Читать книгу Anton Goosen - Hanlie Retief - Страница 11
6
ОглавлениеMusiek-en-Liriek
Fanus Rautenbach was een van die 80 teatergangers op 24 Maart 1979 in die Laager van die Markteaterkompleks toe die nuwe Musiek-en-Liriek-beweging begin het. Hy skryf in Die Transvaler só daaroor:
“Daar word geskiedenis gemaak, en net 80 mense weet daarvan. Dit is hoeveel daar Saterdag was toe sewe Afrikaanse sangers 21 Afrikaanse liedjies gesing het. Maar as ek sê Afrikaanse liedjies bedoel ek Afrikaanse liedjies. Dit is musiek en liriek wat jou weer trots maak dat jy ’n Afrikaner is. Dit gee jou ’n warm gevoel, ’n warm hoendervleis!”
Skielik was daar groot belangstelling en die Laager-optrede is opgevolg met een in Pretoria en weer optredes ’n week lank in die Laager. Toe is ons na groter teaters soos die Arena in Rosebank en die Wena Naudé by Unisa in Pretoria. Dis gevolg deur Truk-toere deur die ou Transvaal (deesdae se Gauteng en Limpopo), Sukovs-toere deur die Vrystaat en ’n speelvak van twee weke in die destydse SFW-amfiteater in Stellenbosch.
Rosa Keet, wat die konserte georganiseer het, het in Die Vaderland geskryf dat Musiek-en-Liriek ’n versamelnaam geword het vir “iets wat ’n mens nie anders as ’n beweging kan noem nie, daar is ’n onteenseglike oplewing in die produksie sowel as die uitvoering van eietydse ligte Afrikaanse liedjies wat heeltemal ongeëwenaar is”.
Saam met my was Laurika Rauch, Jannie du Toit, Louis van Rensburg en Clarabelle van Niekerk. Merwede-hulle het Sonja uitgesluit, maar 16 van my liedjies, die meeste deur Sonja gesing, is wel gebruik.
Daar was destyds baie kritiek teen Sonja oor wat die media “die stemmetjie” genoem het. Sommige het haar nie gelaaik nie. Dit was ’n eensydige besluit deur Merwede en haar clan om eerder Mynie Grové, Sias Reynecke, Des Lindberg en Laurika te gebruik, wat volgens hulle goeie stemme gehad het wat reg kon laat geskied aan die songs. Niks anders as vooroordeel nie. Snobisme en elitisme.
David Kramer, Amanda Strydom, Coenie de Villiers en nog baie ander het later bygekom by die konserte in Stellenbosch en elders. So ook Koos du Plessis, van wie baie songs reeds in die TV-reeks gebruik is, en Anneli van Rooyen. Wat uit die beweging gevloei het, geld vandag nog. Die streep is in die sand getrek.
Gedurende die amfiteaterreeks in Stellenbosch het David Kramer en ek ontmoet – ’n vriendskap wat tot vandag toe hou. Koos du Plessis en ek het ook seriously ge-connect. Ons het van mekaar se songs gehou. Hy het “Josie Josie” uitgesonder. Een aand het hy en ek lank in sy hotelkamer gekuier en hy het vir my ’n song (hy het daarna verwys as ’n deun) of twee gespeel. Iemand in die kamer langsaan het teen die muur geslaan – Koos het soos ’n oester toegeklap en nie verder gespeel nie.
Ek het saans voordat hy op die verhoog gaan sy ghitaar vir hom gestem. Hy het gaan sit en sy songs in so ’n rare posisie gesing, met die een been oor die ander. Ná die tyd het hy die bussie wat ons terug hotel toe vervoer het ontbied en, soos hy dit gestel het, die plek ontruim.
Voor Musiek-en-Liriek het Stephan Bouwer die programreeks Fyn net van die woord gemaak. Die mense het op hooibale gesit en gedigte wat hulle getoonset het gesing. Stephan het dit die stukrag vir die Renaissance van die Afrikaanse lied genoem.
Daar’s mense wat sê die Musiek-en-Liriek-beweging het Afrikaanse musiek van ondergang gered. Wat dit wel gedoen het, was om dit ’n nuwe rigting te gee. En wie moet ons daarvoor bedank? Die Broederbond met sy propagandamasjien, die SAUK. Toe die Broederbond op sy magtigste was, en die SAUK se sensuurkomitee op sy fluksste, het die owerstes besluit Afrikaanse televisie het ’n hupstoot nodig, Merwede het die groen lig gekry vir ’n verskeidenheidsreeks, en hoera, hier kom Musiek-en-Liriek! Dit was ’n reeks van vier programme.
Mynie, Sias Reynecke en Des Lindberg was betrokke by die reeks, Merwede maak my toe musiekadviseur vir die klankopnames met Zane Cronjé wat die verwerkings en vermenging doen. Dit was groot pret, die hele ding. Merwede het chroma key vir die reeks gebruik, so ’n blou agtergrond, en dan lyk Mynie Grové-hulle asof hulle op lug loop. Ons was eintlik almal groot pelle, ek en Antjie, Stephan, Merwede en kunsregisseur Marlene Prinsloo, almal deel van die boheemse crowd in Joburg, by die SAUK, in Melville en Westdene.
Musiek-en-Liriek was vier, vyf keer groter as die latere Voëlvrybeweging. Dit was ’n teenvoeter vir die klakkelose vertaling van Europese schlager-liedjies wat aan die orde van die dag was. Sias Reynecke en Gert van Tonder van Groep Twee was goeie muso’s, maar hulle het ’n klomp vertalings van Duitse songs vir Albie Venter se EMI gedoen.
Daar wás goeie oorspronklike Afrikaanse musiek voor Musiek-en-Liriek. Ek het baie van Nico Carstens gehou. Hy en die liedjieskrywer Anton de Waal, wie se naam eintlik George Charles Gunn was, het baie goed saamgewerk. Anton het aanvanklik saam met nog ’n legendariese liedjieskrywer, Danie Bosman, liedjies begin skryf maar nooit regtig sukses behaal nie. Toe het hy en Nico Carstens begin saamwerk, en dinge het verander. Hulle was êrens in Natal toe Anton die “Hasie”-liriek op ’n stuk toiletpapier geskryf het. Dis deur Al Debbo opgeneem en in ’n nagklub in Johannesburg gelaunch. “Hasie” was ’n groot treffer, 80 000 eenhede daarvan is verkoop. Nico en Anton het saam 600 liedjies geskryf wat die maatstaf vir Afrikaanse musiek geword het. “Zambezi”, Nico se grootste treffer, is in 1953 opgeneem, en dit het internasionaal bekend geword nadat die Britse trompetspeler Eddie Calvert, The Shadows en die Duitse Bert Kaempfert-orkes dit opgeneem het. Dit het die Britse treffersparade gehaal.
Volgens Ollie Viljoen was Anton de Waal my voorganger. Anton de Waal het weer in Danie Bosman se voetspore gevolg. En hier aan die kant was die twee De Langes, Silver en Dawid.
Ek het aan die begin van my loopbaan self ’n handvol lirieke vir oorsese deuntjies geskryf, iets waaroor ek spyt is, maar mens groei mos, jy verander. Dit was veral weens die invloed van my mentors, Louis Combrinck en Anton de Waal.
Louis het vir Afrikaanse musiek baklei en die uitheemse elemente probeer uithou. Hy was self ’n skrywer van wonderlike liedjies. Ek kom uit daai skool en het, soos hulle, geveg vir inheemse Afrikaanse musiek.
My sukses met “Kruidjie” en Boy van die suburbs het Merwede en die ander klomp laat besluit Anton Goosen moet vasgevat en teruggeruk word aarde toe, sodat Musiek-en-Liriek net kan bly soos dit is, mooi onder beheer. Hierdie uitskieter mag nie handuit ruk en net sy liedjies skryf soos hy lus het en doen wat hy wil nie, daai tipe van ding. Dis weer eens daai ding van mag. Of soos Fanus Rautenbach eens vir my gesê het: “Die Afrikaner is soos paddavissies in ’n modderdam – nes een wil uitklim help die ander hom terug.”
Ek weet nie hoekom hulle dit wou doen nie, want ek het famous geword en ek kon dit nie terugdraai nie, ek wóú dit nie terugdraai nie, hoekom sou ek wou? Dis dan wat ek nog altyd wou hê.
Ek en Laurika het in elk geval nie meer die Musiek-en-Liriek-beweging nodig gehad nie, ons het die trefferlyste gehaal, saam gaan toer en dinge het groot geraak.
Laurika het haar eerste man, Awie de Swardt, in my huis in Sunnyside in Johannesburg ontmoet. Hy was ’n vriend van my en Laurika bel my en vra: “Moet ek met hom uitgaan?” Ek dink nie ek het die woord NEE al ooit in my lewe harder geskree nie. En wat doen sy? Sy gaan vir hom. Big time. Sy sal nog so in ’n geselskap sit, dan kondig sy dramaties aan: “Ek wil net vir julle sê, mense, ek het lief!”
Awie was ’n baie aangename mens. Dieselfde Awie het die produksieontwerper Marlene Prinsloo se kat teen die muur doodgeslaan. Awie het een keer die omroeper Wouter de Wet se huis in Westdene opgepas. Toe Wouter by sy huis terugkom, is ’n partytjie in volle gang, almal is lekker aan die kuier en al die swembadstoele is in die swembad.
Awie vra vir Wouter: “Sal jy vir my ’n steak-mes bring, asseblief?” En Wouter antwoord: “Hoekom gebruik jy nie sommer jou tong nie, hy is skerp genoeg.” In die middel 1980’s bevind Awie hom iewers anderkant Darling aan die Weskus. Hy het my altyd in die middel van die nag gebel. Eenkeer wou hy ’n konsert reël om geld vir die plaaslike krieketspannetjie in te samel. Almal het gedink ag nee wat, dis maar net ou dronk Awie, maar toe kry hy dit reg, nes hy die Afrikaanse liedjiefees by Vanderbijlpark gereël gekry het.
Hy het op Bloubergstrand selfmoord gepleeg. “Goeiemôre my sonskyn, goeiemôre my kind …”
Tipies van daai era het die SAUK se Afrikaanse radiodiens toe ewe vernaam in Januarie 1980 ’n week lange simposium in die Piet Meyer-gebou gereël om hierdie nuwe tendens in Afrikaanse musiek van alle kante te bespreek.
Dit was net die plek om my vas te vat.
Bennie Bierman, wat Anton Hartman opgevolg het as hoof van musiek by die SAUK, het die simposium gelei. Anton Hartman was ’n voorstander van daai populêre, sentimentele Duitse snert in Afrikaans. Bennie se oomblik van glorie was toe hy die temaliedjie vir Haas Das se Nuuskas, ’n TV-kinderprogram, geskryf het.
Voor my spreekbeurt het Bennie gesê: “Waterblommetjies” is ’n goeie voorbeeld van ’n liriek wat musikaal gesproke heeltemal verkeerd is. Die lied sou baie beter gewees het as “waterblomme dáár in die Boland” en nie “waterblommetjies in die Boland” nie. Dis een van die belaglikste stukke snert wat ek nog gehoor het. Hennie Aucamp, dramaturg en skrywer, ook van kabarette, is ontplooi om my liries reg te sien. Hy gebruik ook “Waterblommetjies” as ’n voorbeeld van verwarrende lirieke, praat van onduidelikheid oor plekname.
Marlene Prinsloo het my die vorige aand teen Bennie en Hennie gewaarsku, ek was heeltemal voorbereid daarop. Ek antwoord toe in my spreekbeurt vir Bennie “waterblomme dáár in die Boland” klink nie vir my musiek-ore juis liries nie, 80 000 mense het reeds hierdie song gekoop en hulle is almal happy daarmee. Maar dankie vir die belangstelling.
Vir Hennie Aucamp antwoord ek: “Dis jammer, doktor, dat jy na die verkorte weergawe geluister het. In die volledige weergawe is daar geen verwarring met plekname nie, dis presies so op die padkaart.” Hennie het my daardie aand by my en Laurika se show in die Arena in Rosebank om verskoning gevra dat hy om die bos gelei is deur Merwede-hulle wat net ’n verkorte weergawe van die lied vir hom gegee het. Ek het gedink dit was groot van hom, maar vir Merwede was ek baie lank vies. Sy het later ’n monnik in ’n Boeddhiste-klooster in Kanada geword, van alle plekke. Sy is in 2013 op 66 alleen en vereensaam in Frankryk aan borskanker dood.
Laurika, wat ook die sonde gepleeg het om die trefferlyste te haal, het net so deurgeloop by die simposium. Stephan Bouwer en sy cronies se messe was geslyp, want hulle het gereken Laurika het uitverkoop, sy moes eerder by die “kleinkuns” gebly het. Eerder as ’n reggae-song, moes Laurika se “Die lewe is ’n grenshotel” net ghitaar en stem gewees het, is op die simposium gemaan. Hulle het ook kritiek gehad op “Mpanzaville”, my rock-protesliedjie wat Laurika opgeneem het. Van reggae en rock moet weggebly word, is vroom gesê.