Читать книгу Marta - Helena Hugo - Страница 11
ОглавлениеSewe
Woensdagoggend is die Swanepoel-huishouding in rep en roer. Chanté het Deon vyfuur die oggend in trane gebel. Haar pa, wat so goed op die omleiding gereageer het en gereed was om oor ’n dag of twee huis toe te gaan, is in die nag onverwags oorlede.
“Sy sê ek hoef nie so gou al te kom nie, maar sy kon nie haar ontsteltenis wegsteek nie. Gister, toe ons laas met mekaar gepraat het, het hy regop gesit en grappe maak. Sy verwyt haarself, omdat sy nie die tekens raakgesien het nie.”
“Dis tog in die laaste instansie sy dokter se verantwoordelikheid,” sê Gunther, “om tekens dop te hou?”
“Sy is ook ’n hartspesialis.”
“Hulle het nie mag oor lewe en dood nie.”
“Dis haar pa,” sê Deon.
“Ja,” is al wat Gunther kan uitkry.
Sy het hom ook jare lank verlaat, nes ons vir ons pa, dink hy. Maar hy sê dit nie. Deon was in elk geval nog altyd nader aan die ou man as hy – Gideon, die oudste, die naamdraer.
“Pa-hulle sal teleurgesteld wees as ek nou al gaan. Ek sal moet bly vir die begrafnis en om alles eers daar in orde te kry. Chanté se suster is in Kanada, haar broer in Nieu-Seeland. Hulle sal nie gou vir ’n roudiens kan kom nie. Chanté moet alles reël. Haar ma steun op haar.”
“Dis goed sy het jou,” probeer Gunther Deon kalmeer.
Hulle sit by die kombuistafel en drink die koffie wat Gunther gemaak het, met Deon se rekenaar oop tussen hulle. Die eerste oggendvlug wat hy kon kry, vertrek vyf voor nege vanaf die Kaapse lughawe. Hul ouers het netnou nog geslaap, maar hul pa sal elke oomblik die kombuis binnestrompel. Hy staan sy hele lewe op die kop sesuur op, nie vyf minute vroeër of later nie.
Deon en Gunther deel die stoepkamer soos jare gelede toe hulle nog seuns was. Toe Deon se selfoon lui, was Gunther eerste wakker. Hy het gesien dis Chanté en vir Deon wakker geskud sodat hy kon antwoord. Dit het deur Gunther se kop geflits dat mense simpel raak as hulle verlief is. Hy ken sulke oproepe wat veronderstel is om verrassings te wees en gewoonlik ontydig is.
Hy het die selfoon vir Deon aangegee, die komberse oor sy kop getrek en hom probeer afsluit van die gesprek. Maar hy kon duidelik hoor een of ander ramp het Chanté getref. Sy is nie gewoonlik so histeries nie. Sy is soos Marta Koster – ’n mens wat na haarself kan omsien. Vanoggend was sy reddeloos.
“Ek moet gaan inpak,” sê Deon en wil net opstaan, toe die deur opgaan.
Hul pa kom met toegeswelde oë en deurmekaar hare ingestrompel. Hy gaan staan stokstil. “Nou, as julle sit asof daar dood in die familie is? Is dit die rekenaar? Wil julle speelding nie werk nie?”
Hulle ken hom so. Hy sal van vroeg tot laat grappies maak, lighartig en opgewek wees – al is sy lewe nie maklik nie. Maar laat iemand hom dwarsboom, dan word hy onredelik kwaad.
“Dag, Pa,” sug Deon.
“Koffie vir Pa?” vra Gunther.
Die ou man gaan sit sugtend. “Slegte nuus?” vra hy.
“Ja, Pa.”
Deon verduidelik en hy luister simpatiek.
“Sulke tye is jou plig by haar. Jou ma sal ook verstaan. Maar dis jammer. Ons is nou net daai wortelbedding aan die oopspit.”
“Gunther kan help.”
Sy pa kyk met ongeloof op sy gesig na Gunther. “Sal jy?”
“Ek sal, ek belowe.”
“Ons wil Pa ’n guns vra.”
“Vra.”
“Kan Gunther my met die Cadillac wegbring Kaap toe?”
“Jong, vat liewer die bakkie, die Cadillac staan met koppelaarprobleme. Sy gaan julle in die steek laat.”
Deon frons. “Die bakkie val uitmekaar.”
“Nee wat, hy bring my waar ek wil wees.”
“Dan kan Pa bestuur.” Deon raak ongeduldig. “Ek gaan stort en pak,” sê hy en kies koers.
Sy pa kyk hom agterna: “Julle kom nou te vinnig op my af. Wat van julle ma?”
“Eva is hier,” sê Deon, sy rug na sy pa.
“Moet Eva my plek neem!” roep die ou man uit. “Ons ken nog nie eens die mense nie,” brom hy en trek die suikerpot nader. Sy hande bewe, hy mors suiker op die tafel toe hy skep.
Gunther kan verstaan dat hy omgekrap is. Sy pa het ’n vaste roetine en as dit omvergewerp word, raak hy verward.
“Los hom, Pa,” sê hy. “Deon is ontsteld. Chanté het hom ontstel.”
“Ons het ook nie ’n goeie nag gehad nie – ek en jou ma.” Die ou man vee die suikerkorrels met sy plathand op ’n hopie.
“Ek sal die bakkie bestuur. Wys my die truuks, ek sal regkom.”
Miskien praat hy teen sy beterwete, maar dis die enigste uitweg, besluit Gunther.
“Is jy seker?”
“Pa, ek het met viertrekke op die woestynduine gejaag. Dit was ons sport.”
“Jy sou dit nie kon regkry in my bakkie nie. Jy sou jou storie moes ken in my bakkie. Hoe lank bestuur jy al?”
“Seker twintig jaar.”
“Deon het jou mos geleer.”
“Ja, Pa, dis hoekom ek so goed is.”
Die ou man grinnik. “Jy sal so dink.”
Gunther antwoord nie. Hy voel afgehaal, selfs seergemaak. Hy is twee jaar ná Deon gebore en hy moes alewig vaardighede aanleer wat sy broer reeds bemeester het. Sy pa is ’n onderwyser en ’n opvoeder. Hy behoort te weet hoe jy kinders moet hanteer. Maar hy was al die jare net te partydig vir sy oudste. Hy het Deon voorgetrek.
Here, ek het hom vergewe. Hoekom ontstel dit my nou?
Maar sy pa dink blykbaar alles is in orde. Hy sluk sy koffie weg asof dit water is en staan van die tafel af op.
“Ek gaan jou ma inlig,” sê hy.
Marta vlieg uit die bed toe die telefoon lui. Dis nog nie halfsewe nie en vroeg vir ’n oproep, maar ook nie so vroeg nie. Sy het sesuur wakker geword en toe weer ingesluimer. Nou is sy laat.
Hetta hoor ook die telefoon, want sy lui haar klokkie asof daar ’n brand in die huis is. Marta keer in die verbygaan: “Moeder, hou vas, ek gaan gou antwoord!”
Die klokkie lui stadiger, raak stil en lui weer, asof Hetta ’n speletjie speel.
Ons is vanoggend ’n uur laat, want jy klim nie uit die bed as die wekker afgaan nie, verwyt Marta haarself.
“Marta hier! Hallo!”
Sy klink lewendiger as wat sy is.
“Marta, dis Gunther.”
Bel hy so vroeg om te vra of Deon ook kan kom of is daar ander probleme? Oom Swanie sal nie self bel as Ciska iets oorgekom het nie, nie noudat sy seuns daar is om te help nie.
“Gunther, is iets verkeerd?”
“Ja.”
“Is dit jou ma of jou pa?”
“Nee, dis Deon, ek bedoel Deon se aanstaande skoonpa.”
Amper skrik sy haar yskoud. Maar wat is verkeerd?
“Dokter Faure is vanoggend vroeg oorlede.”
“Ek is jammer om dit te hoor, sê vir Deon.” Marta hoor haar stem asof sy die woorde geoefen het. Jammer vir wie? Vir Chanté en Deon of vir haarself?
“Deon moet dringend Pretoria toe vlieg.”
Sy sal hom nie sien nie, nie vandag nie, of miskien wel.
“Wil julle vroeër kom vir julle hare?”
“Ons wil kanselleer, anders is ons nie betyds op die lughawe nie. Ek is jammer, Marta, ek bel jou later vandag as ek terug is, dan maak ons ’n ander afspraak vir my. Deon sal onbepaald in Pretoria moet bly, minstens tot alles afgehandel is en Chanté kans sien om hiernatoe te vlieg en ons ma en pa te ontmoet. Is dit goed so?”
Marta kry skaars ’n geluidjie uit.
“Ek krap nie nou jou program deurmekaar nie?”
Nie my program nie, my dag, my lewe, my liefde. Besef jy hoe ek na hierdie dag uitgesien het?
“Ry versigtig,” sê sy sag.
“Dink aan my. Ons ry met my pa se bakkie en ek bestuur. Deon weier om aan daardie stuurwiel te vat.”
Toe skrik sy. Meneer Swanepoel se bakkie het ’n reputasie om te bly staan of eenvoudig vas te slaan. Sy weet, sy het hom al ’n paar keer van Lambertsbaai af huis toe gevat, sy koelboks vol vis op haar Mazda se agtersitplek en sy stokke wat by haar venster uithang.
“Julle gaan dit nie maak nie.”
“Ons het nie ’n keuse nie.”
“Ek bel dadelik vir Emma. Sy sal nie omgee om Johan te vra om hul kar vir julle te leen nie. Sê nou julle gaan staan, dan mis Deon sy vlug.”
“Marta, wag!”
Maar Marta het die foon neergesit en sy skakel klaar die pastorie. Johan antwoord self en hy is helder wakker. Sy verduidelik so goed moontlik en Johan bied aan om te ry. Haar pa glimlag goedkeurend uit sy portretraam.
“Ek moet toevallig vandag in Stellenbosch wees vir ’n lesing by die kweekskool. Dis eers vanmiddag, maar wat, ek sal by vriende gaan kuier. Bel ek die Swanepoels of jy?”
“Miskien moet jy bel, dan kan julle sommer die nodige reëlings tref.”
“Maak so, mooi dag vir jou, Marta.”
Sy sit die telefoon neer en skuif haar pa se portret effens meer na regs. Tyd dat sy weer ’n blommetjie hier rangskik.
Want elke keer as iemand se pa sterf, mis sy hom.
Mooi dag. Wat weet Johan van haar hart en haar lewe? Wat weet enigiemand? Haar ma lui ook asof sy ’n groot nood het. Siestog, sy het seker.
Marta draf in die gang af om te help.
“Ek het probeer knyp,” kla Hetta. “Seker die water wat ek laasnag gedrink het.”
“Dis niks nie, Moeder, ons maak dit gou-gou reg.”
Marta sit ’n handdoek in die rystoel, lig die ouer vrou uit die nat bed op en stoot haar badkamer toe. Die skoonmaakproses en om haar ma aan te trek, hou haar ’n volle uur besig. Eers teen agtuur is die lakens in die wasmasjien en die ontbyttafel gedek.
“Waarvoor moet die Swanepoels jou so vroeg bel? Deon se aanstaande skoonpa is mos nie jou besigheid nie?” vra Hetta, die tafelgebed skaars afgesluit.
“Hulle sou vanoggend laat hare sny het.”
“Honderd en twintig rand in die water,” sug Hetta en trek haar hawermoutpap nader.
“Gunther sal later terugkom vir sy hare.”
“Tweede prys,” grinnik Hetta. “Beter as niks.”
“Daar is niks tussen my en Gunther nie.”
Hetta sit haar lepel neer. “Kind, hoe min respek ek ook al vir ’n Swanepoel het – hy is jou laaste kans. Moenie hom deur jou vingers laat glip nie.”
“Moeder sing nou ’n ander deuntjie. Moeder het gesê ek hardloop agter hulle aan.”
“Ek was verkeerd. Kan ek tee kry, en my pille, asseblief?”
Marta doen wat sy gevra is om te doen.
Ná ete stoot sy haar ma na haar sithoekie in die televisiekamer. Sy gee die afstandbeheerder vir haar.
“Dankie,” sê Hetta, maar skakel nie dadelik aan nie. “Ek sal bly wees as jy nie vanaand gaan rondloop nie.”
“Ek was by die kerk se sopkombuisvergadering.”
“Jy het laat ingekom.”
Is haar ma van plan om met haar oor tyd te stry? Sy het nie tyd nie, allermins vir haarself!
“Ek maak die kombuis skoon. Lui as Moeder my nodig kry,” sê Marta en loop voor hulle rusie maak.
Sy was die skottelgoed, ook die vloer wat sy elke dag skrop, omdat kombuisvloere vuil word en omdat dit haar gewoonte is. Alles moet altyd perfek wees – van haar ma tot die kombuisvloer – alles skoon en netjies. Marta self kom laaste aan die beurt en stort eers teen negeuur. Dis Woensdag. Sy gaan Ciska se hare doen. Sy het heel week daarna uitgesien. Maar dis te laat. Deon is weg.
Hetta sit en kyk na ’n program oor die Nylrivier, haar klokkie en selfoon byderhand.
Marta soen haar op haar wang. “Nou-nou terug.”
“Gaan jy langsaan wees?”
“Gou Ciska se hare doen.”
Hetta knik stug, haar oë vasgenael op die skerm.
Toe Marta by haar hekkie uitstap, kom Ragel Naudé saam met ’n ouer vrou in die pad af. Die twee vroue loop en gesels, maar raak stil toe hulle Marta gewaar en sy haar hand lig en groet. Hulle stap mekaar tegemoet op die hoek net langs die Swanepoels se huis. Dit moet Ragel se niggie wees, dis wat Emma gesê het.
“My niggie, Tienie,” stel Ragel haar voor. “Dis Marta.”
“Aangename kennis, Marta.”
Tienie het ’n hartlike manier, ’n gawe glimlag, vriendelike oë.
“Ek’t haar gesê jy’s my nuwe haarkapper.” Ragel vat selfbewus aan haar nek.
“Jy het geseënde hande, Marta,” sê Tienie. “Kan ek ’n afspraak by jou maak voor ek teruggaan? Ek wil my haarkapper in Somerset-Wes gaan wys wat kan gedoen word.”
Marta huiwer. Bedoel die vrou wat sy sê of terg sy?
“Of is jy besig?” vra sy.
“Nie vandag nie. Ek’s op pad na Ciska Swanepoel, maar ek sal teen elfuur daar klaar wees.”
Tienie se hare is te lank en reguit vir ’n vrou van haar ouderdom. Sy sal jonger lyk met ’n korter kapsel en selfs ’n paar krulle.
“Sny asseblief, kort soos Ragel s’n – al sal ek nooit soos sy lyk nie.”
Marta hou van Tienie. Sy is, nes Yvonne, ’n vrolike mens.
“Ons eet twaalfuur by die pastorie. Gee dit jou genoeg tyd? Ek ry vanmiddag net ná ete.”
“Kom elfuur.”
Tienie pomp Ragel in haar sy en Ragel glimlag – ’n hartseerglimlaggie.
Marta wil haar vra of haar man al hier was, maar sy los dit. Soms wil mense nie onthou wat hulle alles in die haarkapperstoel kwytgeraak het nie. Sy stap vinnig om die hoek en al langs die Swanepoels se voorste heining tot by die hekkie. Meneer Swanepoel spit nie, hy sit op die stoep. Toe hy haar gewaar, spring hy op en kom maak oop.
“Dag, Meneer. Hoe gaan dit hier?”
“Goed, onder omstandighede. Ciska is ongelukkig omdat die seuns die pad gevat het. Hoe meer ek vir haar sê Gunther kom terug, hoe minder wil sy my glo. Jy sien, hy kom eers vanaand laat. Dominee is universiteit toe vir ’n lesing en miskien sal Gunther maar saamgaan, hy hou van geleerdheid. Weet jy dat hy sewe tale praat?”