Читать книгу Leeus met letsels (skooluitgawe) - Fanie Viljoen - Страница 4

1

Оглавление

Daar is bloed op Buyi se vuiste. En bloed op die ou voor hom se gesig. Sy naam is Jonathan. ’n Klomp leerders drom saam om hulle in die skoolgang. Jonathan lê nog op die vloer.

Hy kyk op na Buyi. Sy oë uitdagend. Hy glimlag toe hy die bloed van sy oogbank wegvee.

“Lucky shot!” sê hy.

“You want some more then?” Buyi onthou die vuishou wat Jonathan vloer toe gestuur het. Hy onthou die pyn in sy vuis en arm toe die hou val.

En toe kom die onderwyser.

Daar is moeilikheid aan die broei. Buyi weet dit net. Dit stoot op deur die koue strate. Oral waar hy gaan, asem hy dit in: die treine van die Londen Underground, die klaskamers en strate. Dit maak hom bang.

Dit is laatmiddag. Vrydag. Hy vat die roltrap en uiteindelik ontsnap hy uit die bedompige ondergrondse treintonnels. Die oggendreën lê steeds op die strate.

Terwyl hy loop, vang sy oog sy weerkaatsing in ’n winkelvenster. Swart gesig, kake geklem van die koue. Die sny op sy lip. En hy voel soos ’n vreemdeling. Hoekom? Hy woon nog sy hele lewe lank in Londen. Maar op ’n manier ís hy ’n vreemdeling.

Buyisiwe. Sy naam eggo in sy kop. ’n Vreemdeling se naam, hier in Londen.

“Zulu!” hoor hy nog Jonathan se stem in sy ore toe hy in die woonstel op sy ma wag. “What are you doing here, Zulu? Why don’t you go live with your people?”

Your people. Jou mense. Hierdie ís sy huis. Hy ken nie ’n ander plek nie.

Maar tog dis nie net Jonathan se woorde wat hom vandag pla nie. Daar is iets anders: “Ons moet praat,” het sy ma vanoggend gesê. Maar hy was laat vir skool en kon nie. “Vanaand dan. Wanneer ek terugkom van die werk af,” het sy toe gesê.

Buyi se ma sug toe sy by die voordeur instap. Donker merke kring onder haar oë. Haar gesig is bleek, haar blonde hare deurmekaar. In haar hand is inkopiesakke en ’n pizzaboks. “Jy kon ’n bietjie hier skoongemaak het,” sê sy toe sy die goed in die kombuis sit.

Buyi se oë val oor die stapels vuil borde en deurmekaar woonstel. “Ag, Ma kan mos môre skoonmaak.”

“Ek werk môre!” Sy ma sug en skielik is daar trane in haar oë. “Jy maak die lewe ook nie makliker vir my nie, weet jy, Buyi?”

“Dis net vuilgoed, Ma, niks om oor te stres nie.”

“Nee, dis meer as dit, Buyi. Jy help nie in die huis nie. Ek sukkel om kos op die tafel te hou, ’n dak oor ons koppe. Weet jy hoe moeg is ek al daar­voor? Maar ek sien nou ek het die regte besluit geneem.”

“Watse besluit?” Die vrees is dadelik terug. Dis amper asof sy ma moed opgegee het.

“Ek wou jou vanoggend vertel het, maar ek het besluit om weer te dink …” Die trane stroom nou oor haar gesig. “Dis seker die moeilikste besluit wat ek nog ooit geneem het.”

“Ma?” fluister hy.

“Die ding wat vandag by die skool gebeur het, het alles bevestig. Die skool het my gebel, Buyi. Dit was amper soos ’n teken. Ek kan nie meer twee mense aan die lewe hou met my klein salaris nie,” sê sy ma sag. “Dit is tyd dat jy jou pa ontmoet. Themba. Ek het hom vertel van ons finansiële probleme. Ons het alles deurgepraat …”

“Ma?”

“Ek weet hy was nie daar vir jou die afgelope jare nie. Maar dit gaan nou verander. Hy het ingestem om van nou af na jou om te sien. Jy gaan by jou pa in Suid-Afrika bly.”

Leeus met letsels (skooluitgawe)

Подняться наверх