Читать книгу Marta - Helena Hugo - Страница 9

Оглавление

Vyf

Dis Dinsdagaand. Marta maak haar netjies vir die sopkombuisvergadering. Meneer Stals bring oor tien minute vir Dania en dan ry sy saam met hom en tannie Dora pastorie toe. Dis nie ver nie en sy stap graag, maar sy moet vanaand vir die Stalse wag. Sy het Deon en Gunther nog nie met ’n oog gesien nie en het vandag gesorg dat sy nie eens in die rigting van hul huis kyk nie. Môreoggend moet sy Ciska se hare gaan kam, dan sal sy wettig daar opdaag. Ciska het wel gebel om dankie te sê vir die tuisgebakte koek. Dis presies wat die seuns bestel het, het sy gesê. En Eva waardeer dit, want sy swoeg ure in die kombuis om hul gunstelingdisse te berei. Sjokoladekoek was op hul lysie en sy kon dit toe aftik.

Eva het gistermiddag niks daarvan gesê nie. Maar Ciska sal altyd ’n ophef maak, al moet sy ’n storie uitdink.

Marta het heeldag vensters gewas. Sy het die gordyne afgehaal, gewas, gestryk en weer opgehang. Teen vieruur het sy ’n melktert in die oond gesteek sodat Dania, wat Hetta kom oppas, iets lekkers het om huis toe te neem. Terwyl die tert bak, het Marta al die koper- en silwergoed in die huis bymekaar gemaak, dit na die sementtafeltjie in die agtertuin aangedra en dit skoongemaak en blinkgevryf.

Dis gewoonlik ’n kalmerende takie, maar haar gedagtes het haar nie met rus gelaat nie.

Wat het sy verkeerd gedoen dat sy so eensaam moet wees, het sy gedink, en altyd so hard moet werk? Haar skouers pyn en dit voel of haar vingerpunte deurgeskaaf is. Haar naels hou sy kort. Maar wat van hulle oor is, versplinter en breek. Sy het brandmerke aan haar arms van te vinnig oondbakke uit die oond haal en ’n pleister om haar linkerwysvinger waar sy haar raakgesny het toe sy pampoen geskil het.

Marta het die tert in die oond onthou en dit net betyds uitgehaal. Haar ma se klokkie het gelui en sy het ’n glas koue water gevra.

“Waar bly jy, ek lui en lui,” was die dankie wat Marta gekry het.

“Ek het Moeder gesê ek gaan agterplaas toe met die koper en silwer.”

Hetta het die glas vir haar teruggee. “Jy maak vir jouself onnodige werk,” het sy gesê.

“Ek moet dit nog gaan inhaal,” het Marta floutjies verweer en gemaak dat sy wegkom.

Buite het sy die eetgerei bekyk en besluit om dit nog ’n keer op te vryf. Die son het oor die Swanepoels se huis se dak gesak. Sy het vinnig weggekyk, die skitterblink koper- en silwergoed op die skinkbord gesit en huis toe gedra.

Maar terwyl sy haar ma se aandkos berei het, het ’n bekende bekommernis haar bekruip. Wie gaan eendag na háár omsien? Wie sal seker maak dat sy versorg word? Is dit een van die redes hoekom mense trou en kinders kry? Want waar sou haar ma gewees het as sy nie vandag hier was nie?

Selfbejammering het haar beetgepak en sy het skuldig gebid dat sy nooit so siek soos haar ma moet word nie, nooit ooit plat op haar rug beland nie.

Dis aand. Sy kam haar hare en bind dit vas. Sy verf lipstiffie aan en borsel haar wimpers met maskara.

“Vader, vergewe my,” prewel sy voor haar spieëlbeeld. “Ek is ondankbaar en ontevrede en ek begeer allerhande goed wat ek nie het nie. Maar miskien sal U dit nog vir my gee, want U belowe tog goeie dinge vir u kinders en ek is een van hulle, Here, ek weet dit verseker.”

Gedagtes wat deur haar kop flits, verander die strekking van haar gebed. Sy kan maar nie ophou om haarself in ’n trourok te sien nie, Deon aan haar sy, ’n huis met ’n rooi dak en wit rose in die voortuin, kinders op die grasperk.

Die geklop van die koperklopper aan die voordeur ruk haar terug tot die werklikheid. Sy steek haar voete in haar plat balletskoentjies en hardloop om oop te maak. Dit is Dania met haar skoolsak oor haar skouer.

“Dankie dat jy bereid is om in die middel van die week te kom.”

“Ek ken mos vir ouma Hetta. Sy gaan slaap vroeg en dan doen ek my skoolwerk. Beter as om kleintjies op te pas wat nie wil hoor nie.”

Dania is Dora se susterskind, ’n oulike kind en ’n topstudent wat in matriek na minstens ses onderskeidings mik. Sy pas Hetta al op vandag sy in graad nege is. Voor haar was dit Fiona, maar Fiona is nou getroud en het haar eie huishouding.

Marta loop saam met Dania televisiekamer toe waar Hetta na Sewende Laan sit en kyk.

Haar blik bly vasgenael op die skerm. Marta moet haar soengroet sonder om ’n praatjie aan te knoop en op haar tone uitsluip, anders is daar perde. Dania gaan sit ook ewe bedees.

Marta is moeg, maar toe sy die voordeur agter haar toegetrek het, ervaar sy een van daardie rare oomblikke van vryheid. ’n Uur of twee weg van die huis waar sy kort-kort iets ontdek om reg te pak of skoon te skrop, sal haar goed doen.

Sy sluit die deur en stap in die paadjie af na meneer Stals se Toyota. Hy wil altyd uitspring om die kardeur vir haar oop te hou, maar sy het dit lankal stopgesit. Sy klim agter in en groet hulle met: “Dankie dat julle my kom oplaai.”

“Ons moet vir Dania aflaai.”

Marta glimlag. Hulle het dit seker al honderd keer vir mekaar gesê. Volgende aan die beurt is: Hoe gaan dit?

“Dis koud vanaand,” sê tannie Dora onverwags.

“Koelerig, maar nie koud nie.”

“Ek is die laaste tyd koulik.”

“Lente is hier.”

“Die blomme is amper af.”

Meneer Stals ry om die blok, nie by die Swanepoels verby nie. Ook maar goed, anders het hulle dalk op die stoep gesit en dan was Marta spyt hy ry nie stadiger sodat sy kan sien nie. Daar is net twee vreemde viertrekke voor die pastorie geparkeer. Seker blomkykers wat oorslaap.

“Vreemde karre,” sê meneer Stals.

“Die Bakkers sal loop,” sê tannie Dora.

“Dankie, meneer Stals,” sê Marta.

“Bel my as julle klaar is, dan kom ek dadelik.”

Tannie Dora wag tot hy wegtrek en ry, dan slaan sy haar truipante oormekaar en begin aanstap voordeur toe. Die buiteligte is aan en die stoep is helder verlig. Marta lui die deurklokkie.

“Hoe gaan dit met jou ma?” vra tannie Dora.

“Baie goed, geen klagtes nie.”

“Darem nie lekker om so afgetakel te word nie.”

“Ja, tannie Dora.”

“Gesondheid is baie belangrik en ’n gawe van God.”

“Ja, tannie Dora.”

Rosie maak die deur op.

“Dag, juffrou Marta. Dag antie Dora. Is Antie-hulle hier vir die vergadering?”

“Is ons vroeg?”

“Nee, Mevrou wag in die ateljee.”

Hulle ken dit pad. Hulle loop verby ’n groep vreemdelinge wat televisie kyk, groet vlugtig en draai links in die gang na Emma se ateljee. Daar sit Emma en Tienke vir mekaar en kyk. Hulle kry lewe toe Marta en tannie Dora instap.

“Was julle bang ons kom nie?”

“Nee, julle is mos my staatmakers,” paai Emma.

“Dis weer net ons Gideonsbende,” sê Tienke. Sy lyk moeg.

“Kom Gerda?”

“Nie vanaand nie, maar sy sal kook. Ragel het laat weet haar niggie is hier, maar sy is bereid om te help.”

Marta bly stil, sy sal nie sê dat Ragel vir haar te pieperig lyk om kombuiswerk te doen nie.

Emma skryf iets in die lêer voor haar. “Sandra en Yvonne het belowe om te kom. Tannie Ansie se bene keil haar op, sy het verskoning gemaak. Van die onderwyseresse by die skool help klaar met die kospakkies. Kan julle aan iemand dink wat ons nog kan nader?”

Marta kan aan niemand dink nie.

“Bakker is nou wel nie vanaand hier nie,” sê Tienke. “Vroumensvergaderings maak hom mos senuweeagtig. Maar ek kan nie sonder hom nie. Hy help.”

“Jonnie sit ook voor die TV en aartappels skil. Maar ek wil met mevrou Willemse praat, ons moet van die jong vroue intrek en sy ken hulle. Hulle hou hul kinders en hul huise en die werk by Bezuidenhout voor. As ek kan byhou, wie is hulle om lyf weg te steek?”

Daar volg ’n gemurmel wat daarop dui dat almal saamstem. Mevrou Willemse kan bel, sy kan mense opkommandeer en almal wat deel is van die huishouding moet help.

Dis net ek wat op my eie is, dink Marta. Ek het nie ’n huishulp of ’n man nie, en my ma se hande is so inmekaargetrek sy is nie in staat om haar eie vleis te sny nie, wat nog te sê groente skil en swaar mengsels in groot potte omroer. Ek werk alleen, besef julle dit nie? Sy wil uitskree, maar sy bly stil en hou haar aangeplakte glimlaggie op haar gesig.

Emma kyk op haar horlosie. “Ons het nog vyf minute.”

“Sandra kom saam met Yvonne. Sy’t vanoggend brood gekoop en toe herinner sy my.”

Dis die eerste keer dat Sandra inwillig om by die sopkombuis te help en sy kan koue voete kry – om nie van maltrap Yvonne te praat nie.

Marta hou haar gedagtes vir haarself. Sy kyk na haar hande op haar skoot. Gelukkig het sy tyd oorgehad om haar naels te versorg.

“Wel …” begin Emma.

Net toe hoor hulle ’n geselsery in die gang. Klink of daar mans by is. Sandra en Yvonne kom eerste ingestap en op hul hakke Johan van Velden en ’n vreemde man. Hy is selfbewus, selfs skaam en nogal aantreklik.

Waar kom hy vandaan? Hy lyk bekend.

Gunther Swanepoel!

Hy kyk reguit na Marta en glimlag asof hy dankbaar is om haar daar te sien. Sy voel sy bloos en kry dit darem reg om terug te glimlag. Dankie tog, dis nie Deon nie.

Emma spring op. “My aarde, Gunther! Ek’t gedag jy maak ’n grap.” Sy trek hom aan sy mou nader. “Hy’t gesê hy kan kook en hy sal help om Eva se dagtaak ligter te maak. Julle onthou vir Gunther Swanepoel, Ciska se een verlore seun?”

“Ek en Sandra het hom in die sitkamer gevang.” Yvonne giggel. “Hom gesê ons kan doen met ’n paar sterk arms soos syne.”

Yvonne voel skaamteloos aan Gunther se boarmspiere.

Gunther is so rooi soos ’n beet.

“Yvonne, kalmeer, en sit.” Johan trek vir haar ’n stoel nader. “Pastoor Willemse het ongelukkig vanaand ’n kerkraadsvergadering. Tannie Ansie is ook nie wel nie.”

Yvonne wys na ’n stoel agter haar, maar Gunther sorg dat hy ver van haar af gaan sit.

“Pastoor Willemse het sy waardering uitgespreek, hulle bid vir ons. Emma, is daar nog iets?”

“Julle ken almal vir almal?” begin Emma die vergadering.

Almal knik instemmend, hulle is die gemeente se werkesels. Van een ding is hulle seker – elkeen wat hier kom aanmeld, weet wat wag. En Gunther, wonder Marta, weet hy?

“Johan, sal jy asseblief vir ons met gebed open?”


Ná afloop van die vergadering bied Yvonne aan om Marta en Gunther huis toe te neem.

“Dankie, maar ek stap vir die oefening,” sê Gunther.

Marta wag vir meneer Stals om tannie Dora te kom oplaai. Dan ry hulle by haar huis aan en kry sommer vir Dania. Maar tannie Dora en Emma wil die kliniek se voorraadlyste deurgaan voor sy haar man bel.

“Ek is op pad,” sê Gunther en kyk na Marta. “Is jy lus om saam te stap? Julle woon mos net agter ons?”

“Ek het ’n nuwe Volvo,” koer Yvonne in die oop voordeur.

“Dankie, Yvonne, ons stap sommer,” sê Marta.

“Jy’t my lewe gered,” sê Gunther toe hulle die pastorie se tuinhekkie agter hulle toetrek.

Marta lag in haar mou. Yvonne is ’n grapmaker met ’n hart van goud. Dit sal hy wel mettertyd uitvind. Maar sý sal graag vir hom ’n paar vrae wil vra, want teetyd is sy in ’n stadium kombuis toe met die vuil koppies en het toe heelwat gemis.

Hulle loop ’n ent in stilte – as sy die gekriek van krieke en die gekwaak van paddas kan ignoreer.

“Was dit lekker om so lank oorsee te werk?” vra sy.

“Ja, maar ek is bly om terug te wees – betyds vir die konsert. Hoor jy?”

“Ek hoor. Is daar paddas en krieke in Bahrein?”

“Ek was in Doebai.”

“O.”

“Deon was in Bahrein.”

“Ek dag julle was saam.”

“Ons het oor en weer gekuier en ek het saam met hulle teruggevlieg. Gelukkig het ons kontrakte dieselfde tyd verstryk. Doebai is een van die sewe Emirate, Bahrein nie.”

“Ek kan my nie voorstel hoe dit daar lyk nie.”

“Anders as hier. Ek sal vir jou foto’s wys.”

“Gaan julle weer terug?”

“Nee, ons is klaar met die Arabiere.”

Ek wens ek kan so maklik sê, ek is klaar met iets – met my werk, met die dorp, my vervelige lewe hier, dink Marta.

“Klink of jy ’n lang vakansie beplan,” sê sy hardop. “Hier is nie werk nie.”

“Vergeet jy van die sopkombuis?”

“Ek meen as jy wil geld verdien met Engels of so. Jy sal sukkel om leerlinge te kry, tensy jy aansoek doen om ’n skoolpos en Engels is meneer Stals se vak.”

Hy grinnik. “Ek wil hom nie beledig nie, maar met die Engels wat ons hier geleer het, kom jy nie ver nie.”

“Die Weskus is trots-Afrikaans, jy weet mos.”

“Ja, en dis wonderlik om weer my eie taal te hoor.”

Hulle loop stadiger, maar kom gou by die Swanepoels se hekkie. Daar brand ’n lig in die voorkamer.

“Hulle wag vir jou,” sê sy en wys soontoe.

“Ek het ’n sleutel. Ek kan nie glo dat my pa-hulle deesdae ook die deure sluit nie.”

“Dis oor al die grusame moorde, daar is elke dag berigte in die koerante en op TV. Hulle sê rowerbendes van Kaapstad en Johannesburg ry van dorp tot dorp om niksvermoedende plattelanders te beroof en uit te moor, plaasmoorde neem ook toe.”

“Verskriklik, die boosheid.”

“Dankie dat jy saamgestap het.”

Marta voel tuis by Gunther, maar sy kry die aaklige gevoel dat sy sal omkap as Deon nou op die stoep uitstap. Sy is nie reg vir hom nie, sy wil wegkom. Gunther sit sy hand op haar arm.

“Ek loop saam met jou tot by jou huis.”

“Dis net om die hoek.”

“Hy kan net om die hoek vir jou sit en wag.”

Sy haal haar skouers op. “Goed, as jy moet.”

Die volgende oomblik vat hy haar hand, en stap aan. Die sypaadjie hierlangs is nie breed genoeg vir twee nie en hulle moet versigtig wees om nie die madeliefies wat toegevou is vir die nag, raak te trap nie. Gunther besef dit en trek haar saam met hom in die straat in. Sy wil haar hand uit syne losmaak, maar hy hou dit stywer vas tot by haar huis twee oop erwe verder. Daar los hy haar en maak die hekkie oop. Hy hou dit vir haar vas sodat sy kan instap.

“Dankie, nog ’n keer,” groet sy.

Sy wil maak dat sy wegkom, maar hy stap ongenooid agter haar aan.

Op die stoeptrappie huiwer sy. Moet sy hom innooi?

Hy lig sy ken en kyk na haar uithangbord onder die stoeplig.

“Ek hoor jy is die dorp se enigste haarkapper. Is ek reg?”

Sy knik. Dit voel vir haar asof sy nooit van hom ontslae gaan raak nie.

“Kan ek ’n afspraak maak?” vra hy.

Sy het gehoop dis wat Deon sou doen. Nou is dit hy, Gunther.

“Ek kom môre na julle toe om jou ma se hare te kam. Maar as jy wil hê ek moet sny, werk dit beter in die salon.”

“Jy het ’n salon?”

“Jip.” Sy wys na die stoepkamer. “Dis klein, maar gerieflik.”

Hy loer, maar sy glo nie hy kan veel in die donker sien nie. “Hoe laat moet ek hier wees?”

“Ek is tienuur by jou ma.”

“Negeuur?”

“Dit sal nouliks ’n uur neem.”

“Miskien wil Deon ook sny, dan slaan jy sommer twee vlieë met een klap.”

Hy sê dit so doodgewoon, dis maklik om doodgewoon te antwoord, al versnel haar hartklop en al voel sy benoud.

“Hy’s welkom.”

“My pa sê jy sny sy hare ook?”

“Een keer ’n maand,” sê sy. “Sy hare groei stadig, en hy was laas week hier.”

Hy kyk om hom rond na die witgeverfde bankie, die potte met plante.

“So, jy maak ’n goeie lewe hier?”

Wil hy hê sy moet hom innooi? Maar hulle het pas koffie en koeksisters by die pastorie gekry. En haar ma gaan weer vrae vra.

“Ek oorleef,” sê sy. “Werk hard, staan vroeg op, vyfuur.”

Hy fluit saggies: “Dan moet ek weg wees sodat jy in die bed kan kom.”

Hy gee ’n tree nader. En skielik is sy bang hy soen haar, dit lyk of hy lus het. Die dreuning in die straat af en die ligte wat om die hoek skyn, is net betyds. Hulle kyk saam hoe meneer Stals se Toyota voor die hekkie stilhou.

“Dis meneer Stals en Dora om Dania te kom haal,” sê Marta. “Ek gaan roep haar gou.”

Sy los hom hoog en droog en pluk die voordeur oop. Daar staan Dania in die portaal. Sy hou die koekblik met die melktert eenkant toe en skud haar skouersak reg.

“Ek’t geluister vir die kar,” sê sy asof sy verskoning moet maak. “Ouma Hetta het vroeg gaan slaap. Net Sewende Laan gekyk, toe wil sy nie die nuus ook sien nie.”

“Dankie, Dania.”

“Naand, Meneer,” groet Dania toe sy Gunther sien.

Marta kan sien sy bars van nuuskierigheid.

“Kan ek help?” vra Gunther en hy kyk na die blik.

“Dankie, Meneer, maar ek’s orraait.”

Dania loop so vinnig met die trap af, sy struikel amper. Meneer Stals-hulle klim nie uit nie, hulle wag. Sy gee die blik vir Dora deur die venster aan, draai om en waai voor sy inklim. Meneer Stals toeter drie kortetjies en die kar trek weg.

“Is jy seker jy is veilig?” vra Gunther.

“Dis alles rustig.”

“Goed, dan sien ek jou môreoggend negeuur. Nag, Marta.”

Hy lig sy hand en laat sak dit weer, stap flink in die paadjie af. By die tuinhekkie draai hy ’n slag om en lig weer sy hand. Sy waai vir hom en wag tot hy in die donker verdwyn voor sy ingaan en die deur agter haar sluit.

Marta

Подняться наверх