Читать книгу Satyn Omnibus 3 - Helena Hugo - Страница 10
Оглавление7
Toe Cecilia laatmiddag by Mlala Lodge se parkeerterrein indraai, rook die Golf soos ’n dieseltrekker, en die temperatuurnaald is dieper in die rooi as haar kredietkaart. Sy kan maar net hoop oom Lotz het ’n billike insleepdiens, en dat die skade niks erger is as ’n gebarste waterpyp nie. Of het ’n Volkswagen Golf nie waterpype nie? As sy geëmansipeer wil wees, sal sy dié soort dinge moet leer; vir haar ’n hamer en ’n skroewedraaier koop en leer om hulle te gebruik.
As die marmerpilare en kristalkandelare van die foyer laas keer in haar swart Armani-pakkie intimiderend was, is dit veelvuldiger nou in haar gekreukelde denims en tekkies.
Dit help dat die inligtingsklerk haar herken. “Cecilia Louw? Haai! Ek is Sue Bernard. Welkom hier by ons. Jy is in chalet 3, naby die hoofgebou. As jy jou motorsleutels vir my gee, sal ek reël dat jou bagasie afgelaai word.”
Cecilia beduie waar die pakesel van ’n rookbom staan, vuil en stowwerig en verskonend in die agterste ry. “Dankie, Sue. Kan ek help?”
“Dis nie nodig nie. Meneer Meiring het gevra dat jy dadelik opgaan na sy kantoor op die vyfde verdieping.”
Dít het Cecilia nie verwag nie. Sy sou verkies het om eers te stort en vars klere aan te trek. Die hysbakke teen die oorkantste muur lyk soos gapende haaikake wat vir haar wag. Kan sy nie maar net hierdie een keer swak wees en haarself jammer kry nie?
Nee, keer die stemmetjie in haar wat aan die nuwe Cecilia behoort – die onafhanklike en loopbaangerigte een, die een wat die brief neergesit het, die uitgekerfde houtvoordeur van Steve se huis agter haar toegetrek het en dapper weggestap het sonder om vir oulaas om te kyk. Selfbejammering is ’n afdraande pad, en sy is op die teenoorgestelde roete – berg-op.
Die wynrooi mat wat voor haar uitstrek, is erger as Kilimandjaro. Links van die motorhuurtoonbank is ’n deur wat na die brandtrap lei, onthou sy. Niemand kyk vir haar nie. Niemand sal sien as sy by die deur uitglip en met die brandtrap opklim na die vyfde verdieping nie.
Nee! herhaal sy. Sy kyk nie links of regs nie en hou aan loop, in die haai se bek in; steek haar vinger uit na die wit knoppies wat soos tande lyk en druk nommer vyf. Die deure gly geruisloos toe. Die kabels ruk nie. Die neonlig teen die dak flikker nie en die hysbak beweeg gladweg in die skag op boontoe.
Sy blaas haar asem rukkerig uit. Haar hande verslap hul krampagtige greep op haar skouersak. Sy sluit haar oë en laat haar kop teen die geëmbosseerde muurpapier rus. Sy het dit gedoen! Die keer ná die onderhoud was nie ’n vloekskoot nie. Hierdie is die tweede maal, en dis reeds makliker as die vorige keer. Later sal sy skaars besef sy is in ’n hysbak.
Sue het Melt blykbaar laat weet dat hulle nuwe skakelbeampte gearriveer het. Toe die hysbakdeure oopgly en Cecilia uitstap, staan hy vir haar en wag, arms gevou en leunend teen die ontvangstoonbank. Dis Sondag, die witkopsekretaresse is nie aan diens nie en in die plek van ’n formele pak het hy ’n roomkleurige sportbroek en loshangende syhemp aan. Die dun wit materiaal span oor sy skouers en die toutjies deur die boonste knoopsgate is nie toegeryg nie, sodat daar in die oop nekgleuf ’n driehoekige strook van sy borskas wys. Dis bruingebrand, met ’n paar goue borshare wat aan die onderpunt krul.
Cecilia het onthou hoe onweerstaanbaar aantreklik hy is, maar sy was nie voorbereid op die verwoestende impak van sy skielike teenwoordigheid nie. Haar hart begin bons teen haar ribbes en ’n warm sensasie kriewel onder haar midderif. Sy wonder of dit net sy is, en of hy hierdie effek op alle vrouens het – ’n sluimerende begeerte wat op al die geheime plekke in haar lyf wakker gemaak word . . .
“Hallo, Cecilia,” groet hy.
Waar kruip sy weg as hy agterkom waaraan sy dink?
“Goeiemiddag, meneer Meiring,” antwoord sy formeel, asof sy só ’n skans tussen hulle kan oprig.
Sy een wenkbrou lig en ’n glimlag trek aan sy mondhoek. “Ek sien jy het dit toe darem oorleef . . .”
Cecilia is nie op haar intelligentste nie. Sy is moeg en haar hormone funksioneer sterker as haar breinselle. “Die lang ent pad?” aarsel sy, onseker waarna hy verwys. Of bedoel hy die tien dae van naels kou?
Hy beduie na die hysbak. “Jou opvolgbesoek aan die leeukuil.”
Sy lag verleë. “Al die tweede keer. Dis nie meer ’n probleem nie. Daniël en die vleisvreters begin al vriende word.”
“Het jy nie laas ná die onderhoud met die trappe afgeklim nie?”
“Nee. Ek was bang dan sneeubal die neurose en ruk handuit. ’n Hysbak is soos ’n perd. As hy jou afgooi, is die beste raad om op te klim en weer te ry. Moenie vir hom wys jy’s bang nie.”
“Darem nie terwyl jy bloei nie,” keer hy, met ’n deernisvolle klank in sy stem wat haar week laat. “Ek kan raai wat dit jou gekos het, en ek het begrip vir jou probleem. My kleinsus ly ook aan engtevrees. Waar sy is, moet daar altyd ’n oop deur of venster wees. Sy klim nie in ’n motor nie, nie eens ’n bus of ’n trein nie. ’n Hysbak sal vir haar ’n nagmerrie wees. As daar dan boonop ’n kragonderbreking is, kan ons haar maar begrawe.”
Hy glimlag. “Jy is ’n meisie met pit in jou pype, Cecilia Louw. Nogtans wens ek dat ek by was om jou te help.”
Pit? Dis beter as jellie. Sy skud haar kop. “Dankie, maar verlede keer se misbruik van jou teenwoordigheid was erg genoeg.”
“Deel van Mlala se vyfsterdiens,” antwoord hy sedig.
Sy word rooi. “Ek is skaam oor my voorbarigheid.”
’n Oomblik lank blink sy oë van innerlike pret. Dit lyk of hy haar wil terg, maar dan bedink hy hom blykbaar.
“Was dit nou makliker as laas keer?” wil hy simpatiek weet.
Cecilia wil nie ’n groot storie daarvan maak nie. “Ek kyk nie in my truspieëltjie nie. Feit is: ek het die haaie besweer, die duiwels en die botsende sterre, en ek kan nou aangaan met die res van my lewe.”
Dit was ’n ongelukkige woordkeuse. Haar gedagtes is opeens terug in Pretoria, by Steve – wat teen hierdie tyd seker al geland het, deur doeane is en op pad is huis toe. Hy gaan ontplof en nadat hy deur die dak geklim het, op die foon klim . . . Dis hoekom sy haar selfoon al ’n uur gelede afgeskakel het. Voorkoming is beter as genesing.
Melt steek sy hand uit. “Welkom in die Mlala-familie. Ek hoop jy sal gou inskakel en gelukkig wees hier.”
Cecilia bêre Steve in ’n kompartement diep agter in haar geheue, by die seer van haar afskeid van Lugdiens, haar vriende, Lissabon en Algarve, Rome se hemelse cappuccino, Parys se winkels, en die towerkrag van ’n makrostraler so groot soos ’n rugbyveld met skreeuende motore volspoed op ’n aanloopbaan . . .
“Dankie, meneer Meiring. Ek sal probeer om julle nie teleur te stel nie.”
“My naam is Melt,” korrigeer hy terwyl sy hand om hare sluit. “Aangesien ons soos familie gaan wees, verkies ek ’n meer informele werksmilieu.”
Sy onthou hy het die personeelbeampte ook sommer Wessie genoem. En die adjunkbestuurder Arnold. Sy sou ’n meer formele verhouding verkies het, maar dit sal moedswillig lyk as sy aanhou “meneer”. Die beste sal wees om hom niks te noem nie, vriendelik te wees, sonder om sosiaal te meng.
Hy besef blykbaar nie die handdruk hou bietjie lank aan nie. Cecilia kan nie stry dis baie lekker dat daardie sterk vingers so styf om hare vou nie. Maar dit gooi haar hart uit ritme en doen duistere dinge aan haar wat sy liefs wil vermy. Sy maak haar hand taktvol los.
Hy kyk geamuseerd na haar. Sy kry die idee meneer Melt Meiring is nie ’n ingedagte soort man wat sal vergeet dat hy besig is om ’n meisie se hand vas te hou nie. Geniet hy dit om haar op die agtervoet te hou? Sy weet nie of hy haar terg en of hy met een of ander speletjie besig is nie. Steve is nog te rou in haar binneste, en sy wil nie betrokke raak nie.
Melt wys na ’n verbindingsdeur wat links uitloop. “Sal ons deurstap na my kantoor?”
In die pragtige ruim vertrek beduie hy haar na ’n stoel en neem plaas agter sy lessenaar.
“Ter inligting: die hotel bestaan uit ’n oos- en wesvleuel wat gesamentlik beskik oor negentig en suite-dubbelkamers, elk toegerus met lugreëling, DStv, ’n privaatkroeg en yskas, met deurnag-kamerdiens, valetdiens en faksgeriewe, asook breëband-internet. Daar is ook ’n wittebrood- en presidensiële suite. Die vyfde verdieping is, soos jy reeds weet, die administratiewe gedeelte. Dit bevat ook die beheerkamer waar die sekuriteitskameras gemonitor word. Die sesde verdieping staan bekend as die Indaba, met konferensiegeriewe vir honderd mense. Buite is twaalf selfsorgchalets, waarvan nommer 3 aan jou toegesê is.
“Jy het ’n assistent, Garth van Schalkwyk – toegewyd, bekwaam en baie aangenaam. Julle deel ’n groot kantoor op die grondvlak langs die sigaarkamer, die Induna – daar word die dag se markaanwysings, effektebeursuitslae en aandelepryse aangebied, hetsy elektronies of met die jongste koerante. Die casino beslaan die helfte van die oosvleuel, met sy eie restaurant en kroeg. Die hoofgebou het vier restaurante: die Impala à la carte, die Eland vir ontbyt, en in die buitelug die Boma en die Lapa, wat vir funksies en onthale gebruik word. Daar is vier kroeë en drie swembaddens, ’n sauna, skoonheidsalon, boetiek, gimnasium en gholfbaan. Ook toesluitparkering op aanvraag en ’n motorhawe. Hou jy by?”
Sjoe . . . Cecilia knip haar oë. “Gelukkig het albei my breinselle fotografiese geheues.”
Melt lag en skuif ’n leergebonde lêer na haar toe. “Binne-in is ’n brosjure met detail oor al die fasiliteite, ingeval jou kameras nie films in het nie. Jy hoef nie alles te papegaai nie en kan die inligting op jou eie tyd bestudeer. Jy het nie vaste werksure nie, wat daarop neerkom dat jy basies vier en twintig uur aan diens is om na gaste se behoeftes om te sien. Klagtes, probleme, navrae, ensovoorts . . . Troubleshooting, noem die Yanks dit.”
“Ek ken die term. Vure doodslaan – soos internetprobleme, stukkende lugreëling, yskas of koffiemasjien, luise in die bed of ’n mamba in die bad?”
Hy grinnik. “Jy het die bobbejaanspinnekop teen die plafon vergeet. Lekkerder gaan wees die Wildtuinritte: gewoonlik ’n groep van tien tot vyftien mense, in een van ons bussies. Soms oornag julle in een van die ruskampe, gewoonlik Skukuza of Berg-en-Dal. Jy sal verantwoordelik wees vir die besprekings, huisvesting en etes. Saam met jou werk ’n busbestuurder wat die roetes ken, vir die tegniese aspekte sal sorg en jou sal bystaan in geval van probleme. Ek neem aan jy was al in die Krugerwildtuin?”
“Sedert my kinderdae elke langnaweek en skoolvakansie. My pa was jare lank ’n ere-veldwagter.”
“Ekskuus, dom vraag gewees . . . En besienswaardighede in die omgewing? Ken jy Pelgrimsrus, Sudwala en Blydepoort?”
“Die Eggo-grotte, die Long Tom-pas, God’s Window, die Pinnacle en die watervalle. Ek het in hierdie omgewing grootgeword, meneer . . . e . . .”
“Melt,” bied hy aan toe haar stem wegsterf. Hy knik goedkeurend. “Dis goed. Het jy ’n selfoon?”
“Ja.”
“In goeie werkende toestand?”
“Ja.”
“Beskou dit van nou af as ’n werksfoon, op Mlala se rekening.”
“Wat van privaat oproepe?”
“ ’n Byvoordeel, soos vrye toegang tot die internet en werksvoertuie. Asook my hulp en raad. Ek is ook vier en twintig uur aan diens en ek is daar vir jou – selfs in die middel van die nag. Bel as jy my nodig het.”
Hy kyk na haar en dis asof hy ’n oomblik van koers is. Hy kam sy vingers deur sy hare, vryf met sy plat hand oor sy wang en eindig met uitgespreide vingers voor sy mond. “E . . .” huiwer hy. “Dit het . . . anders uitgekom as wat ek bedoel het.”
Netnou toe sy sjampanje-oë so geblink het en hulle albei geweet het wat die rede daarvoor was, was dit so aansteeklik dat Cecilia saam met hom wou lag, ondanks haar verleentheid. Nou kan sy haarself nie keer nie. Sy proes guitig en voel hoe die spanning van die afgelope week soos ’n miswolk lig om ’n strepie sonskyn deur te laat.
Maar dan pers sy haar lippe opmekaar om haarself te bedwing. Hy is mooi en gaaf en vriendelik. Maar sy ken hom nie goed genoeg nie, en hy is immers haar baas. ’n Mens lag nie vir jou baas nie, nie sommer die eerste dag al nie . . . Tensy jy sommer die eerste dag al weggejaag wil word.
“Ek het my swak uitgedruk. Ek het natuurlik verwys na my beskikbaarheid in ’n amptelike hoedanigheid, en nie na . . . enigiets anders wat jy dalk verkeerd kon vertolk het nie,” verduidelik Melt ongemaklik.
“Natuurlik nie,” stem Cecilia ernstig saam.
“Dit was nie ’n suggestie in enige ander opsig nie.”
“Vanselfsprekend nie,” verseker sy hom plegtig.
Hy kyk tersluiks na haar. “Soos byvoorbeeld tien dae gelede in die . . . e . . . hysbak ook dalk ’n verkeerde indruk kon geskep het?”
“Hoegenaamd nie.”
“Ek het nie bybedoelings gehad nie.”
“Natuurlik nie,” herhaal sy.
“Nie met ’n wildvreemde meisie in ’n hysbak nie. Dis nie my gewoonte nie.”
“Myne ook nie – nie my styl nie, nie met ’n wildvreemde man nie.” Sy bly ’n oomblik stil voor sy sedig byvoeg: “Nie eens met ’n bekénde man nie.”
Melt vryf oor sy ken terwyl hy opsommend na haar kyk. Hul oë ontmoet en sy blik hou hare gevange, nuuskierig oor wat agter daardie paar olyfgroen oë verskuil is. Het sy gesnap waarop hy gesinspeel het, of het sy oor iets anders gelag? Dit sal nogal ’n uitdaging wees om haar beter te leer ken . . . Hy oorweeg dit om haar subtiel met vrae uit te lok, maar toe hy sy mond oopmaak, skril die telefoon op sy lessenaar en is die atmosfeer verbreek.
“Hallo, Meiring,” antwoord hy saaklik. Hy luister en knik terwyl hy na Cecilia kyk. “Ja . . . Ja, goed, ek sal haar sê. Dankie, Sue.” Hy sit die gehoorbuis neer. “Dit was Sue Bernard, ons inligtingsklerk.”
“Ek het haar ontmoet.”
“Sy het gebel om te sê jou bagasie is veilig in jou chalet. Maar jou motor wou nie vat nie, en hulle moes ’n brugkabel gebruik om die enjin aan die loop te kry.”
“Hy het by Waterval-Boven al begin lol. Nugter weet wat makeer – ’n olielek of gebarste waterpyp . . . Dis vir my Grieks, en ek haat dit om ’n hulpelose koolkop te wees. Ek sal vir my ’n handboek koop: Basiese werktuigkunde vir beginners.”
“Wil jy hê ek moet na jou motor kyk?” bied Melt aan.
Cecilia ril. Sy kan haar voorstel wat sy reaksie op daardie rokende oliebol sal wees. As sy moet raai, sou sy reken een van daardie Jags of Mercs op die parkeerterrein is syne.
“Nee dankie,” keer sy. “Ek het reeds ’n afspraak met oom Lotz op Witrivier gemaak om die enjin te versien.”
“Oom Gideon Lotz?”
Sy glimlag stralend. “Einste. Hy is ’n ou vriend van my pa en hy sal my motor kom insleep.”
Melt frons. “Oom Lotz is vier jaar gelede al dood.”
Cecilia se glimlag glip. “Dan moes dit sy seun gewees het met wie ek gepraat het,” improviseer sy.
“Oom Lotz was ’n oujongkêrel. Hy het nooit getrou nie en nie ’n seun gehad nie, nie eens ’n dogter nie.”
So maklik is Cecilia nie bereid om die ronde af te staan en te erken dat sy gejok het nie. “Die verbinding was swak en my sel se battery was amper pap – ek kon nie mooi hoor nie. Dalk het die man gesê hy is Metz of Gertz of . . . of so iets.”
“Of De la Rey of Van der Westhuizen,” las hy hulpvaardig by.
Sarkasties bedoel? Cecilia weet hy spot en sy probeer toesmeer. “My venster was oop en die wind het geraas. Dit was op die snelweg, en die verkeer het só gelawaai dat ek niks kon hoor nie.”
“Boonop was die radio ook nog aan en ’n groot trok het daardie presiese oomblik gekies om verby te dreun?”
“Dis reg, ja, ’n enorme suikerrietlorrie.”
“Cecilia,” sê Melt stadig en geduldig, asof hy met ’n stout kind praat, “sal jy asseblief ophou skrop en skarrel, en my toelaat om na die vervlakste motor te kyk? Ek belowe ek sal hom nie steel of krap of al sy petrol uitry nie.”
“Dis nie waarvoor ek bang is nie.”
“Wantrou jy my dat ek niks weet nie en groter skade sal aanrig?”
Sy is ongemaklik. “Dis nie dat ek jou wantrou nie. Dis nie wat ek bedoel het nie!”
“Dit lyk my jy en ek maak ’n gewoonte daarvan om nie te bedoel wat ons sê nie . . . of nie te sê wat ons bedoel nie.”
Hoewel sy stem neutraal is, is sy bewus van ’n nuanse daarin wat haar hart ’n slag laat oorslaan. Albei van hulle weet dis ’n man-vrou-speletjie tussen hulle, voelers wat tentatief uitgesteek word om die ander een se reaksie te toets – ’n interaksie wat reeds in die hysbak begin het.
Sy is oorbewus van sy manlike sensualiteit en die uitwerking wat sy nabyheid op haar het. Hoekom het hy nie ’n vervlakste doodgewone hemp aan wat tot bo teen sy ken toegeknoop is nie? Sy wil nie hierdie hartkloppings en tinteling deur haar are hê nie. Dis te gou, en sy was nie voorbereid daarop nie. Steve is nog te veel deel van haar, en sy gaan nog lank oor hom treur. Oor dit wat kon gewees het . . . Verlang en lus kry om hom te bel, al is dit net om sy stem te hoor en te weet hy is veilig terug.
Hoe kan sy hartkloppings kry oor ’n man net omdat hy ’n oopgerygde gleufie in sy hemp het en sy nie haar oë van daardie gespierde borskas kan afhou nie? Hy is waarskynlik getroud. Sy is erger as Nadine Groenewalt.
“Mlala het ’n voltydse werktuigkundige. Joe van Heerden. Ek sal dat hý na jou motor kyk.”
“Dankie, ek sal dit waardeer.”
’n Kompromie? Het hy die ronde gewen of het sy dit verloor? Sy weet nie.
“Jy is seker dors na die lang pad,” sê hy. “Kan ek vir ons koffie maak?”
Voor Cecilia kan antwoord, lui die foon weer, dié keer sy sel. Sy kan ’n opgewonde vrouestem aan die ander kant hoor, en sy draai weg om deur die lêer te blaai sodat dit nie lyk asof sy na die gesprek luister nie.
“Is jy seker die kredietkaart is gelys? Bel die bank. Kry die sekuriteitsmense en hou hom besig. Ek’s nóú daar!” Melt klap die foon toe, rol sy stoel agteruit en staan op. “Jammer, die koffie sal ongelukkig moet wag.”
“Iets waarmee ek kan help?” bied Cecilia aan.
“Jy begin eers môre werk.”
Sy staan ook op. “Ek het nie vasgestelde ure nie.”
“Dis die casino, waar erger onheil uitbroei as spinnekoppe en mambas. Dis buite jou jurisdiksie – hulle het ’n onafhanklike skakelbeampte. Dis blykbaar ’n geval van kredietkaartbedrog. Ons praat môre weer.”
Hulle loop saam tot voor die hysbak. “Dapper genoeg om weer die leeukuil aan te durf?” wil hy weet.
“Ja.”
Hy kyk sydelings na haar. “Saam met my?”
Sy word ’n antwoord gespaar toe ’n pienggeluid opklink en die deure oopskuif. Die adjunkbestuurder stap uit, onberispelik soos laas, in ’n grys pak en gestreepte das. Hy knik vriendelik vir haar.
“Goed om jou hier te sien, juffie. Laat maar weet as daar iets is waarmee ek kan help.” Dan wend hy hom tot Melt. “Die bank het bevestig die kredietkaart is gesteel, glo eergister op Phalaborwa. Maar daar’s komplikasies . . . Kan ek jou ’n paar oomblikke privaat spreek?”
Melt kyk vraend na Cecilia. “Gee jy om?”
“Geensins. Sien u môre, meneer Meiring.”
“Laat weet as jy nie regkom nie,” bied hy weer aan.
“Dankie.”
Sy stap in en druk die knoppie vir die grondverdieping asof dit so maklik is soos ’n lig aanskakel. Is dít wat die motiveringspreker bedoel het? Fokus. Glo jy kan. Wéét jy kan. Sy wens dit was net so maklik om haar hartsake reg te kry. Net ’n knoppie om te druk, vir aan en af . . .
Sy is dankbaar om van haar baas se teenwoordigheid weg te kom, om alleen te wees en bestekopname te doen. Dit was ’n dol week en sy het tyd nodig om tot verhaal te kom – haarself te vind, haar voete te vind en haar nis, in hierdie nuwe opset wat op die oomblik taamlik intimiderend is.