Читать книгу Ettie Bierman Keur 8 - Ettie Bierman - Страница 7
Оглавление4
“Het jy alles, hartjie?” vra tant Barbara bekommerd. “Naelvyl, hangers, Bybel, ’n ekstra handdoek, seep en ’n tandeborsel? Alles wat ’n mens altyd vergeet om in te pak?”
Rothea beskou haar vier bultende tasse en papierkardoese. “Ek reken so, tant Betta. Wat ek vergeet het, kan ek op Maltahöhe of Mariental koop.”
Ludwig Krüger lyk ook besorg. “Die motor se dokumente en versekering? Jou aanwysings hoe om op Schloss Hoffnung te kom?”
“Almal in,” antwoord Rothea. “Albie en sy teddiebere en nuwe rooi bus ook.”
“Onthou, as jy motormoeilikheid het of verdwaal, ek is heeldag op kantoor en tot jou beskikking.”
“Ek ook, kindjie,” las tant Betta by. “Heeldag by die winkel, en jy het my telefoonnommer as jy my nodig het.”
“Ek sal bel,” belowe Rothea. “Maar moenie bekommerd wees nie, ek hou daarvan om motor te bestuur en ek sal regkom. Dis nie só ver nie en wanneer ek moeg raak, sal ons oorslaap.”
Albie onthou hoe Rothea hom voorgesê het en hy wag gretig langs haar om sy stukkie soos ’n resitasie op te sê.
“Dankie vir die baie appels en pele. Hulle was baie lekker.”
“Ag, my skatlam ...” Tant Betta tel hom op en gee hom ’n soen. “Tannie gaan jou mis Saterdagoggende. Vir wie gaan ek nou die vetste rooiwange uitsoek?”
“Tannie bêle.”
Tant Betta gee hom nog ’n soen. “Ek sal hulle bêre, maar sal jy terugkom om hulle te kom eet?”
“Tlugkom,” belowe Albie.
Rothea is net so bewoë soos tant Betta. “Dankie dat tant Betta altyd daar was wanneer ek tannie nodig gekry het. Dankie vir die luister na my klagtes en vir die opbeuring.”
“Jy weet hoe lief ek vir jou en Barbara was, kindjie. Julle was soos my eie dogters.”
Rothea sluk aan die trane en draai na die prokureur om hom te groet.
“Dankie, oom Helmut, dat u begrafnis toe gekom het, vir al die geduld en bystand die afgelope drie weke en vir die tjeks wat u so geredelik geteken het.”
“Dit was ’n plesier. Daar is ’n groot som geld tot jou beskikking gestel en jy het net ’n kwart daarvan vir Albie gebruik, en niks vir jouself nie.”
“Ek het ’n bietjie spaargeld gehad en dit wat van die Richters se geld oorgebly het, moet in ’n trustfonds vir Albie inbetaal word.”
“Ek sal so maak.”
Rothea probeer glimlag. “Nogmaals dankie vir die krans vir Barbara en Ernst. En nogmaals jammer vir daardie eerste lelike brief wat ek aan u geskryf het.”
“Wat ek verdien het. Moenie daaroor bekommerd wees nie, Rothea. Ek het al erger briewe ontvang.” Die gryskopman glimlag, maar agter die goueraambril is sy oë natuurlik blink. “Pas jouself en Albie mooi op ...”
“Ek sê nog, jy moes daardie afkoopsom aanvaar het wat die Richters aangebied het,” laat tant Betta van haar hoor.
Rothea skud haar kop terwyl sy die mandjie kos inlaai wat tant Betta gebring het. “Ek het nie die geld nodig nie.”
“Daar is dalk ’n ryk buurman en hier loop jy rond in jou suster se ou klere ...”
“Die buurman sal nie weet hulle is oud nie.” Rothea sluit die motordeur aan Albie se kant en plaas haar handsak en ’n los trui op die agterste sitplek. Dan kom sy terug na haar twee dierbare vriende wat by haar woonstel opgedaag het om haar te kom afsien.
Tant Betta vergeet sy het nie haar winkelvoorskoot aan nie en frommel haar rok in haar vereelte hande. “Ag, hartjie, is dit nou rêrig tot siens?”
Rothea hou haar styf vas. Dit wat tussen hulle gesê kon word, is gister al gesê toe sy lemoene en appels vir die lang pad gaan koop het.
“Dis miskien net ’n maand, tante, dan is ek terug,” probeer Rothea moedig bly.
“Of twee of drie maande. Of ses ... Ek sal nog hier wees wanneer jy terugkom, meisie.”
Ludwig Krüger maak keel skoon. “Ek ook, Rothea. Jy weet waar om my te kry as jy my nodig het. En onthou, ek het nie ’n vrou wat sal raas wanneer ek saam met ’n mooi meisie gaan koffie drink nie.”
Rothea druk sy hand styf in albei hare vas. “Ek sal onthou. En wanneer ek alleen terugkom, gaan ek twintig koffie-drinke nodig hê ... Mooi bly. En tant Betta ook!”
“Môle bly!” eggo Albie toe Rothea hul sitplekgordels vasmaak, ratte verander en stadig wegry.
Rothea het haar bekommer of hy sal moeg word van die lang rit. Maar Albie is soet. Hy geniet die ongewone motorrit en die nuwe ervaring van stilhou langs die pad en tannie Betta se kosmandjie uithaal. Die Russiese worsies en gekookte eiers wat hy soms nie by die huis wou eet nie, verdwyn saam met die kaastoebroodjies en tamaties. Die koffie en lemoensap is nie genoeg nie. Hy slaap ’n rukkie en toe hy wakker word, vra hy: “Melle, ’blief?”
Rothea hou op Grunau stil vir koffie, brandstof en melk vir Albie. Op Keetmanshoop weer om ’n kleedkamer te besoek en hande te was. Die kokerboomwoud en die vingerklip hou vir Albie geen bekoring in nie. Of Rothea van die grootpad afdraai of nie, maak nie saak nie. Hy slaap rustig onder die reisdeken op die agterste sitplek.
Rothea het al foto’s van die woud en Mukurob gesien, maar geld en tyd het nog altyd ontbreek om die twee besienswaardighede te gaan besigtig. Miskien sal sy ’n kans kry in die volgende paar weke, dink sy. Dieter het mos beveel sy moet met gereelde tussenposes van die plaas af weg wees, sodat Albie daaraan gewoond sal raak dat sy nie altyd by hom is nie.
Dis ’n lang pad en Rothea het oorweeg om oor te slaap, indien nodig. Maar om sesuur bevind sy haar op Mariental, met minder as honderd kilometer plaas toe. Hoewel sy moeg is, is dit nie die moeite werd om nou na ’n hotel op die dorp te soek nie. Sy soek eerder aanwysingsbordjies na die sewentiende eeuse Kasteel Duwisib, soos oom Helmut Krüger beduie het die pad na Schloss Hoffnung toe loop. Die plaas is glo veertig kilometer duskant die kasteel, op die Helmeringhausen-pad.
Die bordjies is duidelik. Rothea sou nog ’n kwartier verkies het om haar voor te berei, toe sy die ligte van die plaasopstal sien.
“Albie!” roep sy. “Word wakker. Ons is by die huis.”
Sy is bly hy het ’n paar uur geslaap, want sy wil nie hê dat sy aankoms op die plaas deur moegheid bederf word, soos so dikwels die geval met kleuters is nie. Albie is nie ’n moeilike, huilerige kleintjie nie en dit moenie die eerste indruk wees wat die Richters van hom kry nie.
Selfs in die dowwe maanlig kan Rothea die indrukwekkende drieverdieping-kliphuis met die swart grasdak sien, amper soos die poskaarte wat sy van die Duwisib-kasteel gesien het. “Schloss” beteken ook kasteel en dis duidelik waar die plaas sy naam vandaan gekry het. Om die huis strek terrasse en kranse, anders as wat Rothea verwag het. Die bietjie wat sy van die omgewing gesien het, het haar laat dink die huis sal op ’n plat vlakte gebou wees, sonder veel bome. Die tuin is egter ruig, met uitgekapte klippaadjies wat na ’n tennisbaan lei en in die agtergrond die donker glimmende water van ’n swembad.
Rothea weet nie of sy van die koue kliphuis hou en of dit ’n indruk van gasvryheid skep nie. Dis te onherbergsaam, dink sy, te groot en donker en onbekend ... Sy probeer die onrustigheid in haar demp, by die gedagte aan wat miskien agter die donker voordeur op haar wag.
Die deur gaan oop om ’n streep lig oor die toegegaasde stoep te gooi. As Rothea hul gasheer self verwag het om hulle welkom te heet, is sy teleurgestel. Dis Hanna Berger wat uitkom en oor die stoep draf.
“Naand, Fräulein Beukes. Die arme klein Schätzen sal moeg wees ná die lang pad. Gee hom vir my ...”
Hanna se arms gaan om Albie en sy druk hom gerusstellend teen haar vas. Rothea voel skielik oorbodig, alleen en onwelkom. Albie se plek is hier, maar sy wens sy kon ook weet sy het by die huis gekom en sy wens daar was iemand om háár gerus te stel en styf vas te hou.
’n Ander man, ouerig en met ’n wit oorjas, volg op Hanna se hakke, groet formeel in Duits en begin die tasse uitlaai.
Dis al, sê Rothea vir haarself. Hy het gesê hy sal probéér om tuis te wees met hul aankoms. Hy is waarskynlik nog oorsee met sake besig. Albie het vir Hanna. En sý is nie belangrik genoeg dat hy sy saketransaksies moet kortknip net om haar te ontvang nie.
Maar Dieter is daar. Breedgeskouer en aantreklik in ’n wit safaripak met ’n krawat om sy nek. Van die motor oor die stoep is ’n ver ent, maar Rothea is onmiddellik van Dieter Richter bewus toe hy in die lig van die voordeur verskyn. Sy staan vasgenael. Haar hart spring in haar keel om haar byna te versmoor en sy kan geen woord uitkry nie. Is dit liefde? wonder sy verward. In boeke praat hulle van die maanskyn wat helderder is, die sterre blinker, en die lug wat na rose en jasmyn ruik. Maar dis nie met haar so nie. Die maan lyk dowwer en die sterre koud en ver. Sy ruik net ’n bloekom êrens en die vrees en onsekerheid in haar binneste is nie ’n heerlike, opwindende tinteling soos vonkelwyn deur haar are nie. Sy wil omdraai en wegvlug na die bekende veiligheid van haar motor.
“Goeienaand. Welkom op Schloss Hoffnung.” Dieter se stem is formeel en dis na Albie wat hy kyk, pleks van na Rothea.
Albie is verheug om sy oom weer te sien. Alle vaak is weg toe hy uit Hanna se omhelsing loswriemel en na Dieter hardloop.
Rothea weet sy is selfsugtig en besitlik. Maar net hierdie een keer sou sy wou hê dat Albie haar moes nodig hê, dat hy skaam en terughoudend moes wees en aan haar vasklou. Sy probeer om nie seergemaak te voel toe Albie Dieter heel duidelik bo haar en Hanna verkies nie. Dis goed dat hy tuis voel, dink sy weemoedig. Hoe gouer Albie aanpas, hoe gouer kan sy weggaan om met die res van haar eie lewe voort te gaan.
Maar watter lewe? Die vooruitsig is leeg en neerdrukkend. Terug na haar beknopte woonstel en haar werk by die hotel. Na aande met ’n boek voor die televisie. Na herinneringe en eensame, doellose naweke ...
“Hans sal afpak. Kom binne, Rothea,” sê Dieter.
Die gaasstoep voel vir Rothea groter as ’n rugbyveld, met nêrens ’n stoel, ’n bank of ’n tafel om die glimmende klipoppervlak te verbreek nie. Sy stap stilswyend agter die ander aan, deur die uitgekerfde eikehoutvoordeur tot in die portaal. Dis ’n ruim vertrek, ook met die minimum meubels. In die middel staan ’n antieke geelkoperlamp wat twee somber skilderye en ’n Persiese mat teen die klipmure verlig. Buite die dowwe ligkring staan ’n rolstoel en ’n figuur wat hulle inwag – klein en broos met silwerwit hare in ’n bolla gekam. ’n Swaar sjaal is oor die smal skouers gedrapeer en ’n ander een oor die bene en knieë. Teen haar keel en weerskante van haar ore is ’n skittering van diamante, getemper deur die sagter glimming van pêrels. Haar kop is trots omhoog gelig en toe sy haar nek in hul rigting draai, sien Rothea die gesig. Dis hard en koud en Olga Richter se oë lyk soos die diamante wat sy dra, ’n vyandige skittering in die kil swart oë.
’n Rilling gaan onwillekeurig deur Rothea, asof sy kouekoors het.
Olga Richter rol haar stoel vorentoe en haar oë gaan vlugtig oor Rothea.
“Zeigen sie mir das kind. Wys my die kind,” gebied sy in ’n verrassend helder stem.
“Ons sal nou-nou Ernst se kind vir Moeder wys. Groet u nie eers ons gas en heet haar welkom nie?” vra Dieter.
“Nein. Ich bin müde. Nee. Ek is moeg. Bringen sie mir das kind. Bring die kind vir my,” herhaal sy. Sy ignoreer Rothea terwyl haar oë na Albie dwaal.
Dieter se stem bly steeds vriendelik, hoewel effens bestraffend. “Dorothea verstaan nie Duits nie. Ek stel voor dat – terwyl sy ’n huisgas op Schloss Hoffnung is – ons haar in ag neem en Afrikaans praat. Mutti het haar nog nie gegroet nie ...”
Rothea verwag dat Olga Richter sal weier. Haar skouers ruk en haar lippe is opmekaar gepers. Maar toe haar oë haar seun s’n ontmoet, kyk sy eerste weg.
“Dit is vir my aangenaam om u te ontmoet, Fräulein Beukes,” sê sy in swaar geaksentueerde, maar gemaklike Afrikaans. Sy laat die verwelkoming soos ’n belediging klink en die blink swart oë draai weg om weer na Albie te soek. Toe sy hom vind, versag haar gesig onverwags. “So, dit is Albrecht ... Kom hier, kind!”
Albie het verstaan wat sy sê, maar die bevel was te skerp. Hy gee sy Duitse ouma net een kyk, begin huil en hardloop na Rothea toe.
“Optel! Albie optel!” vra hy skril.
Rothea is dankbaar oor die troos van die stewige warm figuurtjie op haar heup. Sy druk Albie teen haar vas tot hy kalmer is en die klaerige huil in ’n hik oorgaan.
“Hy is moeg. Ons het ver gery en dis verby sy bad- en slaaptyd,” sê sy verdedigend.
Hanna is aan Rothea en Albie se kant. “Natuurlik is die kleine Schätzen moeg. Dis natuurlik dat hy sal huil.”
Olga Richter is nie ingenome met ’n skreeuende kleuter wat op sy tante se heup sit en niks met sy pa se familie te doen wil hê nie.
“Die kind wil slaap. Neem hom na sy kamer en versorg hom, Hanna,” gebied sy. Sy begin Dieter na ’n saketransaksie in Frankfurt uitvra, of hy Herr Reissner te sien gekry het en wat die uitslag van hul samesprekings was. “Die meisie ook, Hanna,” voeg sy as ’n nagedagte by. “Wys haar haar kamer. En gister het ’n sekere Herr Vossler uit Wiesbaden geskakel, Dieter. Hy sê jy het vergeet om hom te kom spreek.”
“Nie vergeet nie. Nie tyd gehad nie,” antwoord Dieter.
Rothea is dankbaar om te kan wegkom. Sy stap met die marmertrap op agter Hanna en Albie aan. Olga Richter se verwelkoming was ongasvry en daarop gemik om haar onwelkom te laat voel. Maar wat Dieter betref, is sy nie so onbelangrik soos sy ma probeer voorgee nie. Uit die gesprek kon sy aflei hy het vroeër van oorsee teruggekeer om op Schloss Hoffnung te wees wanneer hulle aankom. Of was dit ter wille van Albie?
Rothea se gesig is somber toe sy die antieke geelkoperbed en stinkhoutmeubels in haar kamer beskou. Darem een troos: hulle het haar nie in ’n beknopte agterkamertjie op die volgende verdieping ingedruk en ’n dagreis te perd van Albie af nie. Sy kamer is langsaan hare.
Albie se kinderkamer is nóg weelderiger as hare en net waar Rothea kyk, is speelgoed. ’n Rooi driewiel staan voor Albie se bed, saam met ’n speelperdjie, nog ’n nuwe teddiebeer en ontelbare karretjies, busse, kruiwaens, sandemmertjies en grafies en alles wat ’n kleuter se hart kan begeer. Die muurpapier en gordyne is opsigtelik nuut, met ’n dieremotief, en veiligheidsdiefwering is aangebring voor die vensters wat na die balkon lei. Ook nuut en ’n helderblou geverf. Tussen twee ingeboude kaste loop ’n deur uit na ’n donkerblou en groen badkamer, wat Rothea aanneem sy met Albie sal deel.
Albie is amper te moeg om op sy voete te staan, maar tipies seun is hy koppig – nie bereid om in die bed gesit te word en te gaan slaap sonder om hom te laat geld nie.
“Stolie,” eis hy. En Hanna mag dit nie vertel nie. Die storie moet van Rothea kom.
“Rooikappie?” bied sy aan.
“Van die bere. Pappa beer en mamma beer en baba beer en Sneeuwitjie.”
“Gouelokkies,” help Rothea hom reg.
“Sneeuwitjie,” dring hy huilerig aan. Hanna kan hom nie troos en in die bed sit nie. Hy is eers tevrede toe Rothea kom en hy ken die verskil tussen Gouelokkies en Sneeuwitjie, wat beteken hy wil albei stories hoor.
Hanna is nie seergemaak omdat sy opsy geskuif word nie, slegs bewonderend teenoor Rothea.
“Fräulein is so goed vir hom ... Amper soos sy eie, regte mamma.”
Rothea voel die branderigheid van trane teen haar ooglede. Dis die eerste vriendelike woord wat sy gekry het sedert sy op die plaas aangekom het. Sy wonder hoe Barbara sou reageer het as sy vanaand hier was. Sou sy ook bereid gewees het om die minste te wees, om geïgnoreer en saam met Albie na haar kamer gestuur te word, met ’n koue ontvangs en ’n gevoel dat sy onwelkom is? Nee, besef sy. Ernst sou hier gewees het as ’n buffer tussen Barbara en sy familie. Ernst, met sy warmte en mensliewendheid, sou vir die ongasvryheid vergoed het.
Rothea begin met die verhaal van Jan en die boontjierank, tot Albie rustig is en sy oë onwillig toeval.
“Sal ek nog ’n rukkie by hom bly, ingeval hy wakker word?” fluister sy vir Hanna.
Hanna skud haar kop. “Hy slaap vas, Fräulein.”
Albie het warm melk, beskuitjies en kaas gehad, maar Rothea twyfel of die Richters hulle vir aandete oor haar gaan ontferm. Sy sit rustig by Albie, toe sy ’n klop aan haar kamerdeur hoor.
“Herr Richter, wat kom verneem of u gereed is, Fräulein,” sê Hanna. “Gaan eet, ek sal na die kleine omsien.”
Rothea het Dieter verwag. Maar ’n vreemde jong man staan in die gang voor haar kamerdeur.
“Onthou jy toe jy sestien was, Rothea Beukes, en die fortuinvertelster gesê het jy gaan ’n lang, donker vreemdeling ontmoet wat ’n belangrike rol in jou toekoms gaan speel?”
Rothea lag. “Al wat sy gesê het, was van ’n blou brief wat ek gaan kry. Maar sy was kleurblind. Dit was ’n pienk kaartjie die volgende dag onder my motor se reënveër.” Rothea aarsel. “Is jy broer Carl?”
Hy skud sy kop. “Net Carl. Dit sou ’n ramp gewees het as jy my suster was, want ek het nie gedink dis moontlik nie.”
Rothea begryp nie mooi nie. “Ekskuus?”
Carl bekyk haar waarderend. “Ek dag identiese tweelinge is identies.”
“Hulle is.”
“Hulle is nie,” stry hy. “Ernst het ná die tyd vir ons ’n troufoto gestuur en ek het met hom saamgestem Barbara is die antwoord op enige man se drome. Ek het nie gedink dis moontlik dat haar identiese tweelingsuster selfs nog mooier as sy kan wees nie.”
Rothea se moraal was laag en Carl se bewondering is balsem vir haar wonde.
“Jy vlei my, maar dankie vir die goeie medisyne.”
“Teen Moeder en Dieter?”
Carl is korter en blasser van vel, maar toe hy sy een wenkbrou vraend lig, lyk hy skielik net soos sy oudste broer. Hy is nie so aantreklik soos Dieter nie, maar gawer, dink Rothea. Sy hou van hom en is dankbaar dat hier iemand soos hy is. In ’n kil en ontoegeeflike huishouding is Carl Richter tot dusver die enigste een wat haar soos ’n mens behandel, eerder as soos ’n meulsteen wat teen wil en dank verduur moet word.
“Moet jou nie aan hulle twee steur nie,” vervolg Carl. “Moeder is bevooroordeeld en my ouboet het nog nooit ’n oog vir ’n mooi meisie gehad nie. Of anders het hy met opset gejok.”
“Gejok? Hoekom?”
“Om ’n voorsprong bo my te hê en my af te skrik. Jy lyk gewis nie soos Dieter jou beskryf het nie.”
Moenie, probeer Rothea haarself keer, want sy weet dis soek na seerkry. Wat maak dit in elk geval saak? Sy besef dis goeie raad, maar haar hart wil nie na haar verstand luister nie.
“Hoe het Dieter my beskryf?”
“Ek met my groot mond ...” skerm Carl. “Kom, ons moet gaan eet. Moeder wag.”
“Ek gee nie om as jou broer vir almal vertel ek lyk soos ’n voëlverskrikker nie. Is dit wat hy gesê het?” hou Rothea vol.
“Dieter het nie bedoel om jou te beledig nie en nee, hy het ook nie gesê jy is lelik nie,” verdedig Carl sy broer. Hy draai sy kop skeef om weer na Rothea se bates te kyk. “Gelukkig verskil ons smaak. Ek reken jy is allesbehalwe vaal, maer en moederlik. Dieter kort ’n bril.”
Rothea kyk na hom sonder om te antwoord. Ja, sy wou mos vra, wetende wat die antwoord gaan wees ...
Carl hou sy hande op, palms na Rothea se kant toe gedraai. “Moenie vir mý kwaad wees nie. Dis nie ek wat so gesê het nie, dis Dieter wat so blind is. En ek sê mos, ek stem nie saam met sy beskrywing nie. Hoe kan ’n rooikop-Delila met sulke kurwes vaal en maer wees? En moederlik? Jý?” Hy grinnik breed. “Nee, Rothea Beukes. Jy is die soort aster wat ’n ou saamneem op ’n seiljagvaart wat langer as ’n dag gaan duur. Of ’n naweek Kyalami toe. By gebrek aan sulke opwindende vermaak, sal ons met ’n aand saam aan tafel begin?”
“Ek is nie eintlik honger nie.”
“Jy is alreeds nie baie gewild nie en as jy Moeder en Dieter onnodig laat wag en die aandete verniet vertraag, glo ek nie dit sal tot jou gewildheid bydra nie,” raai Carl haar aan.
Rothea kyk na sy formele donker pak klere, dan na haar verkreukelde rok en stowwerige sandale.
“Ek moet seker beter klere aantrek ...”
“My ma sal nie omgee nie en Dieter sal nie oplet nie. Hy het Ilse op sy brein en geen ander meisie se kleredrag sal tot hom deurdring nie.”
Rothea staan botstil. “Ilse?” vra sy, asof sy nog nooit die naam gehoor het nie.
“Kom!” Carl rem haar aan die arm die gang af. “Netnou kla ek ook jy is te maer, as jy nie wil eet nie ...”
Rothea is bang Dieter of sy ma hoor as sy Carl verder uitvra. Sy stap stilswyend langs hom met die marmertrap af, verby die ingangsportaal en deur ’n lang, smal galery tot in die eetkamer. Olga Richter is besig om in ’n skril stem te praat. Rothea was skynbaar die onderwerp van bespreking, want toe die ouer vrou haar sien, bly sy skielik stil. Haar regterhand lê slap op haar knieë, maar die ander een klem krampagtig om die rolstoel se armleuning.
Rothea voel ongemaklik en probeer die gespanne stilte oorbrug. “Dit spyt my indien ek u laat wag het, mevrou Richter.”
Olga Richter draai haar kop weg en kyk weg sonder om te antwoord.
Carl knipoog bemoedigend vir Rothea, voor hy na sy broer draai. “Nogal die moeite werd om voor te wag, is sy nie?”
Dieter lewer nie kommentaar nie. “Slaap Albie?” wil hy van Rothea weet.
“Ja.”
“Het hy weer gehuil?”
Wéér ... asof Albie ’n tjankbalie is! “Nee, hy het nie.”
“Dan was hy met sy kamer en met Hanna tevrede?”
“Sy kamer is pragtig en Albie was in sy skik met al die nuwe speelgoed.”
“En met Hanna?” herhaal Dieter.
Rothea wil hom nie ’n geleentheid bied om weer te sê Albie is bedorwe, huilerig en te afhanklik van haar nie. “Albie was soet en tevrede.”
“Dan kon Hanna seker alleen regkom om hom te bad en in die bed te sit? Dis nie deel van jou pligte om Albie saans te versorg nie.”
Kritiek omdat sy laat was? Nagelaat het om vir aandete te verklee? Hanna se gevoelens seergemaak het?
“Dit spyt my,” sê Rothea styf. “Ek was onder die indruk dat ek gedoen het wat van my verwag word en waarvoor ek betaal word. As ek Albie die heel eerste aand geheel en al aan sy oppasster oorlaat, waarom het ek dan in die eerste plek saamgekom? Sal ek môre inpak en teruggaan?”
Dieter trek sy skouers op asof dit vir hom om ’t ewe is. “Ek het aan jou gerief en vrye tyd gedink. Sal ons gaan aansit?”