Читать книгу Anton Goosen - Hanlie Retief - Страница 10

5

Оглавление

Ek ry die groot brander

Wou ek famous word? As fame uiteindelike erkenning is, dan ja, seker. Beslis.

Dis wat daai kaalvoetstudent gesoek het toe hy op Heidelberg die trein gevat het Oos-Londen toe vir net ’n set van 15 minute by ’n plaaslike verskeidenheidskonsert. Dis wat St Stithians se maergat-onderwyser gesoek het toe hy in pubs sy ghitaar gesit en speel het.

Roem is meestal ’n ontwykende vrug, maar soms, as jy gelukkig is, kom val hy in jou skoot, net so, half onverwags. Dis wat 1979 vir my was, die jaar toe alles gebeur het. “Kruidjie-roer-my-nie”, my eerste kommersiële sukses, het ’n ompad geloop, my eerste volledige album, Boy van die suburbs, was ’n kitssukses waarvan 90 000 eenhede verkoop is, die Musiek-en-Liriek-beweging het ontplof, ek het twee Saries gewen, die Liedjieboer-bênd is gebore. Skielik was ek op die kruin van die golf. Kitsroem.

Dit was groot tye. Laurika Rauch het die rewolusie verder geneem en David Kramer het ’n jaar ná Boy 80 000 eenhede van sy Bakgat-album verkoop.

Die jaar het afgeskop met my heel eerste toer, saam met Sonja deur die Wes-Kaap. Saam met ons was die komediant Hennie Smit, ’n gawe outjie, met ’n resep wat al vyftig jaar lank werk. By die gebruiklike braaivleis- en partytjieding ná die show op Clanwilliam was die dorp se local komediant toe veel snaakser as ons eie professionele komediant. Dit was Tolla van der Merwe.

Tolla sê vir my: “Anton, as julle nou morrgeaand by Pikêtberrgh kom, kyk uit vir my suster, sy het twee tette soos ’n Citrrgoenbumperrg.” Die einste vrou was in 2019 weer by my show in Clanwilliam.

Op die tweede Sonja-toer het haar stem in Namakwaland missing geraak, want net voor ons toer het sy ’n live album opgeneem met audience applause en ek weet nie wat alles nie. Toe besluit FC nee wat, die toer gaan aan, stem of nie, hy sal net die live album vir die gehore speel en dan maak Sonja sommer of sy sing. Met haar song “Mooi Griekeland” was die ou op die verhoog nog besig om die bouzouki op te tel, toe speel die bouzouki lankal op die backtrack, eintlik fronttrack in dié geval. Met die live applous en al. Dis seker waar my renons in backtracks begin het. Op ’n volgende toer, toe FC die musiek begin opstel, vra ’n man so in die verbygaan: “Gaan julle weer vanaand vir ons ’n klomp teipe speel?”

Ek het vroeg in die jaar ’n kontrak met die musiekvervaardiger Chris Kritzinger van Transistor Music geteken. Chris het ’n ooreenkoms met RPM gehad en hul ateljee was in Commissionerstraat. Later jare het dit na die hoek van Fox- en Goudstraat verskuif.

Matt Mann, die een direkteur van RPM (Dan Hill was die ander een) het Mercedes-karre gehaat, hy het gesê dis Duitse gas chambers. Hy het ook nie van sekere kleure gehou nie. Die teëls buite RPM se gebou het hom nie aangestaan nie en hy het hulle met groen teëls laat vervang. Hy was baie goed met finansies. ’n Werker het eenkeer ’n goue horlosie vir langdiens gekry. ’n Week of wat later het die werker dit teruggebring want dit het nie gewerk nie. Matt het net kop geskud: “You can’t do everything for them.”

Chris het nie net ’n baie goeie humorsin gehad nie, maar ook baie goeie oorsese kontakte. Hy het internasionale groepe soos Pussycat en BZN – Band Zonder Naam – se plaaslike verspreidingsregte bekom. Sy ex-partner Graham Beggs, wat plaaslik vir Clout regie gedoen en hulle bemark het, het by die Midem-musiekfees in Cannes, Frankryk, eenkeer die regte vir ’n redelik onbekende Sweedse groep aangeskaf. Daai groep het later bekendheid verwerf as Abba. Die Midas touch. Chris het Clout wêreldwyd bemark gekry. Hy het ook by die Midem-fees “Waterblommetjies” by Francis Goya bemark en Goya het dit opgeneem. Dis vir my steeds een van die beste covers.

Richard Clayderman, na wie Chris verwys het as die one finger wonder, het ook “Waterblommetjies” opgeneem, soos ook ’n honderd plaaslike mense, maar jy voel tog lekker as jou liedjie oor die kulturele en landsgrense gaan.

Chris kon treffers instinktief uitken. Ek het altyd sy voete dopgehou as hy die eerste keer na ’n nuwe song luister, want as hy tyd hou het ek geweet hy hou daarvan. Dis wat gebeur het met “Blommetjie gedenk aan my”. Hy het opgekyk en gesê: “Hierdie hou jy vir jouself, jy gee dit nie vir Sonja nie.” Só is die skeidslyn getrek en my loopbaan as sanger is gebore.

Dit was net nadat ek “Harlekyn” vir Sonja gegee het. Dit was drie jaar ná “Jantjie” en ek was al in ’n mate bekend, hulle het my Sonja se liedjieskrywer genoem en die radio-omroeper Cobus Robinson se woorde was: “Luister na Sonja en hoor Anton Goosen.”

In dié tyd het die rolprentvervaardiger Jan Scholtz my gevra om die temaliedjie vir sy fliek Diamant en die dief te skryf. Ek skryf toe iets, maar hy het nie daarvan gehou nie en dis nie gebruik nie. Om die een of ander rede het ek en Jan nooit met mekaar reggekom nie.

Net daarna kontak Dirk de Villiers my, ’n rolprentvervaardiger met wie ek wél klaargekom het. Dirk het altyd ’n matrooskeps gedra want hy was so half ’n seeman. Sy twee malteserhonde het altyd saam met hom in die hotelkamer in Joburg gebly as hy moes opvlieg SAUK toe.

Hy het ’n strandhuis by Pringlebaai gehad en hy en die hartsjirurg Chris Barnard het eenkeer daar langs die see gestap. Chris was op ’n laagtepunt in sy lewe – die rumatiek het hom opgekeil en sy vrou het hom pas gelos nadat sy viagra en ek weet nie wat nog als nie in sy man bag ontdek het.

En nou loop hulle daar op die rotse en Chris sê: “Maar die wiel gaan nog draai, sy sal terugkom, jy sal sien.” Dirk, wat so rats soos ’n dassie was, kyk na hom en sê: “Chris, dit het klaar gedraai, kyk hoe lyk jy.”

Dirk het my gevra om die temalied vir Die Spaanse vlieg, een van sy movies, te skryf. Dit het ook op ’n seven single onder die skuilnaam “Die Straatsanger” verskyn. Daarna het ek die temaliedjie vir sy nuwe satiriese fliek, Pretoria, O Pretoria geskryf. Ek gebruik toe die temaliedjie vir Diamant en die dief, maar skryf ’n splinternuwe liriek:

kom ek wys jou die tuine by die uniegebou.

teen meintjeskophang lê die plek uitgegrou,

ver duskant die strate lê die grys monument

en die apiesrivier – tot bo uitsement.

kruidjie-roer-my-nie,

is die naam wat jou vrinne jou noem

maar kruidjie-roer-my-nooit-meer-nie

is hoe ek voel as ek jou soen

hier’s geboue vol mense, die plek is berserk,

met staatsamptenare wat maak of hul werk,

agter oggendkoerante sit hul toe-oë en gaap,

voet op die tafel – vas aan die slaap.

die staat se masjien word stadig gehou.

ek wonder of dit ook só gaan by die uniegebou.

hier is kerkplein en volksies en bloubulplesier

pretoria, o, pretoria, met jou eie kultuur!

Dirk de Villiers se editor, Lats Lategan, het skeef opgekyk. Ek kon dit verstaan want toe ek dieselfde wysie, maar met ander woorde vir Jan Scholz se Diamant en die dief vir hulle gespeel het, was Lats Lategan ook die redigeerder. Hy het niks daaroor gesê nie.

Dirk was mal daaroor en toe Chris Kritzinger dit hoor, sê hy dit hoort op ’n kortspeelplaat, dadelik. Drie dae nadat dit uitgereik is, bel ’n minister se vrou en kla oor ek die spot dryf met die staatsamptenare, hoe durf ek sê hulle sit met hul voete op hul lessenaars en maak of hulle werk, ons Nat-staatsamptenare is hardwerkende mense. (Dinge het blykbaar nie juis verander van 1979 tot nou nie. Veertig jaar later is al verskil dalk die toebroodjies wat nou KFC geword het.)

Die SAUK se sensuurkomitee spring in aksie en ná drie dae op die lug kry die plaat ’n AVOID-plakker. Tinus Esterhuizen was hoof van daardie sensuurkomitee. Vroeër het hulle letterlik plate gekrap sodat jy hulle nie kon speel nie. Ek moes in aller haas binne ’n dag ’n nuwe liriek skryf, en met my tong diep in my kies kom ek toe uit met so ’n veilige donkiekarstorietjie.

Op 13 Maart 1979 haal “Kruidjie-roer-my-nie” die Toptwintig. Ironies word dit toe my eerste kommersiële sukses as sanger/liedjieskrywer.

Tien dae later steek Afrikaanse musiek sy Rubicon oor, in die Laager van die Markteaterkompleks in Johannesburg, met ons Musiek-en-Liriek-konserte. Dit was ná Merwede van der Merwe se verskeidenheidsprogramme op TV met dieselfde naam.

Ek het Laurika Rauch by die eerste vergadering vir dié TV-reeks in die drama-doyenne madame Hermien Dommisse se huis ontmoet. Laurika het pas van die Kaap af noorde toe getrek en ons het albei aan die Musiek-en-Liriek-opvoerings deelgeneem. In daai stadium was ek tweedelaaste op die program, met Laurika ná my. Toe Kruidjie tiende slaan op die treffersparade, het Rosa Keet, die digter-dramaturg wat die konserte georganiseer het, en Merwede besluit om my en Laurika om te ruil – ek moes die program afsluit.

Ek het vir Kerneels Breytenbach vertel hoe ek vroeg in 1979 die drumpels van platemaatskappye platgeloop het met ’n demokasset van Laurika om vir haar ’n recording deal te kry. Die antwoord was orals dieselfde: Nee dankie, dis iets anders, maar nie nou nie. Net daarna het sy Koos du Plessis se “Kinders van die wind” gesing. Dit was die temalied vir Katinka Heyns se TV-reeks Phoenix en kie, wat daardie jaar 52 keer uitgesaai is. Dit het Laurika en die lied oombliklik bekend gemaak. Ek het die oorspronklike demo gehoor en nie gedink dit gaan werk nie. Ek was so verkeerd.

Kort hierna het ek haar en Chris Kritzinger bymekaargebring en sy het ’n kontrak by hom geteken. Chris en die verwerker Dan Hill het ’n baie goeie professionele opname daarvan gemaak, en die solussewe moes binne ’n week twee keer herdruk word. Daarna het Laurika se groot deurbraak, Debuut, gevolg. Ek en sy het in dié tyd nogal close geraak, dit was so ’n boetie-sussie-ding.

David Marks wat by WEA (Warner Bothers, Elektra, Atlantic) sy Third Ear musiek-label gehad en Phoenix se klankbaan uitgegee het, was baie vies toe RPM Laurika se debuutplaat vervaardig. David het “Master Jack” geskryf en op Woodstock met die klank gehelp. Sy musiekhart was reg, maar hy het nie altyd geweet van goeie verhoudinge nie en soms die pers en radio in sy pers-uitreikings uitgevreet. Tog het hy baie gedoen vir plaaslike talent, soos Brian Finch, Kenny Henson en Paul Clingman.

Later daardie maand, terwyl ek en Antjie op Zeerust petrol ingooi, het iemand my die heel eerste keer herken. Dit was net ná Kruidjie die eerste keer op TV was. Die ou het gesê: “Hallo, Anton.” Toe sê ek vir Antjie: “Besef jy ons gaan vir ’n baie lang ruk nooit weer alleen wees nie, nooit weer anoniem nie?”

Dis ’n verskriklike gedagte, én die werklikheid wat daarna volg. Mense wat enige tyd van die dag of nag by die huis opdaag of bel. Daar was ’n wiskundeonderwyseres in Linden wie se naam ook Anton Goosen was. Ek het haar eenkeer gebel en ekskuus gesê vir die mense wat haar gebel en gepes het. So, hekke met slotte word opgerig. Antjie het in ’n stadium kennisgewings oor honger krokodille buite ons erf gehad. Sy het dit gehaat as mense sommer net daar opdaag. Dit was die begin van die einde van my en Antjie.

Jy antwoord nie meer die foon nie, veral nie middernagtelike oproepe nie. Dit was nog in die tyd toe jou foonnommer in die telefoongids was. Dis die ander ding van ’n landlyn, hulle hou lekker partytjie en die drankies vloei en hei, kom ons bel ou Anton.

Jeanne Goosen, wat toe nog ’n joernalis was, het my met ’n luide gelag vertel die mense bel haar by die koerant en vra: Is jy Anton Goosen se liewe vroutjie? Jeanne is niemand se liewe niks nie, sy is formidabel.

Chris Kritzinger het die idee gekry dat ek die eerste singer-songwriter album in Afrikaans maak: “Iets soos Donovan in Afrikaans,” het hy gesê.

Ek het gaan kyk hoeveel songs ek het, en daar was oorgenoeg, songs waarvan die temas soos altyd met ’n draai na my gekom het. Terwyl ek Boy van die suburbs geskryf het, het ek gesien hoe die buurdogter die sementduiwe op die prefab-muur se bekkies verf. Daar was varings in tyres op die stoep. My liewe gewese skoonsus-hulle het bikes as sitkamermeubels gebruik en in die winter die grasperk afgebrand.

Die joernalis Ollie Olwagen van Huisgenoot het ’n artikel gedoen oor die misterieuse spookmeisie van Uniondale, wat die tema vir “Blommetjie gedenk aan my” geword het.

“Blommetjie” word beskou as die eerste rock song in Afrikaans. Dit het toevallig gebeur. Die regisseur se opdrag aan die drummer was: Think “Baby Come Back” (’n rock song uit die laat sewentigs). En die drummer was nie bang nie.

’n Plaasboer-vriend van ons, Willem de Beer, het my vertel van ’n familie op Zeerust wat net ná die oom se begrafnis ’n groot partytjie vir hom gehou het. Ek skryf toe “Begrafnistyd in Zeerust”, en noem die hoofkarakter Willem.

Willem het ’n vriend met ’n varkboerdery in Zeerust gehad. Daar daag Willem toe by een van my en Antjie se partytjies op met ’n speenvarkie kompleet met ’n appel en ’n mes en vurk klingel-klingel om die nek. Die varkie begin tussen die mense rondhol en skree, hy’s tussen Lance James se bene deur, verby Esmé Euvrard, met die aktrise Lerina Erasmus en die ander holderstebolder agterna.

Só kom dit toe dat ’n vark genaamd Kruidjie in ons jaart in Fontainebleau begin bly. Ek en Sonja se man, FC, kry toe die blink plan om die vark vir publisiteit te gebruik. Ons versin ’n storie vir Beeld dat Kruidjie siek is, en Sonja word die vark se nursie. Sy gesondheid was lank ’n onderwerp op die voorblad totdat die redakteur uiteindelik laat weet het genoeg is genoeg. Kruidjie is later saam met die huishulp Nelspruit toe waar hy ’n lang en gelukkige varklewe in die Oos-Transvaalse buitelug gehad en elke oggend heel eerste in die land die son sien opkom het.

’n Paar maande later, op toer in Natal, kom die nuus dat Willem selfmoord gepleeg het. Willem was baie slim en baie fucked up. As kind het sy ma in ’n woonstel in New York voor hom selfmoord gepleeg. Die aand nadat ek van Willem se dood gehoor het, het ek “Begrafnistyd in Zeerust” by ’n konsert in die Natalse Middelland gesing. Ek kon nie verstaan hoekom die gehoor so stil en ernstig was nie, totdat ek later hoor die plaaslike skoolhoof het vroeër die dag selfmoord gepleeg.

Sonja het die back-up harmonies op twee van die liedjies op Boy van die suburbs gedoen. Sy was die hoe-wa, hoe-wa, hoe in “Boy van die Suburbs” en jy hoor haar ook in “Antjie Somers” en “Blommetjie gedenk aan my”. EMI wou nie hê dat ons haar in die albumnotas erkenning gee nie, hulle het gedink ons wil haar naam net gebruik om ons album te verkoop.

Dan Hill van RPM het die saksofoonsolo aan die einde van “Antjie Somers” op Boy gedoen. Hy was een van Suid-Afrika se beste jazz-musikante en kon musiek vir arrangements sit en neerskryf terwyl ander musiek speel en gesels. Toe Chris vir Dan vra om die solo op die play-out van “Antjie Somers” te doen, was hy eers nie baie seker of hy dit wil doen nie, want hy het gesê die boeremusiekmense noem dit slangmusiek. Die saxofoonspeler Bez Martin het vertel as hy sy saxofoon op klein dorpies uithaal, was daar altyd iemand wat sê: Gaan julle vanaand weer die hele tyd slangmusiek speel?

Ons het vir hom gesê moenie worry nie, en Dan se slangmusieksolo op “Antjie Somers” klink toe allesbehalwe soos slangmusiek.

In die studio sou Dan dikwels agter my sit en as daar ’n vals noot is, spring hy op en sê: “If that note is in tune my cock is a kipper.”

In 1998 was ek die regisseur vir Sonja se come back album, ’n Ritsel in die rietbos. Ek het Dan gevra om ’n klarinetsolo daarvoor op ’n song te doen. Nee, sê hy, hy kan nie dié dag nie. Hoekom nie? “Because I’ve just had my hair done.” Nou wat het jou hare met ’n session op ’n klarinet te doen? Hy het vanaand ’n jazz-gig met sy klarinet, antwoord hy, en die oorfone sal sy hare deurmekaarkrap. Ons het die klarinet dus Vrydag opgeneem.

Met die opnames van Laurika se debuutalbum het sy ná die tyd vir almal presente gekoop. Ek het nou nog die Myths and Legends of South Africa wat sy my gegee het. Dan Hill het volgens Chris Kritzinger ’n hang-up oor sy lengte gehad, dus het hy platformskoene gedra vir sy ekstra stukkie lengte. Onbewus daarvan het Laurika ’n boek oor tuindwergies vir hom gegee.

Op 30 September 1979 het ek twee Saries gewen: vir Liedjie van die Jaar en Beste Sanger. Die rocksanger Ramsay Mackay, wie se “Silent Water” ook benoem was, se vrou het vir my kom sê: “You got the award my husband should’ve won.” Ek was stomgeslaan.

Ek het die Liedjieboer-bênd laat in 1979 by ’n Unisa-konsert bekend gestel. Met Musiek-en-Liriek op ’n hoogtepunt, het die gehoor ghitaar en stem, ’n hooibaal om op te sit en ’n Groot Verseboek op die skoot in gedagte gehad, nie drum-solo’s en ghitaarsolo’s en basghitaarsolo’s nie. Anton doen mos folk, hy doen mos luisterliedjies, hy doen nié ’n band nie.

Ek het dit toe nog nie geweet nie, maar my identiteit as sanger het hier óók by ’n waterskeiding gekom. “Blommetjie” is rock, en “Byeboer” en “Harlekyn” kan ook so gedoen word. Toe begin ek om die show af te sluit met ’n rock medley, bogenoemde drie songs saam in een, en dis wat ek nou nog doen.

Met die drum-solo in die Unisa-saal het ongeveer 300 van die 1 200 mense in die gehoor besluit hulle gaan nou maar huis toe.

Dit laat my nogal dink aan die keer toe Bob Dylan sy elektriese ghitaar by die Newport folk festival ingeplug en rock ’n roll na die folkies gebring het met die hulp van ’n full-on rock-band, die Paul Butterfield Blues Band. Pete Seeger het erg tekere gegaan oor hierdie “verraad” en hy het die klankkabel by die muurprop gaan afsit sodat alles weer akoesties kan wees. Die urban legend oor hierdie gebeurtenis gaan nog verder, daar word gesê dat hy die kragtoevoer met ’n byl wou afkap, maar al wat hy by hom gehad het, was sy akoestiese Martin-ghitaar.

Ná Neil Young se sukses met “Heart of Gold” was hy ’n ruk lank in die middel van die pad, “but it didn’t take long and I was back in the ditch again”, het hy gesê. Dis hoe outsiders werk, jy bly nie op dieselfde plek nie, jy verander, jy groei, en nie altyd net vorentoe of agtertoe nie. Soms gaan jy kante toe. Nie almal hou daarvan of verstaan nie. Dis wat met my gebeur het.

Anton Goosen

Подняться наверх