Читать книгу Sêgoed met slaankrag - George Claassen - Страница 10

Argitektuur en boukuns

Оглавление

Historiese geboue is die sout en peper van ’n stad.

HANNES MEIRING, argitek en bewaringskenner


Ek word bekoor deur die klein dingetjies: pondokkies, kothuise langs die pad, die dappper pogings van mense om hul huise te versier wat ’n mens op die platteland en in afgesonderde landelike gebiede sien.

HANNES MEIRING, in ’n onderhoud met KAREN EICKER vir architectafrica.com, 2005


Ek stel baie belang in ou argitektuur – ek meen dit is ’n groot jammerte dat pragtige geboue wat deel uitmaak van ons historiese erfenis gesloop word om plek te maak vir glaskasarms.

WYNAND CLAASSEN, Springbokkaptein en -keurder en argitek, aangehaal in JANI ALLAN, Face Value, 1980’s


Die groot uiterstes

behoef geen argitektuur:

die salige lig straal

gestalteloos soos ’n engel

die duisternis mok

amorf in homself

maar tussenin dans

dol soos ’n katedraal

bont

soos ’n gebrandskilderde

harlekyn

dié menswees uitgeterg

tot haglike argitektuur

SHEILA CUSSONS, digter, “Bouwerk”, Die skitterende wond, 1979


n stad se vorm, helaas,

verander vinniger dan ’n mens se hart

wat ou posture kan vaslê

PETER BLUM, digter, “Mag dit behoue bly”, Steenbok tot Poolsee, 1955


Hulle bou stilweg en onverpoosd met hul dood

aan dié ondersese rococo-katedraal wat glinster

in die skuins hale son: só word ’n skip katedraal.

JOHANN DE LANGE, digter, “Sterwende argitekte”, Akwarelle van die dors, 1982


proud ou gabou

pathetic pêllie

quiet ou

djy fancy djy staan nog . . .

djy word gedemolish sê ek vir djou! . . .

Hoor djy die pêrepote vannie bulldozers?

ADAM SMALL, digter en dramaturg, Oos wes tuis bes Distrik Ses, 1973


A, dat die slopers kom om my oë uit te slaan!

Genoeg het ek gesien. Oorbodige bepeinsinge

bewaar in my kamers, ek, argief van gistergerigtheid,

oumensbewend onder my dun laag dagha.

WILMA STOCKENSTRÖM,

digter, prosaïs en akteur, “Ou gebou”, Vir die bysiende leser, 1970


En dan vra jy jou af: hoekom juis Toskaans saamgegroepeer in ons voorstede? Die eendersheid, soms swak ontwerpe van die egte styl, raak doodeenvoudig vervelig, afgesaag. Waarom hoegenaamd by annerland gaan steel as ons ’n eie kan skep?

ORA JOUBERT, argitek en akademikus, tydens haar professorale intreerede aan die Universiteit van Pretoria, 18 November 2004


Woorde ontbreek my wanneer ek die passé, stilisties twyfelagtige, klima­to­logies onverantwoordelike (met die endemiese alkant-selfkant-aansigte), oor­bodig versierde, lomp en bloot lelike geboue teenkom, ontwerp deur argitekte afgestudeer aan gerespekteerde akademiese instellings. Met die ver­­kragting van ons gevestigde woongebiede is die jongste gier om bourgeois-­enklaves aan die buitewyke van ons stede te vestig. Dié tematies ge­ïnspireer­de landgoedere – met eie ontspanningsgeriewe, 24 uur-veiligheid en romantiese name – neem regoor die land toe teen ’n ongelooflike tempo. Indien ek nog die ontwerp-oorsprong van die nouveau riche-herehuise aan die oor­wel­digende invloed van die Amerikaanse tv-kultuur se sogenaamde aspire­rende sepies kan toedig, kan ek vir ons skynbare obsessie met Toskane – oftewel ‘Tos-­Afrikaans’ of ‘Boere-Spaans’ – geen akademiese (of sosiale) regverdi­ging vind nie. Van die onvergeeflikste is wanneer ons handjievol streekmoder­nistiese voorbeelde geminag word deur sogenaamd Toskaans geïnspireerde geboue daarnaas.

ORA JOUBERT, Pretoria, 18 November 2004


Selfs as aangevoer kan word dat Suid-Afrikaners nie oor ’n inherente stedelike kultuur beskik nie, is ons openbare ruimtes in ’n betreurenswaardige toestand. Onversorgde landskapontwerp, lemmetjiesdraadheinings en banale advertensieborde is die herkenbaarste eienskappe van ons gebruikersonvriendelike openbare ruimtes

ORA JOUBERT, Pretoria, 18 November 2004


Voorts wys ek die nemesis van die argitektuurberoep – eiendomsagente – daarop dat argitektuur aansienlik meer is as uitspattige verftegnieke, duur ingevoerde afwerkings en toebehore; dat ware, tydlose argitektuur nie stilisties gebonde is nie, maar poëties gedrewe.

ORA JOUBERT, Pretoria, 18 November 2004


Johannesburg is nie die mooiste stad in die land nie, maar wel die mees dinamiese – ’n Wilde Weste-dorp met argitektuur wat daarby pas. Die ge­boue waarvan ek hou, is dié wat die ons-kan-houding van die stad reflek­teer . . . Die geboue wat ek verafsku, is die virusagtige uitslag van Toskaanse/Balinese/Provensaalse ontwikkelings wat niks anders is as Potjomkin-dorpies nie.

HUGH FRASER, argitek, Times Live, 19 Augustus 2010


Groot werke, soos byvoorbeeld die Uniegebou, kan nooit deel

vorm van ons nasie nie.

GERARD MOERDIJK, argitek wat die Voortrekkermonument in 1936 ontwerp het, met verwysing na ’n eie Afrika-styl in argitektuur en in ’n poging om die invloed van SIR HERBERT BAKER te vermy

Sêgoed met slaankrag

Подняться наверх