Читать книгу Sêgoed met slaankrag - George Claassen - Страница 6
Afrika en Afrikane
ОглавлениеSeën ons Here God, seën Afrika.
Laat sy mag tot in die hemel reik,
Hoor ons as ons in gebede vra,
Seën ons in Afrika,
Kinders van Afrika.
ENOCH SONTONGA,
onderwyser, koormeester en komponis,
“Nkosi sikelel’ iAfrika”, 1897
Ontsaglike geduld: Afrika se beste kenmerk,
en sy ondergang.
DENIS BECKETT,
joernalis en redakteur van Frontline (1979–1991)
Daar is nie iets soos Afrika-tyd nie; daar is wel iets soos
om ander se tyd te mors.
JONATHAN JANSEN,
onderwyskundige, Briewe aan my kinders, 2012
Die hergeboorte van Afrika beteken dat ’n nuwe en unieke beskawing binnekort tot die wêreld gevoeg sal word. Die Afrikaan is nie ’n proletariër in die wêreld van wetenskap en kuns nie. Hy het kosbare skeppings van sy eie, van ivoor, koper en goud, vergulde houtwerk en wapens van superieure vakmanskap. Beskawing trek na ’n organiese wese in sy ontwikkeling – dit word gebore, dit sterf en dit kan homself voortplant. Meer nog, dit is soos ’n plant, dit skiet wortel in die vrugbare aarde, en wanneer die saad op ander grond val, ontspring nuwe variëteite. Die wesenlikste onderskeiding van hierdie nuwe beskawing is dat dit diepgrondig spiritueel en humanisties sal wees – inderdaad ’n morele en ewige hergeboorte!
PIXLEY KA ISAKA SEME,
stigterslid van die South African Native National Congress
(later die ANC), prokureur, koerantuitgewer en president-generaal
van die ANC, 1906
Ons kontinent is een van opstand teen onderdrukking. En vrede en revolusie is ongemaklike bedmaats. Daar sal geen vrede wees totdat die magte van onderdrukking omvergewerp is nie . . . Maar nou stoot die revolusionêre beroerings van ons kontinent die verlede opsy. Ons mense van oraloor die kontinent, van noord tot suid, herwin hulle grond, hulle reg om deel te hê aan regering, hul waardigheid as mense, hul nasieskap. So word te midde van die onrus van revolusie die grondslag vir vrede en broederskap in Afrika deur die opstanding van nasionale soewereiniteit en onafhanklikheid herstel, van die gelykheid en waardigheid van die mensdom.
ALBERT LUTULI,
ANC-president en wenner van die Nobelvredesprys, in sy Nobelprystoespraak,
Oslo, 11 Desember 1961 1
. . . laat my Afrika uitnooi om verby die verlede te kyk en selfs die hede, met hul smarte en beproewings, swaarkry en mislukkings, en etlike suksesse, en homself te sien as ’n ontluikende kontinent wat deur die skulp van eeue se slawedom tot vrede uitbars. Dié is Afrika se tyd – die dagbreek van sy vervulling, ja, die oomblik dat hy moet stoei met die noodlot om die pieke van verheerliking te bereik, en sê: Ons geveg was een vir edel waardes en loflike doelstellings, en nie vir grondgebiede en die verslawing van die mensdom nie.
ALBERT LUTULI,
Oslo, 11 Desember 1961
. . . die mense van Afrika is keer op keer vertel dat hulle babas is, dat hulle ’n minderwaardige ras is, dat hulle nie enigiets waardevols op hul eie kan bereik of sonder ’n wit man as hul ‘trustee’ of ‘leier’ nie. Dié verraderlike voorstelling het hul verstand vergiftig en gelei tot ’n patologiese ingesteldheid. Daarom het die Afrikaan sy verdienstelike kwaliteite van selfrespek, selfvertroue en selfstandigheid verloor of is besig om dit te verloor. Selfs in die politieke wêreld is beweer dat Afrikane nie hulself kan organiseer of enige vordering kan maak sonder wit ‘leiers’ nie. Nou staan ek vir die opstand teen hierdie sielkundige verslawing van my mense. Ek streef na die uitwissing van hierdie ‘Ja-Baas’-mentaliteit, wat vir eeue sistematies en subtiel in die koppe van Afrikane ingeplant is.
ANTON LEMBEDE,
regsgeleerde en ANC JEUGLIGA-stigterslid en -president, 1941
Die leier van die Afrikane sal uit hul eie lendene kom.
ANTON LEMBEDE, 1943
Die wortels van beskawing lê diep in die grond van Afrika. Egipte is die wieg van die beskawing, nie net in die wetenskappe nie, maar ook in die beginsel van mededeelsaamheid. Hannibal, oorwinnaar en poligamis, het drie swart vroue gehad; Moses het met ’n Afrikaan getrou; nóg Europa nóg Asië het ’n gebrek aan Afrikabloed. Christus self het op jong ouderdom beskerming in Afrika gevind. Op pad na Golgota het sy ondersteuning van Afrika gekom.
ANTON LEMBEDE, 1940’s
Ons beskou dit as ons historiese rol om tot ’n Verenigde State van Afrika van die Kaap tot Kaïro, Marokko tot Madagaskar by te dra.
ROBERT SOBUKWE,
leier van die Pan Africanist Congress, Mei 1960
Ons staan vir ’n regering van die Afrikaan, deur die Afrikaan en vir die Afrikaan, met elkeen wat sy trou aan Afrika toesê en ook bereid sal wees om deur die meerderheid van Afrika regeer te word.
ROBERT SOBUKWE, Mei 1960
Ek weet ek is beskuldig dat ek anti-wit is, nie net deur die regering nie, maar ook deur andere. Maar daar is nie een mens wat ’n stelling van my kan aanhaal wat dit bewys nie. Wanneer ek sê ‘Afrika vir die Afrikaan’, het ek dit altyd duidelik gemaak dat ek met Afrikaan daardie mense, van enige kleur, bedoel wat Afrika as hul tuiste aanvaar. Kleur beteken vir my niks nie.
ROBERT SOBUKWE, in gesprek met die
joernalis en redakteur BENJAMIN POGRUND op Robbeneiland,
waar Sobukwe van 1963 tot 1969 aangehou is
Afrika, meer as enige ander kontinent, moes rekening hou met die gevolge van onderwerping in ’n ontkenning van sy eie rol in die geskiedenis, insluitende die ontkenning dat sy mense die vermoë het om verandering en vooruitgang te bewerkstellig.
NELSON MANDELA,
eerste president van ’n demokratiese Suid-Afrika (1994–1999) en Nobelpryswenner
Dit sou ’n wrede ironie van die geskiedenis wees as Afrika se dade om die kontinent te laat herleef ’n nuwe wedloop om Afrika ontketen wat, soos in die negentiende eeu, die kontinent se rykdom plunder en dit weer eens armer laat.
NELSON MANDELA
In die privaatheid van sy toilet, wroeg die swart man in stille veroordeling van die wit samelewing, maar vertoon vriendelikheid in beteuterde onderdanigheid as hy uitkom en hom haas in antwoord op sy baas se ongeduldige geroep. In die bus of trein op pad huis toe sluit hy hom aan by die koor wat die wit man reguit veroordeel, maar is eerste om die regering te prys in die teenwoordigheid van die polisie of sy werkgewer . . . Alles in ag genome, het die swart man ’n dop geword, ’n skaduwee van ’n man . . . ’n slaaf.
STEVE BIKO,
Swart Bewussynsleier en anti-apartheidsaktivis, I Write What I Like, 1978
Ek is ’n Afrikaan. Ek is my bestaan verskuldig aan die heuwels en die valleie, die berge en die oop ruimtes, die riviere, die woestyne, die bome, die blomme, die oseane en die altyd veranderende seisoene wat die gesig van ons moederland definieer . . . Ek is my bestaan verskuldig aan die Khoi en die San wie se verlate siele in die groot ruimtes van die pragtige Kaap heers – hulle wat die slagoffers was van die mees meedoënlose volksmoord wat ons geboorteland ooit gesien het, hulle wat die eerste was om hul lewe te verloor in die stryd om ons vryheid en onafhanklikheid en hulle, wat as gevolg daarvan, gesterf het . . . Ek is gevorm deur die migrante wat Europa verlaat het om ’n nuwe huis in ons geboorteland te vind. Wat ook al hul dade, is hulle steeds deel van my. In my are vloei die bloed van die Maleise slawe wat van die Ooste gekom het . . . Ek is die kleinkind van die krygsmanne en -vroue wat Hintsa en Sekhukhune gelei het, die patriotte wat Cetshwayo en Mphephu na die slagveld geneem het, die soldate wat deur Moshoeshoe en Ngungunyane geleer is om nooit die stryd om vryheid te versaak nie. My verstand en my kennis is gevorm deur die oorwinnings wat die juwele is in ons Afrika-kroon, die oorwinnings wat ons behaal het van Isandlwana tot Kartoem, as Ethiopiërs en as die Asjanti van Ghana, as die Berbers van die woestyn. Ek is die kleinseun wat vars blomme lê op die Boeregrafte by St. Helena en die Bahamas, wat in sy verbeelding die lyding kan sien en beleef van die eenvoudige, landelike mense, die dood, konsentrasiekampe, vernietigde huise, ’n droom in ruïnes. Ek is die kind van Nongqawuse. Ek is hy wat dit moontlik gemaak het om op wêreldmarkte in diamante, in goud, in dieselfde voedsel waarna my maag verlang, handel te dryf. Ek kom van hulle wat van Indië en China vervoer is, wie se bestaan alleenlik afkomstig was van die feit dat hulle fisieke arbeid kon voorsien, wat my geleer het dat jy beide tuis kan wees en van die buiteland, wat my geleer het dat die menslike bestaan self vereis het dat vryheid ’n noodsaaklike toestand vir die menslike bestaan is. As deel van al hierdie mense, en in die kennis dat niemand daardie bewering kan betwis nie, sal ek aanspraak maak – ek is ’n Afrikaan.
THABO MBEKI, Suid-Afrikaanse president,
in ’n toespraak tydens die aanvaarding van Suid-Afrika se eerste demokratiese grondwet in die parlement, 1996
Ek vind niks om die lank gekoesterde dogma van Afrika-buitengewoonheid, waarvolgens die kleur swart ’n simbool van vrees, boosheid en die dood is, te behou nie. Ek praat van hierdie lank gekoesterde dogma omdat dit steeds die verstand en gees van die Afrikaan afrem, soos die ton lood wat die slaaf uit Afrika op haar eie skouers dra, en daardeur ’n toestand in haar en die res skep wat op sigself enige aanspraak betwis dat sy in staat is tot inisiatief, kreatiwiteit, individualiteit en entrepreneurskap. Dié gewig dikteer dat sy nooit haar rug sal kan reguit maak nie om daardeur te ontdek dat sy net so lank is soos die slawemeester wat die sweep dra. Nog minder sal sy die geleentheid kry om te bevraagteken waarom die meester die wettige reg besit tot sowel die kommoditeit wat sy op haar rug vervoer en die arbeid wat sy moet beskikbaar stel om te verseker die las op haar skouers word oorgesit in dollar en jen. ’n Noodsaaklike en vereiste element van die Afrika-Renaissance is dat ons almal dit as ons taak opneem om haar aan te moedig wat die loodgewig dra, om te rebelleer, om die belangrikheid van haar humaniteit op te dwing – die feit dat sy, in die eerste instansie, nie ’n pakdier is nie, maar ’n mens en Afrika-wese.
THABO MBEKI,
in ’n toespraak by die Verenigde Nasies-universiteit, 9 April 1998
Ek is van Afrika, daarom Afrikaan, omdat ek in Suid-Afrika gebore is, grootgeword het en woon en ’n Suid-Afrikaanse
identiteitsdokument het.
FREDERIK VAN ZYL SLABBERT,
akademikus en politikus, Duskant die geskiedenis, 2006
In Afrika gebeur dinge soms agterstevoor. Soos dat die son
eers moes ondergaan oor die vasteland voordat hy opgekom het,
en nie andersom nie.
MATHEWS PHOSA,
digter en ANC-politikus, “Voorwoord”, Deur die oog van ’n naald, 1996
Die swart samelewing was aan skerwe, die morele struktuur was vernietig. Ek het na ander Afrikalande gekyk, almal was in ’n gemors, mense was nie geskik om hierdie lande te bestuur nie.
AGGREY KLAASTE,
koerantredakteur, oor die redes vir sy idee van nasiebou, Sowetan, 28 April 1988
Ek het my kultuur behou. Ek het die musiek van my wortels behou. Deur my musiek het ek hierdie stem en beeld van Afrika geword sonder om eers daarvan bewus te wees.
MIRIAM MAKEBA,
sanger en bekend as Mama Afrika, Makeba: My Story, 1987
Om as ’n mens in die Afrika-kultuur geklassifiseer te word, was dit nie genoeg om op twee bene te loop nie. Jy is beskou as ’n mens op grond van wat jy gedoen het om jou medemens op te hef. Selfsugtigheid of individualisme het fronse ontlok . . . Wanneer ons wat hierdie erfenis waardeer, sien hoe sommige van ons met hul rykdom te koop loop te midde van ’n oseaan van armoede, besef ons iets is pynlik verkeerd in ons samelewing . . . Ons vrees dat die tempo waarteen die inhaliges ons hulpbronne verorber ons land droog gaan laat, en die siklus van armoede sal nie gestuit word nie.
SIMPHIWE SESANTI,
akademikus en joernalis, Cape Times, 28 September 2009
Om oor Afrika te vlieg is ’n topografie
van landmeterskap wat aan die mistieke grens –
die oog kan nooit lank genoeg rek
BREYTEN BREYTENBACH, digter en skilder,
“die intensiteit van tekstuur inhibeer die strategie van struktuur”, Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde, 1993
Die heropbou van Afrika vereis die sielkundige vasmeerplekke van ’n geskiedenis van hierdie kontinent wat ons jong mense leer oor die grootsheid wat Afrika was, en ’n grootsheid wat nog bereik kan word as hulle die knuppels optel en veg en dit bou.
MATHATHA TSEDU, joernalis en koerantredakteur
1 Lutuli word dikwels gespel as Luthuli, maar hy het die eerste vorm verkies.