Читать книгу Anton Goosen - Hanlie Retief - Страница 6

1

Оглавление

Voortyd, kleutertyd, tienertyd

In Life of Brian, die Monty Python-fliek wat ek seker al honderd keer gekyk het, sê Graham Chapman vir die skare onder hom: “Look, you’ve got it all wrong. You don’t need to follow me, you don’t need to follow anybody. You’ve got to think for yourselves, you’re all individuals.”

“Yes, we’re all individuals,” skree die skare.

“You’re all different!”

“Yes, we’re all different!”

Dan steek een sy hand op en sê: “I’m not …”

Vandat ek weet, is ek anders, pas ek nie in nie. Moenie vir my sê wat om te doen nie. As jy wil weet of ek wil gaan uiteet, vra: Het jy lus om te gaan uiteet? Dan antwoord ek jou. Moenie my voorsê wat om te doen nie, ek lees dit as bevele. Moenie op jou kaartjie sê “formele drag” nie, hierdie T-hemp en jeans is vir mý formeel. Ek daag op as Anton of ek daag nie op nie. Dit was goed genoeg vir ’n paar presidente. Ek het regtig ’n probleem met in rye staan, met wag vir my kos by buffet-etes, die army-ding waar jy met jou varkpan in die kosry staan. Hoekom moet ek doen wat almal doen?

Ek kan presies onthou waar ek by daardie vurk in die pad gekom het. Ek het op my fiets gery met my radio’tjie agterop en die Rolling Stones sing “(I Can’t Get No) Satisfaction” en net daar het ek geweet dis waarheen ek wil gaan. Soontoe, daai kant is my kant, en Jim Reeves en Frank Sinatra-hulle is dié kant.

Om jou eie pad te loop is deel van rock ’n roll, want dis nie net musiek nie, dis ’n lifestyle. Êrens in ’n song skryf ek jy kan dans op musiek, en jy kan marsjeer op musiek. Musiek kan rewolusie wees of liefde maak.

Die wêreld het nog na buskruit geruik toe ek op 5 Maart 1946 gebore is, vyf maande ná die Tweede Wêreldoorlog, aan die voet van die Renosterberg in Middelburg in die Karoo. My eerste onthou was die gesigte van my ouma en oupa Van Aardt wat na my kyk waar ek in die kot lê. Ek was omtrent drie jaar oud. Toe ek vyf was, nadat ons Kroonstad toe getrek het, het ek verby my oupa Goosen se kamer geloop en daar was ’n wit lap om sy kop gebind om sy mond toe te hou. Dood. Dieselfde oupa wat my op die stoep gesit en vra het of ek weet wie is Liewe Jesus. Ja, Oupa, hy is nou net hier verby op ’n trekker …

My eerste rapport uit Laerskool Paddavlei se Sub A-klas het my ma in trane gehad. Die dierbare juffrou Hattingh het geskryf: “Ek is baie lief vir Anton, maar hy is altyd in die moeilikheid, want hy laat niemand met rus nie. Hy doen nie sy bes nie. Hy is stadig en agterlosig en hy pas moeilik aan by skoolmaats.”

My ma het baie gehuil.

In standerd een laat weet juffrou Van Niekerk Anton moet getoets word vir die spesiale klas. My ma het uitgefreak. ’n Kwartaal lank het ek tuisonderrig gekry, by my pa, gewapen met ’n sambok. Ek kan nou nog in my slaap “quickly” reg spel. Daarna was sake beter en my punte hoër.

Daar het ’n uil op die nok van juffrou Van Niekerk se donker huis gewoon. Sy was ’n oujongnooi en ek was ’n dromer. Sy het die kinders van wie sy nie gehou het nie op hul eie heel voor in die klas laat sit. Aan die einde van elke kwartaal kon almal bankmaats omruil. ’n Maatjie het langs my kom sit en toe sê juffrou van Niekerk: “Nee, niemand mag langs hóm sit nie.” Snaaks hoe mens dít onthou.

’n Boelie het my elke middag op die bus gebliksem net oor hy nie van my gesig gehou het nie. Hierdie dinge maak op die ou einde van jou ’n rebel without a cause. ’n Kroonstadse James Dean, jy merge in die rock ’n roll-ding, al is jy nog te jonk om dit te besef. I am against it, what have you got? Al wat ek geweet het, is dat ek nie behoort nie, dat ek nie ’n groepsdier is nie. Maar so eenvoudig is dit ook nie. Daar’s ook die ander, ironiese kant, dat ek bevestiging soek van ander mense. ’n Kloppie op die skouer. Verwerping is nie ’n goeie bedmaat nie.

Ek was min of meer van my geboorte af in ’n permanente botsing met my pa, so dit is ironies dat musiek my eerste herinnering aan hom is. Hy het mondfluitjie gespeel en ek onthou hoe hy sit en deuntjies maak. Saans nadat ons by mense op die plase gaan kuier het, het hy in die ou Hudson op pad huis toe Ierse songs gesing wat regtigwaar beautiful was. Ek onthou die stem in die donker kar op die donker pad met die Vrystaat en die nag om ons.

My ouers het opera geluister. Caruso en Mario Lanza en veral Erna Sack, die Duitse koloratuursopraan wat die Duitse Nagtegaal genoem is. Ek vermoed ek het ’n oordosis daarvan ingekry. ’n Ou met die naam Jannie van Tonder het ghitaarplate gemaak waarvan my pa baie gehou het. Hy het Afrikaanse goed soos “Outa in die langpad” gepick. Dit was cool.

Naweke was ons gesin gereeld op druk-deur-dagbreek-toe partytjies by my oom Lood van Aardt se plaas naby die Lace-diamantmyn op die Viljoenskroonpad. Die grootmense het langarm op die misvloer geskoffel, op oom Chris Blignaut se musiek, en ek en die ander kinders het buite op die gras rondgehardloop met musiek en lig wat deur die oop deure stroom.

My oom Lood het die Van Aardt-humorsin gehad. My nefie Casper het een keer vir middagete aangesit en daar was ’n beesmiskoek op sy bord. “Jy praat heeldag daarvan, ek het gedog jy sal dit graag wou eet ook,” het oom Lood doodluiters gesê. Casper het daarna minder gevloek.

Die rokery het begin toe my pel André de Villiers in standerd sewe agter die Vrystaat-stadion sê probeer bietjie. Nooit, antwoord ek. Maar ons almal vat ’n pull aan die Lexington en ek het dekades lank nooit weer ophou pull nie.

In daai selfde jaar, 1960, het ek rock ’n roll ontdek. Dis waar die eintlike moeilikheid begin het. Vir ’n pond en ’n sjieling het ek my eerste drie rock-plate gekoop, by die Kroonstad Saloon in die hoofstraat. Naby die duikweg was ’n kafee met ’n jukebox. Jerry Lee Lewis se “Great Balls of Fire” was op die speellys. En “Red River Rock”. My ouers was Bloemfontein toe vir ’n konferensie en toe hulle terugkom was die gort gaar, want ek het die plate op my pa se platespeler gespeel. Hy was woedend, asof rock ’n roll die ding sou besmet. Ek het ’n moerse pak slae gekry. En ja, dan doen jy maar dinge in die geheim.

In standerd nege, in die dae toe Cliff Richard nog rebels was – voordat hy sweetie pie gedraai het saam met Norrie Paramor en sy duisende viole en hulle nog regte rockers was – vra my pa my: “Wat is die aantrekkingskrag, Anton?”

“O, dis die ghitare en die boodskap, Pa, dis rock ’n roll.”

LM-radio was die klankbaan van my tienerjare. Op LM het ek Mickie Most se covers van die Buddy Holly-songs gehoor, die Rolling Stones. Ek het Sondagaande onder die kombers met die radio teen my oor skelm na die hit parade geluister. David Davies se stem: “Greeeeeeeetings …” Bob Dylan, Led Zeppelin en daai tipe goed het ek eers later op kollege ontdek, maar LM het my lewe vir altyd verander.

Aan die einde van elke kwartaal kon ons plate saamneem sangklas toe. Die sangjuffrou was so oud soos die berge, sy het ook vir my pa skoolgehou. Ek het Conway Twitty se “Mona Lisa” gekies. “Mona Lisa” is deur Nat King Cole opgeneem, ’n pragtige ballade. Conway Twitty se opname begin mooi besadig en dan bars alle hel los as die tromme en ghitaar bykom en dis serious rock ’n roll. Op daai oomblik het die sangjuffrou die plaat van die platespeler afgehaal en voor die hele klas stukkend gegooi. Wat maar net wys ek het in die regte rigting begin luister.

Dit alles het my in direkte konflik met my pa gebring. Die man was die hoof van die huis. My pa was chauvinisties en patriargaal. Moenie doen wat ek doen nie, doen wat ek sê jy moet doen. Haal jou hande uit jou broeksakke as jy met my praat, mannetjie.

My ma, jis, sy was die sagste mens wat ek geken het. Sy het in Suidwes (Namibië) op die plaas Okakanja Ranch buite Okahandja grootgeword. My oupa Lodewyk van Aardt was ’n lid van die wetgewende vergadering en hy en regter Henry Fagan het glo die eerste Afrikaanse prokureursfirma in Suidwes gehad. Oupa en Ouma het Port Elizabeth toe getrek. Ná Ouma se dood het Oupa met Shady, ’n weduwee en sy jeugliefde, getrou. Die kinders was baie gekant daarteen en Oupa het hulle toe onterf. My ma het vertel Ouma het altyd gesê as sy haar kop neerlê sal Oupa reguit teruggaan na dié jeugliefde. ’n Dag voor sy dood het Oupa, in sy hospitaalbed ná ’n hartaanval, vir ’n prokureursvriend gesê hy het ’n fout gemaak en wil sy testament terug verander. Die vriend het gesê “ag nee wat, Lood, jy gaan nog lank lewe”. Die volgende dag, met Shady alleen by hom, het Oupa gesterf. Sy was ook alleen by haar vorige man toe dié gesterf het. Die familie het toe ’n bevel gekry om beide mans se grafte te laat opgrawe vir forensiese ondersoeke, maar geen gemene spel kon bewys word nie. Daar was lastersake en ’n hooggeregshofsaak met ’n uiteindelike skikking, maar vir my ouers was dit ’n finansiële ramp. My pa moes teruggaan poskantoor toe en my ma moes jare lank in die winkel op Kroonstad op die koue sementvloer werk.

Ouma was ’n produk van die afrondingskool in Wellington en die musiekkonservatorium in Stellenbosch, met ’n lisensiaat in viool, tjello en klavier. In die week was die plaasopstal vol Bach, Beethoven en Rachmaninoff met haar viool en die Steinway-vleuelklavier. Sondae was dit jazz, dit was immers die roaring thirties. Sy het later as professor in musiek in Stellenbosch waargeneem. Sy en Oupa het die eerste kar in Okahandja besit. Ek wens ek het haar geken. Ouma Van Aardt het tydens ’n asma-aanval versmoor. My ma het vertel dat sy kort voor haar dood op die vleuelklavier gespeel het totdat haar vingers gebloei het, desperaat om asem te kry.

My ma, Marie, uitgespreek Marí, was hul enigste dogter en sy was ’n klein tomboy op die plaas. My ma was alles waarvoor ek ooit kon vra. My song, “Marí van Okakanjaberg”, gaan oor haar:

O Marí, Marí, mooiste Marí van Okakanjaberg.

Marí met die ooswind in haar hare

Waar gaan jy heen as jou berg verdwyn

En ’n wolk voor jou son verskyn?

Die Van Aardts se Monty Python-humorsin was ewe wakker in my ma. Eenkeer vra ’n voornemende huishulp vir my ma of ons ’n stofsuier, poleerder en wasmasjien het en noem nog ’n hele rits goeters. Toe sê my ma vir haar ja, ons het, maar kan jy klavier speel, want ons soek eintlik ’n veelsydige pianis.

My pa se familie was weer ’n ander klomp. Oupa Goosen was ’n pastoor in die Volle Evangeliekerk en hy het van die kansel af die mense berispe wat so bôl speel op die Sabbatdag. Ouma Goosen was ’n nasaat van oudpresident MT Steyn. Hulle het in een van daai sandsteenhuise in Stasiestraat, Kroonstad, gebly waar Ouma, ’n beteuterde vroutjie, een aand ’n inbreker met haar kombuismes verjaag het.

My pa het net standerd agt gehad, want hulle was arm en hy kon nie verder gaan leer nie. My ma het aan die Universiteit van Kaapstad studeer. My pa gaan werk toe maar in die poskantoor en word later ’n boekhouer. As jong man is hy Suidwes toe verplaas. Toe stap Marie van Aardt van Okahandja op ’n dag by die poskantoor in en hierdie aantreklike ou bedien haar …

Die hele dorp het oor dié romanse geskinder en gesê Anthonie Goosen sien klaar die rooi Afrikanerbeeste oor die vlaktes van my oupa se plaas aanstap. Hy en Oupa Van Aardt het dadelik gekliek en ure omgepraat. Maar dinge was effe gekompliseerd, want hy was verloof aan ’n blonde Duitse girl, en my ma klim toe maar liewer op die trein Swakopmund toe. My pa verbreek die verlowing, jaag treinstasie toe, hardloop agter die trein aan wat besig was om uit die stasie te stoom en skree vir haar waar sy by die venster uitleun: “Marie, ek het jou lief! Sal jy met my trou?”

My pa het drie kortverhale onder die skuilnaam Anton geskryf en dit is in die destydse Brandwag en Naweek gepubliseer.

Hulle het in Swakopmund op die lang jetty verloof geraak. Haar trourok was baie funky – blou met ’n V en C daarop geborduur, V vir my ma se nooiensvan Van Aardt, en C vir my pa se tweede naam, Christoffel. Ek het nog hul liefdesbriewe, en dis vreksnaaks, jy kan nie glo dis mense wat jy actually geken het nie, nog minder jou ouers. Sulke soetsappige stuff soos “my groot bruinoog-pop”.

So, die romanse was daar, ek weet net nie wanneer dit opgedroog het nie. Hulle het baie baklei en sy het baie gehuil. Dan dreig sy met ’n egskeiding, maar dit kos net soveel, en jy praat nie meer met my nie, en hy antwoord, oukei, praat, laat ek hoor. Wat nie juis encouraging is nie, is dit?

Wanneer die diaken kom huisbesoek doen, het my pa deur die kamervenster geklim en sy Louis L’Amour-boek onder die appelboom gaan lees. L’Amour en Zane Grey wat 120 bladsye vat om te vertel hoe blink die water is. My pa was hierdie teenstellings – die stoere nasionalis wat Engelse cowboyboeke gelees het en mooi mondfluitjie kon speel.

My ma was vasgevang by hierdie Calvinistiese man wat ’n ateïs was en het haar heil en berusting in Oupa Goosen se Volle Evangeliekerk gevind. Sy het finaal uit die NG Kerk padgegee nadat ’n ouderling op huisbesoek klaarblyklik meer wellus vir haar as bid in gedagte gehad het. Sy het my en my broer, Ben, geroep en ons in die sitkamer by haar en die man van die kerk laat sit tot hy weg is.

My pa het haar altyd vir kerk gaan aflaai en dan geduldig ure lank die Sondagkoerant in die kar gesit en lees en vir haar gewag. Die charismatiese kerkdienste hou vir ewig aan, hulle sing eers hierdie koortjies met lekker tunes en wen hulleself goed op en dan’s dit die preek en die socialising agterna. Ek het egter nooit my ouers oor godsdiens hoor stry nie.

My asmabors was die rede hoekom ek nie eintlik Sondagskool toe kon gaan nie. My ma reël toe dat ek die Sondagskoolklasse wat sy vir die Sotho-mense in die garage gehou het mag bywoon.

In dié garage-Sondagskool het ek swart sang ontdek. The harmonies! I mean, you can’t teach a black man to swing. Ek is nou nog mal oor Mississippi-choirs met girls met groot tiete, twee duisend van hulle, “Now Is The Hoooooooour”, “sung in a hartseer way”, soos ’n boek oor Distrik Ses dit stel.

Die invloed van coloured musiek kom van Katryn af. Sy was Jantjie Botha, ons Griekwa-plaaswerker, se vrou en my substitute-ma. Sy het my melkbottels gegee, sy het my doeke omgeruil. Katryn en Jantjie het ’n groot invloed op my gehad, op die jong Anton met die asma wat hy eers op sewe ontgroei het.

My ma was amper dood met my geboorte, en nog ’n kind sou vir haar fataal gewees het. Toe ek vyf was, het my ouers ’n boetie bestel en op Edenburg gaan haal. Benjamin Emmanuel van der Berg. Hy was een van sewe kinders wie se ouers kort ná mekaar gesterf het. My ouers het in Die Volksblad van die wesies gelees. My tante, Myda Lewis, het die een dogter, Ella, aangeneem. Die ander kinders was groter en wou eerder weeshuis toe gaan.

Ben was sewe en ek vyf en hy was die beste ding wat met my kon gebeur. Die dag toe ons hom gaan haal het, het ek sonder ophou met hom gesels. Skielik het ek ’n boetie gehad. Ek het liewer vir hom geword as wat ’n mens vir ’n bloedbroer kon wees. Hy het my nooit veroordeel nie, al was ek anders.

My pa se suster, tant Bowie Vlotman, het daardie Kersfees net vir my ’n present gestuur want “die ander seun is nie familie nie”. My pa-hulle het my present vir haar teruggestuur en hy was só die bliksem in, hy het twintig jaar lank nie met haar gepraat nie. Ek het seker iets van my pa se humeur geërf, want as ek sterk voel oor iets, skop ek ook nogal vas. Ek sal ook twintig jaar lank nie met iemand praat nie. Ironies het my ma en tannie Bowie mekaar ná my pa se dood gevind, met godsdiens as die gemene deler.

Ben was die seun wat my pa wou gehad het, die plaasseun wat help drade span en boer. Ek was die slapgat wat in my kamer gelê en gedigte skryf en meer in Jantjie belang gestel het as die koeie wat hy gemelk het, want Jantjie het my op sy blikghitaar leer tokkel.

’n Huislêer, het my pa my genoem, dan sê my ma lós die kind. Toe ek in standerd ses moes kies tussen rugby en klavierlesse, het ek rugby gekies en toe was my pa darem ’n ruk lank tevrede met my, al het ek net een keer eerste span gespeel.

Dalk was dit ’n goeie ding dat ek nie musieklesse geneem het nie, want ek leer toe om op gehoor te speel. Jare later het ek klavierlesse probeer neem, maar die onderwyser het my eintlik maar net heeltyd uitgevra oor hoe ek my songs skryf. Ek kan steeds nie note (die muso’s noem dit fly shit) lees of klavier speel nie, slegs chord sheets.

My pa was nie net fanaties oor rugby nie, dit was asof hy persoonlik die Nasionale Party gestig het. Sy broer en susters het al drie met Engelse getrou, verengels en Sappe geword. Dit was vir hom ’n steen des aanstoots.

Toe David Pratt Verwoerd in 1960 by die Randse Paasskou skiet, het ou Veerpoot, Ben se houtwerkonderwyser by Afrikaans Hoër in Kroonstad, in die klas gesê dis jammer Pratt het nie ’n beter job daarvan gemaak nie. Ben het dit vir my pa vertel, my pa is reguit skoolinspekteur toe, dit het by die parlementslid, Alwyn Schlebush, gaan draai en Veerpoot het sy werk verloor. Dit wás nogal ’n heavy ding om vir kinders te sê.

My pa was erg Afrikaans-patrioties. Toe ek later jare ’n Engelse kollega van St Stithians huis toe bring, het my pa heelnaweek nie ’n woord vir hom gesê nie. Al kon hy perfekte Engels praat.

Eenkeer met vakansie aan die Natalse kus het ons in die Midlands oorgeslaap. Die hotel se ontvangsvrou het die fout gemaak om vir my ma te sê: “I don’t speak that language.” My ma antwoord: “You illiterate, unilingual English woman.” Komma. Punt. En toe die res. That language … daai boerse ding wat uit die kombuis kom.

My ma kon sewe tale praat: Afrikaans, Engels, Duits en vier inheemse Namibiese tale. Kleintyd het sy dikwels vir my in die klikgeluide van Nama getel.

My pa het binne drie maande Duits leer praat. As hy en my ma nie wou hê ons moet verstaan wat hulle sê nie, het hulle oorgeslaan Duits toe. Hulle het mekaar in teer oomblikke Schatzie en Liebchen genoem.

Sondae in Kroonstad het ons langs die teerpad met toebroodjies gesit en na die karre wat verbyry gekyk of langs die Valsrivier piekniek gehou. Ons het altyd ’n journey gemaak van enige reis en maklik agt uur van Bloemfontein Pretoria toe gery, want dáár lê klippe wat ons kan optel vir die tuin, híér’s ’n mooi spot om uit te check, ’n plaasdam om in te swem … die bietjie-bietjie ding. Min het ek toe geweet die langpad gaan my lewe word.

My ma het my liefdevol aangemoedig met my gedigte en opstelle en toe ek in standerd drie was, het my pa, Poskantoorman wat hy was, my gekry om seëls te versamel. Hy het dikwels eerstedagkoeverte huis toe gebring en die prentjies op die seëls van die verskillende lande het my gefassineer, dan gaan kyk ek in die atlas waar dit is. Ek het vir posmeesters oor die wêreld geskryf om asseblief vir my seëls te stuur. Ek het nogal redelik reaksie gehad. Die Franse posmeester het my geantwoord: Jy is ’n oulike seun – tu es un bon garçon – wat nogal baie cool was. Dit het my kennis en aardrykskunde laat verbeter, en dis waar my liefde vir geskiedenis vandaan kom. Ek is ’n hoarder, so van toe tot nou maak ek seëls bymekaar, maar dit beteken nie dis als netjies in boeke met vergrootglase langsaan en saam met ’n seëlkatalogus nie, dit beteken dis in bokse en nog nie gesorteer nie. Maar versamel is versamel.

My pa het ook van my skryfwerk gehou, maar die gort was gaar toe ek in Engels begin musiek skryf. Êrens in my agterkop draai Pappa se stem: “Seun, is jy skaam om Afrikaans te sing, ’n boerklong wat met ’n vreemde os ploeg, ou oom Chris Blignaut was mos goed genoeg.” Chris Blignaut het sy shows met ’n ukulele in sy hand begin, het julle al ooit so groot man op so klein dingetjie sien speel?

Die Afrikaanse lirieke het eers begin kom nadat ek begin skoolhou het. Ek was verskriklik trots toe ek my plaat huis toe kon vat. Met my eerste Afrikaanse plaat in 1972 was my pa reeds oorlede.

Hoe sou my pa nou oor my hele Afrikaanse trip in musiek gevoel het? Die Liedjieboer-ding? Ek wonder. Sóú dit ’n Afrikaanse trip gebly het, of sou ek juis om hom finaal die middelvinger te wys weer in Engels begin skryf en sing het? Hy was tog so supernasionaal en paternalisties en, kan mens seker sê, fascisties.

Toe ek jonk was, in die 1960’s, was als wat ons op LM-radio gehoor het great musiek. Alles Engels, natuurlik, en dis hoekom ek in Engels begin skryf het. “Heartbeat” van Buddy Holly en Mickie Most and the Playboys wat al die Chuck Berry songs gecover het. Hits of the Day, “Sweet Little Sixteen”, en as jy mooi luister na Bad Company, se “Shooting Star” kan jy hoor hoe speel hy in die wind, en die tol wat rock ’n roll geëis het: “bottle of sleeping pills next to his bed”. As jy dié song en Chuck Berry se “Johnny B. Goode” bymekaar sit, kry jy die volledige storie van rock ’n roll.

Vir hierdie Kroonstadse tienerseun vol testosteroon was die ducktail-era onweerstaanbaar: eendsterte en sheilas wat op motorfietse rondry en later die hippie-ding met bell bottoms en flowers in their hair. Maar vir my was daardie tyd se werklikheid die hele marsjeerdery-ding, vlaghysings en jeugweerbaarheid en staan op aandag vir “Die Stem”. Ek het spesiaal my een knie geknak of skelm met my duim in die broeksak gestaan.

My pa het in my standerdnegejaar my ghitaar in sy hangkas toegesluit. Ek het die ghitaar eendag uitgehaal, bakstene in die ghitaarkas gesit en die ghitaar het toe ’n tuiste gevind by my pel Gabriël Diedericks saam met wie ek my eerste band begin het. Gabriël het al gewerk en net bo die skool se sportgronde gebly, gerieflik naby, so gedurende pouses en wanneer ek uit klasse gejaag is, het ons geoefen. ’n Wen-wen-situasie.

As meneer De Munnik op my gil: “The honourable Mr Goosen, get out!”, is ek reguit na Gabriël toe vir ’n ghitaarles-jam. Dit was maklik om De Munnik te ontstel. So, daar was baie rehearsals. Gabriël was weird, hy het lang hare gehad en teen sy kamermuur was dooie vlermuise en operaplaatomslae vasgeplak.

My pa het my in Arbeidsvreugde, die skoolkoshuis, laat “opneem” in ’n desperate poging om my dissipline te leer, maar toe vang hulle my met ’n ghitaar en ’n sigaret in die bad en ek word geskors. Terug by die huis loop ek een aand weg. Ek vorder net tot by die groentetuin en raak aan die slaap. Later die aand het my pa my daar kom wakker skop.

In dié tyd moes ek skoolsielkundige toe, want al waarin ek belang gestel het, was musiek. Ek moes vir hom als neerskryf wat ek ná skool doen: LM-radio luister, bietjie ghitaar terwyl my broer trekklavier speel en weer LM-radio luister en weer ghitaar dan gaan slaap ek. In sy verslag skryf die sielkundige: “Jammer jy gaan nie ’n bestaan kan maak uit musiek nie, Anton, net die regte groot musikante soos Nico Carstens en Hennie Bekker kan.” Ek het jare later die storie op Facebook vir Hennie Bekker vertel – hy is deesdae in Kanada – en hy het gedink dis verskriklik snaaks. Die ding is dat daai skoolsielkundige net so maklik reg kon gewees het. Daar is nie reëls vir dit “maak” of “nie maak” nie.

Ná die skoolsielkundige het my ma-hulle my na ’n psigiater in Pretoria opgegradeer. Dié man wou weet of ek masturbeer en het bygevoeg dat baie getroude mans dit bo hul vroue verkies. Oukei, dankie vir die oversharing.

Ek het eendag gehoor hoe een van my ma se vriendinne vir haar en die ander tannies vertel Anton gaan eendag ’n hartebreker wees. Ek moes dit nie gehoor het nie, dis nie iets wat jy voor ’n kind sê nie, dis so goed jy praat van sy IK.

Nie lank daarna nie, word my pa na Welkom se posspaarbank verplaas. In my matriekjaar by Hoërskool Goudveld vermoed ’n onderwyser ek rook dagga, maar my briesende ma laat my by ’n onafhanklike dokter in Kroonstad toets en die uitslag is negatief. In retrospeksie dink ek die onderwyser was goofed.

In Welkom het ons ook bands gehad, jy jol mos net rond daai tyd in jou lewe, maar garage-bands is die baarmoeder, dis waar alles begin. Dit was dan die jong Anton: Iemand wat gefassineer was deur musiek en ver plekke en reis, met ’n begeerte om in die groot stad uit te kom, daai ding van “Johnny B. Goode”, “play a guitar just like ringing a bell … Maybe someday your name will be in lights/ saying ‘Johnny B. Goode Tonight’.” Ek dink vandat ek begin ghitaar speel het, was dit die droom in my kop.

Ek kan regtig nie onthou wanneer ek my eerste song geskryf het nie, dit was seker so in 1959 of 1960, standerd ses, sewe. Ons was by die landbouskou en Charles Jacobie en so ’n Chinese ou wat trieks gedoen het, het opgetree en Charles het hierdie geel ghitaar gespeel, ek was in standerd vier en dit het my totaal gefassineer. Snaaks, die joernalis Max du Preez was ook op daardie landbouskou en hy het ook na Charles Jacobie gestaan en kyk.

Max het ook op Kroonstad grootgeword. So ook Clarabelle van Niekerk van die Musiek-en-Liriek-beweging van 1979, Stephan Bouwer die digter, Mosiuoa Lekota van Cope en Antjie Krog. My ma en Antjie se ma, die skrywer Dot Serfontein, was beste vriendinne. Ek was op hoërskool toe Antjie se eerste skrywes die konserwatiewe dorp tref en almal skinder oor die kind wat met die piekaniens in die mielielande rondhang. Lekota, toe het hulle hom nog Terror genoem, het as jong man in ons tuin in Suidrand gewerk. Hy onthou dit vandag nog.

Ek het met my ouma se viool begin speel asof dit ’n ghitaar is en toe gee my ma-hulle my eerste ghitaar vir my en bêre die viool op ’n veilige plek. Die ghitaar was ’n gele, net soos Charles Jacobie s’n. Dis maar hoe dit begin het. Dan aap jy ander mense se songs na, tot jy self probeer skryf. Maar dit was infantiele liedjies, eers ná kollege kon ek uitkom by iets meer substansieels.

In 1962 onthou ek hoe die geskiedenisonderwyser gesê het ons is op die rand van ’n derde wêreldoorlog. En toe draai die Russiese kernbote wat op pad was na Kuba om. Dit was vir my ’n keerpunt. In dié tyd het die burgerregtebeweging in Amerika begin en die folkbeweging het songs daaroor begin skryf. Dit sou my songwriting mind en bewussyn vir altyd verander.

In my matriekjaar, 1963, het Sanna my hart gebreek. Dit was my eerste ontmoeting met die emosie van verwerping. Sy was in standerd ses en al sestien. Ons het in die fliek ontmoet en in die veilige skemer van die movies geheime oefenlopies gedoen. Leer vry. Ek het haar eenkeer vir fliek gaan haal en terwyl ek in die sitkamer wag het haar pa vertel dat sy vroeër gebad en gegly het, en toe is die seep weg. Hy het op die myn gewerk. ’n Ondergrondse man.

Haar broer het my jare later by ’n Jack Hammer-gig van Piet Botha in Rockeystraat in Yeoville kom groet. Hy het met ’n swagger nadergestap, steeds met die ducktail-haarstyl. Hy het die Texan Plain op die houttoonbank getik-tik en vertel Sanna se man, Attie, het haar gedwing om al die liefdesbriewe tussen my en haar te verbrand “toe jy famous geraak het”. Vurige teenager-briewe vol wellus. Agterop die koeverte het ons goed geskryf soos S.W.A.N.K. – sent with a nice kiss. Of: Postman, postman don’t be slow, be like Elvis, go man go!

Sy het ’n boodskap vir my, het haar broer gesê. “Sy sê ek moet vir jou sê sy ry vandag ’n rooi Alfa Spider. Soft top. Attie doen sommer self die tune-ups.”

Skielik onthou ek daardie aand in matriek by die gig. Ek kan nie onthou wie gespeel het nie, maar ek weet dit was ’n rock ’n roll band. Early sixties stuff. By die Flamingo Hotel. Dit was toe Sanna toilet toe is dat ’n ander dude nader stap en met my begin gesels – ’n gróót dude wat al werk. Sy kraag was opgeslaan, regterarm getatoeëer, duime in sy jean se bosakke. ’n Yslike buckle aan sy belt, soos Jim Morrison van The Doors. Die seksbul.

“My naam is Floors,” sê hy. “Weet jy dat ons al twee Sanna se boyfriends is?”

Haar gesig is die ene onskuld toe sy ons langs mekaar sien staan. “Jy moet kies,” sê Floors vir haar. “Jy kan nie ons al twee hê nie. Kies!”

Hy gooi sy kop effe terug. Wag vir die antwoord.

Wat toe gebeur het, is die deel wat ek die beste onthou. Hoe haar oë eers oor my en toe oor Floors en toe weer na my gegly het, soos wanneer ’n mens tussen komkommers in die groentewinkel moet kies.

“Ek kies hóm,” het sy gesê, haar oë op Floors se buckle. Ek het nooit verstaan hoekom sy hartseer geklink het nie; dalk het ek my dit verbeel. Dalk wóú ek my dit verbeel.

By die huis het ek woordeloos op my bed gaan lê en die emosie verwerk, in die mate dat tiener-emosie verwerk kan word. Dit was nie goed vir my ego nie, eintlik glad nie goed nie. Ma het in die gang verbygestap, instinktief geweet en my een kyk gegee: “Daar is baie visse in die see.” En aangestap.

“You’re as sweet as Tupelo honey”, kom die Van Morrison-song vanaf die band stand. Sanna se broer gly met sy geel rookvingers deur sy kuif.

“So Sanna ry vandag ’n Alfa Spider?”

“You’re an angel from the first degree” …“Ja, sure. Het jy dalk ’n boodskap vir haar ook?”

“You’re as sweet as honey from the bee” …

“H’m ja, ek het. Sê vir haar daardie aand, daardie aand met Floors het sy reg gekies …”

Anton Goosen

Подняться наверх