Читать книгу Ettie Bierman Keur 8 - Ettie Bierman - Страница 9

Оглавление

6

“Miskien moet jy in die toekoms sorg dat jy of Hanna altyd by Albie is, Rothea,” raai Carl haar aan. “’n Ongeluk gebeur so maklik.”

“Ek was die heeltyd by, net ’n paar minute gou kombuis toe.”

“Ilse het nie die reg gehad om jou te hiet en gebied nie. Jy is hier ter wille van Albie, nie om vir haar koffie aan te dra nie.”

Rothea is lank stil, terwyl sy onthou met watter bewondering Ilse in Dieter se gesig opgekyk het, hoe vertroulik sy haar arm deur Dieter s’n gesteek het en hoe besitlik sy teenoor hom was.

“Ilse het meer reg om hier te wees as ek. Ek neem aan sy is die volgende mevrou Richter van Schloss Hoffnung,” merk sy op.

“Hul verlowing is nog nie amptelik nie.” Carl hou ’n wysvinger oor sy mond en trek groot oë. “En moenie dat Dieter uitvind ek het hom en Ilse met jou bespreek nie. Hy slag my af, bietjie vir bietjie, stukkie vir stukkie. Jy is nie veronderstel om van enige trouplanne te weet nie. Selfs Moeder weet nog nie. Moet asseblief niks teenoor haar noem nie. Enige verwysing na ’n huwelik herinner haar aan Ernst, dan is sy opnuut verbitterd. Moenie met haar oor Dieter se troue praat nie.”

“Ek sal nie. Jou ma wil in alle geval niks met my te doene hê of met my praat nie. Is Ilse Duitssprekend? Haar Afrikaans is so goed ...”

Carl lag meewarig. “Sy is Duits. Dink jy Schloss Hoffnung se baas sou enigsins in ’n meisie belangstel wat nie van suiwer Germaanse afkoms is nie?”

“Seker nie.”

“Gewis nie,” korrigeer Carl. “Jy kan vir jou ook ’n mooi bikini koop en jou hare bleik. Dit sal niks help nie. Jou van is nie Bauer nie.”

“Dieter het gesê hy gaan Albie wettiglik aanneem en sy erfgenaam maak. Sal Ilse daarmee tevrede wees? Wat as hulle self kinders het? Dalk ook ’n seun. Wat word dan van Albie?”

Carl deel nie Rothea se bekommernis nie. “Dan is daar twee Dieter Albrechts. En daar is genoeg geld vir albei om eendag ruim te leef. Vir tien seuns om die befaamde Richter-naam en -skatte te beërwe.”

“En jy?” Rothea kyk ondersoekend na die bruingebrande jong man langs haar, bang sy is dalk te persoonlik. Maar ter wille van Albie moet sy weet. “Vergewe my dat ek vra, Carl, maar wat van jou? Jy is immers die derde seun. Gee jy nie om as Ernst of Dieter se afstammelinge die familieplaas erf nie?”

Carl strek sy bene lank voor hom uit en kyk na die huis, die tuin en in die verte die uitgestrekte skaapkampe wat tot oor die horison strek.

“Sal ek jou by ’n geheim inlaat, Delila? Ek sal bly wees. Dankbaar. Verlig. Ek het genoeg geld van my pa geërf om ’n leeftyd te hou en ek is te lief vir diere om ’n karakoelboer te wees. Ek help graag wanneer die lammers aankom, of as ’n ooi limfklierverswering het, vrotpootjie, lintwurm of wat ook al. Maar om ’n onskuldige lammetjie van skaars vier-en-twintig uur keelaf te sny, net om die vel te kry? Vir ’n ryk ou tante wat by haar vriendinne met haar karakoelpels wil spog? Nee dankie, dan gaan vee ek eerder skoorstene.”

“Ernst het na jou geaard,” sê Rothea sag. “Hy was ook nie ’n boer nie. Mielies of koring, ja, miskien, maar nie karakoelpelse nie. Hy en Barbara het beter by mekaar gepas as wat hy en Ilse sou.”

“Ja. En Ilse sal gelukkiger by Dieter wees as wat sy en Ernst sou gewees het. Dalk het alles ten goede ontwikkel. Ek dink Ilse was van die begin af op Dieter verlief, sonder dat sy dit wou erken.”

“En Dieter?” huiwer Rothea. “Is hy dalk net jammer vir Ilse? Voel hy miskien verplig om Ernst se plek in te neem?”

“Wat probeer jy sê?” vra Carl reguit. “Dat Dieter Ilse nie liefhet nie? Nee, daar is jy baie verkeerd, meisie. Dieter het nog nooit na ’n ander nooi gekyk nie. Dit was altyd net Ilse, selfs toe sy aan Ernst verloof was. Hoekom vis jy so uit?” skerts hy. “Maak dit vir jou saak dat Dieter Ilse se uitset help koop?”

Rothea kan Carl nie in die oë kyk nie en stry teen die blos wat in haar gesig opstoot.

“Natuurlik nie. Ek en Dieter het van die begin af gebots. Ek hou nie van hom nie en hy kan trou met wie hy wil.”

“’n Mens hoef nie van ’n man te hou om op hom verlief te raak nie. Toe ek jou uit die swembad gehaal het en jy bang en deurmekaar was, hoekom het jy eerste na Dieter geroep?”

“Het ek? Is nie,” stry Rothea. “Jy het verkeerd gehoor.”

Carl kyk met vernoude oë na Rothea, na haar rooi wange en neergeslane wimpers. Hoekom lyk sy selfbewus en ontken sy dit so hewig? Is daar iets tussen haar en sy broer aan die gang?

“Ek wil nie nou oor Dieter praat nie,” sê Rothea.

“Oor wie dan? Ek en jy?” terg Carl. Die glimlag strek egter net om sy mond en sy oë bly behoedsaam.

“Nee. Oor ... Ilse. Dis belangrik. Ek moet weet. Ons kan nie swyg en dit as ... as ’n ongeluk afmaak nie. Soos jy weet, het sy my kombuis toe gestuur. Toe jy by die swembad kom, waar was sy? Wat het sy gedoen?”

“Sy het by die tafel gestaan.”

“Daar waar die bal gelê het?” vra Rothea gespanne.

Carl skud sy kop. “Moenie probleme skep wat miskien nie bestaan nie. Wat help dit om te spekuleer en vrae te vra? Ilse was as kind al emosioneel en soms ’n bietjie ongebalanseerd. Maar sy is ’n goeie mens en sy was baie erg oor Ernst.”

“Maar Albie is onskuldig en weerloos. En hy is tog Ernst se kind ook. Hoe kan Ilse ...”

Carl leun vooroor en sit albei sy hande om Rothea s’n. “In Duits het ons ’n spreekwoord: ‘Moenie moeilikheid duskant halfpad ontmoet nie.’ Jy is Barbara se suster en kyk hoe vriendelik was Ilse teenoor jou. Hoekom sou sy Albie uitsonder?”

Ilse is Carl se toekomstige skoonsuster en die Bauers is jarelange vriende van die Richters. Daarom sê Rothea nie hardop wat in haar gemoed omgaan nie. Vriendelik? wonder sy. Dit was nie opreg nie. Toe sy en Ilse alleen was, het Ilse duidelik laat blyk dat sy steeds verbitterd is. Eers toe Carl en Dieter bygekom het, het Ilse voorgegee dat sy gaaf en vriendelik is. Dit was vals, waarskynlik net om Dieter te beïndruk en te wys hoe grootmoedig en dapper sy is.

“Die wind het die bal in die water gewaai,” sê Carl ferm. “Dis wat gebeur het en moenie verder daaroor tob nie. Ilse sal Albie geleidelik aanvaar. Hy is so ’n dierbare kleinding dat sy nie anders sal kan as om hom lief te kry nie.”

“Maar ...”

Carl druk ’n soentjie op haar palm, dan op haar gewrig. “Geen gemaar nie. Laat Albie môre van die swembad wegbly en met sy driewiel speel. Keer hom net by die trappe. Die klippe is skerp en kan ’n kleintjie lelik sny as hy daarop val.”

“Ek weet en ek sal op my hoede wees.” Rothea trek nie haar hand uit Carl s’n nie. In ’n stormsee is hy op die oomblik haar enigste hawe. Ook haar troos en ’n bron van raad. “Carl, ek het nog ’n probleem ...” begin sy.

“Vra maar ... My skouers is breed en dis nie lam-seisoen nie. Die pseudo-boer het baie tyd om prins Valiant te speel teenoor dames in nood. Wat pla jou?”

“Jou ma. Nee, dis nie sy wat my pla nie,” is Rothea haastig om hom te verseker. “Dis my salaris wat ek tot dusver nie ten volle verdien nie. Dieter het gevra ek moet saans vir haar lees. Maar hoe kan ek? Jou ma vermy my en sy kan my nie voor haar oë verdra nie.”

Carl ontken dit nie. Hy kou ingedagte aan ’n grasstingel. “Ek is self ook voel-voel in die donker. As ek egter moet raai hoe jy die kloof kan oorbrug, sou ek sê jy moet begin by Ernst. Praat met my moeder oor hom. Al verseg sy om dit te erken, verlang sy na Ernst en sy moenie haar hartseer opkrop nie. Gesels met haar oor die troue, oor Barbara en Albie, sodat dit vir haar as ’n uitlaatklep kan dien.”

Rothea stem nie met die terapie saam nie. “Moet ek nie ’n ander aanknopingspunt soek nie?”

“Nee. Wanneer ’n mens in ’n motorongeluk was, is die beste raad om oor die skok te kom om so gou moontlik weer in ’n motor te ry. Met my ma is dit dieselfde. Praat veral met haar oor die geld ook, sê vir haar Ernst het die geld nodiger as sy gehad en sy het dit nog nie veel gemis nie.”

“Geld?”

“Geld,” herhaal Carl. Hy lyk skepties. “Hoe klink jy so verbaas? Jy weet mos daarvan.”

“Ek weet niks van enige geld nie. Watse geld?”

“Ek wil dit nie bespreek nie. Ernst was immers my broer. My tweede ouboet, vir wie ek tot daardie dag groot agting gehad het.”

Rothea verstaan nie. “Tot watter dag? Tot wat gebeur het?”

“Tot die geld uit die brandkluis verdwyn het en my moeder as gevolg van die skok haar eerste beroerte-aanval gehad het,” antwoord Carl kortaf. “Nou weet jy. Sal ons gaan swem?”

Carl staan op en begin aanstap, maar Rothea keer. “Ek weet nog niks nie. Watter brandkluis?”

“Die een in Dieter se studeerkamer, waartoe net ek, hy, Ernst en my ma toegang gehad het.”

“Asseblief, Carl, dis vir my pynlik om alles druppelgewys uit jou te trek. Wat presies het gebeur?”

Die eerste keer toon Carl ook emosie. Hy duik in die swembad, swem oor na die ander kant en skud sy hare uit sy oë. “Het Barbara haar suster nie ingelig nie? Nie met haar diamantring gespot, haar duur uitset en weelderige wittebrood nie?”

Rothea het alle lus om te swem verloor. Sy loop oor die plaveisel na waar Carl teen die wal hang. “Barbara het nie ’n diamant-verloofring gehad nie. Net ’n eenvoudige trouring wat nie duur gekos het nie. Die paar lakens, teegoedlappe en tafeldoeke wat sy gehad het, het sy self gekoop. En daar was geen wittebrood nie.”

“Wat het Ernst dan met die geld gedoen? ’n Huis gekoop? ’n Nuwe motor?”

“Nee. Hulle het aanvanklik in ’n woonstel gewoon om geld bymekaar te maak vir ’n huis wat baie basies sou wees: drie slaapkamers, een badkamer, geen gesinskamer nie. Met ’n groot verband. En die motor waarin ... waarin hulle verongeluk het, was dieselfde een wat Ernst van die begin af gehad het. Die rooi Audi. Hul meubels was goedkoop, op huurkoop gekoop. Ek het die paaiemente help betaal wanneer Ernst platsak was. Ek kla nie, ek noem dit net as ’n bewys dat Ernst brandarm was. Hul boedel was bankrot. Ek het ook ’n motor gehad wat ek en Barbara saam afbetaal het, maar ek moes dit verkoop om hul skuld te betaal. Wat praat jy dus van ’n diefstal?” Rothea is omgekrap en moet eers haar trane wegvee voor sy kan voortgaan. “En van ... van geld wat Ernst geneem het? Hy het nie. Hy sou nie. En wat het daarvan geword?”

“Dis mos wat ek ook vra. Weet jy hoeveel geld was betrokke, skoonsus? Nie vyftig of honderd rand nie. Duisende. Dit was in die brandkluis toegesluit en die nag toe Ernst weg is, het die geld verdwyn. As dit nie Ernst was nie, wie dan?”

“Ek weet nie.” Rothea laat haar gesig in haar hande sak en vryf oor haar oë. “Ek weet nie ...”

“Het Ernst nie ’n ander nooi gehad vir wie hy duur geskenke gekoop het nie? Gedobbel? Die perde of die aandelemark?”

“Nie waarvan ek weet nie ...”

Carl is boetvaardig en vol berou. “Ek het gedink Dieter sou jou daarvan vertel het. Ek is jammer dat ek die een moes wees. Ons moes nie oor dié dinge gepraat het nie, nooientjie. Wat help retrospeksie? Dit maak net ou wonde oop waaroor die rowe al gegroei het. Dis halftwee. Aangesien die vreeslik Deutsche Mädchen hier is, sal daar waarskynlik geposjeerde gefileerde haring, ganslewer en aspersiepunte met aartappels vir middagete wees. Dis ’n mond- en ’n spyskaartvol. ’n Maagvol ook. Wil jy en Albie nie kom swem en ’n eetlus opbou nie?”

Al wat Rothea wil doen, is om alleen by Albie te wees.

“Ek het ’n groot ontbyt gehad, dankie. Ek wil nie middagete hê nie en Albie kan later eet.” Sy roep Albie, wikkel hom weer in die handdoek toe en stap met hom in haar arms weg.

Die tuin is ’n lushof. Uitgestrekte grasperke omring deur kleurvolle blombeddings, palms, struike en jakarandabome, waarin massas bougainvillea en gouereën deurmekaar rank. ’n Swerm vinke kwetter in ’n wilgerboom en in die lug hang die geur van magnolias. ’n Tropiese paradys waarin ’n visdam en spuitfontein soos ’n turkoois amasonietsteen glinster.

En in hierdie prag en weelde gaan Albie van nou af grootword, dink sy vol weemoed en met ’n tikkie afguns. Sy gaan hom meer mis as hy vir haar.

Hoe kon Ernst Schloss Hoffnung verruil vir die onaantreklike, armoedige huisie waarin hy en Barbara gewoon het? Sy weet wat die antwoord is. Omdat hy Barbara liewer gehad het as aardse weelde. Daarom weet sy ook Ernst was onskuldig. Hy sou nie die geld uit die brandkluis geneem het nie. Iewers is daar ’n misverstand. Is daar iemand wat Ernst in ’n swak lig wou stel? peins sy. Ilse, uit wraak omdat Ernst ’n ander meisie bo haar verkies het? Maar Ilse het nie tot die kluis toegang gehad nie ...

“Visse kyk.” Albie wikkel hom los en hardloop saam met Piet om na die spuitfontein te kyk.

Rothea se senuwees is gedaan. “Stadig! Moenie inval nie, Albie!”

Sy gaan sit op ’n klip tussen die varings, katstert en papirusbiesies.

“Liefie, toe Mamma jou en tannie Ilse alleen gelos het, het sy met die bal gespeel?”

“Piet bal speel?”

“Nee, nie Piet nie. Tannie Ilse. Daar by die swembad. Het sy jou bal in die swembad gegooi?”

Rothea bly geduldig en probeer op verskillende maniere bepaal of Albie van die bal onthou en wie dit in die swembad gegooi het. Maar hy weet nie. Hy het nie gesien nie en hy wil nie oor die swembad praat nie, want Mamma het nie gou gekom nie. Sy onderlip bewe en nie eers sy hondjie kan hom troos nie. Hy kom klim op Rothea se skoot en wys haar hoe al die water by sy keel ingegaan het.

Rothea stry teen haar instink om hom vas te hou, want dis deel van die proses om haar geleidelik te onttrek, soos sy ingestem en Dieter belowe het. Die versoeking is groot om Albie te liefkoos, om hom afhankliker van haar as van Hanna te maak en hom aan te moedig om te huil wanneer sy nie naby is nie. Dit sal so maklik wees, en as troos vir haarself dien. Maar wie gaan op die ou end daaronder ly? Albie. En wat sal dit help? Sy sal hom steeds moet afstaan. Hoe gouer sy haar voorberei en minder tyd saam met hom deurbring, hoe beter.

“Jy moet gaan eet. Tanna soek jou dalk al,” sê sy dapper.

Rothea stap met hom aan die hand huis toe, waar hulle Hanna op die systoep aantref, by ’n vrolike, gedekte tafel met ’n visgereg in die vorm van ’n lokomotief. Rosyntjies en olywe vorm die wiele en Hanna het spookasem gemaak om die rook uit die enjin voor te stel.

“Sien, Albie, dis ’n trein. Sê dankie vir Tanna en eet alles op.”

“Tankie, Tanna,” sê Albie gehoorsaam. Maar hy eis dat Rothea langs hom kom sit en die skoorsteen eet.

“Nee, Mamma wil nie eet nie. Ek moet nou eers loop. As jy soet bly en al jou kos opeet, kom ek nou-nou terug.”

“Saamgaan, ’blief?” soebat hy.

“Nee, jy kan nie saamgaan nie. Jy moet by Tanna bly.”

Albie gooi sy lepel neer. “Lelike trein! Wil hom nie hê nie!”

“Nee, skatjie, jý is nou lelik,” betig Rothea hom en tel die lepel op. “Kom, wees nou ’n soet seuntjie ...”

Albie wil nie ’n soet seuntjie wees nie. Hy wil nie die lepel neem nie, wil nie alleen bly nie. “Lelik!” skree hy en probeer sy bord op die vloer omkeer.

Rothea red die duur porseleinbord net betyds. Sy lig ’n dreigende wysvinger. “Jy is stout. Mamma het jou nie so geleer nie.”

Albie begin skril huil. “Nie tout nie!”

“Jy ís stout.” Rothea skep ’n lepel vis en hou dit voor hom. “Proe net hoe lekker proe ’n trein ...”

So maklik is dit egter nie om ’n oormoeg en oorspanne kleuter in ’n toegeeflike luim te kry nie. Albie onthou van die water wat alles in sy maag ingekom het netnou, toe Mamma nie daar was nie en hy alleen moes bly. Sy het gesê as hy soet bly en sy kos opeet, kom sy nou-nou terug. Dit onthou hy baie goed. Die lepel vis is ’n bedreiging, want as hy dit eet, gaan sy weg en kom eers nou-nou terug. Dan is hy weer alleen ...

Hy stamp die lepel voor hom weg. Dis egter nie genoeg nie. Om van die res van die gevaar ontslae te raak, klap Albie met sy plathand in die middel van die vistrein, so hard soos hy kan. Wiele, stukke skoorsteen, rook en buffers spat in ’n vlaag van tuna, rosyntjies en olywe oor Rothea. Oor haar hare, haar gesig en in haar oë, om in ’n pappery op haar skoot af te gly, saam met ’n taai bal spookasem.

“Wil jy steeds in die toekoms jou etes saam met Albie neem?” vra ’n geamuseerde stem van die glasdeur af.

Rothea besef sy moes verwag het Albie se skril stem en die lawaai sal in die huis hoorbaar wees en iemand sal kom kyk wat aangaan. Maar nou, juis op hierdie tydstip ...

“Is jou klere baie bemors? Wil jy jou hemp en baaikostuum uittrek dat ek hulle kan was?”

Rothea kan nie sien nie. Sy vee met haar arm oor haar gesig. Sy maak nie weer die fout om te vra of dit die ander broer is nie. Net Dieter sal haar in so ’n onaardige situasie betrap. Dan nog boonop vir haar lag ...

“Hier ...” ’n Sakdoek word in haar hand gedruk. “Gebruik myne. Daardie flentertjie kant wat julle vroumense ’n sakdoek noem, is niks werd nie.”

Rothea tas blindweg daarna, maar sy kan nie mooi raakvat nie en haar hand raak per ongeluk aan Dieter s’n. Die eerste keer is dit soos sy in boeke gelees het wat gebeur wanneer jy verlief is. ’n Stroom van honderd volt flits deur haar arm tot in haar skouer. Sy ruk haar hand weg, so skielik dat die sakdoek val. Sy is bly haar gesig is vol geroomde tuna, want dit dien as kamoeflering vir die nuwe blos wat haar wange tint.

Dieter is steeds geamuseer. “Ek het nie verder gegaan en soos jy ’n kombers en doekspelde aangebied indien jy skaam is nie. Dit was nie ’n kombers wat ek aangegee het nie, net my sakdoek. Maar lyk my nie dis genoeg nie. Hanna, sal jy asseblief ’n nat handdoek bring?”

“Mamma eina?” Albie weet hy het verkeerd gedoen en probeer regmaak wat hy vertrou het. Hy help afvee en skoonmaak.

Toe Rothea uiteindelik haar taai ooglede los van mekaar het, is die breë grinnik op Dieter se gesig die eerste ding wat sy sien.

“Kleintjies is nogal ’n handvol, stem jy nie saam nie?” vra hy vroom.

Rothea lag verleë. “Goed, hierdie ronde is joune.”

“Is ons nou kiets?”

“Ja.”

“Gelykop?”

“Sê maar so,” erken Rothea.

Dieter hou sy sakdoek in die lug. “Dis ’n wit vlag. Aangesien elkeen een val het en die telling gelykop is, sal ons vrede maak?” Dieter steek sy hand uit. “’n Handdruk om die vredesooreenkoms te seël?”

Sy kan nie ... nie weer aan sy hand raak en dieselfde elektriese sensasie van netnou ondervind nie ...

Sy regterwenkbrou lig sardonies. “Nee? Wat skort? Wil jy nie ’n staakvuur hê nie, Dorothea Beukes?”

Dieter se bruingebrande hand met die lang vingers en netjiese, kortgeknipte naels is steeds na haar uitgesteek. Rothea kan haar nie keer nie. Asof gehipnotiseerd gaan haar hand na syne uit. Dis ’n groot hand, sterk en beskermend, die vel koel en glad.

Maar die handdruk wat Dieter haar gee, is onpersoonlik. Hy weet heel duidelik nie watter gewaarwordinge sy aanraking in haar wakker gemaak het nie.

“Ek wou nie met jou rusie gemaak het nie, Dieter,” sê sy sag. “Dit was... omstandighede.”

“Ekskuus?” vra Dieter verbaas. “Sê weer.”

“Ek wou nie met jou rusie gemaak het nie.”

“Nee, dit wat jy daarna gesê het ...”

Rothea is skielik weer ongemaklik. Die volt het verdubbel en dit voel asof sy haar hand op ’n rooiwarm stoof gedruk het. Sy probeer terugtrek, maar Dieter se vingers hou haar gevange en dieselfde skewe glimlag waarteen sy so weerloos is, speel weer om sy mond.

“Van die ... die omstandighede?” hakkel sy.

“Nee. Tussen die rusie en die omstandighede,” hou hy vol. “Wat het jy tóé gesê?”

“Ek weet nie.”

“Ja, jy weet goed.”

“E ... Dieter?” huiwer sy.

Hy slaag ’n sug van verligting. “Daarso ...! Dit was moeilik en ek het nie gedink jy sal dit weer regkry nie. Was dit nou so onmoontlik, Rothea? So ’n onoorkomelike probleem om my naam te gebruik? Dis die eerste keer dat jy dit gedoen het. Ek weet my naam is Duits, maar is dit vir jou baie moeilik om te sê?”

“Nee. Nee, dit is nie.”

“Hoekom was ek dan so lank meneer Richter? En toe sommer net niks nie?”

“Ek ... ek weet nie.” Rothea wens hy wil ophou glimlag. Ophou spot. Wens hy wil weggaan en haar alleen los. Dieter Richter laat haar soos ’n standerdses-skoolmeisie voel wat pouse die eerste keer met ’n seun gesels.

“Gaaf,” sê hy. “Punt een op die agenda is suksesvol afgehandel. Ek is Dieter en die wit vlag tussen ons is gehys. Nou punt twee: Dieter Albrecht junior. En sy middagete wat hy nie wil eet nie. Albie, ou vriend, kom hier, dat ek en jy ’n slag gesels ...”

Albie draf agter Rothea aan en gryp ’n handvol van haar visbesmeerde T-hemp in ’n vuisie saam, terwyl hy agterdogtig na sy oom loer.

“Albie nie kom nie!” daag hy Dieter parmantig uit.

Ettie Bierman Keur 8

Подняться наверх