Читать книгу Ettie Bierman Keur 10 - Ettie Bierman - Страница 6
3
ОглавлениеDie sleeprit het langer geduur as wat Hennie verwag het en een of twee keer het die tou byna gebreek toe sy die Volkswagen se remme te stadig gelos het, uit vrees dat Carl Meiring weer gaan rem en sy teen hom mag vasry. Carl raak egter niks kwyt oor haar swak bestuursvernuf toe hulle op Sesdorings stilhou nie. Hy klim uit en ontkoppel die tou. Dan staar hy ergerlik na die rooi baksteengeboutjie. Alles is pikdonker en nêrens is ’n teken van lewe nie.
“Het jy die sleutels?” vra hy kortaf.
Hennie was van plan om te sê dat hy dadelik mag ry, maar toe ook sy die donker geboutjie sien, voel sy onverwags grillerig om alleen binne te stap en haar bagasie aan te dra. Dis vernederend om nog verder van Carl Meiring se hulp afhanklik te wees, maar sy sluk haar trots en oorhandig sonder teëstribbeling die voordeursleutel.
“Het jy niemand laat weet dat jy kom nie?” wil Carl weet terwyl hy die krakerige voordeur oopstoot.
“Daar was niemand om te laat weet nie. Ek ken geen mens in hierdie omgewing nie.”
“Gaan jy alleen hier woon?”
“Tot tyd en wyl ek ’n geskikte persoon kan kry om by my te loseer. Ek het gehoop om ou mevrou Jansen om te praat. Sy is ’n weduwee sonder afhanklikes en …” Hennie besef skielik met wie dit is wat sy ewe vriendelik staan en gesels en haar lippe sluit ferm opmekaar. Wat traak dit hom of sy soos ’n kluisenaar gaan woon?
Carl se hand voel na die ligskakelaar, dog dit werk nie. Hy brom iets onderlangs, maar onthou dan dat ou oom Drik of iemand waarskynlik die hoofskakelaar sou afgeskakel het. Hy kry ’n flitslig uit sy motor en stap kombuis toe, waar hy onthou al die skakelaars is.
“Is daar ’n hoofskakelaar iewers?” roep hy na ’n paar minute se vrugtelose gesukkel om die ligte aangeskakel te kry.
“Ek weet nie.” Hennie se stem eggo deur die donker gebou. Sy gee verskrik pad toe ’n spinnekop oor die wasbak skarrel. Sy gril vir goggas en daar trek ’n rilling langs haar ruggraat af. Dis jammer dat dit juis Carl Meiring moet wees, maar sy is verlig dat hier darem iemand by haar is sodat sy nie alleen by hierdie pikdonker plek aangekom het en nie die ligte kon aanskakel nie. Sy het nie eers daaraan gedink om ’n flitslig saam te bring nie … Hoe het sy vir hulle huishoudkunde-onderwyseres gesê? “Ek is nie van nature ’n senuweeagtige soort mens nie …” Sy was verkeerd. Dis omdat sy nog nooit in die middel van die nag by ’n vreemde plek aangekom het, in die donker en met allerhande grillerige goggas wat oor haar voete hardloop en haar die kriewels gee nie. Dis hoekom sy nog nooit uitgevind het sy is die soort wat maklik hoendervleis word, wie se nekhare by die geringste provokasie rys en wat begin wens het sy het nooit die geklike idee gekry om alleen op Sesdorings te kom woon nie.
“E … Ekskuus?” vra Hennie toe sy besef dat Carl iets gesê het.
“Ek sê ek ry net gou huis toe om ’n lamp te gaan haal,” herhaal Carl ongeduldig.
Hennie sou graag wou vra of sy mag saamry omdat sy te bang is om alleen agter te bly, maar sy is te trots en daar is nog ’n sprankie oor van die meisie wat verklaar het: “Ek sal kan bel, skiet, skree, my kwaai hond op die inbreker sit of in my motor spring en wegjaag.”
Van wegjaag is daar nie sprake nie en die kwaai hond is nog nie aangeskaf nie en Hennie weet nie of Carl Meiring sal kom as sy skree nie, maar toe die agterliggies van die Mercedes verdof, gryp sy haar rewolwer en stap voel-voel na die telefoon om vas te stel of dit werk. Dit werk nie.
Hennie voel egter trots op haar vindingrykheid nadat sy daaraan gedink het om dit in te prop. Dinge lyk dadelik minder donker. Nou moet Carl ook net gou terugkom om krag aan te kry sodat sy kan uitpak, bad, eet en slaap. Môre, in die helder daglig, sal sy brawer wees en minder soos ’n histeriese vroumens voel.
Hennie kan nog steeds nie glo dat sy Carl Meiring nie dadelik herken het nie. Al verskoning waaraan sy kan dink, is dat hy in elf jaar baie verander het – altans in voorkoms. Hy is nie meer die maer sproetgesigseun met die windverwaaide blonde hare nie. Dis hare het om die een of ander rede donkerder geword en hy neem seker gereeld aan sport deel, daarom dat hy so fris is. Maar in geaardheid egter, is dit nog dieselfde nare seun wat tot ’n jong dogtertjie se verontwaardiging met ’n windbuks rondgeloop het om arme, weerlose ou voëltjies dood te skiet. Hy is nog net so onaangenaam soos in die verlede en sy is bly dat sy so onvriendelik teenoor hom was. Wat het hy eendag vir haar gesê? “Ek laat my nie deur ’n snip van ’n meisiekind voorskryf wat ek mag en nie mag doen nie. As ek voëltjies wil skiet, kan jy my nie keer nie.” En nou weer: “Enige bobbejaan kan tog seker sien dis ’n skroefsleutel …” Hy mag miskien uiterlik aantrekliker geword het, maar binnekant is hy nog dieselfde nare Carl Meiring in wie sy en haar oupa ’n hekel gehad het.
Die ander Meiringseun – Donnie – het seker ook nie ’n aangename grootmens geword nie, hoewel hy darem beter as sy ouer boetie was. Hy het nie soos Carl skoenlappers doodgemaak en met kopspelde aan ’n skoendoos se deksel vasgesteek nie. Maar hy het dit geniet om ’n tienjarige dogtertjie oor haar rooi hare te spot en allerhande onvleiende byname uit te dink. Ou Wortels. Pampoenkop. Posbus … Sy kan nie meer al die name onthou nie. Gelukkig het Donnie nooit uitgevind haar doopnaam is Hendrikus nie, anders sou sy nooit die einde daarvan gehoor het nie en sou hy haar siel daaroor uitgetrek het. Carl boer blykbaar op Koedoespoort, maar sy wonder wat van Donnie geword het. Sy hoop hy is iewers ver weg op universiteit of oorsee of iets. Sy hoop nie hy woon ook op haar buurplaas nie.
Carl het nie lank weggebly nie, maar selfs met die sterk lig van die gaslamp, kan hy nie agterkom wat met die elektriese kragtoevoer skort nie.
“Die bedrading is oud en jou oupa het nie daaraan geglo om geld aan die gebou te bestee nie,” sê Carl kortaf. “Al waarvoor hy met ’n lekker hart geld uitgegee het, was vir boeke.”
Hennie sou graag haar oupa wou verdedig het, maar sy het nie ’n been om op te staan nie. Dis gaaf om idealisties te wees, ja, maar om boeke te koop ten koste van die elektriese bedrading en met die gevolg dat sy nou hier in die pikdonker staan en van haar onwillige buurman se gaslamp afhanklik is vir die enigste bietjie lig in hierdie verlate plek …
“Wat moet ek nou maak?” vra Carl ergerlik.
Sy krullerige hare hang soos ’n skoolseun se kuif vooroor op sy voorkop en skielik kan Hennie die jong seun herken wat sy elf jaar gelede tydens ’n vakansie laas gesien het. Dit gee Hennie meer selfvertroue en in die helder lig van die gaslamp voel sy skielik baie brawer.
“Maak?” vra Hennie. “Niks. Al wat jy nou kan maak, is om jou skouers op te haal en huis toe te ry, tevrede dat jy jou plig gedoen het.” Sy kan nie nalaat om by te voeg nie: “Al was dit onwillig en op jou afgedwing.”
Carl ignoreer die insinuasie dat hy haar nie uit altruïstiese oorweging ingesleep het en die krag probeer regkry het nie. Hy aarsel en haal dan sy skouers op, soos sy voorgestel het. “Nou goed, as daar dan niks verder is wat ek kan doen nie …”
Hennie sien dat hy aanstaltes maak om te ry. Sy bid net dat hy nie die lamp moet saamneem nie en ook nie moet onthou van sy flitslig wat nog in die kombuis by die skroewedraaier en knyptang lê nie. Wat maak sy as Carl Meiring sy besittings neem en haar alleen in die donker agterlaat?
“Daar is niks verder nie,” skud Hennie haar kop. Goeie maniere dwing haar om by te voeg: “Dankie vir die hulp. Ek stel dit op prys.”
“Nie te danke nie,” antwoord Carl net so formeel. Hy haal sy motorsleutels uit sy sak en hou die voordeur oop. “Nou goed, laat ons dan maar ry.”
Hennie kyk onbegrypend na die oop deur en na Carl wat hoflik wag dat sy eerste uitstap. Wat bedoel hy?
“Juffrou Vermaak, dis laat en ek is nie ’n gekwalifiseerde elektrisiën nie,” sê Carl ongeduldig toe sy geen aanstaltes maak om op die stoep uit te stap nie. “Daar is niks verder wat ek kan doen om die ligte aan te kry nie.”
“Ek weet en ek het dit so aanvaar. Ek sal môre ’n elektrisiën ontbied. Goeienag, meneer Meiring, en weer eens dankie vir jou hulp.”
Carl frons. “Jy kan nie vannag hier bly nie. Ek het gereken om op Koedoespoort vir jou slaapplek aan te bied.”
“Dis nie nodig nie, dankie. Ek sal regkom.”
Daar is ’n verergde flikkering in Carl Meiring se blou oë, maar hy dwing homself om redelik te praat. “Kyk, Juffrou, ek hou ook nie van jou nie en ek het ook nie lus dat jy die nag op my plaas deurbring nie, maar onder die omstandighede kan dit nie anders nie. Hou asseblief op om jou soos ’n moedswillige kind te gedra en aanvaar die ongemaklike situasie wat op ons albei afgedwing is. Dis laat en ek stel voor dat ons dadelik ry, want môre het ek baie werk.”
Hennie verroer nie ’n voet in die rigting van die deur wat hy oophou nie. “Ek verkies om nie van jou noodgedwonge gasvryheid gebruik te maak nie,” sê sy styf. “Al wat ek op die oomblik nodig het, is ’n bed. En van dié is daar genoeg op Sesdorings.”
“Maar jy sit sonder ligte.”
Hennie se glimlaggie is soet. “Ek is gewoond daaraan om in die donker te slaap. Ek sal nie ’n lig nodig hê nie. Tot siens, meneer Meiring.”
“Ek sal nie gerus voel om jou hier alleen te laat nie.”
“Meneer Meiring, ek is van plan om minstens ’n jaar op Sesdorings te bly. Gaan jy my driehonderd-vyf-en-sestig nagte se slaapplek aanbied net omdat jy nie oor my gerus voel nie?”
Carl brom iets wat Hennie gelukkig nie kan hoor nie. Dit lyk egter of hy nog steeds onseker is oor wat hom te doen staan.
Hennie wys hom haar rewolwer. “En die telefoon werk en die brawe ridder in sy wit Mercedes sal seker hoor as die dame in nood verkeer.”
Hennie sien dat Carl hom vererg oor haar spottende woorde en eers dink sy sy gaan ’n dwars antwoord kry, maar dan draai hy sonder ’n verdere woord om en stap na sy motor. Oor sy skouer sê hy kortaf: “Skakel my as jy my nodig kry.”
Hom nodig? dink Hennie. Sy het Carl Meiring nodig soos hulle sneeu in Alaska nodig het.
Lank ná sy die dreuning van die motor nie meer kan hoor nie bly Hennie nog op die toegegaasde stoep staan. So, hier is sy nou uiteindelik op Sesdorings … Die spreekwoord sê goed begin is half gewin. Is die omgekeerde ook waar? Sy hoop nie so nie. Nog maar haar eerste dag en sy sit reeds met ’n stukkende motor en ligte wat nie wil werk nie. En ’n onaangename kragmeting met haar buurman. En ’n gevoel dat sy die slegste daarvan afgekom het …
“Oupa,” sê Hennie hardop. “Ek belowe om nie tou op te gooi nie. Ek belowe om op Sesdorings te bly en van die biblioteek ’n sukses te maak.”
Dadelik voel Hennie beter. Coleman-lamp in die hand, onderneem sy ’n inspeksietoer deur die biblioteek en woonstel. Alles is nog net soos sy dit onthou het. Die grysgeverfde houtrakke, die rye boeke, die liasseerkabinet, die lessenaar met die stukkende laai, die hortjiesvensters en die leiklipvloer … In die woonstel die ou stinkhoutmeubels en riempiesbank wat nog uit ouma Anna se leeftyd dateer, die verbleikte pers gordyne wat haar ma aanvanklik op die ashoop wou gooi en die bad met die leeukloupote en die geelkoperkrane … Iemand het oupa Drik se persoonlike besittings weggepak, maar sy gees leef nog in die vertrekke en toe Hennie die ou snoeiskêr en tuinhandskoene in die spens sien lê, kan sy haar trane nie langer bedwing nie. Met hierdie selfde ou afpunt-skêr het sy en Erik vir Oupa gehelp om die ligusterheining gelyk te sny …
Op daardie oomblik, meer as ooit tevore, begeer Hennie dat haar oupa nog moes gelewe het. Sy sou vir hom vertel het hoe sy elf jaar lank verlang het en gevra het hy moet haar nie te kras oordeel nie. Dis nie omdat sy nie wou nie dat sy nooit weer kom kuier het nie. Dis omdat geld vir haar pa allesoorheersend was en hy sy vader nie kon vergewe omdat hy die ou familieplaas stelselmatig deur sy vingers laat glip het nie, terwyl hy slegs in sy geliefde boeke en ’n oorsese reis elke jaar belanggestel het. Haar pa kon die versugting van ’n gees met ander waardes as sy eie nie begryp nie.
“Vir wat wil Pa elke jaar Europa toe foeter?” het hy by meer as een geleentheid gevra. “As mens eenmaal Piccadilly en Notre Dame en die Colosseum gesien het, weet jy mos hoe dit lyk. En een boekeskou is soos die ander, of dit in Bologna gehou word of in Genève of waar ook al. Dis net geldmors. Dis tyd dat Pa by die huis bly en leer hoe om te boer.”
“Oupa, ek het verstaan,” sê Hennie sag. “Ek het Oupa se wanderlust geërf en ek weet die gees is belangriker as aardse weelde. Ek het verstaan toe Oupa verklaar het die opstal op Sesdorings is net ’n tydelike tentwoning, dat mens nie te veel waarde aan aardse weelde moet heg nie. Ek het nie verwyt toe Oupa die opstal in ’n biblioteek omgeskep en die res van die plaas verkoop het nie.”
Hennie sit die lamp op die toegegaasde voorstoep neer en pak die motor af. Sy dra haar bagasie slaapkamer toe en gooi alles op die ekstra bed. Sy is nou te moeg om ’n woonplek vir elke ding te soek. Dis jammer sy moet ’n warm bad prysgee, maar môre sal sy meer energie hê om uit te pak en tuis te raak. Môre wil sy ook met ’n voorraadopname begin en ’n advertensie in die koerante plaas dat Sesdoringsbiblioteek binne ’n week weer oop sal wees. Haar kliënte moet weet wat aan die gang is, anders sal hulle dalk by ander biblioteke aansluit.
Hennie het reeds haar ma geskakel om te sê dat sy veilig gery het en sy is terug in die hoofsaal van die biblioteek, verdiep in ’n kosbare Morokkaanse leergebinde eerste uitgawe van Jan F.E. Cilliers se Martjie toe daar ’n klop aan die voordeur is. Hennie wip soos sy skrik en dink eerste oor waar sy die rewolwer neergesit het.
“Hallo, daar!” roep ’n aangename manstem. “Mag ek binnekom?”
’n Jong man in sy vroeë twintigerjare loer om die deur. In sy regterhand het hy ’n wit sakdoek wat aan ’n stok gebind is en in sy linkerhand ’n mandjie. Toe hy die rooikopmeisie sien, rek sy oë verras. Hy glimlag sjarmant en wapper die sakdoek.
“Dis ’n wit vlag. Ek kom in vrede.”
Hennie kan nie anders as om te lag nie. Sy het egter ’n idee wie haar besoeker is en sy nooi hom nie binne nie.
“Carl het gejok,” sê die man. “Hy het gesê hy het nie opgelet hoe jy lyk nie en nou weet ek dit was ’n leuen. Niemand – selfs nie eers my vrouehater van ’n ouboet – kon daardie koperkleurige hare en die groot, groen oë misgekyk het nie.”
“Koperkleurig?” vra Hennie koel. “In die verlede was dit die kleur van wortels en pampoene.”
Die wit vlag word weer in haar rigting gewaai en Donnie Meiring glimlag pleitend. “Of moes ek ’n strydbyl gebring het sodat jy en ek dit formeel kon begrawe?”
“Dis nie nodig nie.”
Donnie sak op een knie en lê sy hand oor sy bors. “Ek vra nederig om verskoning vir my laakbare houding in die verlede. Kan jy so onselfsugtig wees, skone dame, om my te vergewe?”
Ondanks haar voornemens om niks met die Meirings te doen te hê nie, lag Hennie. “Kom binne, Donnie,” nooi sy.
Donnie gee voor dat hy sweet van sy voorkop afvee. “Ek was so bang jy wys my die deur. My hart het in my keel geklop en ek was natgesweet van angs.”
“Jy praat nog net so ’n klomp nonsies soos altyd,” raas Hennie, nog nie heeltemal gereed om te kapituleer en vriendelik teenoor ’n Meiring te wees nie.
Donnie se gesig is ’n studie van boetvaardigheid.
“Ek is jammer,” sê hy ernstig. “Ek is jammer oor jou oupa se dood en oor die onwelkome ontvangs wat jy gehad het. Carl het my vertel dat jou motor gebreek het en dat jy sonder elektrisiteit sit. Ek het gedink hierdie sal dalk troos …” Hy hou die mandjie na Hennie uit. “Hierin is warm sop, vleispasteitjies en koffie.”
As Donnie net soos sy broer geraas en baklei het, sou dit vir Hennie makliker gewees het. Maar die onverwagte simpatie en die medelye met haar oupa se dood is vir haar te veel. Warm trane begin opnuut oor haar wange loop en sy soek onbeholpe na ’n sakdoek.
“Hier, neem myne.” Donnie hou sy sakdoek uit en lê ’n vertroostende arm om Hennie se skouers. Hy lei haar na die riempiesbank. “Kom sit hier en huil jou goed uit, astertjie. Oom Donnie se skouer is breed.”
Hennie wil nie dat Don Meiring haar teen sy bors vashou en haar trane afdroog nie.
“Ek … ek sal nou-nou beter voel,” stamel sy. “Ek weet nie wat my makeer nie. Ek is nie van nature so ’n ou huilbalie nie.”
“Dis te verstane,” sê Donnie simpatiek. “Jou oupa se dood was vir jou ’n skok – nog meer as vir ons buitestanders. En toe kry jy teëspoed langs die pad en soos die duiwel dit wou hê, moes dit juis Carl wees wat op jou afkom om jou net verder te ontstel. Huil maar, astertjie, moenie alles probeer opkrop nie.”
Terwyl Hennie sukkel om haar selfbeheersing te herwin, gesels Donnie oor allerhande ander dinge om haar gedagtes af te lei. Hy vertel vir haar dat hy BSc Ingenieurswese aan Pretoria-Universiteit studeer, in sy vierde jaar, dat hy op die oomblik met vakansie is, dat sy pa nie gesond is nie, van al die mense wat verneem het wat van die biblioteek gaan word en van sy verbasing toe hy netnou by Carl gehoor het sy is haar oupa se erfgenaam.
“Ek is jammer dat dit nie ek was wat die eienaardige dreuning van jou motor gehoor het nie, meisie,” maak hy sag verskoning. “Ek sou jou nie so onwelkom laat voel het nie. Sal ek vir jou ’n koppie sop skink?”
Hennie knik dankbaar en neem ook die vleispastei wat hy op ’n bordjie gesit het en na haar uithou.
“Dis beter …” sê Donnie goedkeurend ná Hennie geëet het en haar gesig in die badkamer gaan afspoel het. “Daar is nou meer kleur in jou wange en nou kan ek mooi sien hoe mooi jy is.” Hy glimlag. “Ek sou jou nie herken het nie. Die lelike eendjie het ’n swaan geword.”
Dis so opreg bedoel dat Hennie nie vies kan voel nie. “Ek sou jou herken het,” sê sy skamerig. “Hoewel jou hare ook donkerder geword het. Jy is net ’n ouer weergawe van die moedswillige seuntjie wat dit altyd geniet het om my siel uit te trek. Smeer jy nog graag terpentyn onder die katte se sterte?”
Donnie hou hom baie vroom. “Haai, was ek so stout? Ek kan nie onthou dat ek sulke dinge gedoen het nie.”
“Jy het, en dit het my woedend gemaak. Jy en Carl wat ook altyd met windbukse geloop het …”
“Dit was Carl. Ek het nooit daarvan gehou om voëltjies te skiet nie. En jy, astertjie, wat het jy intussen alles gedoen?”
Hennie vertel hom dat sy ’n graad in biblioteekwese geloop het, maar dat sy nie gelukkig was as onderwyseres nie en dat hierdie kans soos ’n geskenk van die gode gekom het.
“Ek glo ook nie ek sou ’n goeie latswaaier gewees het nie,” stem Donnie saam. “Gee vir my maar liewer damme en brûe om te ontwerp. Was daar nie dalk ’n onderwysertjie op julle personeel vir wie jou hart vinniger geklop het nie?”
“Nee.”
“Geen kêrel nie?”
“Geen.”
“Wat is dan met die manne verkeerd dat hulle ’n groenoogDelila nog nie ontdek het nie?”
Hennie bloos en kyk doer ver teen die plafon, sodat sy die warm blik in Donnie se oë kan ontwyk.
“Ou Pampoenkop …” sê Donnie sag. Maar dis meer ’n liefkosing en hierdie keer terg hy nie. “Hoekom het jy nooit vir ons gesê jou naam is Hendrikus nie?”
“Dink jy ek sou ooit die einde daarvan gehoor het?”
“Miskien was jy wys om sulke ammunisie van ’n moedswillige klein seuntjie te weerhou. Ek het gedink Hennie is ’n bynaam vir Hendrina of Henriette of so iets. Erik is gelukkig dat jy, pleks van hy, met daardie multi-lettergrepige rits familiename opgesaal was. Wat doen jou broer nou?”
“Erik is ’n mediese student by Wits.” Hennie noem dit nie dat haar broer by dokter Willem Liebenberg klas loop en dat dit deur sy toedoen was dat sy amper as onwillige bruid voor die kansel beland het nie. Sy hoop nie Wim kry die idee om op Sesdorings te kom kuier nie, want sy het nie die geringste begeerte om die verhouding met ryk dokter Liebenberg te hervat nie.
“En toe erf jy jou oupa se besittings …”
“Ja.” Hennie gaan nie op die redes in nie en meld dit ook nie dat daar onenigheid tussen haar pa en haar oupa was nie. Sy aarsel en wil dan stil weet: “Donnie, was jy dalk op my oupa se begrafnis?”
Donnie knik. “My pa was siek in die bed en Carl het geweier om te gaan, maar ek was daar, Hennie. Nie net in die kerk nie, maar ook hier op Sesdorings, waar hy begrawe is.”
“Ek sou ook graag wou kom, maar Oupa wou niemand laat weet dat hy siek is nie …” Hennie bly stil en die trane dreig om weer te vloei. Vreemdes was op sy begrafnis, maar oupa Drik wou sy eie bloedfamilie nie daar hê nie …
Donnie sien dat dit vir Hennie ’n pynlike onderwerp is. Hy vra nie uit nie.
“Ek sal môre na jou motortjie kom kyk, Hennie, en as ek dink dis nodig, sal ek vra dat ’n werktuigkundige dit nasien. Carl reken die enjinblok kon as gevolg van oorverhitting gebars het en dit sal jou dalk ’n nuwe enjin kos. Het jy die geld, of kan ek dit vir jou voorskiet?”
As dit Carl Meiring was wat die voorstel gemaak het, sou Hennie geantwoord het dat sy liewer te voet Dendron toe sal loop as om hulp van ’n Meiring te aanvaar. Maar Donnie Meiring het verander. Hy is gaaf en hy probeer vir sy ouer broer se onvriendelikheid vergoed. En dit was mooi van hom om oupa Drik se begrafnis by te woon.
“Dankie, Donnie,” antwoord sy vriendelik. “Ek het nog ’n paar honderd rand kontant wat ek kan gebruik.”
“Hennie, die vete was tussen my pa en Carl en jou oupa. Dis nie nodig dat jy en ek dit verder voer nie. As daar iets is waarmee ek kan help, vra gerus. Nou, en ook in die toekoms.’
Hennie voel onverwags bewoë oor die mooi woorde. Sy is bang die trane kom weer en sy probeer ’n grappie maak. “Jy is nie dalk ’n gekwalifiseerde elektrisiën nie?”
“Ongelukkig nie, maar ek weet van ’n goeie elektrisiën op Dendron. Ek sal môre reël dat hy na Sesdorings toe kom.”
Toe Donnie opstaan om te gaan, stap Hennie saam voordeur toe.
“Moet ek my wit vlag saamneem?” vra Donnie met ’n skewe glimlaggie. “Sodat ek hom volgende keer weer kan bring?”
“Nee, dis nie nodig nie,” glimlag Hennie.