Читать книгу Sêgoed met slaankrag - George Claassen - Страница 4
Voorwoord
Оглавление“Al te veel woorden versmoren de waarheid,” het die Vlaamse priester-digter Guido Gezelle beklemtoon; in dié versameling van wat Suid-Afrikaners oor meer as drie eeue in woorde vasgevang het, bly Gezelle se woorde jou by omdat so ’n byeenbring van sêgoed, soms swaarwigtig in digterlike formaat, spottend, kru, kwytgeraak in die hitte van die stryd om gehoor te word, of verskietend in die hemelruim van ’n era, net spatsels van ’n tyd kan weergee. Konteks moet behoue bly sonder om ’n frase of paragraaf ellelank uit te rek, dus ’n delikate balans om die woorde van die verlede steeds relevant te maak vir die eeu van die internet met sy woordvlugtige oppervlakkigheid.
En dan is daar die probleem van woordbeperkings wat die uitdaging om te ontkom aan Shakespeare se “Words, words, mere words, no matter from the heart”, soveel uitdagender maak, verder ook met Horatius se Sunt verba et voces, praetereaque nihil, daar is die woorde en stemme en niks meer nie, in gedagte.
Wat dan hier aangebied word, is hopelik meer as net woorde en stemme omdat dit iets van die tydsgees van Suid-Afrika en sy mense reflekteer. Dit maak nie aanspraak op ’n volledig geskilderde portret nie, maar eerder kwashale wat die buitelyne van ons samelewing probeer uitbeeld.
Wat onteenseglik blyk uit die woorde hier aangehaal, is dat Suid-Afrika geen vervelige land is nie. Dit rumoer, vibreer, stu opdyend en sing in woorde, dit jubel en treur en raak sentimenteel, befoeterd, beledigend, wysgerig.
Wie sal in enige ander land wil woon as jy na hierdie woorde van sy mense kyk?
My dank aan die twee Annies, Olivier en De Beer, wat as redakteurs met geduld gewag het dat hierdie versameling beslag kry. Maar ook aan Linette Viljoen met wie ek al oor jare as redakteur en skerp leser kon saamwerk.
GEORGE CLAASSEN
Somerset-Wes en El Vicario, Andalusië, Maart 2014