Читать книгу Marta - Helena Hugo - Страница 6
ОглавлениеTwee
“Jou lank geneem om die paar handdoekies op te hang,” skimp Hetta toe Marta die agterdeur oopstoot.
“Dit was so lekker buite, ek het bietjie gedraai.”
“Intussen staan my tee en koud word.”
Dis op die punt van Marta se tong om vir haar ma te sê sy kon maar self geskink het, toe Hetta met haar verwronge handjie oor die bladsy voor haar vee. Dis moeilik vir haar om ’n teepot met kookwater te hanteer, selfs een so klein soos dié een. En Marta voel so skuldig, sy maak oordadig verskoning terwyl sy die tee skink. Dit is nog stomend warm.
“Hou op om ekskuus te sê, jy maak dit net erger!” keer Hetta.
“Jammer, Moeder.”
“My pille!”
Hetta slaan haar vingertjies om die rand van die piering en trek die koppie tee aan die piering nader. Die koppie wikkel gevaarlik en Marta neem weer oor. Sy gooi melk en suiker in, kry raas omdat daar te min melk en te veel suiker is, en vlug kamer toe om haar ma se pille te gaan haal.
Hetta is gewas en aangetrek, maar haar bed is nog nie opgemaak nie en haar kamer is nie aan die kant nie. Marta kyk op die wekker op die bedtafeltjie en sien dat sy sal moet spring voor oom Ollie arriveer. Die pille was saam met haar ma se ontbyt wat sy vanoggend in die bed gekry het, en Hetta het vergeet om dit te drink. Dit staan nog net so op die bedtafeltjie.
Marta gryp dit so vinnig, een skiet uit en val op die vloer.
Waar om nou daarvoor te soek? Sy skakel die lig aan en kruip op haar knieë rond toe die telefoon lui. Haar ma sal nie antwoord nie en sy moet haar soektog staak en studeerkamer toe hardloop.
“Hallo!” sê sy voor sy die gehoorbuis behoorlik gelig het.
“Marta, dis Emma hier.”
Nog ’n afspraak. Die Maandag gaan besig raak. Of dalk moet sy help bak vir een of ander funksie of toebroodjies maak vir ’n begrafnis, hoewel sy niks weet van ’n sterfgeval die afgelope week nie.
“Hallo, Emma.”
“Jy klink uitasem. Hoe gaan dit?”
“Goed en met julle?”
“Uitstekend, maar Dora het my nou weer so ’n gewete gegee oor ons mense wat honger ly – en hulle is hier om ons, kindertjies wat van honger by die skool omkap en die voedingskema kom nie in werking nie. Pastoor Willemse-hulle gee wat hulle kan, maar ons?”
Marta het ’n vermoede wat aan die kom is. “Ek weet nie,” sê sy vaag.
“Ons moet dringend plan maak om die sopkombuis weer aan die gang te kry. Is dit moontlik dat jy vanaand of môreaand kan oorstap pastorie toe vir ’n vergadering?”
Hulle het dit verlede jaar probeer en hulle was ’n paar maande aan die gang, maar van die ander helpers wat aan die begin so entoesiasties was, het hulle een na die ander in die steek gelaat. Ons gaan weer alleen werk, wil Marta beswaar maak, maar sy het nie die hart nie.
“Ek sal iemand vir Moeder moet kry.”
“Ek sal Dora vra of Dania vry is. Kom versterk ons getalle, asseblief.”
“Wie almal?” vra sy versigtig.
“Jy en Tienke en Ciska se Eva. Yvonne en Gerda en Sandra. Ek wil Ragel, ek bedoel Marinda, vra of sy kans sien. Dis die vroutjie wat mevrou Visser se huis huur.”
“Sy kuier glo net.”
“Sy het vir drie maande vooruit betaal.”
Drie maande se haarafsprake! Marta tel die pen op en maak gou ’n som in haar afspraakboek. “Sy kom netnou hiernatoe vir haar hare.”
“Goed dat jy sê, dan bel ek haar vanmiddag.”
“Moet ek haar solank pols?”
“Laat dit liewer aan my oor. En Marta, sy is deur ’n moeilike tyd.”
“Ek het gehoor van haar man.”
“Sê maar niks.”
“Emma, hoe ken jy my?”
“Ek is jammer – ek wou net seker maak. Watter dag dan, vir die vergadering?”
“Maak dit liewer Dinsdag vir my en Dania. Ek moes Moeder Sondag ook alleen los om Ciska se hare te kam. Het jy gehoor Deon-hulle is terug?”
“Ek was vanoggend daar vir haar voet. Toe sien ek hulle.”
Dit voel vir Marta of haar hart by haar keel wil uitspring.
“Hoe lyk hulle?”
“Aantreklik en gaaf soos altyd. Deon is verloof, Gunther is nog los.”
“Is sy mooi – die verloofde? Hoe lyk sy?”
“Sy’s nie hier nie. Sy’t van Bahrein af saamgevlieg Kaapstad toe, maar dadelik ’n aansluitingsvlug Johannesburg toe geneem. Dis terwille van haar ouers, eintlik haar pa, wat pas ’n hartomleiding gehad het. Deon sal haar later kom voorstel. Hy bly ook net ’n paar dae en dan vlieg hy om haar by te staan.”
Marta kan skaars die woorde uitkry: “Wanneer … trou hulle?”
“Ek het nie gevra nie. Is dit nou reg vir Dinsdag?”
Sy sluk. “Hang af … van my ma.”
“Ek sal met haar praat – as dit nodig is.”
“Ek dink ek hoor haar. Totsiens solank.”
Dit is so, haar ma roep. Maar Marta staan. Dis asof haar kop en skouers al swaarder word, haar hande slap, haar knieë lam. Die sopkombuis beteken ure in die kombuis, want sy kan net kook, terwyl die ander beurte maak om op te skep. Dit pla Marta dat sy altyd teruggedwing word kombuis toe, dat net sy nie kan uitkom en wegkom wanneer sy wil nie. Ja, Emma is ook hardwerkend. Dalk het hulle twee – wat geaardheid betref – baie gemeen, hoewel hul omstandighede hemelsbreed verskil. Emma is nie vier en twintig uur en sewe dae van die week in diens van ’n invalide nie. Rosie en Valery is in háár diens. Sy is getroud met ’n goeie, liefdevolle man – ’n predikant. Sy kan elke vraag wat in haar gemoed opkom, met hom bespreek. Sy antwoorde is betroubaar en waar. Saans kan sy in sy arms tot rus kom. Sy wat Marta is, slaap alleen. Soms huil sy in haar kussing, soms verlang sy, soms wonder sy en dan is daar niemand om na haar te luister nie. Sy kan nie die Vrouebybelstudies bywoon nie, sy kom selde in die kerk. As sy inkopies doen, moet sy hardloop. Sy het nie juis vriende van haar eie ouderdom nie. Sy smag na liefde. En nou het Deon iemand anders.
“Marta! Martaaa!”
Ja, sy het nog haar ma – elke oomblik van die dag.
“Ek kom, ek kom.”
Marta het geleer om haar ma nie te ontstel nie en sy hét. Sy het haar nou te lank laat wag. Dus hou sy haar stem lig, gaan haal die houertjie met pille en stap flink kombuis toe.
Hetta gryp dit sonder om dankie te sê: “Wat lê jy vandag op die foon?”
“Dit was mevrou Van Velden.”
Marta verwys nooit voor haar ma na die dominee se vrou op haar voornaam nie. Hetta glo nie daaraan om so eie met hul meerderes te wees nie, sy glo aan respek vir mense soos die dominee en sy vrou.
“Wil Mevrou jou weer in die werk steek?” Sy haal die pille een vir een uit en pak hulle in ’n rytjie voor haar op die tafel.
“Sy wil die sopkombuis laat herleef.”
“Dis nie al my pille nie!”
Marta het gedink sy sal nie agterkom nie en sy hou haar dom: “Moeder?”
“Die blou pilletjie, daai klein blou pilletjie.”
“Miskien het ek vergeet.”
“Miskien?”
“Ja, ek het vergeet.”
“As ek ook nie wakker sit nie …”
Marta haal die botteltjie blou pilletjies uit die medisynekas in die hoek, skud een uit, bêre die botteltjie en maak besems en stoflappe bymekaar.
“Ek gaan Moeder se kamer aan die kant maak,” sê sy en maak dat sy wegkom.
Hetta brom iets en sluk haar pille.
Drie tellings en Marta staan in die middel van die slaapkamer.
Asseblief! Waar is daardie blou pil! Wys my voor my ma dit kry.
Dis een van haar skietgebedjies wat sy nie so kras bedoel het nie. Maar sy is moeg en die dag het skaars begin. Toe sien sy die pil reg langs die spieëlkas se een poot.
Dankie, Here! Dankie, dankie!
Sy buk, tel dit op en sit dit op die spieëlkas onder een van haar ma se glaspotjies. Dan stoot sy die venster oop, maak die bed op, vee en stof af. Hetta se kamer moet elke dag skoongemaak word en Marta doen dit, soos sy alles doen wat van haar verwag word. Sy gaan binnekort weer potte vol sopkombuiskos kook. Die elektrisiteitsrekening sal gevaarlik styg. Sy sal oral afknyp om by te hou en stories vertel om haar ma gerus te stel – soos dat die kerk vir die elektrisiteit betaal – wat hulle nie doen nie.
“Jy kla, maar jy sal meer vrye tyd hê as jy minder vir die kerk werk,” het haar ma eendag geskimp.
Vrye tyd? Om wat mee te doen? wou Marta vra. Sit en luister hoe swaar Moeder ons vyf kinders in die wêreld gebring het, toe siek geword het en elke dag die lydensbeker drink. Moeder is die een wat kla.
Sulke gedagtes kom by haar op, maar sy onderdruk dit met mening. Haar ma verkeer in pyn en het rede om te kla. Sy sorg vir haar, sy bly binne roepafstand, al gesels hulle nie, al dryf hulle verder en verder van mekaar af weg.
Was daar ’n tyd toe hulle na aan mekaar was, toe haar ma vir haar omgegee het? Nee, sy was haar pa se kind. Hy het haar verstaan. Hy was ’n sagte man, die soort op wie sy maklik haar hart sou verloor – soos Deon Swanepoel. Hoekom het hy gaan staan en verloof raak?
Amper vergeet sy die blou pilletjie!
Sy sit dit in haar voorskootsak en stap kombuis toe.
“My rug is seer,” kla haar ma. “Ek moet gaan lê.”
Marta se hart vermurwe. Dit kan nie maklik wees om hulpeloos te wees nie.
“Die bed is opgemaak, ek vat Moeder kamer toe.”
“Dink jy jou broers sal ooit weer van oorsee af hier aankom?” vra Hetta onverwags.
“Miskien, maar nie al drie tegelyk nie.”
“Waarvoor het ek hulle grootgemaak – om koers te vat en my alleen te los?”
“Moeder is nie alleen nie.”
“Ek verlang na my seuns en ek wil nie jaloers wees op Ciska Swanepoel nie.”
“Moeder is mos nie?”
“Jy kan nie wag om hulle te sien nie.”
“Ek sal vanmiddag oorstap,” neem Marta haar kans waar.
“Dan moet jy gaan.”
“Ek sal nie lank wegbly nie, ek sal net groet.”
“Hulle kuier nou lekker.”
Deon en Gunther sit saam met hul ouers om die ontbyttafel. Ciska is in haar rystoel, maar dit voel vir Gunther soos in die ou dae toe hulle voltallig was en sy ma gesond en lewenslustig.
Hy is stil, want hy het minder om mee te deel as sy broer. Deon is gelukkig en Gunther gun hom sy geluk. Hy was immers tot ’n paar maande gelede in dieselfde bootjie as Gunther – alleen en soekend na sy ander helfte. Aan mooi metgeselle het dit hulle nie ontbreek nie en dit was nie vir hulle ongewoon om soms ’n ruk lank in die arms van een of ander skoonheid tot rus te kom nie. Oor sulke los verhoudings word daar nie met jou ouers gepraat nie, jy noem dit hoogstens vir jou broer of vir ’n vriend. Julle skerts daaroor, julle oorweeg dit saam en kies dan daarteen. Uitlandse meisies is eksoties en interessant, maar as selfs die taal ’n probleem word, besluit jy met jou verstand, nie met jou hart nie. Jy maak jou bootjie los en dryf verder. Gunther dryf nou al maande so stoksielalleen.
Hy het ook ’n ander rede wat hy nie hier sal noem nie.
’n Stukkie van die gesprek dring tot hom deur toe sy pa die botter langs hom optel en vir Deon aangee.
“Ons is terug, Pa. Chanté se pa het haar nodig.”
Ou dokter Naudé is ’n bekende internis. Hy staan aan die hoof van ’n groot praktyk. Maar hy is twee en sewentig en sy gesondheid het hom in die steek gelaat. Ná dese sal hy rustiger moet leef.
“Dis goed, nou het ons ook ’n dokter in die familie.”
Deon grinnik. “Nog nie, Pa.”
Gunther let op dat sy ma haar kop lig en haar oë skreef asof sy nie mooi kan hoor nie. Die hand waarmee sy haar broodjie vashou, bewe liggies.
“Wanneer trou julle? Het julle besluit?”
“Chanté het my nog nie eens aan haar ouers voorgestel nie.”
“Jy sal moet ouers vra,” terg sy pa.
“Julle moet tog nie te lank uitstel nie,” vermaan sy ma.
Sy is vir Gunther so fyn en vroulik, selfs in haar ouderdom en met slegte gesondheid is sy mooi en afgerond. Vanoggend skyn die son van die groot vensters af op haar hare en verhelder die ligter strepe sodat dit lyk asof sy ’n ligkrans dra. Die blos op haar wange kan dalk van grimering wees, maar die lig in haar oë is van blydskap. Een van haar seuns het eindelik ’n maat gekry. Dit is, naas hul verrassende aankoms hier in die land, die grootste gebeurtenis in haar lewe.
Wat doen sy tog heeldag so vasgekluister aan die stoel? Luister musiek? Hy weet dat sy nie meer kan lees nie en selde televisie kyk. Sy hekel nog, maar dit doen sy so outomaties, sy hoef nie veel te kyk nie. Een van die dae sal sy glad nie meer kan sien nie.
Hy is lief vir sy ma. Sy was nog altyd sy heldin – bedrywig toe sy nog gesond was en aan die hardloop en woel en werk in en om die huis, by die skool en agter die klavier en orrel. Hoeveel kinders het sy geleer, hoeveel skoolkonserte en kore afgerig, hoeveel keer self opgetree? Hy wonder of iemand dit getel en neergeskryf het. Sy was elke dag by die skool en elke Sondag agter die orrel. Daar was Paasuitvoerings en Kerskonserte, optredes op buurdorpe tot selfs in Stellenbosch en die Nico Malan. Sy was bekend en bemind. Sy kon vandag wêreldberoemd gewees het. Maar sy het Gideon Swanepoel en die eenvoud van die Weskus gekies.
“Ek kan nie wag om haar te ontmoet nie.”
“Mamma, dit hang alles af van haar pa se gesondheid. Hy moet eers herstel voor ons alles finaliseer en weer hiernatoe kom. Mamma verstaan mos.”
“Ja, julle was landuit en as sy my dogter was – sy word nog my dogter – sou ek ook lang ure met haar wou beraadslaag oor alles wat met so ’n geleentheid gepaardgaan. Julle trou seker in Pretoria?”
“Dit is nog nie ’n uitgemaakte saak nie.”
“Wil julle hier kom trou?”
Deon skep kweperkonfyt op sy brood. “Hoekom nie?” vra hy geheimsinnig.
Hulle het dit genoem, Gunther onthou die gesprek.
“Haar pa het pas ’n groot operasie ondergaan. Hy kan nie so ver reis nie.”
Gunther het al vergeet hoe onselfsugtig hul ma kan wees. Sy is ook nie reisvaardig nie, maar sy dink al weer eerste aan iemand anders.
“Ons sal alles oorweeg,” sê Deon verstandig. “Die konfyt is wraggies lekker.”
“Julle het dit seker nie daar anderkant gekry nie?”
Hul pa het oud geword. Sy skouers hang, sy vingers is die ene artritis. Hy lyk vir Gunther verwaarloos. Hy kyk van sy pa na sy ma. Die koningin en die stalkneg, dis wat hulle is.
“Wat het julle daar oorkant geëet?”
“Alles wat ons wou hê en wat in potjies en blikkies van ander wêrelddele ingevoer kan word, maar nie sulke kweperkonfyt nie.”
Iets sal vir sy pa gedoen moet word en hy kan nie. Hulle het nog nie swaarde gekruis vandat hy tuis is nie, maar in die verlede was hulle dikwels haaks en hy durf nie persoonlik raak nie. Maar sien sy ma dit nie raak nie? Pla dit haar nie dat hy so verslete is nie? Of kyk sy by hom verby – by die ou man – en sien hom soos hy veertig jaar gelede was. Hul liefdesverhaal het Gunther nog altyd verstom. Dis ’n wonderwerk dat twee mense so verskillend van opvoeding en agtergrond tot mekaar aangetrokke kon raak en mekaar kon aanvul en opbou en liefhê tot in hul gryse ouderdom. Maar dit het gebeur en dit kan weer gebeur. Hang af wat jy in ’n maat soek, of wie?
“En jy, Gunther?”
Amper skrik hy toe hy sy naam hoor.
“Mamma?”
“Wanneer kom wys jý jou aanstaande bruid?”
“Ek wil Deon eers kans gee.”
“Is daar iemand?”
Sy ma se oë is so blou soos die see by Capri. En uit die bloute onthou hy die Italiaanse meisie wat hy soontoe geneem het. Haar naam was Lucinda. Hy het byna kop verloor daardie vakansie. Gunther bloos en kyk af. Vreeslik dat sy ma se oë hom aan Lucinda moet herinner.
“Jy bloos,” terg Ciska en leun verder vorentoe.
Hy skud sy kop. “Nee, Mamma. Daar is niemand.”
“Nie dat hy nie sy kans waargeneem het om hulle uit te toets nie,” terg Deon.
“Wie praat?” brom Gunther.
Deon is nie onskuldig nie. Maar Gunther het hom voorgeneem om niks te vertel nie. Deon is werklik innig lief vir Chanté en Gunther gun hom dit.
“Jou tyd raak min,” vermaan sy pa.
“Gun my ’n jaar of twee, dan verras ek julle ook.”
“Toe ek julle ouderdom was, was ek en jou ma al gevestig en julle twee sulke kannetjies.” Die ou man wys effens bo tafelhoogte.
“Julle was ook maar laat vir daardie dae,” verweer Deon.
“Ja,” sug hul pa.
Ciska tel die silwerklokkie op en lui vir Eva om af te dek.
Gunther sal wag tot Deon Pretoria toe is voor hy hulle van sy droom vertel. Laat sy broer eers behoorlik kuier. Dit duur dalk maande voor hy en Chanté hul toekoms bevestig. Maar syne is onsekerder as hulle s’n en hy moet nog te veel veg teen die twyfel. Geloof soos ’n mosterdsaadjie, het Jesus vir sy dissipels gesê, dis al wat jy nodig het om bome te ontwortel en berge te verskuif. Soms voel dit of sy geloof net te klein is, kleiner as selfs die kleinste spikkeltjie wat jy met jou blote oog kan sien.