Читать книгу Kamphoer - Francois Smith - Страница 9
Hoofstuk 6
ОглавлениеAs ek regop sit, kan ek by die grot uitkyk. Nie lank nie, want dan begin iets so hard teen my slape druk dat my kop wil oopbars. Ek gaan lê dan maar weer, al is dit makliker om my gedagtes weg te hou as ek kan uitkyk na iets, of as ek ten minste die son kan sien skyn. In die nag is dit anders. Dit duur lank om aan die slaap te raak en ek lê net so met my oë oop in die donkerte en kyk. Ek hoor voëls, jakkalse. Partykeer ook ’n geroep. Van ver af. Dis veral dan dat ek bang is iets of iemand kry hierdie grot. Dit is asof die eintlike ding waarvoor ek bang is daar ver buite is en nie hier in die grot nie. Ek weet nie hoekom ek so voel nie, maar daar is iets daar buite.
Onder hierdie lap om my kop is daar ’n harde dopperige ding. Ek voel die stywigheid teen my kopvel. Maar ek moet my kop baie stil hou, want as ek roer, pyn dit. Tussen my bene is daar ook ’n ding. Goeters. Ek kon my vingers al afwikkel om te voel, onder my rok in. Dit is iets grasserigs wat daar ingedruk is en ook met ’n lap of ’n verband of iets om my heupe vasgemaak is. Ek is te bang om daaraan te vat. Ek is eintlik te bang om te dink wat dit is of hoekom dit daar is. My bene hou ek ook reguit en stil. Ek lê maar net so met my kop op die sak en kyk na die tekeninge bokant my, en as ek my oë toemaak, sien ek nog die diere so half oormekaar en dit is partykeer asof hulle begin beweeg.
Ek kan nog nie goed onthou hoe ek hier gekom het nie, of wat met my gebeur het nie. My kop word te seer van die dink. Net tot by die kamp kan ek onthou, net tot daar kan my gedagtes teruggaan. Maar dan bly my onthou daar tussen die tente hang soos stof, daar tussen die gehoes en gekerm en gekla. Dan waai dit weer weg. Soos asem. Weg. Die skaapslag onthou ek ook. Dit is eintlik my hele kop vol, maar ek weet nie of dit in die kamp was nie. Dit is die gedagte wat my die bangste maak. ’n Man se gesig is ook daarby.
Dit is hoekom ek partykeer bly is om vir Tiisetso te sien, al weet ek nog nie wat hy met my wil maak nie. Daar is ’n vrou ook. Ek weet nie of dit sy vrou is nie, sy is baie ouer as hy, pikswart van die ouderdom. Maar sy is die een wat vir my sorg. Sy voer my motôho. Dit was nie eens vir my nodig om dit te sien om te weet wat dit is nie. Ek ken daai suurderige, melerige smaak. Sy gee my ook koel water wat sy met ’n blikbeker skep uit ’n kleipot. Die water met die bitter smaak soos blare.
Sy is ordentlik aangetrek, die vrou wat hier saam met Tiisetso is. So met ’n witterige lang rok wat tot bo toeknoop en ’n kopdoek. Mamello is haar naam. Sy praat Afrikaans, en sy praat met my al kan ek nog nie terugpraat nie. Die bietjie Sotho wat ek ken, sal ook nie veel help nie. Sy sê altyd as ek wil water maak, moet ek haar roep. Die goed aan my kop en tussen my bene is medisyne wat Tiisetso maak, hy is ’n ngaka, ’n dokter van die veld. Dis wat sy sê. Ja, hy het sulke armbande om sy polse, dit het ek al gesien. Koper en bont kraletjies en dierevel.
Mamello praat meer as Tiisetso. Ek wil vir haar vra wat hulle met my gaan maak. Hulle het nie gewere nie, dit kan ek sien. Sy maak vuur, pak fynhoutjies en miskoeke, hou haar kop skuins uit die rook uit.
Tiisetso sê kgotso as hy groet. Vrede. Dis goed so, dat hy hier in die middel van die oorlog so groet. Ten minste is hy nie saam met Olof Bergh se Scouts besig om plase af te brand en hoenders dood te maak nie. Verpestelike uitvaagsels. Tiisetso het ook nie so ’n hoed soos wat die Scouts dra nie. Nie ’n geweer nie en nie ’n hoed nie. As hy my net wil sê wat gebeur het, hoekom ek hier lê.
Miskien wil ek nie alles weet nie. Ek wil nie hê hy moet vir my sê wat hier tussen my bene gebeur het nie. Maar Tiisetso sal ook nie alles vertel nie. Ek weet hy sal nie, hulle is so, dié mense. Kyk jou nie in die oë nie, praat altyd windskeef.
Ek sal lê, Tiisetso, ek voel nie lekker nie, maar jy moet praat. Ek wil weet. Ek weet dit is baie erg, want dit is nie net seerkry wat ek voel nie, dis nie net dit nie, daar is iets baie groot verkeerd met my.
Tiisetso kan seker sien wat ek wil hê, want hy praat met my. Hy sê hy kan net vir my vertel wat hy sien, maar wat beteken dit? Net daarna sê hy vir my hy het my so gekry en hoe dit gekom het, kan net ek weet. Dis wat hy sê. Hy sê ek moet self sê wat gebeur het. Hy het my só gekry, en dit lyk vir my dis al wat hy wil sê. Hy sê as ons kan agterkom wat met my gebeur het, kan ons medisyne kry vir die hele land. Die hele land gaan dood van hierdie siekte, sê hy.
Ek weet nie waarvan hy praat nie. Dit maak my baie moeg. Hoe het hy my gekry? Hy moet reguit praat, nie met draaitjies nie. Ek weet nie of ek reg verstaan wat hy sê nie. Hy sê ek, wat dood was, was daar. Hy het my daar gekry. Ek was daar maar ek was ook weg. Ek was na die ander kant toe. As hy dit sê, beduie hy so met sy hand oor die bult. Hy sê ek het teruggekom en toe kry hy my daar in die veld, in die gras. Hy sê ek was gebreek. Stukkend. Hy sê dat dit ’n groot jammerte is, maar dat dit waar is. Dis hoe hierdie skepsel praat. Ek het nie hiervoor krag nie. Laat Mamello maar liewer kom, sy sal vir my kan sê watse nonsens hy praat.
Maar ek weet wat hy bedoel as hy met sy hand oor die bult beduie. Ek weet. En ek weet ook hoekom ek heeltyd die skaap sien wat geslag word. Maar daardie gesig by die skaap, dit is die ergste.
Gelukkig is Mamello ook nou hier. Sy blaas die vuur aan, maar nie hard of rukkerig nie. As sy blaas, is dit soos die wind wat oor die vuur waai. Daar waai rook oor my. As sy praat, soos nou, voel dit vir my asof haar stem saam met die rook kom, want haar stem kom en gaan weer weg. Sy sê dis waar dat ek daar gelê het. Daar op die plat grond, halfpad tussen die tente en die spruit waar hulle die wasgoed was, dis waar ek gelê het. Die wa wat die mense dorp toe vat wat in die nag dood is, het my daar laat val. Sy sê ek was gebreek. Baie sleg gebreek. Sy sê hulle, die mense van die kamp, het my saam met die ander dooies weggestuur so gebreek was ek.
Nou weet ek. Tiisetso is een van dié wat daar om die tente loop. Hy loop elke dag daar. Partykeer kry hy soetmelk, partykeer kry hy vleis. Of aartappels. Meel kan jy ook daar kry as jy van die mense ken wat daar in die kamp die kos uitdeel. Dis wat Mamello sê. En sy sê ek was baie sleg gebreek.
Terwyl sy praat, het ek op my rug gaan lê. Bokant my die diere en die mannetjies met die kieries. Sy het seker gedink ek het aan die slaap geraak, maar ek het nie. Ek het gedink en probeer onthou. Ek kan iets sien van wat sy gesê het, en dit is asof dit hier in my roer. Soos takke in die wind gaan iets so heen en weer in my. Hulle dink ek slaap, die twee swartes, maar ek slaap nie.
Mamello begin sing. Dan Tiisetso ook. Hulle maak so. Hulle stemme gaan so om en om en op en af. Dit hou aan en aan. Dit is soos rook wat oor my dwarrel, hulle gesing. Ek wil vir hulle sê my naam is Ntauleng, dis wat ons grootmaakmeid my genoem het.