Читать книгу Leeus met letsels (skooluitgawe) - Fanie Viljoen - Страница 10

7

Оглавление

Gewapen met net hulle waterbottels, loop die twee seuns met ’n stofpad langs. André ken die pad, Buyi volg net.

Die glimmende son beweeg stadig oor die kraakblou hemel. Buyi voel alreeds hoe die warm strale neerbrand en in sy nek steek.

André vertel vir Buyi van die skool waarheen hy en Simoshile gaan, maar gelukkig is dit nou vakansie. André hou nie vreeslik van skool nie. Net van die skolerugby en -krieket.

“Speel jy rugby?” vra Buyi.

“Ja, ek is linkervleuel. Vinnigste ou in ons graad.” André se oë helder op en blink sommer van trots. “En jy?”

“Ek hou nie juis van sport nie, maar ek hou daarvan om boks te kyk. En sokker.”

“Jy kan dit hier ook speel, Engelsman.”

Hy sê die “Engelsman” in Afrikaans. Buyi verstaan nie wat hy bedoel nie. “Engelsman?” vra hy en frons.

“Englishman,” vertaal André en glimlag stout. Buyi skud net sy kop en glimlag ook.

Toe hulle by ’n groot ysterhek kom waar draad oor die lengte gespan is, lees Buyi die naambord: Kusasa.

“Dis nie die een met die leeu nie, is dit?” vra hy versigtig.

“Natuurlik nie,” sê André en maak dit oop. Hulle glip in en André maak die hek weer toe agter hulle.

Voor die seuns krul die grondpad deur bome, bosse en gras. Maklik genoeg, dink Buyi, totdat André van die pad afwyk en koers kies bosse toe. Die grond is meestal gelyk en hulle kan gemaklik stap, maar plek-plek raak dit moeiliker.

“Soos jy nou aansukkel, sal ’n skilpad jou inhaal en verbygaan,” sê André. Hy staan voor Buyi met sy hande in sy sye. Wagtend.

Buyi versnel sy pas. Oral om hulle hoor hy voëls roep. Hy en André kyk hoe twee voëls ’n ander voël uit ’n boom te verjaag. Hulle roep skerp: zweezwer!

“Die twee voëls met die blougrys lywe en lang oranjebruin sterte is paradysvlieëvangers. Die ander een met die lang, krom bek is ’n rooibek-neushoringvoël,” verduidelik André.

’n Koel bries stoot oor die veld en bring tydelike verligting teen die warm son. Buyi kan sien André is tuis in die veld. Sy skerp oë bespied die omgewing. Hulle blits van die grond, na die bome, na die lug.

André wys hom die sterk bobbejaanstert-plante wat soos klein palmboompies lyk, en die vaalboom met sy blink silwerhaar blare wat die Zulu’s destyds gebruik het om hulle potte mee blink te vryf. “En kou jy die blare, help dit vir tandpyn. Die blou-ghwarrie se stam kan ’n mens weer uitrafel en soos ’n tandeborsel gebruik.” André haal sy knipmes uit en wys vir Buyi.

Buyi lag. “Ongelooflik!”

André wys ook vir Buyi die kandelaarnaboom met sy melkerige sap waarmee die mense destyds visse bedwelm het om hulle met die hand te vang, toe hy skielik vassteek. Sy oë is wydgerek van opwinding. “Voel jy dit?”

“Wat?” Buyi voel hoe sy kopvel kriewel.

Ghoo-oo-oo. Dis soos ’n stroom wind. Buyi se oë rek. Wat is dit?

“Dis oukei. Kyk, daar!” fluister André. Hy wys voor hom.

’n Reusagtige kameelperd kom verbygeloop. Haar lang nek swaai grasieus en haar hoewe stamp dof teen die grond. Doef, doef, doef!

Buyi wil wegtree, maar André stel hom gerus. “Dis ’n kameelperdkoei. Haar horings is nog oortrek met hare, sien jy?” Buyi knik. “Die bulle se horings is glad omdat hulle teen mekaar baklei.” Die kameelperd draai haar kop en kyk vir ’n ruk lank na hulle. “Mooi, nè?” sê André.

Buyi knik, steeds sprakeloos.

Leeus met letsels (skooluitgawe)

Подняться наверх