Читать книгу Ettie Bierman Keur 10 - Ettie Bierman - Страница 7

4

Оглавление

Hennie is besig om die meer kosbare boeke uit te soek, wat nie deur lede van die publiek uitgeneem kan word nie, maar in ’n glaskas langs die liasseerkabinet gehuisves word. Sy skrik toe ’n middeljarige dame binnestap en sit haar mees professionele glimlag voor terwyl sy haar oorjas regtrek.

“Ek is bevrees die biblioteek is tydelik nog gesluit,” sê sy verskonend. “Van volgende Maandag af is hy weer oop.”

“Ek kom nie ’n boek leen nie, hartjie. Al wat ek ooit lees, is my Bybel en katkisasieboek. Ek is tant Lettie Jansen. Meneer Meiring het gesê jy wil met my gesels.”

Hennie is lus om die ou dame om die hals te val en as Donnie hier was, sou sy hom ook ’n soen van dankbaarheid gegee het. Hy het gisteraand belowe om tant Lettie op te spoor en sy moes geweet het hy sal woord hou.

“Goeiemôre, mevrou Jansen. Ek was skoon verbouereerd, want ek het gedink u is ’n kliënt en ek het nog geen benul waar al die boeke is nie. Kom sit. Ek kan Mevrou ongelukkig nie ’n koppie tee aanbied nie, want die elektrisiën sukkel nog om die krag aan te kry.”

“So het meneer Meiring gesê, my kind, en dis hoekom ek vir jou ’n fles tee en ’n tuisgebakte koek gebring het.”

Hennie het net ’n glas melk en die laaste koue vleispasteitjie vir ontbyt gehad. Sy is honger en moeg gewerk, maar dis nie die enigste rede waarom sy bly is oor die gawes wat tant Lettie Jansen gebring het nie.

Oor ’n tweede koppie stomende tee vra sy huiwerig: “E … Mevrou, ek is dankbaar dat u gereeld sal inkom om met die afstof en skoonmaak te help, maar sien u nie kans om u huishoudkundige talente verder uit te brei nie?”

Hennie sien dat die ou dame nie mooi verstaan nie.

“Ek het groot planne. Ek wil ’n teekamer open. Die meeste van die boere kom ver om boeke uit te neem en ek dink ’n lafenis sal welkom wees. Die toegegaasde stoep is ideaal vir daardie doel. ’n Teekamer sal ekstra fondse inbring en ook dien om klandisie te lok. Ek het die ruimte. Stoele en tafels en skottelgoed sal ek koop. Al wat ek nog nodig het, is ’n baasbakster en iemand wat lief is vir gesels.”

Hennie het die laaste vereiste as lokaas bygevoeg. Tant Lettie Jansen is ’n ideale kandidaat. Sedert sy ’n halfuur gelede binnegestap het, het sy land en sand aanmekaar gesels. Van Hennie se eksentrieke oupa Drik, van die Meirings, van talle ander boere in die distrik, van haar kinders en kleinkinders wat in verre Kaapstad woon en van die goeie reëns wat net op die regte tydstip vir die beeste en ertappellanderye gekom het. Hennie het dit moeilik gevind om te reël op watter dae die ou dame Sesdorings toe sal kom om haar te help en die kwessie van losies het sy nog nie eers kon opper nie.

“Haai, hartjie, ek weet nie of iemand my ’n baasbakster sal kan noem nie,” sê tant Lettie met valse beskeidenheid.

Hennie weet watter antwoord van haar verwag word. Sy beduie na die heerlike sjokoladekoek op die eetkamertafel. “Daar is die beste getuigskrif wat enigiemand kan verlang. En as u altyd sulke lekker tee soos hierdie kan maak, hoef ons nie eers die biblioteek aan die gang te hou nie. Dan open ons liewer ’n restaurant.”

Hennie kan sien die ou dame geniet die komplimente.

“Jy is ’n liewe kind, wat weet hoe om ’n ou mens se hart bly te maak,” sê tant Lettie. “Hoekom was meneer Meiring bang jy en ek sal dalk nie kan stryk nie?”

Hennie vermoed dat Donnie die ou dame wou waarsku om miskien nie so baie te praat nie. Sy lug egter nie ’n opinie nie.

“Wat sê u, Tante? Sal ons twee vennote word?”

“Ek weet nie veel van boeke nie, my kind,” sê tant Lettie twyfelend. “Jou oupa wou my nooit hier toelaat nie. Hy het gesê ek kan tog nie lees nie, so ek moet met my besems en stoflappe maar net in die kombuis bly.”

“Tante hoef nie in die biblioteek te help nie. Die teekamer sal Tante se afdeling wees.”

“Nou maar, hartjie …” Die fletsblou oë agter die bril begin blink. “Dan dink ek sê ek ja.”

Hennie glimlag breed. Sy steek haar regterhand uit. “Welkom as vennoot in die nuwe besigheid, Talettie! Ons moenie al daardie koek opeet nie. Dalk kan ons dit bêre en volgende week teen halfprys aan die kliënte verkoop.”

“Nee, ek sal nuwes bak. Ek het baie resepte. Gaan ons etes ook verkoop?”

“Nee, ek dink voorlopig net koffie, tee en koek. Miskien worsrolletjies of botterbroodjies ook. Tante sal nie heeldag aan diens hoef te wees nie. Ek het gereken net van tien tot twaalf soggens en van twee tot vieruur in die middae. Ons sal moontlik iemand in diens neem om Tante met die opwas te help.”

Tant Lettie Jansen hou twee vereelte hande uit.

“Wat is met hulle verkeerd? Ek kan mos self opwas en sorg dat daar nie van jou nuwe skottelgoed breek nie, my kind.”

“Dink Talettie nie ons moet dalk plastiese koppies en pierings en borde kry nie?”

“Nooit gehoor nie! Hierdie nuwerwetse Japanse goed kan nie ’n porseleinkoppie se plek vat nie. Laat mos die tee soos blik smaak.”

Hennie het dit nog nooit agtergekom nie, maar sy stry nie, te bang haar nuwe vennoot trek kop uit. Sy maak ’n vinnige finansiële berekening, hoop dat die motorhawe haar nie ’n fortuin sal laat betaal nie en dat die elektrisiën redelike fooie het. Dan knik sy.

“Goed, ons koop Chinese koppies.” Sy kry lag toe dit lyk of die murg-en-been-boeretannie weer haar neus wil optrek teen die buitelandse goed. “Bone china, Tante. Noritake of Royal Doulton. Net die beste vir Sesdorings Eiendoms Beperk.”

Tant Lettie Jansen is baie opgewonde oor die voorgenome besigheidsonderneming. Na hulle die finansiële aspekte van salaris, aanvangsvoorrade, kapitaaluitleg en spyskaartpryse bespreek het, sou sy graag nog wou kuier. Dog dis twaalfuur en sy staan teësinnig op.

“Van sit en staan, kom niks gedaan. My gekletsery sal nie die stof en spinnerakke laat verdwyn nie. Gaan jy maar met die boeke aan, hartjie, dan maak ek die biblioteek en woonstel skoon en gaan kyk dat daardie elektrisiën sy werk doen.”

’n Juweel, besluit Hennie. Sy kon nie ’n beter vennoot as Talettie Jansen gekies het nie. Sy voorsien ’n florerende besigheid en ’n mooi gesindheid tussen haar en die ouer dame. Tant Lettie het met gretigheid ingewillig om by haar te loseer. Sy is nie baie gelukkig by die mense vir wie sy op die oomblik huishou nie. Dis ’n jonggetroude paartjie met baie geld, maar sy kan nie met Sylvia Kirsten oor die weg kom nie. Mooi vroutjie en sy hoor Sylvia was glo ’n model in die stad, maar al wat sy heeldag wil doen, is om haar naels rooi te verf en in die son langs die swembad te lê. En dit nogal in so ’n skrapse ou dingetjie wat nie eers alles toemaak nie … En die rusies …! Dis seker omdat haar man baie ouer is en sy jong vroutjie nie verstaan nie. Nie dat ’n mens wil skinder van jou werkgewers nie, maar … maar hulle drink ook. Dis nie ’n plek vir ’n Christenmens nie, as Hennie sal verstaan wat sy bedoel …

Hennie het verstaan en begrypend geknik. Nee, Talettie sal baie gelukkiger wees om ’n teekamer te bestuur en so tussendeur te verneem of haar kliënte nie dalk ’n neef of ’n niggie of ’n vriendin of iemand het wat dalk ook sal belangstel om ’n lid van Sesdoringsbiblioteek te word nie. En hulle moet dit meld dat die nuwe eienares van plan is om die boekevoorraad aan te vul, sodat daar vir elkeen se smaak boeke te kus en te keur is …

“Dis die gees, Tante,” het Hennie gelag. “Sê vir hulle ek gaan een naweek spesiaal stad toe ry om boekklubboeke uit te soek en die jongste landboupublikasies aan te koop.”

“Ja, dis die gees,” herhaal Hennie geamuseerd toe sy hoor hoe daar in die kombuis kaste uitgeskrop word en tant Lettie die voorraad panne ondersoek om te besluit of hulle goed genoeg is vir die baksels vir die nuwe teekamer. Sy glimlag en verdiep haar weer in die outeursregister wat sy volgens die Dewey-stelsel begin aanlê het. Sy weet nie hoe haar oupa ooit in staat was om ’n boek op te spoor nie. Sover sy kon vasstel, het hy geen klassifikasiestelsel gehad nie. Dis digbundels, vakliteratuur, romans, reisbeskrywings, outobiografieë, woordeboeke en Engelse boeke sommer alles deurmekaar. Geen wonder hy het ’n ledetal van net driehonderd gehad nie. Hier is ook geen nuwe boeke nie en ’n minimum populêre lektuur en tydskrifte.

Om twee-uur kom tant Lettie die biblioteek met ’n skinkbord stomende kos binne. Sy lag vir die verrassing op Hennie se gesig.

“Ja, ek het daardie elektrisiën gewikkel! Weet mos te vertel tussen een en twee is sy etensuur, dan werk hy nie, dan sit hy in die son met sy toebroodjies. Toe vra ek hom wat moet ons intussen een en twee eet as hy te lui is om sy werk te doen. Die yskas en die stoof en die ligte werk nou weer. Daar was ’n kortsluiting. Hy sê die bedrading is oud, maar dit weet ek self. In die tien jaar wat ek vir jou oupa gewerk het, moes ek kort-kort op ’n primusstofie kos maak.”

Hennie het ’n paar kosbare ou boeke onder die stof op die solder gevind. Sy is opgewonde daaroor en bly toe Donnie Meiring aan die voordeur klop sodat sy haar vreugde met iemand kan deel.

“Kyk hier! ’n Getekende eerste uitgawe van Johannes van Wyk! Hier is die handtekening op die titelbladsy … J.H.H. de Waal!”

Donnie doen sy bes om genoegsaam beïndruk te lyk. Mensig, dink hy, die meisiekind is mooi. Maar aan die wydgerekte groen oë het hy gedink sy het ten minste goud of diamante ontdek. Wie stel nou belang in ’n motgevrete ou boek wat deur Johannes van Wyk geskryf is? Wie was hy in elk geval? Dis ’n skrywer van wie niemand nog seker gehoor het nie.

Donnie is versigtig dat Hennie nie moet agterkom hy is nie ook so ’n fanatieke biblioteekmens soos sy nie. “Dis interessant. Het jy al op nog boeke afgekom wat deur hierdie Van Wyk geskryf is?”

“Jou bobbejaan! Die boek se naam is Johannes van Wyk. Het jy nog nooit van Jan Hendrik Hofmeyr de Waal, skrywer, politikus, voorvegter vir Afrikaans en een van die stigterslede van die Afrikaanse Taalvereniging gehoor nie?”

“E … Natuurlik het ek,” smeer Donnie gou sy flater toe. “Ek is seker hy het baie ander boeke geskryf, maar … e … ek kan nou net nie onthou nie. Ek lees ook so baie boeke dat ek nie al die name kan onthou nie.”

“Die tweede Grieta, Oupa en sy kleindogters …”

“Ja, natuurlik. Hierdie laaste een het my altyd so aan jou laat dink,” maak Donnie ’n flou grappie. Hy besluit om so gou moontlik van die dun ys af te kom en hom op meer bekende terrein te begeef. “Ek het toe ’n motorhawe geskakel en die simptome van die siek enjin beskryf, maar Joe Els reken ek moet die pasiënt inbring garage toe.”

“Hoe, as Vollie vierwiel vassteek en verseg om te ry?”

“As ek hom nie tydelik kan regdokter nie, sal ek jou met die bakkie insleep Dendron toe.”

Hennie onthou van daardie senutergende sleeprit gisteraand en lyk nie baie ingenome met die voorstel nie.

“So van boeke gepraat … Ek kan jou soos ’n boek lees, aster, en ek weet wat jy dink. Jy hoef egter nie bekommerd te wees nie. Ek is ’n geduldiger man as my ouboet. Ek sal nie met jou raas as jy die sleeptou nie styf kan hou nie. Sal ons ry?”

“Môre sal beter wees, Donnie. Dis al so laat en ek sal eers gou my inkopielys wil opstel voor ek dorp toe gaan.”

“Ek het gehoop ons twee kan vanaand op die dorp gaan eet,” sê Donnie teleurgesteld.

“As jy wil, sal ek vanaand hier in die woonstel vir ons kos maak, om die stoof wat weer in werkende toestand is, te vier.”

Vir dié voorstel is Donnie dadelik te vinde. Hy help Hennie opruim en kom dan op ’n stoel in die kombuis sit terwyl sy biefstuk en ertappelskyfies bak.

“Donnie …” sê Hennie versigtig. “Jy het gesê jy is neutraal, jy het nie kant gekies in die vete tussen my oupa en die Meirings nie. Reg?”

“Reg. Maar sedert ek jou ontmoet het, weet ek nie meer of ek so danig neutraal is nie. As die vete weer uitbars, kies ek dalk jou kant.”

“Dit sluimer op die oomblik en dit sal beslis weer oorkook. Maar daar is ’n paar vrae wat ek jou wil vra sodat ek my feite kan regkry. Of voel jy dis dislojaal om jou pa en broer met my te bespreek?”

“Geensins. Ek het te veel respek vir my oukêrel om hom openlik te kritiseer, maar Carl het jou arme oupa baie swak behandel.”

“Ek is bly jy erken dit. Jou broer sal natuurlik nie so grootmoedig wees nie.”

“Nee. Maar moet Carl nie te kras oordeel nie, Hennie. Anders as ek, is hy ’n boer in murg en been en hý gaan Koedoespoort eendag erf, nie ek nie. Daar is twee redes waarom hy gisteraand so onvriendelik teenoor jou was. Eerstens, omdat jy ’n vroumens is.”

“Wat het dit daarmee te doene?”

“Carl is ’n vrouehater. Hy het allerhande komplekse en ’n diepgewortelde renons in al wat rok dra.”

“Hoekom?”

“Ag, dis eintlik ’n hartseer ou storie, maar as ek dit nie vir jou vertel nie, sal jy wel een of ander tyd met ou tant Lettie Jansen kennis maak, en sy sal jou daarvan vertel. Sy is ’n dierbare ou siel, maar ’n bietjie lief vir skinder.”

“Ek het reeds met haar kennis gemaak. Sy is tien minute gelede hier weg, ná sy die hele dag help skrop en skoonmaak het. Ek was van plan om vir jou dankie te sê omdat jy haar opgespoor en na my toe gestuur het.”

Donnie lyk ’n oomblik uit die veld geslaan. “Hoekom vir my dankie sê?”

“Tant Lettie het gesê meneer Meiring het haar gestuur. Ek het aanvaar dis jy.”

Donnie hou niks van die gedagte dat sy broer Carl ’n helpende hand na hulle buurvrou uitgesteek het nie. Die gedagte maak hom jaloers, maar hy wil nie dat Hennie dit agterkom nie. Sedert hy haar gisteraand weer gesien het, het hy geweet hierdie rooikoppie gaan ’n baie spesiale plek in sy hart inneem. Sy is die mooiste astertjie wat hy in sy lewe nog gesien het. As sy glimlag of lag, is hy lus en neem haar in sy arms en soen daardie sagte, rooi mond en blinkgroen oë. Dis nog te gou om seker te wees, maar hy dink hy is besig om halsoorkop verlief te raak op Hendrikus Bernardus Jakobus Vermaak. Ouboet Carl moet net wegbly …

“E … Ja, indirek was dit seker deur my toedoen. Ek het die sentrale gevra om, wanneer daar weer ’n oproep vir tant Lettie Jansen deurkom, haar te vra om met jou in aanraking te kom. Ek is net verbaas dat die ou tannie so vinnig reageer het en vandag reeds by jou opgedaag het. Het sy ingestem om by jou te loseer?” Donnie hoop nie so nie, want hy weet nie of hy altyd lus gaan wees vir ’n praatsieke derdemannetjie elke keer wanneer hy vir Hennie kom kuier nie.

“Van volgende week af, ja. Sy voel sy moet ’n week kennis gee by die mense by wie sy op die oomblik werk.”

“Dan sal sy jou gou genoeg inlig dat my ma haar twee kinders en haar man gelos het om met ’n ander man weg te loop. Of weet jy dit reeds?”

“Tant Lettie en ek het vandag hoofsaaklik oor die teekamer gepraat. Ek glo in elk geval nie sy sal oor julle skinder nie.”

“Jy ken haar nog nie … Sy sal met lus vir jou vertel dat my ma ’n tweede Sylvia Kirsten is, wat haar veel ouer man verlaat het toe daar ’n ander man met meer geld op die horison verskyn het. Ek weet nie of my ma dalk intussen al weer met ’n derde man getroud is toe sy agtergekom het Reenen van Wyk is nie so skatryk as wat hy haar wysgemaak het nie. My pa en sy het heeltemal kontak met mekaar verloor. Ek was heeltemal tevrede met die sagmoedige tant Nellie wat toe vir ons kom huishou het, maar my ouboet was baie verbitterd omdat my ma ons in die steek gelaat het. Carl was destyds in standerd vyf en seker op ’n moeilike stadium. Meer emosioneel en ontvanklik as ek, wat toe maar agt jaar oud was. Tant Nellie was vir my ’n tweede moeder, maar Carl wou haar nie in ons huis aanvaar nie. My ma se optrede het hom ’n haat in vroue gegee – ’n kompleks wat hy nooit ontgroei het nie en wat nou veroorsaak dat hy nie in ’n nooi belangstel nie en seker nooit sal trou nie.”

Donnie glimlag verleë. “Daar het jy nou die geraamte in die Meirings se kas en ook een van die twee redes waarom Carl jou so swak behandel het.”

“Nou verstaan ek hom heelwat beter. Maar ek glo steeds nie hy het reg gehad om sy komplekse op my uit te haal nie. Ek was moeg en ek het hoofpyn gehad en ek was hartseer oor my oupa se dood en bekommerd oor my stukkende motor …”

“Ek weet, astertjie. Ek soek nie verskonings vir my onmanierlike broer nie. Ek het jou maar net die tragiese ou storie vertel sodat jy nie sleg moet voel oor Carl se houding nie. Jy is ’n vroumens en … natuurlik die eienares van Sesdorings.”

“En dit bring ons by die tweede rede?”

“Korrek.”

“Die dam wat hy so graag wil bou omdat daar onvoldoende water op Koedoespoort is?”

“Dis jammer dat jou elf hektaar nou juis tussen die twee rantjies lê. As dit op ’n ander plek was, sou Carl jou oupa, en nou vir jou, in vrede gelaat het. Maar daar is geen ander plek op Koedoespoort, of op die gedeeltes van Sesdorings wat Carl opgekoop het, waar mens ’n dam kan bou nie. Dis die ligging van die koppe wat hierdie stukkie grond ideaal geskik maak vir ’n damwal tussen daardie twee plat rantjies. Dis ’n natuurlike opvanggebied wat maklik tot teen die Lotterings se plaas, Klipput, sal opstoot en vir talle boere in die distrik verligting bring as die reëns laat is. Jy weet mos ou Noord-Transvaal is semi-woestyngebied en die Abbissiniese dam naby Louis Trichardt voldoen nie aan die hoë verwagtings wat destyds gekoester is toe dit gebou is nie. Die watervlak het nog nooit die halfmerk oorskry nie en daar moet kort-kort waterbeperkings op die dorp ingestel word. Dus kan jy begryp wat ’n dam van sulke afmetings op Koedoespoort vir die boeregemeenskap sal beteken. Jy kan ook verstaan dat die dam ’n hartsbegeerte van Carl en my pa is. Dit het by hulle ’n obsessie geword. Hulle is fanaties daaroor.”

“Dit kon ek aflei. Jou broer het my ’n aanbod van dubbel die markwaarde van Sesdorings gemaak.”

Donnie verstyf. “En … wat was jou antwoord?”

“Dat Sesdorings nie te koop is nie.”

“Soos jou oupa tot Carl se bittere frustrasie ook altyd volgehou het. Dis hoekom hy jou arme oupa op allerhande agterbakse maniere wou dryf om van Sesdorings pad te gee en die laaste elf hektaar vir ’n appel en ’n ei aan hom te verkoop. Dit was laakbaar van hom. Hierdie grond was jou oupa se regmatige eiendom en niemand kon hom dwing om dit te verkoop nie.”

“Dis presies soos ek ook altyd gevoel het en ek voel nou sterker oor die saak, noudat die grond myne is. Dis my regmatige erfenis. Ek is derdegeslag Vermaak op hierdie grond. Hoe kan ek toelaat dat dit deur ’n stuk water verswelg en verdrink word? My ouma- en oupagrootjie se grafte is hier, en nou my oupa s’n ook … Dink jy ek is selfsugtig om nie te verkoop nie, Donnie?”

“Nee, natuurlik nie,” sê Donnie dadelik. Hy neem haar hand in syne. “Ek is nou maar ’n ingenieurstudent, maar met die regte kennis wat ek reeds opgedoen het, soek ek naarstiglik na ’n soortgelyke grondhelling, wat dieselfde opvanggebied as jou twee rantjies sal bied sodat ek die Meiring-Vermaak-vete kan laat ophou en jy in vrede met jou biblioteek kan voortgaan.”

“Dink jy jy sal dieselfde soort rantjies kry, waar ’n damwal met net soveel sukses gebou sal kan word?”

“Ek het alle hoop. Moet egter nie jou mooi koppie daaroor breek nie, aster. Niemand kan jou dwing om te verkoop nie en Carl sal wel eendag moeg raak om jou te terroriseer en die stryd gewonne gee.”

Hennie neem haar hand uit Donnie s’n om slaai te maak, brood te sny en die biefstukke uit die pan te haal. Ná sy opgeskep het en toe hulle by die antieke stinkhouttafel sit, sê sy: “Ek het netnou gesê ek wil vir jou ’n paar vrae vra om my feite reg te kry. Mag ek?”

“Mits jy wil vra wat ek hoop jy wil vra,” skerts Donnie. “Ek sê by voorbaat: die antwoord is ja. Ja, asseblief!”

Hennie bloos en skud haar kop verleë. “Daardie ligusterheining van Oupa wat tussen sy en julle grond was … Onthou jy hom?”

“Baie goed. Dit was ’n mooi gesonde heining en jou oupa het dit altyd baie netjies gehou.”

“Ek is bly jy sê gesonde heining,” verklaar Hennie triomfantlik. “Ek het ook nie daardie storie geglo dat daar kastig ’n siekte in die ligusterstruike was nie.”

“Siekte?” Donnie frons onbegrypend. “Van watter siekte praat jy?”

“Van die geheimsinnige siekte wat die ligusters glo gehad het. Die siekte wat veroorsaak het dat jou broer die heining tot op die grond laat afbrand het.”

Donnie sit sy mes en vurk neer. Hy staar haar oopmond aan.

“Wat Carl laat afbrand het? Maar vir my het hy dan gesê dit was jou oupa self wat die welige heining vernietig het sodat hy beter kon spioeneer wat op Koedoespoort aangaan. Daar was geen woord van siekte in die ligusters nie. Daardie struike is so gehard dat hulle nie vir siektes vatbaar is nie. En wat sou dit in elk geval saak gemaak het as daar een of ander kwaal met die heining was?”

“Dit kon glo uitbrei na julle mielielande en ertappels.”

“Dis die grootste spul bog wat ek nog in my lewe gehoor het. Dis loutere onsin. ’n Siekte wat by sierstruike voorkom, kan niks aan mielies en ertappels doen nie. En ’n boer bespuit mos in elk geval sy landerye teen siektes.”

“Dis hoe ek in my onkunde ook geredeneer het, maar nou is ek seker dit was daardie broer van jou wat ’n sadistiese behae daarin geskep het om oupa Drik te treiter en te probeer wegdryf van Sesdorings af. Dit was gemeen van Carl, en ek is van plan om dit reguit in sy gesig vir hom te sê. Goed, dis een ding afgehandel … Nou kom ons by die rekening van ’n sekere messelaar en bouer. Weet jy iets daarvan?”

“Nee. Ek was weg op universiteit en was selde met vakansies by die huis. Dis net nou, omdat my pa siek is, wat ek my vakansieplanne gewysig het. Die beste ding wat ek ooit kon gedoen het, want nou het ek jou ontmoet.”

“En van my oupa se motor wat weggesleep was?”

“Het Carl so iets ook gedoen? Hoe dink hy moes jou oupa op die dorp kom om noodsaaklike voedselvoorrade aan te vul?”

“Dis wat ek ook gedink het en dis hoekom ek so verbitterd voel. Watse motor was dit? Nuut?”

“As ek reg onthou, het jou oupa ’n splinternuwe motor gehad waarop hy baie trots was.”

“Was dit ’n splinternuwe motor? Maar dit was seker ’n hele paar duisend rand werd. Carl het dit glo verkoop om uitstaande skuld te delg. Watse skuld het my oupa gehad wat soveel kon bedra het?”

“Nee, Hennie, nou vra jy my ook vas. Jy dink nie Carl het die geld dalk in sy sak …? Nee, selfs my ouboet sal nie so laag daal om ’n arme ou man te beroof nie.”

“Wou jy gesê het dat Carl die geld dalk in sy sak gesteek het?”

“Nee,” sê Donnie beslis. “My broer is baie ander dinge, maar hy is nie oneerlik nie.”

“Ek is seker hy sal jou misplaaste lojaliteit teenoor hom waardeer, maar wat anders kon van die geld geword het? Die messelaar se rekening het vyf rand bedra. Dink jy Carl sou ’n splinternuwe motor vir vyf rand, plus twee rand insleepkoste, verkoop het?”

Donnie is baie ongelukkig. “Sal ek die waarheid uit Carl probeer kry?”

“Nee. Ek verkies om self die saak op te volg. By watter motorhawe doen Carl gewoonlik besigheid?”

“Ek weet nie,” jok Donnie. “Ek dink jy speel met vuur, Hennie. Carl sal nie daarvan hou om ’n bloedhond op sy spoor te hê nie.”

“Ek is nie vir Carl bang nie.”

“Laat die saak liewer aan my oor. Ek ken die motorhawens beter as jy en ek sal gouer die volle waarheid uitvind.”

“Ek wil jou nie met my probleme belas nie.”

“Ek doen jou graag die guns, Hennie. Indien jy dit nie agtergekom het nie, is ek nie ’n vrouehater nie en dit sal ’n plesier wees om vir ’n mooi astertjie ’n guns te bewys. E … Ek dink miskien is dit beter dat Carl nie uitvind ons stel ondersoek in nie. Hy sal woedend wees en ek is bang vir dit wat hy jou dalk kan aandoen. Moet niks teenoor hom meld dat jy die saak met my bespreek het nie. Moet ook nie dat hy uitvind ek gaan navraag doen nie. Asseblief, Hennie, belowe my dat jy doodstil sal bly. Dis vir jou eie beswil.”

“Jy is reg,” stem Hennie in. “Ek het geen begeerte om met jou broer te gesels nie, en as ek die saak met hom bespreek, sal ek net my humeur verloor.”

“Dis reg,” sê Donnie met verligting. “Moet absoluut niks teenoor Carl noem nie. Nie van die motor nie en ook nie van die messelaar nie. Ek sal intussen ondersoek instel en jou op die hoogte van sake hou. Afgespreek?”

“Afgespreek. Ek bly tjoepstil en jy speel Sherlock Holmes. Hoe smaak die biefstuk?”

Donnie is dankbaar en verlig dat die onderwerp verander is.

“Heerlik. Jy mag my môreaand weer vir ete nooi. Ek is gewoond aan koshuiskos en by die huis kan jy gerus vir ou Katrien gaan kooklesse gee. Jou bib spog nie dalk met ’n kookboek wat in Zulu geskryf is nie?”

Ettie Bierman Keur 10

Подняться наверх