Читать книгу Ettie Bierman Keur 8 - Ettie Bierman - Страница 5

Оглавление

2

Ernst het nie die waarde van geld geken nie. Ses maande voor die tyd al het hy vir Barbara die duurste en spoggerigste stootkarretjie gekoop wat hy kon kry: rooi en witgestreep met fraiings om die sonskerm. Die karretjie maak Rothea hartseer, tog geniet sy dit om Albie in die straat af te stoot. Dis asof sy ryk is ...

En Albie geniet die Saterdagoggend-uitstappies om kruideniersware te koop. Soos gewoonlik kry hy ’n suigstokkie by Herr Mentz van die supermark en ’n appel by tant Betta van die groentewinkel.

“Waarom lyk jy so bedruk, hartjie?” wil sy weet, terwyl sy ’n groot rooiwang uitsoek. “Het Ernst se mense weer gelol?”

Rothea knik en tant Betta sug gelate. “Jy kan nie die Grootrivier met ’n sif keer nie, meisie.” Sy hurk voor die stootkarretjie. “Dus gaan jy ’n regte Richter word, Albie, en ook eendag met ’n lang, slap kar rondry?”

“Dis nog glad nie ’n uitgemaakte saak dat ek gaan instem nie,” keer Rothea.

“Wat die ryk Richters wil hê, kry hulle.”

“Ek gaan Albie se goed inpak en padgee. Vlug ... Johannesburg toe. Ek kan altyd by ’n ander hotel werk kry.”

Tant Betta bedien ’n klant en kom dan terug na Rothea. “Ek hoop nie jy het regtig aan so ’n onsinnige plan gedink nie?”

Rothea is ernstig. “Ek het. Laas nag toe ek nie kon slaap nie, het ek aan alle moontlike uitweë gedink. Ek kan selfs tikster word, of sekretariële werk doen. Of in Pretoria gaan woon.”

“Hulle sal jou opspoor en so ’n dom ding sal water op die Richters se meul wees. Hulle sal sê jy is onverantwoordelik en nie bevoeg om ’n kind te versorg nie. Hoekom hom wegneem? As Albie kon kies, sou hy waarskynlik sê hy verkies Hoffnung se kasteel bo tant Betta se groentewinkel.”

“Aan wie se kant is tante?” verwyt Rothea.

“Albie s’n. Én jou kant. As jy weet hy het alles wat sy hart begeer, kan jy weer ’n normale jongmeisie wees, sorgvry en met geld om ’n slag weer vir jou ’n nuwe rok te koop. Onthou, hy ís immers ’n Richter, of dit wil of nie. Hy is geregtig om soos een te leef. Barbara sou nie wou hê haar kind moet swaarkry en gebrek ly nie. Sy het van mooi dinge gehou. En Albie aard na haar ...”

Rothea se gesig is somber terwyl sy die volgelaaide karretjie terugstoot woonstel toe. Albie se oë blink en sy wange lyk soos die appel wat hy present gekry het. Rothea kyk met teerheid na hom. Die gedagte om hom te verloor, is pynlik. Tog bly tant Betta se woorde by haar.

Sy pak die kruideniersware weg en maak Albie se gunstelingkos vir middagete. Slap skyfies en springmielies, en koeldrank met ’n lepelvol roomys daarin. Die kleuterskool se dieetkundige sou oor die voedsaamheid van die ete gefrons het, maar Rothea is lus om Albie te bederf. Dalk die laaste keer?

Sy raak al hoe meer gespanne hoe nader dit aan kwart oor vier raak. Sy het Albie se tas gepak, haar eie hare gewas en haar vleiendste rok aangetrek: ’n liggroen sonrok wat die groen in haar oë uitbring en haar hare ’n donkerder rooi maak. Die ry sproete oor haar neus is nou minder opvallend en haar vel sagter. Sy sit selfs grimering aan en trek hoëhaksandale aan.

Waarvoor? vra sy vir die spieël. Om Dieter te beïndruk? Hy stel in Albie belang, nie in haar nie. Sy kan gister se langbroek en verslete T-hemp aanhê, vir al wat hy sal omgee. Rothea weet al dié dinge en dat sy vir hom ’n struikelblok na sy einddoel is, ’n irritasie en ’n meulsteen waarvan hy ontslae wil raak. Tog, om vieruur borsel sy weer haar hare sodat hulle los oor haar skouers val en soek die parfuum wat Theo vir haar gegee het.

Albie het ook sy beste kerkklere aan en sy probeer hom skoon hou met ’n prenteboek en stories van die drie bere en Rooikappie.

“En toe vra sy vir Wolf: ‘Hoekom is Ouma se ore so groot?’” vertel Rothea met groot oë vol dramatisering. In die stil straat hoor sy ’n motordeur toeklap en haar stem weifel: “En toe ...”

“Wattoe?” por Albie haar aan.

“Anderdag vertel ek wattoe. Oom Dieter is hier om jou te kom haal en julle gaan lekker in die park speel.”

Vandag het Dieter nie weer ’n pak aan nie, maar ’n wit seilbroek en ’n hemp wat sy oë blou laat lyk. Rothea herken hom skaars agter die reuse-teddiebeer en bus wat hy vashou. Albie neem die speelgoed opgewonde toe hy hoor hulle is syne. Hy is doodtevrede toe sy oom hom aan die hand neem en deur toe stap.

Dieter draai verskonend na Rothea. “Ek is jammer jy het soveel moeite gedoen om jou reg te maak. Daar was skynbaar ’n misverstand. Die bedoeling is nie dat jy saamkom nie. Dis beter dat Albie geleidelik gewoond raak dat jy nie altyd by is nie.”

Rothea se wange word rooi. “Ek het my nie ... nie reggemaak nie,” stamel sy verleë. “Ek gaan uit. Ek het ’n ... ’n afspraak vanaand.”

Selfs in haar eie ore klink dit onoortuigend.

“Hoe laat bring jy Albie môre terug?” wil sy weet.

“Nie later as vieruur nie.”

Albie is ongeduldig toe Rothea hom te lank groet en te styf vashou. Hy wriemel los en draf vooruit die gang af.

“Geniet jou afspraak,” sê Dieter.

Toe hulle weg is, bel Rothea een van die meisies wat saam met haar ontvangsdame by die Augrabies-hotel is. Voor sy te terneergedruk raak en weer begin huil, moet sy liewer geselskap soek en gaan kuier.

“Haai,” groet sy. “Het jy iets aan die gang, Wanda?”

“Ja, duisende dinge! Of ... eintlik net één, maar die ding is so beeldskoon dat ek hom nie deur my vingers wil laat glip nie. En ek moet wraggies vanaand werk! Op ’n volmaan-Saterdagaand ... Kan jy dit glo? Ék kon nie, toe ou Hessler my bel en sê Marie is siek en ek moet inkom.”

“Wat makeer Marie?”

“Niks nie, raai ek. Sy het seker ook meer lus vir haar kêrel as vir werk. Ons sou gaan partytjie hou en gaan dans het. Ek het hare laat doen en alles. Ek is sommer lus en bedank!”

Rothea kyk deur die woonstel, waar Albie se doeke voor die venster hang en van sy speelgoed op die bank lê. Enigiets is beter as om die hele middag en aand alleen hier te sit. Sy moet besig bly, om haar gedagtes af te lei.

“Ek sal in jou plek gaan werk,” bied sy aan.

Wanda gee haar nie kans om van plan te verander nie. “Jy is ’n skatlam! As Gerhard dink wat ek hoop hy dink, kan jy my strooimeisie wees.”

Die naaste wat sý aan die kansel sal kom, dink Rothea. Op pad hotel toe maal die woorde van ’n ou volkspeleliedjie deur haar kop. Almal het maats, net ekke nie ... Of sal Theo haar weer kom opsoek wanneer Albie nie meer by haar is nie?

Rothea sorteer die hotelgaste se pos in die verskillende vakkies agter die ontvangtoonbank. Haar vingers klem om ’n kamersleutel wat sy aan die rak wou hang. Hoekom het sy netnou gedink “wanneer” Albie weg is? Hoekom nie “as” nie? Berus sy dan reeds in die wete dat sy hom gaan afgee? En, ás sy die stryd verloor, wíl sy Theo terughê? Barbara was nie erg oor hom nie, onthou sy. Haar suster het haar destyds al gewaarsku Theo het nie genoeg ruggraat nie en syne is ’n mooiweerliefde. Ernst was te gaaf om te kritiseer, tog het hy ook gepraat van ’n ander ou aan wie hy haar wil voorstel. Hulle het Theo van Wyk beter opgesom as sy.

Rothea vul die hotelregister in vir twee oorsese toeriste wat die valle kom besigtig. Terwyl sy skryf, skuif ’n gesig tussen haar en die pen en die bladsye in. Donker hare wat soos ’n skoolseun s’n vooroor oor sy voorkop val. Blougrys oë en ’n vierkantige ken met ’n effense kuiltjie in wanneer hy glimlag. Soos toe hy gesê het: “Nie ’n tipiese voorbeeld van ’n gevestigde oujongnooi nie ...”

“Nee, ek wil nie!”

“Pardon?” vra die een Amerikaner. “My address?”

Rothea skud haar kop selfbewus en gaan aan met skryf. Is dit wat eensaamheid aan ’n mens doen – dat jy naderhand hardop met jouself begin praat? In teenstelling met Dieter Richter is Theo so opwindend soos gister se weervoorspelling, dink sy; sy wil hom nie terughê nie. Sy kan nie glo dat sy dit eens op ’n tyd oorweeg het om met om te trou nie. Maar wat help dit om te bespiegel of sy Dieter of Theo verkies? Nie een van die twee wil háár hê nie.

En wat help dit om “nogal aantreklik” te wees?

Rothea is moeg en tam toe sy laat die aand terugstap huis toe. Sy is nie lus om haar te haas nie, toe sy in die gang kom en haar telefoon hoor lui.

“Hardloop!” roep tant Malie, die buurvrou, uit toe sy verbykom. “Jou foon het van sesuur af aanmekaar gelui. Dit moet dringend wees.”

Albie! dink Rothea dadelik. Sy kan nie haar sleutel raakvat om die voordeur oop te sluit nie. Iets het met Albie gebeur. Hy het weggeraak. Of hy is siek.

“Hotel König hier,” sê ’n manstem. “Bly asseblief aan vir meneer Richter.”

Dit ís Albie, besef Rothea paniekbevange.

“Goeienaand, Rothea?”

Ondanks haar bekommernis gaan ’n tintelende gevoel deur Rothea by die aanhoor van die warm, diep stem.

“Wat is verkeerd?” wil sy weet.

“Luister self ...” Dieter se stem vervaag toe hy die gehoorbuis wegdraai. In die plek daarvan klink agtergrondgeluide wat aanvanklik vir Rothea onbekend is. Tot sy die geluide as gille en skreeue herken. Onmiskenbaar dié van Albie.

“Wat makeer hom?” vra sy ontsteld.

Dieter hoor haar vraag vaagweg, tussen die lawaai deur. “Makeer hom? ’n Akute aanval van bedorwenheid, dis al. Ek het nog nooit tevore ’n kind met so ’n humeur teëgekom nie. Hoekom het jy hom nie van kleins af geleer om sy humeur te beteuel nie?”

“Albie is nie humeurig of bederf nie,” verdedig Rothea hom. “Hy is nog ’n baba. Hy is in ’n vreemde omgewing met vreemde mense en hy is bang.”

“Ek kan niks hoor wat jy sê nie,” sê Dieter ergerlik. “As ek jou kom haal, sal jy oorkom?”

“Natuurlik.”

Rothea se hart wil breek toe sy haar indink hoe die arme kleintjie voel. Sy moes geweet het hy is nog te jonk om ’n nag uit te slaap en moes Dieter gewaarsku het. Maar hy sou nie na haar geluister het nie. Sy pak haastig ’n tas met die noodsaaklikste, sluit haar woonstel en draf die trap af om by die ingang te wag. ’n Minuut later hou die Mercedes stil.

“Jy was slim, Rothea Beukes,” sê Dieter grimmig. “Jy het die kind baie afhanklik van jou grootgemaak. Of het jy hom voorgesê om so ’n kabaal op te skop sodat ek sal skrik en hom terugbring?” Hy laai Rothea se tas in en trek weg.

“Ek het gehoop Albie slaap teen dié tyd lankal.”

“Slaap ...?” Dieter laat sy sin onvoltooid en kyk wrewelrig na haar. “Ek het verskeie kere gebel. Jy was tot baie laat uit gewees. Het iets gebeur?”

Maak dit aan hom saak? wonder Rothea. Of is die enigste rede hoekom hy omgee, omdat sy nie beskikbaar was toe hy haar nodig gehad het nie? Rothea wil sê sy is haar eie baas en kan uitbly so laat sy wil, sonder dat dit iets met om te doene het. Maar sy waag dit nie. Dieter Richter se gesig lyk soos ’n donderwolk en sy is bang vir die hael en blitse.

“Ek het gewerk,” antwoord sy.

Dieter se wenkbroue lig ongelowig.

“Werk? Ek dag jy het gesê jy het ’n afspraak.”

“Ek was by die hotel. Een van die ontvangdames was siek en ’n ander een het reeds reëlings getref om uit te gaan, toe bied ek aan om haar plek in te neem.”

“Jy hoef nie soveel moeite met ingewikkelde verduideliking te doen nie,” antwoord Dieter koelweg. “Jy skuld my niks nie.”

Rothea trek haar skouers agteroor en haar ken lig uitdagend. “Goed, my kêrel se motor het op ’n verlate pad sonder brandstof gaan staan. Is jy nou tevrede?”

Dieter brom iets in Duits wat Rothea nie verstaan nie. Hy ignoreer haar en konsentreer op die pad.

Sy suite is op die derde verdieping van die hotel. Toe die hyser se deure oopskuif, hoor Rothea Albie se histeriese gehuil.

Die kinderkamer loop uit die sitkamer. Albie staan regop op sy deurmekaar beddegoed, sy twee vuisies desperaat om die tralies van sy bababed geklem en sy gesig opgehewe van al die gehuil. Langs hom lê die nuwe teddiebeer en bus, ’n karretjie en ’n wollerige hasie. En op die bedkassie staan ’n onaangeraakte koeldrank, vrugtesap en melk – alles bewyse van vrugtelose pogings om hom te paai. ’n Ouerige vrou in ’n oorjas buk by die koppenent met ’n sjokolade wat sy na Albie uithou. Nie eers die helderpers blinkpapier lok hom nie. Hy stoot die lekkergoed weg, stamp sy voete en huil harder.

Toe sy Rothea in die deur opmerk, kyk die vrou op. Sy self lyk naby aan huil.

“Fräulein Beukes? Ek is Hanna. Ek het alles probeer. Alles wat ek kon. Niks werk nie. Die arme Schätzen hou aan na jou roep ...”

“Albie!” roep Rothea saggies uit. “Wat is dit, my liefie?”

Die gegil hou in die middel van ’n hoë noot op. Albie se oorlogsbui verander soos kwiksilwer. Sy gesig straal en sy trane is iets van die verlede.

“Mamma!” lag hy en steek sy arms na Rothea uit.

Hanna slaan haar hande in ongeloof saam. “Fräulein kan met die kind toor!”

Dieter is minder beïndruk. “Hy is verwen en het die ferm hand van ’n man nodig.”

By die aanhoor van sy stem, dreig ’n nuwe tirade om Dieter verkeerd te bewys. Albie gluur hom vyandig aan en verberg sy gesig teen Rothea se arm. Toe sy hom optel, klou hy haar wanhopig vas, met ’n greep om Rothea se nek wat dreig om haar te versmoor.

Rothea onderdruk ’n grinnik. Sy ruil Albie se luiers om terwyl sy sussend met hom praat, soos Barbara altyd gedoen het toe hy in sy moeilike tandekry-stadium was. Sy knip die tas oop om as verdere troos Albie se verrinneweerde eenoog-teddiebeer vir hom te gee. Toe gaan sy in die leunstoel langs sy bed sit, trek ’n kombers om hom en neurie ’n slaapliedjie wat sy by haar suster geleer het. Albie is uitgeput, maar tevrede noudat Rothea by hom is. Die greep om haar nek verslap. Binne ’n paar minute val sy oë toe, sy lang wimpers halfmane oor sy koorsige, rooi wange. Rothea wieg hom nog ’n rukkie saggies heen en weer; toe lê sy hom in die bed neer.

“Hy sal nou slaap,” fluister sy vir Hanna.

“Dis goed Fräulein het sy speelgoed gebring. Wanneer hy wakker word, sal hy tevrede wees as hy ’n bekende besitting langs hom sien.”

“Ek veronderstel jy het vanmiddag vergeet om van Albie se speelgoed saam te stuur,” merk Dieter op. Die kritiek is duidelik in sy stem.

“Jy het vir hom ’n nuwe teddiebeer en ’n bus gekoop wat mooier is as sy ou goed. Ek het gedink Albie sal daarmee tevrede wees. En ... En nóg ’n tasvol goed sou te veel gewees het om te dra.”

Dieter knik en stap uit. Rothea weet nie of dit ja of tot siens beteken nie. Sy het nou haar werk gedoen en moet seker so gou moontlik padgee. Sy laat die tas met speelgoed en ekstra klere vir Albie, ingeval ’n nuwe krisis opduik.

“Kom sit,” nooi Dieter toe Rothea aarselend deur die sitkamer stap. Hy wys na die rusbank en kom oorkant haar in een van die goudkleurige rooshoutstoele sit. “Ek wil net gou praat, Rothea.”

Praat of rusie maak? Rothea sê niks nie, sit net gespanne met haar hande in haar skoot saamgeklem.

“Het jy Albie voorberei dat hy ’n nag weg van jou en julle woonstel gaan deurbring?” wil Dieter weet.

“Ja. Ja, ek het. Ek het gesê hy gaan lekker saam met sy oom Dieter in die park speel en ’n nag saam met hom ... vakansie hou. Ek ... ek het verduidelik wat vakansie is,” voeg sy verdedigend by.

“Was hy al ooit met vakansie? Weg van die huis? Weg van jou af?”

Die vrae kom soos ’n salvo geweerskote en dien nie om Rothea meer om haar gemak te stel nie.

“Ek wou Ai-Ais toe gaan, selfs dalk Etosha of Namakwaland toe, maar ek het uitgestel tot Albie groter is en die vakansie saam met my kon geniet.”

Dieter is ongeduldig. “Dis nie wat ek gevra het nie. Ek probeer vasstel hoekom Albie ons, die kamers langsaan en die hele hotel vanaand op hol gehad het. Gaan hy bedags by die kleuterskool ook so te kere?”

“Hy het die eerste dag ’n bietjie gehuil, maar daarna was hy heeltemal tevrede.”

“Omdat hy weet jy kom hom aan die einde van die dag haal.” Dieter stap rusteloos op en af, gaan staan dan voor die venster en uitkyk. “Hoe lank het Albie geneem om aan te pas ná sy ouers se dood?”

“Hy het nog nie te volle aangepas nie, al is dit al ses maande,” erken Rothea. “Hy vra steeds soms na sy ma en pa en huil oor hulle.”

“Wanneer hy vra, hoe verduidelik jy aan hom van sy ouers?”

Rothea is self nog nie aan die gemis gewoond nie en is ’n paar tellings stil, terwyl sy die hartseer onderdruk.

“Ek het by die biblioteek boeke oor kindersielkunde uitgeneem, maar ek is bevrees ek weet steeds nie hoe om die situasie te hanteer en hoe om aan Albie te verduidelik waar sy ma en pa is nie. Wanneer hy na hulle vra, probeer ek ’n direkte antwoord ontwyk. Ek speel ’n speletjie met hom of gee hom lekkergoed of iets om sy aandag af te trek. Hy is te jonk om van dood te verstaan en die gedagte sal hom bang maak.”

“Hy is ’n seun en op amper drie behoort hy meer selfvertroue te hê en nie soveel vrese nie. Hy is te veel ’n mamma-se-seuntjie.”

Rothea wil nie weer rusie maak nie en sluk die haastige antwoord terug wat sy wou gee.

“Soos ek erken het, is ek nie ’n kindersielkundige nie. Jy weet seker beter hoe om ’n jong seuntjie te hanteer.”

Dieter se mondhoeke lig. “Is jy sarkasties? Is dit ’n aanval? Of oorgawe?”

Geen man het die reg om ... om ... só te lyk wanneer hy glimlag nie, dink Rothea onthuts; só te glimlag en ’n mens van stryk te bring nie ... Sy kyk vinnig weg, af na haar hande, en veg teen die blos wat in haar gesig opstoot. Weet Dieter Richter watter uitwerking hy op meisies het? wonder sy en dink dan: Ja, waarskynlik. Hy het seker al genoeg nooiens in die verlede gehad wat dit vir hom gesê het.

Sy vind dat dit haar skielik weer aan Barbara en Ernst laat dink. Sy kan nie glo dat Ernst en Dieter broers was nie. Daar is wel ’n sterk ooreenkoms wat voorkoms betref, maar in geaardheid verskil hulle hemelsbreed. Ernst was ’n warm mens, sagmoedig en baie beskermend teenoor Barbara. Hoewel hy dit nie kon bekostig nie, kon hy nie genoeg geskenke vir Barbara gee nie. Toe sy seun gebore is, was hy die trotsste vader in die hele wêreld en het gereeld ’n middag by die werk afgeneem om by Albie te wees en met hom te speel.

Dis moeilik om sy broer in ’n soortgelyke rol voor te stel – dié van ’n teer en liefdevolle eggenoot en sentimentele pa. Rothea kan glo Dieter is ’n Don Juan onder die dames. Selfs dat hy dalk eendag met die mooiste en gesofistikeerdste van sy ritse nooiens sal trou. Maar help doeke was, vloere vryf en sy seuntjie in ’n stootkarretjie die straat af stoot? Nee, sy glo nie.

Rothea kan nie onthou waaroor hulle gepraat het en wat Dieter gevra het nie.

“Ekskuus?” vra sy.

“Daarom reken ek dit sal goed wees as jy môreoggend hier is wanneer Albie wakker word.”

“Ja, hy mag dalk weer huilerig wees. Naweke wanneer daar nie kleuterskool is nie, laat ek hom gewoonlik tot sewe-uur slaap. Om aan die veilige kant te wees, sal ek sorg dat ek môreoggend so teen halfsewe hier is.”

“Ek het bedoel jy slaap vannag hier.”

“Ek het nie slaapklere gebring nie.”

“Wat was dan in daardie yslike tas? Ek het aanvaar jy beplan om tot môreaand te bly.”

“Dis Albie se goed. Ek het nie gereken om te bly nie.”

Dieter beskou dit blykbaar nie as ’n probleem nie. “Wat jy nodig het, kan ek of Hanna vir jou leen.”

Rothea het haar eie woonstel nodig, en die sekuriteit van haar eie bed. Sy wil nie hier bly nie, want Dieter Richter laat haar ongemaklik voel. Haar hart gee allerhande wilde bokspringe wanneer hy vir haar glimlag en dis veiliger om hom liewer te vermy.

“Jou kamer is reggemaak en ek het nie lus om tyd en brandstof te mors deur op en af taxi te speel nie. Ek het gedink ons kan môre by die Rosetuin na die langste laning palms in die wêreld gaan kyk en op die eiland middagete geniet. Albie sal dit geniet.”

Sy ook, dink Rothea. Sy skud haar kop.

“Dankie, liewer nie.”

“Hoekom nie?”

“Ek het my eie lewe om te lei en ... en ek het môre dinge om te doen.”

“Dinge om te doen ...” na-aap Dieter haar spottend. “Jy het my laat verstaan jou hele lewe wentel om Albie. Is dit nie so nie?”

“Dit was. Jy het my egter laat verstaan dis tyd dat ek ’n lewe van my eie opbou. Dit is presies wat ek van môre af gaan begin doen.”

“Ek wens dit was so eenvoudig.” Dieter bestel vir hulle koffie en kom dan weer oorkant Rothea sit. “Vroeër vanaand in die motor het ek gesê Albie is baie afhanklik van jou. Die ontvangs wat jy van hom gekry het toe jy by die hotel aangekom het, het my korrek bewys. Dis duidelik dat hy ’n tydperk van aanpassing nodig sal hê voor hy van jou geskei kan word. Ek is bevrees ek sal in die begin jou samewerking nodig hê.”

Soos toe Albie van al die sjokolade naar geword het, begin Rothea die situasie geniet. Die selfversekerde, outokratiese Dieter Richter wraggies besig om hulp te vra? Sy het nie gedink so ’n uur sal aanbreek nie.

“Samewerking?” vra sy oënskynlik verbaas. “Ek dag jy tel die sekondes om Albie onder my oorbeskermende invloed weg te kry. Hy is mos ’n mamma-se-seuntjie. Hoekom wil jy my teenwoordigheid môre hê? Sal ek nie jou manlike invloed vertroebel nie?”

“Ek sê steeds jy maak ’n meisiekind van Albie. Maar ek was nie bewus watter rol jy in sy lewe speel en hoeveel hy op jou vertrou nie. Jy het gesorg dat jy onmisbaar vir hom is.”

“My opregte verskoning,” sê Rothea vermakerig. “Ek besef nou ek moes Albie mishandel en laat hongerly het, om jou taak te vergemaklik. Ek moes hom geslaan en nie liefgehad het nie.”

Dieter het kalm probeer bly, maar Dorothea Beukes besit die gawe om hom kwaad te maak. “Het iemand al ooit vir jou gesê dat jy besonder irriterend en uitputtend is wanneer jy jou probeer slim hou? Of aangebied om jou oor sy skoot te trek en jóú die pak slae te gee wat jy verdien?”

Rothea kyk op na hom. Wat sy op Dieter se gesig lees, laat haar dieper op die bank terugskuif.

“Jy sal nie ... Jy sal dit nie waag nie!”

“O ja ...?” Dieter steek sy hande in sy broeksakke, asof hy hulle nie vertrou om die versoeking te weerstaan nie. “Dis wat ’n stroomop rooikop soos jy nodig het.”

Rothea het van die koffie vergeet wat Dieter bestel het en is dankbaar oor die onderbreking toe ’n kelner met die skinkbord binnekom.

“Jy speel mos so graag ma,” merk Dieter op. “Sal jy skink?”

Rothea bly onrustig, tot hy met sy koppie weer by die venster gaan staan, ’n veilige afstand van haar af. Sy onthou wat Ernst eendag gesê het: “Ek bejammer die meisie wat met Dieter trou. Hy is ’n moeilike mens om mee saam te leef. Maar dalk sal Mutti vir haar gunstelingseun ’n vrou vind wat so dolverlief op haar man is, dat sy nie sal omgee as hy haar soos ’n vloerlap behandel nie. ’n Duitse vrou, natuurlik ...”

Dieter sit sy koppie met ’n harde klikgeluid neer.

“Dis laat en ek wil gaan slaap. Maar eers moet ons klaar oor môre praat. Ek hoef nie heldersiende te wees om te weet jy hou nie van my nie. Korrek?”

Rothea loer na hom oor haar koppie se rand. “Korrek.”

“Maar om Albie se ontwil sal jy ’n poging moet aanwend om met my oor die weg te kom. Kinders het ’n fyn aanvoeling vir atmosfeer en dit sal tot sy onsekerheid bydra as ons twee gedurig haaks is. Dus – ter wille van Albie – sien jy kans om op die oog af voor te gee om vriende te wees?”

“Ja.” Om dubbel seker te maak, herhaal Rothea sy presiese woorde: “Op die oog af, voor te gee ...”

“Ons vorder,” sê Dieter spottend. “Goed, oor een punt het ons darem nou uitsluitsel. Punt nommer twee: Stem jy in om vannag hier oor te bly en môre die dag saam met ons deur te bring?”

Rothea weet sy kan nie weier nie. “Ja,” stem sy in. “Om Albie se onthalwe.”

“Natuurlik,” glimlag Dieter wrang. “Daaroor het ons ook eenstemmigheid. Nie een van ons twee sal dink dis om jou of my onthalwe nie.”

Ettie Bierman Keur 8

Подняться наверх