Читать книгу Anton Goosen - Hanlie Retief - Страница 7
2
Оглавление’n Troue, ’n geboorte en ’n plaat
Kris Kristofferson het eenkeer vir my gesê hy dink nie ek gaan van Bob Dylan as mens hou nie, want Dylan is ’n innocent. Nadat ek Dylan se biografie gelees en ’n programreeks van 13 episodes vir die radio oor hom gedoen het, verstaan ek wat Kristofferson bedoel het, want Dylan leef sy kuns in al sy wakker oomblikke. Wanneer hy met ’n hoodie in die buurt ronddwaal en gearresteer word vir leeglêery terwyl hy eintlik peins, is hy voltyds besig met sy kuns. Maar dit maak nie van hom ’n lekker partytjiekêrel soos Neil Young en Bruce Springsteen-hulle nie.
Ek het Dylan in 1964, my eerste jaar op onderwyskollege in Heidelberg, ontdek toe ek gaan swot het om diensplig te ontduik en weg te kom van Kroonstad en Welkom. Dylan se musiek is soos Michelangelo, Van Gogh en Shakespeare – al daai groot name just killed it for everybody else, they rule supreme. Hoe vergeet jy byvoorbeeld die oomblik as jy die maer man met die groen trui se eerste bundel oopslaan?
Ek was uiteindelik weg van die Calvinistiese chauvinistiese vingerswaai. Ewe skielik was daar ’n groot wêreld om te ontdek. Alles was soos jou eerste lees van Roald Dahl, die eerste sien van Asterix. Teen my kamermuur in die koshuis Uitsig het ek Nietzsche-spreuke met ’n viltpen neergekrabbel (ek is later daaroor uit die koshuis geskors, totdat my pa ’n mooipraatbrief vir die rektor geskryf het). Ek het Herman Charles Bosman se humor ontdek en heelwat jare later Leon Rousseau se biografie oor Eugène Marais, Die groot verlange. Én die wonderlike boek oor Michelangelo, Irving Stone se The Agony and the Ecstasy, John Steinbeck, Chris Barnard, André Brink, veral sy Orgie, Ingrid Jonker, Etienne Leroux, al het ek nie als van laasgenoemde verstaan nie. Etienne het blykbaar met sy hande bo sy kop in Koffiefontein rondgestap. Die mense het dit vreemd gevind. Ek het nie. Vir my persoonlik was die koshuisnaam nogal profeties. Uitsig.
My broer, Ben, was ’n jaar voor my op kollege en so bietjie van ’n beskerming teen die donners wat een nag my kamer ingebars en al my hare afgesny het. Ben het standerd nege gedop en in die polisie standerd nege en matriek in een jaar gaan doen. Daar was nog ontgroening. Aan die einde van die jaar moes die eerstejaars almal oor ’n dwarslat lê met kussingslope oor die kop, dan het die oumenere verbygekom en op die uitroep van jou naam besluit hoeveel houe jy geslaan gaan word. Dit was niks anders as gewettigde aanranding nie. Ben Pheiffer, ’n musikant in ons kollege-band en ’n jaar ná my het onlangs gesê ek was die enigste senior wat hom soos ’n mens behandel het.
Ek het spesiale onderwys vir gestremde kinders gestudeer. Psigopatologie het my gefassineer en ek het sommer op eie stoom vakansietye kursusse by die Oranje-hospitaal in Bloemfontein en Witrand-hospitaal in Potchefstroom bygewoon op voorwaarde dat ek agterna ’n referaat vir die klas lewer. Die abnormale het my gefassineer. My psigopatologie-dosent het my later gewaarsku om nie te diep in die psiges van die vakrigting te delf nie.
Daar was baie droogmakery saam met my vriend Dirk Stassen, tipiese studentegoed soos om ’n parkbankie in ons koshuiskamer te gaan parkeer. Dirk het amper Kahill se fliekteater afgebrand toe hy sy sigaret op die sitplek vergeet het. Die fliekskerm was vol gate, want die studente het bottels soontoe gegooi as hulle nie tevrede was met Kahill se fliekkeuse vir die aand nie.
En natuurlik was daar die vryery. My eerste meisie op kollege was Ria Wagner, een van ’n identiese tweeling, en hulle het partykeer omgeruil om my te flous. Ons het gereeld hul ma se ou Anglia, een van daai met die skuins agtervenster, geleen en dan trek ons daar weg met die advertensiebord van die tante se bestuurskool op die dak. Jare later het ek weer een van die tweeling gesien toe sy besig was om vibrerende easy chairs op ’n landbouskou te verkoop.
My “rebelse” vriend Dirk het ’n tikonderwyser geword want dit het vir hom na die minste nasienwerk gelyk. Rebels in aanhalingstekens, want waar ek op die muur slagspreuke geskryf het, het hy op die wasbare wasbakteëls geskryf. Veilige protes. Op kollege het hy nooit ’n girlfriend gehad nie, want hy het gereken hoekom sal hy twee hamburgers koop en net een eet. Vandag is hy getroud en het in Nigel afgetree. Hy deel nou sy hamburgers.
Ek en my muso-vriende het in Heidelberg in ons eerste ernstige rêrige band, die College Combo, begin speel, en selfs ’n plaat gemaak. Later het Dirk en ek en Johan “Killer” Coetzer ’n jazz-trio gehad.
Ek was nogal angstig wanneer ek op die verhoog moes verskyn. Om my vrees te beheer het ek geleer om oor die mense se koppe te kyk tot heel agter waar jy nie eintlik meer oogkontak kan maak nie. Dan werk jy jou pad vorentoe en kry al hoe meer selfvertroue tot by die ou heel voor wat jou met gevoude arms aangluur, want sy girlfriend hou van jou. Ek het geleer jy kyk hom doelbewus in die oë en glimlag. En dan later gaan sy arms ook oop. Dis ook in dié dae dat my verhoogbygeloof begin het. Vandag nog stap ek nie van die regterkant af op die verhoog nie en as ek nie van die linkerkant kan opstap nie, loop ek agter om sodat ek wel van links af by die mikrofoon kan kom.
Ek is eenkeer met die trein van Heidelberg af Oos-Londen toe net om ’n set van ’n kwartier by ’n verskeidenheidskonsert te doen. Dit was maar meestal Engelse covers, folkliedjies, want die folk-era het in 1965/66 in al sy glorie aangebreek.
Ek en my sangmaat op kollege, Ida Els, het tydens ’n amptelike kollegebesoek kaalvoet en ghitaar op die rug vir die gestremde kindertjies by Hope Homes in Johannesburg gaan sing. Daar was agterna ’n klagte daaroor by die kollege, maar die kinders het aan die klanke gehang.
Die Afrikaanse Studentebond het diep beswaard ondersoek kom doen oor hierdie hippie-ding wat onder die jeug en op kampusse begin posvat, hierdie duiwelse folkmusiek-tendens waarvan ek een van die sleutelelemente was. Dit was die tyd van “if i had a hammer” (kommuniste), “puff the magic dragon” (wtf). En ek wou maar net sielkunde swot en hoe weirder hoe beter en kumbaya sing met hippieblomme in my hare en kaalvoet deur die lewe wandel met ’n bottel melk in my hand. Dit was my ergste sonde, daar was nêrens dwelms, vreemde ideologie of alkohol betrokke nie.
Met Ida het ek geleer jy maak nie jou sangmaat jou girlfriend nie, ’n foutjie wat ek net een keer daarna herhaal het. Exit Ida en enter Antjie, die slim dogter van Koos van Zyl, ’n pilaar in die Afrikanerdom en hoof van Hoërskool Randburg. Exit ook die sangpaar Anton en Ida, enter Anton en Michelle, later toe ek begin skoolhou. Hoe ironies, want Antjie se skoolhoofpa wou haar nie by ’n kunskollege laat studeer nie, want hy was bang sy raak met weird mense deurmekaar.
Soos my ma en pa as teenstrydighede bymekaar uitgekom het, so was dit met my en Antjie. Die voorbeeldige dux-student en die kollege se langhaarhippie. Sy was mooi, ja, al my girlfriends was. Haar hare was in ’n beehive, sulke rooi hare, maar ek het later uitgevind sy kleur dit. Hierdie verhouding was toe die een wat aanbeweeg het tot trou. My ouers was natuurlik baie ingenome met my vangs uit hierdie prim en proper familie, maar Antjie se ouers was nie so keen op haar verhouding met die takhaar nie. Ek het haar ma in ’n stadium laat weet sy moet haar neus uit ons sake hou en toe is ek opgekommandeer Randburg toe vir ’n man-tot-man tête à tête met die bot skoolhoof. Ons het mekaar gevind en vir Antjie se ma het ek later so lief geraak, sy was vir my soos ’n tweede ma.
Ek en Antjie het in 1968 besluit om te trou, ná gespanne oomblikke oor ’n onderwyseres, Rosa Coetzee (later Smit), by Laerskool Suidheuwels waar ek vir die spesiale klas skoolgehou het. Op my eerste dag as onderwyser het die juffrou in haar miniskirt op ’n stoel gestaan, besig om iets baie hoog teen die muur te plak, en sy vra my liefies om vir haar ’n skêr aan te gee. Antjie was nie so liefies oor dié geflirt van Miniskirt nie.
Daar was ’n groot geveg oor die kerk waarin ons sou trou, want die Van Zyls was NG-kerkmense, my ma Volle Evangelie en my pa niks. Die uiteinde was ’n NG-kerktroue met my ma-hulle wat die onthaal gee by missus Murphy se huis in Turffontein. Missus Murphy het by die bottelstoor gewerk. Sy het vertel hoe warm die varknekbottels wyn nog was wanneer dit by die bottelstoor afgelewer word.
Ek kon net een jaar by Laerskool Suidheuwels uithou, maar ek het te betrokke geraak by die kinders. Ek was baie lief vir hulle, soos vir Henna wat as suster Teresa in ’n verpleegstersuniform skool toe gekom en pouses in die sandboks gepiepie het. Dit was ’n brandarm gemeenskap en partykeer met huisbesoeke het ek my tee stilletjies in ’n potplant uitgegooi, so haglik was die omstandighede. Aan die einde van die jaar het die kinders vir my presente gebring, soos ’n boksie vuurhoutjies toegedraai in Kerspapier. Een kind het al die pad van Suidheuwels na ons flat oorkant die Civic in Braamfontein gestap om vir my koekies te bring.
My lang hare, ek praat van hare wat skaars aan die ore raak, nie Beatles-lank nie, het nie goed afgegaan by die skoolowerhede nie. By ’n atletiekbyeenkoms het die hoof van ’n ander skool my geld in die hand gestop en gesê: “Gaan sny jou hare.” Ek het die man ’n vuil kyk gegee en met sy geld ’n plaat by die Hillbrow Record Library gaan koop. Die ultimate insult.
Dis wat my finaal laat besluit het ’n Afrikaanse skool is nie vir my nie, en ná ’n jaar by Suidheuwels het ek vir standerd 4C by die Alberton English Medium Primary School gaan skoolhou. Daar was net twee Engelssprekende kinders in die klas, die res was Afrikaans, Hollands en Italiaans en ’n Griekse outjie met die bynaam Yes Please, want hy het in sy ouers se kafee gewerk.
’n Onderwyseres het die skoollied op die wysie van “God save the Queen” geskryf en heeltyd gekla “back home in England, it doesn’t work like this”. Ek en ’n medeonderwyser het ons vererg vir her majesty en ’n verslag daaroor geskryf. Op my pa se voorstel het ek dit aan die NP-parlementslid vir Alberton gerapporteer. Kort daarna het die skoolinspekteur opgedaag en daar was groot moeilikheid.
Die skoolhoof het my gevra of ek nie liewers by ’n Afrikaanse skool wil klasgee nie, hy dink ek sal daar beter af wees. Nee, meneer, ek kóm van ’n Afrikaanse skool, ek is heeltemal fine hier en ek rig sokker af.
Ek en Antjie het ’n jaar of twee in Hillbrow gebly. Dit was toe Hillbrow nog die middelpunt van die wêreld was. Ons woonstel was in Pretoriastraat en alles was binne loopafstand; wanneer jy uit die woonstel stap, het ’n kontinentale gevoel jou ingewag. Sondagoggende het ons koffie gedrink of ontbyt geëet by Café Wien of Café Paris en dan sit die ooms in die son en speel backgammon of lees Sondagkoerante.
Ek en Erika Boersma, sy was later Lundi, het in dié tyd begin saam sing. Sy was pas klaar met skool en het so ’n rokerige stem gehad, diep en donker. Die musiekskrywers wat Groep Twee bekend gemaak het, Anton de Waal en Louis Combrinck, het ons raakgesien en ek en Erika het ’n vierjaarkontrak met hulle geteken. Ek en sy is op my Vespa, met haar agterop en die ghitaar op haar rug, al die pad van haar huis in Alberton na die EMI-ateljees in Presidentstraat in die Johannesburgse middestad vir die opnames. Ons eerste solusseweplaat met “Manina” is op 30 Oktober 1967 uitgereik.
Die gewilde radiotannie Esmé Euvrard was getroud met ’n Portugees en het baie van “Manina” gehou. Toe speel sy dit op 27 November 1967 op haar Springbokradioprogram. Dit was ’n belangrike datum: die eerste keer dat ek op radio was.
Ná “Manina” het ek en Erika nog ’n single by EMI uitgereik, “Sweet Looking Lorraine”, as ’n folky duo couple genaamd Anton en Michéle, om Erika Frans te laat oorkom. Daar is ’n Engelse langspeler met dié twee songs daarop gemaak, maar dis nooit uitgereik nie.
Erika het in die 1970’s saam met Johnny Boshoff gewerk en saam met Dizzy Gillespie gesing, die briljante Amerikaanse jazz-trompetspeler. Dizzy het haar een aand ná die gig onder die grand piano beter leer ken, het sy vir my keyboardspeler vertel.
In 2016, met my sewentigsteverjaardag-konsert by die RSG-kunstefees, het sy “Ferreirakamp” in haar husky stem gesing. Sy bly nou in ’n ouetehuis in die Strand en ry ’n ou oranje Merc. Partykeer ry sy die vyf minute af strand toe, gaan parkeer daar en luister ’n bietjie musiek. Die ander inwoners is baie jaloers op haar oor haar kar.
In 1972 is my eerste album, die Anton sing-effort, uitgereik met ’n klomp inheemse liedjies en vier vertalings. Ek is in so ’n pienk hemp op die cover. Dis nie iets wat ek graag onthou nie, en vir my is Boy van die suburbs eintlik my eerste album, want dit was die deurbraak, die ander het verdwyn in ’n see van vergetelheid.
Ses jaar nadat ek en Antjie getroud is, is Maríza gebore. Sy was ’n hele paar weke in die broeikas omdat sy vroeg gebore is. Dit was weird om huis toe te kom en daar is niks om vir die moeite te wys nie. Ek was ’n pa en dit was wonderlik. Haar doopnaam is Isabelle-Marí, ’n samestelling van die twee oumas se name. My ma het haar nooit geken nie.
Met haar doop was ons bietjie in ’n fix, want ek is nie NG of enigiets nie, so ek mag nie saam met die moeder voor staan by die doop nie. Die predikant wat ons getrou het, Hannes Cronjé, was baie funky, hy was van Fontainebleau, waar ons toe gewoon het. Hy het gereken dis mos nou nie eintlik ’n probleem nie. Glo jy? Ja, sê ek. En hy sê: “Dan neem ons jou ook sommer terselfdertyd as lidmaat aan.” Hannes het ’n ou sportmotor herbou. Hy het vertel hoe hy op huisbesoek by een van sy blouboordjielidmate ’n glas water gevra het. Net toe hy die glas by sy mond bring, trek die kind los met ’n “daar gaat hy!”.
Ná Alberton het ek in 1970 die Afrikaanse pos by die privaatskool St Stithians Preparatory School gekry. Die kinders het Afrikaans gehaat, want my voorganger, Ken Resnick wat vir Transvaal haker gespeel het, het hulle geslaan. Hulle het die handboeke se titel verander van Vlot Afrikaans na Vrot Afrikaans. Dit was my missie om Afrikaans vir hulle lekker te maak, en ek het dit reggekry deur baie onkonvensioneel klas te gee. Van speltoetse het ek krieketwedstryde gemaak. Die een helfte van die klas kolf en die ander helfte boul. Ons het ’n Shakespearean clearing in die bos by St Stithians gemaak, ’n paar boomstompe nader gerol om op te sit, en dan het die kinders hul eie toneelstukkies met kostuums en al in groepies daar gaan opvoer. Eendag roep die hoof my in en vertel dat die kinders in sy Engels-klasse aan die einde van die periodes baie onrustig raak. Toe vra hy hulle daaroor. “Oh, its Afrikaans next sir!”
Daardie oomblik het ek geweet ek wen.
Ons het ’n band, die St Stithians Minstrels, begin met ’n T-Box bass en ’n klomp ghitare en dan sing ons in Afrikaans. Drie weke na ek daar begin het, was Afrikaans die gewildste vak op skool.
Ek het sokker afgerig en my vorige skool, Alberton English Medium Primary, se span genooi om teen St Stithians te kom speel. Die St Stithians-snobs het agterna gesê dis goed en wel, maar dit moet dalk nie weer gebeur nie want die enigste ding wat Alberton en Sandton gemeen het, is die laaste drie letters van hul name.
Toe kry ek hierdie idee in my kop om ’n toneelstuk te skryf wat die hele skool betrek. Ek wou dit ’n Kaapse storie maak en Jantjie, wat my leer rook en ghitaar speel het, en Katryn, my tweede ma, word my hoofkarakters. Vir navorsing het ek Adam Small se boek oor Distrik Ses nader getrek.
Ek het Adam Small eers in 2016 ontmoet, met die bekendstelling van die volgende jaar se Woordfeesprogram op ’n spoggerige landgoed buite Stellenbosch. Ek, Churchil Naudé en Schalk Joubert het ’n rap-weergawe van Boy van die suburbs gedoen. Dit was ’n baie deftige affêre met gratis rooiwyn en uitgelese geselskap.
Iemand het ’n klein, deftige, regop man aan ons kom voorstel. Ek en Adam Small, wat ook vereer is, het die eerste keer blad geskud. Vir my was dit asof ’n kring voltooi is, want voor Adam Small het ek ook die hande kon vashou van Dirk Opperman, Uys Krige, Chris Barnard en Breyten Breytenbach. In my hand was my ghitaar en voor my was Adam Small. Ek is so bly oor dié ontmoeting, want hy is kort daarna dood.
Ek is nie seker of ek in 1972 eerste Kitaar my kruis of Kanna hy kô hys toe aangeskaf het nie, dalk was dit gelyktydig.
Die Sestigers het destyds ’n diep indruk op my gemaak, en hul politieke bewussyn het op my afgeskuur. Adam Small se Kaapse taal het ’n nuwe faset oopgeskop en sy filosofiese en politieke verset deur middel van satire het ’n duidelike rigting vir my aangedui.
Jare later met die Lappiesland-album het Small weer sy verskyning in die lirieke gemaak: “Kom laat ons sing, laat die hele Lappiesland saamsing” en op ’n Vis innie bos, met dié verwysing: “Adam Small sê ons pad se naam is Broadway.”
Antjie en ek is spesiaal Kaap toe waar ons die Bo-Kaap van bo tot onder platgestap het. Hanoverstraat, Loaderstraat, die Seven Steps. Deur my ma het ons by ID du Plessis uitgekom. Hy was haar universiteitsdosent en ’n kenner van die Maleierkultuur, ’n wonderlike omie. Ons is saam met hom na die kultuurhistoriese museum. Hy was ’n ensiklopedie van kennis en het my aangeraai om nie van die varkvelle wat oor die ghoematromme getrek is te skryf nie, dit sou met die Moslems se halaal-voorskrifte bots.
Met Tweede Nuwejaar was ons in Adderleystraat toe die klopse verbykom. Dit was net uitbundigheid en musiek en vrolikheid en ek het myself heeltemal daarin verloor. Dis in daardie vakansie wat my fiksasie met die Kaap begin het.
Terug in Johannesburg het ek Jantjie gaan sit en skryf, op die trappe van ons eerste huis by 11de Straat 1 in Greymont. Ons het amper ’n goeie adres gehad, een van die Northcliff-uitbreidings was net oorkant die straat. Ek het gereeld op die Northcliff-koppie gaan sit en ghitaar speel.
Jantjie ontwikkel toe in so ’n lekker surrealistiese musiekblyspel oor twee vissermanne, Jantjie en Apools. Hul boot sink in ’n storm en hulle word deur seerowers gered. Só ontmoet hulle kaptein LeBouche, ’n seerower uit 1720, en hulle ontdek kaptein Blackbeard se skat, en kom net betyds terug vir die Kaapse klopse waar die twee troepe, die Cape Town Jazziness en die Kanaaldorp Follies, teen mekaar meeding. Tradisionele ghoemaliedjies soos “Die blikkie se boom is uit,” “Hoor hoe lekker slaan die ghoema” en “Dan trek die boer sy baadjie aan, dan is die boer tevrede” kon kleur gee aan die blyspel, met die belangrikste song my eie “Jantjie”.
Jantjie, kom huis toe,
Katryntjie wag op jou.
Jantjie, kom huis toe,
die Kaap is leeg sonder jou.
my ghantang van die Onder-Kaap,
as die mammies op hul hakke loop,
wie kan dit hou, my dear,
wie kan dit dan hou?
vat my hand en neem my saam
na die Dixieland vanaand,
Jantjie, van die Onder-Kaap.
Jantjie, sy is lief vir jou.
Van die kinders het saam in die orkes gespeel, daar was ’n T-Boks, bass en ghitare en ek het ’n paar akkoorde op die banjo gespeel. In April 1972 was ons toe op die planke daarmee en dis seker die eerste en die laaste Afrikaanse musiekblyspel ooit by St Stithians. Die hele skool het deelgeneem, die eerste aand was die ouers daar – saal vol, die tweede aand al die oupas en oumas – saal vol.
Met Jantjie se opvoerings by St Stithians het banjo’s, ghitare en ghoemas Sandton vir ’n ruk Kaaps gemaak, en die rykes onder die indruk gebring van die kruis van dié wat toe nie wit genoeg was nie en vandag seker nie swart genoeg is nie.
Die hoof van die hoërskool was Mark Henning, die voorsitter van die destyde Transvaalse krieketunie. Hy het agterna gesê die liedjie “Jantjie” moet ek eendag deur iemand laat opneem, dis ’n treffer. Komende van ’n krieketman, nogal.
Die opbrengs van die twee opvoerings het ons aan St Barnabas, ’n destydse bruin skool, geskenk.
Regdeur my tyd by St Stithians het ek naweekaande in pubs opgetree, “singing to the clinging and clanging of knives and forks”, soos Elton John dit beskryf het. Ná die Ridgeway Hotel in Randburg, het ek oorgeskuif na die Fourways Hotel waar ek ’n volle R20 ’n aand verdien het. Jy sing cover versions want jy moet die mense in die pub happy hou en dan kom vra die eienaar: “Are you keeping the people drinking?” Dit was goeie verhoogoefening.
Met St Stithians se kriekettoere na die privaatskole in Natal was ek in hierdie proper old English thing van afternoon teas en cucumber sandwiches by krieketwedstryde, en ’n pak klere op Sondae – iets wat ek natuurlik nie gedoen het nie en waarop Kenny Hovelmeyer, die sportmeester, my gereeld gewys het.
By Kenny het ek alles geleer wat ek van sokker en krieket weet. Hy het as jong kind polio gehad en op 28 geleidelik begin blind word. Ná ’n lang siekteverlof was hy die skoolvoorligter, met groot sukses. Ek is saam met hom deur sy blindwordproses en ek het soveel daaruit geleer. Ons twee het steeds toneelstukke en krieket gaan kyk en by die wedstryde vertel ek en die kinders vir hom wat op die veld aangaan en hy neem dit verder met sy groot kennis van die spel. Hy kon hoor of die bal die middel van die kolf tref of nie. Wanneer hy by my en Antjie kom kuier, het ek sy bord kos in sokkerterme verduidelik: By die doelhok lê ’n tjop en ’n aartappel, midfield regs is die rys en die rigthwinger is besig met die pampoen, daai klas van ding. Ons het gou agtergekom dat dit nie ’n goeie idee is om vir hom ertjies voor te sit nie.
Toe hy blind word, het sy gehoor baie verskerp. Hy kon in die personeelkamer stampvol pratende onderwysers van die een kant af hoor dat hulle aan die ander kant die nuwe rugbyreëls bespreek.
Hy was geneig om as jy saamstap ietwat na regs te neig. Dus stap jy aan daardie kant met sy arm ligweg op joune. Een keer het ek hom gewaarsku daar is trappe. “Don’t tell me that Anton, tell me whether it’s going up or down!”
Ek is fanaties oor sokker, en ’n geswore Manchester United-fan.
In dié tyd is ek opgelei as ’n Suid-Transvaalse sokker- en krieketskeidsregter. Dit was ook die begin van my einde by St Stithians. My o.11-span het ’n game by Waterkloof House in Pretoria gaan speel. Die ref was een van hul onderwysers en dié ou het die hele game by die middellyn rondgehang waar die ouers by ’n radio na ’n rugbytoets teen die All Blacks geluister het. Die ref het hom nie aan ons game gesteur nie en swak langafstandbeslissings gemaak, gewoonlik teen ons span.
Ek het my al meer vervies en iewers in die tweede helfte sê ek vir die kinders: “As dit weer gebeur, stap julle af.” Toe gebeur dit weer en die kinders stap van die veld af. Nou kyk, dís nie iets wat mens by St Stithians of enige privaatskool doen nie, it’s just not cricket. It is not done. Die kinders het my twee weke lank beskerm, toe knak een en sê ek het hulle die opdrag gegee. Dit was die laaste strooi, saam met die klagtes oor my lang hare, my gesingery in klubs oor naweke en boonop ’n begripstoets oor Cat Stevens en ander rocksterre.
Die hoof het ingestem dat ek self bedank, eerder as om afgedank te word. En só is ek daar weg.
John Leyden, stigterslid van Mango Groove, was een van my leerlinge by St Stithians, en hy het agterna gesê: “Anton kicked open the doors to our minds.”