Читать книгу Kamphoer - Francois Smith - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

Daarna, eers lank daarna, het die gedagte by haar opgekom dat haar hele lewe en alles wat met haar gebeur het, uitgeloop het op daardie presiese moment, op daardie oomblik toe sy haar hand uitgesteek het na die deurhandvatsel, van onder die dooiegewig van tyd haar hand opgedwing het na die knop – dáárheen het alles afgewerwel, na daardie deur en wat daaragter gelê het.

Iets in haar moes egter eers tot bedaring kom voordat sy dit kon regkry om dit duidelik genoeg te sien: haar gestalte voor daardie deur en hoe sy tot daar gekom het. Vreemd genoeg het dit begin gebeur nadat sy lankal die sekerheid verloor het oor waar alles in die wêreld hoort, of hoe dit daar gekom het, of wat die rangorde van dinge is. Sy was toe reeds ’n volle vennoot van Reymaker Psychiatrie, en die gaping tussen wat sy teoreties geglo het en instinktief gedoen het, was uiteindelik klein genoeg dat sy spontaan, onbevange haar beroep kon uitleef. Wel met ’n soort Nederlandse ongeërgdheid, nee, seker eerder ’n haas permanente gebelgdheid, ’n ongeduld met beuselagtighede. Sy het inderdaad volledig geassimileerd geraak. Hoe dan anders, sy lyk dan so Nederlands: haar gesig oop en blakend, vosblonde hare wat sy dikwels agter die kop vaswoel sodat die ou litteken links aan haar voorkop sigbaar is, die dae dat sy dit so naarstig weggesteek het lankal verby. Daarby is sy lank en glad nie tenger nie, haar mond breed en vol – effens gulsig, dié mond van my, dink sy soms as sy haar toelaat om selfkrities te wees. Maar sy waak daarteen: te veel selfkritiek doen niemand goed nie, nie vir jou nie en ook nie die mense om jou nie. En as sy na haar oë kyk, vandag nog, weet sy: versigtig, versigtig, jy is nie so sterk soos wat jy dink jy is nie. Moedswillig kan sy wel wees. Seker dié dat sy haar Nederlands ’n Afrikaanse kleur laat behou het. Pure moedswilligheid. Maar dan is koppigheid ook eerder ’n Nederlandse kenmerk. So, waar laat dit jou?

Iets omtrent haarself waaroor sy wel baie seker is, is dat sy haar tuis voel in die saakliker sosiale omgang. Dis nou as sy dit vergelyk met sê nou maar dit waarmee sy grootgeword het, die geselsies en so. Ook in haar optrede teenoor pasiënte is sy reguit en op die man af. Sy sal byvoorbeeld ’n seurende pasiënt ferm stilmaak en sê: Kom ons skei die koring van die kaf. Die vrou aan wie sy nou dink, was tog so angstig dat dit háár melancholie, haar swartgalligheid en doodsbeheptheid was wat aanleiding gegee het tot die moord op haar man, dat sý dus die dood as’t ware getart het. Aan dié vrou sê sy toe: Jy durf nie so dink nie. Die wêreld staan heeltemal ongeërg teenoor jou; steur hom nie in die minste aan wat jy dink of doen nie, of wat met jou gebeur nie, of wat per slot van rekening met jou man gebeur het nie.

Snaaks dat sy nou hieraan sit en dink. Dis vroegaand en die kantoor is al ’n hele rukkie stil. Haar hele lewe is trouens nou stiller. Die frenetiese gejaag is verby. Dit is nie soseer ’n kwessie van tanende energie nie, as bloot die behoefte aan stilte. As sy eerlik moet wees: Sy sien nou kans vir stilte. Nou eers. Dit gebeur dus meer en meer dat sy ná werk ’n ruk op kantoor agterbly. Stil by haar lessenaar, voor die oop, gladde blad. Sy verdra niks op haar lessenaar nie, nie ’n boek of selfs ’n leeslamp nie, haal ’n notaboek uit ’n laai indien nodig. Die kantoormure is ’n ander saak, dit is ’n deurmekaar, rafelrige tapisserie van boeke, ornamente, kunswerke: ’n rituele masker uit die Kongo, ’n geraamde afdruk van Da Vinci se Die dame met die hermelyn, ’n kleipot en ’n mat van biesies gevleg wat iemand vir haar uit Suid-Afrika saamgebring het. Dit is háár wêreld; die teenstrydighede daarvan is vir haar gerusstellend. Dit is hoe sy dit wil hê. En dis hier waar sy haarself voor daardie deur begin sien het, en agtergekom het hoe die wêreld, háár wêreld, heeltemal teen haar logika in en sonder dat sy daarvan bewus was die fatsoen, al die kontoere, van daardie toneel begin aanneem het. Asof die wêreld hom op ’n makabere manier bemoei met haar lewe.

Lank was dit nie moontlik nie, maar nou sien sy kans vir waarheen dié gedagtegang lei, deesdae sien sy kans daarvoor. Vir die rit saam met Jacobs op die motorfiets met die syspan. Vir daardie kamer in daardie hospitaal. En een van die dae, dit weet sy, sal sy kans sien om terug te gaan na waar alles begin het.

Die hospitaal is ’n fortagtige gebou van rooi baksteen afgewissel deur wit sierpleisterwerk; die ingang is ’n poort onder ’n burgtoring met kantele. Sy stap vanuit die skadu van die poort na ’n binnehof waar die lig vanoggend verblindend kaats van gryswit gruis op die grond en die rye vensters van die dubbelverdieping wat die hof omring. Sy loop met haar ken ingetrek sodat dit lyk asof sy haar letterlik heeltyd moet beteuel. Dit is nie ’n grasieuse stap nie, maar die beweging van die skouers, ritmies vorentoe en agtertoe, laat dit lyk asof sy loop en dink aan ’n dans, of dat sy selfs die marsbewegings van soldate in gedagte het. Ingedagte loop sy, sodat haar serene gesig die ingehoue energie van haar stap weerspreek.

Gister het Jacobs vir haar gewys waar sy moet kom aanklop. Hurst, die hoof van die hospitaal, was toe nie beskikbaar nie, en Jacobs se versigtige klop is met stilte begroet. Die gange was wel vol hospitaalbedrywighede, ook vroue wat in verpleeguniform skarrel, enkeles wat ’n sydelingse blik na haar kon verwerdig. Vanuit een van die gangvensters het sy afgekyk op ’n ruie tuin. Tussen die struike het sy twee mans in uniform sien loop.

Hierdie keer is daar ’n antwoord toe sy klop. Hy sit by ’n skryftafel na haar en kyk, en hy lyk asof hy van was gemaak is. ’n Oomblik lank is sy ook vas oortuig dat dit ’n wasbeeld is, al behoort sy teen dié tyd gewoond te wees aan hoe anders die Europese mans lyk as dié met wie sy grootgeword het. Hoe skóóngewas hulle lyk. Dokter Arthur Hurst is egter vir haar byna deursigtig, die hare blink teruggeolie, die bolip ’n gespanne snaar bokant die vlesige, beweeglike onderlip. Die onderlip en die oë, dink sy, dit is die enigste gedeeltes van sy gesig wat nié met ’n ragfyn kwassie op die blanko gelaat geskilder is nie. Die oogkasse en onderlip is ruweg tussen duim en voorvinger uit potklei gefatsoeneer, en jy moet veel, veel nader aan hom wees om te sien wat in daardie duimholtes geplaas is.

Hy kom orent agter sy skryftafel, en praat van onder die boog van sy lyf. “Sien is glo,” sê hy met ’n stemtoon wat haar laat dink aan die argeloosheid van sommige van Jacobs se handgebare, en sy voel ’n bedugtheid in haar roer. “U is inderdaad ’n vrou.” Hy loop om na haar, sy hand half gelig vir die groet. “Ek het byna op my rug geval toe Rivers sê hy stuur . . .” Sy mond verstil, word weinig meer as ’n verleë plooitjie skuins oor sy ken.

“Wou u eerder ’n man gehad het?” sê sy koelweg nadat sy sy hand geskud het. Dit is sy spontane verleentheid wat haar die selfvertroue gegee het, besef sy. Dáárin lê sy sjarme.

“Vader, nee, moet my nie verkeerd verstaan nie …” Hy beduie na ’n regop kantoorstoel. “Sit asseblief.”

Hy is in uniform. Nie die kakie wat sy in Suid-Afrika leer ken het nie, maar ’n olyfgroenerige duffelse materiaal. Die Sam Browne-belt met sy skouerband wat skuins oor die bors loop, ken sy wel, en die beenwindsels. Terwyl hy terugloop na sy stoel, herken sy ook die afgemete, berekende treë wat daardie windsels die draers daarvan laat gee.

Sy is in haar Nederlandse verpleegstersuniform, en toe sy haar ken laat sak, voel sy die koel bakeliet van die knoetserige geel kruis aan haar hoë boordjie. Sy stryk die wit voorskootrok oor haar bobene plat, en is op hierdie oomblik, in hierdie kantoor en onder die blik van hierdie man, bewus van die enkele foto van haarself waarvan sy hou: haar gesig daarop hoekig en nie plat nie, haar breë mond met die geknypte hoeke wat so byna, byna minagtend opkrul. Haar gesig is weggedraai van die kamera sodat ’n skadu oor die linkerkant val, maar waarom sy die meeste van daardie foto hou, is die … nee, “minagting” is nie die woord daarvoor nie, dit is nie waartoe sy geneig is nie, maar daar is tog ’n soort uitdagendheid wat sy uitstraal. Of is dit bloot dat sy dit daar reggekry het om die kamera se attensies heeltemal te ignoreer?

Toe Hurst weer praat, skrik sy half; sy was ’n oomblik heeltemal in gedagtes versonke. “Nee wat, jy is tog nie die enigste vrou hier nie,” sê hy, maar sonder enige skerpheid. “Die plek was bowendien nie lank terug nie – ag, ons is kwalik ’n jaar hier – die Women’s Land Army se hoofkwartier.”

Hy hou op praat en hou haar afwagtend dop. Sy voel hoe sy onwillekeurig begin bloos, en ergerlik kyk sy af na haar hande, hoop dat hy dit nie merk nie. Maar toe sy weer opkyk na hom, het hy vooroor gekom in sy stoel, sy elmboë nou op die tafelblad. Haar reaksie was klaarblyklik aanvaarbaar, of ten minste nie verdag nie, want hy praat nou met ’n merkbare oplewing in sy stemtoon: “Ons stryders van die ploegskaar. Jy moet al van hulle gehoor het, dalk self van hulle teëgekom het. Hoe lank is jy nou al hier? Ag, maak nie saak nie, die feit is dat die plek eintlik ’n landboukollege is, ek bedoel wás, voordat die hoofkwartier besluit het dis belangriker om bomskok-soldate terug aan die front te kry as om vroue op te lei om hierdie mans se plek op die koninkryk se landerye in te neem.”

A, sy weet van wie hy praat! Sy wonder ’n oomblik of hy sarkasties is, maar sy gesig verklap niks. Nou weet sy ook hoekom sy begin bloos het. Ja, sy weet: Toe sy en Jacobs vanoggend met die syspan onderweg was na die hospitaal, het hulle skielik die pad volgeloop, hierdie vroue. Sy het die kante van die syspan vasgegryp, gevoel hoe Jacobs die motorfiets rukkerig rem. Dit het haar ’n hele rukkie geneem om te begryp wat sy sien: die kort oorjasse, die hoog opgetrekte kniebroeke, lang grys kouse, blouerige truie by broeke ingesteek, die rubberstewels van sommiges, en dan byna as ’n nagedagte die skoffelpik oor die skouer. Maar onteenseglik die heupe en dye en hare en borste – dit was vroue!

Die groep werkersvroue, boerinne, het vinnig maar heeltemal speels, uitbundig selfs, vir die motorfiets padgegee, Jacobs het versnel, verbygejaag en sy het probeer terugkyk na die joelende groep, maar Jacobs het iets bo die enjingeraas aan haar probeer skreeu en sy het haar kop teruggeruk en na hom oorgeleun. Hy moes die fiets byna tot stilstand bring voordat sy kon hoor wat hy sê en begryp wat sy kekkelende lag beteken, sy mond oopgesper en sy tong … ja, noudat sy daaraan dink, was dit nogal obseen, die manier waarop hy sy tong tussen sy ontblote tande laat flap het. Sy het vinnig van hom weggekyk, stip voor hulle in die pad, aan die kante van die syspan vasgeklou terwyl hulle heen en weer en stampend, ratelend voortjaag na die hospitaal. Skommelend en klouend het sy probeer sin maak van wat sy pas gesien het en hoe Jacobs daarop gereageer het. En boweal was daar hierdie vreemde onrus in haar. Daar was iets onbehoorliks aan die klomp verspotte vroue in mansklere, maar – en dit is wat haar nou weer laat bloos het – ook iets heerlik opwindends.

Sy kom agter dat sy Hurst fronsend aanstaar, en kyk weer af op haar hande. Sy is nou regtig verleë oor haar reaksie. En waarom weet sy nie presies nie, dit het mos niks met haar te make nie. Dit moet die vreemdheid van alles wees. Die land is vreemd; sý is vreemd. Ja, dit besef sy nou, ook sy is skielik vir haarself effens vreemd. Maar dan hoor sy Hurst praat en kyk halfpad deur sy sin op, merk die vraag in sy blik en probeer glimlag.

“Ek besef dis nogal omstrede, en vir jou as Nederlander moet dit nog vreemder wees.”

Nederlander? Het Reymaker dan nie vir hulle laat weet sy is ’n Suid-Afrikaner nie? Of was een. Maar nou is sy glad nie seker wat Reymaker sou dink ander omtrent haar moet weet nie. Wat sou hy vir hulle laat weet het? Hy sou sekerlik met sy vriend Rivers oor haar gepraat het, want dit is hoe sy hier beland het – hý was die vernaamste kontak. En wat het Reymaker vir Rivers gesê? Het julle plek vir ’n vrou met – en moenie lag nie, hoor – ’n belangstelling in bomskok?

Ag, dis ook nie soseer bomskok wat haar gelok het nie, al het Reymaker so gedink. Of, nee, hy het gedink sy het die een of ander morbiede belangstelling in die oorlog. Dit was wat hy haar voor die kop gegooi het toe sy hom die eerste keer van haar “oorlogsplan” vertel het. Toe sy hom vra of daar nie dalk vir haar ’n geleentheid in een van die Britse militêre hospitale is nie, het hy geantwoord: Maar dit is nie óns oorlog nie.

Inderdaad. Dit is nie “ons” oorlog nie. Nie eens die feit dat daar Suid-Afrikaners in hierdie oorlog is wie se lyke in die Franse modder weggetrap word, maak dit haar of Reymaker se oorlog nie. Húlle oorlog, hare en Reymaker s’n, was daar in hul kliniek in Dordrecht. Elke dag se stryd om vir ’n paar mense ’n greep te probeer gee op die werklikheid, miskien selfs ’n greep op betekenis. Op geluk? Maar dit is nie wat Reymaker bedoel het nie. Hy het bloot gesinspeel op die feit dat Nederland neutraal was, nie deel van die oorlog nie.

Of is dit regtig wat hy bedoel het? Reymaker het agter sy lessenaar ingesak, skuins agter daardie bronsbeeld van ’n sittende kat op die skryfblad. Sy geliefde kat. Hy het by die kat verby na haar gekorrel, sy oë stip en steenkoolswart bokant sy yl, grasserige baard. Sy het met haar hande op die leuning van ’n stoel bly staan. Deur die venster links kon sy rimpelings sien op ’n kanaal, op die stadshorison die Grote Kerk se stomp toring met daaragter pluiserige wolke waaraan sy ná meer as vyftien jaar in die land nog nie gewoond kon raak nie. Maar aan Reymaker en sy snaakse gewoontetjies was sy lankal gewoond.

Sy het weer probeer verduidelik hoekom sy so in Rivers se werk belang stel. Dit was nie asof dokter W.H.R. Rivers se benadering enige spesifieke verband met Afrika gehad het nie, allermins met Suid-Afrika, maar iets waarby sy uit die staanspoor aanklank gevind het, was dat sy werkwyse gegrond is op sy navorsing oor die tradisionele medisyne van primitiewe stamme. Sy kon dit nie glo nie. Bygeloof! Toordery! Hekse! Dit is alles vloekwoorde in die wêreld waar sy woon en werk – en og ja, sy kom darem nog so af en toe in die kerk. Maar hy het gesien dat daar ’n kuns verbonde is aan daardie vermaledyde praktyke, die kuns van die geneeskunde. Nie die wetenskap nie, die kuns! En dáárdie insig is wat hom, Rivers, gebring het tot aan die snykant van die moderne Westerse psigiatrie. Dit het sy byna instinktief begryp. Toe sy die eerste keer daarvan hoor, was sy ontroer. ’n Droë, feitelike relaas in ’n vaktydskrif het haar skoon aangedaan gehad.

Reymaker het nie so geredelik daaraan gebyt nie, al het hy en Rivers mekaar geken. Iewers op die een of ander kongres ontmoet. Hulle was dalk selfs vriende; sy het trouens daarop gereken dat hulle meer as net kennisse was. Reymaker het tog Rivers se Fitzpatrick-lesing in Londen bygewoon, al was hy nog taamlik skepties oor sy kollega se “nuwe benadering” tot die behandeling van die histeriese toevalle van soldate. Maar hulle twee, sy en haar baas, het genoeg daaroor gedebatteer dat sy, toe haar planne agtermekaar was, nie juis ’n aanloop nodig gehad het nie. Sy het met die deur in die huis geval: “U het kontak met dokter Rivers, nie waar nie?” het sy gesê. “Ek het gewonder of u nie vir my iets kan beding nie.” En toe sy een wenkbrou onthuts boog, het sy vinnig bygevoeg: “Die ervaring kan uiteindelik iets vir die praktyk beteken.”

Sy mond het effens oopgeval, en toe het hy nors afgekyk na die papiere op sy lessenaar. “Ek sien,” het hy gebrom, “jou verterende ambisie.”

Ag, ou Reymaker! Sy nukkerigheid het haar nie verras nie; lankal nie meer nie. Hul skermutselings was lankal ’n vorm van familiariteit. “Nee, dit gaan oor Rivers,” het sy met nadruk gesê, “sy benadering bedoel ek.” Sy het egter gesorg dat haar stem so gelykmatig moontlik bly. “Dit is nuut, nie waar nie? U het tog self so gesê. Daarby is die hele verskynsel … wel …” Sy het dit nie uitgespel nie; dit was nie nodig om die woord te sê nie, daardie woord wat die oorlog vir die wêreld gegee het. Selfs in Nederland, waar mense doodgewoon kon voortgaan om hul stadstuintjies te versorg, en ook daar in hul kliniek in Dordrecht waar hulle elke dag woorde soos neurastenie, demensie en idiosie onder spierwitte lakens lêgemaak het, selfs daar het net die noem van die woord ’n siddering gebring: bomskok.

Bomskok. Bomskokhospitaal. Soldate wat heeltemal uit hul sinne geskiet is, uit alle woorde uit, uit hul ganse onthou, uit alle beheer oor spiere; lywe besete deur die spasmas van ’n buitewêreldse gruwel; soldate wat niks meer begeer as om doodgewoon dood te gaan nie.

Dit is egter waarheen sy wou gaan. Nee, “wou” is nie die woord nie. Sy het op die boot hierheen al gedink aan hierdie vasberadenheid van haar, en as sy nou eerlik moet wees, is sy seker eerder hierheen gedryf, en dit deur ’n krag in haar waarvan sy heeltemal onbewus was. Of liewer, tóé onbewus was, want daardie krag het wel al vroeër in haar lewe in haar opgebult. Dit is tien teen een dieselfde krag wat haar destyds, toe sy maar net agttien was, aangevuur het om ondanks alles in ’n vreemde land, ’n vreemde kultuur, en byna vroualleen, te kom studeer en uiteindelik ’n pos te kry by Reymaker Psychiatrie.

Dis hy, Reymaker, wat haar spesiaal kom werf het gedurende haar finale praktiese jaar in die Wilhelminahuis in Amsterdam toe sy al jare van opleiding agter die rug had. Net die beste psigiatriestudent wou hy hê om hom in sy kliniek in Dordrecht te kom bystaan. Die deugdelikste, dis wat hy gesoek het, het sy daarna soms bitter gedink, hoewel bitterheid ’n emosie is waarteen sy haar hele lewe lank gewaak het. Die een wat die minste sal kla, dis wat hy wou gehad het. Maar wat hy toe nie geweet het nie en haar dosente seker ook nie vermoed het nie, is dat haar vlyt ’n uitvloeisel was van haar vurigheid. Jy kon dit seker ook opvlieëndheid noem, noem dit wat jy wil, maar sy glo steeds, soos sy hier voor Hurst se koel takserende blik sit, dat sy altyd haar standpunte op ’n beskaafde manier oordra. Reguit is sy, en sy kan sterk standpunt inneem, maar sy is ordentlik. Ordentlik op ’n Afrikaanse manier? Ag, dis nie belangrik nie, besluit sy dan. In prakties alle opsigte is sy ’n Nederlander.

Sy help Hurst dus nie reg nie. “In Nederland,” sê sy, “is die psigiatriese verpleegsorg hoofsaaklik in die hande van vroue.” Dit is die reine waarheid, hoewel nie sommer enige vrou die geel kruis kry nie. Hulle moet uit die middelklas wees, aangesien dié klas vrou gesien word as die draer van die waardes waarop ’n gesonde samelewing gebou moet word. Geestespasiënte word gesien as mense wat afgedwaal het van hierdie waardes en dus teruggebring moet word op die regte pad. Sy dink weer aan die klomp boerinne wat sy in die pad gesien het en sê: “Hier by julle is dit straks anders, maar ons moet … ek aanvaar die oorlog het alles omvergewerp.”

“Nee, ons het ook heelwat vroue hier, jy sal dit gou agterkom. Maar nie veel buitelanders nie. Ek veronderstel mense help maar in hul eie lande, maar ja, in lande wat nie by die oorlog betrokke is nie, is dit ’n ander saak. Jy kon seker netsowel in Duitsland gaan werk het.”

Snaaks dat die kwessie van waar sy gaan werk nogal ter sprake gekom het toe sy Reymaker daaroor gepols het. Hy het so vir sy geliefde kat gesit en kyk terwyl hy praat en nogal ’n wye draai gegooi: “Teen Engeland self het ek dit nie. Inteendeel. En ek praat nou van die idee van Engeland.” Hy het sy kop effens gekantel sodat een van daardie steenkoolkykers haar kon vaspen.

Die idee van Engeland? Sy wou die frase net laat voortdobber op die stroom woorde, ’n relaas wat eintlik maar niks meer as ’n formaliteit was nie, maar dit het in haar vasgesteek. Sy wou dadelik hierdie vae ergerlikheid in haar ignoreer, maar het dit nie reggekry nie. Die idee van Engeland? Wat het dit vir haar beteken? Sy het vlugtig probeer dink en ’n paar indrukke het soos nagvoëls in haar opgefladder: die gesanik van doedelsakke wat “God Save the King” speel, ’n kloktent wat soos ’n lantern gloei in ’n swart, swart nag, ’n lantern wat ruk en swaai asof dit aan ’n wa bengel. Dadelik was die beklemming daar, en sy kon niks anders as hierdie warreling van beelde oproep nie. Eers later, sy was seker reeds terug in haar kamer, het die gewaarwording gekom dat dit dalk die probleem is, naamlik dat Engeland altyd vir haar net dít sal wees. Altyd maar terug na dáárdie toneel. ’n Toneel met sy eie agtergrondmusiek, eie beligting, eie woorde; die choreografie van daardie makabere dans onuitwisbaar vasgelê in haar.

Maar dié wete het eers veel later gekom. Toe, daar in die kantoor, het Reymaker eers weer gepraat: “En Rivers? Wat jy van hom weet en wat jy van hom bewonder, het ék jou vertel. Ek dink wel hy gaan ’n bietjie ver met sy bewondering vir die primitiewe, dit het ek jou hoeveel keer al gesê. Die wilde, woeste man!” Reymaker het ’n buiklag in die kat se gesig ingedruk, maar plotseling versomber, asof hy skielik besef het hy gee die beeldjie aanstoot. “Hy voer sake ’n bietjie ver,” het hy peinsend vervolg. “Maar tja, hy kry resultate, nè? Hy krý resultate.” Hy het ’n bleek hand na die kat uitgesteek en versigtig oor die stert gestreel wat netjies, tipies kat, om die pote gekrul was. Hy het weer om die beeldjie na haar geloer, sy mond halfoop. “Dis die oorlog, nie waar nie?” het hy gesê. “Dis die oorlog wat jou trek.”

Sy het stil na hom gekyk. Sy woorde geweeg, haar vingerpunte liggies op die stoel se leuning. Is dit die oorlog? Sy kyk na haar baas op sy troon met sy beeld van die godin van wysheid langs hom. Enigiemand anders sal uitbars van die lag vir die eksentrieke ou man, maar sy het al geleer om nie deur die karikatuur van stryk gebring te word nie. Om die waarheid te sê, dit is vir haar nogal gerusstellend. Dit sou vir haar moeiliker gewees het as hy ’n man was wat jy met volle erns moes bejeën. Maar is dit die oorlog wat haar trek? En as dit so is, waarom?

Nee, het sy toe besluit. Sy is juis in hierdie beroep om te help genees; haar lewenspad het gelei na daardie wonde wat die diepste lê en die stadigste gesond word, die wonde aan die siel. En sy gaan Engeland toe omdat daar nou sale vol mense lê wie se binneste ’n spelonk vol vlieënde bomskerwe geword het. “Dis die ménse in die oorlog wat my trek,” het sy gesê.

Reymaker het haar nog ’n rukkie sit en betrag en toe na papiere op sy lessenaar begin soek. “Nou goed dan, nou goed,” het hy gemompel. Sy moes net help om ’n tydelike plaasvervanger te kry; hy het gehelp om vir haar ’n reisvergunning en ’n pos by een van Rivers se hospitale te kry. Nou wel nie by Rivers se eie hospitaal, die Craiglockhart-oorlogshospitaal in Edinburg nie, maar by die Seale Hayne-hospitaal in Devon. “Daar is ’n mannetjie daar wat net sulke goeie werk doen. Rivers reken hy is op die regte spoor, so dit kan net een ding beteken. Hurst is sy naam.”

En hier sit sy regoor dokter Arthur Hurst. Majóór Hurst. ’n Britse soldaat, in uniform. Dit is nie ’n doodgewone situasie nie. Vir haar allermins. Maar dit is presies waarop haar lewenskeuse, haar keuse van ’n beroep, afgestuur het. Sy kon haar hele lewe lank weggehardloop het van dit wat sy is, van dit wat sy in Suid-Afrika geword het. Maar sy het lank gelede besluit dat daar vir haar net een manier is om te lewe, en dit is in regstreekse konfrontasie met daardie ding wat voortdurend aan haar deur sal kom klop. Maar so negatief hoef ’n mens ook nie daarna te kyk nie, want per slot van rekening is haar lewe ook gered daar in Suid-Afrika en sy het maar net besluit om daardie soort reddingswerk voort te sit, die genesing soos wat sy aan die hande van Tiisetso en Mamello in daardie grot ondervind het, dit sal sy voortsit. Dit is hoe Rivers in die prentjie gekom het. Sy sal nie toegee aan die behoefte om iemand te sien ly soos wat sy gely het nie. Die behoefte is soms nog daar. Akuut. Maar dis nie ’n grondslag vir ’n lewe nie.

Hurst praat weer; sy konsentreer stip. “Maar jou belangstelling in die psigiatrie, dit is tog nie ’n voor die hand liggende keuse nie?” sê hy.

Nie ’n verrassing nie. Sy moes die vraag al ’n paar keer in haar lewe beantwoord. In die verpleegkollege reeds. Dikwels. Daarna het Reymaker gevra … Maar lank tevore al moes sy dit ook aan haarself beantwoord. Dit is die feite waarmee sy sit: Sy was ’n bywonersdogter, ’n konsentrasiekampkind. Goed, kind was sy seker nie meer nie, maar die feit is dat haar skoolopvoeding volgens alle standaarde ’n gebrekkige een was. Hoe het dit dan gebeur dat iemand met haar agtergrond by psigiatriese verpleging beland het?

Sy het ’n paar standaardantwoorde, maar hierdie keer, hier voor Hurst, besluit sy om die vraag heeltemal te ontwyk. “Ja, dit is seker so,” sê sy, “maar dit is om professionele redes dat ek gekom het.” Hy kyk ’n oomblik af na sy hand wat oor die tafelblad gestrek is, en dan weer na haar. Sy gaan voort: “In Nederland is daar ’n ruk gelede, so tien jaar gelede, aktief vroue gewerf vir die psigiatriese verpleging. Spesifiek deugdelike middelklasvroue.” Sy gee ’n ironiese laggie, ’n ingeoefende gebaar. “Die uitgangspunt was dat dié soort verpleging toegespits moes wees op die herintegrasie van pasiënte by die gemeenskap. Hulle moes dus in die eerste instansie goeie burgerlike waardes leer, en die Nederlandse owerhede het gedink middelklasvroue is ideaal geskik vir die taak om afgewekenes weer op die gebaande weë te bring.”

“En dit is hoe jy in die beroep beland het, so per ongeluk?”

Hy sluk dit toe nie so maklik nie. “Nee,” sê sy, “nie per ongeluk nie.” Nee, hy gaan haar nie daarmee laat wegkom nie. “Die geluk was wel aan my kant.” Sy dink ’n oomblik aan die moontlikhede wat dié woordspeling bied, en gaan dan voort: “Daar was wel mense wat my beïnvloed het, mense wat my gehelp het om die besluit te neem. Hulle het dit vir my, ook in ’n praktiese sin, moontlik gemaak.”

“En nou is jy hier. Ek veronderstel dit is ook nie per ongeluk nie?” Sy kan aanvoel hy is nie heeltemal gediend met haar vaagheid nie. Versigtig nou.

“Nee, ook nie.” Weer daardie glimlag. “Lyk my ek is nogal beïnvloedbaar … Dit was u kollega, dit was dokter Rivers. Ek het van sy werk gehoor; hy en my werkgewer in Nederland is …” – is hulle vriende? – “is in noue kontak en ek wou, namens ons praktyk, kom ondervinding opdoen in sy soort genesing.”

Hy knik ’n paar keer ligweg. “En ek aanvaar in Nederland het julle nie juis so iets soos bomskok nie. Ek sien. Ja, dit het sin. Of weet jy wat bomskok is? Het jy dit al gesien?”

Nie in die Nederlandse praktyk nie, nee. Sy dink aan die vrou wat begin gras eet het daar agter die sinkplate van die ooikamp in die Winburgse kamp; sy dink aan die ruk dat sy buite taal, buite rede in ’n stoet swartgeklede vroue haar verdoemenis tegemoetgeloop het. Sy antwoord gedemp: “Maar toe ek dit gesien het,” sê sy, “het die wêreld nog nie ’n naam daarvoor gehad nie.”

Hy kyk haar ’n rukkie aandagtig aan voordat hy voortgaan. “Weet jy wat ons veronderstel is om hier te doen? Amptelik. Weet jy?”

Sy antwoord nie; kyk hom uitdrukkingloos aan, haar gedagtes steeds by die ritseling van wye swart syrokke, soos wind wat deur ’n land bloudissels gaan. Bomskok. Is dit die naam vir wat sy in gedagte het?

“Ons is die bewakers van die volk se moraal,” sê hy, en die manier waarop sy onderlip die woorde laat val, laat haar ’n mate van wrangheid vermoed. “Die volk se moraal in oorlogstyd. Dit kom in ’n groot mate daarop neer dat ons moet sorg dat ons soldate gesond genoeg is om te veg. Geestesgesond. Ons is dus hier om te sorg dat hierdie soldate, ons pasiënte, in die eerste instansie regtig siek is en nie net maak asof hulle siek is omdat hulle te bang is om voort te veg nie. Te bang is om dood te gaan nie. Ons eerste taak is dus om hulle so gou moontlik terug te kry in die loopgraaf.”

Hy kyk haar uitdrukkingloos aan. Sy is nou vas oortuig van sy ironie. Hy het op ’n baie fyn manier, of met ’n baie fyn beheerde bitterheid, gespot met sy amptelike opdrag. Sy is doodseker haar afleiding is reg. Sy waag dit dus om te sê: “Ek aanvaar, dokter Hurst,” en sy sorg dat sy versigtig genoeg klink, “ek aanvaar dat julle hier in hierdie hospitaal die welstand van die pasiënt eerste stel?”

Sy mond wys weer sy verleentheid en sy verbeel haar sy sien ’n kleurtjie op sy wange. “Ons probeer ons bes om hulle gesond te maak. En as hulle gesond is, kan hulle teruggaan na die gemeenskap.” Hy lig sy kop sodat sy die oë in hul holtes kan sien blink, en sê dan: “En ongelukkig verkeer ons gemeenskap tans in ’n staat van oorlog. ”

Sy snap wat hy sê. Sy hoef hom nie te antwoord nie. Vir hierdie manne is oorlog tans die enigste bestaanswyse. Die normale lewe is oorlog. Dis al toevlug. Sy wil sê wat sy haar voorgeneem het om te sê, iets oor van die aspekte van Rivers se werk waaroor sy dikwels gedink het en min of meer oor klarigheid het. Sy hoor haarself egter iets anders sê: “Ek dink deel van die probleem is dat mense ervaar dat hulleself die oorlog is en niks anders nie. Die ironie is dus dat julle hulle hier moet losmaak van die oorlog net sodat hulle weer daarin kan gaan vasval.”

“Of hulle psigies sodanig versterk dat hulle kan bly onderskei tussen hulself en die oorlog.”

Dit is asof sy woorde stadig en deur dik modder na haar aankruip; een vir een kom hulle by haar aan en maak sy hulle staan. “Jy is dus nie jou oorlog nie?” Sy skrik byna toe al die woorde in gelid voor haar staan. Binne haar hul hakke inkap. So duidelik het sy dit nog nooit vir haarself gesê nie, en sy is al byna haar hele lewe besig daarmee. Met verwerking, met afhandeling, met die afsluiting van háár oorlog.

Jy is nie jou oorlog nie.

“Presies,” sê hy en staan op. “Maar om daardie onderskeid te maak … ek sê vir jou, dit is dikwels bitter moeilik. Kom ek gaan wys jou waarmee ons hier te kampe het.”

Kamphoer

Подняться наверх