Читать книгу Leeus met letsels (skooluitgawe) - Fanie Viljoen - Страница 5

2

Оглавление

Sy maag draai elke keer as hy net daaraan dink. Afrika? Waar is Afrika in elk geval? Hoekom moet hy Afrika toe gaan? Net omdat hy in ’n vuisgeveg was? Omdat hy anders is?

Hy ken nie eens sy pa nie. Waar was hy al die tyd? Hoekom sal Buyi hierdie man wat hom nog altyd ignoreer nóú wil ontmoet?

Oor die volgende paar weke beplan sy ma alles. Sy reël sy paspoort, vra sy pa om die vliegtuigkaartjie te betaal, pak Buyi se tasse en toe, een reënerige aand, sit hulle af na Heathrow-lughawe.

Die afskeid is swaar. Sy ma belowe om hom te bel sodra hy daar aan­kom.

“Ek is lief vir Ma,” sê Buyi net voor hy die vertreksaal moet binnegaan. Hy dink nie hy het dit al voorheen gesê en dit regtig bedoel soos nou nie.

“En ek is lief vir jou, Buyi,” sê sy toe sy hom in haar arms toevou en hom teen haar vasdruk. Hy wens hy kon vir altyd daar in haar arms bly. Maar dis tyd om te gaan.

En later, toe die vliegtuig opstyg, is sy ma al waaraan hy kan dink. Hoe sy teruggaan na ’n leë woonstel. Huilend en hartseer.

Die vliegtuig land na ’n vlug van elf ure op O. R. Tambo Internasionale lughawe. Hier is dit nou. Die oomblik wat Buyi gevrees het. En toe sy voete Afrika se grond raak, verwag hy ’n plotselinge skok. Dalk ’n gevoel dat hy tuisgekom het in die land van sy vaders.

Maar daar is niks.

Hy weet in ’n oogwenk dat hy ook nie hier hoort nie.

Toe hy die aankomssaal binnestap, is daar ’n see van gesigte voor hom. “Jou pa sal jou kom haal.” Dis wat sy ma gesê het.

Buyi weet nie hoe hy lyk nie. Meteens vang ’n bordjie sy oog. Dit het sy naam op. Buyisiwe. Die man met die bordjie het ’n netjiese uniform aan. En toe sy oë Buyi s’n ontmoet, glimlag hy. So, dan is dit nou hy, dink Buyi. Dit is Themba.

Leeus met letsels (skooluitgawe)

Подняться наверх