Читать книгу Leeus met letsels (skooluitgawe) - Fanie Viljoen - Страница 8

5

Оглавление

Ná sy ma se oproep besluit Buyi om sy tasse uit te pak. Die klere sit hy weg in die kas, die paar boeke wat hy saamgebring het stapel hy op die lessenaar langs sy iPod, ’n pak CD’s en DVD’s. Teen die kaal baksteenmuur sit hy ’n plakkaat op van Amir Khan, die bekende bokser.

Hy kyk na die venster hier langs hom. Moet hy dit vir ’n rukkie oopmaak? Maar sê nou net iets spring skielik deur – een van die bobbejane waarvan Lwazi gepraat het?

Hy skuif die gordyn weg en sit sy hand op die vensterknip.

Klik!

Stadig maak hy die venster oop. Die klanke van die nag vloei die kamer­ binne. Skielik wir ’n gogga by die venster in. Buyi skrik en val agter­oor op die bed. Die swartvlerktor vlieg op na die lig. Buyi kan nie anders as om te lag nie. Hy het hom byna doodgeskrik vir die gediertetjie wat nou heeltemal onskuldig lyk.

Hy gaan sit weer by die venster en luister na die naggeluide. Hy pro­beer die vreemde reuke in die lug uitmaak … rook … droë gras … stof?

Skielik verstyf hy. Iets krap buite in die bosse. Buyi hoor gras ritsel, ’n gekrap, toe droë blare en takkies wat kraak. Dit klink nogal naby. Genoeg bravade vir een aand. Buyi pluk die venster vinnig toe en maak dub­beld seker die knip is deeglik op.

Sy pa is steeds nie terug nie.

Uiteindelik raak Buyi aan die slaap, sommerso in die klere wat hy heel­dag aangehad het. Die klap van ’n deur maak hom later wakker. Haas­tige voetstappe. Hy lê versteen. Iemand beweeg in die chalet rond.

“Dêmmit!” Dis ’n man se stem. Sy pa?

Buyi hoor hom in ’n kas krap. Die klank van metaal. ’n Klikgeluid. ’n Skadu val oor die deurkosyn. “Buyisiwe?” Dis sy pa. “Maak seker al die vensters en deure is deeglik toe.” Sy stem is gespanne. Hy het ’n geweer en ammunisie in sy hand. “Daar was ’n ongeluk. Die nagsafari waarop Lwazi was, het op ’n leeu afgekom.”

Buyi voel skielik lam. Maar toe hy die voordeur hoor toeklap, spring hy op en gaan maak seker al wat ’n deur is, is gesluit. Elke venster op knip.

Vir ure daarna lê hy na die donker plafon en staar en probeer luister na die musiek op sy iPod. Een oorproppie in sy oor, die ander een uit, vir ingeval …

Laat die aand kom sy pa eers terug, sy klere oortrek met bloed.

“Wat het gebeur?” Buyi se stem is hees van vrees.

Sy pa sug, skud sy kop moeg en gaan na sy kamer toe om die geweer weg te sluit in die kluis. “Ek gaan stort,” sê hy toe hy weer uit die kamer kom. “Hoekom is jy nie in die bed nie?”

“Ek kon nie … Jy is vol bloed. Is jy oukei?” vra Buyi.

“Ja, gaan na jou kamer toe!”

Buyi wil skree van frustrasie. Wie se bloed is dit? Het hy die leeu dood­gemaak? Of het die leeu … Nee, hy wil nie eens daaraan dink nie.

Leeus met letsels (skooluitgawe)

Подняться наверх