Читать книгу Ettie Bierman Keur 8 - Ettie Bierman - Страница 11
Оглавление8
Rothea is dankbaar dat sy Carl die volgende oggend nie te siene kry nie. Hy het nie reg gemaak nie en sy voel verneder toe sy aan gisteraand se insinuasies dink. Carl speel ’n speletjie wat sy nie verstaan nie. Hy het vir haar gewink om langs hom op die bank te kom sit en hoe kon sy by die swembad teëstribbel? Hy wou haar troos en sy was nie haarself nie. Sy het aan Albie gedink en was nie eers ten volle van Carl se arms om haar bewus nie.
Seekatgreep! Sy is opnuut oor Dieter se woordkeuse ontstoke. Dis ’n belediging.
Sy weet nie wat Carl wou bereik nie. Dieter vermaak? Hom terugbetaal oor ’n vorige potjie wat hy en sy broer oor ’n nooi geloop het? Of was Carl ernstig, dat hy meer as vriendskap vir haar voel? Dié dat hy uitdagend teenoor Dieter was en haar nie wou laat gaan toe sy op ’n stoel wou gaan sit het nie? Rothea weet nie. Haar hoofpyn van Vrydag is terug en sy het min lus vir Ilse en haar eerste les in perdry.
Ilse is laat. Dis tien oor nege toe Rothea perdepote hoor en Ilse op ’n groot swart hings verby die stalle galop. Rothea is seker die Duitse meisie het haar gesien, dog sy groet of wuif nie en ry voort huis toe.
Halftien kom. Kwart voor. Tienuur ... Rothea weet nie of van haar verwag word om agter Ilse aan huis toe te loop nie. Sy wil nie steur as Ilse eers ’n rukkie by Dieter wil kuier nie.
Elfuur kom Ilse eindelik saam met Dieter deur die tuin aangestap. “Rothea?” roep sy. “Waar kan sy wees, Dieter? Ek soek die hele wêreld vol na haar, maar ek kry haar nie. My keel is hees geroep en ek was al drie keer by die stalle. Dink jy sy wil nie meer gaan ry nie? Dan moes sy mos net so gesê het, pleks van weg te kruip en ons vir die gek te hou.”
“Hier’s ek,” sê Rothea kortaf.
Dieter lyk verbaas toe hy haar sien staan. “Waar was jy die hele oggend?”
“Ek het by die stalle gewag, van vyf voor nege af.”
Ilse laat haar nie van stryk bring nie. Sy lag ongeërg. “Jy het seker agter ’n pilaar of om die hoek gestaan en nie gehoor ek roep nie. Alles reg, Rothea. Ek is nie haastig nie en kan begryp dat jy sku is. Ontspan en moenie bang wees nie. Ek is goed met beginners.”
“Ilse is geduldig en jy hoef nie vir haar skaam te wees as jy sukkel nie, Rothea,” moedig Dieter haar aan. “Jy sal gou regkom.”
Ilse kyk met ’n glimlag na Rothea se verbleikte seilbroek. “Het jy nie ’n rybroek nie?”
“Nee.”
“Ek sou met die grootste plesier vir jou een van myne leen, maar die broek sal vir jou te klein wees. Toe maar, dis niks nie, jy lyk piekfyn en ons sal seker nie ander mense langs die pad kry nie.”
“Geniet die les,” groet Dieter. “Ek het ’n vergadering by die boerevereniging. Sien julle om eenuur.”
“Hans, hou vir haar die stiebeuel vas,” beveel Ilse terwyl sy liggies op haar perd se rug wip en Rothea se gesukkel suur beskou.
Toe die Mercedes verbykom, wuif Ilse vrolik. Sy hou Salamander aan die toom vas en laat die twee perde rustig stap.
“Waaroor het jy en Dieter Vrydag so lank by die stalle gesels?” vra sy koel.
Rothea besef Dieter en die huismense kan hulle sien, maar nie hoor nie ...
“Vrydag?” Rothea dink na. “Oor Albie en sy hond en ponie. Oor Upington, Salamander en of ek kan perdry.”
“Upington en wanneer jy daarheen teruggaan?”
“Ja.”
“Wanneer gaan jy?”
“Ek het nog nie besluit nie.”
“Jy is ’n las vir die huismense. Jy stoot Mutti se bloeddruk op en arme Dieter kan nie sy werk doen as jy gedurig om hom rondhang nie. Die idee was dat jy net die naweek kuier. Om langer van die Richters se gasvryheid misbruik te maak, is dikvellig. Die kind het jou nie nodig nie.”
Dis nie vir Ilse om te besluit of Albie haar nodig het of nie, dink Rothea. Wat praat sy altyd van “die kind”? Albie het mos ’n naam.
Ilse spoor die perd aan en kies koers kloof af, in die rigting van die rantjies.
“Is dit al waaroor jy en Dieter gesels het? Hoekom het dit dan gelyk of Dieter baie naby aan jou staan?”
Rothea wil haar vervies, maar sy is bang die onskuldige Albie sal dit dan weer ontgeld.
“Hy het nie naby my gestaan nie.”
“En hoekom wou jy nie agterna kom koffie drink nie? Wou jy my vermy omdat jy skuldig gevoel het?”
“Ek was nie dors nie, dis al.”
Ilse kyk skepties op. “Ná jy ook nie middagete gehad het nie? Moenie dink ek is onnosel nie. En moenie my onderskat nie. Het Dieter Salamander vir jou gegee of net geleen?”
“Wat sou ek met ’n perd in ’n woonstel maak as hy hom vir my gegee het?”
“Dis wat ek ook gewonder het. Tensy jy nie beplan om weer na jou woonstel terug te gaan nie ...”
Rothea vryf Salamander se ore en antwoord nie. Sy moes nie gekom het nie. Sy kon haarself leer perdry het of dit gelaat het.
“Carl sê die naweek toe Dieter jou op Upington gaan besoek het om oor die kind te praat, het julle die hele Sondag saam deurgebring. Wat het julle gedoen?”
“Ons was by die Rosetuin.”
Die paadjie word te smal vir twee ruiters langs mekaar. Ilse ry op ’n drafstap vooruit.
“Alleen?” roep sy oor haar skouer uit.
“Albie en honderde ander mense was by.” Rothea probeer konsentreer om saam met die perd se ritme te beweeg. Op te wip wanneer sy rug opkom en af te sak saam met hom. Van ’n les is geen sprake nie. Of sy regkom of nie, kan Ilse nie skeel nie.
“Is jy nog bo?” Dis eerder ’n beskuldiging as ’n vraag.
Rothea byt op haar tande en klou vas.
Hulle ry onder ’n digte plaat soetdorings deur, met hier en daar ’n kiepersol en aalwyne wat soos oranje kandelare tussen die rotse blom. Rothea het egter nie kans om die uitsig of die natuurskoon te waardeer nie. Om op die sweetvos se rug te bly en vir laaghangende takke te koes, verg al haar aandag.
Toe sy om die draai tussen die twee klipkoppies uitkom, wag Ilse haar in. Die groot hings staan dwars getrek sodat hy die paadjie versper en Ilse se hand skiet uit om Salamander aan die teuels tot stilstand te dwing.
“Reg, nou kan ek en jy praat,” lig sy Rothea in. “Jy is nie so onskuldig soos jy probeer voorgee nie, Dorothea Beukes. Ek ken jou soort, jou en jou suster se soort. Goedkoop flerries, net daarop uit om ’n man te vang, al steel julle hom van ’n ander meisie. Dieter is ryk en boonop aantreklik, nè? ’n Dodelike kombinasie vir ’n gewetenlose fortuinsoeker, nè?”
Rothea is spierwit. “Wat insinueer jy?”
“Moet ek dit duideliker stel?” Ilse ruk Salamander se toom nader sodat sy Rothea in die gesig kan kyk. “Ek sal nie toelaat dat die geskiedenis hom herhaal nie. Dieter Richter is myne. Gehoor? Barbara was ’n groter dief as Ernst en jy aard na haar. Ek waarsku jou: bly weg van Dieter af.”
Rothea se weerstand is skielik laag. Ter wille van Albie het sy kalm gebly. Maar wat Barbara betref, kan sy nie stilbly nie. Barbara is dood en nie hier om haar naam te verdedig nie.
“Jy praat van soort? Barbara was tien van jou soort werd. Sy was eerlik en fatsoenlik. Warm en liefdevol en verfynd. Geen wonder Ernst het jou gelos om met haar te trou nie. Dieter sal ook sy fout uitvind. Jou ware kleure herken en ook baie vinnig van jou ontslae raak.”
Ilse se kop ruk op en haar oë blits. “Feeks!” sis sy. Sy pluk ’n karwats uit haar kamas en haar arm swaai in ’n boog omhoog.
Rothea verwag sy gaan die hou deur haar gesig kry en keer met ’n opgeligte hand vir haar oë. Maar die karwats swiep by haar verby om Salamander met ’n venynige slag teen die nek te tref. Terselfdertyd skop Ilse hom hard in die lies en los die toom.
Van skrik runnik die sweetvos skril. Sy oë rol wild in hul kasse en hy spring paniekbevange weg. Rothea val skuins oor sy nek, haar verskrikte greep dwarsoor die plek waar die karwats sy nekvel oopgekloof het. Die nuwe steekpyn wat deur sy nek brand, vererger die perd se angs. Hy byt die stang vas en skuim tou uit sy trillende neusgate. Sy bene pomp vinniger en sy hoewe vlieg oor die grond in ’n poging om die brandpyn agter te laat. Graspolle, klippe, gate en sandkolle trek in ’n dowwe vlaag onder Rothea verby en die wind wapper haar hare oor haar oë. Sy rem met al haar krag aan die teuels, maar sy is nie sterk genoeg om die hings in te hou nie. Hy het die stang tussen sy tande en sy nek is in ’n sekel gekrul terwyl hy in dolle vaart deur die kloof op loop sit, in die rigting van waar hulle gekom het – huis toe, waar Salamander instinktief weet veiligheid lê.
Rothea weet sy is nie ervare genoeg om bo te bly nie. Haar een voet is uit die stiebeuel en met elke afkomslag verloor sy haar ewewig. Sy let op die paadjie is dieselfde een van vroeër. Weer netnou deur die plaat bome ... Sy onthou die lae takke en lang wit dorings, soos beeshorings. Teen hierdie snelheid sal sy nie betyds kan koes nie. Haar kop sal van haar lyf afgeskeur of haar oog sal uitgesteek word.
Toe die bome in sig kom, raak Rothea bang. Sy ruk haar ander voet ook uit die stiebeuel sodat sy kan afspring. Opeens het sy geen greep meer nie en nie beheer oor haar bewegings nie. Met die volgende galop begin sy val. Haar hande reik wanhopig na iets om vas te hou. Salamander se nek is egter taai van bloed en sweet en haar vingers gly los. Een oomblik nog voel sy die breë rug onder haar, die volgende oomblik is daar niks nie. Sy hoor ’n gil, sonder dat sy besef dis sy wat skree. Sy ondervind ’n swewende gevoel, asof sy van ’n hoë duikplank gespring het. Toe tref sy die grond met ’n slag wat die lug uit haar longe pers. Dit voel soos ’n voorhamerhou wat haar skouer tref, toe word alles om haar donker.
Rothea weet nie hoe lank sy daar gelê het nie. Toe sy bykom, is alles stil. Die dawerende perdepote is weg, die gil en selfs die voëls. Teen haar wang en in haar mond is sand. Sy bly lê, terwyl sy haar bene versigtig beweeg. Hulle is albei nog daar. Haar arms ook. Maar haar skouer het seergekry. Toe sy op haar knieë sukkel, skiet ’n kool vuur van haar linkerarm af op in haar nek. Sy onthou opeens van Ilse en kyk behoedsaam rond. Ilse is egter nêrens in sig nie. Haar perd is ook weg. Sy besef as sy by die huis wil kom, sal dit op eie stoom en sonder Salamander moet wees.
Met haar gesonde arm hys Rothea haar aan ’n stuk boomstomp regop. Sy merk sy het in ’n sandkol te lande gekom, wat haar redding was. As sy op harde grond of op ’n klip geval het, het sy seergekry.
Rothea se sin vir rigting is daarmee heen en sy weet nie watter kant toe sy moet begin aansukkel nie. Waar is die huis? Haar perd?
Haar oë soek na die kol doringbome waarvoor sy so ’n vrees gehad het. Hulle was vorentoe. En anderkant hulle lê die rantjie, dan die opstal ... Die bome is skuins na regs, nie waar sy hulle verwag het nie. Ook baie verder weg. Sy vee die sand uit haar mond en konsentreer daarop om een voet voor die ander te plaas. Om haar verstand helder te hou en haar aan te moedig, tel sy haar treë. Ná elke vyftig rus sy. Dan weer vyftig, miskien sestig, as sy die krag het ...
Sy moes Ilse nie so kwaad gemaak het nie. Dit was haar eie skuld dat die meisie haar humeur verloor het. Barbara sou nie omgegee het wat Ilse Bauer van haar dink nie. Sy sou haar skouers opgehaal en die skelname van haar afgeskud het.
Eers toe Rothea koelte voel, besef sy sy het die bome bereik.
Sal Ilse haar nie dalk kom soek nie? Wat was Ilse se bedoeling? Dat die perd moet skrik en haar afgooi?
Carl het gesê op die plaas is dassies en toe Rothea ’n blaf hoor, aanvaar sy dis een van hulle. Sy weet nie watter geluid ’n dassie maak nie en hier sal nie ’n hond in die veld wees nie. Gelukkig is dassies nie aggressief nie. Hulle sal haar nie aanval nie en dis al wat op die oomblik saak maak. Dit, en om een voet voor die ander te sit en aan te hou loop.
Die das is egter reusagtig toe hy om die rots storm – baie groter en beweegliker as wat Rothea verwag het. Die bruin lyf flits tussen die lang buffelsgras en miershope deur, net ’n streep wat hier en daar grondvat. Rothea vryf oor haar oë, bang sy yl, en om beter te kan sien. Tóg ’n hond?
Die volgende oomblik is die groot grysbruin lyf by haar, blaffend en stertswaaiend en met ’n tong wat haar hand lek.
“Wat sien jy, Fritz?” vra Dieter se stem ver weg.
Sy vryf haar oë, maar die newels gaan nie weg nie. Dis wensdenkery, besef Rothea. ’n Produk van ’n oorvrugbare verbeelding wat haar laat glo Dieter is hier.
Selfs die klank van naderende perdepote word vir Rothea deel van die droombeeld. Sy weet hulle sê ’n perd is ’n slim dier, maar Salamander sal nie terugkom om te kyk wat van haar geword het nie. En dis nie een van Dieter se Weimaraners hierdie wat haar hand lek nie. Dis ’n dassie.
“Fritz?” roep Ilse. “Het jy haar gekry?”
Die hond blaf opgewonde en nog een kom by om aan Rothea te snuif. Die perdepote word harder. Iets anders as ’n hondeneus raak aan haar. ’n Hand en ’n arm vat om haar en hou haar vas.
“Is jy beseer?” vra Dieter besorg.
Ilse kom met ’n waterbottel aangehardloop. “Ek was mal van bekommernis! Dit was my fout. Ek moes van beter geweet het as om jou die karwats te gee. Salamander is nie aan sulke rowwe behandeling gewoond nie.”
Rothea neem ’n sluk water. Die karwats vir háár gegee! Wie is deurmekaar, sy of Ilse?
“Ek kon Salamander nie inhaal nie, kon julle ná ’n ruk ook nie meer sien nie. Dis toe dat ek besluit het om huis toe te jaag en Dieter en die honde te kry om na jou te gaan soek. Wat het gebeur? Het Salamander jou afgegooi?”
“Ja. Nee ... Ek het self afgeval. In sand.”
“Dankie tog, ons het jou gekry en jy is ongedeerd.”
“Ons moet Rothea by die huis kry. Sy ly aan skok,” sê Dieter.
Sy een arm gaan om Rothea se middel, die ander om haar knieë. Hy tel haar op sy perd se rug. Met ’n arm steeds om haar lyf, steek hy sy voet in die stiebeuel en klim agter Rothea op.
Ilse frons. “Is julle twee se gesamentlike massa nie te swaar nie? Laat ek Rothea liewer by my neem.”
Dieter skud sy kop. “Jy is nie sterk genoeg om haar vas te hou dat sy nie afval nie.”
Teen haar rug is Rothea van die veiligheid van Dieter se breë skouers bewus, wat haar teen die bewegings van die perd stut. Deur die dun materiaal van sy hemp kan sy die hitte van sy lyf voel deurslaan. Hy ruik na tabak en naskeermiddel. Sy wens die rit hou jare lank aan: net sy en Dieter, met Ilse en die wêreld om hulle afgesluit, ver weg ... Net die klank van die perd se hoewe en die gekwetter van vinke om die middagstilte te versteur. Wat kan ’n meisie meer vra as om net so styf te sit teen die breë bors van die man wat sy bo alles liefhet?
Rothea is in ’n heerlike droom, wat aan skerwe spat toe hulle tuis kom. Sy verwag om Dieter te sien toe haar ooglede lomerig oopgaan. Maar die eerste wat sy sien, is Albie wat met sy voete en al bo-op die balkonreling voor sy kamer staan. Die glasdeur op die eerste verdieping agter hom staan wawyd oop en hy is besig om te kyk of hy handeviervoet op die smal ysterstawe van die reling kan loop.
Sy vergeet van Dieter. Die newels verdwyn om haar yskoud en skielik nugter te laat. Nee ... Nee, asseblief nie, pleit sy woordeloos. Nie ’n tweede keer in vier dae nie ... sy glyval uit Dieter se arms van die perd se rug af en begin hardloop.
Dieter is egter vinniger as sy en eerste by die sydeur.
“Bly hier!” gebied hy Rothea. “Ek sal hom daar afkry. Moenie na hom roep of skree nie. Jy of Ilse moenie sy aandag probeer trek nie.”
Rothea is dankbaar dat Dieter hier is om oor te neem. Maar sy kan nie op die stoep wag nie, nie wetend of hy betyds was nie. Toe hy die trappe drie-drie ophardloop, storm sy bewerig agterna.
’n Ry ballonne en gevlegde kreukelpapier hang in Albie se kamer. ’n Tafel is ingebring, waarby Olga Richter, Carl en Hanna sit. Dit lyk soos ’n gevriesde tablo – die drie mense, elk met ’n teekoppie en ’n koekbordjie, wat almal regop sit en Dieter verbaas agterna staar.
Rothea pyl op die glasdeur af, met Ilse kort op haar hakke. Dieter is daar. By die balkonreling, sy arms om die klein figuurtjie terwyl hy hom aftel.
“Ou grote, ek dink nie jy moet sommer hier loop nie. Doen dit eers wanneer jy in ’n sirkus is,” sê hy rustig.
“Waar’s Albie?” vra Carl, skielik bekommerd oor waarheen almal so haastig op pad was.
“Veilig,” antwoord Dieter bot. “Nie aan jou te dankie nie, broer.” Hy dra Albie na binne en sit hom by die tafel neer. “Het jy nie gesien die glasdeur is oop nie? Het niemand opgelet nie?”
Carl frons. “Watter glasdeur? Nee. Ek het nie eers besef hier ís ’n glasdeur nie. Was Albie buite?”
“Buite, op die reling,” beaam Dieter grimmig. “Of het jy ook nie geweet daar is ’n reling nie, Carl?”
“Nee, ek het geweet.” Carl sit sy bord neer, die skyf koek en roomtert onaangeraak. “Wat ek nie geweet het nie, is dat Albie buite was en probeer opklouter het. Mensdom, dis hoeveel meter! Es mach überhaupt nichts! Ich fühle mich fiebrig.” Ter wille van Rothea slaan hy weer oor na Afrikaans. “Dit maak glad nie saak nie. Ek voel skoon duiselig. Het hy nie afgeval nie?”
Dieter wys na die ongedeerde Albie, wat ’n voorliefde vir roomtert ontwikkel het, veral om dit met sy vingers te skep en af te lek.
Rothea laat hom begaan, nie in ’n toestand om hom tafelmaniere te leer nie. As hy afgeval het, het hy nooit weer roomtert of sjokoladekoek of ’n vistrein geëet nie, mymer sy. Dit was ’n ongeluk. Blote nalatigheid, sê sy vir haarself. Maar in haar hart weet sy dit was nie. Soos dit ook nie die wind of die hond was wat Albie se bal in die swembad laat beland het nie.
Die vensters het knippe wat maklik oopgemaak kan word, selfs deur ’n kleuter. Daarom het Dieter diefwering laat aanbring. Die glasdeur is egter moeiliker. Albie kan nie ’n sleutel draai, en ’n Yale-slot en terselfdertyd ’n deurhandvatsel nie. Sy koördinasie is nie goed genoeg nie. Dit moes ’n grootmens gewees het. ’n Volwassene wat weet kleuters hou van nuwe ervarings en die balkon sal Albie na buite lok; wat weet die reling is smal; wat weet die pure seun, die twee-en-’n-halfjarige Albie sal nie die gevaar besef nie en probeer bo-op klim.
Wie het ’n grief teen Albie? Wie haat ’n klein, onskuldige ou seuntjie genoeg om hom te wil verongeluk?
Rothea voel siek en naar, haar verstand afgestomp. Haar nagmerrie-val en seer skouer is vergete.
Ilse Bauer? vra sy instinktief. Sy het vroeër gewonder wat Ilse wou bereik deur Salamander op loop te jaag. Of Ilse wou hê sy moet afval en haar nek breek, sodat sy uit die pad kan wees en Ilse Dieter vir haarself kon hê, sonder kompetisie. Nou kom ’n tweede vraag by haar op: Wou Ilse haar wegkry sodat sy vinnig kon terugkom huis toe, na Albie, sonder dat sy tante by is om ’n wakende oog te hou?
Carl het gesê Ilse was van kleins af emosioneel ongebalanseer. Wat met haar en Ernst gebeur het, kon haar toestand vererger het, in so ’n mate dat sy steeds ’n grief teen Ernst koester. Teen Barbara ook. Maar veral teen hul kind ...
Rothea is nie seker wanneer sy en Dieter beplan om te trou nie. Maar sy voel aan Ilse hou nie van kinders nie. By die swembad was dit ook baie duidelik dat Albie op haar senuwees werk. Wanneer sy haar intrek as die nuwe mevrou Richter van Schloss Hoffnung neem, sal sy nie ’n lastige kleuter in die huis verwelkom nie; een wat raas en lawaai, stories wil hoor, met koek en koeldrank mors en haar irriteer nie; een met wie sy Dieter moet deel nie. Haar eie kinders eendag dalk. Maar nie ’n ander s’n nie. ’n Ander man s’n, ’n man wat haar veronreg en in die steek gelaat het. Is dit genoeg rede dat sy vroegtydig van Albie ontslae wil raak?
“Ek het uitdruklike bevele gelaat dat die glasdeur altyd gesluit moet wees,” sê Dieter skerp, “en dat Albie in geen omstandighede op die balkon toegelaat mag word tensy Rothea, Hanna, ek of iemand anders by is nie.”
“Herr Richter, ek is die skuldige een,” erken Hanna.
Olga Richter se kop draai van die een mens na die ander, asof sy nie in staat is om te verstaan wat aan die gang is nie. Maar die ander vier mense verstar ná Hanna se bekentenis. Rothea weet nie of haar vrees en agterdog ook by hulle opgekom het nie. Saam met hulle staar sy gespanne na die Duitse vrou, wat haar hande inmekaar wring en heel duidelik diep ontstig is.
“Jy?” Dieter se vraag het die skerpte van ’n sweepslag.
“Toe sy mamma vanmôre met die perd weg is, het die kleine vreeslik oor haar gehuil, mein Herr. Om hom te troos, het ek gesê ons sal ’n teepartytjie hou, met sy Grossmutter grootmoeder en Onkel Carl en Onkel Dieter as hy betyds terug is van die vergadering. Met koek, tee en koeldrank. Asseblief, ek was besig om tee te drink en ... en ek het geslaap ... nie gesien die deur is nie gesluit nie. Die Herr kan my maar wegjaag ...” Sy begin hygend huil, druk haar voorskoot teen haar gesig en vlug weg na haar kamer.
“Nee, dit was nie die arme Hanna se skuld nie, want sy het dit goed bedoel en sy was te besig om na die deur op te let,” sê Rothea. “Sal ek agterna gaan en haar gerusstel?”
Dan kan sy terselfdertyd die geleentheid kry om by Hanna uit te vind of Ilse vanoggend in Albie se kamer was, dink Rothea. Dalk terwyl sy by die stalle gewag het. Of miskien later, toe Ilse teruggekom het om Dieter en die honde te kom haal om na haar te gaan soek.
“Nee, bly,” keer Dieter. “Jy het self ’n onaangename ondervinding gehad en ek sal later met Hanna praat.”
“Gode sy dank dat Albie ongedeerd is,” sug Ilse, self bleek geskrik. “Hier kon vandag lelike drama plaasgevind het as ons ’n minuut te laat was.”
Rothea hou haar onderlangs dop. Goeie toneelspel? Of is die bleekheid nog as gevolg van haar woedebui in die kloof? Miskien omdat sy so styf teen haar verloofde op sy perd se rug gesit het, sonder dat Ilse iets daaraan kon doen?
“Ek dag die drama was dat Rothea van ’n perd afgeval en byna haar nek gebreek het,” merk Carl op. “Sy is nog springlewendig. Wat het gebeur? Was prins Valiant betyds op die toneel met sy wit perd en sy honde, om ’n dame in nood te hulp te snel?”
“Sy was halfpad terug huis toe, duskant die rantjie, toe ek en Dieter haar gekry het,” antwoord Ilse. “Sy het van Salamander afgeval, maar gelukkig in ’n sandkol.”
“So het ek afgelei. Salamander het netnou ruiterloos hier aangedraf gekom, skuimbevlek en met loshangende teuels. Ek wou inderhaas in my Ferrari spring en Rothea se lewenslange dankbaarheid gaan verdien, maar ek het geweet my bekwame ouboet sal die situasie goed onder beheer hê. Hy het klaarblyklik ook.”
“Is Salamander hier? Het hy self huis toe gekom?” wil Rothea weet.
“Ja. Hy weet waar sy kos en water is.”
Rothea spring op. “Ek wil hom gaan help.”
“Help?” Carl aarsel ’n oomblik. “Praat jy van die nekwond? Hans het kom sê. Toe maar, Hans sal hom roskam en versorg. Hy en sy seun weet meer van perde en honde en lammers af as ’n veearts.”
Rothea sien dat Dieter op ’n vreemde manier na haar kyk en sy kan raai wat hy dink. Dat sy ’n wreedaard is, dat sy diere mishandel ... met ’n karwats ’n perd se nek oopslaan ...
Rothea wil verduidelik wat werklik gebeur het, maar nou is nie die tyd nie, ook nie terwyl almal by is nie. Sy onthou Ilse is Dieter se verloofde, die meisie wat hy liefhet en met wie hy gaan trou. Sal hy vir haar dankie sê as sy sy aanstaande vrou swartsmeer en haar in ’n swak lig stel? Of sal Dieter glo sy vertel leuens en minder van haar dink?
“Wel, Rothea, nou kan jy perdry,” spot Carl. “Hulle sê ’n mens kan nie voor jy ’n slag goed afgeval het nie. Hoe het dit met die les gegaan?”
“Nie te goed nie.”
“Swak,” erken Ilse kamma verleë. “Die mislukking was aan my te wyte, want Rothea het nie genoeg vertroue in my gehad nie. Sy was heeltyd te bang vir die perd. Ek het haar probeer gerusstel dat Salamander ingebreek is en Dieter nie vir haar ’n wilde perd sou gegee het, wetende sy is onervare nie. Maar ek dink Rothea was steeds bang die sweetvos byt of skop haar.”
“Byt of skop?” Carl kyk ongelowig na Rothea. “Salamander? Hy is die sagmoedigste dier in die stalle.”
Rothea wens hulle wil oor ander dinge praat. Oor Albie. Probeer vasstel wie die glasdeur oopgemaak het.
“Rothea is ’n dorpsjapie, Carl,” verduidelik Ilse. “Sy het nie soos ek en jy en Dieter op ’n plaas grootgeword nie. Sy ken nie perde nie. Vir ’n oningewyde is ’n groot hings seker vreesinboesemend, met sy lang tande en skerp hoewe. Moenie vir Rothea lag omdat sy ’n karwats wou hê om haar teen so ’n monster te verdedig nie. Sy het kop verloor toe hy begin galop, dis al.”
Carl lyk steeds of hy sulke domheid nie kan begryp nie, selfs nie van ’n dorpsjapie nie. “Salamander is ’n lammetjie. Jy kon seker self dink as jy hom slaan, sal hy juis wild raak en op loop sit.”
“Wat is ’n monster? Was ist los? Wat is verkeerd?” vra Carl se ma pruttelrig. “Bitte, asseblief, sal iemand my sê waarvan almal praat? Is dit die kind, Albrecht?”
“’n Monster is ein muster,” verduidelik Carl. “Ek weet self ook nie was ist los nie, Mutti. Waaroor al die gepraat is nie. Ma sien self Rothea en Albie is springlewendig.”