Читать книгу Marta - Helena Hugo - Страница 8
ОглавлениеVier
Marta haal die bestanddele vir die sjokoladekoek uit en gooi dit onder ’n doek toe sodat haar ma dit nie moet sien nie. Sy maak smiddae kookkos en het frikkadelle, pampoen en koolbredie op die stoof.
In haar kop het sy ’n voor- en ná-foto van Ragel. Toe sy hier uitstap, het sy kompleet nes Charlize Theron gelyk. Arme vrou, sy en haar man het rede om te treur. Om ’n kind wat nog so jonk en onskuldig is, aan die dood af te staan, is onregverdig. Dit gebeur hier rond ook – dikwels onder die armes. En as daar een ding is waarvan jy hulle nie kan beskuldig nie, is dat hulle nie lief is vir hul kinders nie. Die goedjies word meesal wild groot, hardloop die dorp rond en speel in die strate. Maar laat een van hulle siek word of iets oorkom … Ten minste weet die dorpsmense om op die uitkyk te wees na kinders. Hulle word nie raakgery nie en die ouer seuns wat ’n paar jaar gelede ’n skrikbewind gevoer het, is weg. Ragel se seuntjie is in ’n stil woonbuurt doodgery. Dis so vreemd dat die kar en die kind juis op daardie oomblik ontmoet het. Hoe werk dit? Marta se kop is vol vrae. Haar ma sal sê sy verknies haar oor sake wat niks met haar te doen het nie. God is Heer van lewe en dood en jy bevraagteken nie sy besluite nie. Maar is dit God wat sulke besluite neem? Hoe kan ’n God van liefde ’n kind met die dood tref en ’n moeder soos Ragel so bitter seermaak?
Waarom moes haar pa in haar arms sterf toe sy nog maar sewentien was?
Waarom het Deon verloof geraak? Waarom het hy weggegaan?
Marta tel die mandjie met strykgoed van die kombuistafel af en gooi ’n skoon tafeldoek oor. Sy is besig om te dek, toe Hetta haar klokkie lui. Voor sy kamer toe gaan, skakel sy die stoof af. Die kos is gaar en dit sal warm bly.
“Ek lui en lui en al wat kom, is jy?”
Dieselfde ou deuntjie. Kan Hetta nie geduld aanleer nie?
“Ek het gou die stoof afgeskakel. Die kos is reg.”
“Weer kool?” vra haar ma. “Ek ruik dit.”
“Ons moet dit opeet.”
“Hoekom koop jy kool?”
“Ons koop nie kool nie, dis van dié wat ek self plant.”
“Kool en blomkool, elke dag. Jy skep nie vir my kool nie.”
“Goed, Moeder, ek sal nie.”
Marta stop die rystoel by haar ma se plek aan tafel. Hetta pluk haar servet uit die ring en vou dit op haar skoot oop. Sy glo aan lapservette en hulle moet skoon wees. Daarmee het Marta geen probleem nie, sy was en stryk hulle elke tweede dag. Om tyd en moeite te spaar, skep sy die kos direk uit die potte op die borde. Dis net Sondae dat sy opskepskottels op tafel sit. Sy sit die bord voor haar ma neer.
Hetta kyk daarna met ’n frons. “Ek wens ek kan in die week ook vir myself skep.”
“Ons het ooreengekom, Moeder. Die skottelgoed raak my oor.”
“Ja, toe maar.”
Hetta hou haar hand uit sodat hulle die tafelgebed kan doen. Marta gaan sit en Hetta rammel haar rympie af.
“Here, seën die voedsel aan ons liggame, seën ook die hande wat dit voorberei het. Amen.”
Marta wonder of sy regtig begaan is oor die hande wat die kos maak. Haar oë gaan skaars oop, dan kritiseer sy. En vandag is sy weer in een van haar onmoontlike buie.
“Die pampoen het te veel gebraai, die rys het te min sout,” kerm sy, maar eet lustig. “Jy kan vir my ook ’n klein skeppie van die kool gee.”
“Moeder wou dan nie kool hê nie.”
“Ek sal dit afwurg saam met die vleis, anders is die kos te min.”
Marta sukkel om haar gesigsuitdrukking neutraal te hou; sy vat Hetta se bord en gaan skep. Ná ete kry elkeen ’n bolletjie roomys. Haar ma drink haar pille saam met ’n halwe koppie swart koffie.
“Dankie, Marta, dit was lekker,” sê sy onverwags. “Ek gaan rus, sal jy my kamer toe help?”
Marta doen dit met plesier. Sy help haar op die bed, trek die gordyne en die deur toe. “Lekker rus.”
In die kombuis spring sy dadelik aan die werk en binne vyftien minute is die koek in die oond en maak sy solank die versiersuiker aan. Sy was skottelgoed, haal die koek uit en skud die panne op die afkoelrakkie uit. Perfek. Vinnig stort, haar nuwe somerrok aantrek en die koek versier.
Dis twintig oor drie toe sy dit in ’n blik sit en by die sydeur uitglip. Al sien sy hom net ’n minuut, sal dit die moeite werd wees.
Nog vyf minute en sy staan op die Swanepoels se voorstoep en klop. Eenkant onder die houtbank sien sy meneer Swanepoel se tuinskoene. Haar hart klop so hard sy kan sweer sy hoor die hamerslae. Dis so stil daar binne, sy hoop nie hulle slaap nie.
Maar dan hoor sy voetstappe. Dit klink te lig. Of is hy dalk kaalvoet?
Die deur gaan oop en Eva staan voor haar op haar kouse. Dis skemerdonker in die huis agter haar.
Marta gee die blik aan en fluister. “Ek het vandag gebak.” Sy voel belaglik.
“Mevrou slaap en Meneer en Deon en Gunther het ná ete Lambertsbaai toe uitgery.”
Eva praat gedemp.
Marta dink vinnig. “Ek het die koek gebring, nie kom kuier nie. Moeder is alleen, ek moet gou maak.”
“Dis ’n mooi nuwe rokkie wat jy aanhet.”
Eva is moedswillig, sy terg. Marta maak of sy haar nie daaraan steur nie. “Dankie,” sê sy en draai om en loop.
Eva kyk haar agterna, sy kan voel hoe sy vir haar kyk, die ou heks. Ten minste slaap haar ma nog vas toe sy by die huis aankom. Sy trek haar nuwe rok uit en hang dit op, sy vat ’n snesie en vee die grimering van haar gesig af. Toe gaan sit sy op die bed.
Sy wens sy is nooit gebore nie, sy wens sy is nie sy nie. Sy wens sy is haar suster wat soos Emma getroud is met ’n predikant, en wat kinders het en gelukkig is. Sy haat haar lewe, sy haat Deon Swanepoel en die res van hulle. Haar ma is reg, hulle dink hulle is beter as ander mense en Ciska verdra haar net omdat sy die enigste mens in die dorp is wat kan hare doen.
Marta is moeg. Sy wil op die bed omkeer en rus, maar sy is so moeg sy is bang sy raak aan die slaap en hoor nie haar ma se klokkie nie. Daarom trek sy haar huisrok aan, loop kombuis toe, slaan die strykplank op en stryk. Dit was simpel van haar om die koek te bak. Selfs Eva kon agterkom dis ’n verskoning om hom te sien, vir Deon. Almal, die hele dorp weet sy is verlief op hom.
Dit het lank terug begin toe sy tien was en hy reeds op universiteit. Haar suster het hier op die dorp kom trou en sy was die blommemeisie in ’n wye geel nylonrokkie, net reg om later as volkspelerok te dien. Eintlik was sy te jonk om by die laer aan te sluit, maar almal het gedink sy is oulik – die parmantige Koster-dogtertjie in haar blommemeisierok ewe met ’n wit nekdoek en kantmoffies wat Ciska vir haar gemaak het. Ciska het sulke dinge gedoen, dinge wat haar eie ma nie voor kans gesien het nie.
Sy en meneer Swanepoel het ook volkspele gedoen. Hulle was die leiers van die dorp se laer. Dis Ciska wat Deon sover gekry het om Marta volkspele toe te vergesel. Hy het dit die hele seisoen getrou volgehou. Haar ma wou die stuipe kry, maar haar pa het gedink dis gaaf. Hy het elke aand kom kyk hoe hulle dans en foto’s geneem wat sy later vergeefs gesoek het.
Dit was Deon se universiteitsvakansie en hy het nie ’n meisie saamgebring nie. Gunther het ook gedans, met sy wilde skoolvriendin, Pikkie Meyer. Deon het baie gelag en grappe gemaak. Deon het haar alles van die universiteit vertel en haar lus gemaak om ook verder te gaan leer.
Op die ou end het sy net matriek gemaak. Want in graad elf is haar lewe omgekeer. ’n Groot golf ellende het haar voete onder haar uitgeslaan en sy wou nie weer opstaan nie. Ander mense – haar suster en haar man – het haar kom haal en besluit sy moet kollege toe, haarkappery is die ding vir haar. Vreemd, sy het dit geniet. Sy het vriende gehad en sy het uitgegaan, naweke saam met Alison-hulle Warmbad toe en een keer selfs Durban toe. Twee jaar het omgevlieg. Sy het beplan om saam met Alison oorsee te gaan ryloop, niks vir Maria-hulle gesê nie. Toe steek Alison se pa ’n stokkie daarvoor en Maria sê ook negentien is te jonk vir oorsee en haar ma het haar nodig. Hetta se gesondheid gee in. Sy loop met kieries, maar sy wil in haar huis op die dorp bly. Marta moet teruggaan, hul ma gaan help, dan hoef sy nie haar studieskuld vir hulle terug te betaal nie. Dis toe die eerste keer dat sy hoor hulle het betaal sodat sy ’n haarkapper kan word.
Dit het gevoel asof sy half verdrink op die strand uitgespoel het en die water trek haar terug. Haar pa se laaste woorde het by haar gespook. Sy het weer elke nag van hom gedroom en van haar plig en die opdrag wat hy met sy laaste asem vir haar gegee het. Toe het sy Deon onthou en moed geskep. Die Swanepoels, het sy verneem, woon nog op die dorp. Sy het hom toe weer gesien en hy het haar nie vergeet nie. Hy het grappies gemaak oor die volkspele en hoe oulik sy was, gesê sy het mooi grootgeword.
Asof dit haar gehelp het om Deon hier te hou. Hy het te graag oorsee gewerk en Gunther het hom soos ’n skoothondjie gevolg. Arme Ciska, Marta het gesien en gehoor hoe sy verlang. Hierdie terugkeer is ’n hoogtepunt in haar lewe. Ongelukkig is die verlowing ook.
Marta sit die strykyster hard neer. Sy wens Chanté is vet en dra bril, maar dokter Chanté Faure kan onmoontlik vet en lelik wees.
Here, ek sal moet vrede maak en aangaan met my lewe soos dit is.
So stuur sy haar skietgebedjie op en staar deur die venster. Die wind buig die takke van die bome in die agterplaas eenkant toe. Waar kom die wind so skielik vandaan? Maar dis Augustus en Augustus dwarrel dit graag hier rond. Dit skud die blomme en maak golwe op golwe. Haar pa het altyd gesê sy moet kyk hoe dans die blomme al op een plek, nes klein meisietjies.
Pappa, ek het nuus vir jou. Ek dans al langer as vyftien jaar op een plek, ek dans al op die een plek en ek kom nie ’n tree verder nie.
Die strykgoed is klaar. Sy los die yster op die tafel om af te koel en slaan die strykplank op. Haar arms voel lam. Dit is vieruur, tyd vir haar ma se middagkoffie.
’n Ligte wind maak golfies om die bont versameling bote en versteur die blou kalmte van die hawe. Die reuk in die lug is nie onaangenaam nie.
“Ek kan nie wag om dit vir Chanté te kom wys nie,” sê Deon.
’n Swerm seevoëls skeer laag oor hulle verby – Voëleiland toe.
“Dis is mooi,” beaam Gunther.
Deon draai na sy pa. “Ek moet haar bel en ek het my selfoon by die huis gelos. Hoe laat is dit?”
“Vieruur,” sê Gideon. “Tyd om terug te gaan. Ons kan nie julle ma so lank alleen los nie.”
“Eva is daar.”
“Eva wil ook rus.”
“Sy word oud.”
“Werk al stadiger, maar sy’s goed vir ons.”
Hulle stap terug kar toe.
“Wat maak Pa as Pa kom visvang?”
“Ek sorg dat daar iemand is wat vir haar lees. Ek kom Vrydae as Marta haar hare was en krul.”
“Is Marta nog die dorp se haarkapper?”
“Enigste.”
“Getroud?” Gunther druk sy hande diep in sy sakke.
“Nee, maar die man wat haar kry, kry ’n juweel. Haar hande staan vir niks verkeerd nie en sy’s mooi.”
“Jou kans, Kleinboet.” Deon pomp Gunther in die sy.
Gunther voel hoe hy bloos, maar hy steek dit weg deur af te kyk grond toe. Sy voetsole het sag geword in Doebai en hy soek sanderige plekkies tussen die klipperigheid. Daar anderkant loop jy nie kaalvoet op die strand nie – al word die stad deur die see omarm. Veilige baaiplekke is afgebaken vir hotelgaste wat baie dollars vir die voorreg betaal. En skoon wit strande is nie vir gewone mense toeganklik nie. Maar dit raak ook te warm, maklik agt en veertig grade.
“Hoor jy wat ek sê?” dring sy ouer broer se stem tot hom deur. “Wat dink jy?”
“Ek dink aan hoe warm dit in Doebai is.”
“Jy moet jou kans waarneem by Marta, wat is haar van nou weer?”
“Koster,” sê Gideon.
“Haar pa was mos Pa se onderhoof.”
“Toe sterf hy skielik in haar arms – ’n groot skok vir ons almal, veral vir die kind. Haar ouer suster het haar kom haal om in Johannesburg skool te gaan. Haar ma se gesondheid het ingegee en dis hoekom sy teruggekom het.”
Deon het geen end nie. “Jammer! Jy kry die ma saam met die dogter.”
“Jou skoonma wag vir jou in Pretoria,” troef Gunther hom. “Buitendien, jy’s die een wat agter Marta aan was toe sy skaars uit die doeke was.”
Deon gaan staan. “Wat praat jy?”
“Onthou jy nie hoe jy haar volkspele toe gevat het nie. Almal het gesê jy speel pop.”
“O, ja! Ma het my gedwing, want die kind wou so graag deelneem en daar was nie genoeg maats vir almal nie. Die skoolseuns het mos nie meer belang gestel in volkspele nie.”
“In die ou dae moes ons almal deelneem.”
“Ma het ons sover gekry.”
“Vandag dans hulle die riel. Dis ’n hele gedoente en kompetisies elke jaar tot by die Taalmonument in die Paarl,” grinnik Gideon.
“Dit sal ook uit die mode gaan. Het Pa die kar se sleutels?”
Gideon wys vir sy oudste seun hy het dit. “Jy kan bestuur.”
“Ry Pa liewer. Pa ken die bakkie se nukke.”
Gunther tel sy skoene uit die bak op en gaan sit op die sand om dit aan te trek. Gideon skud sy sandale uit en Deon volg Gunther se voorbeeld.
“Snaaks dat ’n meisie soos Marta nog nie getroud is nie,” sê hy.
“Dis nie snaaks nie, dis ’n ramp.”
“Sê jou, dis jou kans. Jy wil mos nou hier agterbly.”
Gunther sal nie stry nie. Hoe meer hy stry, hoe meer gaan hy hom vasdraai. Vir trou het hy in elk geval nie nou tyd of geld nie. Hy gaan ook nie vir sy broer van sy planne vertel nie, eers uitvind of die universiteit hom tegemoet sal kom en sy BMus aanvaar. Hy is drie en veertig en dit raak tyd om soos Deon tot rus te kom. Maar Deon het ook nie al die waarborge nie.
Al kan hy miskien reken op ’n huwelik met ’n pragtige vrou, is hy nog nie verseker van sy werktoekoms nie. Hy het aansoek gedoen om ’n pos by die Departement Engels van die Universiteit van Pretoria en hulle hou hom maande al aan ’n lyntjie. Kry hy nie die pos nie, sal hy by UNISA moet aanklop en daarna by tegniese kolleges of verder uitwyk Johannesburg toe en elke oggend op die snelweg klim werk toe, les bes tuis begin vioollesse gee. Chanté het voorgestel dat sy Deon onderhou tot hy gevestig is, maar Gunther glo nie Deon sal daarvan hou nie. Dis die laaste ding wat hy ook sal toelaat – dat sy vrou vir hom sorg. Daar lê minstens vier of vyf jaar se studie vir hom voor en geen vrou sal bereid wees om so lank te wag nie. Nee, hy sal geduldig moet wees en opofferings maak. Hy het ’n heilige roeping en dis belangriker as enigiets anders.