Читать книгу Sêgoed met slaankrag - George Claassen - Страница 7
Afrikaans en die Afrikaner
ОглавлениеDat de meergenoemde Inwoonders de Nederlantse spraecke wel sullen leer, is apparent.
LEENDERT JANSZEN en MATTHIJS PROOT, VOC-amptenare,
in die versoek om ’n verversingstasie aan die Kaap op te rig, 27 Junie 1649
’k ben een Afrikaander.
HENDRIK BIBAULT,
Kaapse inwoner, Stellenbosch, 1707
. . . als Hij met zijn bescherming met ons zal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven, dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elk jaar als een verjaardag en een dankdag, zoals een Sabbat in zijn eer zullen doorbrengen; en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen, dat zij met ons erin moeten delen, tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten.
GELOFTE van die Voortrekkers by Bloedrivier, 15 Desember 1838
Wij konden niet altoos lopen aan de leiband van Engeland.
J.H. (ONZE JAN) HOFMEYR, redakteur van Het Zuid-Afrikaansch Tijdschrift, vaandeldraer van Nederlands, 20 Julie 1879
. . . die meeste Afrikaanders is nes steeks perde, hulle wil mos nie glo dat ons een eie taal het nie.
DIE AFRIKAANSE PATRIOT, eerste uitgawe, 15 Januarie 1876
Is daar spotters? (Daar is seker baiang). Spot maar fluks op! Ons troos ons daarmé, julle spot uit domheid! Alle dinge word bespot. Stoom is mé gespot . . . En sou die Afrikaanse taal dan vryloop? Een Regte Afrikaander sal nie spot nie, en dis ver Regte Afrikaanders, Afrikaanders met Afrikaanse harten, wat ons skrywe, en nie ver spotters!
DIE AFRIKAANSE PATRIOT, 15 Januarie 1876
’n leder nasie het syn land:
Ons woon op Afrikaanse strand;
vir ons is daar g’n beter grond
Op al die wye wereld rond . . .
A. PANNEVIS, C.P. HOOGENHOUT, D.F. DU TOIT, S.J. DU TOIT,
leiers van die Genootskap van Regte Afrikaners
(gestig in 1875), “Die Afrikaanse volkslied”
Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.
C.P. HOOGENHOUT, onderwyser en ’n leier van die
Genootskap van Regte Afrikaners, “Vooruitgang”, oor die verengelsing
ná die Tweede Vryheidsoorlog of Anglo-Boereoorlog (1899–1902)
Ek is ’n arme Boerenôi,
By vele min geag;
Maar tog is ek van edel bloed,
En van ’n hoog geslag.
JAN LION CACHET, predikant en skrywer,
“Die Afrikaanse Taal”, Ons Klyntji, April 1896
My ou skoolmeester het altyd aan my gesê ’n mens moet met heuning vlieë vang en nie met asyn nie.
JAN LION CACHET,
na aanleiding van CECIL JOHN RHODES se steun aan die Afrikanerbond in 1886
Daar het ’n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.
TOTIUS (J.D. DU TOIT), digter, teoloog,
psalmberymer, “Vergewe en vergeet”, By die monument, 1908
Wij schikken ons en dragen ons lot maar die dag der wrake komt.
God is rechtvaardig en het oordeel der geschiedenis gewis. Het groote magtige Engeland dat door ons niets winnen kan, gunt ons het vrije zonnelicht des hemels niet.
T.F. BURGERS, president van die Zuid-Afrikaansche Republiek,
ná die anneksasie van die Z.A.R., 12 April 1877
Die Union Jack sal oor Transvaal waai solank as die son skyn, die Vaalrivier sal eers stroomop vloei voordat die Engelse die land sal prysgee.
GARNET WOLSELEY,
goewerneur van Natal en die geannekseerde Z.A.R. (Transvaal), 1870’s
Hetzij wij overwinnen, hetzij wij sterven: de Vrijheid zal in Afrika rijzen als de zon uit de morgenwolken, als de vrijheid rees in de Vereenigde Staten van Noord-Amerika. Dan zal het zijn van Zambezi tot aan Simonsbaai: Afrika voor den Afrikaner.
PAUL KRUGER, president van die Z.A.R.,
ná die Boere se oorwinning by Majuba, 16 Februarie 1881
Broeder, jy is my bondgenoot: moet nou nie die wit olifant wees om my in die Engelse kraal te lei nie.
PAUL KRUGER, aan PRES. M.T. STEYN,
kort voor die uitbreek van die Tweede Anglo-Boereoorlog, Mei 1899
Geboren onder de Engelsche vlag, wens ik niet daaronder te sterven.
PAUL KRUGER,
in sy laaste boodskap aan sy volk, Clarens, Switserland, 19 Junie 1904
Ná vyftig jaar se geveg en stryd teen die Boer, sal daar geen Boer meer in Suid-Afrika wees wat Afrikaans (the Taal),
behalwe as ’n kuriositeit, praat nie; net die groot Engelssprekende Suid-Afrikaner sal oorbly.
OLIVE SCHREINER, skrywer van The Story of an African Farm (1883)
Ons volk is geen volk van soldaten: het zijn hoofden
van gezinnen, belastingbetalers . . .
M.T. STEYN, president van die Oranje-Vrystaat (1896–1902)
Zullen wij, als verstandige mannen, dan dulden dat een ellendige vrijbuiter de gruwelike rassehaat ons in den hart jaag?
M.T. STEYN, met verwysing na die Jameson-inval van 1896 in die Z.A.R.
Kan de eene Afrikaner neutraal blijven wanneer de
andere voor Afrika sterft?
M.T. STEYN, 27 September 1899
Het Hollandsch van Holland zal nooit onze taal worden,
maar het Hollandsch van Afrika, i.e. het Afrikaansch, is en zal onze taal zijn en blijven mits zij steeds gevoedt wordt uit de bron van haar oorsprong, nl. de schoone krachtige literatuur van Holland.
M.T. STEYN, 1904
Die myne is ons volk se grootste vyand . . . Vandat hulle geopen is, het ‘Yes’ en ‘No’ in die land gekom, en vandat ‘Yes’ en ‘No’ in die land gekom het, het ons al die sonde. Duisende jong Afrikaners se lewe is vandag verrinneweer . . .
JOCHEM VAN BRUGGEN, skrywer, “Bywoners”, Op velde en rande, 1920
Die vaarlandshart en grote gees
sal, tot die end ons leier wees –
die rotsvas-staner,
die vryheidsbaner,
die Afrikaner!
JAN F.E. CELLIERS, digter, Jopie Fourie en ander nuwe gedigte, 1920
Daar trek ’n koeël, met spoed, met spoed;
hy’s nat van Afrikaner-bloed,
en smart die boodskap wat hy voer;
hy kom uit Afrikaner-roer,
hy kom uit Afrikaner-hart.
JAN F.E. CELLIERS, ibid.
Daardie mense my vriende? Hulle is nie my vriende nie! Hulle is my gereedskap en as ek met hulle klaar is, gooi ek hulle weg!
CECIL JOHN RHODES, Kaapse eerste minister (1890–1896) en mynmagnaat,
oor sy verhouding met die Kaapse Afrikaners
U spreek van geloof – wat is geloof? Here, u wil, nie my wil, geskiede! Ek vernietig my onder Gods wil!
J.H. (KOOS) DE LA REY, Boeregeneraal, tydens samesprekings tussen die twee Boererepublieke oor vrede met Brittanje, 30 Mei 1902
Hier is my burgers wat hul land en hul volk getrou gebly het tot die einde. Vandag is hulle wese en as sodanig gee ek hulle aan u oor.
J.H. (KOOS) DE LA REY, aan LORD HORATIO KITCHENER
ná afloop van die Tweede Anglo-Boereoorlog, 1 Junie 1902
Ek is geen Engelsman, en ek is geen Duitser: ek is Afrikaner.
CHRISTIAAN DE WET, Boeregeneraal en Rebellieleier
Ons staan op die punt om óf ’n groot volk te word, óf
om op te hou as ’n volk te bestaan. Laat ons dus werk terwyl
dit dag is. Laat ons ons volk opbou.
CHRISTIAAN DE WET, tydens die begrafnis van M.T. STEYN, 3 Desember 1916
Ons volk is in die wêreld voëlvry verklaar . . .
D.J. OPPERMAN, digter en dramaturg, Voëlvry, 1968
‘Ek is ’n Afrikaner!’
So staan Hollanders, Duitsers en Franse saam
met die hiergeborenes onder daardie naam.
D.J. OPPERMAN, Vergelegen, 1956
Ons sal nie halfnaatjies . . . hier word, want ons mag U wette
nie versteur; maar elkeen vermenigvuldig na sy soort en lewe langs mekaar volgens U woord.
D.J. OPPERMAN, ibid.
Hóé kon die rykes van ’n ryk ooit weet
dat ons sou veg vir ruimtes van ons land
al moes ons in die veld rysmiere eet?
D.J. OPPERMAN, Joernaal van Jorik, 1949
God het mos in die storm
ons volk se leiers tussen klip en blits
met baarde, Bybel en sambok gevorm . . .
D.J. OPPERMAN, ibid.
. . . ons is geen volk
maar ’n mislukte spul opstandelinge!
D.J. OPPERMAN, ibid.
Mens sê nie te veel nie as jy beweer dat die helfte van die slegte gevoel tussen Afrikaners en Engelse in Suid-Afrika veroorsaak is deur die onoordeelkundige en dikwels onregverdige inmenging van Engeland.
J.B.M. HERTZOG,
Boeregeneraal en Suid-Afrikaanse eerste minister, De Wildt, 7 Desember 1912
Die enigste Afrikaner met wie die Engelssprekende kan saamwerk,
is dié een wat oogluikend en dikvellig al sy regte prysgee om Engelse ‘oorgevoeligheid’ nie te kwes nie.
J.B.M. HERTZOG, Bloemfontein, 4 Desember 1906
Als Afrikaanders moeten we in de eerste plaats door Afrikaanders geregeerd worden, en als dit rassenhaat is, ben ik bereid om naar enig gedeelte van Zuid-Afrika te gaan teneinde die leer te verkondigen.
J.B.M. HERTZOG, Stellenbosch, 11 April 1911
Nou moet ek sterwe, omdat ek getrou gebly het aan die dinge waaronder ek gebore is en waarvoor ek altyd geveg het. Aan my word geen genade betoon nie, hoewel ek toevalligerwyse die seun was wat onder die wit vlag uitgegaan het om die oorgawe van dr. Jameson te aanvaar, en nou is hy sir Starr Jameson, terwyl ek doodgeskiet moet word
JOPIE FOURIE, Boerevegter en latere rebel voor sy teregstelling in 1914
Die boompie wat vandag geplant en met my bloed benat word,
sal groei en groot word, en heerlike vrugte vir ons volk dra.
JOPIE FOURIE, voor sy teregstelling in 1914
Die plek is geruïneer. Ek het vandag gehoor dat Afrikaans in
die hoofstraat gepraat word . . . in die openbaar!
F. HORACE ROSE, redakteur van The Natal Witness, Pietermaritzburg, 1926
Jingo-Afrikaners – mense so laag gevalle dat jy lus het om jou mond uit te spoel as jy hulle name noem. Ons het al baie slegter mense in ons tyd gesien, maar nog nooit iets lager of gemener dan die Engels-gesinde Afrikaner wat sy moeder-taal – die taal door sy vaders gesproke – verag.
EUGÈNE N. MARAIS, digter, skrywer, joernalis en wetenskaplike,
in ’n hoofartikel in Land en Volk, 1891
Nederlands behoort net gebruik te word om Engels te onderrig,
en Engels om die res te onderrig.
ALFRED MILNER, goewerneur van die Kaapkolonie (1879–1899) en
Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika
Die slagveld is verskuiwe. U Bloedrivier lê in die stad . . . Die Afrikanerdom (is) weer op trek, op sy nuwe Groot Trek . . . sy nuwe Groter Trek. Dis nie soos ’n honderd jaar gelede ’n trek weg van die middelpunte van die beskawing af nie, maar ’n trek terug – terug van die platteland na die stad.
D.F. MALAN, predikant, koerantredakteur en Suid-Afrikaanse eerste minister, Bloedrivier, 16 Desember 1938
Afrikaner, Quo Vadis?
D.F. MALAN, tydens openingstoespraak
by die Voortrekkermonument, 16 Desember 1949
Glo in jou God! Glo in jou volk! Glo in jouself!
D.F. MALAN, Afrikaner-volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen, 1959
Ons is wel Boeremense, maar ons is nie blerrie bobbejane nie!
MARIUS JOOSTE, Afrikaanse persmagnaat, aan GERT BEETGE, ultraregse vakbondleier,
nadat dié gekla het dat onnodig formele drag voorgeskryf is vir ’n dinee van Hoofstadpers Bpk., aangehaal deur DIRK RICHARD, Moedswillig die uwe, 1985
Afrikaans was nog altyd te veel van ’n witmanstaal. Ons het dit nog nooit gesien as ’n taal van Afrika nie.
JAN RABIE, skrywer, Afrikaanse Skrywersgildeberaad, Broederstroom, 1975
Afrikaans is een van Suid-Afrika se trotsste veelrassige prestasies.
JAN RABIE, Broederstroom, 1975
Afrikaans word aangekla as vasgekeerde boelietaal;
laat ons nou skryf om Afrikaans alles te laat uitsê, oopsing,
volledig van terroris tot vryheidsvegter.
JAN RABIE, Broederstroom, 1975
Afrikaners, bruines of wittes, het geen styl, geen vorm nie, pas so gou aan, krimp so maklik in, eet Amerikaanse steaks of Snoek à la Orly by ’n Franse lughawe sonder om op eie kosse te roem, speel gholf om by gegoede immigrante in tel te wees, aap alles van oorsee na – modes, liedjies – versmaai selfs maklik hul eie taal. Ons het min styl.
JAN RABIE, Broederstroom, 1975
Afrikaans het die definiërende eienskap geword vir ’n nasionalisme wat die grootste gedeelte van die bevolking ken veral weens sy arrogansie en wreedheid.
JAKES GERWEL, akademikus en sakeman, Broederstroom, 1975
. . . in hierdie afrekening van Afrika en Afrikaner met mekaar, wat gaan van Afrikaans word? Sal Afrikaans die Afrikanerryk oorleef?
JAKES GERWEL, Broederstroom, 1975
’n Taal wat nie ’n kommersiële waarde het nie, sterf.
WILLIE HOFMEYR, stigter en eerste voorsitter (1915–1953) van Nasionale Pers Bpk.
Die Afrikaners moes apartheid probeer om uit te vind
dat dit nie werk nie.
PIET CILLIÉ, koerantredakteur (1954–1977) en
professor in joernalistiek (1978–1983), Stellenbosch, 1982
Afrikaners was nog altyd geneig om iets irrelevants te doen.
KEN OWEN, koerantredakteur, kort voor die verkennende gesprek
oor ’n saambindende Afrikaanse organisasie, Stellenbosch, 30 November 1996
As ek my Afrikanerskap vandag kon opsê, sou ek dit doen.
Ek skaam my vir my mense.
BREYTEN BREYTENBACH, digter en skilder, in ’n brief aan Die Burger, 2 Junie 1965,
nadat sy Viëtnamese vrou, YOLANDE, se aansoek om ’n visum afgekeur is
Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap.
Dis goed en mooi so.
BREYTEN BREYTENBACH by die Sestiger-Somerskool aan die
Universiteit van Kaapstad, Februarie 1973
Ons taal is ’n grys reserwis van meer dan honderd jaar
met die vingers styf om die snellers –
BREYTEN BREYTENBACH, “(taalstryd)”, Lewendood, 1985
Julle sal leer om gehoorsaam te wees,
gehoorsaam en onderdanig.
En julle sal die Taal leer gebruik,
onderdanig sal julle dit gebruik
want in óns lê die monde
met die gif in die klop en die spoel van die hart
BREYTEN BREYTENBACH, ibid.
Ons bring vir julle die grammatika van geweld
en die sinsbou van verwoesting –
uit die tradisie van ons vuurwapens
sal julle die werkwoorde van vergelding hoor
stotter.
BREYTEN BREYTENBACH, ibid.
En julle sal die Taal asseblief leer gebruik,
gehoorsaam sal julle dit gebruik, breek . . .
BREYTEN BREYTENBACH, ibid.
die arme Afkaners
hulle wat die lug gekneus het
en plastiek in die môre geplant het
hulle wat in skroomlikheid kinders maak
en kordaat soos lafaards
in ’n geluidlose gekerm om liefde
met harde knuppels en sagte piele
met slakkerige tongvleis en klipperige skaamlippe
in die donker na wat donker is soek
in lok-asies agter bossies
BREYTEN BREYTENBACH, “16 Maart 1974”, Soos die so, 1990
Ons is waarskynlik soos ’n klomp bekeerde alkoholiste. Ons drink nie meer nie, maar elke slag as jy by daardie kroeg verbygaan, dan ruk daardie elmboog nog so. Ek bedoel dat as ons ’n klomp mense soos hierdie bymekaarmaak, dan dink mense onmiddellik in terme waarskynlik van ’n stryddag en van ’n gekonkel en ’n gekoukus en so aan. Maar ons gaan probeer om soos ordentlike bekeerde alkoholiste heeltemal oop kaarte te speel, van voor tot agter, en om so onafrikaans soos moontlik te werk te gaan.
BREYTEN BREYTENBACH, tydens die verkennende gesprek oor ’n saambindende Afrikaanse organisasie, Stellenbosch, 30 November 1996
Alle praat in hierdie treurige, bitter, bont, begrafnisland is politiek – of dit nou fluisterpraat, kakpraat, wind- of spoeg- of sáámpraat is.
BREYTEN BREYTENBACH
nou betoog ’n geleerde elle en lelle geleerdheid
oor die selfbestemmingsreg van ’n volk
en ons wat nooit ’n volk was nie
maar slegs volk
sjebienfilosowe, bergkaffers, wolkdeskundiges,
motorkarsangers, opregte oneerlike aanjaers
BREYTEN BREYTENBACH (onder Jan Blom), “die lydingsberig”, Oorblyfsels: ’n roudig, 1997
Enige aantasting of belemmering van die volle gebruik van jou moedertaal is ’n skending van daardie mensereg wat verseker dat jy ’n volwaardige en nuttige burger mag wees, selfs en veral in ’n meertalige gemeenskap.
BREYTEN BREYTENBACH by die ATKV se herfsskryfskool te Potchefstroom, 1999
Daar is vier groeperinge in Suid-Afrika wat Afrikaans doodwurg. Die wit opportuniste – die Skelm-bosse slimgat-, gatkruipende spesie; sommige bruin intellektuele, vir wie enige moedertaal maar net ’n eendagsvliegie is; onse Stalinistiese heersende party wat mentally colonised is en kultureel so inheems is soos ’n Malema; en al die ‘laat-Gods-water-oor-Gods-akker-loop’-sjaam-lopers, sjeim, want solank die taal in die kroeg en om die braaivuur gepraat word, is sy mos nie dood nie.
Dis veral die gekoloniseerde wit Afrikaners wat hulle neuse gedienstig draai na die agterstewe van mag. Die ape met die goue ringe. Dit is so dat die taal amptelik beveg word deur stommerike wat in ’n totale geestelike en politieke verwarring leef, ahistories dink, en skynbaar glo jy het iewers gekom as jy op die maan in die water kan loop met Engelse sokkies gemaak in China. Maar eintlik gaan dit dood aan onverskilligheid en verwaarlosing en minagting.
BREYTEN BREYTENBACH, in ’n onderhoud met MARLENE MALAN in Rapport,
met verwysing na die Universiteit Stellenbosch se besluit om ’n taalbeleid van parallelle onderrig in Afrikaans en Engels te volg, 28 Maart 2010
As die Kubane ’n heersende invloed kon hê op die bevryding van Suid-Afrika, sou die meeste van Skellumbos se slim akademici vandag hoog en laag in Spaans gekweel het. Die ‘motiewe’ vir die gebukkend staan met ’n lang tong is ’n minderwaardigheidskompleks, ’n gebrek aan integriteit en historiese begrip, dom-onnoselheid, opportunisme en politieke gedienstigheid, wit arrogansie, ’n brandende behoefte to keep up with the Joneses, ’n ewe sterk behoefte om oor te loop na wie ook al die kitaar slaan, geestelike kolonisering. Ook gjelt.
BREYTEN BREYTENBACH, Rapport, 28 Maart 2010
Die Britte, Amerikaners, Nigeriërs en Indiërs behoort ’n internasionale verbod te plaas op die opgemixte en cliché-besoedelde Engels wat te lande gepleeg word. Daar het ons pragmatiste dit nou: ’n Bevolking en veral ’n politieke establishment vir wie Engels ’n tweede of derde of vierde taal is, en almal dink nou hulle kan sing soos Maria Callas.
BREYTEN BREYTENBACH, Rapport, 28 Maart 2010
Afrikaners is hier nie weg te wens nie, en hoe meer daar taalmatig oor hulle gerol word, hoe stywer gaan hul rug word. Die korrekte benadering is tog sekerlik dat hulle ingenooi word om hul kundigheid tot die beskikking te stel van ons demokrasie, ook ter wille van die land se kommersiële ophou.
TON VOSLOO, koerantredakteur en mediahoof, tydens die verkennende gesprek oor ’n saambindende Afrikaanse organisasie, Stellenbosch, 30 November 1996
Ons wil ook as minderheidsgroep, wat opnuut die les van nederigheid moet leer, sê dat ons Afrikaanse saak ook die saak is van ander minderhede.
TON VOSLOO, Stellenbosch, 30 November 1996
Dit is verskriklik belangrik dat ons altyd daardie reg voorbehou dat ons van mekaar moet, mag en kan verskil. Ons is nie hier om eensgesind te wees nie. Dit is stimulerend en dit is die dinge wat Afrikaans sal laat oorleef, as ons kan leer om te ontleer die ou kodes dat jy nie eintlik jou mond of jou bek te veel mag oopmaak nie.
TON VOSLOO, Stellenbosch, 30 November 1996
Wat ons, die Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, nou ervaar, is ’n vorm van borrelsiekte. As jy skielik van onder af, waar jy lekker vasgesit het in die stelsel, uittop bokant die water, dan begin jou bloed borrel. Ons het nou borrelsiekte in daardie sin, en ons wonder wat gaan met ons aan.
JANNIE GAGIANO, politieke wetenskaplike, Stellenbosch, 30 November 1996
Ons moet ’n beleid volg en ’n praktyk uitwerk wat die gemeenskaplike in ons samelewing bevorder en beskerm, en terselfdertyd dit wat waardevol is in ons diversiteit eerbiedig . . . ’n ‘Gariep’-nasie dus, waar die systrome in die hoofstroom saamvloei sonder dat dit ooit deur ’n kommunistiese oorstroming van een of ander stroom oorspoel en uitgewis word . . . As ons nie in Suid-Afrika ’n kultuur sonder grense kan bevorder nie, dan gaan ons eenvoudig die loopgrawe van toekomstige etniese oorloë verdiep.
NEVILLE ALEXANDER, linguïs en onderwyskundige, Stellenbosch, 30 November 1996
Mense glo daar’s ’n hemel omdat dit vir hulle sleg is op Aarde. Dit is waarskynlik die harde, onsekere pionierslewe van Afrikaners wat gemaak het dat hulle so heftig godsdienstig was. Toe hulle eindelik aan bewind kom, was dit hul vrees vir die meerderheid wat gemaak het dat hulle juis ’n intoleransie uit die Bybel en óók uit die wetenskap moes formuleer. Vandag het Afrikaners gevlug na die Engelse charismatiese kerke en my vermoede is dat dit gedeeltelik pogings is om weg te kom van die swaar verantwoordelikhede en apartheidskuld wat met die drie gereformeerde Afrikaanse kerke geassosieer word.
ANTJIE KROG, digter en skrywer, God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles, George Claassen en Frits Gaum (reds.), oor mense se geloof in ’n skepper-god, 2012
Hy wil baas wees op sy eie plaas. Hy wil regeer, al moet dit dan in ’n volkstaat wees. En hy soek, al is dit ’n sambreel of ’n speldekop, maar êrens gaan hy ’n baas wees. Sy taal wou hy nie deel met bruin nie; sy huis en toilet wou hy nie deel met swart nie.
ANTJIE KROG, Stellenbosch, 30 November 1996
Afrikaners het ’n spesifieke kultuur, een waarvan die essensie vir dekades en langer een van onverdraagsaamheid was, en hoofsaaklik nog steeds is. Of ’n Afrikaner in die pac of in die awb is, hy is basies onverdraagsaam. Die onverdraagsaamheid dra verskeie klede. Dit word veral toegedek met eufemismes soos ‘vryheidsdrang’, ‘liefde vir grond’, ‘selfregering’, en, sedert die nuwe bedeling, ‘’n verset teen Kommunisme’. Wat dit in werklikheid is, is dat die Afrikaner nie iets met iemand wil deel nie.
ANTJIE KROG, Stellenbosch, 30 November 1996
Maar staan ek nou meteens nie ook kniediep in die soort onverdraagsaamheid waarteen ek dit het nie? Is om te sê ek wil nie staan onder ’n sambreel waarvan die kleure sê anti-regering, anti-ANC, anti-SAUK, anti-Waarheidskommissie, anti-Engels, anti-nasiebou nie, is dit ook onverdraagsaamheid? Of is dit eintlik dat talle Afrikaanssprekendes hulle al lank reeds ontuis en vreemd voel in die Afrikaanse dampkring soos hy gestalte gekry het en nog steeds kry?
ANTJIE KROG, Stellenbosch, 30 November 1996
Afrikaans het homself nog altyd buite die werklike debat
in Suid-Afrika gehou.
ANTJIE KROG, Stellenbosch, 30 November 1996
As digter skryf ek ’n taal wat, gesien in die lig van wat alles aangespreek moet word, nie meer saak maak nie, binne ’n letterkunde waarvan die dak afgewaai het. Dit pla nie . . . Die wind is baie beter as die verstikkende noutes van die literêre politiek se gange. As joernalis kon ek uiteindelik net ’n oor vind in Engels, en die Afrikaanse deel van die nuwe, verfoeide sauk. Buite dié ghetto wat Afrikaans vir baie is, het jy met blydskap gespreksgenote gekry waarvan baie Afrikaans praat, waar ander weer ’n ma of ’n Afrikaanse oupa het. As Suid-Afrikaner het ek vir die eerste keer vry gevoel om nou ’n eerbare bedeling vir myself en my gesin te beding.
ANTJIE KROG, Stellenbosch, 30 November 1996
Daardie Afrikaanse ghetto, die plek waarvan jy sê die dak afgewaai het, het darem so ’n paar kamers gehad waar die dak ‘intact’ gebly het . . . Daar is ’n paar skeure in, maar . . . die affêre staan darem nog. Wanneer jy rondgegaan het in die huis het jy darem so ’n paar dinge wat waardevol is, opgetel, selfs in daardie dele waarvan die blêddie dak afgewaai het.
ADAM SMALL, digter en dramaturg, in antwoord op ANTJIE KROG, Stellenbosch,
30 November 1996
Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra; ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal. Kaaps is nie ’n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ’n taal.
ADAM SMALL, in sy voorwoord tot die tweede uitgawe van Kitaar my Kruis, 1978
Ek sê ek praat met djou in Kaaps
Here some van my critics
het nog never in allie djare
my taal hierso geperform nie
ek sê ma net weer net soes lank gelede
die’s g’n Gamat-taal nie.
’n straight en diep taal vannie mense
waar hulle in gebore word en eerste kwyl
en dan allie transactions van hulle lewe in beklink
hulle bietjie maybe baie liefde soek, en haat
en dan, daa’ byrie final beacon vannie dood,
in sterwe
en, dja of course djy moet dit sing
ADAM SMALL, in antwoord op sy kritici oor die gebruik van “Kaapse” Afrikaans in sy gedigte in die eerste uitgawe van Kitaar my kruis (1961), 2013
Hulle het gedink dis ’n taal waarin jy sing en dans, ’n fokken coon-taal. Hulle het Kaaps ’n joke-taal gemaak.
NATHAN TRANTRAAL, digter, in kritiek op ADAM SMALL en PETER SNYDERS,
in gesprek met DANIE MARAIS in By, 3 Augustus 2013
Kind, as djy wil regte Afrikaans praat, doenit!
Dis waarom mamma jou lat opleerit;
kritisaais skrywers wat skryf soes mamma praat,
maa moenie ve’wag
mamma moet nou change nie.
PETER SNYDERS, digter, “Moedertaal”, Versagtende omstandighede, 1995
As dit elders in die land aanvaarbaar is as leerders ‘pô’ en ‘mô’ gebruik in ’n mondelinge toets, waarom nie dieselfde ruimte vir sprekers van Kaaps gun nie?
MICHAEL LE CORDEUR, akademikus en voorsitter van die
Afrikaanse Taalraad, Beeld, 9 Augustus 2013
Jy weet die Afrikaner het gely. Maar dieselfde Afrikaner wat gely het, het oorgeneem en het vergeet hy het gely. Hy het net homself gesien.
OLGA SEMA, onderwyskundige, tydens die verkennende gesprek oor ’n saambindende Afrikaanse organisasie, Stellenbosch, 30 November 1996
Die Afrikaner het hierdie taal, Afrikaans, verkeerd gebruik in die verlede, want die Afrikaner het Afrikaans ’n vloektaal gemaak . . . Die Afrikaner het Afrikaans verkeerd gebruik as ’n regerende party om mense te onderdruk.
OLGA SEMA, Stellenbosch, 30 November 1996
Dit is opvallend dat heelwat van die pogings tot die herinstelling van Afrikaner-nasionalistiese aspekte oor spesifiek gender gaan. Intrinsiek aan Afrikaner-nasionalisme was ’n uiters ongelyke geslagshiërargie met Afrikanermans aan die steil bopunt. Dis ’n ver ent om te val, wat al die pogings om Afrikaner-manlikheid tot sy voormalige glorie te rehabiliteer, verstaanbaar maak. Met staatsgesanksioneerde Afrikaner-nasionalisme aan skerwe, blyk dit Afrikaners gryp na die volgende nuttige ideologie, naamlik godsdiens, om daardie ou bekendhede weer in plek te stel.
CHRISTI VAN DER WESTHUIZEN, politieke analis, God?, Claassen en Gaum, 2012
Ek het vergeet – nie geweet? – in die dae toe ons jonk was:
Afrikanerskap is nie heilig. Ons wóú dit heilig hê;
ons wou die volte van menslikheid daaraan gee.
N.P. VAN WYK LOUW, digter,
dramaturg en prosaïs, “Nuusberigte: 1956”, Tristia, 1962
Teelbere en -sôe (gedek en ongedek)
het elkeen ook ’n taak – nes Afrikaners.
N.P. VAN WYK LOUW, “Voorlopige dood van die jambiese vyfvoeter”, ibid.
Afrikaans kan vitaal bly alleen solank hy die draer van ons volle noodlot, van ons wete-na-albei-kante-toe bly; solank hy konkreet en abstrak bly dink; solank as Europa en Afrika in hom lewe; Afrika wél, maar tog ook altyd Europa.
N.P. VAN WYK LOUW, Vernuwing in die prosa, 1961
hy’t nog nie ons volk vertrou, net soos dit is, nie:
swak, met sterkte daardeur gevleg,
onwys, met wysheid net hier en daar soos goudstof in die slik:
’n gewone volk op onmerkwaardige aarde.
N.P. VAN WYK LOUW, Die pluimsaad waai ver, 1972 (geskryf 1964)
Die wêreldgewete is ’n hoer. Dit kan gekoop word.
N.P. VAN WYK LOUW, ibid.
die vrouens moet die tafels dek vir môre vroeg;
die mans gaan slaap, vermoeid van al die rus.
INA ROUSSEAU, digter, “Sondag op Stellenbosch”, Die verlate tuin, 1954
My volk het hom
verbeel en – toe die skrif gesien.
SHEILA CUSSONS, digter, “Afrikaner”, Die somerjood, 1980
Afrikaners . . . ordentlike mense wat mislei is deur hul leiers.
NELSON MANDELA,
eerste president van ’n demokratiese Suid-Afrika (1994–1999) en Nobelpryswenner
Die uitdaging van die Nuwe Patriotisme is nie een van ’n keuse tussen Afrikanerdom en Suid-Afrikanerskap nie. Inteendeel, dit is juis oor die genesende versoening van Afrikaners met volle Suid-Afrikanerskap.
NELSON MANDELA
Maar net so seker as wat die Afrikanervolk ’n volk van bevryding is, so seker is hy ook ’n volk van onderdrukking.
JOHAN DEGENAAR, filosoof en akademikus,Voortbestaan in geregtigheid, 1980
Dis eienaardig . . . Ek kry nooit die geleentheid om Afrikaans te praat nie omdat die Boere na Engels oorskakel vinniger as wat jy Freek Robinson kan sê. Hulle het ’n spesiale infrarooi verklikker wat aan hul breinkabels gekoppel is en wat Engelssprekendes uitsnuffel.
DENIS BECKETT, joernalis en redakteur van Frontline, The Star, 20 Januarie 1994
Die Afrikaner as politieke begrip is ’n teoretiese uitvinding, ’n mite wat oor dekades heen opgebou is. En die Alternatiewe Afrikaner is ’n wilde groeisel aan dieselfde loot . . . As ’n mens die Afrikaanse volkskenners vandag lees, kom jy gou agter wat die woord ‘Afrikaner’ onder andere is: ’n groot ideologiese konstruksie wat as regverdiging gedien het vir onderdrukking en uitbuiting.
GERRIT OLIVIER, akademikus en literêre kritikus, Vrye Weekblad, 3 Februarie 1989
Daar is waarskynlik geen ander openbare saak in die lewe van Suid-Afrika wat soveel kaf, leuens, pretensie en vermorste emosie gaande maak as die toekoms van Afrikaans nie.
MAX DU PREEZ, koerantredakteur, skrywer en politieke ontleder
Afrikaans-wees is meer as kerkbasaars, geloftedagvieringe, sustersverenigings, Broederbond en Rapportryers, Bles Bridges, die dominee en die skoolhoof. Jy kan Boheems in Afrikaans wees, jy kan ’n punk of ’n hippie of ’n anargis of ’n vryheidsvegter wees, jy kan ’n wêreldburger of ’n kommunis of ’n sosialis of ’n Katoliek of ’n Hare Krishna wees – jy kan wees net wat jy wil en nog Afrikaans wees. En jy kan baie beslis ’n demokraat en Afrikaans wees.
MAX DU PREEZ, oor Vrye Weekblad se boodskap aan Afrikaanssprekendes tydens die laaste jare van apartheid, Oranje Blanje Blues – ’n nostalgiese trip, 2005
Die meeste van my intelligente lewe was ek bewus van my stereotipering as ’n Afrikaner. Daar is nie veel wat ek daaraan kon, of kan, doen nie. Soos Jean-Paul Sartre eens gesê het, ‘Jy is ’n Jood omdat ek na jou kyk.’ Selfs al het ek al die stereotipes van wat ’n Afrikaner is, beledig, bly ek ’n ‘afgedwaalde, rebel, a-tipiese Afrikaner’. Dan moet dit maar so wees. Ander moet met my vrede maak. Ek het vrede. Terselfdertyd voel ek baie sterk oor die handhawing en bevordering van Afrikaans as spreektaal.
FREDERIK VAN ZYL SLABBERT, akademikus en politikus (1974–1986)
Ons Christelike aggressie is te dikwels opvallende moralisme wat met reëls en regulasies die sedelikheid wil red.
WILLEM DE KLERK, teoloog, koerantredakteur en akademikus, Maselspoort, 1978
Die Afrikaner het ’n neiging om simboolblind te wees.
En ’n voorliefde om die verlede voort te sit.
WILLEM DE KLERK, Maselspoort, 1978
Afrikaners (is) vandag kroes, kras en kordaat . . . Afrikanerwees is die laaste paar jaar kroes. Letterlik inmekaargekrul, siek, olik. Afrikaners is aan die rondmaal soos ’n klomp vasgekeerde skape . . . Dan is daar die hink-en-pink Afrikaners wat etikette om hulself hang: die ontnugterdes; die rigtingloses; die sinici; die magteloses; die bedruktes; die beswaardes; die afwagtendes wat wag op ’n kaptein wat weer hekke sal oopmaak . . . Afrikaners het kroes geword. Ander klein volkies is in hulle kroesheid uiteindelik uitgewis.
WILLEM DE KLERK, Afrikaners: kroes, kras, kordaat, 2000
Die formule vir die Afrikaanse gemeenskap is saam te vat in drie begrippe: eiebestaan, naasbestaan en saambestaan.
WILLEM DE KLERK, ibid.
Ons het ’n afstootlike eksklusiwiteit vertroetel wat in apartheid sy hoogtepunt bereik het. Hoewel daar ‘versagtende omstandighede’ was, het dié eksklusiwiteit ontaard in ’n gees van toe-eiening waaraan ons godsdienstige sanksie gegee het. Ons het ‘heilige name’ aan dié eksklusiwiteit gegee en die ergste is dat ons dit geglo het. In plaas van onsself te bemagtig, het dié eksklusiwiteit ons stap vir stap ontmagtig.
WILLEM DE KLERK, ibid.
My geslag is mos grootgemaak om ons emosies te beteuel, om ons nie oor te gee aan enige werklike vorm van koestering nie – nie liefde nie, en ook nie haat nie. Ons is geleer om gesien en nie gehoor te word nie, om opdragte uit te voer sonder teëspraak, om respek vir die oueres te toon. Om, op die keper, bereid te wees om ons lewe op te offer vir ons land en vir die Groter Saak. Ek praat nou van wit Afrikanermans van so tussen dertig en vyftig – dié ouens wat met verpligte diensplig gebrandmerk is . . . Ek onthou u van die dae toe u nog redakteur van Die Transvaler was. U sal my waarskynlik nie onthou nie. Ek was die outjie vir wie u in die gang gegroet het met: ‘Dag, Boetman.’ Tóé was ek ‘Boetman’; twintig jaar later is ek ’n middeljarige blanke Afrikanerman. My geslag is in die wieg gelê om te speel met woorde; woorde het selde die betekenis gedra waarmee hulle deur verklarende woordeboeke belas was. Dink maar aan begrippe soos ‘demokrasie’, ’nasionalisme’, ‘selfregering’, ‘onafhanklike state’, selfs die eienaam waarvoor van my vriende grens toe gestuur is en sommige selfs witbene gemaak het: ‘Suid-Afrika’. Die ‘Suid-Afrika’ van u geskrifte, die ‘Suid-Afrika’ waaraan u lojaliteit bely het, was tog iets heel anders, iets veel blankers, as die Suid-Afrika wat ons – dis nou wit en swart – vandag saam in ons pynlike nuwe volkslied besing . . . Boetman is die bliksem in . . . Ek is die bliksem in, die bliksem in vir die arrogansie, die selfregverdiging, die rasionalisasie, die ontkennings, en vir die leuens. As ons al jou raad volg, kan ons oorleef, ja. Maar as ons jou raad nou volg, staan ons presies waar ons sou gewees het as jou geslag ons nie met apartheid bedrieg het nie; en dan was ons boonop sonder die skuldlas. Soos altyd, sit ons weer aan die voete van die wysgere. Maar ons word teen die ore geklap. Want die nuwe geslag alwetendes is ’n geslag wat ons verwerp het, saam met die patriargie wat ons vir hulle versinnebeeld. In ’n enkele leeftyd is ons getransformeer van ‘bly stil, staan op aandag, doen wat die oom vir jou sê’ tot ‘middeljarige wit Afrikanermans wat ly aan ’n magsverliessindroom’. Die gevolg is een en dieselfde: hou jou bek, jy’t niks te sê nie.
CHRIS LOUW, joernalis, in ’n ope brief aan en repliek op WILLEM DE KLERK se boek Afrikaners: kroes, kras, kordaat, Beeld, 5 Mei 2000
Dit het ons natuurlik van u geslag geleer, dié slag met woorde. U geslag het die begrippe uitgedink; ons, my geslag, het dit uitgeleef. Want ons is afgerig om nie openlik in opstand te kom nie: ‘Ja, Pa, nee, Pa, reg, Pa, goed so, Pa.’ U geslag was die eerste, en moontlik die laaste, in die Afrikanergeskiedenis wat nooit self ’n oorlog gevoer het nie: te laat gebore vir die Tweede Vryheidstryd; te jonk vir die Eerste Wêreldoorlog; te Duits-neutraal vir die Tweede Wêreldoorlog; te hard aan die dink en wonder en staatsbestelle en ander konstellasies beplan en regverdiging soek vir die Grensoorlog. Julle was die eerste geslag Afrikaners wat jul kinders afgevaardig het om vir julle te gaan sterf. Dié wat nie jul gek drome wou verdedig met die wapens wat julle aan ons uitgereik het nie, is tronkstraf opgelê; of, erger: mal verklaar. Tóé het hulle al gesê die stelsel is te gek vir woorde – dié wat destyds al begryp het, is ‘skisofrenies en ongeskik vir militêre diens’ verklaar.
CHRIS LOUW, Beeld, 5 Mei 2000
Twee jaar gelede was Boetman die bliksem in. Met sy ope brief van emosionele ontlading teen die vorige generasie Afrikaner-leiers het hy die snare geroer. Die reaksie was onverwags, en in sommige gevalle selfs skouspelagtig. Boeke het uit die daaropvolgende openbare debat voortgespruit en ’n verhoogstuk is gebore. Daardie debat het intussen bedaar en almal voel sommer beter – terapie vir die siel. Nou is dit Kerkman en Kerkvrou wat in beroering is. Sommige is selfs die bliksem in, maar binne kerkverband sou dit onvanpas wees om sulke sterk taal te gebruik. Sê maar liewer hulle is ontstig. Onseker, sou in die meeste gevalle ’n beter beskrywing wees. Maar daar is ook ernstige gevalle van verwardheid. En hierdie keer raak dit die diepste wese van die Afrikaner se lewensbeskouing. Dit krap aan sy/haar godsdienstige oortuigings, geloof, kerk en opvoeding. In baie gevalle kalwe dit weg aan die laaste anker van vastigheid. Ná die traumatiese prysgawe van sy politieke magsbasis, werksekerheid, eie skole en sy taal (se voorkeurstatus) lê die Afrikaner nou in die laaste loopgraaf – godsdiens.
ARRIE ROSSOUW, koerantredakteur, rubriek in Die Burger oor die godsdiens-evolusiedebat in die koerant se briewekolomme, 18 Mei 2002
En waar was die Angel-Saksers? Ek het altyd gedink dit was ’n baie treffende faktor in ons geskiedenis.
NADINE GORDIMER, skrywer en Nobelpryswenner, in kommentaar op die feit dat van die twee wit mense wat lewenslange vonnisse ontvang het omdat hulle teen apartheid opgestaan het, een Afrikaans was (BRAM FISCHER) en een Joods (DENIS GOLDBERG), Cutting through the mountain: Interviews with South African Jewish Activists, Immanuel Suttner, 1997
Plant vir my ’n Namibsroos
Verafgeleë Welwitschia
Hervestig hom in Hillbrow
En doop hom Khayelitsha . . .
KOOS KOMBUIS (ANDRÉ LETOIT), skrywer, digter en sanger-komponis,
“Swart September”, 1980’s
En is jy wit
Of swart
Kak almal in die symste taal
KOOS KOMBUIS, ibid.
Afrikaans is ’n kanker wat vernietig moet word.
MALEGAPURU MAKGOBA, rektor van die Universiteit van KwaZulu-Natal, na aanleiding van voorstelle dat Afrikaans aan die UKZN geskrap word as vak, Beeld, 24 Oktober 2013
Dit is ’n besonder kortsigtige manier van kyk na die saak. Dit is soos om Duits, die taal van Goethe en Schiller, nek om te draai net omdat daar ook ’n Adolf Hitler was wat dit gebruik het.
DIONÉ PRINSLOO, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, in reaksie op UKZN se voorneme, Beeld, 24 Oktober 2013
. . . ongelukkig het Afrikaans sekere historiese konnotasies gekry wat gelei het tot ’n verwerping deur die swart man, en dié is politieke konnotasies.
STEVE BIKO, Swart Bewussynsleier en anti-apartheidsaktivis
Dis waarom eksklusief Afrikaanse of selfs Afrikaans dominante wit skole en universiteite ’n ernstige bedreiging vir rasseverhoudings in Suid-Afrika inhou. Jy kan eenvoudig nie jong mense voorberei om die littekens van ons gewelddadige verlede te hanteer sonder om in die opvoedkundige omgewing optimale geleenthede van gesamentlike leef en leer te skep nie . . . Wat beteken dit vir Engels? Doodeenvoudig is dit Engels en nie Afrikaans nie wat die taal van versoening kan wees, omdat dit die fondament vir ’n gemeenskaplike taal lê wat dan kan lei tot ontmoetings in Afrikaans en ons ander inheemse tale.
JONATHAN JANSEN, akademikus en rubriekskrywer, tydens die PERCY BANESHIK-gedenklesing, Bloemfontein, 18 September 2013
Ek het met twee erfenisse grootgeword. Aan die een kant die vermoë om in die Engelse taal te skryf en te veg, en ’n diepe agterdog teenoor die Engelse as rassehuigelaars wie se liberale pretensies hulle gehelp het om te ontsnap aan die skerper kritiek teen apartheid wat vir wit Afrikaanssprekendes gereserveer is.
JONATHAN JANSEN, 18 September 2013
Die jeugkultuur gryp die jong taal aan sy voorhuid en gee dit
sy eerste demokratiese klimaks!
PIETER-DIRK UYS, dramaturg en satiriese komediant
Wat my mede-Afrikaner nie begryp nie, omdat hy homself afgesny het van alle kontakte met nie-wittes, is dat die uiterste intensifisering van daardie beleid [apartheid] die afgelope vyftien jaar volledig voor sy deur gelê word. Hy word nou as Afrikaner geblameer vir al die booshede en die vernedering van apartheid . . . Om hierdie skeidsmuur te verwyder . . . vereis ook dat Afrikaners self openlik en duidelik teen diskriminasie behoort te protesteer. Sekerlik, onder sulke omstandighede, is daar ’n bykomende plig op my gelê dat ten minste een Afrikaner sy protes aktief en openlik sou aanteken . . .
BRAM FISCHER, advokaat, tydens sy verdediging toe hy aangekla is
dat hy kommunisme bevorder, 28 Maart 1966
Wel, ek dink dat dit [tweeledige lojaliteit en om eerste lojaal te wees teenoor hulle land van herkoms] van toepassing is op elke etniese groep in Suid-Afrika behalwe die Afrikaners, wat duidelik nie affiniteit teenoor Nederland het nie, en die swartes. Maar Engelssprekende Suid-Afrikaners het altyd van ‘home’ gepraat wanneer hulle op vakansie na Engeland gegaan het – selfs al is hulle hier gebore en was hulle reeds tweedegenerasie-Suid-Afrikaners. En Indiërs, en Moslems ook, het sterk bande met ander lande. Dis net die Afrikaners en swartes wat dit nie het nie.
HELEN SUZMAN,
anti-apartheidspolitikus en parlementslid vir opposiepartye (1953–1989)
Dit is net ’n dwaas of ’n filoloog wat Afrikaans sou wou bespreek sonder om ook aan Afrikaner-nasionalisme te dink.
ALAN PATON, skrywer, 1975
Ek was nooit in staat om Afrikaans as ’n kombuistaal te sien nie, ’n vulgêre patois, ’n taal waarin jy ’n entomoloog ’n ‘gogga-ekspert’ kon noem nie, hoewel daar, jammerlik, so ’n woord was.
ALAN PATON, 1975
Dit tref ons nou hoe verskriklik onnadenkend die Afrikanerdom geword het toe apartheid hom tot in die kern van sy morele vesel ingewurm het. Toe die apartheidskultuur sowel ’n private as ’n openbare toestand geword het, ’n kulturele gevoeligheid gedefinieer het, het die Afrikanerdom betekenisvolle verlies gehad aan sy sin vir ironie. In hierdie toestand het die kombinasie van politieke, ekonomiese en militêre mag, bevestig deur religieuse voorskrifte, gelei tot ’n universele sin vir toe-eiening. Die Afrikanerdom het hom land, lug, water, dier en ’n ieder en elke swart liggaam toegeëien.
NJABULO NDEBELE,
digter en akademikus, tydens die eerste STEVE BIKO-gedenklesing, 2000
Niemand durf buite die grense dink nie; die Afrikaner loop gedwee agteruit (en kaalvoet) die verlede in. Ons is só opgevoed. Ons kultuur het nog nie ’n tradisie van vryheid van denke en die individu ontwikkel nie; ons neuk eerder agter pastore en generaals aan wat hulle op gebiede uitlaat waarin hulle nie geskool is nie.
HANS PIETERSEN, God?, Claassen en Gaum, 2012
Die oppervlakkige geloof van die Jesusfratse word ’n verleentheid en die outokratiese apartheids-Christendom van die Ooms is verby sy raklewe. Ons skole word stelselmatig bevry van die geforseerde onkunde en geloofsapartheid wat die Bybelbeheptes nog aan ons kinders probeer opdwing. Ons jeug, beter geskool as destyds tydens Christelik-nasionale onderwys, weet reeds te veel om die trop oor die kulturele afgrond te volg.
HANS PIETERSEN, sakeman, ibid.
. . . die deursnee- Bybelbehepte Afrikaner klink beslis nie geestesgesond en gelukkig wanneer ’n mens koerant lees en radio luister nie: hulle kla uit gewoonte en vrees (oor) alles van demone tot ’n verbeelde Nag van Lang Messe.
HANS PIETERSEN, sakeman, ibid.
Afrikaners voel maklik bedreig en agterdogtig. Die Boererepublieke se grense is uitgewis, maar die volk se vrese het ons bygebly.Vreemde politiek maak ons bang. Ander volkere maak ons selfbewus. Wêreldwysheid onder ons kinders maak ons beangs. Vryheid van die individu laat ons hiperventileer. Ons is die enigste van die elf taalgroepe in Suid-Afrika wat deur ons Afribendes die regering herhaaldelik hof toe sleep oor ons denkbeeldige onderdrukking. Afrikaans moet glo beskerm en omhein word soos erwe in Waterkloof, om anderskleuriges, andersdenkendes en anderstaliges apart te hou.
HANS PIETERSEN, sakeman,
Die vrese van ons vaders – Geloof, onderrig en die Afrikanerkind, 2011
Ook die Afrikaner sit met hierdie dilemma. Hy verstaan die wêreld om hom al beter en beter, terwyl sy God al kleiner en kleiner word. Maar ná soveel duisend geslagte kon hy nog steeds nie by die punt kom om dit wat hy nie weet of verstaan nie, nie maar net so aan sy God toe te skryf nie. Honderde duisende dink nog steeds evolusie is nie ’n bewese feit nie, hoeveel te meer betwyfel dan die oerknal of die kartering van die menslike genoom of stamselontrafeling. Duisende stoei dan nou nog oor die regte beker vir hul nagmaalwyn.
PIENKES DU PLESSIS, skrywer en sakeman, ibid.
Die Afrikaners is nie naastenby so stiksienig ortodoks as wat hulle selfs ’n dekade gelede nog was nie. Maar gatvas en verbete is ’n generiese trek van pioniersamelewings, van groepe wat hulself as permanente minderhede definieer, of wat voortdurend morele regverdigings vir hul oorlewingswyses moet aanbied. Die bevrydingsnarratief is selfs meer verstok in die bonatuurlike. Ek het nie ’n appeltjie te skil met Afrikaners nie; ek het ’n appeltjie te skil met god.
PIET CROUCAMP, akademikus, ibid.