Читать книгу Anton Goosen - Hanlie Retief - Страница 9

4

Оглавление

Liedjieboerdery

As onderwysstudent het ek met my kleurbaadjie oor die skouer en musiek-tape in my hand Johannesburg toe geryloop, vol verwagting en hoop. Eers 15 jaar later, op 33, is my eerste liedjie opgeneem. Dit geld seker nie vir almal nie, maar ek glo dat jare se volharding wel ook jare se wysheid bring – wysheid en rypheid wat jy nodig het om jou gedagtes musikaal oor te dra. Woorde en musiek is vir my ’n eenheid, die een kom nie noodwendig voor die ander nie, maar ek veronderstel dit kan wel anders gebeur.

Ek probeer soveel tyd moontlik afstaan aan die ontwikkeling van ’n lied of tema. Soms is dit jare, natuurlik met tussenposes, want jy moet jou gedagtes blaaskans gee. Ek probeer myself soveel moontlik ontvanklik hou vir gebeurtenisse en situasies, soos ’n musiekjoernalis dit behoort te doen.

Ek skryf grootliks tematies. As liedjieskrywer hoor ek spontaan ’n tema in my kop – soms die musiek, soms die woorde, maar meestal saam soos “Waterblommetjies” en “Ta’ Mossie se sakkie-sakkie-boeredans”. Dis die beste manier om liedjies te skryf, het ek gevind. As jy gaan sit en doelbewus ’n liedjie probeer uitdink, is hulle gewoonlik nie so goed nie. Maar selfs met dié wat uit die hart kom, moet jy by ’n tafel gaan sit en sweet, soms nagte lank, want ’n liedjie is so goed soos die swakste skakel. Moet nooit in jou aanvanklike opgewondenheid vergeet om ’n ruk daarna nugter hersiening te doen nie. Skryf oor dinge wat jou gehoor sal verstaan en waarvan hulle hou.

“Waterblommetjies” het ek binne vyftien minute geskryf nadat ek Esmé Euvrard die woord oor die radio hoor sê het. Een aand het ek na ’n TV-program oor die trein na Matjiesfontein gesit en kyk en dadelik gedink dis ’n heerlike titel vir ’n liedjie. Ek en Antjie het gereeld bargains by die Indiërwinkels in Fietas, soos Vrededorp destyds genoem is, gaan soek. As die een winkel nie iets gehad het nie, was daar altyd ’n uncle in ’n ander winkel wat dit wel aangehou het. Toe word 14de Straat in Fietas die inspirasie vir “Kyk hoe dans ek”, my liedjie vir Sonja. Dis polities dubbelsinnig, soos ’n vrolike liedjie oor iemand wat hartseer is: Bye bye love, bye bye happiness. Kyk hoe happy is ons Indiërs in 14de Straat, al jaag julle ons hier weg. Ek het hierdie tema ook in “Jantjie” gebruik en in my songs oor Distrik Ses en gedwonge verskuiwings soos “Atlantis” en “Hanoverstraat”, en dis ook hoekom die engel in “Waterblommetjies” trane in sy oë kry oor die Kaap.

Die reël “dina kanakia” in “Hanoverstraat” kom uit ’n ou tradisionele song. Brigadiers het my gedwing om dit te verander na “môre ga’ ons seaside toe” want die gehoor sou dit kwansuis nie verstaan nie. Met ghantang het ek my voet neergesit, die Maleise woord wat my ma so graag gebruik het vir ’n vryersklong. Daar is nou nog mense wat my vra wat ’n ghantang is, en dit wys net weer as ’n vreemde woord opspring gaan dit mense nie keer om van die liedjie te hou nie.

Tussen 1976 en 1978 is seker so vyftig van my liedjies deur sangers opgeneem en teen 2019 trek dit seker verby 500, maar ek tel nie. Ek sê al sedert 1979 vir joernaliste wat vra dis 500. Ek weet nie hoeveel nie. Dit maak nie saak nie. Kwantiteit heers nie oor kwaliteit nie.

Albie Venter-hulle het my gevra om ’n lied vir Gé Korsten te skryf. Dit was “Vergeet my nie”. Vicki du Preez het op die toneel verskyn en ek het al die songs op haar eerste album geskryf. Haar “Tot Siens Auf Wiedersehen” (met Tinus Esterhuizen) het die treffersparade gehaal. Vir Carike Keuzenkamp was dit “Byeboerwa”, “Hoeka toeka” en “Lang maer blonde man” (dit was oorspronklik donker man, maar haar hubby, Olaus, is blond) en toe vir Laurika Rauch “Vergeet om te vergeet”, “Aai aai”, “Neanderthalman” en “Atlantis”, waarin ek met “my hand vol vere oopgemaak/ en die dons wat daaruit waai” ’n kopknik maak na die Breyten-gedig “Die hand vol vere”.

Herbie & Spence het een van my songs opgeneem en omtrent al my woorde verander. Hulle het my later om verskoning gevra en belowe hulle sal nooit weer nie, maar hulle het ook nooit weer ’n song van my gekry nie. In September 1978 was daar vir die eerste keer tegelykertyd ’n Engelse liedjie én ’n Afrikaanse een van my op die treffersparade: “My Life is in Good Hands” met Gene Rockwell en Carike Keuzenkamp se “Hoeka toeka”.

Voor die dae van selfone en minibandopnemers het mens wysies en lirieke inderhaas in ’n sakboekie of op stukkies papier neergeskribbel soos dit in jou kop kom. Tydens ’n publisiteitstoer het die komponis Barry Mason wat o.a. “Delilah” vir Tom Jones geskryf het, my vertel dat hy die hele tyd ’n sakboekie by hom dra vir gedagtes oor liedjies. Die probleem daarmee is nes met bandopnames – jy moet gedissiplineerd wees en terugkyk en weggooi. Nie net versamel nie. Maar as dit goed genoeg is, gaan jy dikwels onthou. Ek onthou Barry het ook vertel hy kon nie musiek skryf of ’n instrument bespeel nie, hy het die wysies in sy kop vir iemand geneurie of gesing en dié het dit dan neergepen. Hy het wel die eerste van sy hits saam met Les Reed geskryf. Albert Hammond het my vertel dat hy en Mike Hazlewood saam geskryf het, maar kontinente van mekaar af. Hulle het mekaar gebel.

Op pad terug van Pretoria waar ek bladmusiek gaan aflaai het, het die wysie van die koor in “Byeboerwa” ingewarrel gekom. Net die eerste note, toe weet ek dit kan ’n tune word. Ek het dit vir myself herhaal tot by die huis waar ek dit kon opneem.

Dan begin die gekarring om iets te kry wat sal inpas by die wysie. Jy blaai deur die Afrikaanse spelreëls, of maar weer deur ’n Breyten-digbundel en kom af op die reël “hier kom ek aan uit die berge met blomme in my hare”. Die titel van daardie gedig was “Byeboer”. Net dit. Dan tref dit jou dat die dude dalk moet rondtrek. Ek het ’n groot sagte plek vir Pelgrimsrus en die dorp se geskiedenis. So laat ek die byeboer soontoe gaan en terugkeer. Maar “byeboer” het steeds een lettergreep te min. Wel, in 1891 is daar nie motors nie, so hy en sy korwe sal met ’n wa moet trek. Bingo. Dit was toe uiteindelik metafories/simbolies van die gras aan daardie kant is groener, en as jy daar kom, is hierdie kant se gras groener. Dit het my twee dae geneem om “Byeboerwa” te skryf.

Tant Mossie van Arlington het ’n mondigwordingspartytjie vir haar seun gehou en ons is saam met my broer-hulle daarheen. Terug in Fontainebleau skryf ek die song van “Ta’ Mossie se sakkie sakkie boeredans”. Toe tant Mossie dit die eerste keer oor Radio Oranje hoor, het sy skertsend gesê dis baie nice maar dit was ’n deftige partytjie, glad nie soos Anton dit in die liedjie verduidelik het nie.

Maar dis presies hoe dit werk as jy ’n liedjie skryf. Jy meng beelde wat jy in herinnering oproep, soos die kampterrein in Musina waar die ooms hul amps met karbatterye laai en ek en Antjie kaalvoet om die vuur gedans het. Kleintydherinneringe van die partytjies by die Lace-myn en my oom wat koponderstebo rondloop en kyk of hy diamante kan optel. Meng dit met Ta’ Mossie se partytjie en jy het ’n song. Dis soos die trekklavierkoning Ollie Viljoen gesê het: “Moenie dat feite in die pad van ’n goeie storie kom nie.”

Die finale woord oor liedjies: Moenie jou kennis of hoogdrawendheid op die luisteraar probeer afdwing nie. Liedjies is nie poësie of letterkunde nie. Die luisterliedjie het juis hieroor gesterf, doodgepraat en doodgesimposium.

In ’n song oor bokkoms op die stoep skryf ek “waar al my liefde gedy het”. Stephan Bouwer, ’n baanbreker in Afrikaanse TV-dramas wat self gedigte geskryf het, se kommentaar daarop was dat mense met bokkoms op die stoep nie die woord gedy gebruik nie. Hy was reg.

Gedigte is moeilik om in liedjies te verwerk. Dit leef op papier, maar ek het net ’n paar suksesvol kon toonset. In Stephan se gedig “Die mense wat ek liefhet” is die reël “ek met my harnas van been”. Dit het nie vir my as beeld in ’n liedjie gewerk nie, toe verander ek dit na “ek met my moskombersie”. Mense wat nie die song se titel onthou nie sal vir my sê sing vir ons van die moskombersie. Dis vir my die verskil tussen poësie en liriekskryf. Om die swakste skakel heel te maak. Met “om te breyten” het ek “my wintervoël” verander na “wintervoëltjie” – dit het die betekenis heeltemal verander en liries versag.

Jy moet jou eie werk gereeld ondersoek en nasorg doen en kyk of jy nie besig is om tematies vas te haak of te herhaal nie. Wanneer dit gebeur is dit tyd vir nuwe invloede of interaksie met ander kunstenaars of skrywers. Soms kry jy writer’s block en jy wil borde stukkend gooi omdat niks uitkom nie. Gooi dan die borde en gaan slaap. Vroegoggend het jou onderbewussyn dalk onverwags die antwoord. Soms nie. Vergeet dan daarvan.

’n Liedjieskrywer het twee groot vyande. Eerstens, om in sirkels te werk en te dink. Sommige liedjies ontwikkel net nooit verder nie en dan het jy ontsaglik baie tyd daarop verspil.

Tweedens, geraas. Jy het stilte nodig. Die kreatiewe geheue het ’n uitwisknoppie soos ’n rekenaar. ’n Telefoon of bybie in die middel van ’n komposisie laat jou gedagtes verlore gaan en veroorsaak onnodige frustrasie. Sommige komponiste soos Irving Berlin kon op busse skryf. Ek kan nie.

’n Liedjieskrywer moet van soveel soorte musiek moontlik weet. Luister na ander se werk, ontleed dit, kyk na die binnewerk. Ondersoek die akkoordprogressies, probeer variante daarvan, maar moenie liedjies volgens akkoorde skryf nie. Akkoorde vul net melodie aan, nie andersom nie. ’n Goeie liedjie kan deur ’n mamma vir ’n baba geneurie word, maar ook deur ’n simfonieorkes gespeel word.

Hoe skryf ek ’n liedjie? Ek weet nie. Ek gaan sit net en skryf.

Iets wat my in die laat 1970’s heeltemal onkant betrap het, was die Afrikanerdom se drakoniese sensuur. Dis nogal ’n ding om te verwerk as jou songs verbied word, dat jy nie meer mag skryf wat jy wil nie. Daai tyd was enige godsdiens, enige handelsnaam, enige politieke kontroversie op die sensors se lys. En seks. So jy moes óm dit skryf. Dan raak jy maar ’n meester van subtiliteit en dubbelsinnighede, jou politieke boodskap raak ondergronds. “Waterblommetjies” was so, “Hanoverstraat”, “Jantjie” in ’n mate onbewustelik so, “Antjie Somers”, “Atlantis”.

“Atlantis” is verbied, maar om die een of ander rede het “Mpanzaville” wat ek vir Laurika oor die 1976-betogings geskryf het, deurgeglip. James Mpanza was een van die stadsvaders van Soweto en daar was ’n voorstel dat Soweto se naam moet verander na Mpanza. Ek het toe die simboliese beeld gebruik van die honger krokodil wat doodgemaak moet word, met dié dat PW Botha se bynaam Die Groot Krokodil was. Die SAUK het sy eie sensuurstelsel gehad. Later het die game so ontaard, ek het woorde begin gebruik wat hulle nie sou verstaan nie, soos “gentoe” in my sewende album, City/Stad. Die Gentoo was ’n skip wat ’n klomp prostitute in die Kaap kom aflaai het om die mans te bedien. Op Houtbaai se hawe staan in die sement uitgekrap: jou ma is ’n gentoe.

My liedjie “Boude” het natuurlik ook nie die paal gehaal nie, al was dit ’n stokou Maleierliedjie. Ek het die liedjie “Anna Jordaan” by Chris Swanepoel, oudredakteur van Die Wynboer en Gilbeys se skakelhoof, gehoor: “Ou Anna Jordaan jou kaalkop korhaan. By Suurbraak het Anna vir sewe man gestaan, en Anna se ma het so baie gehuil toe stuur sy vir Anna na die Barrydale. En miesies Morkel het deur die sleutelgat geloer en toe sien sy vir Anna met sewe manne koekeloer.”

Godsdiens was ’n doodsonde vir die sensuurraad, tog is Kris Kristofferson se “Why me Lord” nie verbied nie. Vir die liedjie “My Life’s in Good Hands” wat ek vir Gene Rockwell geskryf het, het ek catch phrases uit die Metodistesangbundel gebruik. Chris Kritzinger kry toe die plan om dit ’n subtitel te gee, “Jesus Sweet Jesus”, net om heeltemal veilig te speel, soos belt én braces. En daar word dit ’n toptientreffer vir Gene. Liedjies wat jy só fabriseer is vir ’n spesifieke mark, dis in opdrag, dis nie rêrig jy nie, dis werk wat jy maar net doen.

Een van die direkteure van RPM, die verwerker en meestermusikant Dan Hill, het na die song geluister en toe vra hy: “But are you a Christian, Gene?” En Gene sê: “Of course I’m a fucking Christian, it is a hit song. Let’s go and record it.”

Gene se regte naam was Gert Smit, soos Dennis East ’n Oosthuizen is en Lance James ’n Liebenberg. Gene het in sy jong dae in my oom Bert Goosen se garage in Durban se Bluff geoefen. Hierdie country-ouens, hulle kry ’n hoed en cowboy-klere en dan kondig hulle die song aan: “Here’s a little thing I picked up in Nashville,” dan kyk hulle agtertoe na die band en vra in Afrikaans: “In watter key is hierdie song, boys?”

Gene het eenkeer sy tantième-tjek by Chris Kritzinger se Transistor-kantoor gaan haal, hom met sy karfoon gebel, ’n bietjie gechat en toe gegroet met “God bless you, you fuckin’ cunt”.

Ek het resensies begin skryf nadat Rocco Erasmus my vertel het van ’n nuwe Afrikaanse koerant wat ’n musiekresensent soek. Rocco het by St Stithians skoolgehou en hy het ook vir Antjie se ma genoem dat daar ’n Afrikaanspos by St Stithians Preparatory oopgaan. Hy was ’n legendariese omroeper by die ou Radio Hoëveld, seductive oor die radio: the doctor of love. Ek vat toe ’n kans en bel Beeld, die nuwe Afrikaanse koerant. Die kunsredakteur, George Boshoff, het my ge-interview. In die hysbak van hul kantore in Doornfontein het George my vertel hulle wil nie net Die Tranvaler toemaak nie, maar ook The Rand Daily Mail. Hulle het dit reggekry. Sommer Die Vaderland en in Pretoria Hoofstad en Oggendblad ook.

Toe ek weer sien, check ek die Albert Hammond-konsert uit in ’n goeie seat waar ek vroeër in Braamfontein by die Civic by die deur agter die backstage na Marlene Dietrich moes luister en redelik goed kon hoor en jy kry die vibe for free. Maar nou was dit in style.

My resensieskrywery het van 1974 rond tot so 1980 aangegaan. Die goeie ding hiervan is dat jy die bedryf leer ken, hoe dit werk, jy is pelle met die musiekjoernaliste, kunstenaars en hul managers, jy leer om met hulle te werk. Die dag toe ek self liedjies begin maak, het ek klaar geweet hoe dinge werk, anders as die meeste ander sangers. Soos: Jy moet mooi hallo sê vir die kamera-crew en die beeldmenger want daai mens wat daar sit is baie magtig; die sangers wat daar opdaag met hul manager; vir die ou wat dink hy kan video’s maak nadat hy dit een keer gedoen het en dan vir die crew sê wat hulle moet doen. FC Hamman het met dié soort beterweterigheid baie vyande gemaak.

My weeklikse musiekrubriek vir Beeld is later afgewissel met die kunsjoernalis en uitgewer en deesdae ook romanskrywer Kerneels Breytenbach, wat ’n goeie vriend geword het. Kerneels het my bekend gestel aan Van Morrison, en ek hom aan Mickey Newbury – ons het tot vandag toe ’n baie lekker musiek-interaksie. Met resensies luister jy na alles, van skeppende kunstenaars tot kommersiële snert. Wat jy soek, is die emosie wat die liedjie aanwakker wanneer jy daarna luister. Oorspronklikheid het altyd iets daarmee te doen, maar soms kan ’n ou cliché in ’n vars baadjie aangebied word. Ná George Boshoff was Jeanne Coetzer die kunsredakteur, en sy het my vinnig oor die vingers geraps wanneer my resensies té metafories raak. Jeanne is Hermien Dommisse se dogter.

Hermien was ’n regte prima donna wat in Beeld-artikels haar eie naam tussen dié van ander groot geeste ingesluit het. Ek en die basghitaarspeler Schalk Joubert het Jeanne in 2007 in België raakgeloop, spierwitgrys en getroud met ’n Franse balletdanser. Dit het gelyk of sy gelukkig is.

’n Resensent het ’n redelik magtige posisie, die PR’s lek almal jou gat en neem jou uit vir ete. Jy ontmoet ook internasionale sterre soos Suzi Quattro en Robin Trower wat vir Procel Harem gespeel het – die band met die hit “A Whiter Shade of Pale”; Sailor, Steeleye Span en Dave Brubeck en sy seuns toe hulle hier op toer was, Olivia Newton-John en Kristofferson se eksvrou Rita Coolidge wat op Roger Waters se Amused to Death sing. Ek het ’n foto waar Rita met haar kop op my skouer pose, soos artists mos nou maar maak. Toe ek later in die Kaap ’n onderhoud met Kris Kristofferson doen, kon ek nie help om te vra of hy en Rita weer sal saamsing nie. Toe skree sy huidige vrou van agter uit die kleedkamer: “He’s got a wife, you know!”

Ek moes ’n onderhoud voer met Olivia Newton-John wat destyds ’n nommer een hit gehad het met die Dylan-song “If not for you”, en later met die fliek Grease. Sy was nogal wulps en het dadelik ’n pass gemaak, al was haar boyfriend met ’n gebreekte been in die kamer langsaan. Later het ek by die resensent van die Sunday Times gehoor dat sy dieselfde gedoen het tydens hul onderhoud. Die tydskrif NME het eenkeer die opskrif “Olivia Newton Nutcracker” gebruik.

My onderhoud met Chris de Burgh in die Landrost Hotel in Johannesburg was die begin van ’n lang vriendskap. Chris is ’n nederige, cool ou wat altyd op die verhoog op sy tone gestaan het om die hoë note by te kom.

Ek en Chris is die middag van die onderhoud amper uit die Landrost Hotel se restaurant gegooi omdat ons jeans gedra het, maar toe swaai Chris suite 2080 se sleutel voor die kelner se neus en skielik was ons weer welkom. Ons het seker tot vyfuur die middag daar gekuier, en Chris kom toe die aand oor na ’n partytjie by ons huis. Baie van my persvriende was daar – Ronelle Loots van Die Transvaler, Jakkie Groenewald van Die Vaderland en Muff Anderson van die Sunday Times – en toe Chris daar opdaag het hulle aangegaan asof daar elke aand ’n celebrity kuier, al moes hulle seker hul monde toeklap van verbasing. Dit was ’n boheemse crowd en almal het daai aand ’n hond uit ’n bos gekuier.

Elke twee weke is ek na die platemaatskappye om nuwe uitreikings te kry wat ek moes resenseer. Die PR’s weet nou al wat jou smaak is, so hulle gee jou musiek wat jy nie negatief sal resenseer nie, maar een keer het EMI my ’n plaat gegee van ’n plaaslike kunstenaar, wat naamloos sal bly, oor wie ek net kon skryf: “Die plaat is mooi rond en daar is ’n gaatjie presies in die middel.”

Met resensies oor shows in die Colosseum was dit altyd ’n gejaag om dit persklaar te kry vir die volgende oggend se koerant. Om dit reg te kry, moes die resensente voor die einde uitstap om te gaan file. Peter Feldman van The Star het altyd eerste uitgestap, want hy was baie belangrik. Ná hom is The Rand Daily Mail uit, dan ek. Die uitstappery was omdat ons nagkantoor toe moes gaan om die resensie vir die volgende dag se uitgawe te skryf, maar ek is seker die res van die gehoor het dit nie geweet nie en dit vreemd gevind. Dit was ook met so ’n uitstappery dat ek die bandopnemer by ’n Rabbitt-konsert raakgesien het. Backtrax of fronttrax, ek sal nie weet watter een nie.

Patrick van Blerk was die brein agter Margaret Singana en Rabbitt. Die storie agter die hit song “Charlie” was dat Charlie Trevor Rabin se hondjie was, maar ons het ook geweet Patrick se minnaar se naam was Charles. Dit maak nie saak nie, Rabbitt was ’n supergroep en Trevor Rabin briljant. Hy het later vir onder andere Yes in Amerika gespeel, musiek vir oor die 40 rolprente geskryf en groot kunstenaars produce. In hul beginjare het ek vir Beeld Rabbitt in ’n klub in Johannesburg geresenseer. Die resensie se opskrif was “Rabin is Rabbitt en Rabbitt is Rabin”. Ek was reg.

Toe ek begin sing, het Peter Feldman gereeld met my onderhoude gevoer. Hy neem jou vir ete, sit sy bandopnemer aan en as die een kant van die bandjie vol is, is die onderhoud klaar, al is jy in die middel van ’n diep gedagte. Al sy onderhoude het só begin: Over a wonderful lunch yesterday with Dobie Grey, eating prawns, he told me that …

Baie van die resensente en mediamense het die power trip gedoen as hulle nie tevrede was met hul sitplekke nie. Hul wou in die middel sit en tussen die luidsprekers waar ’n mens uit die aard van die saak die beste kon hoor.

Dan was daar payola, dit bestaan steeds. Dit is die misdryf om sekere musiek op kommersiële radio op geskeduleerde speellyste voorkeur te gee in ruil vir omkoopgeld. So onlangs soos laat 2017 is 13 programopstellers van payola aangekla. Alan Freed, die man wat die term rock ’n roll uitgedink het, se loopbaan is in 1960 vernietig toe hy aan payola skuldig bevind is. Payola is nie net harde omkoopgeld nie, dis ook gunsies of presente, soos ’n kas whiskey aan ’n kameraman wat sport afneem sodat hy ’n tydjie langer op die geadverteerde produk langs die kantlyn inzoem.

En natuurlik maak baie van die PR’s ogies vir jou. Daardie hele lay-for-a-play ding. Die gesegde het dit dat Eva Adam in die paradys PR geleer het. ’n PR vertel vir jou wat hy of sy dink jy graag wil hoor. So maklik soos dit. So wat wil julle hoor?

Anton Goosen

Подняться наверх