Читать книгу Kamphoer - Francois Smith - Страница 10

Hoofstuk 7

Оглавление

“Kom,” sê Hurst en sit sy pen op die skryftafel neer, “kom ek gaan wys jou waarmee ons hier te kampe het.”

Sy bly nog ’n oomblik staan, kyk byna verdwaas deur die venster agter Hurst, bewus van die skielike lig, en as sy dit nie mis het nie ’n nuuskierige afwagting in haar, byna ’n gevoel van opwinding, ná die groeiende ongemak van haar gesprek met Hurst. Ja, dit besef sy nou: dit was nie ’n gemaklike gesprek nie. Dis nie asof Hurst ’n stekelrige persoonlikheid het nie, allermins. Dis net … sy kan regtig nie nou haar vinger daarop lê nie.

Hurst gee lang, energieke treë deur die vertrek, pluk dan die kantoordeur oop. “Soos ek jou gesê het, gaan dit hier in hoofsaak oor vrees en pogings om dit te bemeester.”

Sy is ’n oomblik geamuseer deur die kontras van die kragtigheid van sy bewegings met die sereniteit van sy gesig, maar skarrel dan haastig om saam met hom deur die deur te kom. Hy is nie lank nie, sien sy nou; dalk selfs korter as sy.

“Jy sou netsowel ook kon sê ons werk met dapperheid,” vervolg hy toe sy langs hom inval, “met die verwagtings wat dit skep, en gevolglik ook die teleurstellings. Daar is steeds diegene in die weermag en daarbuite wat dink ons behandel wanaangepastes, en dat dit mense wat ‘swak van gees’ is wat vatbaar is vir sulke ineenstortings. Maar die feit is dat die meeste van ons pasiënte offisiere is. Jy sal dalk vir my sê dis ’n klasseding, dat hulle uiteraard meer aandag en simpatie van die owerhede sal kry, maar die vernaamste rede is dat dit juis offisiere is wat nie hul emosies durf wys nie. Hulle is die ouens wat doodeenvoudig hul vrees móét verdring. En hier sien jy die hele kaboedel: ataktiese en histeriese gange, kontraksies en anestesie van die gesig, spierspasmas, knie- en enkelreflekse, paraplegie, oorlogsverwante hipertireose, amnesie, woordblindheid en woorddoofheid en dan nog algemene simptome wat jy uit die kliniese praktyk sal ken.”

Hulle loop in ’n lang, skemerige gang met ’n glansend blink vloer. Sy is bewus van die flap van haar rok om haar bene, van die stamp van Hurst se swaar stewels. Hulle loop deur ’n vreemde, half boaardse flikkering van donker en lig – verby oop deure van waar elektriese lig byna verblindend helder oor die donker gangvloer val. En dit is asof hulle, sy en Hurst, hulself omhul met ’n dun membraan van moderne kennis, die jongste wetenskaplike terme, ’n fyn net van woorde, en in hierdie helder borrel dryf hulle rond op ’n oeroue see met om hulle ’n wemeling van rukkende liggame, krioelende ledemate en oë wat glasig ploep deur die sponsige oppervlak van die modder en slyk van die heel, heel begin. En dit is geleidelik asof iets van hierdie oersop begin deurlek na hul helderte toe, tussen die membraan se molekules deurpers en krake oopdwing waardeur figure, gesigte en geluide binnedring. Saam met Hurst se relaas is daar nou ook ’n ander stem in haar kop, een van die ou, ou stemme wat haar soms nog besoek, dié van dokter Molesworth in ’n donker koets onderweg na Bloemfontein: “Wat is dit wat jy gesien het, Perry?” En terwyl Hurst se stem die nuwe terrein vir haar ooplê, is dit asof ’n gedeelte van haar aandag voortdurend weggelei word na hierdie ander, ouer paaie – die paaie wat sy geloop het om hier, in hierdie hospitaal, uit te kom. “Dis die oorlog, nie waar nie?” hoor sy Reymaker praat, en sy sien sy geplooide bleek vinger sy kat se stertjie aai. “Jy is nie jou oorlog nie,” wil sy hom toesnou; sy wil sien hoe hy sy oë toeknyp en terugdeins, maar Hurst het skielik gaan staan.

Nie dat dit onverwags was nie, dis net dat sy so in gedagtes versonke geraak het. Hurst het eintlik heelpad kort-kort gaan staan om eers iets te verduidelik. Hy huiwer byvoorbeeld eers ’n rukkie voordat hulle met ’n trap afgaan, of, het sy agtergekom, wanneer hulle buite hoorafstand is van personeellede wat hulle elke nou en dan in die gange teëkom. “Bomskok is ’n misleidende term,” sê hy dié keer. “Aanvanklik het medici gedink dit is senuskade as gevolg van ontploffings. Nee, korreksie, aanvanklik het hulle gedink dis die gekonkel van lafhartiges wat so van die front wou wegkom. Hulle is dus taamlik ru behandel. Eensame aanhouding. Dissiplinering. Jy kan jou indink wat dit behels het. Elektriese skokke. Emosionele manipulasie. Maar deesdae weet ons dat baie van dié soldate, diegene wat jy hier kan sien, nie eens naby ’n bom was nie, en dit is waarom ons eerder van ‘oorlogskok’ as ‘bomskok’ praat. Dit is in baie gevalle eerder ’n langdurige blootstelling aan vrees, aan spanning, en doodgewoon dae en weke en maande se gewag in ’n loopgraaf wat die skade berokken.”

Hulle loop by sale in, verby rye beddens met vaal komberse, wit lakens en grys gesigte. Van die pasiënte sien hulle nie eens nie, kyk na die dak, by ’n venster uit. Die verpleegsters wat hulle in die sale teëkom, is meestal so besig dat hulle ook nie opkyk nie. Hurst buk soms by ’n bed om met die pasiënt te gesels, soms ontlok hy ’n glimlag, ’n paar woorde, maar meestal net ’n bekommerde, verwarde staar. Soms wil Susan iets vra, ’n opmerking maak, maar alles wat sy wil sê, kom vir haar ontoereikend voor. Dit is asof sy haar kliniese, afstandelike blik kwytgeraak het en net kan reageer met persoonlike indrukke of emosionele ontboesemings.

Toe Hurst die soveelste saaldeur agter hulle toetrek, wil sy die geleentheid aangryp in die lugleegte voor die volgende deur, en iets sê wat heeltemal niks met haarself te make het nie. Sy lig ’n hand na hom toe om sy aandag te trek, maar net toe gaan die deur aan die oorkant van die gang oop en ’n verpleegster staan in die opening, haar gesig uitdrukkingloos. Susan sluk droog. Sy sluk letterlik haar woorde terug; haar hand kom stadig terug na haar sy. Oor die verpleegster se kop, in daardie breukdeel van ’n sekonde voordat die deur weer agter haar toegaan, sien sy ’n lyf wat wriemelend opkrul van ’n bed, asof die lakens ’n witwarm vlam is – dit was ’n mens.

Die deur klik toe, en Susan en die vrou staan sprakeloos teenoor mekaar. Dit was ’n mens, dink Susan en voel die vertraagde skok van adrenalien in haar vingerpunte prik. Sy hoor Hurst skuins agter haar praat. “Anne,” sê Hurst vir die verpleegster, “sal jy vir suster Susan Nell ’n bietjie touwys maak?”

Die vrou teenoor haar, Anne, se blou oë, haar hele gesig, is bewegingloos, net haar mond roer wanneer sy praat, en dan met so ’n byna siniese trek van die vol onderlip. Sy is Anne Maxwell, oënskynlik een van die senior verpleegsters in die hospitaal, maar presies waar sy in die hiërargie inpas, is nie seker nie. Sy blyk wel bewus te wees van “die Nederlander” se koms, maar sy luister uitdrukkingloos na Hurst se bondige bekendstelling, byna afwesig, soos wat hospitaalpersoneel gewoonlik iemand se polsslag neem. Sy kyk Hurst agterna toe hy wegstap, en toe hy buite hoorafstand is, sê sy, steeds agter sy rug aan: “Wat het hy jou al gewys? Een van sy wonderwerke?”

Dit is ’n toonlose, effens verveelde stem, maar die blou oë flits na Susan se gesig en gluur dan nogal demonstratief na waar Hurst om ’n hoek verdwyn. Susan vermoed die vrou is besig met ’n parodie van die tipiese streng matrone. Sy is nie seker hoe sy daarop moet reageer nie. Is Anne Maxwell besig om met Hurst die gek te skeer? Sy ignoreer Anne se sydelingse blik en sê saggies: “Die mense wat ek gesien het, het maar oes gelyk.”

Anne begin terstond aanstryk. “Kom,” sê sy, “kom ek gaan wys jou.” Toe Susan aan haar skouer loop, sê sy, steeds met haar blik strak voor haar gerig: “Die wat genees is, mirakelagtig genees is, of op die drumpel van genesing staan, sal jy in die biblioteek sien, of in die musiekkamer, of wandelend in die tuin.”

Steeds weet Susan nie presies wat die vrou bedoel nie. Mirakelagtig … Sou sy sarkasties wees? Die gedagte is bloot ’n fladdering, want wat regtig op Susan se hart druk, is wat sy pas vlietend agter daardie deur gesien het. Sy rek dus haar treë so ’n bietjie sodat sy skuins voor Anne Maxwell loop, kyk haar oor haar skouer aan en vra: “Maar wat was dit in die saal daar agter, waar jy nou net was?”

Anne se oë swaai na haar en weer terug, ’n vlietende gebaar, wat wat beteken? Was dit ’n bevestiging? ’n Waarskuwing? Maar voordat Susan nog iets kan vra, praat Anne. “Percy Meek,” sê sy, en dan: “Nog nie reg vir die biblioteek of tuinwandelings nie, nè.” Susan gaap haar aan. Waarvan práát die vrou? Anne gaan egter onverstoord voort: “Jy moes hom gesien het toe hy opgeneem is.” Sy stamp ’n deur met haar linkerhand oop en hulle is in ’n vertrek met ’n lang tafel en stoele, van iewers kombuisgeluide en die reuk van kos wat gaarstoom. “Die personeel se eetkamer,” sê Anne, gaan staan by die koppenent van die tafel, vou haar hande voor haar bors en vervolg sonder verposing met haar relaas: “Hy het nog gedink hy is in ’n loopgraaf toe hy hier aankom, net so opgekrul bly lê en koes vir bomme wat val, sy pupille so groot soos ’n kleinbordjie.” Sy kyk Susan die eerste keer vierkant aan, en dan sien Susan dit: Haar irisse het ’n donkerblou, byna pers rand. En onder daardie oë roer die lippe skaars merkbaar om die sarsies woorde uit te skiet: “Daar in sy bed, die ene spasmas, het hy gesweet soos ’n perd, sy pols honderd-en-veertig en sy kop, romp, bene, als ruk-ruk-ruk. Hy sien spoke,” sê sy, “die spoke van die Duitsers wat hy met die bajonet neergevel het. Hulle kom vir hom, hy hoor hulle koeëls langs hom vasslaan, hulle kom vir hom.”

Steeds weet Susan nie hoe om te reageer nie. Onder Anne se strak uiterlike, haar ongeanimeerdheid en die toonloosheid van haar relaas, skemer daar ’n intelligensie en ’n berekendheid deur, die vertelling klink selfs gerepeteer, en die mond, merk Susan, ja, die mond is altyd net so ’n haarbreedte weg van ’n glimlag. Susan begin ’n ironiese speelsheid vermoed, maar weer gebeur dit dat Anne voortgaan voordat sy iets kan sê. Dié keer vertel sy nie, sy vra: “Maar hoekom het jy hier kom werk? Hoekom nie in ’n algemene hospitaal nie? Dis waar die personeeltekorte is. Om die loopgraafvoete te dokter, of die derduisende gevalle van veneriese siekte. En ek praat nie eens van dié wat uitmekaar geskiet is nie. Bomskok is maar ’n druppel aan die emmer.”

Die vrou is besig om die gek te skeer, daar is nou geen twyfel meer nie. Susan laat val haar skanse, en die woorde spring na haar mond. “Derduisende gevalle … Wat bedoel jy?”

“Og, dis algemeen …” begin Anne, maar dis asof Susan net so spontaan soos wat sy gereageer het deur ’n somber vermoede oorval word: Sy het iets onbedags gesê, iets onbehoorliks, sy het haar blootgestel. “Ek is jammer,” krabbel sy vervaard terug, “ek het nie jou vraag beantwoord nie.” Sy ondersoek Anne se gesig ’n wyle om die uitwerking van haar woorde te peil, maar die blou kykers met die donker rand verklap niks nie. “Ek is as psigiatriese verpleegster opgelei,” sê sy dan, haar stem sterk, die aflewering sonder huiwering.

Dié keer lig Anne ’n wenkbrou. “O, nè?” sê sy. “Kry julle dié soort spesialisasie in Nederland?” Sy verwag ooglopend nie ’n antwoord nie, want die volgende sin vloei reeds net so ongehaas soos al die ander voort: “Ysere selfbeheersing het julle wel gekry, dit kan ek sien. En dis goed genoeg vir dié plek. Wat praat ek, hier het hulle net die beste nodig, want as jy ’n fout maak met een van hierdie ouens se diagnose, kan die vuurpeloton sy voorland wees. Rattatatta. Nie juis iets wat sal gebeur as jy vrotpootjie foutief diagnoseer nie, nè? So, lig die ken en glimlag, jy is aan die spits van die oorlogsgeneeskunde.”

Ysere selfbeheersing? Dit is waaraan Susan dink waar sy langs Anne in die gang afloop. Anne gee lang, gemaklike treë, kom Susan agter, en ’n rukkie lank is dit vir haar lekker om presies in die pas te loop; daar is ’n soort militêre kameraderie in die saamval van die voete, ’n bravade selfs, maar dan voel dit vir Susan verspot en sy verander haar pas doelbewus. Tog was daar iets aan hierdie vlietende, niksseggende ervaring wat haar met ’n tinteling gelaat het, en dan waag sy dit, ook omdat Anne se onverskrokke oneerbiedigheid dit moontlik gemaak het, sy waag dit om iets van daardie gewraakte selfbeheersing prys te gee. “Skiet hulle ook dié met veneriese siektes?” vra sy.

“Wat?” blaf Anne oordrewe, maar steeds sonder ’n sweem van ’n glimlag. “Seker waar jy vandaan kom, maar hier is ons beskaafd.”

Dit ruk deur Susan. Waar sy vandaan kom? Ja! Dit is eintlik wat sy in gedagte het, besef Susan. ’n Hele ruk nou al was dít wat sy wou sê. Terwyl Anne gepraat het, hoe lank nou al, het ’n ou beeld in haar kop gekom, dit was in haar kop, hier in die gang en daar in die kombuis, en dit was iets wat Anne gesê het wat die aanleiding was vir hierdie ding, hierdie beeld uit haar jeug. Dit was in Kaapstad, ja, dit was waar sy dit gesien het, dit was een van die Engelse soldate, ’n kaptein, wat met ’n prostituut onder elke arm in Adderleystraat afgeloop het, so doodnormaal asof hy … asof hy … Maar dis ook nie dit nie, nee, nie dit nie, dit is eintlik net die doodgewone feit dat sy ’n ruk in Kaapstad gewoon het en prakties gesproke van daar af kom. Om die een of ander rede het sy dit nie vir Hurst gesê nie, wóú sy dit nie vir hom sê nie, maar nou wil sy in hierdie hospitaalgang en aan ’n vrou wat sy skaars vyf minute ken, hier wil sy wil sê waarvandaan sy kom. “In Kaapstad het ek eenmaal …” begin sy, maar trek dan haar asem in.

“Kaapstad? Was jy al daar?” vra Anne bokant die klikklak van haar skoene.

Susan blaas haar asem stadig uit. “Dis waar ek eintlik vandaan kom,” sê sy. “Voor Nederland. Dis waar ek grootgeword het.”

Sjoe, dit was maklik, dink sy. Hoekom was dit dan vroeër vir my so moeilik? Nee, seker nie moeilik nie, maar tog, met Hurst was dit ’n kwessie, ’n soort obstruksie, en dit, hierdie ding oor my herkoms, dít is wat die gesprek met Hurst daardie onderliggende krieweling gegee het, soos ’n ongewenste aanraking, soos vingers wat … Sy ril en skud haar kop om die gedagte te verdring.

Nou eers kom Susan agter dat Anne in haar spore vasgesteek het, en dat sy reeds ’n tree of vyf sonder haar vooruit geloop het. Sy stop dadelik en draai om na haar kollega, en dit tref haar dan dat Anne die ideale gesig het vir hierdie tydperk en hierdie plek, vir hierdie oorlog, met haar oë met die purper stralekranse daarin en met haar mond van pantserstaal. “Dan is jy mos ’n vrou wat ’n lang pad kom,” sê Anne. “Jy kan my meer vertel as wat ek jou kan vertel.” Sy begin weer loop, dié keer met haar blik vasgenael op Susan.

Kamphoer

Подняться наверх