigarette en hy’t ’n goue sigaretaansteker gebruik, wat hy spoggerig kon hanteer.

In die hoek aan ’n kapstok het die toga gehang, en sy baadjie en, skuinsweg, ’n swanky hoed.

Pa het hard gewerk en in die twee rye staalkabinette was honderde lêers. “Die hele dorp se skade en skandes is in daardie kabinette toegesluit,” het Ma altyd gesê. Dit was eintlik nie papiere en dokumente waardeur Pa elke dag sy weg gebaan het nie, het sy verduidelik, maar lewens.

Vrydagaande het hy klub toe gegaan. Dit was net vir mans, ’n pragtige ou huis onder palmbome iewers in die buurt naby die rivier, met breë stoepe en houtpanele binne, Morrisstoele en kelners. Vrydagnagte laat het hy huis toe gekom, vroliker as gewoonlik. Dan het hy na sigaarrook en whisky geruik, en hy’t dikwels vir Ma ’n botteltjie parfuum of ’n nuwe sakdoekie gebring op so ’n aand. Selfs eenkeer ’n stel oorbelle uit die Kaap.

Die wêreld van Charlie Oeng

Подняться наверх