Читать книгу Kamphoer - Francois Smith - Страница 6
Hoofstuk 3
ОглавлениеDie trein tok-tok gedemp van Harwich af deur Devon se ryk mengsel van groen en bruin, waterverfkleure wat vervloei en aftraan teen die ruit. Maar haar gemoed is nog vol van die deinings van die grys see en die half gelate gewieg van die skip, en dit is asof haar gedagtes steeds in die diep koue water versonke is.
Sy het byna heelpad op die bodek van die posboot na Harwich gestaan, een van net ’n handvol vroue tussen ’n klomp mans, hoofsaaklik bemanningslede, enkele amptenare, selfs ’n paar soldate, almal met spesiale vergunning om die oorlogswaters te betree, daarsonder kon jy nie. Die veerbootdiens is opgeskort en die posboot is deesdae die enigste manier om van Nederland na Brittanje te vaar.
Sy was laas op ’n skip toe sy kort voor die einde van die Anglo-Boereoorlog uit Kaapstad weg is – ironies genoeg weg van ’n ander oorlog af. Die gedagte het by haar opgekom daar op die krakende dek van die posboot met sy nat stemme en seesproei: Dáárdie oorlog was myne, het sy gedink. Nie dié een nie. En terwyl die posboot voortgestu het deur die plat see en net soms log teen die deining ingekreun het, het dit haar opgeval hoe anders die Noordsee is as die silwer skittering van die Kaapse see wat sy onthou, die donderende, skuimende breek van branders teen die rotse by Drieankerbaai, by Seepunt. Vlugtig het sy toe iets van háár oorlog probeer herroep, die een van sestien jaar tevore. Sy was toe al byna so lank in Nederland as wat sy in Suid-Afrika was. Sy het die gedagtes byna ergerlik opsygestoot. Dit is verby, het sy gedink. My oorlog is verby.
Waaraan sy wel af en toe nog dink, en soos altyd is dit asof sy nie net dink nie maar dit akuut beleef, is hoe jonk sy was in 1902 toe Kaapstad en Tafelberg besig was om agter haar buite sig te verdwyn. Miskien moet sy eerder sê sy was wéér jonk, want tevore was sy so verskriklik oud, tot sterwens toe oud. Hoe vreemd is dié gedagte nou, maar dit is hoe dit was. Daardie dag op die Glenart Castle se boonste dek met die koel metaal van die reling in haar hande en die wind teen haar lyf, was sy jonk. Dit is die prentjie wat sy koester: Sy het haar boater afgehaal, los krulle van haar voorkop agtertoe ingewikkel en vir die eerste keer, ja, dit moet die eerste keer gewees het, was sy bewus van hoe haar bloes teen haar lyf aangewaai word, hoe haar lyf heerlik sý was, selfs nou nog kan sy net die Sotho-woord daarvoor kry, monate, lekker. Sy het die reling met albei hande vasgegryp en haar boude agtertoe gegooi, die skok van haar gewig in haar arms gevoel, en die wegtrekkende land en die see om haar het gehop-hop soos sy swaai, en het sy gesug, het sy gesnik? Nee wat, dis wat sy onthou, dít: haar lyf was wie sy was en dit was goed so, onder haar voete het die dekplate van die skip gesidder van die turbines se gepomp iewers diep in die ruim, en ver terug het die land waarvandaan sy weggegaan het vervaag.
En nou was sy op hierdie boot, en dit is nie asof sy onbewus was van wat hulle dié keer tegemoetgevaar het nie, dit was allermins wég van ’n oorlog af, maar haar gemoed was vol van die brekende branders op die Kaapse rotse, die byna histeriese energie daarvan, hande vol meeue wat in die klam lug ingegooi word.
In die trein deur die Britse platteland moet sy haar doelbewus inspan om die onlangse werklikheid te ervaar. Sy dwing haarself as’t ware op haar spore terug, want sy glo aan die waarde daarvan om bewus te wees van die oomblik, om oop-oë deur die lewe te gaan.
Sy was op die posboot, daar het sy gestaan in die omhelsing van ’n oorjas. Die boot het deur ’n grys see en grys lug gestoot, en dit het sin, want daardie boot was saam met haar onderweg na ’n ánder, dieper duisternis.
Dít het nog nie ten volle tot haar deurgedring nie. In Nederland leef hulle verskans teen die werklike fisieke geweld. Maar op daardie boot … die kleurloosheid van alles, asof alles by voorbaat reeds van alle lewe ontneem was.
Die dek was vol grys soldate wat soos miere skarrel, want as hulle sou stilstaan, vermoed sy nou, sou die vrees vatplek kry. Sy het haar probeer voorstel wat dit is wat hulle tegemoetgaan, hoe so ’n slagveld sou lyk en wat hierdie mans daar gaan doen. Sy het een van die gesigte wat sy op die boot gesien het, ’n bleek man met die skerp gepunte neus en rukkerige kopbewegings van ’n meeu, in ’n loopgraaf probeer plaas, maar sy kon nie. Vreemd genoeg kon sy hom net sien lê met sy rug teen ’n miershoop gestut – ja, ’n miershoop van alle dinge! – met ’n lang dun sigaret in die mond en die rokie wat so luiweg opkrul.
Sy probeer haar die angs voorstel, die gruwel, maar die naaste wat sy daaraan kom, is haar vriend Jacques se bleek, leë gesig voordat hy weer weg is front toe. As sy haar die oorlog probeer inprent, dink sy aan Jacques. Jacques la Mer, haar Dordrechtse onderwyservriend wat opsluit soldaat wou word omdat sy land, Frankryk, hom nodig het. Sy het op ’n keer sy hand vasgegryp asof sy hom wou wakker skud, sy hand teen haar bors vasgedruk, maar …
Daar is iets verskriklik ontstellends en heeltemal onpeilbaars vir haar aan daardie toneel: Jacques se hand teen haar bors. Sy hand ónder hare. Haar hart onstuimig aan die klop. Sy gesig wat verstar, sy mond effens oop asof hy iets wil sê. Sy hand wat net stadig uit hare losgly en terugval in sy skoot.
Sy sien haar oë vaagweg in die treinvenster. En agter die donker kolle van haar oë, agter die dowwe weerkaatsing van haar hoë voorkop waarvan haar vosblonde hare energiek wegkrul voordat dit weer teen haar wang afval na haar nek, raak sy bewus van reliëf, van ’n landskap wat, anders as in Nederland, selfs net deur sy kantelende horison, sy stygings en dalings, om aandag vra. Maar dis asof sy nie heeltemal by haar weerkaatsing verby kan sien nie, en dit is byna asof iets soms skigtig langs haar in die spieëlbeeld verskyn. Sy kyk kort-kort vinnig kant toe, maar daar is elke keer niemand nie.
Hierdie reis het my nou heeltemal oorhoops, dink sy. Waarom? Ek gaan maar net om my werk te doen. Dis nie asof ek loopgrawe toe gaan nie.
Sy dink weer aan Jacques; aan die soldate wat sy op die posboot gesien het. Op die boot het sy by een van die soldate verbygeskuur om op die dek te kom; eintlik was dit ’n ietwat komiese gestoei omdat albei tegelyk deur ’n deur wou kom. ’n Oomblik lank was hulle teen mekaar aangedruk in ’n metaalkosyn met ’n skerp rand waarvan die verf plek-plek afskilfer en die swart yster wys. Sy sien dit so akuut asof dit besig is om te gebeur: Haar jas wat teen sy uniform skuur, en sy kyk verby sy gesig en sien langs sy oor die afskilferende metaal van die kosyn, en hulle het niks gesê nie, net so vinnig moontlik probeer loskom uit ’n onvoorsiene, heeltemal ongevraagde intimiteit. Tog is dit asof haar lyf nou weer saamtrek van die skok van die soldatelyf teen hare, die uniform met sy leerbande en gespes, die growwe materiaal en die harde metaal, en daaronder die wit sidderende vel, die reuk van ’n mudsak vol warm koringsaad. Nadat hul lywe losgeraak het van mekaar het sy ’n tree in die klam lug gegee, gaan staan, effens ontsteld, nie deur die ongevraagde kontak nie, nee allermins, maar presies waarom kon sy ook nie sê nie.
Dit was ook nie die einde van daardie bisarre dans nie – nou kom die gedagte aan ’n laaste wals by haar op – dit was net die voorspel tot iets anders, tot iets soveel, ja, wat sal sy dit noem, soveel somberders?
Toe sy op die dek kom, staan daar ’n klomp mense teen die reling saamgedrom, hulle roep en beduie. Sy het by hulle gaan staan, by al daardie manne met die rukkerige oë, en gekyk na waar hulle in die grysheid in beduie, asof daar iewers in die newels ’n vlekkie kleur moet wees. Die posboot het sy horing geblaas, en toe sien sy dit ook: uit die mis doem ’n skip op, stil, leweloos, skeef in die water, ooglopend ’n wrak wat enige oomblik kon sink. Die skip het hellend in die water gehang, moeisaam in die deining gewieg, krakend, verlate, met metaalplate wat afskilfer van die boeg, die maste, skoorstene en kanonne in rigor mortis. Almal het verstar gekyk. Dit was ’n spookskip. Sy het haar kop versigtig gedraai en al die gesigte om haar was steeds verstar: dit was inderdaad ’n spookbeeld wat voor die wind aangedryf gekom het.
Sy het tussen die lywe deurgedruk tot by die reling, gehipnotiseerd gestaan en staar na waar dit toe in die grysheid weggekwyn het.
Wat op aarde was dit? Wat was daardie ding wat net so verskyn en verdwyn het? Sy het iemand gesoek met wie sy kon praat, vir wie sy kon vra, maar dit was asof almal besig geraak het met iets wat om die dood toe nie onderbreek kon word nie. ’n Muur van grys rûe was na haar gekeer.
Dit is wat hierdie oorlog is, dink sy, ’n skim in die mis, niks anders nie. Dit is nie mý oorlog nie. Niks hiervan kan iets van my wegneem nie. Ek lewe, en my rol is om te sorg dat die lewe seëvier. Dit is waarom ek hierheen gekom het. Maar die beeld van die spookskip bly haar by, en op ’n vreemde manier ontstel dit haar ook nie.
Toe die trein Newton Abbot-stasie binnery, is dit asof sy nog daardie skeepsgeluide in die mis hoor: iets soos die plonggg van doringdraad wat terugskiet nadat dit geknip is op die dek van daardie sterwende skip en hoe die geluid eggo en eggo en eggo. En sy herinner haar die soldaat wat sy op die lyf geloop het se sagte, meegewende lyf, en die skerp staalrif wat in sy rug moet ingekeep het, en sy wonder toe die trein tot stilstand ruk, of dit, daardie dans met die soldaat, die naaste is wat sy aan die oorlog sal kom.
Sy is een van twee vroue wat hier afklim, merk sy, en ’n ent voor haar sien sy hoe ’n jong man in uniform, waarskynlik een van die hospitaal se ordonnanse, die ander vrou voorkeer, hoe sy haar kop skud en anderpad kyk. Die man lag verleë, sien haar dan raak, lig ’n arm in afwagting en begin na haar aanstryk.
Sy loop hom tegemoet, hou haar hand uit vir die groet. Maar net voordat hulle hande raak, en die eerste keer op Britse bodem, raak sy selfbewus oor haar aksent. Vir hom behoort dit Nederlands genoeg te klink, dink sy, en haar Engels is straks beter as die meeste Nederlanders s’n.
Hy luister ’n rukkie koponderstebo na haar, asof hy hom moet inspan om haar bo die stasielawaai te hoor, en neem dan haar grootste koffer. Jacobs, is sy naam, weerman Patrick Jacobs, met effens te prominente voortande, wat oënskynlik verantwoordelik is vir sy erg nasale stem.
By die stasie-ingang loop Jacobs vooruit. In die straat voor die stasiegebou, onder die sagte, lae hemel, draai hy skuinsweg na haar en so in die loop maak hy ’n wye armbeweging asof hy hawer saai, en daar staan dit, soos ’n reuse-metaalspinnekop: ’n motorfiets met ’n syspan.
Sy steek vas, sit haar koffertjie by haar voete neer, laat val dit eintlik. Dis onvanpas, dink sy, om hier, in hierdie situasie, so uitgelate te reageer, maar sy kyk die soldaat tog laggend aan. Dis ’n Douglas. Ja, kyk, daar is die naam. Jacques het ene gehad, syne was net sonder die syspan. Die stomme Jacques, dat hy haar nou op dié manier tot in die vreemde agtervolg. Sy gee ’n tree nader en trek ’n voorvinger oor die koel, ronde dekseltjie van die slanke petroltenk, vat dan een van die kabels wat oor die stuurstang span vas en laat haar duim en voorvinger daaroor gly tot … a, ’n koppelaar! Jacques was tog so trots op sy fiets se koppelaar, een van die heel eerstes. Sy gee die toeter se blaasbol ’n ligte knypie, en kyk dan op na die Britse weerman wat haar geamuseerd staan en dophou.
Wat sy van motorfietse weet, het sy by Jacques geleer. Jacques la Mer, ’n Fransman in Nederland. Die Fransman-met-die-motorfiets. Haar eerste naweek in Dordrecht het sy die Saterdagoggend ’n kommosie in die straat gehoor, vinnig venster toe gehardloop en die man in die straat wydsbeen op die gevaarte sien sit. Hy het opgekyk na haar en die motorfiets laat brul. Sy het gevoel hoe haar maag saamtrek.
Die weerman kom tel haar koffertjie agter haar op. “Dit is so drie en ’n half myl na die hospitaal,” sê hy en kyk op na haar terwyl hy afbuk, glimlag skeef. “Laat ons die lewe geniet terwyl ons kan, of hoe?”
Dan lag hy hard, nogal vermakerig, en bind haar bagasie op die motorfiets se karet vas. Hy stop haar ’n stofbril in die hand en hou ’n elmboog uit sodat sy met die inklim daarop kan leun.
Die lewe geniet … Wat bedoel hy? Die ordonnans is egter reeds druk besig om die motorfiets aan die brand te probeer skop, altans dit is wat sy aflei. Sy het dit al gesien, die geskoppery, maar Jacques se motorfiets moes jy aan die gang stoot en dan vinnig in die ry opspring.
Prrr, prrr, prrr, skop hy, en sy gaan voort met wat sy heelpad van Harwich gedoen het: regtig probeer kyk na wat om haar aangaan, probeer vatplek kry aan die landskap, die geboue, hiérdie wêreld probeer peil. Is daar werklik iewers ’n oorlog aan die gang? En waarom merk sy so min daarvan? Daar is wel ’n vreemde, vae soort ongedurigheid in haar, maar dit het nie presies met die land en sy oorlog te make nie, dit het eerder te make met haar onvermoë om onverdeeld op iets daar buite te konsentreer. Dit is alewig asof daar iets anders is, iets net buite sigafstand, wat eintlik haar aandag verdien.
Jacobs se geskop-skop maak dit ook nie makliker nie en toe sy haar weer kry, is haar blik vasgevang deur die blos wat van sy kaak oor sy gladde wange optrek – wange sonder ’n teken van baard – en die uniformbaadjie wat opwip oor sy boude. Ag, liewe vader, ook dáárin sien sy vir Jacques. Maar die feit is dat selfs wanneer sý gery het, daar in Dordrecht, moes hý eers die motorfiets se enjin warm kry voordat hulle dit aan die brand kon stoot, pompend aan so ’n hefboom aan die enjin. En nou, hier in hierdie vreemde dorp en in die vreemde land en met ’n wildvreemde soldaat wat die opdrag gekry het om haar te begelei, is dit wat haar te binne skiet: hoe sy agterop Jacques la Mer se motorfiets op die paadjies deur die Biesbosch se riet- en biesievelde putte-putte-put. Later het sy toe self gery, hy moes haar wys hoe: Hier die ratte, een, twee drie; dáár draai jy die petroltoevoer geleidelik oop; kry jou vingers behoorlik om die rem.
Kruis en dwars op die Biesbosch se paadjies het hulle gejaag, sy dan wankelrig op die karet – deur die seewind, deur die strepe son en skadu, snakkend af in bogte vol koel lug om dan weer op te skiet in die loom helderte, haar hande onder sy baadjie, met onder haar vingerpunte die trilling van ribbe, daaronder die hortende, rosige gepomp van longe, die blindelingse kruip van bloed. Rietsnyers wat regop kom en met hul sekels beduie; sy wat hard, doelbewus, minagtend teen Jacques se agterkop vas lag, en hom voel ineenkrimp. Ja, dit onthou sy nou, hoe hy telkens onder haar vingers ineengekrimp het.
Dat sy dít nou moet onthou … Eenmaal het Jacques, nadat hulle terug was by die apartement, net so met sy hande aan die stuurstang geklamp bly sit. “Wat’s fout?” het sy gevra. “Kom jy?”
Hy het nie opgekyk nie, en dit het gelyk asof hy met die motorfiets praat. “Ek dink nie ons moet dit doen nie,” het hy gesê.
“Wat moet ons nie doen nie? Waarvan praat jy?”
Hy het afgeklim en stuurs by haar verbygeloop. “Jy weet goed,” het hy gemompel.
Sy het hom agternagestaar. Sy lang, eendagtige treë, sy ineengedoke skouers. Siestog, het sy gedink, en dadelik geskrik asof dit hý was wat omgeswaai het en die woord soos ’n wilde kat na haar gegooi het. Siesssstog! Maar hy het bloot met die trap opgeloop en die voordeur agter hom laat klap.
Jacobs swaai sy been oor die sputterende motorfiets se saal, kyk oor sy skouer na haar voordat hy die rathefboom tussen sy bene laat inklik en die fiets straataf laat brul. Die momentum druk haar terug teen die sitplek; sy kyk ietwat vervaard links en regs en gryp die rand van die syspan vas. Sy het gedink sy het dit reeds uitgepluis, bly haar gedagtes oor daardie ding met Jacques karring terwyl huise, mense en bome by haar verbyflits, ’n vreemde, vreemde konfrontasie. Daar was tog niks tussen hulle nie. Hy was ’n soort geleentheidsvriend. Ja, dit is die woord, geleentheidsvriend. Dalk was die probleem dat die geleenthede deur haar en haar alleen bepaal is. Dit is in elk geval die slotsom waartoe sy destyds gekom het: dat hy haar te voor op die wa gevind het, te beheersugtig. Maar nou wonder sy. Sy sien weer die rietsnyers wat orent kom en met hul sekels swaai, sy hoor die lemme deur die gras girts, sy voel sy trillende vel onder haar vingers. Hy moet iets daarvan agtergekom het. Maar wat is dit presies?
Uit die hoek van haar oog sien sy ’n groot struktuur verbyflits en sy swaai haar kop: in die middel van die straat ’n kloktoring, bonkig, massief, sommerso asof dit die oorblyfsels is van ’n kerk wat in die grond weggesink het, die ruïne half deur klimop toegegroei, maar met die horlosie volkome intak. Nou is haar aandag weer volledig by die omgewing, by die stamperige, raserige gang van die motorfiets met die soldaat aan die stuur. Dit is oënskynlik ’n alledaagse gesig, want ’n man wat ’n fiets verbystoot, kyk hulle nie eens aan nie, en langs die straat loop mense ingedagte voort. Sy druk haar clochehoed vaster op haar kop, klou met die ander hand aan die rand van die syspan.
Jacobs wys in die ry vir haar bakens uit, besienswaardighede, dinge wat hy reken sy om die een of ander rede moet weet as sy vir ’n ruk in hierdie gemeenskap moet woon en werk. ’n Keer of wat stop hy by ’n kruising, skuif sy bril op en gee ’n skoolseunagtige verduideliking: die huis waar die een of ander krieketspeler gebore is, die hospitaalpersoneel se gunstelingkroeg. Van die verpleegsters kom hierheen, sê hy met die kwaaklag wat sy vroeër gehoor het. Sy lag saam, heeltemal ontvanklik vir sy opgewondenheid, leun vorentoe en sê hard genoeg om hoorbaar te wees bokant die enjingeraas: “Ek sal seker nie sonder ’n metgesel kan kom nie.”
“Ek is seker dit sal gereël kan word,” sê hy en knipoog.
Sy kyk weg. ’n Irritasie roer in haar. Sy het hom te veel toegelaat; sy het sy vrypostigheid aangemoedig. Sy hoor hom agter haar praat, maar sy stuur doelbewus haar gedagtes weg van hom, van alle seunsoldate met motorfietse. Sy ken die opwinding, die ingeboude waaghalsigheid van die mens-masjien-kombinasie. Versigtig nou, versigtig nou … Sy voel ’n krieweling teen haar sye opkruip en kyk vinnig om na Jacobs. Hy het haar nog heeltyd sit en dophou, kom sy agter, maar nou kyk hy vinnig weg na waar hy reken iets haar aandag getrek het. Soekend kyk hy, en sê dan kopskuddend: “Nee, ek weet nie, dis maar net gewone huise.”
Sy lag verlig, beduie met haar hand dat dit niks is nie, strek ’n arm na hom en skiet vingerpunte uit: Ry maar, ry jy maar net.
Aan die buitewyke van die dorp stop hy nog ’n keer, lig die bril oor die skerm van sy pet, haal die motorfiets taamlik omslagtig uit rat uit en beduie met ’n lang voorvinger en die elmboog dooierus op die stuurstang: “Sien jy daardie huis,” sê hy en wys na ’n aantal spits dakke, skakelhuise wat bokant ’n ruwe ringmuur uitsteek, “die een heel links, dis waar een van ons grootste generaals gebore is, Leslie Rundle.” Hy laat die naam insink. “Meestal in Afrika geveg. Teen die Zoeloes, die Boere.” Hy kyk kopknikkend na die wit fasade met die enkele skuifraamvenster wat bokant die klipmuur sigbaar is.
Haar blik, wat die oomblik tevore nog byna argeloos oor die lyne van mure en dakke, van horison en straatvlak getas het, is eensklaps vasgevang. Sy kyk na waar hy wys, en voel hoe die ongedurigheid in haar iets anders word, nie presies irritasie nie, hoewel Jacobs se onverbloemde bewondering haar ’n oomblik laat dink dat sy besig is om kinderagtig te reageer. Iets anders roer egter in haar bewussyn; om die een of ander rede kry sy dit nie reg om haar met volle konsentrasie aan hierdie nuwe landskap oor te gee nie.
Vir goed ’n myl op die hobbelrige pad dorpuit probeer sy hierdie versperring in haar kleinkry, hierdie verduistering van haar blik. Later het sy die rit probeer herroep, probeer onthou wat sy gesien het. Lae klipmuurtjies waarteen die blare ophoop; ’n vrou wat met uitgestrekte arm by ’n venster uitleun asof sy geld vra; bome wat in bykans ’n identiese nabootsing van daardie gebaar hul takke oor die pad steek. Een-een beelde.
Jacobs begin rem en beduie met sy kop na die gebou voor hulle in die pad, maar sy merk kwalik die hospitaal wat voor hulle lê. Sy sien wel die kasteelagtige poort, maar haar gedagtes bly karring om daardie wit skakelhuis, om en om soos ’n rat wat gly. Dit is ongewoon, sy is nie een wat wroet nie. Impulsief is sy, ja, dikwels selfs te voortvarend, maar sy val nie vas in dinge nie. Sy kan dus kwalik wag dat Jacobs sy wye draai voltooi en reg voor die ingang tot stilstand kom. Met die uitklim praat sy reeds. Hy is nog besig om die laaste proes van die enjin te bepeins, of doenig met een van daardie bestudeerde intimiteite wat tussen mans en hul masjiene bestaan, toe skreeu sy byna: “Hoekom het jy vir my daardie . . .” Sy sien hom onthuts opkyk, verloor onmiddellik stoom, maar haal diep asem en probeer weer: “Hoekom het jy vir my daardie huis gewys?”
Hy weet ooglopend nie waarvan sy praat nie. “Daardie huis?”
“Ja, daardie huis. Die generaal s’n. Hoekom?”
Hy haal stadig sy bril af, en dit is asof daardie lui, argelose gebaar al was wat nodig was om haar los te maak van haarself. Dis asof sy toe eers, en op ’n afstand, hoor wat sy gesê het en haarself daar sien staan, in ’n nuwe wêreld sien staan – vrou, man en masjien, en agter hulle die groot hospitaal.
“Toemaar,” sê sy en vat haar koffer by hom. “Toemaar.” En sy draai om en stap die hospitaal die heel eerste keer binne. Hoe kon ek? dink sy, en sy weet dat Jacobs haar agternastaar. Ek is heeltemal laf. Sy lig haar ken en stap vanuit die helder namiddag die hospitaal se skaduryke poort binne.