Читать книгу Kamphoer - Francois Smith - Страница 11

Hoofstuk 8

Оглавление

Lebitso la ka ke Ntauleng.

Ek het gepraat! Ek het vir Mamello gesê wat my naam is. Ntauleng. Ek kan weer praat! En sy het haar hande voor haar geklap om dankie te sê en so gebuig en gelag en lielielielielie gemaak en vinnig afgehardloop om vir Tiisetso te gaan roep. Hy het met sy knopkierie hoog voor hom hier in die grot kom staan en gesê: Kêna ka kgotso, Ntauleng. Kom in vrede binne, Ntauleng. Ek dink hy bedoel ek moet inkom van waar ek ook al was. Mamello raak met die waterkalbas doenig, maar Tiisetso staan net so vir my en kyk, sy kierie se knop net duskant sy oor. Miskien weet hy van die nag, van hoe ek in die donker wakker lê met die bangheid wat my wurg sodat ek amper nie kan asemhaal nie en dat ek die hele tyd net luister, na elke geluidjie. Partykeer hoor ek ’n perd se tande teen ’n stang, of ’n hoef wat stamp, en dan is daar iets soos vlerke wat oor my gaan, of ’n klomp vrouens met swart rokke en groot swart kappies wat stadig deur die veld loop en die rokke raak aan mekaar en maak sulke krapgeluide, en van hul lywe kom die reuk van dassiemis wat lê en gis in rotsskeure, van hul mondhoeke drup die bitterheid af teen die skurwe klip.

Hulle het begin sing, Tiisetso met so ’n hoë stem vir ’n man en Mamello s’n ook hoog maar platter, so plat en glad soos die klip waarop hulle slag. En terwyl hulle sing, het ek woorde gesê wat in my kop opgekom het, net omdat ek weer kon praat, het ek hulle gesê. Net omdat ek weer kón praat. Hoer! het ek gesê. Hoer! En weer: Hoer! Ek het myself dit hoor sê, die woord het net uitgekom. Dis eintlik al woord wat uitgekom het. Die twee swart mense het gesing, langs mekaar gestaan en gesing met hul lywe wat heen en weer swaai asof hulle deur die wind geruk word, en ek het daar gelê en dit het vir my gevoel of ek leeg bloei soos ’n skaap wat keelaf gesny is.

Nou weet ek waar die woord vandaan kom. Die man wat my soos ’n skaap tussen die tente gevang het en aan my been na die slagplek toe getrek het terwyl ek skop en skop en skop. Hy sê dit. Hy sê dit vir my. Dit is wat ek is. Kyk, ek werp haar op die bed neer, en dié wat met haar owerspel bedryf, kyk, ek is die een wat niere en harte deursoek, wat my hand in die binnegoed insteek en dit losruk van die karkas, dit uitwerp in die buitenste duisternis, vir die honde voer sodat hul kake heelnag klap van wellustigheid.

Die swartes sing, maar dit maak niks nie, dit vat niks weg nie. Hulle kan maar met my maak wat hulle wil. Ek is nikswerd. Die Here sal my uit sy mond spoeg. Hoer is my naam! En uit sy mond kom ’n tweesnydende swaard en zijn aangezicht was gelijk de zon schijnt in haar kracht, gelijk de zon schijnt in haar kracht.

Kamphoer

Подняться наверх