Читать книгу Ettie Bierman Keur 10 - Ettie Bierman - Страница 10

7

Оглавление

Hoewel Donnie belowe het om gereeld te skryf en die eerste vry universiteitslangnaweek huis toe te kom – al moet hy ryloop! – mis Hennie nogtans haar vrolike vriend van die afgelope paar weke. Sy het al daaraan gewoond geraak dat hy elke oggend om tienuur kom tee drink het, nonsenspraatjies verkoop het, gesê het hy gaan eendag met haar trou en dan ’n paar uur lank in die tuin gehelp het om orde in die onkruid-chaos te skep. Van die twee ander lede van die Meiring-gesin het Hennie nie veel gesien sedert die universiteit weer begin het nie. Net die geboë figuur van ou meneer Meiring, kierie in die hand, besig om rose in die tuin te snoei. Hy het nie opgekyk nie en Hennie het ook nie sy aandag probeer trek om te groet nie. Sy het nie die geringste begeerte om Donnie se pa te ontmoet nie, al is hy ook miskien haar toekomstige skoonpa. Die roomkleurige Mercedes het Hennie twee keer sien verbyry. Dog die bestuurder het nie na links of regs gekyk nie, net die hek oopgemaak, weer toegemaak en in ’n stofwolk verdwyn. Hennie het gewonder of dit die beroemde hek is wat oupa Drik noodgedwonge moes breek om sy kliënte deur te laat.

En eenkeer het Hennie Carl per ongeluk by die poskantoor op Dendron raakgeloop toe sy haar pos gaan uithaal het. Albei was ingedagte en nie een van hulle twee was oplettend genoeg om ’n ontmoeting betyds te vermy nie. Hennie wou onverrigter sake omdraai, dog Carl Meiring was vinniger. Toe hy haar by die ry posbusse sien staan het, het hy blykbaar besluit ’n paar koerante, briewe en rekeninge is minder belangrik as om tot elke prys ’n ontmoeting met sy buurvrou vry te spring. Hy het kortom gedraai en weggestap, sonder om te groet. ’n Duiweltjie in Hennie se binneste het haar aangehits om heeldag voor die posbusse te bly staan sodat Carl nie sy pos kan kom uithaal nie. Sy sou graag so moedswillig wou gewees het en gekyk het wat Carl se reaksie is, dog dit was ’n Saterdagoggend en sy het te veel inkopies gehad om te doen voor die winkels om eenuur gesluit het. Wat sy egter wel gedoen het en baie geniet het, was om ’n nota met ’n stukkie hegpleister aan Koedoespoort se posbus vas te plak. Dit het so gelui: Jy hoef nie meer bang te wees om jou posbus te kom oopsluit nie. Ek is weg. Dit was vir Hennie vreeslik amusant en op pad huis toe het sy nog steeds sit en grinnik oor haar oulike sin vir humor. Sy sou wat wou gee om Carl Meiring se gesig te sien wanneer hy by sy posbus kom en haar boodskap lees. Sy glo nie hy besit ’n sin vir humor en dat hy haar spitsvondigheid sal geniet nie. Dis hoekom sy so graag sy gesig sou wou sien …

Nou, drie dae later, giggel Hennie nog steeds oor die nota terwyl sy twee leerlinge van Happy Rest-skoolplaas beduie waar hulle moet gaan soek na boeke wat oor Amerika handel.

“Dis by vakliteratuur, Ansie,” verduidelik Hennie. “Is dit vir ’n aardrykskunde-taak wat jy die inligting nodig het?”

Die dertienjarige dogter glimlag skamerig. “Ja, Tannie, maar dis eintlik my boetie wat die taak moet uitwerk. Hy was te skaam om alleen te kom, toe sê my ma ek moet saam met Kosie kom.” Sy soek na haar jong broertjie en lyk vies toe sy hom buite in die tuin sien speel. “En nou moet ek die boeke soek, terwyl hy buite rondhardloop. Kosie is vreeslik stout. Hy gee my ma grys hare. Ek wens hy was liewer ’n sussie, wat liewerster met poppe gespeel het, pleks van met sy simpel ou karretjies en treintjies en alewig met vuurhoutjies.”

“Hier is heelwat boeke wat oor die Verenigde State handel. My oupa was twee keer daar met vakansie en het uitstekende vakliteratuur teruggebring. As ’n mens na die kleurplate kyk, is jy ook sommer lus en gaan hou in New York vakansie.”

“Was Tannie al oorsee?”

“Nee, maar ek wil baie graag gaan. In daardie opsig aard ek na my oorlede oupa. Ek het net sulke jeukende voete soos hy gehad het.”

Hennie stap saam met Ansie van Zyl om haar te wys op watter rakke die vakliteratuur gehuisves word, maar dan eers registreer sy wat die dogter so pas gesê het.

“Vuurhoutjies? Speel Kosie graag met vuurhoutjies?” Sy kyk bekommerd deur die venster om te sien waar die stoute klein seuntjie hom bevind. “Ek hou nie daarvan dat kinders met vuurhoutjies speel nie. Hier is die boeke, Ansie. Kyk jy solank na hulle, dan gaan ek net gou kyk waar daardie boetie van jou is.”

Kosie van Zyl staan by die ashoop, besig om na die droë gras en onkruid te kyk.

“Nee,” raas Hennie dadelik. “Jy mag dit nie aan die brand steek nie!” Sy kry lag vir haarself. Hier op Sesdorings, ná sy gesê het sy is nie ’n goeie onderwyseres nie, maar sy het nog nie verleer hoe om stoute kinders te hanteer nie. Effens minder skerp voeg sy by: “Jy is ’n regte klein piromaan.”

“’n Piro-wat, Tannie? Watse ding is dit?”

“Jy kan dit in die biblioteek in ’n woordeboek gaan opsoek terwyl jou arme suster jou huiswerk vir jou doen,” sê Hennie streng.

“Kan ek nie liewerster met die hond speel nie?”

“Ja, goed, maar moenie hom seermaak nie en moet ook nie met vuurhoutjies speel nie, hoor?”

“Wat is sy naam, Tannie?”

“Lassie.”

“Maar hy is mos nie ’n kolliehond nie, Tannie.”

Nadat die twee kinders op hulle trapfietse geklim het en weg is, bedien Hennie nog ’n paar kliënte en ’n boer wat ’n boek oor tuinbou soek. Dan doen sy ’n vinnige rondte deur die tuin om te kyk watter kattekwaad Kosie van Zyl dalk aangevang het. Alles lyk ongeskonde. Die vullis op die ashoop is nie aan die brand gesteek nie, hy het nie haar enigste, kosbare suurlemoen van die boom afgepluk nie en ook nie oral lekkergoedpapiertjies rondgestrooi nie. Alles lyk normaal, behalwe dat Hennie Lassie nêrens kan kry nie.

“Het Talettie die hond nie dalk gesien nie?” wil Hennie weet.

“Nee, my kind. Ek was hier in die kombuis besig om koppies te was. Het Lassie nie dalk agter die kinders aangehardloop nie? Jy weet mos hoe spelerig hy altyd is.”

“Ja, Tante, en dis hoekom ek bang is hy is agter die trapfietse aan.” Hennie roep en fluit na haar hond, doen weer ’n rondte deur die tuin en stap dan terug kombuis toe. “Sal Tante die fort ’n halfuur kan hou, dan ry ek gou agter die kinders aan om na Lassie te soek?”

“Goed, my kind.”

Hennie se motortjie het nog nie weer las gegee nie en sy haal die twee kinders na ’n paar minute in. Maar nee, hulle het nie die hond gewaar nie en die stoute klein Kosie is dadelik op die verdediging.

“Ek het hom nie gevat nie, Tannie. Ek het met hom gespeel, maar ek het hom daar by die hek gelos.”

“Het julle die hek toegemaak ná julle deur is, Ansie?”

“Ja, Tannie. My pa het ons geleer om nooit hekke te laat ooplê sodat die beeste kan uitkom en deurmekaar raak nie. Ons het Tannie se hek stewig toegemaak.”

“Dis Koedoespoort se hek. Maar jy sê julle het dit toegemaak en die hond het nie agter julle aangehardloop nie?”

“Nee, Tannie.”

Hennie ry met ’n omweg huis toe, dog nêrens is ’n teken van haar rondloperhond nie. Tant Lettie het hom ook nie gesien nie.

“Lassie is nog te jonk om padvernuf te kon aanleer. Ek is bang ’n motor ry hom dood.”

“Lassie was nou-nou nog hier, my kind. Hy kan nie ver wees nie. Jy dink nie hy het dalk deur die draad gekruip nie?”

“O aarde, Talettie, ek hoop nie hy is op Koedoespoort nie! Don sê sy pa is baie erg oor sy roostuin. Wat maak ek as Lassie dalk al hulle rose uitgegrawe en flenters gekou het?”

Hennie hardloop na die lyndraad toe en, sowaar, daar is haar hond besig om in Koedoespoort se tuin te grawe. Sy roep en fluit, dog die jong hond het blykbaar op interessante nuwe geure afgekom en steur hom nie aan sy nooi nie.

“Lassie!” roep Hennie woedend. “Kom huis toe!”

Die jong wolfhond kyk nie eers op nie.

“Tante!” roep Hennie radeloos. “Het Tante dalk opgelet of die Meirings vanoggend hier verbygery het op pad dorp toe?”

“Ek dink so, hartjie. Ek is nie seker nie, maar ek verbeel my ek het Carl se motor netnou sien verbygaan. Hoekom vra jy?”

“Omdat daardie laspos van ’n hond besig is om ou oom Meiring se rose uit te grawe!”

“Gaan haal hom, my kind.”

“En as die Meirings my op hulle grond betrap?”

“Hulle sal niks aan jou doen nie. Carl sal mos verstaan dat jy jou hond kom haal het.”

“Sal hy?” Hennie is nie so seker daarvan nie. “Lassie!” roep sy weer.

“Carl is nie so sleg as wat jy my altyd wil wysmaak nie, hartjie. Ek sê mos vir jou dis Don wat altyd moeilikheid gesoek het. Dis hy, en nie Carl nie, wat met jou oupa baklei het.”

Hennie weet dat tant Lettie nooit ’n goeie woord vir Donnie het nie en hom blameer vir die onenigheid tussen haar oupa en die Meirings. Sy dink ook sy weet wat die rede vir die ou dame se vooroordeel is. Tant Lettie Jansen is gelukkig op Sesdorings. Sy is in haar element in die kombuis en sy geniet dit om die teekamer te behartig. Sy is bang die vriendskap tussen Hennie en Donnie raak ernstig en dat haar werkgeefster sal trou en Sesdorings verkoop. Want dan sit sy sonder die teekamer en die werk wat sy so geniet. Daarom laat sy geen kans verbygaan om Donnie te beswadder en daarvan te beskuldig dat dit hy is wat al die onenigheid in die verlede veroorsaak het nie.

Donnie het haar vooraf gewaarsku tant Lettie sal hom swartsmeer en allerhande leuens oor hom vertel, het Hennie by meer as een geleentheid gedink en haar nie veel aan die ou dame se stories gesteur nie.

“Dit was nietemin Carl wat my ’n aanbod vir Sesdorings gemaak het, Tante.”

“Dis net omdat hy die oudste broer is en al hulle finansies behartig, aangesien ou oom Meiring nie gesond is nie. Don kan in elk geval nie met geld werk nie. Hy mors sy pa se geld daar op universiteit.”

“Dis nie geldmors om te studeer nie, Tante.”

“Mits jy jou eksamens deurkom. Carl het net drie jaar geneem, toe het hy sy landbougraad. Maar Don sit al vier jaar op universiteit en hy is nog niks verder as in sy tweede jaar nie.”

Dis vir Hennie nuus dat Donnie maar in sy tweede jaar BSc is. Sy is seker hy het vir haar vertel dat hierdie sy finale jaar op universiteit is. Ja, hy het tóg gesê hy is in sy vierde jaar …

“Nee, ek sê mos altoos, as jy dan met ’n Meiring wil trou, Hennie, om die dele van Sesdorings terug te kry wat jou oupa verkoop het, is Carl die een om na te vry. Hy sal vir jou ’n beter man wees as sy jonger broer.”

“Tante! Ek vry nie na Donnie nie. En ek wil ook nie met hom trou net sodat ek Sesdorings kan terugkry nie.”

“Jou oupa sou trots op jou gewees het, my kind,” gaan ou tant Lettie onverstoord voort. “As jy op so ’n manier vir Don Meiring terugbetaal. Jou oupa sou ook gesê het: trou met hom, sorg dat hy die grond op jou naam sit, los hom uit en lag lekker oor die slim manier wat jy jou erfgrond teruggekry het.”

“Tante!” roep Hennie ’n tweede keer geskok uit. “Ek is nie so ’n gewetenlose soort vroumens nie. As ek met ’n man trou, sal dit wees omdat ek hom liefhet.”

“As ek jy was, sou ek liewer op Carl verlief geraak het. Liewer hy as Don of daardie prokureurtjie wat net altyd ’n verskoning soek om vir jou te kom kuier.”

“Donnie en ek is niks meer as platoniese vriende nie, Tante. Ek glo nie ek sal ooit met hom trou, of met Wynand nie.”

“Wynand Bothma dink nie so nie. Hy kuier darem alte gereeld op Sesdorings … Hy kan nie daardie boeke so vinnig deurlees dat hy elke week nuwes kom uitneem nie. Elke Saterdagmiddag is hy hier …”

“Talettie, my liefdesake is nie nou ter sake nie. Wat wel ter sake is, is dat my hond amok maak in meneer Meiring se roostuin, terwyl ek staan en tyd mors. Dink Tante ek kan dit waag om oor die draad te klim?”

“Carl sal nie kwaad wees nie.”

“Tot hy die vernielde roostuin sien … Of moet ek eers skakel en vra of ek my hond kan kom haal?”

“As Carl en sy pa by die huis is, sal hulle buite by die beeste of die landerye wees. Hulle sal nie die telefoon hoor lui nie.”

Hierdie laaste inligting gee Hennie meer moed. Sy roep weer na Lassie, raas met hom en gooi ten einde laaste ’n klippie na die hond om sy aandag te trek.

“Het Tante al so ’n stoute hond gesien? Kyk, hy steur hom nie aan my nie.”

Hennie kyk vir oulaas of sy enige beweging op Koedoespoort se werf gewaar. Toe alles stil lyk, klouter sy oor die draad en hardloop al met ’n voetpad langs. Sy skrik toe sy die skade aan die roosbome sien. ’n Paar van die struike is heeltemal uit die grond gegrawe en van die netjiese walletjies wat ou meneer Meiring om die struike gemaak het, is geen teken nie. Vir die eerste keer sedert Donnie die hond vir haar gegee het, is sy woedend vir Lassie.

“Gaan huis toe!” raas sy. “Kyk wat het jy aangevang!”

Die jong wolfhond dink dis weer tyd vir speletjies. Hy ruk en pluk nog ’n roosboom uit die grond, gryp dit in sy bek en hardloop wye sirkels om Hennie.

“Lassie, gaan huis toe!” Hennie probeer die hond gevang kry, maar hy is te rats vir haar. Hy dink dis weer die speletjie wat hulle elke aand voor ete speel – wanneer sy nooi hom jaag en die bal by hom probeer afneem. Hy blaf uitbundig en sorg dat hy net buite bereik van die grypende hande bly. Toe Lassie die roosboom uit sy bek laat val het, gryp Hennie dit en probeer hom daarmee nader lok. Sy het die hond geleer om stokke te jaag en sy hoop Lassie sal die roosboom uit haar hand probeer gryp, sodat sy hom kan vang. Lassie is egter te slim. Hy blaf, hardloop ’n draai oor die werf en kry dan weer die heerlike geur van ’n ou been wat hy ’n paar dae gelede hier kom begrawe het. Hy verloor belangstelling in die speletjie en grawe ou meneer Meiring se mooiste pienk Doris Day uit die grond, op soek na die skaapboudbeen wat hy hier iewers begrawe het. Hennie verloor haar geduld met die moedswillige hond. Sy storm op hom af, swaai die stuk roosboom en slaan hom ’n harde hou op die boud.

Lassie het netnou haar bevel goed verstaan, maar hy was nie lus om dit te gehoorsaam nie. Nou sien hy dat sy nooi kwaad is en hy verander vinnig van mening. Hy tjank verskrik en laat vat na die gat in die draad waar hy altyd deurkruip.

“En nou bly jy aan daardie kant van die draad!” skree Hennie hom agterna. “Tant Lettie, sluit vir Lassie in die biblioteek toe!”

Hennie beskou die skade aan die tuin. Haar moed sak in haar skoene. Sy is baie lus en volg Lassie se voorbeeld – hardloop ook weg en ontken daarna enige kennis van ontwortelde roosbome en vernietigde walletjies. Sy weet egter dat die Meirings sal raai wie die skuldige was en sy is baie bang vir hulle wraak. Sy moet hulle liewer nie ’n stok gee om haar mee te slaan nie …

Hennie val op haar knieë en begin vir die vale walletjies bou en gate grawe. Sy wens sy kon gou huis toe hardloop om ’n graaf te kry, maar sy is bang die Meirings kom intussen van die dorp of die landerye af terug. Gelukkig is alles tot dusver nog doodstil. Dit lyk of hulle gelukkig nie tuis is nie, anders sou Carl natuurlik lankal kom kyk het wat aan die gang is en haar weer beledig en uitgevreet het en seker nog boonop skadevergoeding geëis het. Sy moet net so gou en so deeglik moontlik probeer regmaak wat haar hond verbrou het, voor hy haar hier betrap …

Hennie werk vinnig. Ná tien minute is die gate wat Lassie gegrawe het, toegekrap en die walletjies weer só netjies gemaak as wat ’n onkundige tuinier hulle kan kry. Die eerste roosboom is weer in die grond – hopelik op sy regte plek – en daar lê nog net drie ander wat herplant moet word. Hennie vee die los grond met haar hande gelyk. Sy het nie groeivingers nie. Wat sal meneer Meiring dink as sy roosbome ewe geheimsinnig een na die ander begin doodgaan? Sy kruip op haar knieë agteruit om haar handewerk te bekyk en buk dan vooroor om die grond op ’n paar plekke vas te druk sodat dit meer natuurlik moet lyk.

“Jy het die kompos vergeet,” sê ’n koel stem reg agter haar. “As ’n mens rose plant, moet jy altyd ’n halfkilogram kompos in die gat gooi en met die grond meng sodat dit nie die plant se wortels brand nie.”

Hennie vlieg verskrik om. Carl Meiring leun teen die sonnewyster, arms gevou en ’n grimmige uitdrukking op sy gesig. Hy lyk skielik vir Hennie baie groter as wat sy hom onthou het. Breedgeskouerd en vreesinboesemend. Seker omdat sy bang is.

“Hoe lank staan jy al hier?” stamel Hennie verbouereerd.

“’n Paar minute. Sedert die operasie begin het.”

Hennie weet sy is in ’n hoek gedryf. Sy kan nie wag dat die jagter haar keel-af sny nie. Sy moet grom en tande wys.

“Hoekom het jy nie lankal gesê jy staan hier nie?” vra sy strydlustig.

“Ek het gedink jy weet,” kom die koel antwoord. “Ek het gedink jy het besluit om my weer te ignoreer, soos jy die afgelope paar weke gedoen het.”

Dit neem al die wind uit Hennie se seile.

“Wel, ek … ek het jou nie gesien nie,” sê sy lamlendig. Hierdie man besit blykbaar die gawe om haar altyd in ’n onvleiende en onvroulike posisie te betrap. Net soos daardie eerste keer, was sy sitvlak-in-die-lug en sy kan raai hoe sy van agter af moes gelyk het. Omdat sy verleë en skuldig voel, maak dit haar kwaad. Sy stoot haar skouers agteroor en haar stem is parmantig.

“Dis jy wat my hond aangelok het. Eergister het hy ’n vreemde been gehad. By wie anders sou hy dit gekry het as dit nie by jou was nie?”

“As jy die hond genoeg kos gee, sal hy nie by ander mense se asblikke kom rondsnuffel nie.”

Die onregverdige aantyging laat Hennie baie verontwaardig voel.

“Jy kan nou gaan kyk en jy sal Lassie se skottel halfvol vind. Hy eet nooit al die kos op wat ek vir hom gee nie.”

“Ek sal jou woord daarvoor moet neem, juffrou Vermaak. Ek het geen begeerte om my voete op Sesdorings te sit om na jou hond se bak kos te gaan kyk nie.”

“Ek het ook nie die geringste begeerte gehad om my voete op Koedoespoort te sit nie, maar aangesien jy my hond aangemoedig het om deur die draad te kruip, moes ek noodgedwonge agterna kom om die skade te herstel.”

“Juffrou, ek is lief vir honde en het self ’n paar, maar ek sal beslis nie ’n vreemde hond, bygesê ’n wolfhond, na my plaas aanlok nie, veral nie in die lammerseisoen nie.”

“Lassie sal nie jou kosbare skape opeet nie.”

“Ek verkies om nie die risiko te loop nie. Hou hom asseblief in die toekoms aan jou kant van die draad.”

“Ek kan dit nie verhelp as hy gate onderdeur die draad grawe nie.”

“Hou hom dan in die biblioteek toegesluit.”

“Jy kan nie so danig lief wees vir diere as jy so iets voorstel nie, meneer Meiring.”

“Ek is lief vir diere,” herhaal hy met nadruk. “My jong skaaplammers inkluis. Ek sien nie graag dat hulle binnegoed uitgeruk word nie.”

“Lassie sal nie so iets doen nie. Hy het ’n sagmoedige geaardheid.”

“Ja, so het ek by ’n vorige geleentheid opgemerk,” laat Carl droogweg val.

Hennie weet na watter geleentheid die haatlike Carl Meiring verwys en sy word effens rooi toe sy onthou hoe swak Lassie hom in die kafee gedra het – hoe hy almal wou byt wat naby hom gekom het. Hennie weet nie wat haar nou te doen staan nie. Moet sy sonder ’n woord verder voortgaan om die rose terug te sit, of wegstap en hom dwing om sitvlak-in-die-lug in die grond te vroetel?

“Dit spyt my dat my hond jou vader skade aangedoen het,” sê sy styf. “Verduidelik asseblief wat gebeur het en vra hom om die rekening aan my te stuur.”

Carl is nie familie van oupa Drik nie, maar hy het ook ’n mate van moedswilligheid van sy streng vader geërf. Hy kan die versoeking nie weerstaan om die opening te neem wat Hennie Vermaak vir hom gelaat het nie. Hy weet dis lelik om ou koeie uit die sloot te haal, maar hierdie snip van ’n rooikop kry dit reg om elke keer die slegste eienskappe in hom uit te bring, teen sy sin en sonder dat hy bedoel om met haar rusie te maak.

“Wat sal dit help?” vra hy lakonies.

“Ekskuus?”

“Wat sal dit help om vir jou ’n rekening te stuur? Die Vermaaks betaal mos nie hulle skuld nie.”

Carl besef dadelik dit was baie lelik van hom. Daar is ’n boetvaardige uitdrukking op sy gesig en hy wil om verskoning vra, dog Hennie gee hom nie die geleentheid nie.

“Jy is ’n haatlike man! Ek kan verstaan hoekom my oupa so ’n hekel aan julle klomp Meirings gehad het. Dit kom my egter voor of my oupa nie al een met agterstallige skuld was nie. Ek reken jy skuld my ’n hele paar honderd rand, meneer Meiring.”

Carl lyk totaal uit die veld geslaan. “Vir jou?”

“Ek is my oupa se erfgenaam, gevolglik skuld jy die geld aan my.”

“Waarvoor?”

“Vir ’n sekere motor wat jy van die hand gesit het en gerieflikheidshalwe van vergeet het. Of ontken jy nie dat jy die grootste deel van die verkoopsom in jou eie sak gesteek het nie, meneer Meiring?”

’n Oomblik lank dink Hennie dat sy hierdie keer te ver gegaan het. Daar is ’n verergde flikkering in die blou oë en sy verwag ’n dwars antwoord. Dit lyk eers of Carl iets anders sou sê, dan vra hy koel: “Verwys jy na daardie stuk blik wat aan jou oupa behoort het?”

“Ek het uit ’n betroubare bron verneem dat dit ’n splinternuwe motor was wat jy laat wegsleep en verkoop het om kastige uitstaande skuld van my oupa te delg.”

“Wie is jou betroubare bron?”

Donnie het haar gewaarsku om ten alle koste nie die saak met Carl te bespreek nie. Hennie was nie van plan om Donnie se raad te verontagsaam nie, maar sy het haar humeur verloor en gepraat voor sy gedink het. Die minste wat sy nou kan doen, is om nie die jonger broer in die stryery te betrek nie.

“Ek verkies dat die identiteit van my bron geheim bly.”

“Spaar my asseblief die melodrama, juffrou Vermaak. Jy sê hierdie uiters betroubare bron het jou in kennis gestel dat dit ’n splinternuwe motor was?”

“Ja.”

“Ek stry nie en ek dwing ook nie my mening op jou af nie. Jy kan vir jouself gaan oordeel. Die … e … motor staan nog by Dendron Motorhawe. Dis in die hoofstraat, reg langs die poskantoor. Ek is seker jy weet waar laasgenoemde is …”

Hennie onthou van die vermakerige nota aan Koedoespoort se posbus en word effens rooi. Sy is egter nie van plan om vir haar boodskap om verskoning te vra nie. Nie teenoor hierdie aaklige man nie.

“Ek weet waar die poskantoor is,” sê sy sonder emosie.

“Dendron Motorhawe is langsaan. Vra om met meneer Niek Wolhuter te praat. Hy sal jou wys watter … e … motor aan jou oupa behoort het en hoeveel ek daarvoor gekry het.”

“Ek sal dit met graagte doen. Is jy nie bang dat ek die volle waarheid sal uitvind nie?”

“Nee, juffrou Vermaak.”

“In daardie geval sal jy seker nie omgee om die adres te verstrek van die messelaar wat sekere bouwerk vir jou gedoen het nie, meneer Meiring.”

“Ou Ali.”

“Miskien moes ek nie gesê het bouwerk nie. Ek dink op die voorlopige likwidasie- en distribusierekening het dit gelees: herstel van beskadigde eiendom.”

“Dis ou Ali, ja, wat die pleisterwerk vir my gedoen het. Maar jy kan nie na hom gaan soek nie.”

“Hoekom nie? Bang vir wat Ali dalk vir my kan vertel?”

“Nou goed,” sê Carl kwaad. “Foeter dan maar alleen in die lokasie in, juffrou Vermaak, maar moenie agterna by my kom kla as jy probleme gekry het nie.”

“Ek sal nie,” antwoord Hennie liefies. “As my motor se voorruit met klippe bestook word of my keel met ’n panga afgesny word, sal ek nie na jou toe hardloop nie.”

“Na wie toe dan? Na my broer? Of Wynand Bothma?”

“O, ek het nog baie ander kêrels wat toustaan om met my te trou, meneer Meiring,” sê Hennie vroom. “Enigeen van hulle brand om vir my ’n guns te doen. ’n Guns soos om byvoorbeeld ’n bietjie spioenasiewerk by ’n sekere koerant se kantoor te gaan doen.”

“Wat bedoel jy?” Dit lyk of Carl Meiring geen idee het waarop Hennie sinspeel nie.

“Miskien sal dit jou geheue verfris as ek meld dat ’n sekere kennisgewingbord met dieselfde geval verband hou.”

“Ek weet nog steeds nie waarvan jy praat nie.”

“Ontken jy dat jy enigiets daarmee te doen gehad het? Selfs al sê ek dat ek onweerlegbare bewyse het dat jy die skuldige was?”

“Ek kan iets nie ontken as ek nie die vaagste benul het waarop jy afspeel nie.”

“Jy is nie ’n goeie toneelspeler nie, meneer Meiring. Ek weet jy probeer hard, maar jy kry dit nie reg om te lyk asof botter nie in jou mond sal smelt nie.”

“Juffrou, jy praat in raaisels en ek het nie die geduld om hulle te probeer ontrafel nie. Ook nie tyd om heeldag na jou te staan en luister nie. Wat is jy van plan om met daardie roosbome te doen?”

“Hulle weer te plant of die skade te betaal.”

“Ek dink ek weet meer van rose plant af as jy, Juffrou. Bepaal jou liewer by jou biblioteek en daardie lang tou mense wat blykbaar op hulle geagte bibliotekaresse wag.”

Hennie kyk oor haar skouer en merk tot haar verbasing dat daar regtig drie motors onder die soetdoringbome staan. Arme tant Lettie het seker haar hande vol om die uitleenkaartjies sowel as die verversings te behartig. Sy is skielik haastig om te gaan help en van Meiring-grond pad te gee.

“Moenie die halfkilogram kompos in die gat vergeet nie, meneer Meiring,” herinner sy baie vriendelik. “En, meneer Meiring, onthou om dit deeglik met die grond te meng, sodat die plante se wortels nie brand nie.”

Hennie wag nie om die uitwerking van haar afskeidswoorde te sien nie. Sy draai om en stap vinnig weg, al met die voetpad langs, waar sy ’n halfuur gelede gehardloop het. Sy hoop nie Carl Meiring is van plan om te staan en wag en te kyk hoe sy sukkel om oor die draad te klim nie. Met haar geluk en sy talent om haar altyd in ongemaklike situasies te betrap, sal haar denimbroek se naat op ’n strategiese plek oopbars of skeur waar dit nie moet skeur nie en dan sink sy uit skaamte in die aarde weg.

“En juffrou Vermaak …!” roep Carl Meiring net toe Hennie ’n onhandige voet op die boonste draad geplaas het en vir lewe en dood aan die heiningpaal vasklou om nie haar balans te verloor nie. “Dis nie dat ek bang was om my posbus te kom oopsluit nie. Dit was uit hoflikheid – om jou die verleentheid van ’n ontmoeting met my te spaar.”

“Hoe bedagsaam van jou!” roep Hennie uit. Sy moes egter nie opgekyk het toe sy geantwoord het nie, want op daardie oomblik steek haar skoen se hak vas en tuimel sy van die draad af, om hard met moeder aarde kennis te maak. ’n Skerp pyn flits deur haar enkel, dog Hennie ignoreer dit. Sy kyk eerste op om te sien of Carl haar vernedering aanskou het en lekker staan en lag. Tot haar verligting het hy reeds weggestap, op pad na die afdak waar hulle tuingereedskap blykbaar weggesluit is.

“Ja, ’n verstuite enkel is ’n mens se verdiende loon as jy so katterig was,” raas Hennie met haarself terwyl sy kruppel aansukkel biblioteek toe.

Ettie Bierman Keur 10

Подняться наверх