Читать книгу Leeus met letsels (skooluitgawe) - Fanie Viljoen - Страница 7

4

Оглавление

Buyi voel bewerig. Aan die bestuurder se gelaatstrekke kan hy aflei dit is hy: Themba. Die langmouhemp van die uniform is opgerol oor sy ge­spierde voorarms. Hy dra leerstewels en ’n wyerandhoed. Sy gesig is sterk, sy oë donker.

Soos hy naderkom, klop Buyi se hart al hoe vinniger. Hierdie man – sy pa – is deel van hom, maar hy ken hom glad nie.

Met sy hoed in sy hand staan sy pa voor hom. Sy gesig is strak.

Buyi weet nie wat om van sy pa te verwag nie. Hy maak hom reg vir ’n omhelsing soos Mama Unathi s’n. Maar dit kom nie.

Sy pa hou net sy hand uit en sê met ’n sterk stem: “Hallo, Buyisiwe.” Net dit. Geen omhelsing nie. Geen glimlag nie. Net ’n afgetrokke hallo. Buyi skud sy hand soos Lwazi syne vroeër geskud het.

Skud, duim, skud.

“Haai …” Moet hy hom Pa noem? Of Themba? “Themba …” Sy pa korrigeer hom nie, so dis oukei met hom.

Mama Unathi sien die ongemaklike spanning tussen hulle en nooi vir Themba om saam te kom eet, maar hy maak verskoning: “Ek moet na die gaste omsien.” Sy pa se oë draai weer na Buyi. Steeds sonder emosie.

Is hy dan nie bly om my te sien nie? wonder Buyi toe sy pa wegstap.

Die chalet waarheen Lwazi vir Buyi vat, is onberispelik skoon. Dit is sy nuwe huis. Twee slaapkamers, ’n kombuis, badkamer en ’n sitkamer reg in die middel.

Glad nie soos hulle woonstel in Londen nie. Teen een van die mure gluur die kop van ’n dooie dier af na hom.

“Hierdie is joune,” sê Lwazi en dra die tasse by een van die kamers in. Die vertrek is nogal groot, die bed gemaklik. “Dit lyk of jy sommer klaar tuis is!” lag Lwazi. “Ek moet in die pad val. Ek gaan saam met Johan, André se pa, op ’n nagsafari. Hy is ook ’n wildbewaarder, nes jou pa.”

“En jy?” vra Buyi.

“Ek is ’n spoorsnyer. Ek gaan saam op die safari’s en soek vir spore en ander tekens. Dit help die bewaarder om die wilde diere makliker te kry. Dis nogal opwindend vir die toeriste ook.”

Buyi glimlag flouerig. Hy verstaan nie hoe dit pret kan wees om agter ’n dier se spoor aan te loop nie.

“Hou maar die vensters toe,” sê Lwazi. “Bobbejane kan inkom en sal enigiets eet wat hulle in die hande kry.

“En … ander diere? Sal ek veilig wees hier op my eie?”

“Ja wat, wees maar net versigtig. Die diere is gewoonlik banger vir jou as wat jy vir hulle is.” Daarmee draai hy om en loop uit terwyl hy “Sala khale!” oor sy skouer roep. “Mooi bly!”

Skielik is Buyi heeltemal alleen. Die donker kruip die huis stadig binne. Hy sit al die ligte aan, maar daar is geen televisie in die chalet nie.

’n Skielike skril geluid verbreek die stilte om hom. ’n Telefoon? Hy vat na sy selfoon al weet hy dis nie sy luitoon nie. Dan sien hy eers hy’t nie ’n sein nie. Wa-a-at? Hoe kan dit wees?

Iewers in die chalet lui die telefoon steeds. Hy volg die geluid na die tafeltjie in die sitkamer en antwoord.

“Hallo, Buyi!”

“Ma!” Hy is so verlig om haar stem te hoor.

“Hoe gaan dit met jou?”

“Ek is orraait. En Ma?”

“Ek mis jou. Hoe was die vlug?”

Hy vertel haar van die vlug, die mense wat hy ontmoet het, en hy jok ook en sê dat sy pa baie gaaf is …

Leeus met letsels (skooluitgawe)

Подняться наверх