Читать книгу Kamphoer - Francois Smith - Страница 4
Hoofstuk 1
ОглавлениеHy lê met sy rug na haar; sy kop is weggedraai na die vaal gordyne wat doodstil voor die venster hang. In die halflig sien sy net die profiel van agter af: die oor ’n donker flap aan die ewe donker homp van sy kop. As daar lig was, dink sy, sou sy oor rosig deurstraal en fyn beaard teen die helderte uitstaan, dalk effens skilferend aan die rand van die skulp se vleuelagtige kurwe. Dis waarvoor sy opgelei is, om lig en lewe te sien. Dit is waarvoor sy hier is. Maar in die skemer is alles anders as wat dit veronderstel is om te wees. Of dalk presies wat dit moet wees.
Sy ruk haar blik weg van die oor na die skouer wat bokant die lakenrand uitsteek en die arm wat effens geknak op die kombers lê, die pajamamou opgetrek teen die arm. Die hand hang oor die heup af na voor, buite sig, maar die arm, die stukkie wat uitsteek, is dunner as wat sy verwag het. Wat het sy verwag? Kan sy dít onthou?
Sy kyk vinnig na Hurst wat langs haar staan; hy staar stip en uitdrukkingloos na die pasiënt op die bed. Daar is geen uitkoms nie, sy móét kyk. Na die sagte, pluiserige plooie van die katoenmou by die elmboog, die kraag soos skutblare om die dun stingel van die nek.
Dan weer na die oor.
Sy voel nie verras nie. Dit is so bestem. Die oomblik dat sy in hierdie land voet aan wal gesit het, was die gevoel daar dat in hierdie wildvreemdheid iets oerbekends is, en dat daar iets – iemand – iewers agter ’n fasade, ’n deur, ’n heining op haar wag. En dit was nou asof dit presies daardie groeiende gewaarwording in haar was wat haar oë reguit na die oor gelei het. Dit is wat sy heel eerste gesien het, die oor. Die hap daarin soos die merk van ’n skaap. Waar jy die sagte stulping van die lel sou verwag, daar val die boog van die skulp stomp weg tot teen die neksening.
Dit is háár merk.
Haar tong kleef aan haar verhemelte, kom met ’n smakgeluidjie los. Sy draai om na die deur wat agter hulle toegeklik het. Sy trek haar asem diep in, hou dit lank binne voordat sy dit hortend uitlaat. Hoe het ek hier beland? dink sy.
Dit is hoe dit gebeur het: Sy het voor die deur gestaan, voor daardie donker, onwrikbare houtvlak wat nou agter hulle is met sy digte naat teen die kosyn. Sy het voor daardie weerkaatsende blad gestaan met die verniskrakies soos die netvlies van ’n oog, die reuk van gepoleerde hout in haar neus, haar asem teen daardie ontoegeeflike vlak, met haar oë wat sy probeer wegdwing van die naam op die wit etiket in die metaalraampie, die naam wat sy nie kan sê nie.
Majoor Hurst het agter haar gestaan, en sy het omgedraai, koponderstebo sodat hy nie haar ontsteltenis sou bemerk nie, haar vingerpunte agter haar teen die hout. Hurst het gepraat, maar wat het hy gesê? Hy het haar toe met die een hand liggies opsygestoot en met die ander hand die deur oopgemaak. Sy het hom die skemerte ingevolg, die gladgestrykte rug van sy uniform tussen haar en die man in die bed.
Dit is hoe dit gebeur het.
Dis doodstil in die kamer. Daar is net die stilte. Totdat Hurst praat. Hy het wel ook ’n tree of wat vorentoe gegee voordat hy gepraat het. Hy het die man op die bed se naam gesê. Daardie naam wat sy nie kan sê nie. En dit is asof sy met die noem van daardie naam opgeraap word – sy voel die rukking asof sy in die oog van ’n warrelwind staan – en neergesmyt word tussen ’n werpsel tente op ’n godverlate Vrystaatse vlakte.
“Suster Nell?”
Wat? Dis Hurst wat gepraat het. Hier by haar.
Dit is waar sy is, saam met majoor Arthur Hurst in die Seale Hayne-hospitaal in Devon. Dit is waar sy moet wees, nêrens anders nie; sy moet haar wil tot die uiterste inspan om in hiérdie oomblik teenwoordig te bly. Hulle is in die private kamer van een van die koning se offisiere. Nee, nie die koning s’n nie: een van háár offisiere. Sy staan skuins agter majoor Hurst en kan die grootste gedeelte van die bed sien. Ook die spits van voete onder ’n laken. Sy knip haar oë om haar aandag te fokus. Die voete onder die laken ruk ’n slag senuagtig.
Sestien jaar tevore het sy so in ’n skemer grot gelê en wag, gelê en kyk hoe die skadulyn stadig oor die grot se bek aanskuif, gelê en wag en wag en wag dat iets in haar bedaar.