Читать книгу Sêgoed met slaankrag - George Claassen - Страница 8

Afsterwe en afskeidswoorde

Оглавление

Daar’s ’n glimlag in sy stem.

Hy sê: kom binne, kom binne,

ons werk nie meer met linne,

dis nou as en beentjies en rook

uit ’n vuur deskundig gestook

maar steeds vir daar doer bestem.

WILMA STOCKENSTRÖM,

digter, prosaïs en akteur, “Uitnodiging”, Hierdie mens, 2013


Welkom, vreemdeling vergetelheid. Skroom

nie om jou donker vakuum om my uit

te brei, vergroting van die duister agter

my ooglede.

WILMA STOCKENSTRÖM,

“Welkom, vreemdeling vergetelheid”, Spieël van water, 1973


Eendag sal ek, weet ek, die dood

met laggende skedel trotseer.

WILMA STOCKENSTRÖM,

“Die skedel lag al huil die gesig”, Van vergetelheid en van glans, 1976


Ek sê mos die skedel lag

al huil en huil die gesig.

WILMA STOCKENSTRÖM, ibid.


Daar bestaan tans genoeg getuienis dat die menslike siel, as kandidaat vir die hiernamaals, nie bestaan nie . . . Deur op ’n ewige lewe ná die dood te fokus word ons aardse bestaan tot ’n soort wagkamer vir die dood gereduseer. Die mite dat mense siele besit wat ná die dood met die ewige lewe ‘beloon’ word, negeer eintlik die betekenisvolle bestaan wat op Aarde gelei kan word. As jy leef, het die dood geen betekenis nie en wanneer jy sterf, maak dit in elk geval nie meer saak nie. Om te beweer dat ’n mens ‘die tydelike met die ewige verwissel’ is uit pas met die werklikheid. Die ‘tydelike’ is al wat ons beskore is en ons enigste ‘beloning’ is om vlietend deel van die kosmos te wees en die kans gegun te word om ’n morele en etiese lewe te lei. Dit is selfs moontlik om langs hierdie weg ’n spirituele bestaan te voer.

JURIE VAN DEN HEEVER, paleontoloog, God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles, George Claassen en Frits Gaum (reds.), 2012


Daar is geen dood.

Ons wat van lae strand dit sien, en speur

hoe dat hul vaart die afstand steeds vergroot –

ons kan nie sien wat anderkant gebeur,

en daarom noem ons die verdwyning: dood.

TOTIUS (J.D. DU TOIT), digter, teoloog,

psalmberymer, “Daar Is Geen Dood”, Passieblomme, 1934


Om dood te wees is nie vir my ’n realiteit terwyl ek lewe nie en die lewe is geen realiteit meer vir die wat dood is nie. Daarom, om die dood te vrees is volgens my om niks te vrees.

ABEL PIENAAR, filosoof en skrywer, God?, Claassen en Gaum, 2012


Dit beteken nie altyd veel om ’n man van belang te wees nie. Die belangrikste persoon op ’n begrafnis is ’n dooie man.

C.J. LANGENHOVEN, skrywer en politikus, Ons weg deur die wêreld, 1913


Om dood te gaan is geen kuns nie: die slegste kry dit reg. Om te lewe is ’n kuns: die beste kry dit nie goed reg nie.

C.J. LANGENHOVEN, ibid.


Ons is almal op sterwe na dood.

C.J. LANGENHOVEN, ibid.


Sal die leser wat by hierdie plekke kom, as die skrywer in die graf is, onthou dat daar vir hom ook ’n jaar sal kom waarvan hy nie die Oujaarsdag sal sien nie.

C.J. LANGENHOVEN, ibid.


As ek die begeerte mog waag, sou ek dit graag so wil hê dat die engel wat my kom haal huis toe, my daar bring met die verslag: ‘Ek het hom by sy werk gekry’.

C.J. LANGENHOVEN, ibid.


Al is jy, Dood, ook met ons. Ja, vir my

Is elke kind se eerste lewenskreet

’n Groter wonder as sy laaste snik.

C. LOUIS LEIPOLDT,

digter, medikus, joernalis en koskenner, “Dood”, Uit drie wêrelddele, 1923


Net pagters ons

van stof en dons

om oor te voer

aan Skoppensboer.

EUGÈNE N. MARAIS,

digter, skrywer, joernalis en wetenskaplike, “Skoppensboer”, Gedigte, 1925


. . . oor alles hou die wurm wag

en stof en as is al wat bly:

Want swart en droef,

die hoogste troef

oor ál wat roer,

is Skoppensboer.

EUGÈNE N. MARAIS, ibid.


Gewis is alles net ’n grap!

Ons speel in die komedie mee

geblinddoek met ’n lamfer-lap

wat selfs die son ’n skadu gee.

EUGÈNE N. MARAIS, ibid.


die eindelike rus as sag

die kersvlam groei en krimp en groei

en plotseling wegsink dat die nag

soos watermure oor my vloei.

ELISABETH EYBERS, digter, “Portret”, Die vrou en ander verse, 1945


Die eensames voel nooit alleen

in die wit broederskap van been,

hier kan die digter sonder skroom

hom blywend toespin in sy droom.

Geen jaarlikse belastingheffing

op hierdie langtermynbelegging:

geagte leser, dié geleentheid

bied hom slegs een keer in ’n leeftyd.

ELISABETH EYBERS, “Wespark”, Die helder halfjaar, 1956


Die grassaad sal nog buig,

die beeste bulk, die lewe roep,

maar jy?

Hier waar jy was, sal skape wei.

C.M. VAN DEN HEEVER, skrywer en digter,

“Die gevalle Zoeloe-indoena”, Aardse vlam, 1938


En al die mensgeslagte sal vergete

en weggebrand wees net soos gras:

Maar, God, die swaarste – hoe klein! – is tog die wete

dat ek ook deel van dié verwoesting was!

C.M. VAN DEN HEEVER, “Eenmaal”, ibid.


want alles was deurweek van sterflikheid.

N.P. VAN WYK LOUW, digter,

dramaturg en prosaïs, “Aanraking van die dood”, Die halwe kring, 1937


Tevergeefs die gebede

teen sterwe –

sy kom:

wit voorskoot

vol haelkorrels . . .

D.J. OPPERMAN, digter en dramturg, “Wit duiwelin”, Edms. Bpk., 1970


Die dood is die lewe se kloon.

JOHANN DE LANGE, digter, “Die dubbelganger”, Snel grys fantoom, 1986


mense gaan dood

maklik soos ander

asemhaal.

JOHANN DE LANGE, “Selfmoord in 5 reëls”, Akwarelle van die dors, 1982


Watter pyn,

watter verlange

vorm my

en slyt my weg

vir die ewigheid reg?

JOHANN DE LANGE, “Groei”, Waterwoestyn, 1984


Die eerste dood is, nugter beskou,

van die lyf; die tweede se verderf

volg wanneer niemand jou meer onthou.

JOHANN DE LANGE, “Na die eerste dood”, Stil punt van die aarde, 2014


Om pyn te verduur

selfs te seën as ’n kuur?

Om die dood te sien nader

as sorgsame vader?

HENNIE AUCAMP, skrywer, Met permissie gesê, 1980


plant my op ’n heuwel naby ’n dam onder leeubekkies

laat die sluwe bitter eende op my graf kak

in die reën

BREYTEN BREYTENBACH, digter en skilder, “Bedreiging van die siekes”, die ysterkoei moet sweet, 1964


moet ek ook ’n dieper wending gee?

dat ons almal net ballinge is van die Dood

om binnekort ‘huis toe’ te mag gaan?

BREYTEN BREYTENBACH, “luistervink”, Kouevuur, 1969


daar is niks met ons verkeerd

wat die dood nie reg kan maak nie

BREYTEN BREYTENBACH, “beskrywing”, Raster 5 (1), 1971


meng my as met as met hierdie lekkerruikkruie

en strooi dit uit om die dood te vang,

met hierdie grond is ek terug in die Suide

terug in die grond is die uitstap voltooi

B.B. LASARUS (BREYTEN BREYTENBACH), ’n Seisoen in die paradys, 1976


maar kyk, ons is elk

self die koetsier van vergaan, goejop-regop met hande

verwelk

om die doodskar se leisels. want só bid-bid is ons reis

gewik, koel, ’n skelet gekelk in die dagkabaai van vleis . . .

BREYTEN BREYTENBACH,

“om te lewe is om te brand – Andrei Voznesenski”, Eklips, 1983


anoniem maar rustig

en aan geen bloed verknog:

miskien is die dood dán ’n verowerde asiel

BREYTEN BREYTENBACH, “23 Februarie 1974”, Soos die so, 1990


die dood is niks

is slegs ’n oorgang van asem na ontasem

BREYTEN BREYTENBACH (onder Jan Blom), “vuur op die maan”, Oorblyfsels: ’n roudig, 1997


die dood is ’n afglansing vir die lewe:

wanneer die spieël breek kom die tyd van onbevangenheid

BREYTEN BREYTENBACH, ibid.


Al wat ek eendag saam met my kan vat, is dit wat ek hier

op aarde weggegee het.

MORKEL VAN TONDER, radio-omroeper en skrywer, Kantaantekeninge, 1980


daar blyk geen stilte

te wees

in ’n bottel barbiturate

of ’n flesvol as

JOAN HAMBIDGE, digter en akademikus, “Repos ailleurs”, Bitterlemoene, 1986


Ek leef met my oog

op die ewigheid – gedagvaar deur die dood.

JOAN HAMBIDGE, “Solstitium”, Geslote baan, 1988


ons almal word op ’n dag in die lykdig van ’n swart stasiewa ingeskuif. Dis ons swanesang. Die laaste rit is ’n motorrit.

ETIENNE VAN HEERDEN,

skrywer en akademikus, “Die motor”, Die stilte ná die boek, 2004


kleef aan jou bed

die hemel is hol

en koud en ver verset

jou teen die dood wurmpropvol

T.T. CLOETE, digter en akademikus, “Lê en roer”, Allotroop, 1985


Niks bly

soos dit is nie. Soos snoei

is ook aanplant sny,

en uitroei.

Alle snye groei.

T.T. CLOETE, “Allofonie”, ibid.


Ek dink mense wat hul kinders verloor, is die dápperste mense op aarde. Jy verloor jousélf. Jy verloor jou toekoms. Jy verloor jou ideale. Jy verloor al jou drome.

LIZETTE RABE, joernalis en akademikus, in gesprek met Murray La Vita, Die Burger, 6 September 2011


. . . die Aarde, die universum in al sy skoonheid en chaos is vir my genoeg. Ek is bevoorreg om dit te kan sien, ruik, proe, hoor, voel. Ek wil ná my dood wees waar ek voor my geboorte was. Ek wil begrawe word in grond en daarin tot niet gaan. Dis vir my ’n wonderlike en salige gedagte dat ek bestaan uit sterrestof en dat ekself verantwoordelik is om my lewe tot sy volste intensiteit te lei binne sy totale verbondenheid aan alles en ander.

ANTJIE KROG, digter en skrywer, God?, Claassen en Gaum, 2012


Ek wil net ’n eenvoudige steen hê waarop staan, ‘Mandela’.

NELSON MANDELA,

eerste president van ’n demokratiese Suid-Afrika (1994–1999) en Nobelpryswenner


As ek vir my ’n grafskrif kan kies, sal dit lui: ‘Onklassifiseerbaar’.

JONATHAN JANSEN, onderwyskundige,

oor rassekategorisering in Suid-Afrika, Briewe aan my kinders, 2012


Ek was amper dood, ek was amper dood, maar ek was nie. Die flieks het dit heeltemal verkeerd, hulle probeer altyd die naderende dood wys met visuele beelde, met die visuele wêreld wat eerste padgee en die laaste om terug te keer, en wat ek beleef het, was ’n inkomende en wykende gehoor- en emo­sionele heelal, ’n klein en onsekure punt van waarneming in my kop, ’n flik­kerende fragment van ego, en ’n vaste bewuswees van sensasielose massa.

ALBIE SACHS, ANC-struggle-veteraan en regter, oor sy gewaarwording nadat die apartheidsregering hom in 1988 byna gedood het met ’n bom in Mosambiek


Krisjan, dit is raak.

KOOS DE LA REY, Boeregeneraal, aan GENL. C.F. BEYERS, kort nadat ’n opslagkoeël hom by ’n padversperring getref het, Langlaagte, 15 September 1914


Vra my vriende om vol te hou . . .

J.H. HOFMEYR, politikus,

in ’n fluisterstem aan sy broer, A.B. HOFMEYR, 3 Desember 1948


Neem uit die verlede alles wat goed en edel is,

en bou daarop die toekoms.

PAUL KRUGER, president van die Z.A.R.,

in sy laaste boodskap aan sy volk, Clarens, Switserland, 1904


. . . het zou beteken dat de onwettige drankhandel, welke tot enige grote steden nu beperkt is, over het ganse land zou verspreid raken, en in plaats van enigen daardoor rijk te maken, zouden velen ervan rijk worden.

M.T. STEYN, president van die Oranje-Vrystaat, kort voor hy ineengestort het by die Vrouemonument, Bloemfontein, 28 November 1916


Nou’s dit klaar . . . en so ook ek.

ROBERT BROOM, dokter en paleontoloog, 6 April 1951


Manto suip haar moer toe.

INGO CAPRARO, koerantredakteur, op plakkaat van Sondag, ná die dood van DR. MANTO TSHABALALA-MSIMANG, minister van gesondheid, wat ondanks ’n leweroorplanting steeds alkohol in oormaat bly gebruik het, Desember 2009


As ons staan op die einde van die lang pad langs die spoor daars net donkerte daar voor ek staan en bewe dit raak swarter en daar is net stilte wat ek hoor hou my hand styf vas langs jou sy is jy nog lief vir my? sal jy my by die hemel poorte kry?

JACK PAROW, kletsrymsanger, “Tussen stasies”


Ons staan en luister hoe die Here en die duiwel oor ons stry die hartseer is verby op die ou end is al wat ek wil hoor rol oor jou tong: jy wil by my bly Sal jy my by die Hemel poorte kry?

JACK PAROW, “Tussen stasies”


My Heer en my God, ek lê my in U genade neer. As ek sou sterf terwyl ek slaap, lê ek net in die hande van u genade. As my sondes nog nie genoeg uitgeboet is nie – of as hulle nie reeds in u genade vergeef is nie – dan is daar alleen u vergiffenis waarop ek kan vertrou. En ek vertrou daarop. Dit is my troos elke dag: dat U, my God wat die allerheiligste Geregtigheid en ook Liefde is. God is liefde. U, my God, is liefde.

N.P. VAN WYK LOUW, se laaste woorde soos hy dit

die aand voor die nag van sy dood neergeskryf het, 18 Junie 1970

Sêgoed met slaankrag

Подняться наверх