Читать книгу Satyn Omnibus 3 - Helena Hugo - Страница 14

Оглавление

11

Vlug 331 is laat. Amptelik word die vertraging toegeskryf aan ongunstige weerstoestande, maar toe Cecilia ná haar tweede koppie koffie in die kafeteria ’n grondwaardin sien wat sy ken, gaan doen sy navraag.

Jolandie trek ’n gesig. “Alles nog steeds ’n nadraai van Twin Towers. Verskerpte sekuriteit en addisionele veiligheidsmaatreëls, wat tydrowend is. Ek weet nie wanneer laas ons ’n dag sonder vertragings gehad het nie. Wees maar geduldig, gaan eet ’n toebroodjie.”

“Ek kan nie, ek het ’n ete-afspraak.”

“Iets romanties?”

“Soort van.”

“Wie?”

Maar Cecilia wil nie sê nie. “Dalk kry ek op die laaste tippie koue voete, of luister na my kop in plaas van my hart.”

“Gelukkige jy. Mlala Lodge wemel van sexy gholfspelers, en ek kry net altyd ma’s met kroepbabas, rolstoelgevalle en potensiële bomplanters.”

“Hoekom dink jy het ek as lugwaardin bedank?” terg Cecilia.

Sy glimlag ’n groet, maar haar gemoed is somber. Kaptein Doep het wonde oopgekrap wat sy gehoop het al rowe het. Steve is soos ’n verslawing, ’n gewoonte wat sy nie kan verbreek nie.

Sy voel opnuut skuldig oor hom. Daar was iets soos ver­latenheid in sy stem toe hy laas gebel het – van die lughawe af, pas nadat hulle in Johannesburg geland het. Net om te sê hy is veilig tuis. En te vra hoe dit met haar gaan.

Netnou teenoor Jolandie het dit so maklik geklink om te onderskei tussen ’n mens se hart wat voel en jou kop wat dink. Emosie teenoor logika. Maar haar binneste is ’n warboel van instink, sensasies, gedagtes en waarskuwings. Sy voel vasgevang in ’n maalkolk waaroor sy nie beheer het nie.

As dit net Steve was, was dit makliker om te onderskei tussen swart en wit. Maar nou het Melt Meiring bygekom. Dit help nie sy ontken dit nie: sy het ’n gevoel vir hom. ’n Baie sterk gevoel. Só sterk, sy weet sy is besig om halsoorkop, malverlief op die man te raak. Soos al die ander meisies . . . En sy skaam haar daaroor. Haar lewe het ’n grys gebied geword waarin sy nie meer haar eie oordeel kan vertrou nie.

Sy het Nelspruit toe gekom om ’n nuwe loopbaan te begin, nie om by ’n man betrokke te raak nie. Sy wil eers weer haar voete vind en haar selfvertroue herwin, leer om objektief te oordeel. Miskien moes sy Alaska toe gegaan het, of ’n rugsak gepak en ’n paar maande deur Kanada geryloop het – geboemel het, om die rafels in haar kop los te torring en uitsluitsel te kry oor wat sy met haar lewe wil maak.

Cecilia is rusteloos en gespanne, en sy is verlig toe ’n aankondiging uiteindelik opklink om te sê Vlug 331 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens het pas geland. Sy smeer lipstiffie aan en gaan wag by die glasdeure vir Mlala Lodge se BBP.

Leonardo is ’n replika van sy konsertplakkate. Hy is groot, na aan twee meter, met ’n bruingebrande voorspelerlyf bedek deur ’n kakiebroek en -hemp, luiperdvelonderbaadjie en ’n bosveldhoed. ’n Tipiese Crocodile Dundee, oorweldigend macho en oorbewus van sy manlike beeld. Die soort vleispaleis wat Cecilia maklik weerstaanbaar vind.

Hy vertoef aan die bopunt van die vliegtuigtrap om te wuif en te poseer indien daar bewonderaars of fotograwe is. Op pad na die aankomsaal deel hy handtekeninge aan ’n paar skoolmeisies uit en kyk dan soekend om hom rond.

Cecilia staan nader. “Leonardo? Hallo, en welkom! Ek is Cecilia.”

’n Lonkende glimlag speel om sy mond terwyl hy haar van kop tot tone met sy oë uittrek. “My Suzy vir die naweek?”

Hy is so blatant, Cecilia wil eerder giggel as kwaad word. Sy wens Vera was hier – dié sou histeries gewees het. “Mlala Lodge se skakelbeampte,” antwoord sy koel en saaklik.

“Selfde ding,” grynslag hy en drapeer ’n dik arm om haar skouers. “Sal ons my bagasie gaan kry, Suzy?”

“My naam is Cecilia,” korrigeer sy ferm en wikkel haar onder die beer-greep uit. Sy wiel ’n trollie nader en gebruik dit as ’n skans tussen haar en die orige mansmens.

Hy het ’n wavrag bagasie, maar gelukkig geniet hy dit om sy spiere te wys en verwag hy nie sy moet met die tasse, klere­sakke en ekstra luidsprekers help nie. Sy kan maar net hoop al die goed sal in Melt se kar pas. Ongelukkig sal daar nie vir die trollie plek wees nie, wat ’n jammerte is. Sy het die gevoel sy gaan ’n verskansingsapparaat nodig kry.

’n Rooikopmeisietjie kom met ’n pen aangedraf. “Leo . . . Die Laeveld Leo?” hyg sy uitasem. “Ons hele klas kom môreaand na jou konsert toe!”

“Dis goed, poppiedol,” glimlag hy sjarmant. “Ek sal vir jou plek hou in die voorste ry, want ek wil ‘Bosveldnooi’ spesiaal vir jou sing. Net vir jóú alleen . . .”

“Oe . . . Oe, ja, seblief!” kreun die meisie in ekstase en begin haar skoolbaadjie losknoop.

Haar ouma Klara mor gedurig oor vandag se losbandige jeug, maar dis die eerste keer dat Cecilia hul losse sedes eerstehands ervaar. Haar mond hang oop terwyl sy die tienermeisie dophou.

Die baadjie word sonder seremonie uitgepluk en beland in ’n bondel op die bagasietrollie. Sy kom staan reg voor Leo en staar bewonderend op in sy gesig. Dan swaai sy om en buig vooroor dat haar kort skoolrokkie opwip. “Sal jy asseblief jou naam agterop my hemp teken?” vra sy en gee vir hom die koki-pen.

Dis niks nuuts vir Leo nie. Hy teken ’n hartjie op die rugkant van die wit skoolhemp, trek ’n Cupido-pyltjie daardeur, maak ’n paar kruisies onderaan en voeg sy handtekening by.

“Jippie!” jubel die sproetgesiggie. “Ek gaan dit vir al my maats wys. Ek gaan die hemp nooit was nie, hom raam en vir altyd teen my muur hang!”

“Maak so!” Leo knipoog. “En onthou, poplap, môreaand sing ek spesiaal net vir jou.”

Die meisietjie is skoon in ’n beswyming. “Dankie . . . oom,” stamel sy, gryp haar baadjie en laat spaander.

Leo grynslag lui. “Oulik. Maar ek verkies my Suzies ’n bietjie ouer en blond.”

“Ek is eintlik ’n brunet,” lig Cecilia hom in. “Hierdie blonde kleur kom uit ’n bottel.”

Haar taktiek werk nie. Sy arm skuif om haar middel en hy gee haar ’n druk terwyl hy in haar oor fluister: “Ek is mal oor bottels. En hulle inhoud . . .”

Cecilia begin die swaargelaaide trollie in die rigting van die parkeerterrein stoot.

“Sjoe, hy weeg ’n ton, en sy wiele kort olie,” skimp sy met ’n kreun en ’n steun.

Hy verwyder sy arm. “Oppas, jy gaan seerkry! Gee dat ek stoot, ek is sterker as jy.”

Sy stap vooruit en sê ’n dankgebedjie op toe sy Melt se motor ongeskonde op die parkeerplek sien staan. Sy gaan nie die stomp tuinvurk vir die veiligheidswag nodig hê nie, maar moontlik later vir die Laeveldleeu . . .

Leo laai die groot goed in die kattebak en pas die luidsprekers op die smal agtersitplek in. Hy hou sy hand uit vir die sleutel. “Sal ek die wiel vat, pop?”

Cecilia sidder. “Jy hoef nie, dankie.”

“Ek gee nie om nie.”

Ék gee om, dink sy. En Melt gee om. En die arme Merc gee om . . . Sy klim agter die stuurwiel in en gee Leonardo ’n glimlag wat hopelik sy tone boontoe sal laat krul. “Deel van Mlala se vyfsterdiens.”

Dit was ’n gevaarlike woordkeuse. Leo is dadelik geïnteresseerd terwyl hy langs haar inskuif. “Klink belowend . . . Wat alles is nóg ingesluit?”

Cecilia hou haar dom. “Drie etes per dag. DStv, lugverkoeling, breëband-internet, 24-uur-kroegdiens, en so meer.”

Voor hy weer ’n gaping kan vind, beduie sy na Leeukop en Blinkwaterberg wat op die horison uitrys, en vertel die een en ander omtrent besienswaardighede waarby hulle verbyry. Terwyl sy gesels, kyk Cecilia ongemerk op haar horlosie. Sy kou haar onderlip en waag dit om die petrolpedaal bietjie dieper in te trap, hoewel sy weet dis futiel. Sy is hopeloos laat en Melt se tyd is beperk. Hy sou nie gewag het nie.

Dalk is dit beter so, dat sy uit sy pad uit bly. Wat ook al die belangrike saak is waaroor hy met haar wil praat, sal tot later moet oorstaan. Sy onderdruk ’n gevoel van teleurstelling.

Die parkeerplek op die punt van die voorste ry word blykbaar vir meneer M gereserveer. Mlala se veiligheidswag herken van ver af die sportmotor en wink haar nader.

“Alles reg, juffrou Louw?” wil hy weet en roep ’n bagasiejoggie nader.

Sy streel oor die enjinkap. “ ’n Wa om voor parfuum aan te sit.”

Hy knik. “En ’n nuwe stel spênners te koop.”

En ’n nuwe rok . . . “Het Suidewind Safari’s se toerbus al ingekom?” vra sy.

“Ja, juffrou Louw. Net voor eenuur, betyds vir middagete. En die Sitrusraad se mense ook.”

“Dankie, meneer . . . e . . .” Sy wens sy het Melt se gawe gehad om almal se name te onthou.

“Pottie. Die van is Potgieter, maar almal sê sommer Pottie.”

By ontvangs bied Cecilia vir Leonardo yskoue vrugtesap aan en reël dat verversings vir hom en sy tegniese span na die Lapa gestuur word. Dan oorhandig sy hom aan Sue Bernard.

“Dra ’n pantserharnas en hou ’n hokkiestok naby om jou mee te verdedig,” fluister sy onderlangs. “Moenie vir hom sê jou naam is Sue nie, liewer Anna of Marie of iets.”

Sy kyk op haar horlosie. Die kalf is klaar in die put, nog ’n paar minute ter wille van ’n goeie saak sal nie ’n verskil maak nie. “Sue, is jy getroud?” wil sy weet. “Het jy ’n man of ’n jaloerse kêrel wat ’n bokser is?”

Sue lyk verbaas. “Nie een nie. Hoekom?”

“Sommer net gewonder, ten bate van iemand,” antwoord Cecilia ontwykend. Sy verwyder ’n dooie strelitzia uit die toonbankrangskikking en luister na ’n gas se klagte oor ’n lugreëlaar wat soos ’n grassnyer klink pleks van ’n yskas. Klêk-klêk, pleks van brrr . . .

Op pad na die hysbak steek sy vas en kyk om na Sue. “Terloops, Garth sê jou oë lyk soos Delft-porselein. Ek dag ek sê dit vir jou, want wat is die nut van ’n kompliment as dit nie by die regte persoon uitkom nie?”

Sue bloos. “Garth is gaaf. Jy kan maar vir hom sê ek sê so . . . ”

“Sal so maak,” belowe Cecilia.

In die hysbak kruis sy drie vingers: dat daar nie weer ’n krag­onderbreking is nie, dat haar inmenging met Sue en Garth nie boemerang nie, en dat ’n wonderwerk asseblief gebeur het sodat Melt vir haar gewag het.

Maar blykbaar het sy nie genoeg Brownie-punte opgebou nie.

“Meneer Meiring was hier, ja,” bevestig die kelner by die Impala. “Tot amper halfdrie. Nee, hy het niks geëet nie, nie eens ’n cappuccino gedrink nie. Net ongeduldig gelyk, en toe later opgestaan en geloop.”

Cecilia wil huil. Dis belangrik om te weet wat Melt met haar wou bespreek het, al is dit sommer of sy tevrede is met die mat in haar kantoor. Die gesprek met kaptein Doep en Leonardo se vatterigheid het haar ontstig. Sy verlang na Melt se rustigheid, sy warm, diep stem en breë skouers. Al is dit net vyf minute, wil sy by hom wees. Dankie sê vir die leen van sy lieflike motor en die vertroue wat hy in haar bestuursvernuf gestel het. Sommer net hom sien en naby hom wees . . .

“Het hy dalk ’n boodskap gelaat?” Toe die kelner sy kop skud, probeer sy weer: “Of weet jy dalk waar hy nou is?”

“Ongelukkig nie, juffrou Louw.” Haar gesig wys blykbaar dat sy troos nodig het. “Kan ek vir jou ’n lekker cappuccino bring?” bied hy aan.

Sy skud haar kop. Dit sal soos plastiek smaak.

Sy gaan help Garth sitrusvrugte uitpak en dra Sue se bood­skap oor. Sy kuier saam met die Suidewind-toergroep, doen ’n vlugbespreking vir ’n oorsese passasier en verstel die grassnyer in suite 448 terug na ’n yskas toe.

Sy maak ’n draai by die Lapa en dwing haarself om beleef teenoor Leonardo te wees, belang te stel in die nuwe luidsprekers wat hy wil uittoets en ’n getekende foto van hom met grasie te ontvang, terwyl sy tussenin sy seekatgrepe probeer ontglip. Ná twintig minute daarvan beskou sy haar plig as afgehandel. Sy gryp die skinkbord met leë glase en ontsnap kombuis toe.

Nou het sy ’n warm bad en ’n uur alleentyd verdien, besluit sy. Op pad na haar chalet breek sy ’n paar geel soet­doringtakkies af om in ’n glas water op haar spieëlkas te sit. Sy kyk verras na die tarentaalveer wat op die patio lê en buk om dit op te tel. ’n Geskenk, soos die Snow Goose en Boerneef se berggans ook ’n veer laat val het . . .

Sy is in ’n sentimentele luim. Sy bêre die gespikkelde swartbont veer om dit as ’n boekmerk te gebruik. Dan sit sy die Pavarotti-CD op, steek ’n kers aan en gaan bad in die mooi badkamer van oker en klei en klip.

In die middel van Nessum Dorma lui haar deurklokkie. Cecilia kreun. Melt het die eerste dag gewaarsku sy is vier en twintig uur aan diens, maar sy het gehoop op ’n bietjie rus en vrede ná ’n vermoeiende dag. Dis waarskynlik een van die skoonmakers, en die versoeking is groot om te skree die vrou moet môre terugkom. Maar straks is dit ’n krisis of ’n hotelgas wat haar soek. Sy sug terwyl sy die kers doodblaas, uit die bad klim en haar japon aantrek.

Toe sy die deur oopmaak, kyk sy vas in Leonardo se grynsende gesig, gehul in ’n bierwalm.

“Haai daar, Suzy-Floozy,” groet hy met ’n sleeptong.

“Wat soek jy hier?” vra sy bot.

“Vir jou,” antwoord hy en glip in voor sy die deur kan toedruk. Sy oë flikker oor die diep V tussen die pante van haar japon en hy lek met die punt van sy tong oor sy vlesige bolip.

Cecilia pluk die japon toe tot bo teen haar ken. “Dis my privaat woonplek hierdie en jy kan nie sommer ongenooi instap nie!” roep sy vererg uit.

Hy beweeg nader. “Jou lýf het my genooi, van vroeg af al. Daardie borste en bene vra om aan gevat te word . . .”

“Jy is onsmaaklik!” Sy stoot die deur wyd oop en wys met haar vinger na buite. “Uit hierso! Nou, op die daad!”

Hy grynslag suggestief. “En wat as ek nie wil nie? As ek liewer by my Suzy vir die nag wil kuier, wat ingesluit is by die vyfsterdiens?”

“Jy het te veel gedrink. Loop, asseblief, voor ek sekuriteit ontbied om jou te verwyder!” herhaal sy.

Hy is minder dronk as wat sy gedink het. Voor Cecilia besef wat sy plan is, tree hy rats vorentoe en kry haar om die lyf beet in ’n greep wat haar hulpeloos laat. Hy druk haar teen die bank vas terwyl sy hande oor haar lyf dwaal en na die gordel van haar japon reik. Saam met die bierwalm slaan ’n sweetreuk in haar neus op wat haar naar maak.

“ ’n Man is net ’n man, van vlees en bloed gemaak . . .” hyg sy nat mond teen hare. “ ’n Meisie soos jy maak ’n man mal! Ek is lus vir jou en ek wil jou hê . . .”

“Nee! Los my! Gee pad hier uit!”

Cecilia stoei en veg met al haar krag. Sy beur agteroor, ruk haar kop weg en stamp sy hande van haar af. Maar hy is ’n groot man en te sterk vir haar. Sy dagoud baard rasper ’n brandpyn teen haar keel. Sy arms pen haar op die rugleuning vas en sy vingers voel warm en sweterig onder haar japon in.

Sy klap sy hand weg, skop en soek wanhopig na ’n wapen om haar mee te verdedig. Sy is vaagweg bewus van materiaal wat skeur, terwyl sy spartel om weg te rol en onder sy swaar lyf uit te kom. Haar arm voel asof dit uit lit gerek word, maar met nog ’n sentimeter se strek en beur, tas haar vingers die kleipot op die koffietafel raak. Sy mors nie tyd om eers die gedroogde blomme en sade uit te gooi nie, gryp die boonste rand van die pot stewig vas en swaai dit in ’n boog deur die lug.

Sy is skraal gebou, maar daar is ’n seningrige krag in haar, wat sy alles ingesteek het agter daardie wye, swaaiende boog. Die swaar kleipot tref Leonardo teen die agterkop, in ’n ontploffing van skerwe, gedroogde agapante en tamboekiegras wat in alle rigtings vlieg.

Leonardo kantel dwars en val agteroor, bo van die bank af. Sy kop klap teen die hoek van die koffietafel en hy land met ’n plofslag op die teëlvloer. Sy oë kyk oormekaar. Sy een voet in die Bosveldstewel ruk-ruk ’n slag en dan lê hy stil.

Cecilia is spierwit geskrik en staar verbyster na die slap figuur. Daar is bloed teen sy slaap en dit lyk nie of hy asemhaal nie. Haar eerste gedagte is dat hy dood is, maar sy is te bang om na ’n pols of hartklop te voel.

Sy vou haar geskeurde japon oormekaar, klim bo-oor hom en steier ’n ent weg. Moet sy die polisie of ’n ambulans bel? Kunsmatige asemhaling toepas en hom probeer lawe? Sy wil nie aan hom raak nie. Aan die een kant is sy bang hy kom by en aan die ander kant bang hy is dood, of in ’n koma en herwin nooit weer sy bewussyn nie. Dit was selfverdediging, maar sal dit in ’n hof as versagtende omstandighede dien?

Toe sy hardloop om water en ’n nat handdoek te kry, hoor sy vanuit die badkamer hoe hy kreun. Sy bly staan, blaas haar asem in rukkerige stote uit en bid ’n dankiesê-gebedjie. Dan loer sy behoedsaam om die kosyn, onseker wat om te verwag. Die man gaan buite homself wees. Dalk nog steeds wellustig en nou ook vol wraak. Haar blik meet die grootte van die badkamervenster, maar daar is diefwering aan en sy sal nie kan uitkom nie.

“Suzy?” roep Leonardo krakerig uit die sitkamer.

Cecilia glip by die kombuis in. Sy gryp ’n swaar koperboompan vir ’n wapen en maak die agterdeur oop as ontsnaproete.

Sy loop sitkamer toe. “Ek sien jy leef . . . Moet ek ’n dokter kry?” vra sy kil.

Sy kop draai in haar rigting. Hy vryf oor sy gesig en swets onderlangs – iets van ’n feeks en ’n bleddie bitch en ’n klomp erger skelname – terwyl hy wankelrig op sy voete kom. Hy steier voordeur toe, maar bly staan om haar met rooi oë aan te gluur.

“Moenie dink jy gaan hiermee wegkom nie, jou cheap floozy! As ek dit nie kon doen nie, sal my prokureur dit doen – jou kaal uittrek! Jou hof toe vat vir elke sent wat jy het! Jy sal nog terugkruip na my toe . . . Op jou knieë voor my krúip!” Met dié laaste dreigement slinger hy uit en slaan die voordeur met ’n dawerende slag agter hom toe.

Noudat dit verby is en die dronk skepsel weg is, is dit asof ’n vertraagde skokreaksie Cecilia tref. Sy bewe soos ’n riet en haar knieë is lam. Sy sit die pan neer en druk haar gesig in haar hande terwyl haar skouers begin ruk.

Is dit haar skuld omdat sy te vriendelik was? Hom aanleiding gegee om te dink sy is ontvanklik vir sy ongure attensies? Dalk moes sy van die begin af fermer teenoor hom gewees het . . .

Satyn Omnibus 3

Подняться наверх