Читать книгу Leeus met letsels (skooluitgawe) - Fanie Viljoen - Страница 6

3

Оглавление

“Sawubona!” roep die man en hou sy hand uit na Buyi. “Ngiyakwemu­kela!”

Buyi frons. Hy het geen idee wat die man sê nie. “Sorry?”

“I said: ‘Hello, and welcome!’ ” Die man glimlag breed.

“Uh … hi, thanks,” antwoord Buyi versigtig. Sy hart jaag steeds. Om jou pa vir die eerste keer te ontmoet, is verskriklik angswekkend.

Die man se hand is steeds na Buyi uitgestrek. Buyi vat dit. Die greep is sag. Toe doen die man ’n vreemde ding. Sy greep wissel van ’n normale handdruk na ’n duimgreep, weer sagkens, en terug na ’n normale handdruk.

“Oh,” sê Buyi, onkant gevang. “Jy is Themba? My pa?”

“Nee, ek is Lwazi. Ek werk saam met jou pa. Hy het nog werk gehad om te doen, toe vra hy ek moet jou kom haal.”

“Jy is hier!” hoor Buyi ’n meisiestem uitroep. “Buyisiwe!”

’n Seun en meisie kom aangehardloop. Hulle is omtrent Buyi se ouder­dom. “Jammer ons het jou gemis,” sê die seun met die sproetgesig en rooi hare. Buyi is dankbaar hulle praat Engels, anders het hy weer nie ’n woord verstaan nie, soos toe Lwazi hom gegroet het.

“Simoshile moes badkamer toe gaan en ek moes keer dat sy nie ver­dwaal nie. Sy het glad nie ’n sin vir rigting nie.”

Die meisie se oë rek. “André! Sies vir jou!”

“My naam is André,” kom dit opgewek.

Die meisie glimlag. Haar donkerbruin oë is vriendelik toe sy sê: “En ek is Simoshile.” Sy kyk ’n ruk lank na hom sonder om ’n oog te knip, toe kyk sy skamerig af.

“Buyisiwe,” sê hy, “maar hulle noem my Buyi.”

Hulle baan hulle weg deur die lughawe en toe hulle by die motor kom, sien Buyi dis ’n veldvoertuig, een van daardie 4x4’s wat hy al in tydskrifte gesien het. Lwazi pak sy tasse agterop en Buyi en André klim agterin. Simo­shile spring voorin, langs Lwazi.

Toe Lwazi die voertuig aanskakel, woel daar steeds ’n vae vrees vir die onbekende binne Buyi. Maar daar is ook ’n sprankie van opwinding. Dit was ’n uitputtende dag en hy kan later nie meer sy oë oophou nie. Met die sagte dreuning van die 4x4 se enjin in sy ore raak hy aan die slaap en skrik eers laatmiddag wakker met die son se strale in sy gesig.

Ná ’n lang ruk kom hulle by ’n grondpad wat afdraai uit die teerpad. “Sien jy daar?” André wys na die bergreeks in die verte. “Dis die Waterberge.” Die soliede groen en bruin berg se geriffelde rand sny donker oor die helder hemel.

Nie lank nie, of hulle kom by ’n massiewe houthek met stewige klipmure aan weerskante. ’n Naambord lees: Isigubhu. En onder dit, in kleiner letters: Drum.

’n Sekuriteitswag maak die hek oop. Hulle ry deur en volg die grondpad wat voor hulle uitkronkel. Uiteindelik draai hulle in na ’n groep ge­boue waarvan die klipmure en hoë strooidakke afgeëts staan teen die agtergrond van die Waterberge.

“Hierdie is die hoofgebou,” verduidelik Lwazi.

Buyi kyk oopmond na die indrukwekkende gebou met die groot vensters en massiewe houtdeure waarop diere in ingewikkelde patrone uitgekerf is. Daar is ook ’n geskenkwinkel, ’n spa en skoonheidsalon. Buyi staar na die uitgestrekte tuin vol blomme, groot koeltebome en grasperke. Dit herinner hom aan die tuine in Londen. Maar hierdie tuin is anders, meer natuurlik en aards.

“Welkom by jou nuwe tuiste!” sê Lwazi toe hy in die skadu naby die hoofgebou stilhou.

“Watse plek is hierdie?” vra Buyi.

“Weet jy dan nie?” vra Lwazi met ’n glimlag. “Dis ’n wildreservaat. Dis waar jy nou gaan bly – by jou pa in sy chalet, in die personeel se gedeelte van die oord. Dis ’n entjie verder met die pad af.”

Buyi kry weer daardie benoude gevoel in sy bors. Hy gaan in ’n wild­reservaat bly. Is dit ’n goeie of slegte ding? Hy kyk vinnig rond om te sien of daar enige diere in die omtrek is. Moet hy bang wees? André en Simoshile spring uit die voertuig. Hulle lyk heel op hulle gemak. Nie in die minste bang nie. Maar Buyi het al op die Discovery-kanaal gesien wat wilde diere kan doen. Hy gaan ’n krieketkolf of een of ander wapen nodig hê as ’n wilde gedierte uit die bosse losbreek en op hom afpyl.

“Oe! Hy is hier!” hoor Buyi iemand uitroep. ’n Groot vrou met ’n kleurvolle rok en bypassende kopdoek storm by die hoofgebou uit. Haar arms is uitgestrek. “My seun!” roep sy. Haar hele lyf bewe van opgewondenheid toe sy Buyi gryp. “Kom laat ek ’n bietjie na jou kyk!” Toe trek sy hom teen haar vas. “Unjani?” neurie sy. “Hoe gaan dit?”

Buyi is heeltemal onkant gevang. Wie is hierdie vrou? Wat moet hy doen?

“Welkom tuis, Buyisiwe,” sê sy. “Jy het uiteindelik teruggekom. My naam is Unathi.”

“Mama Unathi bestuur die kombuis,” sê Simoshile.

“En sommer al die ander goed ook, as jy haar ’n halwe kans gee!” terg André.

“Hei, suka!” roep sy en maak asof sy kwaad is. “Moenie jou aan André steur nie, Buyi. En pas op vir hom. Hy sal jou net in die moeilikheid laat beland. Kom ons gaan kry vir julle iets om te eet.” Maar hulle kom nie verder nie, want nog ’n veldvoertuig met toeriste agterop kom aangery. “Oe, kyk, Buyi” sê Mama Unathi. “Jou pa is hier.”

Leeus met letsels (skooluitgawe)

Подняться наверх