Читать книгу Marta - Helena Hugo - Страница 10
ОглавлениеSes
Gunther gaan nie reguit huis toe nie. Hy loop lang draaie deur die dorp waar hy grootgeword het en lank gelede skoolgegaan het. Die plekkie het agteruitgegaan en vertoon beter in die nag as in die daglig. Maar miskien is dit net hy wat dit soos ’n sprokieswêreld onthou het. In sekere sin het dit nie veel verander nie. Min nuwe huise is gebou en geen strate is geteer nie.
Hier en daar sien hy huise wat opgeknap of gerestoureer is. DIE OU PASTORIE is netjies, die ander gastehuis – GERDA SE GASTEHUIS – lyk ook vooruitstrewend. Die kerk het ’n nuwe laag verf gekry. Te veel huise lyk asof hulle leeg staan. Maar miskien gaan slaap die huismense saam met die hoenders. Hier en daar hoor hy ’n televisie te hard of hardloop ’n hond langs ’n heining af en blaf vir hom. By een huis gaan ’n voordeur oop. ’n Man verskyn, lig sy kop asof hy reën ruik, staan ’n rukkie, draai dan om en gaan in.
Die hoofstraat is verlate. Hier en daar brand ’n straatlamp, ook enkele ligte in die algemene handelaar en in Bakker se bakkery. Die poskantoor staan gehul in stikdonkerte. Daar is nie ’n mens te sien nie, net ’n rondloperhond wat stert tussen die bene padgee. Gunther loop deur die hoofstraat tot by die kliniek. Die enkelstraatlig gee genoeg lig om die diefwering voor die deure en vensters duidelik te sien. Hy skud sy kop. Diefwering was nog nooit nodig om die kliniek te beskerm nie.
’n Kilometer of wat verder, in die arm deel van die dorp, huil ’n baba. Die skeidslyn tussen die bodorp en die onderdorp is opvallend – selfs in die nag.
Toe hulle kinders was, het hulle nie onderskeid getref nie. Hy en Herman en hul maats van die onderdorp het dikwels snags die strate ingevaar, gaan vrugte steel by die Vissers en die Frankes, tot buite die dorp fietsgery om in vrede te rook, natgedou by die huis aangekom, een keer ’n loesing gekry omdat hulle die Bezuidenhouts se honde losgemaak het en die spanjoele in die Stalse se hoenderhok beland het.
In die verte sien hy ligte teen die wit ringmure van die plaasopstal. Dis te ver en te laat om vanaand te gaan aanklop. Tyd om om te draai en terug te stap voor hy nog slapende honde wakker maak.
Hy hoor by sy pa dat Herman met Andrea van Jaarsveld getroud is en groot kinders het. Tant Alida is oorlede en oom Maans is in die ouetehuis op Lambertsbaai. Herman en Andrea boer vooruit, hulle is skatryk.
Hy sal môre gaan groet en verneem hoe dit met die ander maats gesteld is. Miskien weet Herman. Gunther het in die tyd dat hy oorsee gewerk het, alle kontak verloor. En sy pa ken ook nie meer elkeen se stories nie. Soms wonder hy of dit goed was van hom en Deon om oorsee te gaan bly. Maar hier sou hulle dit nie kon uithou nie. En Deon het sy Chanté in Bahrein ontmoet. So ’n lang draai het die liefde met sy broer geloop, dis vreemd. Vreemd ook van die mooie Marta Koster, wat ongetroud is en haar ma oppas soos ’n tipiese oujongmeisie uit die vorige eeu.
Dit lyk nie of die ander mense wat vanaand by die pastorie vergader het, dit raaksien nie, maar sy is sielsongelukkig. Terwyl hulle lag en gesels, het sy lang rukke stil gesit en kyk na haar hande, dan skielik rusteloos geraak soos toe sy opgespring het om die teekoppies bymekaar te maak. Sy het daarmee uitgestap kombuis toe voor hy die skinkbord uit haar hande kon neem.
Gunther loop. Hy loop by sy ouerhuis verby sonder om in te gaan. Die kerktoring, wat die naghemel deurboor, trek sy aandag. Hy stap al vinniger soontoe, kerk toe. Die groot erf is afgebaken met ’n lae muurtjie. Hy volg dit tot by die houthekkie wat maklik oopgaan. Hy stap deur en loop net ’n paar treë voor hy gaan staan en opkyk. Hy het lanklaas in die Suidelike Halfrond na die naghemel gekyk. Die sterformasies lê andersom, dit disoriënteer hom. Hy voel of hy op ’n ander planeet beland het en moet afkyk om sy ewewig te herwin.
Oral in die tuin is daar ligte op pale, dit gooi ligkolle uit, maar veroorsaak ook lang skaduwees.
Hy loop met die paadjie af. Die tuin is goed versorg, geurende rose groei links en regs van die paadjie. Die stoeptrap is nie so hoog soos hy dit onthou het nie. Gou staan hy voor die toe deur. Dis stewige, swaar dubbeldeure. Hy vryf oor die hout, voel die growwe grein onder sy handpalms, die kilte van die grendels. ’n Ruk lank staan hy dit en vashou, sy voorkop teen die deur. Hy is leeg en onvervuld, onseker oor sy toekoms.
“U, Here, U is tog hier,” bid hy. “U ken my beter as wat ek myself ken. Gryp my en keer my, hier waar dit voel asof ek ankerloos dryf op die plek waar ek my lewe begin het. U het my tussen heidene laat woon sodat ek u kinders kon leer uitken. U het my laat sien dat my eie mense my nodig het, én dat ek van nou af ’n ander taal sal praat, nie Frans of Koreaans of Arabies of Engels nie – die taal van u hart, van liefde, geloof en vergifnis. Ek wil dit leer, ek wil dit my eie maak. Help my, stel my gerus! Gee my ’n teken.”
Die Here kom nie altyd met donderslae en stormwinde nie, en Hy kom na Gunther in die koel nagwind wat teen sy rug vaswaai. Hy kom onder begeleiding van die gesang van sterre, met woorde wat net deur dromers en bidders gehoor kan word. Gunther voel hoe God sy asem oor hom blaas. Hy herken God se Gees wat vertroos en versterk en hy weet dat hy die regte besluit geneem het.
Toe hy omdraai en terugstap, is sy treë vas en seker.
Marta sluip op haar tone kombuis toe. Maar meneer Stals het haar ma wakker gemaak met sy getoeter. Sy haal nie die kombuis voor Hetta haar klokkie lui nie. Sy is ook nes ’n baba, wakker en klaerig by die geringste aanleiding.
“Ja, Moeder?” Marta skakel die spesiale flou bedliggie aan.
Hetta het opgeskuif teen die bed se koprus. Sy klou ’n kussing teen haar bors vas. “Wat gaan aan?” vra sy verskrik.
Marta gee ’n tree nader. “Niks,” sê sy.
“Ek het die mishoring gehoor.”
“Moeder het gedroom.” Marta skink ’n halfkoppie water in die glas. “Wil Moeder bietjie water hê?”
“Daar was ’n mishoring.”
“Dis seker maar ’n droom.” Marta gee die water aan.
Hetta vat dit nie, sy frons. “Ek hoor die see.”
“Dis die wind.”
“Jy jok al weer vir my.”
“Drink Moeder se water.”
Sy neem die water, maar drink dit nie dadelik nie. Sy kyk stip na Marta, bekyk haar op en af. “Waarheen gaan jy?”
“Ek gaan nêrens nie. Ek is terug. Ek was by die sopkombuisvergadering by die pastorie. Dania het hier kom bly.”
“Sy het my in die bed gestop voor ek Sewende Laan kon kyk.”
“Moeder het gekyk, ek het Moeder sien kyk voor ek weg is. Onthou Moeder nie?”
“Kan jy die see hoor?”
“Nee.”
“Hoe laat is dit?”
Marta loer na die wekker. Dis halftien. Haar ma sal weer dink halftien is naby middernag en sy het gaan draaie loop ná die vergadering. Sy het net stadiger geloop en gesels, nogal met Gunther Swanepoel. Sy vertel ’n witleuentjie vir Hetta.
“Negeuur,” sê sy.
Hetta gee die leë glas vir haar aan.
“Vat my toilet toe,” sê sy.
Marta gehoorsaam, al voel sy by voorbaat die lamheid tussen haar blaaie opkruip, die pyne in haar arms. Sy help Hetta om haar kamerjas en pantoffels aan te trek. Sy sleep die rystoel nader. Dis ’n erge gesukkel dié tyd van die nag, ’n marteling vir haar ook. Na dese sal sy tot rus kan kom, dink sy terwyl sy haar ma op die toilet help. Eienaardig hoe sy heeldag werk en haar spiere nooit daarby aanpas nie. Dis van die vensters was en met haar arms bokant haar kop staan en gordyne afhaal en ophang dat sy so vol pyne is. Sy werk, maar sy word nie fiks nie. Snags as Hetta eindelik tot rus gekom het, lê sy en storieboeke lees, liefdesverhale wat sy deur haar boekklub bestel, elke kwartaal drie boeke. Dis haar enigste ware spandabelrigheid, haar geheime sonde. Eendag gaan dit haar inhaal, want die boeke word meer en meer en sy kan hulle nie uitstal nie. Sy sluit hulle in haar trousseaukis toe. Laas Kersfees het sy ’n sak vol vir Dania gegee met die uitdruklike opdrag om nie te vertel waar sy hulle kry nie. Nou is Dania haar medepligtige en die boekies lê seker die hele onderdorp vol. Sy het Dania belowe sy kry nog as sy nie vertel waar hulle vandaan kom nie. Dis hoekom Dania tevrede is met net veertig rand ’n keer om Hetta op te pas.
Haar ma is klaar. Hulle maak ’n draai in die badkamer om hande te was. Sy gaan sit haar in die bed.
“Dankie,” sê Hetta.
Marta buk oor en soen Hetta op haar voorkop. “Nag, Moeder.”
Sy bad nie, sy sal dit môreoggend doen. As sy nou badwater intap of stort, steur sy haar ma. Sy tap water in die wasbak, was en borsel haar tande. Sy laat haar kamerdeur op ’n skrefie oopstaan sodat sy die klokkie kan hoor, en die lig nie haar ma sal pla nie.
Saans slaan sy haar Bybel oop en lees net een versie. Dis in die oggend vroeg dat sy langer lees en haar dagstukkieboek byderhand hou vir die dag se les. Soms kom sy nie daarby uit nie, soms slaap sy te laat of roep haar ma te vroeg.
Toe sy eindelik in die bed klim, is dit byna elfuur. Dis nie so erg nie, sy lees dikwels tot eenuur, halftwee. Sy het ’n lekker storie waarmee sy eergisteraand begin het, maar vanaand moet sy die versoeking weerstaan en behoorlik uitrus sodat sy nie môre so vaal voel en lyk nie. Slaap is ’n goeie opkikker en sy wil hê haar vel moet gloei en haar oë blink as Deon haar sien. Hulle sal mekaar sien. Miskien wil hy ook sy hare laat sny. Sal dit nie wonderlik wees nie!
Marta rek oor en tel haar Bybel van die bedkassie af op. Dit staan in die Bybel: Die man sal sy ouers verlaat en sy vrou aankleef en hulle sal een wees. Marta blaai en blaai, maar sy kry dit nie. Alles sal uitwerk soos dit moet en dit moet so werk dat sy en Deon by mekaar uitkom. Marta maak die Bybel toe en hou dit op haar skoot vas.
Dis goed dat sy met Gunther gesels het. Hy is ’n gawe mens en nie onaantreklik nie, mooi blou oë soos sy ma en ligte hare. Maar sy hou meer van donker mans. Deon is donker soos sy pa en stiller, nie soos Gunther nie. Gunther praat baie, hoewel hy vanaand soms diep ingedagte was.
Ook goed dat ander mense nie jou gedagtes kan lees nie. Sy kan soms die vreeslikste goed dink, soos vanaand by die vergadering toe sy gewens het Deon was daar, en nie Gunther nie. Gunther het hulle verseker dat hy hier is om te bly en dat hy sy gewig by Eva sal ingooi en voluit vir die sopkombuis werk. Wat hy as geld wil gebruik om van te lewe, weet nugter. Hy was ontwykend, elke keer as iemand hom vra – selfs later toe hy saam met haar huis toe geloop het. Dalk het hy genoeg geld gemaak om ’n jaar lank goeie werke te doen of miskien het hy ’n plan? Sy sal hom môre weer vra. Terwyl sy sy hare sny. Dit sit hulle altyd aan die praat en sy is tog nie bang vir hom nie. Alhoewel, toe hy vanaand haar hand vat, was sy ongemaklik. Dit het goed gevoel om ’n slag hand aan hand met ’n man te loop – al was dit net Gunther.
Nogal ’n tema wat dikwels in haar liefdesverhale opduik.
Sarette se keuse. Tweelinge. Verdeelde harte. Die regte man vir Marta.
Almal is stories oor ’n meisie wat tussen twee broers moet kies en dan die een vat wat sy in die eerste plek nie sou gekies het nie. Dit sal sy nie doen nie. Sy het Deon lief en niemand anders nie, net vir Deon. Maar hy is verloof aan ’n ander vrou. Hoe kon hy haar vergeet het? Hy het dan gereeld groete laat weet deur sy ma.
Liewe, Here, ek is alleen en ek verlang. Praat met my.
Die Bybel op haar skoot val by een van haar boekmerke oop. Jeremia 17. Sy het twee versies daar onderstreep – Jeremia 17:9–10.
Die hart is bedriegliker as enigiets anders,
hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?
Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand,
Ek laat die mens kry wat hy verdien,
wat hom toekom vir wat hy doen.
Marta lees dit drie keer deur. Elke keer as sy dit lees, verander die betekenis. Wat wil die Here vanaand vir haar sê? Is haar hart besoedel met een of ander ongeneeslike siekte, die kiem van sonde dalk – sondige begeertes, ontevredenheid met haar omstandighede? Want sy kry nooit wat sy wil hê nie en sy werk haar vingers stomp vir niks. Is dit wat haar toekoms inhou – net mooi niks?