Читать книгу Kamphoer - Francois Smith - Страница 5
Hoofstuk 2
ОглавлениеEk kan sien. My oë moet al lank oop gewees het voordat ek agtergekom het dat ek kan sien. Eers het die lig so wit om my gelê, en ek het gedink dit is nie lig nie, dit is nie lig nie. Ek weet nie wat ek gedink het dit is nie, maar dit was asof dit, die lig, ook so uit my mond uitloop en alles, alles om my word vol van hierdie suur, brandende naarheid wat in my is. Ek moenie meer kyk nie; ek wil nie weet wat dit is nie, ek wil dit nie voel nie, nee, ek wil nie. Ek wil nie. Alles moet weggaan. Ek moet liewer nie dink nie, want as ek dink dan druk my kop my vas, dan druk my gedagtes teen die been. Dis die dink wat dit laat oopkraak en so seer maak.
Dit ruik na skaapkraal. Stof en mis en klip en wol. Ek dink ek is in ’n soort grot. Ek lê in die koelte, maar aan die voorkant is die son so blink ek kan nie daarna kyk nie. Blink strepe met spikkeltjies wat daarin dryf en agtertoe iets donkers soos mense wat buk en inkyk, of dalk is dit dassies wat in olienhoutbome sit. Ek weet nie ek kan nie dink nie my ore slaan toe en bokant my en aan die kant is tekeninge teen die klip van mense en diere en ek hoor die pote van duisende skape oor harde grond en dis hulle wat oor my geloop het almal met hul skerp kloutjies en my fyngetrap het my hele lyf in die grond in geboor het die vel van my wange af van my ribbes die harde horing in my oë ek kan nie dink nie ek kan nie dink nie.
Nou weet ek wat ek gesien het. My eie gedagtes. Hoe dit bloederig uit my kop uitkom en borrel en spuit. Ek het al probeer skreeu so seer is dit, maar ek kan nie, want ek lê net hier. Dit is wat ek gesien het. Ek lê soos ’n afgeslagte skaap met daardie blou, sypelende are wat so bulterig staan oor die slymerige wit pens ’n lem wat girts, girts, ’n droë beskuit wat op die misvloer val en verkrummel waar my tone moet wees, my mond is volgeprop met skerp, harde krummels. Ek kan niks sê nie, want dit ruik na rook en skaapwol en stinksloot. Iemand het ’n lap in die stinksloot gegooi en ek moet liewer wegkyk weg weg want daar is bokke hier by my rooi soos grond en wit soos wolke hulle spring oormekaar en deurmekaar mense met kieries jaag hulle aan swart soos modder is die mense en die elande spring oor my, spring op, op, op. As ek net my oë styf genoeg kan toeknyp sodat alles kan weggaan.