Читать книгу Ettie Bierman Keur 8 - Ettie Bierman - Страница 6

Оглавление

3

“Palle,” sê Albie.

“Palms, my liefie,” help Rothea hom reg. Sy voer Albie van die biefstuk wat Dieter vir hulle by die Rosetuin se restaurant bestel het. Sommer ’n hamburger sou beter gewees het, want ’n biefstuk is te groot vir ’n twee-en-’n-halfjarige en driekwart daarvan gaan vermors word, dink sy.

Sy sê egter niks nie. Pleks van Dieter se oordeel te kritiseer, probeer Rothea vriendelik wees. “Palle ... Dis ook vordering, want tot dusver was alles vir Albie blomme. Bome, struike, palms ...”

“Dit wys jou hy is ryp vir nuwe ervarings en nuwe woorde,” merk Dieter op.

Wat Dieter Richter betref, is Rothea oordrewe ingestel op kritiek en teregwysings.

“Ek het hom al voorheen Rosetuin toe gebring en hom die palms gewys,” antwoord sy, dadelik op die verdediging.

“So het jy tevore gesê. Ek is jammer ek het nie oorspronkliker ontspanning vir julle uitgedink nie.”

“Ek het nie gesê ek is verveeld nie. Inteendeel, ek het hard probeer om die dag so aangenaam moontlik te maak.”

“Ter wille van Albie en ons vredesooreenkoms?”

“Ja. Of watter ander redes is daar?”

Dieter bestel nagereg en, as ’n bonus, vir Albie ’n bruismelk.

“Vandag was ’n redelike aangename dag,” gee hy toe. “Wat egter van môre en oormôre en volgende week? Is jy nog van plan om ons eis van voogdyskap te betwis?”

Rothea sug, die apfelstrudel vergete in haar bord. “Ek weet nie. Ek wil nie daaraan dink nie, want ek ... ek besef wat julle hom alles kan gee ...”

“Op Schloss Hoffnung, weg van jou af?”

Rothea is skielik moeg, te moeg om weer te stry en rusie te maak en nuwe argumente uit te dink.

“Ek wens jy het Barbara ontmoet. As julle haar geken het, sou die Richters nie so verbitterd oor Ernst se keuse gewees het nie, sou julle nie gevoel het hy het benede sy stand getrou nie, en sou daar nie vervreemding tussen Ernst en sy familie gewees het nie.”

“Jy sê julle twee susters was baie eenders.” Dis eerder ’n stelling as ’n vraag en Rothea se wange word skielik rooi.

“Ek was nie besig om my eie beuel te blaas en jou met ’n omweg te vertel hoe wonderlik ek is nie. Ons was ’n identiese tweeling, maar nie in geaardheid nie. Barbara het ’n sterker en ’n mooier persoonlikheid as ek gehad. Op skool was sy die gewilde een, dirigent by die atletiek, klaskaptein en almal se gunsteling. Maar julle reken sy was voddery, net omdat sy ’n Afrikanernooi was! Julle het haar ongesiens veroordeel, al was sy die ideale vrou vir Ernst. Haar en haar onskuldige kind ...” Rothea veg om haar selfbeheersing te herwin en probeer ’n mondvol nagereg eet.

“Die vervreemding was as gevolg van Ilse,” sê Dieter. “Nie oor Barbara nie.”

“Ilse?” Rothea frons. “Ilse wie?”

“Bauer.” Ook Dieter het skynbaar sy smaak vir die apfelstrudel verloor. Hy stoot sy bord opsy. “Ilse is ’n pragtige meisie, verfynd en sensitief. Dit was ons onaangename taak om aan haar te sê haar verloofde was ontrou aan sy beloftes, hy het haar versaak en met ’n vreemde meisie getrou. By haar ’n kind gehad ... Dink jy dit was vir my moeder maklik? Om Ilse se vermorste uitset te sien, haar trane, haar skok en verbittering? Dink jy nie Ernst moes mans genoeg gewees het om self vir sy aanstaande vrou te sê hy sien nie meer kans om met die huwelik voort te gaan nie, want hy het Barbara Beukes liefgekry?”

Rothea het nog nooit van Ilse Bauer gehoor nie. Sy het tyd nodig om dié nuus te verwerk en in te neem wat Dieter gesê het.

“Ek is jammer,” sê sy stadig. “Ek het nie van die ander meisie geweet nie.”

“En jou suster?”

“Ek weet nie. Dalk ... Was Ernst en hierdie ... Ilse verloof?”

“Hulle sou binne ’n maand getrou het,” antwoord Dieter kortaf. “Die Bauers is jarelange huisvriende van ons en Ilse is soos ’n eie dogter in ons huis. Ernst het haar in die steek gelaat en van die plaas af padgegee sonder enige verduidelikings. Sy skielike verdwyning en onverwagte huwelik met ’n wildvreemde meisie het ’n opskudding en ’n skinderveldtog veroorsaak. My moeder veral het baie daaronder gely en ek glo haar swak gesondheid is aan Ernst se koelbloedige optrede te wyte.”

“Ek is jammer,” herhaal Rothea. “Ek weet jou ma is nie meer jonk nie en ek kan glo dit was vir haar ’n bitter ondervinding. Wat makeer haar? Is dit haar hart?”

“Sy het twee beroerte-aanvalle gehad.” Dieter se antwoord is kortaf en hy borduur nie daarop voort nie.

“As gevolg van die skok van Ernst se huwelik met my suster?”

“Onder meer.” Dieter voeg nie by dat die beroerte as gevolg van ’n derde skok was nie, wat moontlik dieper gesny het as slegs Ernst se verdwyning en onverwagte huwelik. Hy en Rothea was albei lief vir Ernst en wat help dit om sy herinnering verder oneer aan te doen? Veral waar daar twyfel oor die kwessie bestaan en Ernst se skuld nie onteenseglik bewys kan word nie?

Rothea roer Albie se bruismelk vir hom en help hom om die strooitjie vas te hou. Sal Albie dalk vir die ma ’n plaasvervanger kan wees vir die seun wat sy verloor het? wonder sy. Of sluit haar verbittering teenoor Ernst dalk sy kind ook in?

“En jou jongste broer?” vra sy. “Is hy nog op Schloss Hoffnung?”

Dieter se wenkbroue trek saam. “Carl? Ja. Maar hoe lank weet ek nie. Soos met Ernst, is boerdery nie in sy bloed nie. Hy praat van stad toe gaan en ’n kans gegun word om die lewe te geniet. Carl is nog jonk, jonger en voortvarender selfs as wat Ernst was. Hy het ’n voorliefde vir meisies en geld. Hy sal sy erfenis op oorsese vakansies, seiljagte, vroumense en vinnige motors verkwis en ’n mens voel ’n verpligting om my jonger boet teen homself te beskerm.”

“Om hom teen wil en dank te dwing om op die plaas te bly, wetende dat hy nie ’n boer is nie?” vra Rothea, gedagtig aan Ernst en onbewustelik met ’n mate van verwyt in haar vraag.

Dieter kyk ver, verby die tuin se palmlaning, na die onstuimig vloeiende stormwater van die Oranje. “As Ernst op die plaas gebly het, sou hy nog geleef het.”

Rothea begryp wat hy bedoel. Maar sy onthou van Barbara en Ernst se seuntjie.

“Op skool het ’n onderwyser eendag iets treffends gesê wat my nou nog bybly. ‘Moenie arm voel wanneer jou drome nooit bewaarheid word nie, want slegs hy wat nooit gedroom het nie, is werklik arm.’ Gun Carl sy drome, anders sal hy nooit gelukkig wees nie.”

“Al kos sy droom hom sy lewe?”

Soos Dieter, staar Rothea doer ver teen die water. “Ek weet nie,” antwoord sy eindelik so sag dat hy nader moet leun om te hoor wat sy sê

Terwyl Rothea Albie kleedkamer toe neem, betaal Dieter die rekening. Toe hulle uitkom, wag hy vir hulle by die motor.

“Wil Albie voor sit?” bied Dieter aan.

Albie weet dis ’n baie duur motor, wat baie roomyse en koeldrank se geld kos. Tot dusver het hy op die agterste sitplek gesit en sal graag wil omruil. Maar hy kyk onseker na sy oom en na die glimmende Mercedes-Benz. “Mamma waar sit?”

“By jou, my liefie,” stel Rothea hom gerus en kyk vraend na Dieter. “Sluit jou aanbod ons albei in? Of sal ons massa te groot wees vir die sitplek?”

Dieter bestudeer die skraal meisietjie wie se massa by beraming nie meer as vyftig kilogram kan wees nie. Hy glimlag toegeeflik. “Ek reken ek het plek vir albei.”

Pure seun, het Albie ’n voorliefde vir alles met enjins en wiele. Hy sit vorentoe op Rothea se skoot, sodat hy die paneelbord en meters en wysers en ander aanloklikhede kan bykom om mee te speel. Maar die vlees is sterker as die gees. Halfpad op pad hotel toe is hy reeds aan die slaap, vas teen Rothea se skouer en albei armpies styf om haar nek.

“Hy is te swaar vir jou. Ek sal hom dra,” bied Dieter hoflik aan toe hulle voor die König se ingang stilhou.

“Dis tyd dat Albie wakker word. Dis al laat – amper vieruur. En jy het gesê jy wil vyfuur ry.”

“Ek is nie haastig nie. Al ry ek sesuur en kom later by die huis aan, sal dit nie saak maak nie. Laat Albie nog ’n uur of wat slaap. Dit sal beter wees as ons tydens ons bespreking nie onderbreek word nie.”

Die vredesverdrag vergete, is Rothea dadelik op haar hoede. “Watse bespreking?”

Dieter lig die slapende kind versigtig in sy arms op. Oor Albie se skouer kyk hy terug na Rothea.

“Ek dink jy weet, Dorothea Beukes.”

Hulle is eenders, dink Rothea met ’n skielike pluk van haar hartsnare. Die groot, sterk, breedgeskouerde man en die klein seuntjie ... Sy het aanhou glo Albie se hare gaan rooibruin wees en sy oë donker. Maar die rooi word al minder in die babahaartjies en Albie se oë word grys, soos Ernst s’n. Mense wat Dieter en Albie saam sien, sal aanvaar hulle is pa en seun. Albie is nie meer heeltemal so ’n Beukes soos sy aanvanklik bly hoop het nie.

By die suite oorhandig Dieter die slapende Albie aan Hanna. “Sal jy ’n drankie drink, Rothea?” vra hy.

“Ek drink nie, dankie.”

“’n Koeldrank dan? Koffie of tee?”

“Niks nie, dankie.”

“Geen onderbrekings nie?” terg Dieter.

Rothea is gespanne. “Wat wil jy met my bespreek?”

Dieter wag tot hulle in die sitkamer gaan sit en die deur tussen hulle en Albie se kamer toe is. Hy lyk vreemd onwillig om te begin.

“Albie se weggaan, nè?” vra Rothea. Sy gaan in ’n lae stemtoon voort, haar oë onsiende op haar inmekaargevlegde hande gerig: “Eintlik is daar niks om te bespreek nie. Ek het van die begin af geweet ek kan nie teen julle wen nie en ek sal Albie moet afstaan. Terwyl ek snags nie kon slaap nie, het ek baie nagedink en tot die slotsom gekom jy was reg. Dit sal selfsugtig wees om Albie te probeer hou, want ek kan hom nie dieselfde bied as julle nie. Neem hom en,” Rothea se stem breek en sy sluk eers voor sy verder gaan, “en ek hoop hy is ge-gelukkig op die plaas.”

Sy het verligting verwag, miskien ’n dankie of ’n gerusstelling dat Albie maklik sal aanpas en op Schloss Hoffnung gelukkig sal wees. Maar Dieter antwoord nie.

“Sal julle vir hom ... goed wees?” stamel sy bewerig. “Al is hy Barbara se kind en ... en al het sy vir julle soveel hartseer veroorsaak? Onthou, Albie is maar net ’n baba en ... en moet hom nie daarvoor blameer nie.”

Dit lok ’n reaksie van Dieter uit, hewiger as wat Rothea verwag het. Hy raak ’n woord in Duits kwyt wat Rothea nie op skool geleer het nie. “Dink jy ek is ’n sadis wat my griewe op ’n onskuldige kind sal wreek? Wat dink jy van my, dat jy vra ek moet vir hom goed wees?”

Rothea skrik vir die woede in sy stem, maar sy staan haar man. “Dis die laaste kans wat ek sal kry om vir Albie te pleit. Hierna is dit tot siens. Dan is hy op homself aangewese en sal ek nie daar wees om hom te help of ... of vir hom in die bresse te tree nie.”

Hierdie oomblik het Rothea gevrees, vandat sy die prokureur se eerste brief ontvang het. Sy het haar voorgeneem sy gaan sterk wees, sy gaan nie huil nie. Sy byt haar onderlip vas en druk die agterkant van haar hand teen haar mond voor sy verder praat.

“Ek weet ek sal hom nie mag sien nie. Maar as ek bel ... sal julle my toelaat om met hom te praat? En wanneer hy ouer is en skool toe gaan, mag hy vir my skryf?”

“Kan ons die melodrama asseblief opsy skuif?” vra Dieter bruusk. “Sal jy ’n oomblik lank ophou praat en my ’n kans gee? Ek het by ’n vorige geleentheid gesê Albie is ongelukkig baie afhanklik van jou en dit sal onwys wees om hom sonder ’n tydperk van aanpassing van jou te skei.”

In Rothea se binneste is ’n flikkering van hoop. Maar sy is bang om te gou bly te word en haar opnuut aan seerkry bloot te stel. Sy kyk onbegrypend na Dieter. Bedoel hy dalk dat sy Albie nog ’n tyd lank by haar mag hou, tot hy ouer is en minder afhanklik van haar? Dalk tot hy ses is en begin skoolgaan?

“Ek bedoel jy sal voorlopig moet saamkom wanneer ek hom plaas toe neem.”

Rothea se oë rek en haar mond gaan oop, sonder dat sy kan praat of ’n woord uitkry.

“Saamgaan? Ek ... ek kan nie,” hakkel sy.

“Hoekom nie?”

“Omdat ... Ek ... ek werk! Ek het my woonstel en ... en alles. Ek kan nie sommer alles los en weggaan nie.”

“Beteken jou werk en jou woonstel dan meer vir jou as Albie?”

“Natuurlik nie!” antwoord sy verontwaardig. “Maar my baas by die werk was vir my goed en ek het pas ’n verhoging gekry. Wanneer Albie siek was en ... en destyds met die ongeluk, was meneer Hassler baie tegemoetkomend. Ek kan nie sommer bedank en hom in die steek laat nie.”

“Maar jy is bereid om Albie in die steek te laat?” hou Dieter vol.

“Moenie dit sê nie! Jy weet dis nie waar nie. Ek was nie op universiteit nie. Ek het nie kwalifikasies nie en werk op Upington is skaars. Ontvangsdame is vir jou seker nie ’n indrukwekkende werk nie, maar dis al wat ek kan doen. Waar kry ek eendag weer ander werk?”

“Werk is nie ’n probleem nie. Ek ken Heinz Hassler. Ek kan met hom reël om jou agterna terug te neem, of ek kan vir jou werk by die König kry, of enige ander hotel.”

Rothea het ’n oomblik lank vergeet hy is ’n Richter, met aansienlike invloed wat oral mense ken wat hom graag gunste sal wil bewys.

“En wat word intussen van my woonstel en my meubels?” wil Rothea weet.

“Ek ken ’n meisie met wie ek kan reël om jou woonstel met meubels en al oor te neem. Tydelik, solank dit nodig is.”

“Ek koop ... ek is verplig om soms op rekening te koop,” erken Rothea verleë, met haar oë op die punte van haar sandale. “Ek het maandelikse verpligtinge om na te kom. Dankie vir die aanbiedinge, maar ek kan hulle nie aanvaar nie. Ek kan nie maande lank met verlof gaan nie.”

“Jy het ’n lae dunk van my as jy reken ek beplan om jou werkloos, haweloos en met onbetaalde skuld te laat,” sê Dieter kortaf. “Jy gaan nie Schloss Hoffnung toe met vakansie nie. Jy gaan om te werk en ek sal jou ’n salaris betaal. Een-en-’n-half keer dié wat jy as ontvangdame gekry het.”

“Ek wil nie jou goedhartigheid hê nie.”

Dieter is ergerlik. “Ek bied dit ook nie aan nie. Ook nie gunste en gawes nie. Jy sal vir Albie verantwoordelik wees wanneer Hanna van diens af is en ek sal dit waardeer – as jy bereid is – indien jy my moeder soms geselskap hou. Sy is baie eensaam en kan nie lees of televisie kyk nie. Sien jy kans om saans ’n halfuur lank vir haar uit ’n tydskrif of ’n boek voor te lees, of wil jy liewer nie?”

“Hoekom sal ek nie wil nie? Ek kry jou ma jammer en ek het nie ’n grief teen haar nie.”

“Gaaf. Dan is dít darem gereël.”

Dinge vorder te vinnig na Rothea se smaak. “Ek het nie gesê ek gaan saam plaas toe nie. Jy het skynbaar alles vooraf bedink, maar sonder om my in ag te neem. Jy neem die besluite en tref die reëlings en ek moet sonder meer daarmee inval. Dis blykbaar die soort reaksie waaraan die Richters gewoond is. Het jy in ag geneem dat ek moontlik ’n goed georganiseerde lewe het en nie kans sien om alles te ontwrig nie, net omdat julle skielik, ná bykans drie jaar, jul plig teenoor Albie onthou het? Omdat julle skielik besluit het ’n lewe saam met sy tante is nie meer goed genoeg vir hom nie?”

“Dit was nie skielik nie. Ons moes wag om die saak eers te bespreek. Ernst se dood was vir ons almal ’n skok wat verreikende gevolge gehad het.”

“Alles reg,” antwoord Rothea en haal Dieter se eie woorde van gisteraand aan. “Jy hoef nie soveel moeite te doen om te verduidelik nie. Jy skuld my niks nie. Ek kan begryp dat ’n kind jul lewe op Schloss Hoffnung sal beïnvloed en dat julle ’n halwe jaar nodig gehad het om daaroor te beraadslaag.”

Dieter tel stadig tot by vyf. Dit help egter nie veel nie. Sy humeur begin kort raak.

“Ons het nie beraadslaag nie. Van die begin af was dit ’n uitgemaakte saak dat Albie se plek op Schloss Hoffnung is.”

“Hoekom het julle dan so lank gewag? Nie eers begrafnis toe gekom of julle bekommer wie vir Albie sorg nie?”

“Helmut Krüger het die Richter-gesin by die begrafnis verteenwoordig en vasgestel dat die baba deur ’n familielid versorg word.”

“Ek kan verstaan dat dit vir jou gerieflik was om jou verpligtinge op jou prokureur af te laai. Maar wat van jou ma? Ek het ’n telegram gestuur en ’n brief geskryf, waarop sy nie gereageer het nie.”

“My moeder het die brief vier maande later eers gelees.”

“Omdat sy steeds teenoor Ernst en Barbara verbitterd was?”

“Omdat sy in die hospitaal was ná die beroerte-aanval en in ’n koma was.”

In Rothea se mond is opeens ’n bitter smaak van selfverwyt. Sy was so gou om te oordeel, maar sy het nie die omstandighede geken nie, nie geweet hul prokureur was wel by die begrafnis nie. Vir al wat sy weet, was daar waarskynlik ’n krans ook. Alles was so deurmekaar en sy was nie haarself daardie dag nie.

“Verwyte, teëstand, vrae en argumente ...” Dieter pluk die koelkas se deur oop en haal ’n bier uit. “Medisinaal, as versterking vir die senuwees,” verduidelik hy oor sy skouer. “Toe jy gedink het ek beplan om Albie summier van jou weg te neem, het jy gedreig met hofsake, koerantstories, emosionele onstabiliteit, eendedammetjies waarin ’n kleuter sal verdrink en perde wat hom sal afgooi. Noudat ek instem jy kan saam plaas toe kom, is dit steeds nie vir jou goed genoeg nie. Sien jy waarom ek kla dat jy uitputtend is, Dorothea Beukes? Wat moet die Richters doen om jou tevrede te stel?”

“Uit my lewe verdwyn!” antwoord Rothea uitdagend.

“En Albie aan sy lot oorlaat om skaars bokant die broodlyn te oorleef? Ons is terug by die wegspringplek ... Die toutrekkery. ’n Goed georganiseerde lewe, sê jy? Is jy gelukkig en tevrede daarmee, Rothea? Het jy alles wat jou hart begeer?”

Rothea het gedink die naaste wat iemand daaraan kan kom, is skatryk Olga Richter. Maar aardse skatte is nie vergoeding vir swak gesondheid nie.

“Het enigiemand ooit alles wat hy of sy begeer?” kom sy met ’n teenvraag.

“Sinisme?” Dieter se mondhoeke krul spottend. “Jy is te jonk daarvoor, kleine Fräulein. Is daar dalk ’n ander rede hoekom jy nie uit Upington wil weggaan nie? ’n Vriend, miskien, wat belangriker as Albie is?”

“Ek het voorheen gesê daar is niemand nie.”

Dieter neem ’n sluk bier en gaan sit rustig agteroor op ’n stoel, asof die argument afgehandel is. “Dan sien ek hoegenaamd nie wat die probleem is nie. Jou werk en aardse besittings is veilig en daar is nie ’n kêrel wat intussen met ’n ander meisie sal wegloop nie. Al wat dus oorbly, is jou ingebore koppigheid en jou voorliefde vir stry. Jy het gesien in watter toestand Albie gisteraand was toe jy nie hier was nie. Wil jy ’n herhaling daarvan hê en hom permanent emosioneel ontwrig?”

“Ek is nie seker of dit goed sal wees as ek saam met hom plaas toe gaan nie.” Rothea kyk af na haar hande en na haar kortgeknipte vingernaels. Heel duidelik ’n meisie s’n wat bedags werk en tuis haar eie huiswerk behartig, dink sy wrang. Die meisies met wie ’n man soos Dieter Richter sosiaal meng, het seker almal lang, rooigeverfde naels. Hulle dra nie drie jaar oue sandale en goedkoop katoenrokke wat elke afdelingswinkel om die hoek in ritse aanhou nie.

“Nie seker nie?” vra Dieter fronsend. “Hoe bedoel jy?”

“Omdat die reëlings tydelik van aard is. Waarskynliker net ’n week of drie, tot Albie aan sy nuwe omgewing gewoond is. Daarna sal my teenwoordigheid op die plaas oorbodig wees en jy sal die eerste persoon wees om dit aan my te sê. Die een of ander tyd sal hy van my moet afskeid neem en julle as sy mense aanvaar. Hoekom die afskeid uitrek?”

“Jy weet self te veel veranderings op een slag sal nie goed vir Albie wees nie. Jy het volgehou die vreemde diere op die plaas sal hom bang maak. Jy sal as buffer dien tussen Albie en alles wat vir hom onbekend is. Sodra hy aan ons, Hanna, die diere en die plaaslewe begin gewoond raak, kan jy jou geleidelik onttrek. Jy kan een van my motors gebruik om op Mariental gaan inkopies doen, jou hare laat doen, gaan eet of by vriende op die buurplaas kuier. Ek weet nie of jy tennis speel, swem of perdry nie. Jy sal wel iets vind om jou besig te hou. Stadigaan sal Albie daaraan gewoond raak dat jy nie altyd daar is nie en sal hy ophou om oor jou te huil.”

“Hoe lank het jy gereken sal ek op Schloss Hoffnung moet bly?”

Rothea se vraag is ’n teken van oorgawe, maar Dieter gee geen teken dat hy dit as sodanig herken nie. “Dis vir Albie om te besluit. Ons sal sien hoe dinge ontwikkel. Wanneer kan jy gereed wees om te vertrek?”

Die vraag betrap Rothea onverhoeds. “Ek weet nie. Ek moet inpak, my klere regkry ...”

“Twee weke?” stel Dieter voor.

“Drie,” vra Rothea. “Albie sal ook nuwe klere nodig hê waaraan ek miskien moet werk en verstel, en ek het net saans tyd.”

“Wat het Albie nodig?”

“Alles is gedaan of te klein vir hom. Broekies, hempies, skoene ...”

“Dis geen probleem nie. Ek sal met Helmut Krüger reël om die nodige fondse te voorsien. Koop wat nodig is.”

“Ek kan bekostig om ...”

“Om ’n hele winkel leeg te koop,” val Dieter haar in die rede. “Ek weet dit en ek sê dankie dat jy bereid is om al jou spaargeld te gebruik. Maar van nou af is Albie se behoeftes my verantwoordelikheid. Jy het my prokureur se telefoonnommer en adres. Laat hom weet hoeveel geld jy nodig het, of koop op rekening. Ek sal betaal.”

Rothea wil ’n haastige antwoord oor sy onbeperkte skatte kwytraak, maar al die stoom, argumente en haar verdediging het verkrummel. Haar aggressiwiteit en die beskermende muur wat sy tussen haar en Albie se familie opgebou het, het vermurwe en sy voel alleen en weerloos.

“Soos jy verkies,” antwoord sy moeg.

Dieter lyk verbaas. “Instemming en oorgawe, sonder teëstribbeling? Ek kan dit nie glo nie! Ek en jy sal dalk uiteindelik oor die weg kan kom, Dorothea Beukes. Helmut sal jou help met enige probleme wat mag voorkom. Bel hom net en hy sal tot jou beskikking wees wat geld betref, of ander probleme.”

Jou prokureur, maar nie jý nie, dink Rothea. Dieter Albrecht Richter het waarskynlik belangriker sake op sy agenda as om met ’n kind en sy onwillige tante opgesaal te word. Jy teken liewer ’n tjek as om self met probleme opgeskeep te sit.

“Jy sou nie agter die voetligte ’n reuse-sukses gewees het nie, Mädchen,” terg Dieter. “Jou gedagtes lees soos ’n oop boek. Jammer, maar ja, ek laai alles op Helmut af. Ek sal ongelukkig nie die volgende twee weke hier kan wees nie. Ek moet Frankfurt toe gaan in verband met sake, maar ek sal probeer om op Hoffnung te wees wanneer julle aankom. Kan jy ’n motor bestuur?”

“Oor sekere bereikinge in ’n mens se lewe is jy dankbaar. Ek het my matrieksertifikaat, ek is aangeneem in die kerk en ek het my rybewys. Dankie, meneer Richter, maar ek kan gelukkig motor bestuur.”

“Gaaf. Dan sal dit nie vir Helmut nodig wees om julle op Upington te kom haal nie. Reël met hom om ’n motor of ’n bakkie of ’n kombi te huur – volgens jou behoeftes – om mee plaas toe te kom.”

“Dankie,” sê Rothea formeel. “Ek dink nie dit sal vir Albie belangrik wees of sy oom op die plaas is of nie, wanneer ons aankom nie.”

“Ek stem saam, maar ek belowe nogtans Albie sal voorkeur kry bo ’n saketransaksie.”

Belangrik vir Albie om ’n bekende gesig te sien – of vir háár – dat Dieter daar sal wees om hulle te ontvang? wonder Rothea. Sy weet daar is ander reëlings om te tref en honderd-en-een vrae wat sy Dieter behoort te vra, maar sy kan aan geeneen dink nie.

“Schloss Hoffnung is miskien nie Utopia nie, maar daar is meer as blêrende lammers, kreunende windpompe en sandduine,” sê Dieter. “Ons het die somer goeie reën gehad. Die veld is mooi en die damme is vol.”

“Hardapdam is daar naby, nie waar nie?”

“Ja, met ’n natuurreservaat en ’n groot verskeidenheid wild en watervoëls. ’n Mens kan ’n boot huur, waterski of visvang. Sal ’n nabye vakansieoord tot Schloss Hoffnung se draaglikheid bydra?”

“Aan my maak dit geen verskil nie. Ek gaan daarheen om te werk. Dis vir Albie wat jy van die bokke en voëls en bote moet vertel.”

“Hy sal die hoenders en swembad op die plaas verkies.” Dieter is onverwags geamuseerd. “Ons onthaal dikwels, maar jy sal die teësinnigste gas wees wat al ooit op Hoffnung gekuier het. Ek hoop jy sal binne die eerste dag tot ander insigte kom en die rus geniet.”

“Ek sal probeer.”

Die glimlag op Dieter se gesig verdwyn om hom somber te laat lyk.

“Miskien moet ek jou voorberei, Rothea, dat dit – veral in die begin – nié ’n vakansie sal wees nie. Soos jy opgemerk het, is my moeder nie meer jonk nie. En soos jy weet, is sy nie gesond nie. Haar verstand is nie te alle tye helder nie en sy leef soms in die verlede, wanneer sy teen Ernst uitvaar en hom van dinge beskuldig wat liewer verswyg moet word. Sommige dae aanvaar sy dat Ernst weggegaan het en nie met Ilse getrou het nie, ander kere is sy verbitterd teenoor hom en Barbara. Wat jou betref – ek is eerlik wanneer ek sê jy sal nie met oop arms ontvang word nie. Albie is welkom, maar nie sy ma se suster nie.”

“Ek begryp.”

“Maak ek die situasie duidelik genoeg? En is jy bereid om in sulke omstandighede saam met Albie te kom?”

Dit gaan om meer as slegs Albie, besef Rothea met ’n sinkende gevoel in haar binneste. Sy ken die man skaars. Sy het hom maar Vrydagaand die eerste keer ontmoet en dis skaars agt-en-veertig ure gelede, waarvan hulle die helfte geslaap en die helfte gestry het. Tussenin het hy haar skaars raakgesien en sy glo nie hy sal eers onthou watter kleur oë sy het nie. Tog, hoewel dit onsinnig is en sy dit nie wil erken nie, selfs nie eens teenoor haarself nie, sou sy nie so geredelik ingewillig het om plaas toe te gaan as sy nie geweet het Dieter Richter sal ook daar wees nie.

Rothea is bang haar gesig is weer ’n spieëlbeeld vir haar gedagtes. Sy kyk af na haar skoot. “Ja, ek is bereid.”

“Terwyl ons hieroor praat, moet ek Ilse miskien ook noem. Ek het mos verduidelik sy kuier dikwels op die plaas ...”

Dieter se stem is anders as toe hy van sy ma gepraat het. Soos toe hy gesê het: Ilse is ’n pragtige meisie, verfynd en sensitief. Die sinkende gevoel in Rothea se binneste word ’n loodswaar gewig in haar hart terwyl sy wonder: Vir wie kom Ilse Bauer kuier? Die ma? Carl? Of ... vir Dieter?

Rothea is verbaas oor hoeveel die antwoorde op haar vrae saak maak. Ilse is van Duitse afkoms en die twee gesinne is jare lange huisvriende. Die meisie ken Dieter dus goed. En Dieter het beklemtoon dat Ernst haar swak behandel het en hoe jammer hy vir arme Ilse voel. Jammer? herhaal Rothea teenoor haarself. Of strek Dieter se gevoel vir Ilse Bauer verder as jammerte en vriendskap?

“Sy is soos ’n eie dogter in julle huis,” voeg Rothea by.

Dieter knik. “Daarom is dit onvermydelik dat jy en Ilse by mekaar sal uitkom. Dis te begrype dat sy ’n grief teen jou suster koester. Barbara was die oorsaak dat haar verlowing verbreek is en dat Ernst nie met haar getrou het nie.”

“En ek is Barbara se identiese tweelingsuster?”

Dieter haal sy skouers hulpeloos op. “Ek weet nie hoe Ilse teenoor jou sal optree nie. Ek het net gedink dis miskien billik om jou vooraf te waarsku.”

“Dankie.” Rothea dwing ’n dapper glimlag na vore. “Daniël in die leeukuil? Of steek ek my kop in ’n bynes?”

“Albei. Solank jy voorbereid en vooraf gewaarsku is ... Dan sien ons mekaar oor drie weke op Schloss Hoffnung?”

Ettie Bierman Keur 8

Подняться наверх