Читать книгу Marta - Helena Hugo - Страница 7
ОглавлениеDrie
“Marinda?” Dis die eerste keer dat Marta die vroutjie wat in mevrou Visser se huis woon van naby sien.
“Dis ek, maar …”
Sy byt haar lip vas en kom nie verder met haar sin nie. Dit lyk of sy elke oomblik gaan omdraai en vlug.
“Jy is by die regte huis,” stel Marta haar gerus en wys na haar beskeie uithangbordjie bokant die voordeur. “Ek het besigheidsregte, die stadsraad was baie tegemoetkomend. Almal weet van my. Die naambord is vir besoekers. Kom binne.”
Sy sit die gieter waarmee sy haar stoepplante natgemaak het, langs die houtbankie neer. Daar staan twee potte met begonias waarby sy nie uitgekom het nie, en as sy die gieter hier sien, sal sy onthou. Sy loop vooruit en die vroutjie volg haar soos ’n trapsuutjies. Die deur na die kamer wat Marta as salon laat inrig het, is oop en sy staan terug sodat haar kliënt eerste kan instap.
In die ou dae was dit die stoepkamer waar haar broers geslaap het. Sy het pype van die buitekraan af laat aanlê, wasbakke en haardroërs laat installeer, die plankvloere uitgehaal en met teëls vervang, die plafon wit en die mure nartjiegeel geverf – toe groot spieëls, geraamde sjampoe-advertensies en plakkate van beroemde skoonhede met mooi hare opgehang.
Die tydskrifrakkies is netjies reggepak, die trollie met rollers en kammetjies blinkskoon, alles op hul plek, geen teken van oom Ollie se hare op die skitterblink vloer nie. Die nuwe vroutjie het niks om oor te kla nie, trouens, niemand het iets om oor te kla nie. Marta se eie klein salon vertoon te eniger tyd net so professioneel soos Progress in die Kaap.
Sy wys na die stoel voor die middelste spieël. “Sit maar.”
Marinda gaan sit onseker, voel-voel na die stoel agter haar asof sy seer bene het. Haar skouertjies lyk soos die geraamte van een of ander afvlerkvoëltjie. Haar beentjies is so maer, die stywe jean sit lossies.
Was die probleme tussen haar en haar man so erg dat sy siek geword het daarvan?
Marta kry haar jammer, maar sy vra nie uit nie. Mense praat vanself wanneer sy met hul hare werk en oom Ollie het haar vanoggend klaar moeg gemaak met al die besonderhede oor sy geldsake. Het sy maar ’n tiende van oom Ollie se rykdom – hy wat so klou aan die kosterpos by die kerk asof hy geen heenkome het nie en kla met soveel geld in die bank.
Sy steek haar vingers deur Marinda Boshoff se hare – fyn hare, ligbruin, byna blond. Ligter strepies sal die bleek gesiggie verhelder. Sy lyk so hartseer, so asof sy iewers in haar skraal liggaampie iets wegsteek wat te swaar is vir haar.
“Wat doen ons vandag?” vra Marta maar die standaardvraag van alle haarkappers.
Marinda raak aan haar kuif. “Ek was lanklaas by ’n haarkapper. Jy sal moet sny.”
“Kort?”
“Nee, hou dit langerig … of miskien …”
“Het jy dit al kort gedra?”
“Ja.”
“So, sal ons weer sny?”
“Ek weet nie.”
Marta wys na ’n plakkaat van Charlize Theron met kort blonde hare. “Daardie styl sal jou pas.”
Toe glimlag Marinda. “Ek sal nooit soos Charlize kan lyk nie.”
“Nie soos sy nie, soos jy. Ons haal die beste uit jou.”
Marinda kyk verbaas op. Dit lyk asof sy nie kan glo wat sy hoor nie.
Marta trek die kam deur die verwaarloosde hare. “Kom, ek was jou hare,” sê sy en beduie na die wasbak se kant.
Hulle loop saam soontoe. Marinda gee doelgerigte treë en gaan sit met meer selfvertroue. Goed so, sy is tevrede met my voorstel, besluit Marta en hang die handdoek om Marinda se skouers. Sy doen moeite om die water te meng tot dit die regte temperatuur het. Sy gebruik haar beste sjampoe en masseer haar nuwe kliënt se kop sagkens, maar so bedrewe, sy kan voel hoe die spanning onder haar vingerpunte wyk, die stywe nekspiere meegee onder haar aanraking, die gesig sagter word, minder verskrik. Sy weet hoe om hulle tot rus te bring, sy sien en voel dit dikwels. Sy het ’n talent om selfs haar kwaai ou moeder tot bedaring te bring. Marinda hou haar oë toe. Sy is ’n mooi mens met ’n sterk profiel, lang wimpers, ’n sagte mond. Maar daar is donker kringe onder haar oë en plooitjies wat haar mondhoeke afrem.
Marta sal nie vrae vra, hulle praat self en dis deel van haar werk om te luister. Wat hulle nie besef nie, is dat hul hartseerstories haar uitput en seermaak en soms slapelose nagte besorg. Tog, haar hart gaan uit na die mens voor haar. Sy vou die handdoek versigtig om die nat hare, vryf dit effens droog en beduie weer na die stoel voor die spieël.
“Dankie,” sê Marinda. “Ek voel minder gespanne.”
“Ek is bly.” Marta hang die haarsnymantel om die smal skouertjies.
Dan haal sy haar kam uit en neem agter haar kliënt plaas, sy laat rus haar vingerpunte liggies teen die kante van haar kop en begin versigtig kam. Nie trek nie, dis belangrik om nie die gevoel van welbehae te versteur nie.
Marinda kyk in die spieël. Sy kyk met ’n uitdrukking van berusting na haarself.
“Goed, Marinda. Jy het nog een kans om van plan te verander. Sny of nie sny nie?”
Sy kry ’n vasberade uitdrukking om haar mond. “Sny,” sê sy.
“Kort?”
“Kort. Ek het besluit, ek wil my man verras.”
Is sy op pad terug? Is Marta haar kwyt voor hulle behoorlik kennis gemaak het? Dit sal haar verdiende loon wees om vooruit te bereken hoeveel geld sy gaan inkry. Maar dis belangriker dat die ongelukkige vrou op die stoel voor haar met haar man versoen raak.
Sy sal haar daarby berus. Marta trek die kam nog ’n slag deur.
“Hy weet nie dat jy jou hare gaan sny nie?” vra sy.
“Nee.”
Sy steek die skêr in. ’n Flerts val op die teëlvloer en nog een.
“Ek wil reg wees vir hom, ek wil goed lyk.”
“Wag hy vir jou by die huis?”
“Hy werk. Hy’t gesê hy kom môre of so. Hy sal sy bes probeer.”
“Buig asseblief jou nek.”
Sy gehoorsaam en Marta sny. Sy sny tot sy die nekbeentjies wit sien deurskyn. Sy gaan sorg dat die vrou ’n metamorfose ondergaan, ’n verjongingskuur. Sy kan goed sny, haar vingers is geoefen en haar oog is reg ingestel. Sy werk vinnig.
Marinda glimlag tevrede. Marta begin uitdun en stileer, haar vingers dans.
“Ek het weggeloop van die huis af, ek kon dit nie meer verduur nie,” sê Marinda.
Marta se hande raak stil. Wat kon sy nie meer verduur nie? Het hy haar geslaan?
“Toe moes ek wegkom. Dis ’n cliché, maar ek moes myself gaan soek en in die oë kyk en vind. My naam is nie Marinda nie. My naam is Ragel. Ek sal almal reghelp. Tienke en Bakker en Valery en Trevor en Ciska en oom Swanie, ek skuld hulle. Emma en Johan weet.”
Marta sny die hare langs Marta se slape skuins. Dis nou so kort, haar ore is oop. Haar nek is slank, delikate trossies-oorbelle sal pragtig vertoon. Wat sal sy sê? Vir eers niks oor oorbelle nie.
“Ragel pas by jou, beter as Marinda.”
“Dis my ma en my ouma se naam.”
“Hou jy van jou hare?”
“Dit lyk so goed.”
“Ek dink ook so. Strepies om jou nog mooier te maak?”
“Enigiets wat kan help. Ek het my man die afgelope tyd gruwelik verwaarloos – ek was so verkeerd. Ek was nie myself nie. Ek is nog steeds nie reg nie.”
Sy sluk. Haar oë skiet vol trane. Marta gee haar skouer ’n bemoedigende drukkie voor sy omdraai om die nodige hulpmiddels vir die kleurproses in die kas te kry.
“Ek is seker hy sal jou nou waardeer.”
“Ek was so onregverdig.”
Marta hang nog ’n mantel om, van dik plastiek dié keer.
“Jy moenie jouself verwyt nie,” troos sy. “Rusies kom altyd van twee kante.”
“Hy het nie rusie gemaak nie, dit was ek.”
“Jy?”
Sy knik, haar gesig trek skeef. “Hy moes ons seuntjie oppas, toe vergeet hy om die voordeur toe te maak en die hondjie hardloop uit en Frankie agterna onder ’n kar in.”
Marta wag. Die ergste, weet sy, kom nog.
“Hy’s dood, doodgery reg voor ons huis.”
Vir ’n paar oomblikke is dit asof die spieël dof raak en Marinda – nee Ragel – Ragel is nie meer daar nie. Marta sien haar pa se verskrikte oë, sy mond wat geluide maak: Sorg vir jou ma, kyk na haar.
Dood is alomteenwoordig.
“Ek is jammer,” sê sy sag. “Hoe oud was hy?”
“Twee jaar en vier maande. Hy kon so vinnig hardloop.”
“So klein nog? Ek is jammer.”
“Ek het Stephan beskuldig. Amper het ek hom ook verloor.”
“Maar jy is nou reg om vrede te maak.”
“Ek weet nie hoe nie. Ek het tyd nodig, maar ek moes hom laat weet dat ek beter is. Dis hoekom ek hier is – om beter te lyk.”
“Ek belowe jou, ná dese sal hy baie van jou hou.”
“Ek moet na Ciska-hulle ook, sê van my naam en … alles.”
“Was jy nog nie daar nie?”
“Ek moes eers by jou uitkom. Jy doen Ciska se hare so mooi.”
“Sy is baie spesiaal.”
“Sy is.”
Haar seun Deon ook. Maar Marta sê dit nie. Dis nie haar gewoonte om háár geheime met haar kliënte te deel nie. Sy luister na hul stories. Soms gee sy raad, soms troos sy, soms maak sy vrede. Sy is nie net die dorp se haarkapper nie, sy is ook hul biegmoeder en sielkundige. Sy praat nie uit nie, selfs nie voor haar ma nie. Sy hou alles vir haarself, al hul gevegte en uitgerekte sages. Dit kom van haar opleiding. Hulle het geleer om te luister. Maar as buitestander mag hulle nie betrokke raak nie.
Dis nie die maklikste ding op aarde nie. Dis so erg dat sy nagmerries kry. Een keer ’n maand wanneer sy Lambertsbaai toe ry, gaan sit sy op die strand en kyk hoe die golwe aanrol en die voëls ingesweef kom. Sy smeek God om hom vir haar terug te gee, vir Deon, sodat sy alles wat sy hoor met hom kan deel – nie in haar drome nie, werklik.
Maar nou het hy iemand anders …
“Ek gaan tee maak,” sê sy vir Ragel toe sy klaar is met die kleursel. “Jy sal so tien minute moet sit.”
“Dis reg, dankie.”
“Hoe drink jy jou tee? Swart of met melk?”
“Melk en suiker.”
“Kan ek vir jou ’n tydskrif aangee?”
“Nee, ek sit toe-oog.”
Marta druk Ragel se hand. “Dit sal regkom,” sê sy. “Ek bedoel, met jou en jou man.”
Ragel knik. “Ek het te veel gepraat.”
“Dit bly tussen ons. Wees gerus.”
Gunther kry Eva in die kombuis aan die tee maak. “Eva, ek is bly jy is nog hier,” sê hy.
“Ek het julle grootgemaak. Hoekom sal ek weggaan?”
“Omdat ons weg is.” Gunther vat vir hom ’n gemmerkoekie. Dit knars onder sy tande.
“Ek sal hier bly tot die oumense afgesterf het, dan gaan ek na my dogter in Worcester en pas die kleinkinders se kinders op.”
“Nog kinders om groot te maak?”
“Daar sal altyd kinders wees, al is hulle nog nie gebore nie.”
Gunther gooi sy arm om sy ou oppasser en gee haar ’n drukkie.
“Jy’s ’n goeie mens, Eva, jy’t ons mooi geleer.”
“Regte seunskinders, altyd weg as ek julle soek. Nou is julle groot mans en julle loop nog die wêreld vol. Maar ek sien, julle het geleer.” Sy gooi kookwater oor die teesakkie in die ketel. “Waar is jou broer?”
“Hy help my pa in die tuin.”
“Is reg so, hulle moet praat. Jou pa kan hom sê hoe om by sy vrou te staan. Wat van jou?”
“Ek het ander planne.”
“Daar is nie ’n vrou nie?” Eva gooi ook ’n bekertjie vol kookwater. Sy sit dit neer en kyk vraend na hom.
“Ek sal die trollie invat.”
“Ek dek vir jou ook ’n koppie.” Sy pak nog ’n paar koekies op die bord. “Netnou maak ek vir jou pa en jou broer. Gaan praat met jou ma. Sy sit alleen.”
Gunther vat die trollie vas en stoot dit versigtig in die gang af. Sy ma se kamerdeur staan oop. Toe hy in die deur stop, sien hy haar weemoedig sit en staar na die venster, hande gevou, haar hekelwerk op die tafeltjie langs haar.
“Mamma?”
Sy glimlag verras toe sy hom sien.
“Waar is Eva dan?”
“Ek het haar voorgekeer.”
“En jou pa en Deon?”
“In die tuin. Pa spog met sy groente.”
“Dis goed. Ek wil graag met jou praat.” Sy wys hom waar om die trollie te laat staan.
“Ek ook. Mamma moenie heeldag so alleen sit nie.”
Sy gee ’n laggie. “My verdiende loon. In die ou dae, toe ek so besig was, het ek dikwels gewens ek kan sit en alleen wees.”
Hy stut sy ken op sy vuis en kyk reguit na haar.
“Raak Mamma nie eensaam nie?”
“Ek kry geselskap. Emma doen my voet elke tweede dag. Johan besoek my gereeld. Marta kom drie keer ’n week vir my hare. Van die skoolkinders verras my. Tienke loer in, die Bybelstudievroue kom gesels. Jou pa het een van die vakansiegangers aangekeer, ’n gawe vroutjie. Sy lees vir my. Die nuwe sangjuffrou vra raad. Hulle nooi my en jou pa uit na skoolbyeenkomste.”
“Gaan julle?”
“Ons het voorverlede jaar nog, maar ons het verlede jaar opgehou. Dit raak moeilik. Ek voel in die pad met die rystoel en my oë wil nie meer nie.”
“Wat van musiek?”
“Ek luister CD’s en radio. Ek dink baie.” Haar oë word wasig. “Ek het na julle verlang. En nou is julle al weer op pad.”
“Deon – nie ek nie.”
“Ek dag jy gaan ook.”
Hy grinnik. “Julle is so bly oor Deon se verlowing, dis al waaroor julle praat.”
Sy ma lyk of sy in trane gaan uitbars. Hy het haar seergemaak en hy wou nie, maar hy het.
“Ag, my kind. Dis die eerste keer dat een van julle verloof raak. Dis ongewoon.” Sy haal ’n snesie uit die boksie op haar ronde tafeltjie en vee haar oë af. “Dis gebedsverhoring. In die eerste plek het ek gebid dat julle terugkom, en hier is julle.”
“Eindelik.”
“Skink vir ons, dan vertel jy my wat jy beplan. Ek hoop tog nie jy kuier net ’n paar dae nie.”
Hy skink twee koppies, vir haar ’n halwe sodat sy dit met kookwater kan aanvul.
“Ek is hier om te bly,” sê hy, “in die dorp, by julle.”
“Gunther?” Sy hou asem op.
“Ek sal later met Pa praat. Mag ek ’n rukkie van julle gasvryheid gebruik maak? Ek het planne, maar ek moet eers seker maak voor ek oop kaarte speel. Is dit reg, kan ek my ou kamer terugkry? Ek sal huur betaal.”
Sy glimlag so pragtig, sy lyk jare jonger.
“Nonsens, jy bly en jy betaal nie.”
“Daaroor sal ons weer praat. Ek moet my deel bydra. Maar dankie vir die kamer.”